GELOFTEDAG 2022 OORDENKING: TOTIUS OOR FEESTYE VAN DIE HERE

GELOFTEDAG 2022 OORDENKING

FEESTYE VAN DIE HERE

deur Totius


Inleiding – S. Le Cornu

Môre gedenk ons as gelowige Afrikaners weer die gebeure van Bloedrivier, die Here se groot dade ook in ons geskiedenis.  Deel van die Gelofte wat afgelê is in 1838, is hierdie woorde:

“… en dat ons ‘n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte. ..”

Ja, wesentlik deel van gelowige Afrikaner wees is om deel van die kerk van Christus te wees, of, behoort so te wees, nie net die kerk wat later in Pietermaritzburg opgerig is nie, maar deur alle eeue en tye en plekke hier waar die Here ons geplaas het aan die suidpunt van Afrika, om sy Naam te verheerlik, nie net as gesinne nie, nie net as volksgenote nie, maar ook as gelowiges daar waar sy volk vergader, wat bo-alles deel is van die Here se volk deur alle eeue, tye en plekke onder alle volke. 

Daarom bely ons in navolging van die Heilige Skrif, onder andere (NGB artikel 28):

“Ons glo – aangesien hierdie heilige vergadering ‘n versameling is van hulle wat verlos word en daarbuite geen saligheid is nie – dat niemand, wat sy stand en status ook al is, hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig mag hou nie; inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar deur hulle almal – as lede van een en dieselfde liggaam – aan sy leer en tug te onderwerp, die nek onder die juk van Jesus Christus te buig en volgens die gawes wat God aan elkeen gegee het, die broers in die opbou van hulle geloof te dien. En om dit beter te kan doen, is dit volgens die Woord van God die plig van alle gelowiges om hufle af te skei van hulle wat nie aan die kerk behoort nie, en hulle by dié vergadering aan te sluit, waar God dit ook al gevestig het, selfs al sou regerings en wette van regeerders daarteen wees en daarvoor die dood- of lyfstraf oplê. Daarom handel almal wat hulle van hierdie ware kerk afskei of nie daarby aansluit nie, in stryd met die bevel van God.”

En tog is dit hartseer tragies dat die Afrikanervolk al vir dekades so ‘ontkerk’ het, baie wat môre nog Geloftedienste sal opsoek, maar nie die Here se eredienste op die rusdag getrou van rusdag tot rusdag opsoek nie, kontra Hebr. 10:25.

Daar kan geen diepgaande bekering, verootmoediging en reformasie van die volk plaasvind sonder die kerk van Christus wat wesentlik sentraal ook daarin staan nie.  Soos prof. dr. HG Stoker dit dekades gelede al gestel het (beklemtoning bygevoeg):

Nieteenstaande hierdie agteruitgang glo ek nog dat daar ‘n kern van ons volk is wat aan sy verlede ten volle trou bly en in die regte rigting voortbou.  Ek glo nog dat daar ‘n tyd sal kom waarin God ons volk sal wakker skud tot ‘n stryd wat die so nodige antitese sal skep en die toegedekte antitese, die dubbelslagtige en dubbelhartige karakter van die sinkretisme, sal ontbloot en daardeur vernietig – ‘n stryd wat noodwendig op kerklike en godsdienstige terrein sal moet begin omdat die Calvinisme die geestelike wortel van ons volksbestaan is.  Ek glo dit omdat die taak wat God aan ons volk hier in Suid-Afrika en ten bate van die hele Afrika gestel het, nog lank nie afgehandel is nie, ‘n taak waarin die stryd tussen Oos en Wes ‘n sentrale rol gaan speel. Dat God ons volk roep, blyk duidelik uit die roeping van ons volk in die huidige wêreldverwarring.”

En daarom plaas ek hier Totius se artikel oor die “Feestye van die Here”, wat nie direk oor Geloftedag gaan nie, maar by implikasie wys watter “feesdag” moet wesentlik sentraal in ons lewens staan, persoonlik, gesinne, gemeentes, en waarop die Gelofte by implikasie self wys, sodat die laaste woorde van die Gelofte, waarin die ware kerke van Christus ons moet onderrig en in lei (1 Tim. 3:15), ook in ons totale lewe op alle terreine van lewe en denke gestalte sal kry en sal uitroep:

“… Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.”

FEESTYE VAN DIE HERE

deur Totius*

Die eerste dag van die week was vir die eerste Christene, van die allereerste begin af aan, ‘n feestyd.

Ons kan ons voorstel hoe die getuies van die opstanding van die Here aan mekaar gesê het: “Vandag is dit net agt dae gelede dat die Here aan ons verskyn het”. Ons kan ons voorstel dat ‘n Petrus of Jakobus in die stilte gepeins het: “Vandag is dit net agt dae gelede dat die Here aan my verskyn het”.

En … daar was tegelyk ‘n feestelike stemming.

Wie sal nie bly wees by so ‘n ervaring nie?

Dit was en dit is die hoogtepunt — feestye van die Here.

Hy alleen het die hemelse vreugdegevoel gewek.

Sonder Hom was daar geen fees nie.

Teenoor die Roomse Kerk, wat die feesdae veelvuldig vermeerder het, het die Calvinistiese Hervorming die eerste dag van die week as die feesdag gehandhaaf. Daarom was die eerste hervormers nie geneig om allerlei kerklike feesdae in te voer nie. En toe later sinodaal besluit is tot die viering van Kersfees, Paas-, Hemelvaart- en Pinksterfees, het die nadruk tog bly val op die eerste dag van die week, die dag van Christus se opstanding. Paas- en Pinksterfees het saamgeval met die rusdag, en Kersfees en Hemelvaartsdag moes ook op die naas-volgende Sondag herdenk word. Maar ons wil nou nie spesiaal oor die kwessie van feesdae skrywe nie.

Ons wil alleen daaraan herinner dat ons rusdag ‘n feestyd is en wel ter ere van die Here.

In Hom is dan ons hart verheug.

Die hoogtepunt weer van die rusdag is die vergadering van die gelowiges tot die gemeenskaplike erediens.

“Soos die Psalmdigter, in diepe gevoel van die lofwaardigheid van God, dit geheel en al onvoldoende geag het om alleen vir homself God te prys maar die hele skepping daartoe opgeroep het, sodat hemel en aarde met hulle sou instem tot een groot, magtige akkoord; en soos in die hemel die verloste nie ten volle sou vind wat hy begeer, as daar nie ‘n skare was wat niemand kan tel nie, om soos met ‘n stem van baie waters God te prys dag en nag, so moet ook die gelowige eers dan voldoening vind vir die behoefte van sy hart as hy nie maar alleen vir homself nie maar in vereniging met die hele gemeente van God mag aanbid, loof en dank, en die hele gemeente dit doen in vereniging met hom” (W. Heyns).

So ‘n saamvergadering op die feesdag moet nie in die teken van versombering staan nie. Elkeen verskyn daar in sy stemmige lofgewaad. As die middele voorhande is, word die hele kerkgebou so ingerig dat niks die feestelike stemming steur nie. Alles moet ons weldadig aandoen. Die voorganger is ‘n feesredenaar. In sy stem word wel die trilling van vreugde maar geen onnatuurlike klanke gehoor nie. En die gemeente is ‘n feesvierende menigte.

Daarom word in die gemeentesang, na die nodige oefening, geen wanklanke verneem nie. Alles, van begin tot einde, verloop in gereelde orde, met inagneming van goeie smaak; in een woord: daar is ‘n gevoel vir alles wat lieflik is, vir alles wat loflik is (Filip. 4:8).

In die saamvergadering ontbreek nie die klanke van sondebesef en skuldgevoel, van droefheid en eie onwaarde nie. Maar altyd moet dit eindig met ‘n jubel ter ere van Hom wat ons meer as oorwinnaars gemaak het.

Die Psalmdigters roep ons daartoe op.

“Dien die Here met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel . . . Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam” (Psalm 100).

En Paulus vermaan: “Laat ons feesvier” (1 Kor. 5:8).

In hierdie opsig kan ons so veel leer uit die Bybelboek wat so min gelees en oordink word, naamlik Levitikus. In die 23ste hoofstuk het die Here aan Moses bevel gegee:

“Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Die feestye van die Here wat julle moet uitroep as heilige samekomste — dit is my feestye” (vs. 2).

Dan word die Sabbat genoem, ‘n dag van “volkome rus”, waarop onmiddellik die bevele aangaande die pasga en die ander hoë feeste van Israel volg.

Van uitnemende belang is die persoonlike lesing en bepeinsing van die wet van die Here.

Psalm 119 laat ons hierdie hoë belang in sy menigvuldige betekenisse sien en waardeer. Maar nie minder word die betekenis van die feestye “as heilige samekomste” beklemtoon nie.

Daar moet noodwendig ‘n saamvergadering wees.

Die een kan nie sonder die ander nie.

Die gesprek van die enkele siel met die Oneindige moet aangevul word deur die gemeenskap van die gelowiges in hulle onderlinge saamverbondenheid.

Om hierdie waarheid in al sy erns as welbehae van die Here aan die lesers voor te dra, gee ons hier, in vrye bewerking, enkele bladsye weer uit die boek van Seiss: The Gospel in Leviticus. Aangaande Lev. 23 sê hy die volgende:

“Die diens van God in afsondering moet verbonde wees aan die openbare erediens, anders sal eersgenoemde verminder en verswak. Bowendien openbaar die gesamentlike Godsverering ‘n majesteit en bring dit ‘n inspirasie wat ons nie elders moet gaan soek nie. Daar is ‘n uitnemende hoogheid in getalle. Daar is iets in ‘n groot samekoms wat indruk maak, wat ontroer en besiel. En wanneer een gedagte, een gevoel, een doel soos ‘n magtige polsslag deur alles tril en wanneer dit eenstemmig gerig word op die aanbidding van die oneindige goddelike Wese, dan is die drang en drywing soos die versamelde krag van die golwe van die see: diep, majestueus, oorweldigend.”

Is daar op aarde iets wat skoner is, meer aangrypend, meer salwend, meer weldadig in sy gevolge as ‘n aanbiddende menigte, saamgeroep tot verering van die gemeenskaplike God en Vader?

Die blote saamvergadering van ‘n gelowige menigte vervul met heilige eerbied, nou nie gedagtig aan hulle verskille van rang en stand nie, saamverbonde, saamgesmelt tot ‘n hoëre eenheid voor die majesteit van Hom wat hulle Skepper en in Christus hulle Vader is — so ‘n vergadering is die middel dat ‘n hoëre ontsag op ons neersweef en ons hart verteder. Dit is soos ‘n groot huislike versameling van kinders, saamvergader om die seën van ‘n genadige Vader te ontvang. Deur heilige bande word die een tot die ander getrek, terwyl die Here sy seën oor hulle gebied. Die Gees van die Here is daar.

Hy wat op Golgota gesterf het, wandel onsigbaar tussen die wagtendes. Hy lê sy hand op die hoofde van die boetvaardiges en fluister stille troos vir diegene wat treur. Gloedvolle gedagtes en heilige strewinge bind daar vleuels aan en sweef daarheen in digterlike woorde en smeltende klanke van saamverbonde soetheid om te mengel met die sange van die serafs.

Waarheid skiet daar sy strale te voorskyn uit die ewige bron van waarheid, om te verteder, te bemoedig, te besiel en te seën. Die aarde rys daarop om buurskap en verbinding met die hemel te soek. Selfs die stilte van die omgewing skyn te fluister: „God is hier.”

Wie die heiligende invloede van hierdie saamvergadering ervaar, is bereid om met Israel se koninklike sanger uit te roep: „Hoe lieflik is u woninge, o Here van die leërskare!”

Vandaar dat dit nie die goeddunke van die mens nie maar die welbehae van God was om Israel drie maal jaarliks tot die feestelike hoogtye saam te roep ten einde die Here te aanbid en voor Hom te wag in die diensbetoning in sy tempel. Uit hierdie feestye het godsdienstige lewe uitgegaan tot na die uiterste hoeke van die land. Vandaar dat die Here die poorte van Sion liefgehad het bo al die wonings van Jakob”.

Ons voel nie so dat ons by hierdie gedagtes van Seiss iets kan byvoeg nie. Die leser moet maar self die wye toepassing na alle kante maak.

Alleen voel ons by die hoë vlug van hierdie woorde geneig om die hoof in selfbeskuldiging en verootmoediging te laat sak wanneer ons weer tot onsself terugkeer en die spraak van die harde werklikheid verneem.

_________________________________________

*Bron: Die Kerkblad, no. 953, 4 September 1942. Beklemtonings bygevoeg.

Meer Totius artikels, ook oor die ‘Voortrekkervolk’, hier beskikbaar.

Verdere artikels oor Geloftedag hier

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: