Die saligprekinge (4): Salig is die wat honger en dors het, deur Totius

DIE SALIGSPREKINGE (4):

Salig is die wat honger en dors het, deur Totius*

[Inleiding op bergpredikasie hier beskikbaar, ander saligsprekinge-oordenkings hier beskikbaar.]

Totius wys in die vierde saligspreking treffend daarop wat die term ‘regverdiges’ (teenoor die goddeloses) beteken in terme van die honger na die geregtigheid soos geopenbaar deur sy Wet, wat Christus volkome vir ons vervul het, sodat ons in dankbaarheid in die krag van die Gees, volgens sy Woord kan wandel hoe langer hoe meer, totdat die nuwe hemel en aarde kom, en ons honger en dors finaal en volkome vervul sal wees.

Totius, sonder om in detail in te gaan, handaaf die ‘wet en evangelie’ in lyn met die Skrif, belydenis en wat gereformeerde teoloë deur die eeue daaroor geskryf het, en is die belangrike implikasie van Totius se verklaring: ‘n duidelike verwerping van die verderflike dwalinge van nomisme (fariseërisme, wettisisme, legalisme; sien NGB artikels 22,23; HK Sondag 23,24) én anti-nomianisme (saduseërisme, anti-wet, losbandigheid, veragting van die wet, ens.; sien NGB artikels 24,25; HK Sondag 32-44), soos dit ongelukkig deur alle eeue, ook in ons tye nog baie lewendig is. Sien hier verskillende artikels oor die regte verhouding wet en evangelie

“Het Evangelie is tijdelijk, maar de wet is eeuwig en wordt juist door het Evangelie hersteldDe vrijheid van de wet bestaat dan ook niet daarin, dat de Christen met die wet niet meer te maken heeft, maar zij is hierin gelegen, dat de wet van de Christen niets meer als voorwaarde van de zaligheid eisen, hem niet meer veroordelen en verdoemen kan. Overigens heeft hij een vermaak in de wet van God naar de inwendige mens en bepeinst ze dag en nacht. En daarom moet die wet altijd in het midden van de gemeente, in verband met het Evangelie, verkondigd worden. Wet en Evangelie, het hele woord, de volle raad van God is inhoud van de prediking. Een veel bredere plaats dan in de leer van de ellende neemt daarom de wet bij de  Gereformeerden in de leer van de dankbaarheid in.” – Herman Bavinck

SALIGSPREKING 4: SALIG IS DIE WAT HONGER EN DORS HET

Lees: Jes. 25.

Sing: Ps. 36:2; 65:3; 119:14, 60; 16:6.

Teks: Matth. 5:6: Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid want hulle sal versadig word.

Die saligsprekinge gaan soos ‘n ryke verskeidenheid voor ons bewondering verby. Elke saligspreking het ‘n eie krag en kleur.

Maar saam is hulle ‘n eenheid. Hier is ‘n diamant wat ons namate ons hom draai en omdraai, toeskitter met ‘n veelheid van ligeffekte, maar ‘n veelheid wat alleen in verband met die eenheid tot sy volle reg kan kom.

Daarom sal ons hier ook weer die verband vashou en eers terugkyk op wat reeds behandel is.

Hoe kennelik gaan hierdie drie eerste saligsprekinge in teen die hoogmoed en eiegeregtigheid van die Fariseërs! Hoe stel hulle hulle teenoor die leringe van die Sadduseërs, wat heeltemal tevrede is met die genietinge van hierdie teenswoordige wêreld!

Die Fariseër ken nie die armoedigheid van die gees, die droefheid van die hart en die sagtheid van die gemoed nie. Hy is ryk, hy is voldaan, hy is verstyf in homself.

Die Sadduseër weer ken nie ‘n koninkryk van die hemele nie; nie ‘n vertroosting van die Heilige Gees nie; nie ‘n aardryk in -sy algehele vernuwing nie. Die teenswoordige wêreld is sy hemel, sy troos, sy verwagting.

Dié saligsprekinge bring dus ernstige waarhede. Hulle is struikelblokke in die weg van eiegeregtige en genotsugtige sondaars.

Tot die saligheid wat Jesus beloof, kan ‘n mens nie uit homself kom nie. Hy moet daartoe gebring word deur die werking van die Heilige Gees van God. Hy moet daartoe wedergebore en bekeer word.

Jesus trek ons af van die uitwendige en wys ons, Fariseërs, op die inwendige. Ons moet arm wees van gees, treurig van hart, sag van gemoed.

En wie is in staat tot hierdie dinge?

Jesus trek ons, Sadduseërs, af van die sienlike en eis ons op vir die onsienlike: die hemelse en geestelike, die vernieude. En wie is hiertoe uit homself bekwaam?

So kom ons dan by die vierde saligspreking, waar gelet moet word: 

  1. op die hongeriges en dorstiges;
  2. op die geregtigheid waarna hulle honger en dors, en
  3. op die versadiging.

1. Die hongeriges en dorstiges

Hierdie saligspreking is die brug tussen die eerste en die laaste drie.

Tot nóg toe het Jesus gepraat oor die werkinge wat in die gemoed van die wedergeborene plaasvind. Nou gaan Hy handel oor die dade, oor die werksaamheid van die geloof.

Hier, in die vierde saligspreking, is daar ‘n oorgang te bespeur. Daardie honger en dors veronderstel nog ‘n inwendige gesteldheid. Maar dit is ‘n honger en dors na die geregtigheid, na die uitwendige openbaring van wat binne-in die wedergeborene is.

So opgevat is die honger en dors hê ‘n sprekende karakteristiek, ‘n kenmerkende aanwysing van wat nou sal volg.

Om dit in beeldspraak voor oë te stel moet ons weer terug na die natuurlike lewe.

Die jong man of vrou koester in die toenemende jare hoë verwagtinge, wêreldomspannende ideale. Die gemoed is in beweging en sweef met ‘n magtige swaai oor die kleinhede van die lewe heen.

Daar is eers so min van die lewe verwag. Daar was kommer en droefheid. Dan volg skielik die ander uiterste. Die gemoed word in sy beweeglikheid aangegryp deur die hoogheid van die hemelkoepel en die wydheid van die wêreld om ons heen. Nou word daar van die lewe o, so baie verwag.

Maar kyk, dan volg daar skynbaar ‘n daling. Die hoë verwagting word teleurgestel. Die jong man word vader, die jong vrou word moeder. Waarmee hou sy haar nou besig? Met toekomsplanne en wêreldse onderneminge ? . . . Nee, al hulle arbeid en sorg word nou saamgetrek op die alledaagse, die doodgewone, op wat hulle sal eet en drink, op hulle honger en dors!

Die wye gesigskring van vroeër word ongemerk uitgeruil vir die beperking van die daaglikse kleinlike arbeid om die altyd terugkerende honger en dors te versadig! Vir die meeste is dit ‘n lewe van die hand na die mond en verder ‘n bekommernis of daar vir môre en oormôre die nodige sal wees.

So gaan dit min of meer ook op die geestelike terrein.

Hoeveel van die reeds genoemde krygsgevange jongmense het dit nie later ervaar dat die werklikheid anders is as die eerste, gespanne voorstellinge nie? Hoeveel van hulle het nie tot die oortuiging gekom dat die lewensroeping vir hulle in daardie skynbaar minder belangrike en alledaagse, die “gedurig maar  weer honger en dors   na die geregtigheid” bestaan nie?

Vroeër, toe hulle op die hoogte van verrukking gestaan het, het hulle uitgeroep: “Die hele aarde moet vir die Christus gewen word”. Nou, nadat hulle tot die velde van die geloofslewe neergedaal het, kan ‘hulle maar net vra: “Hoe kan ek my naaste in die weg van barmhartigheid en liefde dien?” En hierby word dan, soos ons sal sien, die tweede vraag gevoeg: “Hoe kan ek vir God welbehaaglik wees?”

Hierdie pad lê ons almal af. Hierdie daling ervaar ons almal. Dit begin met die koestering van glansende ideale. Dit eindig met die volbrenging van die daaglikse taak.

Maar daarby het ons ook gewen: die lewe skok nou nie meer heen en weer nie; dit word in ewewig herstel; dit sak vas op ‘n vaste fondament. Dit sal blyk as ons nou na die volgende punt voortskry.

2. Die geregtigheid waarna hulle honger en dors

Daar word gehonger en gedors na die geregtigheid. Dit is woorde wat baie in die Ou Testament voorkom en waarvan die betekenis nou in hooftrekke aangegee sal word.

Wat is “geregtigheid”?

God se reg is in sy wet neergelê. Wie dus na die geregtigheid honger en dors, honger en dors na die wet van God. So iemand word in die Skrif “regverdig” genoem en word gestel teenoor daardie ander mens wat die naam “goddelose” dra.

Word hiermee nou gesê dat die “regverdige” sonder smet of rimpel is, terwyl die “goddelose” nie meer ‘n enkele deug besit nie? Glad nie. Ons weet dit.

Maar laat ons tog nader op hierdie onderskeiding let, want baie kan hulle, tot groot skade van hulle eie lewe, nie rekenskap daarvan gee nie. Hulle het nie die vrymoedigheid om vir hulle die beloftes wat aan die regverdiges gegee is, toe te eien nie; en hulle weet ook nie wat om te doen met die strawwe wat oor die goddelose uitgeroep is nie.

Nou is hy regverdig wat sy lewe na die wet van God skik en rig. Maar daar kom by hom nog baie afwyking voor. Sy geregtigheid bestaan dan ook nie daarin dat hy sonder sonde leef nie; nee, maar hy word daardeur tot regverdige gestempel (om)dat hy ‘n reël het, ‘n maatstaf besit waaraan sy lewe altyd weer gemeet en reggebuig kan word.

Die goddelose is, daarenteen, hy wat sonder God leef en nie met sy wet rekening hou nie. Selfs sy burgerlike deug word hom as sonde toegereken, want hy wandel buite die geregtigheid van God en is alleen vir homself tot wet.

Regverdiges is dus nie smettelose mense nie, maar hulle wat die reg van God liefhet; terwyl goddelose mense, selfs in hulle eerbaarheid, hulle hierdeur laat ken dat hulle die gebod van die Here hooghartig verwerp.

Die wet waarna hier gehunker word, is nie die tugmeester tot Christus, wat ons na Christus toe uitdryf nie. By die tweede saligspreking het ons die wet as sodanig leer ken. Die treurigheid was daar ‘n gevolg van die kennis van die ellende.

Hier, in die vierde saligspreking, is die wet ‘n reël van die dankbaarheid.

Lees in hierdie verband Ps. 119, waarin die sanger nie sy vrees nie maar sy liefde vir die wet van die Here besing. Kyk na verse soos die volgende:

“Ek sal my verlustig in u insettinge” (vs. 16);

“My oë smag na u belofte” (vs. 82);

“Ek maak my mond wyd oop en hyg, want na u gebooie verlang ek” (vs. 131).

Maar om so te sing gebeur nie sonder pyn nie.

O, daardie verterende honger en brandende dors na die geregtigheid, terwyl ons hele binneste dit terselfdertyd uitkerm: “Ek ellendige mens!” Ons het die wet lief met inwendige verlange; en tog beledig ons dit gedurig. So ontstaan daardie tweestryd waardeur ons gemoed verskeur word.

Maar kyk, die geloof, waardeur ons in Christus ingelyf is, leer ons om Christus met al sy weldade aan te neem. Die honger na die geregtigheid is ‘n honger na Christus, wat vir ons die wet van God volkome liefgehad het en wat ons deur sy Gees gewillig en bekwaam maak om met klimmende toewyding die spoor van die reg te soek en te volg. In Christus sal die arbeid van ons siel nie ydel wees nie. Daarom volg ten slotte die belofte van versadiging, waarop daar nou gelet sal word.

3. Die versadiging

Hier op aarde is nie versadiging nie. Hoe moet daardie brood nie elke dag weer vir ons gesny en op die tafel gesit word nie! Hoe kom dieselfde dors nie altyd weer op die hitte van die dag terug nie!

Deur honger en dors word ook die inwendige mens gedrywe. Hy is nog maar nie wat hy moet wees nie. Maar die tyd is naby dat ons bede verhoor sal word. 

Die eenmaal wedergebore mens bid nie net: “Laat u wil deur my volbring word” nie (derde saligspreking), maar hy laat uit sterk begeerte daarop volg: “Gee my vandag my daaglikse brood”. Hy smag om nie alleen by die aardse brood te leef nie maar by elke woord wat uit die mond van God uitgaan.

En God gee hom daardie brood. Nou reeds is daar die begin van die versadiging van vreugde en lieflikhede in die regterhand van God.

Maar die volmaakte vertoef nog. Die “ryk maaltyd” sal eers in die bedeling van die heerlikheid aangerig word. Daarop sien die belofte.

Die gedagte van so ‘n maaltyd is heeltemal in ooreenstemming met wat die Skrif ons in bonte verskeidenheid van vorm Ieer.

Laat die Skrif ook hier weer sy eie verklaarder wees.

Ons lees in Exodus (24:9-11) dat Moses en die oudstes op die berg God in hemelse glans gesien het en dat hulle, nadat hulle God gesien het, geëet en gedrink het.

Opmerklik: God sien en daarna die maaltyd.

Die gedagte wat hieraan ten grondslag gelê het, word verder in die Ou Testament verduidelik deur wat daar die offermaaltyd genoem word. Die Israeliet het met sy familie en vriende na die tempel gekom; hy het vleis en brood, koeke en platkoeke gebring. Wat hy gebring het, was onmiddellik heilig, d.w.s. die eiendom van die Here, terwyl die dank- en lofoffer die aanleiding daartoe was. Daarom mog hy hom met ingetoë vreugde verheug (kyk Lev. 7:11 e.v.).

Hierin was afgebeeld hoe die Here met sy volk saamkom om as Gasheer op te tree, om sy volk te spysig en die goeie te berei. In die moeitevolle lewe is ‘n oomblik van vrede en vreugde aan die offeraar geskenk as ‘n voorsmaak van ewige verheuging.

In die Nuwe Testament keer dieselfde gedagte terug in die Nagmaal, wat deur Jesus ingestel is om die paasmaaltyd te vervang. Die Nagmaal self is ewenwel op sy beurt weer afskaduwing van die “groot Nagmaal”, waarheen baie in die teenswoordige bedeling uitgenooi word (Luk. 14:6), afskaduwing van die bruilof wat die koning vir sy seun berei (Matth. 22:2).

Die Openbaring eindig dan ook nie voordat dit ons hier die opwekkende woorde laat hoor nie: “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom… Salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam” (Openb. 19:7, 9).

Op die nuwe aarde woon die geregtigheid (2 Petr. 3:13). Dit is die tuiste van die geregtigheid. Daarom sal daar nie meer honger en dors gely word nie. “Ek sal u aangesig in geregtigheid aanskou; ek sal versadig word met u beeld as ek wakker word” (Ps. 17:15).

Dit is die weldaad wat ons uit die lyde van ons Verlosser toekom.

Mag ons Hom dan aangryp deur die geloof, Hom wat ons geregtigheid is  (Jer.   33:16).[1]

AMEN.

[1] Sien ook 1 Kor. 1:30,31

___________________________________

* Beklemtonings bygevoeg.

Bron: ‘Versamelde Werke van J.D. Du Toit (Totius)’, deel 2: bl. 57-103 (Johannesburg: Dagbreek-Boekhandel 1960 uitgawe). Beklemtonings bygevoeg.  

Sien ander saligsprekinge-oordenkings asook ander Totius artikels hier

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: