Die saligprekinge (3): Salig is die sagmoediges, deur Totius

DIE SALIGSPREKINGE (3):

Salig is die sagmoediges, deur Totius*

Inleiding op bergpredikasie hier beskikbaar, ander saligspreking-oordenkings hier beskikbaar .

Totius wys op ‘n baie wesentlike waarheid vir elke gelowige en die kerk van Christus in die goeie stryd van die geloof, nl. Jesus Christus is nie net ons volkome geregtigheid (deur die kruis) nie, maar ook ons genoegsame heiligmaking (deur die opstanding) = wat albei genadiglik aan ons deur die geloof geskenk word, en … dat ons daarom nou in daardie volkome troos, hoe langer hoe meer kan lewe, in dankbaarheid, tot sy eer, sien 1 Kor. 1:30,31; Rom. 6-8 (NGB art. 22-24)

SALIG IS DIE SAGMOEDIGES

Lees: Ps. 72.

Sing: Ps. 72:1, 4, 6, 7; 25:4.

Teks: Matt. 5:5: Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.

Die saligsprekinge is nie los gesegdes, afsonderlike pêrels wat deur Jesus sonder orde of verband rondgestrooi word nie. Nee, hulle behoort by mekaar; hulle volg mekaar reëlmatig op; hulle vorm saam ‘n snoer van pêrels wat deur die band van eenheid aanmekaar geryg is.

Dit sal vir ons opnuut duidelik word wanneer ons nou daartoe oorgaan om die derde saligspreking te behandel. Twee vrae sal hier beantwoord word, nl.:

  1. Wie dié sagmoediges is, en
  2. wat dit beteken dat hulle die aarde sal beërwe.  

1. Wie dié sagmoediges is

By die beantwoording van die eerste vraag wys ons weer daarop dat die weg van die saligheid verband hou met die natuurlike lewe. Die werklik armes van gees is die kinders; die werklik treurendes is ons seuns en dogters. Maar hulle is terselfdertyd (natuurlik wanneer hulle reeds verder gevorder het) die wat by uitstek sagmoedig is.

Die woord sagmoedig word so dikwels verkeerd verstaan.

Daar word gemeen dat daarmee iemand bedoel word wat maar altyd toegee, wat meegaande van geaardheid is, wat nooit ‘n harde woord sê nie, wat nie hoeke en kante het nie! Kortom, iemand wat by sy medemens as aangenaam en sagaardig bekend staan.

Maar dit kan nie wees wat Jesus bedoel het nie. Want ten eerste sou sagmoedigheid dan dieselfde betekenis hê as swakheid of toegeeflikheid; en hierby kom, tweedens, dat Jesus nog nie praat oor ons geding teenoor ons naaste nie. In die eerste saligsprekinge laat Hy ons inblik in die gemoed van die wedergebore mens.

Om die regte betekenis van sagmoedig op te spoor moet ons na die Ou Testament teruggaan. Die woord word daar gebruik: (a) van die verdrukte volksklas (Amos 2:7); b) van die volk van God wat in ballingskap verkeer en verdruk word (Jes. 61:1), en (c) van die kerk van God op aarde Ps. 37:11; Jes. 57:13; 60:21).

Die grondbetekenis van sagmoedig is dan ook: neergebuig.[1] Die volk van God is nie net arm van gees (vs. 3) en treurig van hart (vs. 4) nie maar ook sag van gemoed, wat dus wil sê dat die gemoed in ‘n toestand van neergeboënheid verkeer.

Uitwendige neergeboënheid is egter nie genoeg nie. Dit verhard net as daar nie inwendige werking bykom nie. Daarom is dit dat eers dié mens werklik sagmoedig genoem kan word wat die bewerking van die Heilige Gees deelagtig geword het.

So kom ons dan by die regte betekenis van sagmoedig: Die gemoed is sag as dit hom laat neerbuig, laat vorm, laat toeberei vir die diens van die Here.

Die sagmoedige is nie ‘n swakkeling nie maar iemand wat alle hoogmoed, alle eiedunk, alle teenstribbeling aflê en hom gewillig en vreugdevol in die mag van God oorgee om deur sy Gees bewerk te word.

Die sagmoedige is ook nie die mens wat geen geestelike houvas het, wat beginselloos vir alles ja sê nie. Inteendeel, hy kan ook ferm wees in sy optrede, want hy vra nie wat vir die mense aangenaam is nie, maar wat God wil.

Let maar op die voorbeeld van Jesus.

As Hy sê: “ . . . leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart” (Matt. 11:29), dan dink Hy nie aan alledaagse weekheid of sondige meegaandheid nie, want Hy het kort vantevore die Galilese stede met sy “Wee julle!” tot die doderyk toe neergestoot (vs. 20-24). Sy sagmoedigheid het bestaan in die volbring van die “welbehae” van die Vader, waarvan Hy net gespreek het en waarvan Hy die vrug in sy Messiasoptrede gesien het. By hierdie geleentheid tog het die sewentig dissipels van hulle reis teruggekeer en gerapporteer dat selfs die duiwels aan hulle in sy Messiasnaam onderworpe was (vgl. Luk. 10:17).

So moet alle sagmoediges in die wêreld optree. Hulle mag nie terugdeins of toegee as dit die saak of die werk van die Here geld nie. Selfs op die gevaar af dat hulle as hard of onbuigbaar bestempel kan word, mag hulle dit nie doen nie.

Sagmoedig is dus dat jy jou wil laat buig en bestuur deur die wil van God. Vandaar dat die sagmoedige gedurig bid: “Laat u wil geskied”, dit wil sê: Laat dit deur my op aarde volbring word. 

Goed en onmisbaar is die belydenis: “Ek is ‘n arme sondaar”, en: “Ek treur oor my ellende” (eerste en tweede saligspreking). Maar dit moet nie daarby bly nie. Ons moet ook voortskry na die derde salig­spreking: “Maak my gemoed, o God, ontvanklik om u wil te ken en te doen”.

Hoe baie is daar nie wat in hulle verkeerde vroomheid by die tweede saligspreking bly staan nie. Hulle meen dat dit net goed is as hulle gedurig van hulle ellende en sondaar-wees praat. Maar waar bly die genade van God dan, wat tog ook in en deur hulle verheerlik moet word. Waar bly hulle “sterk weerstand” bied in die stryd teen die sonde?

Tot so ‘n kragdaad word die sondaar bekwaam gemaak deur die geloof, want dit is, volgens ons Kategismus, in die eerste plek ‘n “ingelyf word” in Christus, m.a.w. ‘n bewerk word deur die Gees van God.

Nadat dit gehandel het oor die kinderlik-vrymoedige toe-eiening (Sondag 1) en die kennis van die ellende, kom die Kategismus in Sondag 7 tot die ingeplant word in Christus, ‘n daad waardeur ons deel kry aan die nuwe kraglewe van Christus.

Hierdie drie stadiums kom ooreen met die eerste drie saligsprekinge.

Daardie geloof, wat deur die liefde werk, is tot wonders in staat. Maar dan moet dit eers deur God se eie Gees ingeplant wees.

Nou is die jeug die tyd waarin die gemoed sag en by uitstek bewerkbaar is. Dan word onderwys gegee, dan word die opvoeding behartig, dan word die fondament vir die toekoms gelê. Wie die jeug het, beskik oor die kragte van ‘n wordende wêreld.

Sal God nou hierdie gunstige tyd laat verbygaan sonder dat Hy die kragte van die gemoed vir sy diens opeis? Is dit dan nie juis die gulde geleentheid om ‘n geloofswerking te kweek wat tot groot dade prikkel  nie?

Hierdie punt sal ons nou nader uitwerk in die beantwoording van die vraag:

2. Wat beteken dit dat die sagmoediges die aarde sal beërwe?

Die gemoed is in die jeugtyd baie beweeglik. Daarom buig dit ook diep neer wanneer die hart treurig is  (tweede saligspreking). Maar die veer van die lewe spring gou weer kragtig op. Die jeug is die tyd van die ideaal, van die hooggespanne verwagting. Die jong man, wat op die strand van sy toekoms staan, is bang. Maar as hy eenmaal op die see van die lewe is, wil hy uitswerf tot by die einde van die aarde. Daarom lees hy so graag die verhale van reisigers en ontdekkers, en daarom maak hy ook in sy verbeelding die krygstogte van groot generaals mee. Hy wil die aarde sien; hy wil alles aan hom onderwerp.

Inderdaad is dit dan die tyd van groot planne en verre uitsigte. Daar word van buite af kragtig ingewerk op die gemoed daarbinne.

Watter seun dink nie dat die wêreld in hóm iets groots besit nie, dat hy nog iets nuuts aan die wêreld gaan bring, miskien ‘n wêreldhervormer sal wees nie? Watter dogter koester nie van haarself die verwagting dat sy die aarde sal seën met die seun wat uit haar gebore sal word nie?

Gevolglik is dit nie eienaardig dat verreikende beweginge hulle oorsprong aan die kringe van die jongmanne te danke het nie. Dink byvoorbeeld aan die “Heilige klub” van Wesley; aan die herkoms van die Orde van die Jesuïete; aan die oorsprong van die Switserse Réveil.

Ook in geestelike opsig is die jeug die tyd van wye horisonte. Dink ook aan ons eie jongmanne in krygsgevangenskap wat hulle in honderd-talle verbind het om wanneer hulle weer by die huis gekom het, as sendelinge die evangelie van Jesus Christus na die verste heidene uit te dra. Nie alleen is hierdie manne tot bekering geroep nie, maar daar is ook op hulle liefde vir die ideaal ingewerk.

Ons beoordeel nie die feit self nie; ons noem dit alleen by wyse van voorbeeld.

As die jeugtyd goed gebruik word, het dit ontsaglike betekenis vir die koninkryk van God. Daarom is dit so diep treurig dat daar so min ten goede op die jeugdige gemoed ingewerk word. Heilige ideale moet ook gekweek word, en dit gebeur wanneer die sagte gemoed die leiding ontvang van manne wat Christus ken en Hom met al die krag van hulle hart liefhet.

Jesus gryp die jeugdige siel aan met sy belofte wat ooreenkom met die jeugdige gemoed: “Hulle sal die aarde beërwe”.

Aan Israel is die land Kanaän belowe. Daarmee het God ‘n doel gehad. Hy wou die moedelose volk met hierdie belofte dwarsdeur die woestyn trek. Hy het ‘n land belowe van waterstrome, van fonteine en onderaardse riviere wat in die laagtes en op die berge uitkom; ‘n land van koring en gars, van wingerdstokke, vyebome en granate; ‘n land van olieryke olyfbome en heuning (Deut. 8).

Later weer bemoedig die profesie die volk deur die hele aarde binne hulle gesigskring te bring.

“Die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die Here verwag, hulle sal die aarde besit. Nog ‘n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie … Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit” (Ps. 37:9-11). “Van see tot see” sal die komende Koning regeer (Ps. 72:8). Vgl. verder Ps. 25:13; Jes. 57:13; 60:21; 66:22. Op die laaste aangehaalde plek word die oog op ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gerig.

Dit alles dien om selfs die allertraagste wakker te skud.

Hierdie prikkel, hierdie vooruitsig kan ons op ons reis nie ontbeer nie.

Daarom is dit so jammer dat die Christendom vandag sy krag in vergeesteliking soek. Daar word hoog opgegee oor die saligheid van die siel; van die verheerliking van die liggaam word egter maar min gesê. Oor die hemel word daar gejubel, maar oor die nuwe aarde word maar liewer geswyg. Die saligheid word so vervlugtig dat daar nog maar min houvas aan is. Die mens wil wyser wees as God, maar hy berokken homself daardeur groot skade.

Daarom gaan ons so diep neergebuig deur die lewe. Daarom is ons belydenis so sonder siel en gloed. Daarom straal daar so min vuur uit ons oog en jubel daar so min blydskap in ons lewe.

Gee ons weer die ideaal van ‘n opgestane liggaam en ‘n heeltemal vernieude aarde; verseker ons dat ons alles sal terugkry wat ons hier verloor het — en kyk, die jeug sal vir ons weer vernuut word soos die van ‘n arend, en die vermoeides sal weer krag kry. Hulle sal spring soos vetgevoerde kalwers oor die vooruitsig wat hulle lok.

Dit doen Jesus hier. In die eerste saligspreking het Hy« ons erfenis die “koninkryk van die hemele” genoem. Daardie koninkryk bly egter nie in die hemel nie; dit kom en word op die aarde verwerklik. Hier sê Jesus reguit dat die sagmoediges die aarde sal beërwe.

Daarom moet ons die saligheid nie vir ons as ‘n ryk van newels, skimme en onvastighede voorstel nie. Want wat word dan van die prikkel om verder te gaan …?

Maar let nou op hierdie teenstelling.

Die natuurlike mens wil ook wel die aarde besit, maar hy soek daardie besit langs die weg van geweld en hardheid, langs die weg van bloed en yster.

Alexander die Grote, Napoleon en so baie ander het na wêreld-heerskappy gestreef en het hulle doel ten dele bereik. Maar hulle grootheid het doodgeloop, en hulle wêreldryk het geval. Die rede daarvan is dat hulle die sagmoedigheid, die onderworpenheid aan die wil van God nie geken het nie.

Aan die sagmoediges (watter teenstelling!) word die wêreldryk gegee. Aan hulle dus wat volgens eie skatting niks is nie sodat God in hulle alles kan wees.

Kyk in hierdie verband na u Here en Meester. Christus het vir ons sondes betaal op die weg van gehoorsaamheid, van buigsaamheid en kruislyding. Dit was so beskik deur sy Vader; daarom het Hy hom oorgegee. Op grond van sy lydelike en dadelike gehoorsaamheid word die heidene eenmaal aan Hom gegee as sy erfdeel en die eindes van die aarde as sy besitting (Ps. 2:8).

Laat ons dan die sagmoedigheid liefhê: die vrug wat groei op die grond van armoedigheid van gees en treurigheid van hart; die edele blom wat voortkom uit die as van selfliefde, uit die graf van eiedunk en selfverheffing.

As ons die sagmoedigheid liefhet, sal dit ons eenmaal in besit stel van ‘n aarde waarop daar nie meer ‘n onderdrukker sal wees nie. Mag dit ons deel wees volgens die belofte van die lewe wat in die derde saligspreking tot ons kom.

AMEN.

[1] Dit is ook die rede waarom die woord tans in die hersiene Afrikaanse Bybel in die Ou Testament omtrent deurgaans met ootmoedig vertaal is. —Vertaler

___________________________________

* Beklemtonings bygevoeg.

Bron: ‘Versamelde Werke van J.D. Du Toit (Totius)’, deel 2: bl. 57-103 (Johannesburg: Dagbreek-Boekhandel 1960 uitgawe). Beklemtonings bygevoeg.  

Sien ander saligsprekinge-oordenkings asook ander Totius artikels hier

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: