LEER PREDIKING: NGB artikel 37 – Die wederkoms: laaste oordeel en ewige lewe (2 Tim. 4:1-8)

LEER PREDIKING: NGB artikel 37

Die wederkoms: laaste oordeel en ewige lewe (2 Tim. 4:1-8)

Lees: 2 Tim 3:12-4:18

NGB artikel 37: Die opstanding, laaste oordeel en ewige lewe

Teksverse: “EK besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ’n evangelis; vervul jou bediening. WANT ek word alreeds as ’n drankoffer uitgegiet, en die tyd van my heengaan is naby. Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.” (2 Ti 4:1–8)

Tema: DIE GENADIGE VERLOSSER KOM AS REGVERDIGE REGTER, MAAK JOU GEREED, AS JY VANDAG SY STEM HOOR!

(Preekopname: GK Carletonville, 2022-08-07, nota: let wel, die inhoud van die preek en teksnotas hier onder stem nie altyd ooreen nie, die notas is nie volledig nie, die audio preek is die volledige preek).

Aflaai (regs kliek): NGB art. 37 (2 Tim. 4:1-8)

“EN die Fariseërs en Sadduseërs het nader gekom om Hom te versoek en het Hom gevra om hulle ’n teken uit die hemel te laat sien. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: In die aand sê julle: Mooi weer, want die lug is rooi. En in die môre: Stormweer vandag, want die lug is donkerrooi. Geveinsdes, julle weet wel om die voorkoms van die lug te onderskei, en kan julle nie die tekens van die tye onderskei nie?” – Matt. 16:1-3

Geliefdes in Christus,

Jesus leer met hierdie woorde, dat ons as mense, as ons sien ’n storm kom, deur die donderweer in die verte te sien, die woeste winde wat waai… dat ons skuiling sal soek … ons motors, as die hael kom, intrek, dus die stormtekens laat ons oorgaan in sekere dade … dit bepaal wat ons doen… nou en dadelik.

Soveel te meer as ons weet, Jesus kom weer, as ‘regverdige Regter’ (2 Tim. 4:8; Op. 19)!

In die Timoteus boek of brief, is Paulus aan die einde van sy lewe en bediening, v. 6-8, en hy skryf sy laaste woorde aan die leraar Timoteus, en die gemeente in Efese, en by implikasie aan ons, hier in die laaste hoofstuk, hoofstuk 4.

En waarmee eindig hy sy bedieningswoorde?

“EK besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk…”  

Hy noem die allesbepalende finale 2de koms van ons Here Jesus Christus, Hy kom, en as Hy kom is dit as die Regverdige Regter, om … soos ons vanoggend weereens bely het, die lewendes en die dooies, almal te oordeel (Apostoliese Geloofsbelydenis).

En hierdie toekomstige finale groot historiese werklikheid, moet die roeping, take, lewe, besluite, gelowig wees, gemeente wees, gesin wees, gemeenskap wees bepaal van Timoteus, WANT, wanneer die boeke oopgemaak gaan word met die laaste oordeel, dan gaan geopenbaar word, of ek en jy waarlik Jesus en sy Woord liefgehad het, v.8

Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.” (2 Ti 4:8)

Dit is NOU genadetyd geliefdes, … nie met die wederkoms nie.

NOU!

Waar staan ek nou, vanoggend met Jesus, elke dag van my lewe hier op aarde?

Wat het ek gemaak met elke Bybel lees, huisgodsdiens, preek, erediens, met elke vermaning van my vrou of man, ouers, medegelowiges, ouderlinge, kerkraad …. want, 2 Tim. 4:2-4 is die werklikheid van die eindtye, die laaste dae, van Jesus se eerste koms tot sy tweede koms:

verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

WAT het jy gemaak met alles wat jy van kleins af geleer het … 2 Tim. 3:14 (sien ook 2 Tim. 1:5)?

Gaan geopenbaar word dat jy soos Demas die wêreld liefgekry het (v. 10) … die Woord, Jesus, sy kerk en diensknegte wat die evangelie gebring het verwerp het, en dat jy verlore gaan in die hel ….?

of gaan geopenbaar word dat jy ‘n arme verlore sondaar was, wat Christus alleen nodig het, niks is in jouself, en net uit genade gered is (Ef. 2:1-10), en soos Paulus uitroep, ek is die vernaamste van sondaars (1 Tim. 1:15)?

Ja, geliefdes, die evangelie is ‘n tweesnydende swaard, die wederkoms van ons Here Jesus is ‘n tweesnydende swaard.

Jy is vir of teen Hom, EN JOU LEWE NOU AL, VANDAG WYS DIT!

En, daarom wil ons vanoggend, in die behandeling van ons laaste artikel, art. 37

volgens die Skrif leer:

DIE GENADIGE VERLOSSER KOM AS REGVERDIGE REGTER

MAAK JOU GEREED, AS JY VANDAG SY STEM HOOR! (X2)

Ons belydenis eindig met ‘n oproep, op grond van alles wat nou geleer is, in NGB art. 1-36,

Ons glo ten slotte, in ooreenstemming met die Woord van God, dat, wanneer die tyd gekom het wat die Here bepaal het-die tyd is vir alle skepsels onbekend-en die getal uitverkorenes volledig sal wees, ons Here Jesus Christus met groot heerlikheid en majesteit uit die hemel sal kom, liggaamlik en sigbaar, soos Hy opgevaar het, om Homself as Regter oor die lewendes en die dooies aan te kondig, terwyl Hy hierdie ou wêreld aan vuur en vlam sal prysgee om dit te suiwer.

Ten slotte, of laastens, of samevattend …. is die oproep van die belydenis, om alles wat ons geleer het in NGB art. 1-36, nou te sien in die lig van die komende werklikheid,

Jesus wat gaan terugkom, en daarom moet ons leer,

  • wat sy 2de koms, of wederkoms behels, die waarheid en komende werklikheid daarvan, en
  • wat beteken dit nou vir my, nie net in die ewigheid nie, maar reeds hier en nou, vandag en elke dag van my lewe.

Jesus noem in Matt. 16:1-3, dat ons sien in die lug dat ’n storm oppad is… en dan tree ons op volgens daardie werklikheid, dadelik, nou!

Soveel te meer as Jesus oppad is, in sy regverdige oordeel, sodat ons daarvoor reg is.

Eerstens leer ons, Jesus kom, nie dalk nie, maar op die bepaalde tyd wat die Vader bepaal het.

Niemand weet wanneer dit is nie, nie Jesus in sy mensheid nie, geen mens of valse profeet wat met datums wil speel nie… maar DAT Hy kom is vas en seker.

Wat ons wel bely, is dat dit sal plaasvind wanneer ‘die getal van die uitverkorenes volledig sal wees’

Jesus het die groot opdrag gegee (Matt. 28:16-20), om die evangelie onder alle volke en nasies te verkondig, waarmee die kerk deur die eeue besig is, en wanneer die getal vol is, dit weet ons nie, sal die wederkoms plaasvind (sien ook HK v/a 54).

Tweedens, die wederkoms sal nie in die geheim plaasvind nie, daarom Jesus se eie waarskuwende woorde in Matt. 24 om nie die valse christusse te volg wat hier en daar hul verskynings maak deur die eeue op hul eie hopies nie.

Nee, ons bely in navolging van die Skrif, dit sal met groot heerlikheid en majesteit uit die hemel plaasvind, liggaamlik en sigbaar, soos Hy opgevaar het,

En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ’n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem. En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle, wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.” (Hand. 1:9–11)

Jesus sal sigbaar terugkom en almal sal Hom sien,

Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!” (Op. 1:7)

Derdens, sy wederkoms is om as regverdige Regter te kom oordeel en alles volmaak te maak, die nuwe hemel en aarde te bring, 2 Petrus 3:10, alles sal gereinig word deur vuur van sonde, onvolmaaktheid en boosheid, hierdie huidige skepping sal vernuwe en volmaak gemaak word, sien Rom. 8:18-22).

Vierdens, dan sal alle mense opstaan, hulle wat reeds gesterwe het, dat hul siele, gelowiges en ongelowiges verenig sal word met hul opgestane liggaame, en, hulle wat dan lnog ewe op daardie dag, sal in ’n oogwink verander, 1 Kor. 15 en 1 Thess 4, ons bely dit as volg in NGB artikel 37,

Dan sal, gedaag deur die stem van die aartsengel en deur die geklank van die basuin van God, alle mense, mans, vrouens en kinders, wat van die begin van die wêreld af tot die einde toe geleef het, persoonlik voor hierdie groot Regter verskyn. Want al die dooies sal uit die aarde opstaan, die siel van elkeen saamgevoeg en verenig met die liggaam waarin hy geleef het. En hulle wat dan nog lewe, sal nie soos die ander sterwe nie maar in ‘n oogwink verander en uit verganklikheid onverganklik word.

Vyfdens, dan sal die laaste oordeel van alle mense plaasvind,

Dan sal die boeke, dit is die gewetens, geopen en die dooies geoordeel word volgens wat hulle in hierdie wêreld gedoen het, of dit goed was of sleg. Ja, die mense sal rekenskap moet gee van elke ligsinnige woord wat hulle gesê het, al beskou die wêreld dit slegs as kinderspel en tydverdryf; en dan sal die geheime bedrog en huigelary van die mense in die openbaar voor almal oopgevlek word. 

Paulus se woorde in 4:1 … vir die ongelowige maar ook die gelowige, want ons lees in 2 Kor. 5:10,

Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.” (2 Kor. 5:10)

In Op. 20:11-15 leer ons meer detail daarvan (sien my preek daaroor in die Openbaring preekreeks),

EN ek het ’n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.

Geliefdes, beteken dit dat ons deur ons werke gered word?

Nee, maar ons werke openbaar of ons werklik gered is, dit is die vrug van die reddingswerk van Christus alleen, in die woorde van Op. 14:13,

En ek het ’n stem uit die hemel aan my hoor sê: Skryf—salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle.” (Re 14:13)

Die regverdige se troos is nie dat hy nooit weer gesondig het nadat hy geregverdig is deur die bloed van Jesus nie, maar is juis Rom. 7 erkenning, dat hy die goeie stryd stry (4:7), nie sy sondes probeer regverdig of ander die skuld heeltyd gee nie, maar soos die tollenaar heeltyd op sy bors slaan en roep, wees my genadig HERE,

en dan is die troos vir die gelowige, as sy werke geopenbaar word, dankbaarheidswerke, maar ook nog ongelukkig oorblyfsels van die sonde, wat die belydenis verder sê in NGB artikel 37, hierdie regverdige oordeel is vir ons as:

“… vromes en uitverkorenes begeerlik en troosryk. Want dat sal hulle volle verlossing voltooi word en hulle sal daar die vrugte ontvang van moeite en lyding wat hulle gedra het.” 

En ons troos as ons sien die sondes wat ons ongelukkig in swakheid en tye van terugval gedoen het?

Die gelowiges en uitverkorenes, daarenteen, sal met heerlikheid en eer gekroon word. Die Seun van God sal hulle naam voor God, sy Vader en sy uitverkore engele bely; alle trane sal van hulle oë afgevee word (Op. 21:4: ‘En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.’).

DAAR is die verskil geliefdes, die Seun van God wat ons name, die uitverkorenes, hulle wat uit genade gered is, deur die geloof in Christus alleen, sal bely, vir ons intree, dat Hy vir al ons sondes gesterwe het, 1 Joh. 2:1-2.

In die woorde van Paulus in 2 Tim. 1:8,9

…  die evangelie na die krag van God wat ons gered en geroep het met ’n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is,” (2 Tim. 1:8–9)

Verder, het die gelowige, die ware kerk, deur alle eeue die troos, dat die Here sal hul saak vergelde met die finale oordeel, daarom hoef ons nie NOU eie reg in hande te neem nie, nie self goddeloos, bandeloos, ongehoorsaam te word nie…. !

Ons bely:

Dan sal dit bekend word dat hulle saak, wat tans deur baie regters en owerhede as ketters en goddeloos veroordeel word, die saak van die Seun van God is. En as ‘n beloning uit genade sal die Here self hulle so ‘n heerlikheid gee as wat die hart van ‘n mens nooit sou kon bedink nie. Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes van God in Jesus Christus, ons Here, ten volle te geniet.

MAAR, maak dan seker geliefdes, dat jou saak die Here se saak is, en nie jou eiewilligheid of persoonlike vetes of agendas nie, sien Matt. 5:10-12.

Sy Naam, sy wet, moet die aanstoot veroorsaak, nie ons sondes nie!

Maar, sesdens, soos die wederkoms en finale oordeel en ewige lewe en nuwe hemel en aarde ‘n groot troos is waarna die gelowige uitsien,

is die koms van Jesus vir die goddelose, die onbekeerdes, die skynheiliges ‘n groot vrees en angs wat wag… al maak hul asof hul sogenaamd dapper en sterk is…. hulle is dwase nietige kabouters wat nie besef wat hul gaan tref nie.

Dit is soos die man wat weet die groot haelstorm kom, en dan trek hy sy kar uit dat die hael dit tref…

Ons bely oor hierdie armsaliges:

Daarom is die gedagte aan hierdie oordeel vir die oortreders en goddeloses met reg ontsettend en skrikwekkend….

DAN, gaan dit te laat wees, en hulle gaan in angs, spyt, haat en bitterheid, teen die Here en sy kinders … wat hul ook in hierdie wereld al openbaar uitroep:

en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam;” (Op. 6:15–16)

MAAR, dieselfde Here Jesus wat hul openlik of skynheilig op aarde verwerp het, het duidelik geleer:

Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. – Matt. 25:41

Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood. – Op. 21:8

Wie is die goddeloses?

Paulus openbaar dit in 2 Tim. 3 en 2 Tim. 4 ook,

vers 8, hulle wat Jesus se eerste verskyning nie werklik liefgehad het nie …. hetsy rou heidene … of kerkmense wat nie waarlik bekeer het en aanhou bekeer nie!

vers 10, want Demas het my verlaat, omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het … ja, liefde vir homself, sy welluste, sy begeertes, rykdomme, besittings ..’ dink aan die ryk jongman… sy besittings  van die wêreld, sy afgode wat sy lewe bepaal het ten koste van liefde vir God en die naaste … sien 2 Tim. 3:1-9, .. liefhebbers van hulself, geldgieriges, trotsaards, onheiliges, kwaadsprekers, … samevattend: meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God … lees v. 5… en as hul daaroor aangespreek word, weier om te verootmoedig en bekeer, daarom Paulus se woorde van 2 Tim. 3:12 en 13….

Die wederkoms is ook ‘n troos vir gelowiges teen die goddelose wat in hierdie wêreld nog ‘sterk’ is en vernietig en verwoes, in huise en orals … maar, ons bely:

Hulle (gelowiges se) onskuld sal deur almal erken word en hulle sal die verskriklike wraak sien wat God sal voltrek oor die goddeloses wat hulle in hierdie wêreld wreed vervolg, verdruk en gekwel het. Maar die goddeloses sal deur die getuienis van hulle eie gewete tot erkenning van hulle skuld gebring word; hulle sal onsterflik word dog slegs om gepynig te word in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is

Kyk hoe bely ons dit ook HK Sondag v/a 52,

Vr. Hoe word jy getroos deur die wederkoms van Christus om te oordeel die lewende en die dode? Antw. Dat ek in alle droefenis en vervolging met ‘n opgerigte hoof dieselfde Saligmaker wat Hom tevore om my ontwil voor die strafgerig van God gestel en die vloek geheel en al van my weggeneem het, as ‘n Regter uit die hemel verwag, wat al sy en my vyande in die ewige verdoemenis sal werp, maar my met al die uitverkorenes tot Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid sal neem. 

EN hoekom is hierdie wete van die wederkoms vir die gelowige SO belangrik?

SODAT ons juis elke dag tot en met ons sterwe en/of die wederkoms, in ons eie lewens, gesinne, gemeentes en gemeenskappe kan doen wat Paulus, wat soveel onreg gely het (2 Kor. 4), self gedoen het deur die geloof, uit genade, en van getuig aan die einde van sy lewe:

… ek het die goeie stryd gestry (in Christus, teen die eie sonde, wêreld en Satan); ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.” v. 7

Hoekom kon Hy dit doen, want…

“… die kroon van die geregtigheid (is vir my weggelê) wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.” (2 Ti 4:6–8)

Deur die krag van die Gees en sy Woord!

En daarom, laastens, kon Paulus voortgaan met die opdragte van 3:14-4:2… (lees!)

En moet ons dit ook doen, in ons persoonlike lewens, gesinne, gemeentes, gemeenskappe.

Die waarskuwing is duidelik, terwyl ons oppad is na die wederkoms en die laaste oordeel:

Het u Jesus lief, waarlik lief, dan sal dit wys in vrees vir God en liefde vir die naaste, ‘volgens sy Woord’ (Joh. 14:15) … as jy Hom en die naaste nie liefhet nie, nie gered is nie, dan is jy vervloek en sal ewig verlore gaan, 1 Kor. 16:22.

Maar die troos is ook duidelik, terwyl ons oppad is na die wederkoms en die laaste oordeel:

Maar as jy genadiglik glo, aanhou die goeie stryd stry (4:7), het jy die troos van die ewige lewe en hoop, en kan saam met die kerk van alle eeue volhardend bid tot die einde toe,

Kom Here Jesus, kom gou!

Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus! Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen. (Op. 22:20–21)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: