Die saligprekinge (2): Salig is die wat treur, deur Totius

DIE SALIGSPREKINGE (2):

Salig is die wat treur, deur Totius*

Inleiding op bergpredikasie en eerste saligspreking hier beskikbaar.

SALIG IS DIE WAT TREUR

Lees: 2 Kor. 7.

Sing: Ps.  117;  119:9,  10; 6:9.

Teks: Matth.  5:4:  Salig is  die wat treur,  want hulle sal vertroos word.

Daar is verband tussen natuur en genade, maar nie in die sin van die Remonstrantse opvatting nie, wat leer dat die geestelike lewe, in die wedergeboorte ingeplant, deur menslike werksaamheid of ontwikkeling ot stand kom. Teenoor hierdie dwaling stel ons ons belydenis dat ons van nature “geheel en al onbekwaam is tot enige goed en geneig tot alle kwaad”.

Daardie geestelike lewe is wesenlik verskillend van die natuurlike en sedelike lewe en kom deur ‘n skeppende daad van God tot stand. Daardie geestelike lewe kan in sy ontstaan nooit uit die natuurlike lewe voortkom nie, nooit uit iets wat ons is nie, maar heeltemal en uitsluitend uit die werkende God.

Tog is daar verband tussen natuur en genade, omdat God, die Skepper, ook die Herskepper is. Dr. Bavinck sê (vertaal) : “Natuur en genade is onderskeie en mag nie vermeng word nie, maar God lê verband tussen die twee”; en op ‘n ander plek: “Die genade is iets anders en hoërs as die natuur, maar dit sluit tog by die natuur aan en vernietig nie die natuur nie maar herstel dit”.

As ons dan by die saligsprekinge na die natuurlike lewe verwys, gebeur dit net om by wyse van vergelyking nader te verduidelik en om daardie “verband” en “aansluiting” beter in die lig te stel.

Nou is daar in verband met die eerste saligspreking van die kinderlike leeftyd melding gemaak. Armoedigheid van gees is ‘n verskynsel wat by ‘n wedergebore kind in natuur en genade, in verband met mekaar, geopenbaar word.

In hierdie verband moet u opmerk hoe ons Kategismus iets aan die deel oor die ellende laat voorafgaan.

In vraag 1 word eers gepraat van die kindsgedeelte wat die begin en die einde van alle saligheid is. Daarin word nog nie oor die kennis van sonde en ellende (die treurigheid van die tweede saligs­preking) gehandel nie; daar word net die ryk kinderlike belydenis verneem:

“Dat ek . . . nie aan myself nie maar aan my getroue Saligmaker Jesus Christus toebehoort, wat . . . my so bewaar dat sonder die wil van my hemelse Vader geen haar van my hoof kan val nie;… daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe . . . “

Die enigste troos in lewe en in strewe is die deel van hulle wat werklik kind is en kind bly.

As ons dit eers verstaan, kan ons verder gaan; dan kan ons ook die tweede saligspreking in sy diepste grond verstaan.

Die gelowige ouers bely van die verbondskinders dat hulle in Christus geheilig is en daarom as lidmate van sy gemeente gedoop behoort te wees. Maar dan kan die ouers ook verwag dat die nuwe lewe by die grootword van hulle kinders openbaar sal word. Daaroor gaan ons nou handel by die tweede saligspreking:

“Salig is hulle wat treur, want hulle sal vertroos word”.

Op die volgende vrae sal antwoord gegee word:

  1. Wanneer word hierdie treurigheid geopenbaar?
  2. Wat is die oorsaak daarvan?
  3. Wat is die vertroosting wat die Here belowe?

 1. Wanneer word hierdie treurigheid geopenbaar?

In verband hiermee wys ons u op die leeftyd van die seun en dogter. En dit klink snaaks wanneer ons dit die eerste keer hoor. Is ons jongmense dan nie juis die wat vrolik van hart is nie? Is die jeug dan nie by uitnemendheid die tyd wanneer die mens opgewek en bly is nie? Is ons oues van dae en bejaardes dan nie die treuriges nie?

So lyk dit, maar dit is nie so nie.

Die ou mense kan baie swaarmoedig en mismoedig wees, maar die werklike treurigheid kry nie meer vir hom ‘n weg gebaan na die hart wat al klaar stram en stroef geword het nie.

Nee, ons moet ons tot hulle wend wat nog jonk van jare is. Die werklike armoede van gees het ons by die kind aangetref; en die ware treurigheid van hart soek ons by die seun en dogter.

Of ken u nie meer daardie tyd, daardie oomblik nie — laat dit ‘n eensame middag- of aanduur wees — daardie tyd toe op so ‘n wonderbare wyse ‘n gevoel van onuitspreeklike verlatenheid en droefheid oor u gekom het, toe skielik ‘n vlaag van verdrietigheid en weemoed oor u gestryk het? U het alleen gevoel, ontuis, los van u omgewing, los van daardie vader en moeder op wie u so met u hele en blye hart aangewys was.

Wat is dit?

Kyk, die armoede van gees maak plek vir diep-ontnugterende selfbesef. Die arm maar terselfdertyd skatryk kind voel skielik dat hy mens is, ken homself as selfstandige persoonlikheid wat die ewigheid in die hart dra.

Van dit alles kan die seun of dogter hom of haar nog nie rekenskap gee nie, maar daar is een ding wat hy en sy doen: daar word tot die self ingekeer. Die trane rol oor die wange. Die eerste treurigheid gryp die hart op onuitspreeklike wyse aan.

Dit gaan met hom en met haar goed as die menslike droefheid gemeng is met die droefheid tot God, wat ‘n onberoulike bekering tot saligheid bewerk.

Ons soek nie by ons jongmense uitwendige misbaar van droefheid of ‘n opdringerige geur van heiligheid nie; maar wat ons graag met welgevalle by hulle waarneem is die eerste sagte lentegeur van die nuwe lewe.

As ons jongmense hulle hele hart aan wêreldse gedagtes en wêreldse pret gee, as hulle al hulle dae deurbring in die diens van ydelheid en sonde, dan weet ons dat dit nie met hulle goed gaan nie. Hulle beantwoord dan nie aan die gang van die saligsprekinge nie. Hulle ontwikkeling beweeg dan langs die weg van ‘n ander wet.

Maar as daar stille droefheid tot God is, dan word in die jong hart ‘n fontein van weemoed geopen wat die hele lewe sal seën. Dan is dit nie nodig dat die kliprots van die binneste later met geweld oopgebreek word nie. Die droefheid tot God keer dan altyd weer terug; soos ‘n altyd borrelende fontein lewer dit die water van die lewe  op.

Hoe mooi sluit Jesus hier weer by die ou bedeling aan!

In die ballingskap het Israel arm geword. Daar was hulle sonder koning en sonder tempel; daar het Israel die gemis van vaderland en geordende samelewing gevoel; daar moes hulle soveel ontbeer en moes hulle weer soos slawe werk. Maar daar het hulle ook weer oor Sion begin treur (Jes. 61:3). Daar het hulle begin kerm: “My weg is vir die HERE verborge, en my reg gaan by my God verby” (Jes. 40:27).

Ook in die dae van Jesus het dit ellendig gegaan. Vreemdes het die volk verdruk. Kermend en wagtend is uitgesien na die “saligheid van die Here”, na die komende Messias, wat Israel uit al sy nood sou verlos.

Nou ja, dit is tot hierdie treurendes dat die belofte kom. “Salig is julle.”

2. En wat is nou die oorsaak van hierdie droefheid?

Laat ons weer teruggaan na die natuurlike lewe: Hoekom oorval smart die seun? Is dit nie omdat hy, nadat hy tot homself ingekeer het, begin besef het dat hy ‘n mens is nie, ‘n mens in ‘n groot, vreemde wêreld wat hom omring? Tot dusver is hy nog altyd in die warm, ouerlike nessie gekoester; het hy ryk gevoel onder die vaderlike beskerming, veilig gevoel in die moederlike omarming.

Nou word dit anders. Hy voel dat hy persoon, mens, selfstandig is. Skielik is dit vir hom asof hy op die strand neergesit is met die groot, donker lewensee voor hom. Hy moet daarop vaar; hy moet daardeur! Hy is gebore om te lewe. Van die reis kan hy nie meer afsien nie.

Maar hy het wel soveel van die wêreld ondervind dat hy kan sê: “Ek is daarin nog nie tuis nie, ek moet daaraan eers gewoond word, dit is vir my ‘n ander, ‘n vreemde gebied”.

Die plant wat uit ‘n warm klimaat na ‘n koue streek oorgevat word, kwyn. Dit moet eers aan die nuwe omgewing gewoond word. Ook die dier, wat in ons wildernisse gevang is, kan in ons dieretuine nie dadelik tuis voel nie. Hy treur. Hy moet nog eers gewoond word.

Die mens wat van sy geboortegrond losgemaak word, treur net so. In die ballingskap kan hy nie “aard” nie. Hoe het ons manne gely toe hulle na vreemde eilande en ver lande weggevoer is. ‘n Mens laat jou nie so maklik ontwortel nie. Selfs ons vroue het dit gevoel toe hulle na die kampe weggeruk is.

En sal dit nou anders wees met ons oorplanting in die koninkryk van die hemele, daardie oorplanting wat in die eerste saligspreking beloof is? Nee, die verskil is net hierin geleë dat ons wel in hierdie nuwe vaderland wil bly, want daarvoor is ons gedoop, en daartoe is dit aan ons beloof.

Origens word ons beklem deur dieselfde gevoel as die balling wat na vreemde kuste weggeraap word.

Sal dit dan met u anders wees, jong broeder en suster?

Met u wat nou welbewus die eerste treë aflê in daardie nuwe land van die hemele? Met u wat nou tot die besef kom dat u in ‘n ander wêreld oorgegaan het?

Of is die nuwe wêreld miskien vir u so bekend, so eie? U is in sonde gebore, en daardie koninkryk is heilig. U is in duisternis gebore, en daardie koninkryk is net lig. U kom uit die ellende, en daardie koninkryk is louter saligheid.

Watter teenstellings. Dis dus geen wonder dat u kwyn en treur nie.

Die tyd van boete begin; die tyd waarin u u ellende leer ken. Want die fout dat u by hierdie nuwe omgewing nie pas nie, dit lê net by u. Deur u sondige afkoms en geboorte het die wêreld — die plek van u ballingskap — vir u, helaas, eie geword. En die koninkryk van die hemele — oorspronklik u geboortegrond — is nie meer u vaderland nie. Die fout lê hierdie keer dus by u en nie by die nuwe vaderland nie.

Wat ‘n teëstelling! Wat ‘n oorgang!

Hieruit moet verklaar word die treurigheid waarvan Christus spreek. Nogtans noem Christus u salig. Mag daar dan by ons die regte droefheid, die droefheid tot God wees, want alle ander droefheid is namaaksel en veroorsaak uiteindelik ‘n ewige dood.

Hoe eienaardig is dit nie. U soek saligheid, en u vind treurigheid! Dit gaan teen die menslike verwagting in.

De bekende Sankey-lied laat die pasbekeerde nou wel sing: “Nu ben ik vrolik al de dag”; maar dit is nie die egte vrolikheid nie, en hierdie kunsmatig opgewekte blydskap loop op teleurstelling uit. Die pad in die koninkryk van die hemele is nie so nie.

Ja, daar is wel diep, diep in die hart ‘n stille vreugde aanwesig; maar dit word oorstem deur ‘n kennis van die ellende, waaruit groot smart gebore word.

Só het Jesus dit aan ons voorgehou. Daarom begin ons Kategismus ook daarmee. Deur die ellende heen kom ons tot verlossing en dankbaarheid.

3. Wat is die vertroosting wat die Here belowe?

Die Here laat die sondaar nie in die eerste smart versink nie. Hy troos hom deurdat Hy aan die arm geworde sondaar sy ryke Christus openbaar.

Die Here maak anders as die ouers wat vir hulle opgroeiende kinders sê: “Spaar julle trane totdat julle dit eendag regtig nodig het”. Die Here weet dat die eerste droefheid juis die opregte is en dieper gaan as baie van die latere leed. Daarom ook dat Hy sê: Die treurendes sal vertroos word.

Wat beteken dit?

Droefheid is iets diep inwendigs. Daarom dat daarteenoor gestel word die vertroosting, iets wat ook diep in die hart plaasvind.

Hieruit word dit duidelik waarom dit so ‘n moeilike werk is om te troos. Het u al probeer om ‘n diepbedroefde te troos?

Was dit nie vir u of u voor ‘n dowe oor en ‘n geslote hart gepraat het nie? Ja, nét die hart alleen ken sy eie bittere droefheid, en ‘n buitestaander kan dit nooit peil nie. Ons kan nie in iemand se binneste inleef nie. Daarom is ons trooswoord so uitwendig en so swak. Werklik troos kan net Hy wat in die hart van ‘n mens kan inblik, of, soos die digter sê:

omdat die zelve ziet en weet

alleen vertroosten kan.

Dink ook daaraan dat selfs die lyer nie in staat is om sy leed onder woorde te bring nie; en daarom moet hy wat wil troos, self sien en self die woord vind.

Dit doen die Heilige Gees. Eers later kondig Jesus sy koms by name aan (Joh. 7 en 14); maar hier begin Hy reeds om ons saggies na die enigste Trooster toe te lei.

Die Gees van God dring in ons gees in. Hy ken ons droefheid soos dit is. Sy sug is saamsug in die volle sin van die woord. Sy getuienis is saamgetuig. Daarom verstaan ons wat die Gees sê. Daarom is ons ontvanklik daarvoor. Daarom laat ons ons deur Hom troos, dit wil sê inwendig weer regstel.

Die Here ag ons smart nie gering nie, maar Hy laat die treurendes van Sion deur sy eie Gees vertroos. Luid klink sy belofte:

Die losgekooptes sal na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg”  (Jes. 35:10).

Dit lei ons daartoe om nie net op die aard nie maar ook op die grond van die enigste troos te let.

‘n Treurende is in die reël iemand wat iets verloor het. Die weduwee treur oor die verlore eggenoot; die wees treur oor die verlore vader of moeder, en die arme treur oor die verlore aardse goedere.

Dit geld ook van die losgekooptes van Sion. Hulle het hulle Sion, hulle Tempel, hulle Jerusalem verloor, en daarom is hulle bedroef. Maar nou troos die Here deurdat Hy dit wat verlore was, weer teruggee. Die losgekooptes keer na Sion terug en word weer in besit gestel van die Heilige Land.

So troos God ons ook.

In Adam het ons verloor ons paradys en al ons heerlike skeppingsgawes en skeppingsgoedere. Maar die Here gee ons dit alles weer in Christus terug. Ons ontvang uit sy hand ‘n ander paradys op ‘n heeltemal nuwe aarde. Dan sal ook ons liggaam in onverderflikheid opgewek word en sal ons siele in ‘n lewe van ware kennis, geregtigheid en heiligheid bloei.

Ja, in beginsel werk die Heilige Gees die ewige vreugde nou reeds in ons hart en is Hy nóu reeds die pand en die waarborg van ons  erfenis  in die lig.

Salig is die treurendes daarom, want hulle sal vertroos word.

Hierdie belofte is aanvanklik op die Pinksterdag vervul. Die gemeente wandel sedert daardie tyd in die vertroosting van die Heilige Gees. Eenmaal sal die hele Bruid van Christus egter deur sy bloed gewas wees en deur die Heilige Gees toeberei wees. Dan sal die gewaad van lof in die plek van ‘n benoude gees kom.

Laat ons dan die Gees van onse God nie bedroef nie. Want wie sal ons kan bly maak as ons Hom, ons enigste Trooster, bedroef?

AMEN

___________________________________

* Beklemtonings bygevoeg.

Bron: ‘Versamelde Werke van J.D. Du Toit (Totius)’, deel 2: bl. 57-103 (Johannesburg: Dagbreek-Boekhandel 1960 uitgawe). Beklemtonings bygevoeg.  

Sien ander saligsprekinge-oordenkings asook ander Totius artikels hier

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: