TOTIUS LESING (DEEL 1): 1. Inleiding en oorsig 2.1 Agtergrond, grootword en skooljare (1877-1896)

TOTIUS LESING: DEEL 1

1) Inleiding en oorsig

2.1) Agtergrond, grootword en skooljare (1877-1896): sy vader en moeder, sy taal, na Pretoria, SJ Du Toit en Paul Kruger, sy godsvresende ouma, Hugenote Gedenkskool, roeping!

“Daarom hou ons vas aan die beginsel wat in die bloeitydperk van die Gereformeerde kerke neergelê is: in die huis van God die Woord van God. Die gemeente van God moet met niks anders as met die kennis van die wil van God gevoed word nie, en hierdie beginsel kom eers tot sy reg as alle eiewillige godsdiens uitgeban en die Skrif self weer die inhoud van alle prediking is.” – Totius

_______________________________________

Ek het ‘n lesing oor Totius se lewe en betekenis aangebied by die Gereformeerde Denkers deur die eeue Konferensie, van Saterdag 27 Augustus 2022, by die GK Potchefstroom-Suid, aangebied deur die Teologiese Studentevereniging.

Ek is nie seker of die lesings van daardie dag dalk later aanlyn iewers beskikbaar gaan wees nie, maar ek wil hier in ‘n paar dele, die boekie waaruit my aanbieding gevloei het, beskikbaar stel vir belangstellendes (die harde kopie, getiteld: Genade, alles genade: die lewe, werke en betekenis van Totius, is direk by Pro Regno Boeke beskikbaar, teen R50-00 per boekie [posgeld uitgesluit], kontak my gerus by proregno@gmail.com of 082 770 2669)

Die boekie bevat heelwat meer inligting as die oorsigtelike lesing wat ek aangebied het.  Die inhoudsopgawe:

1. Inleiding en oorsig … 7

2. Die lewe en betekenis van Totius … 11

2.1 Agtergrond, grootword en skooljare (1877-1896) … 11

(sy vader en moeder, sy taal, na Pretoria, SJ Du Toit en Paul Kruger, sy godsvresende ouma, Hugenote Gedenkskool, roeping!)

2.2 Student- en oorlogsjare (1896-1903) … 23

(teologiese student en digter, skrywer, prediker, sy verloofde, oorlogsbeproewinge, doktorsgraad in Nederland)

2.3 Bedieningsjare in en vanuit Potchefstroom, die laaste jare (1911-1953) … 33

(huwelik en gemeente, preek! preek! preek!, gereformeerde onderwys, TSP & PU vir CHO, politiek, professor in teologie, die Woord vir die hele lewe, unie en rebellie, o, die pyngedagte – my kind is dood!, Afrikaanse Bybelvertaling, Afrikaanse Psalmberyming, Psalms alleen?, digter van die ou paaie, buitelandse reis en erkennings, bloedspoor van die Afrikaner, skemering en einde)

3. Die ‘Versamelde Werke’ van Totius … p. 75

(twee uitgawes, hoe lees mens die Versamelde Werke?, aanbevelings, 2 voorstelle: jaarlikse Totius gedenklesings & Totius Publikasies, inhoud oorsig)

4. Waardering en slotwoorde … 81

5. Belangrike datums van Totius se lewe … 83

Bronnelys … 84

Hier is dan deel 1:

1) INLEIDING EN OORSIG

Wie weet wat is ‘n … kydaa… of kydaas?

Antwoord: Dit is as ‘n boer van Transvaal sy klein kindertjies die eerste keer na die groot stad of see vat, en dan hoor jy heeltyd die kleintjies opgewonde en in verbasing uitroep, as hul al die ‘nuwe dinge’ sien, terwyl hulle orals wild heenwys … kydaa! kydaa! … nee, kydaaa!

Nou, studente, geesgenote, volksgenote,

Dit was my eerste reaksie, 28 jaar gelede, toe my geliefde skoonouers, vir my op my 26ste verjaarsdag, ‘n stel van Totius se Versamelde Werke, die 1977-uitgawe, die 11 dele gegee het … en ek dit begin lees het … tot vandag toe.

Keidaa!, kyk daar … met ander woorde, vir my toe as jongman, wat grootgeword het in die NGK maar nooit groot erns met my geloof gemaak het nie, was dit ‘n wonderlike ontdekking van soveel Skrifinsigte, wyse woorde, verklarings, besinnings, geskiedenis, ens., wat soveel indruk om my gemaak het, en nog steeds.

En, toe ek nou gevra is om die lesing te doen oor Totius, het ek besluit, vir verskeie redes, om net op hierdie twee wesentlike bronne te fokus en iets meer daarvan en daaruit met julle vandag te deel, naamlik:

– die Versamelde Werke van Totius, en dan het ek, sonder skaamte, slegs een bron geraadpleeg oor die lewe en geskiedenis van Totius, en dit is

– oud-prof. Victor d’Assonville (snr.) se klassieke boek, Dit is Totius,[1] prof. Victor wat in 1950 een van die laaste studente was wat die laaste lesing van Totius ontvang het by die TSP, oor die Heidelbergse Kategismus, in 1950.[2]

Met die 2/3de lees van prof. Victor se boek, was my reaksie dieselfde, as met die lees van die Versamelde Werke (wat ek nog nie naastenby in sy geheel gelees het nie!), naamlik: kydaa! en daa en daa!, dit wil sê, daar is so baie inligting, insigte, gebeure, lesse, heimwee, vreugdes, en hartsere wat prof. Victor met ons deel oor Totius en sy familie, sy geliefdes, ons kerkgeskiedenis, volksgeskiedenis, stryd en worstelinge, vreugdes en skatte, ens., dat my doel is alleen om u vandag net ‘n proesel te gee van hierdie twee bronne, veral vir ons teologiese studente om ‘tolle lege’ te doen = neem en lees, verootmoedig dan in gebed, wees dankbaar in lyn met die woorde van Hebr. 13:7, wat natuurlik ook geld vir al ons ouers, predikers, mede-gelowiges wat ons voorafgegaan het.

So my doel is om te verwys, aan te haal, ‘n basiese oorsigtelike opsomming vanuit prof. Victor se boek, asook na die Versamelde Werke self, en kan ek byvoeg, lees saam met ‘Dit is Totius’, ook prof. Victor se boek oor die persoon wat die grootste invloed op Totuis uitgeoefen het, en hom help vorm het vir wat hy sou word en wees, nl. SJ Du Toit van die Paarl. Hierdie twee gelowiges, pa en seun, is ‘n wesentlike moet om die geskiedenis van ons gereformeerde geloof, kerke en ons taal, volk en kultuur te verstaan, soos dit gevorm is in die jare 1850s tot 1950s.

En daar is nog ‘n laaste maar baie belangrike rede, waarom ek prof. Victor se twee boeke, maar al sy werke sterk wil aanbeveel, en dit is naamlik juis vir een van die belangrikste take wat hierdie pa en seun verrig het, en dit is vir die behoud, skoonheid, verwonderling van ons Afrikaanse taal.  Ja, vir almal wat Afrikaans liefhet, maar veral ook vir ons kinders, om die pragtige Afrikaans en woordeskat te leer wat prof. Victor gebruik, iets wat ek baie jammer is dat ek nie van kleinsaf al reeds aangeleer het en baie meer waardeer het nie.

Dit is ook in Augustus (14 Aug 1875), die gedenkdatum van die Stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners, die Eerste Taalbewing, waarin SJ Du Toit sentraal gestaan het, en natuurlik later, sou sy seun, Totius, sentrale figuur wees met die Tweede Taalbeweging, deur sy massiewe bydrae tot ons taal deur Bybelvertaling, Psalmberyming en sy meesterlike gedigte.

So, ek hoop ek mag die honger na ons verlede, by julle aankweek, om hierdie twee of drie bronne te bekom en jou hele lewe lank te bestudeer, en jou kinders en gemeentes daarvan te vertel, want ten einde gaan dit alles, of dit oor vertalings, berymings, taal en kultuur, die doel van dit alles, is om die Here te verheerlik ook in ons taal, uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.

So, met hierdie inleiding, kom ons kyk dan na die volgende sake in die lesing, gesamentlik en in wisselwerking:

– Die lewe oftewel geskiedenis van Totius (volgens ‘Dit is Totius’)

– Die betekenis van Totius (saam met die geskiedenis deel behandel)

– Die Versamelde Werke, 11 dele (2 uitgawes)

– Waardering en slotwoorde

_____________________________

[1] VE d’Assonville, Dit is Totius: JD Du Toit 1877 – 1953 (Pretoria: Marnix, 1993).

[2] ibid., p. 235.

__________________________________________________

2. DIE LEWE EN BETEKENIS VAN TOTIUS

2.1 Agtergrond, grootword en skooljare (1877-1896)

Jacob Daniël Du Toit is gebore op 21 Februarie 1877 in die Paarl, seun van ds. SJ Du Toit, predikant van die NG Kerk Noorder-Paarl, en sy moeder was Elizabeth (gebore Joubert),

Sy familie noemnaam sy lewe lank, was Japie. Sy digtersnaam wat hyself later as jongman afgelei het uit sy eerste naam en van, was Jaduto. Later, in sy studentejare in Amsterdam, Nederland, aan die Vrije Universiteit (1900-1903), kry hy die mees bekende bynaam, Totius, die latinisering van sy van. Hy is ook genoem ‘Tooi’, en sy studente in latere jare, na aanleiding daarvan dat Totius natuurlik nie groot in liggaamsbou was nie, het hom ‘Doktertjie’ genoem, en ander noem hom weer die “klein grootman”.

Die van ‘Du Toit’ is van Vlaams-Franse afkoms, gaan sover terug as die 11-13de eeu, en beteken ‘van die dak’. Dit het sy oorsprong in ‘n oorlewering wat vertel dat die stamvader van die Du Toits, het in die 13de eeu die koning veilig bewaar in hul huis se solder, toe vyande hom agtervolg het, en later het die koning toe die titel van ‘du toit’, naamlik ‘van die dak’ vir die stamvader gegee.[1]

Francois du Toit was die stamvader in Afrika, wat in 1690 in die Kaap aangekom het, as deel van die Franse Hugenote (1688), die Hugenote wat hier aangekom het met die Franse Bybel, Psalmboek uit Geneve, Franse Konfessie en Kerkorde.

Die Du Toit’s het van die begin af, die kinderseën van Ps. 127 en 128 omhels, Francois en sy vrou wat 9 kinders gehad het, en later SJ Du Toit, Totius se Pa, se ouers, Dawid en Helena du Toit het self 13 kinders gehad. Totius en sy vrou Bette, was self geseën met 6 kinders, waarvan twee vroeg gesterwe het, meer daaroor later.

Die tyd waarin Totius gebore is, was in die tyd van die opkoms van Groot Brittanje as die magtigste wêreldryk, en waar Europese moondhede in ‘n resies was om kolonies reg oor die wêreld te bekom, prof. Victor beskryf hulle as ‘rowerbendes’.[2]

Sy vader

Totius se lewe, is en was onlosmaaklik verbonde aan sy vader se lewe en geestelike en kultuur-erfenis, dit is seker een van die mees intense vader-kind verhoudings in ons geskiedenis, om met deernis van te leer. Die groot eerbied wat Totius sy hele lewe lank vir sy vader gehad het, hoe hy sy naam beskerm het,[3] selfs toe hul in latere jare van Totius se lewe, oor sekere sake, veral waar hy predikant moet word, die Tweede Vryheidsoorlog, en die Afrikaanse volk se toekoms in SA (dus politiek) verskil het.

Daarom wil ek graag vir prof. Victor hier aanhaal, oor die belangrikheid, ja en kontroversie oor ds. SJ Du Toit:

“Totius se vader was natuurlik die bekende ds. S.J. du Toit, daardie dinamiese en omstrede figuur met geniale talente wat diep spore op so baie terreine in Suid-Afrika se bodem getrap het — die kerk, die onderwys, die kultuur en die politiek. Die tyd sal nog uitwys dat hierdie man inderdaad ’n profeet van sy volk was. Toe niemand nog ooit daaraan gedink het nie, was hy die man wat alreeds teen die end van die vorige eeu die Eerste Wêreldoorlog aan sy seun

Totius voorspel het: dat ‘daar in Europa elk dag de storm dreigt los te breken”. [Sou ons hier een van die geheimsinnige redes vir S.J du Toit se standpunt oor die Tweede Vryheidsoorlog vind — sy profetiese blik op die onafwendbare “wereldstorm” wat “dreigt los te breken”? Moes — menslik gesproke — die Transvaal en die Vrystaat nie nog eers probeer “watertrap” om tyd te wen nie?]

Nietemin, die geskiedenis is meedoënloos. S.J. du Toit was die “Ismael” van die Afrikanervolk: ‘sy hand teen almal, en almal se hand teen hom’. Dit het Totius self van sy vader gesê. Hierdie Du Toit wat in die vyfde geslag na sy pionier-stamvader weer as die grootste leier met ’n ongelooflike durf en daad uitgestyg het, is deur sy volk geroem en verguis, bewonder en verfoei — die lot van ‘n profeet? Ook die buiteland het S.J. du Toit geken. Op ’n keer het die bekende Franse koerant Le Temps hom gehuldig as “un soldat, un orateur, un poéte” [soldaat, redenaar, digter] van die Afrikanervolk. Hy was ’n vriend van die beroemde teoloog Abraham Kuyper, latere Eerste Minister van Nederland, maar hy raak van hom vervreemd. S.J. du Toit was die vertroueling van President Paul Kruger, maar kom ook met hom in botsing.

Hierdie dertiende en jongste kind van Dawid en Helena du Toit sou op sy beurt weer ‘n seun hê waarin so baie van die uitsonderlike, geniale talente oorgeplant is, maar [anders as met sy vader] gekanaliseer is in ’n rustige, bestendige geaardheid. Dit is kompleet of die storms en orkane in die lewe van S.J. du Toit in die lewe van die seun J.D. du Toit stil geword het. Maar die geniale talente het voortgeleef, selfs uit gegroei. Hulle is albei egte Du Toits = swawels van dieselfde dak.”[4]

Sy moeder

Totius, het die paar jare wat hy met sy moeder, Elizabeth (Joubert) Du Toit, hier op aarde kon saamleef, sy sterf toe hy maar 5 jaar oud is, net die grootste respek en liefde en waardering vir haar gehad. Hy beskryf in 1953, sy eie sterwensjaar haar as “’n nederige, sagmoedige, kinderlike mens met toegewyde godsvrug … sy (was) ook ‘n geleerde vrou … onbeskryflik heerlik is my gedagtes aan my moeder wat ek so vroeg moes verloor.”[5]

Sy taal

Totius is gebore en het grootgeword nie net in ‘n gereformeerde gelowige huis nie, maar ‘n huis waarin of waardeur die ‘Genootskap van Regte Afrikaners’[6] as’t ware begin is, hy het die liefde vir God se Woord en die groeiende Afrikaanse taal met moedersmelk ontvang.  Totius skryf self:

“Ek is gebore in die geboortedorp van die Genootskap van Regte Afrikaners, nl. die Paarl. Die Genootskap was net ’n paar jaar ouer as ek. Die vergaderinge is nie lank na die stigting in my geboortehuis gehou nie, t.w. die noordelike flank van die Paarlse Gimnasium . . . Die noordelike deel het destyds diens gedoen as pastorie van die Noorder-Paarl-gemeente.”“[7]

Die GRA is in 1875 gestig, net 2 jaar voor Totius se geboorte, en SJ Du Toit[8] het die mees sentrale leiding in daardie Afrikaanse taalbeweging en Afrikaanse patriotisme gelei, met die Afrikaanse Patriot koerant wat die land uitgegaan het. Pres. Kruger en ander Boeregeneraals het ook groot erkenning gegee aan die GRA en die Patriot vir hul impak en gevolge vir die vryheidstryd van die Afrikaner, veral die Eerste Vryheidsoorlog, bv. met die Slag van Majuba, in 1877.

Die eerste uitgawe van die ‘Afrikaanse Patriot’ lui soos volg (Saterdag, 15 Januarie 1876),

“Is daar nog Afrikaners wat vra wat ons doel is? Ons antwoord is: ‘Om te staan vir ons taal, ons nasie en ons land’ ”. Hy sê verder dat daar drie soorte Afrikaners is: Afrikaners met Engelse harte, Afrikaners met Hollandse harte en Afrikaners met Afrikaanse harte. ‘Die laaste noem ons REGTE AFRIKANERS, en hulle roep ons op om aan ons kant te kom staan’..”[9]

Prof. Victor se eie beskrywing van die impak van die GRA op Totius, wat dan later in sy lewe groot vrug sou dra:

“Blaai ’n mens deur Totius se geskrifte, dan kom jy baie gou agter: Hy en die GRA het saam opgegroei; hulle was feitlik kinders onder dieselfde dak: hulle lewensbeskouing is uit dieselfde bronne gevoed; hulle doeleindes het in dieselfde stroom saamgevloei. Die Afrikaanse taal en kultuur, die Christelike onderwys en die Bybel in Afrikaans, is die dinge waarvoor die GRA en Totius gestaan het. Vyftig jaar nadat die GRA ontstaan het, noem hy die stigtingsdatum ‘die eerste haangekraai . . … die eerste wekstem in die nag van taalslaap’. Daarom het ‘Augustusmaand’ — so sê hy verder — ‘ook vir ons simboliese betekenis. Net soos dan deur die natuur ’n roering gaan — inwendig nog, nouliks sigbaar — wat die naderende lente aankondig, so is toe in ons volksbestaan gevoel die eerste roersele van taallewe en selfbewuswording.’ Hierdie “bewuswording” was vir Totius om, in die woorde van die GRA, ‘regte Afrikaners’ te wees.

Hierdie begrip is nie vir hom vaag of in die minste ’n chauvinistiese term nie, maar is ten eerste daardie stigters se ‘ywer vir die Christelike geloof en godsdiens. Ons weet dan ook nie hoe iemand ’n ‘regte’ Afrikaner kan wees as hy die godsdiens van sy vaders verwerp nie. Taal en nasie baat sonder die ware godsdiens nie — want dié twee mis dan die ewigheidsmerk.’

Saam met die GRA stel Totius altyd konsekwent die eis van ware christenskap vir alle lewensterreine. Selfs die eksklusiewe lidmaatskap dien vir hom tot voorbeeld: “Die ‘Regte Afrikaners’ van 1875 het dan ook sover gegaan om in hulle reëls te skrywe dat niemand lid van hulle Genootskap kan wees as hy nie in die versoenings dood van Christus glo nie. Die bepaling het nie daar gestaan omdat die Genootskap deur ‘n predikant gestig is nie, maar om daarmee te kenne te gee dat ons ganse volkslewe deur ons Christelike beginsels gedra moet word…’ Die manne van 1875 se werk is nog in die dagbreek voor sonop in die ‘allereerste roersele van die dag’ gedoen. ‘Alles blink nog nie in die klaarligte sonskyn nie. Maar dit is juis die nablywende sluiers wat die misterie van die wordende dag verhoog’, skryf Totius in 1950, drie jaar voor sy dood.”[10]

Na Pretoria

In 1882, as vyfjarige, vind die eerste groot verandering plaas in Totius se lewe, toe sy vader deur pres. Paul Kruger aangestel is as Superintendent van die Onderwys vir die ZAR, hul moes trek van die Paarl na Pretoria. Die ZAR moes opgebou word na die Eerste Vryheidsoorlog, en wesentlik deel daarvan was die onderwys, en daar was nie ‘n beter man om die werk te doen as ds. SJ Du Toit nie. Die vereistes was bekwaamheid en geleerdheid, Christelike-nasionale onderwys, en liefde vir die Afrikaner, wat alles natuurlik ‘n groot passie van ds. Du Toit was.

Hier in Pretoria, op die ouderdom van 6 jaar, in 1883 begin Totius se amptelike skooljare, aan die privaatskool van ‘n sekere mej. Putzer. Insiggewend, en baie belangrik: Totius was nooit geskool aan enige staatskool of staatsinstansie nie, al sy skoolopvoeding het hy of tuis, of deur privaatskole, of privaat onderwysers en later aan privaat instellings ontvang, insluitende aan die Teologiese Skool Burgersdorp en die Vrije Universiteit in Nederland, wat destyds nie staatsinstellings was nie … ja, die goeie ou jare.[11]

Hier sterwe sy moeder dan ook, in 1883, die trek van Paarl na Pretoria was heelwaarskynlik te veel vir haar, na sy een aand gekla het van pyne in die nek en kop.  Hier was Totius se eerste intense meelewing met die dood, die afterwe van ‘n geliefde, wat later ook sou volg in ander hartsere in sy lewe, waarvan baie van sy gedigte getuig.

Behalwe die afsterwe van sy moeder, het daar geleidelik in sy jonglewe, in die huis van die Du Toit’s se huis ‘n ander spanning begin opbou waarvan Totius natuurlik hoe ouer hy geword het, al meer bewus sou van wees, en ‘n radikale impak op sy eie lewe sou hê, vir sy verhouding met sy vader, sy verhouding tot kerk en sy volkslewe, ja, alles sou daardeur geraak word, ook sy studies en toekoms in die oorlog wat sou kom in 1899.

SJ Du Toit en Paul Kruger se politiek

Dit was dat ds. SJ Du Toit, wat aangestel as onderwysman, is al meer ingetrek in die politiek van die dag, hy het al meer ‘n belangrike raadgewer geword vir pres. Paul Kruger in die hantering van verskillende kontroversiële politieke twispunte, nie net met Brittanje nie, maar ook onder die volk self wat sterk begin verskil het oor die hantering van immigrante in die ZAR, hoe om op te tree teenoor Britse vyandigheid, ZAR burgerskap, ens.

Dit is nie die doel van hierdie lesing om daaroor in detail in te gaan nie, die wese van die saak was: pres. Paul Kruger en ds. SJ Du Toit was wesentlik eens oor hul gereformeerde geloof, passie vir Christelike onderwys en liefde vir taal en volk, maar hul het sterk en al meer sterk verskil oor politiek en veral die visie vir Afrika, waar pres. Kruger geglo het in die onafhanklikheid van die Boererepublieke en alles wat vir die volk daarmee saamgaan, terwyl ds. Du Toit ‘n verenigde SA verlang het vir die Afrikanervolk.[12]

Dit gelei tot vervreemding en die latere bedanking as superintendent van onderwys deur ds. Du Toit. Maar, voor dit plaasgevind het, was SJ du Toit deel van die Driemanskap wat Europa gaan besoek het.

Sy godsvresende ouma

In hierdie tydperk het Totius saam sy broer teruggekeer na die Paarl, in 1883, om daar by hul ouma te bly vir twee jaar, waar hy en sy broer, Dawid, aan die Hugenote Gedenkskool[13] verder skool gegaan het.  Verder, baie belangrik, in lyn met wat ons leer in 2 Tim. 1:5, die volgende onderrig by sy ouma du Toit te ontvang, prof. Victor skryf:

“O, Kleinbosch . . . half-vergete plaas van die eerste Du Toit-stamvader, maar ook bakermat van die “opstanding” en “renaissance” van die Afrikaanse volk en sy kultuur. Hier aan die voet van die pragtige berge digby Du Toitskloof, waar vandag ’n bruisende motorverkeer aanhoudend uit ’n tonne! bars, kon ’n digter van die volgende eeu in 1884 uit ’n borrelende helder geestelike fontein volle teue drink.

Francois du Toit die Hugenoot sou byna twee eeue later steeds ’n beroemde nasaat op sy eie plaas hê. Hier op Kleinbosch sou die sewejarige seuntiie reeds voor dagbreek, lank voordat die son oor die hoë berge kom loer om oor die Drakensteinvallei sy eerste strale te werp, aan die knie van sy grootmoeder, sy daaglikse onderrig uit die Bybel ontvang. Saam met die voëls in die digte bome het die lofsang van ’n kind met sy ouma se lied tot God opgestyg. Baie jare later onthou Totius nog ‘hoe hy smôrens om 4 uur saam met haar opgestaan het, om na te kyk as sy in die Bybel en Dagboek lees. Hy hoor nog haar dun stemmetjie as haar môrelied en môregebed opstyg. O, die jeugherinneringe uit ‘n waarlik beter tyd as wat ons nou beleef.’ Tot in sy grysheid onthou die digter steeds ‘hierdie eerste môrehandeling’ van ’n wonderlike, vrome grootmoeder.’

Sy ‘was ’n egte Hugenoot [gebore Du Plessis]. Getrou het sy aan haar tradisie gebly; haar kinders het sy in die Calvinistiese spoor gelei’. Nooit kon hy die kersie wat voor dagbreek met die oggendgodsdiens geflikker het en die fyn stemmetjie van haar oggendpsalm vergeet nie. Hy gaan so ver om te beweer dat hierdie ‘stille voorbeeld in die ouderwetse huis’ een van die faktore was wat hom aan sy ‘Calvinistiese oortuiging’ getrou laat bly het.”[14]

In 1884 is hul vader terug, en is hul weer na Pretoria, waar hul vader ook weer in 1885 getroud is, met ‘n nooi Anna F. Malan, aan wie Totius ook baie geheg geraak het. In Pretoria gaan bly hul dan in die plaasgebied van Rietfontein.

In 1888 besluit die du Toit’s dan ook dat Totius sou gaan skoolgaan aan die Duitse sendingskool in die Morgenzonne, noordwes van Rustenburg, nog ‘n privaatskool opgerig deur Duitse sendelinge.  Hy het baie goeie opvoeding, godsdiensonderrig en tale onderrig, o.a. Duits en Latyn hier ontvang, en het altyd met groot waardering na sy skoolmeesters hier verwys. Sy werksdissipline is ook deels hier aangeleer, wat so baie sou beteken het in sy vrugbare arbeidsjare later in Nederland en Potchefstroom.

Na twee jaar (1889) moes hy egter weer aanbeweeg, want dit was die tyd toe sy vader weens politieke verskille met pres. Paul Kruger en die ZAR, asook na die “vlaginsident”[15] bedank het, en hulle toe as gesin ‘n reis na Europa ondergaan het.

Twee verdere beproewinge tref die Du Toit gesin in hierdie tyd, sy stiefbroertjie sterwe in Paarl, en toe verneem ds. du Toit dat die goudmaatskappy wat hy saam ander begin het in die ZAR in vroeër jare, het bankrot gespeel, hul sit op straat, moeilike jare wat voorlê, eintlik vir die res van ds. Du Toit se lewe daarna.

Hulle gesin verhuis terug na Paarl in Augustus 1890, hulle het nie veel nie, baie goed moes verkoop word, maar dit is in die Paarl waar sy vader sou voortgaan met sy pogings om die Bybel in Afrikaans te vertaal, wat later Totius se groot werk sou word.

Die Hugenote gedenkskool

Midde die hartseer van die afsterwe van sy broertjie, en sy Pa se finansies wat daarmee heen was, asook geen toekoms meer in die ZAR nie, was die volgende paar jare baie goed vir die vorming van Totius, van sy 13de tot 18de jaar.  Hy sou (weer) geskool word aan die Hugenote Gedenkskool in Kleinbosch in die Paarl. Prof. d’Assonville beskryf dit as volg:

“By die Hugenote Gedenkskool op Kleinbosch het Japie opnuut besef dat die onderwys hier so wonderlik kon voortbou op die fondamente van die Duitse Sendingskool van Morgensonne. Die diepte en breedheid van die leerplanne, die toegewyde Christelike gees en dissipline, maar ook die uitstaande invioed van ’n onderwyser soos eerwaarde Adam Wickert, is in ‘n sekere sin in hierdie skool wat ‘n ‘monument vir die Franse Hugenote’ was, voortgesit. Onder die bekwame leiding van ds. F.S. du Toit [voormalige predikant van die NG-Kerk Nieuw Bethesda] het die Hugenote Gedenkskool juis in hierdie tyd ’n bloeiperiode beleef.

So indringend was die invioed van hierdie hoofonderwyser, dat Totius in 1917 kon vertel: ‘Met ‘n onuitspreeklike gevoel van piëteit en waardering dink die skrywer van hierdie boek aan die onderwyser van sy jeug, die man aan wie hy sy grondvorming te danke het — ’n man van goeie geleerdheid, beslistheid en vaste beginsels, en tog innemend van aard, vriendelik en hartlik, die voorkomendheid en beleefdheid in persoon. Die skrywer hiervan sien nog sy kort, gesette gestalte, sien nog sy haastige, enigsins waggelende gang, gryp nog weer na die kort, vaste hand en kyk weer in die gesonde, blosende gesig. Hy dink aan die dae toe ds. F.S. vir hom die modelmens was, aan die ure toe sy meester hom geroep het om met hom in die studeerkamer te bid, aan die Sondagsmôrens waarop ons sy praktiese preke aangehoor het, vol lewenswysheid, wat nog naklink in die oor. Waarom kon alle Afrikaners nie sulke onderwysers hê nie?

Soos in die geval by Morgensonne is ook in die Hugenote Gedenkskool besondere aandag aan die godsdienstige en kulturele vakke gegee. Aardrykskunde, waarin eerwaarde Wickert se leerlinge altyd uitgeblink het, maar ook Geskiedenis, was belangrik. Die handboeke was Sidwell en later Whiteside, “maar flink gedokter en aangevul deur die Geskiedenis van ons Land in die Taal van ons Volk’ Totius vertel self dat hy die onderwys in Bybelse, Algemene, Vaderlandse en Kerkgeskiedenis die ‘allermeeste’ geniet het. ‘Ja, geskiedenis was ds. F.S. se sterk punt. Daar was selfs ‘n eksamen in die ‘geskiedenis van die dag’, om uit te vind wie die beste die koerante gelees het’. Oor die onderwys en die onderwysers van die Hugenote Gedenkskool raak Totius tydens die Eerste Wéreldoorlog [1917] nostalgies uitdagend: ‘Wanneer kry ons sulke meesters en — sulke skole? Hoeveel manne, daar gevorm, is vandag voormanne in politieke en kerklike sake? Dit was ’n ware, nasionale volkskool’.”[16]

In 1893, onder die voorsienigheid van God, het hy ‘n voetaandoening, wat veroorsaak dat hy baie tyd in sy pa se studeerkamer moes deurbring, wat nog ‘n geleentheid was om te leer, van die boekery van sy vader:

“Na die Skool-Hoér’-eksamen in Julie 1893, gaan woon Japie weer by sy ouers in die Patriot-gebou in die Paarl. Dit was nodig, want hy het ‘n langdurige pynlike voetaandoening ontwikkel. Gaandeweg het dit erger geword en operasies moes volg. Hierdie saak was oorsaak dat hy baie dae lank op sy vader se rusbank in sy studeervertrek moes deurbring. Die gevolg? Die jong sestienjarige seun begin in die tyk skatkamers van die boekery — wat ds. Du Toit intussen alweer tot ’n merkwaardige versameling opgebou het — te delf. Van hierdie boeke het hy ‘ryp en groen verslind’. Kennis, kennis, kennis . . . Teologie en letterkunde . . . Kuyper en Oosterzee . . . Bilderdijk, Da Costa en Milton . .. Goethe en Schiller.”[17]

Sy roeping

Hy voltooi die Matrikulasie sertifikaat aan die ‘University of Good Hope’ in Julie 1895, en dan kom een van die grootste besluite in sy lewe, wat om te doen na skool, almal verwag seker: predikant soos sy Pa, maar wat besluit hy eers … om by SA Kollege in Kaapstad myningeniuer te gaan studeer!

Na baie worstelinge, en gesprekke met sy stiefmoeder, volg die roeping egter: om vir predikant te gaan studeer, maar, sy Pa is nie die gewildste man in die ZAR of NGK nie, so hy sal ook nie wees nie, en soos hyself noem, hy word al 19 en nog nie eens volwaardige lidmaat van ‘n plaaslike kerk nie![18]

Hier is waar die geskiedenis nou ‘n groot wending gaan volg, wat nie net Totius se eie lewe diep gaan raak nie, maar ook sy verhouding met sy familie, veral sy Pa en oom,[19] en dan wat natuurlik baie groot gevolge sou hê vir die ‘drie susterskerke’ hier in SA, nl. die groot vraag:

Waar gaan Japie teologie studeer en predikant word?

________________________________

volgende keer, deel 2: 2.2 Student- en oorlogsjare (1896-1903): teologiese student en digter, skrywer, prediker, sy verloofde, oorlogsbeproewinge, doktorsgraad in Nederland.

________________________________

[1] ibid., p. 12.

[2] ibid., p. 15

[3] H. Venter (red.), Totius se Versamelde Werke (Kaapstad: Tafelberg, 1977), deel 9: SJ Du Toit in sy weg en werk. Sien veral die voorblad, die woorde van Kuyper wat Totius daar aanhaal terwille van sy vader.

[4] ibid., p. 16-17

[5] ibid., p. 17

[6] https://en.wikipedia.org/wiki/Genootskap_van_Regte_Afrikaners

[7] ibid., p. 19

[8] SJ Du Toit is op sy beurt weer sterk beinvloed deur ds. WGA van der Lingen en Arnoldus Pannevis, ibid., p. 21. VE d’Assonville (snr.) se boek oor SJ Du Toit moet ook gelees word, om juis Totius en wat gevolg het nog beter te verstaan.

[9] ibid., p. 20

[10] ibid., p. 23. Al beklemtonings is bygevoeg.

[11] ibid., p. 34

[12] Sien VE d’Assonville, ‘SJ Du Toit van die Paarl’ vir meer oor daardie geskiedenis, asook ‘Dit is Totius’, hoofstuk 3 en 4, sien veral p. 39, asook hoofstuk 7.

[13] https://af.wikipedia.org/wiki/Gedenkschool_der_Hugenoten

[14] ibid., p. 30.

[15] ibid. p. 35.

[16] ibid., p. 45.

[17] ibid. p. 46

[18] ibid. p. 47.

[19] Ds. CW du Toit van die Nedl. Herv. Kerk in Rustenburg, Tvl.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: