DIE SALIGSPREKINGE (8):
SALIG IS DIE WAT VERVOLG WORD
deur Totius
(Inleiding op bergpredikasie hier beskikbaar, ander saligsprekinge-oordenkings hier beskikbaar.)
Lees: Openb. 14.
Sing: Ps. 119:1, 12; 106:3, 26.
Teks: Matth. 5:10-12: Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.
Aan die sewetal woorde van saligheid, wat in hulleself volledig is, voeg Jesus nog ‘n agtste toe, wat in die besonder op die vervolgdes betrekking het.
Ook hierdie laaste woord verdien ons besondere aandag. Die kerk van die Here, ryk in martelaarskap en verdrukking, kan hierdie belofte van saligheid nie mis nie.
Ons let dan op twee sake:
- Die vervolging, en
- die loon wat daaraan verbonde is.
1. Die vervolging
Die vyandskap van die wêreld is die deel van alle ware gelowiges. In ‘n mate ervaar hulle almal wat dit beteken om vervolg en gesmaad te word. Hulle lewe is anders as die van die wêreld. Vandaar dat hulle in hierdie teenswoordige tyd ly.
Tog is daar gelowiges wat ons in die besonder die vervolgdes en gesmades kan noem: die martelare vir wie hierdie woord meer bepaald bewaar is.
Of sal Jesus hulle kan vergeet: die manne en vroue wat hulle geloof beseël het met die prys van hulle bloed?
Nee, Hy meld nadruklik van Abel, die regverdige, en van almal wat daar was tot by Sagaria, die seun van Beregja (Matth. 23:35). Uit die verlede doem hulle op wat vir sy heilige saak die dood ingegaan het.
Maar Jesus kyk verder. Rondom Hom staan sy dissipels, die martelare van die toekoms tot op die dag van die voleinding — ‘n oneindig groot skare, getrou tot in die dood.
Vir hulle almal is hier ‘n woord van saligheid. Ja, ook vir hulle wat op ander maniere die smaadheid van Christus sal dra.
Jesus roep hulle almal op om hulle te verheug en te verbly, want hulle loon is groot in die hemele. Terselfdertyd is dit asof Hy hulle saggies vermaan: “Wees tog getrou onder sulke sware beproewing en pas op vir die afval”.
Terwyl die woord van saligheid dus so sag soos fluweel by hulle ore verbystreel, stel Jesus ook die wrede feit van die vervolging vas.
Hierdie feit omskryf Hy nader in vers 11. Eers word die belediging genoem. Dit is die pyniging van die binneste deur skerp woorde. Daarna spreek Jesus van die vervolging, dit wil sê die gryp deur die ruwe daad. Eindelik volg, as samevatting, daardie “valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil”.
Watter groot verskeidenheid van lyde en martelaarskap! Watter groot kwelling van liggaam en siel! Daar is martelare wat sterf; maar daar is ook martelaars wat bly lewe. Hierdie laastes moet ons aandag nie ontgaan nie, veral met die oog op die tyd waarin ons lewe.
Teenswoordig word daar nie meer kruispale of skavotte opgerig nie. Daar is gewetensvryheid: ‘n mens word nie meer ter wille van sy geloof om die lewe gebring nie. Maar dit beteken nie dat die geloofs-vervolging sy einde bereik het nie. Die werktuig van die pyniging wat nog altyd aangewend mag word, is die belediging, die deurwonding van die siel met woorde van venyn. Daarmee hou Jesus dan ook rekening.
Dawid vrees nie slegs vir die man van geweld nie maar net soveel vir die skerp gif van adders wat onder die lippe is (Ps. 140:2, 4, 5); terwyl Petrus — na die voorbeeld van sy Meester — die gelowiges só vertroos: “As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus” (1Petr. 4:14).
Laat ons daarom hierdie soort martelare nie vergeet nie. Die bloedgetuies moet ons altyd gedenk; ons martelaarsboeke moet altyd geopen word. Maar aan die ander kant is daar ook die baie beledigdes, wat “duisend dode” vir die Naam en saak van Christus gesterf het. Ook aan hulle moet gedink word; terwyl die beledigdes wat nog lewe, vertroos moet word met die agtste woord van saligheid.
Jesus stel die feit van die vervolging vas. Maar Hy noem ook die oorsaak: “Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid”
Wat is “die geregtigheid”? Dit is in die wet van God beskrywe. Die honger en dors na die geregtigheid (Matth. 5:6) is ‘n honger en dors na die wet van die Here.
Wie volgens hierdie reël wandel, kom onvermydelik in botsing met die wêreld, wat ‘n ander wet en reël het. Wie die wet van die Gees gehoorsaam, word vervolg deur hulle wat na die wet van die vlees wandel.
In vers 11 gaan Jesus verder. Daar spreek Hy van ‘n vervolg word om My ontwil. Wat hiermee bedoel word, is duidelik. God het in Christus sy geregtigheid ten volle geopenbaar. Wie gevolglik die geregtigheid liefhet, het Christus lief. En wie ter wille van die geregtigheid vervolg word, ly ter wille van Christus.
Hierdie saligspreking van Jesus is ‘n duidelike terugwysing na die profetiese woord. In Jesaja 51:5 spreek ook die profeet van die “geregtigheid” van God wat naby is. Daarop laat hy dan die vermaning volg: “Wees nie bevrees vir die smaad van mense en skrik nie vir hulle skimptaal nie” (vs. 7).
Maar daar is ook nog iets anders.
In Jesaja 50 tree Christus self op, Hy wat die geregtigheid van God is. En wat sê Hy? “My aangesig het Ek nie verberg vir smaadhede en bespuwing nie. Maar die Here HERE help My; daarom kom Ek nie in die skande nie” (vs. 6,7).
Wie dus beledig word en die smaadheid lydsaam verdra, volg die voorbeeld van Christus (Jes. 50:10). Hy is een en lotgemeen met Christus. Hy word vervolg ter wille van Christus.
Met betrekking tot die vervolging word dus selfondersoek geëis.
Baie Christene ly, maar hulle ly nie ter wille van Christus nie. Hulle eersug, lastige geaardheid of ‘n ander karaktergebrek maak die wêreld vir hulle ‘n tranedal. Maar dit gee hulle nie reg op die saligheid wat deur Jesus beloof is nie.
Salig is die vervolging as dit nie ter wille van onsself nie maar ter wille van Christus gebeur. Hy moet vir die wêreld die steen van aanstoot wees en nie óns nie. Sy saak moet die voorwerp van die woede wees en nie óns s’n nie.
Maar Jesus sê nog meer.
In vers 12 word die voorbeeld van die profete genoem: “want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.”
Die profete het gely ter wille van hulle woord van hulle getuienis, van dit wat deur hulle gespreek is. Die Griekse woord martyr verenig selfs die begrippe “getuienis gee” en “gemartel word”. Die getuie vir die waarheid is meteen die lyer vir die waarheid.
Dit gaan in die wêreld so: As iemand swyg, word hy met rus gelaat. As hy egter sy getuienis verhef, dan breek die storms los. Die gesproke woord is dus die aanleiding tot die vervolging. Ja, namate ons getuienis getrouer is, na dié mate sal ons tyding swaarder wees.
Dit weet ons. Daarom swyg ons liewer! Of ons genees die breuk van Sion op die maklikste manier! Van nature is die mens bang vir lyding. Hy ontwyk die pyn en vlug vir die smart.
Net wanneer die Woord van God in ons binneste soos vuur brand — net dan praat ons. Dan kan niks ons keer nie. Dan kan ons nie meer stil wees nie. Maar dan het ons ook behoefte aan ‘n woord van troos. Dan herinner ons ons hierdie agtste woord: “Salig is die wat vervolg word”. Salig is u, al beskou die wêreld u as afskraapsel en uitvaagsel.
Hoe anders weeg God tog! By Hom tel sukses of populariteit niks nie; geld hoera’s en bravo’s glad nie. Hy vra net ons trou, ons waaragtigheid, ons standvastigheid, tot in die dood.
2. Die loon wat daaraan verbonde is
Om ons daartoe aan te spoor voeg Jesus ‘n versekering daarby: “Julle loon is groot in die hemele.” Op daardie loon gaan ons nou in die tweede plek ons aandag rig.
Die martelare beërf die koninkryk van die hemele (vs. 10). Maar dit is nie alles nie. Dit is ook die deel van die armes van gees (vs. 3). Vir die martelare kom dit daarby dat daar ‘n loon is. Luister verder wat die bergpredikasie hieromtrent sê. In hoofstuk 5:19 word gewag gemaak van een wat die minste en een wat “groot” is in die koninkryk van die hemele. In hoofstuk 6:1 lees ons: “Anders het julle geen loon by julle Vader wat) in die hemele is nie”.
In hfst. 6:2 hoor ons die waarskuwing: “Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg”. Dieselfde hoor ons in 6:16, terwyl in 6:4 dit daarteenoor gestel word: “Jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde”.
Die apostels het eenstemmig dieselfde geleer. Lees o.m. Kol. 3:23, 24; Hebr. 10:35; 11:6, 26.
Daar is dus ‘n “vergelding van loon”, en hierdie vergelding staan in die nouste verband met die oordeelsdag. Jesus sê: “Die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade” (Matth. 16:27).
Aan die gemeente van Thiatire laat Jesus skryf: “Dit is Ek wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke” (Openb. 2:23); om dan nog hierdie laaste vermaning tot sy kerk te rig: “Kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Openb. 22:12).
By hierdie bekende uitsprake voeg ons nog daardie alombekende woorde: “Ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor. 5:10).
Waarvoor is dit nodig om so baie aan te haal? Die rede is dat ons, Protestante, hierdie Skrifwaarheid te veel verwaarloos het. Daar is by ons ‘n vrees vir Roomse werkheiligheid, en tereg ook. Maar ons loop gevaar om, uit reaksie, tot ‘n ander uiterste te verval.
Ons formuliere wys ons die regte weg. In die Kategismus bely ons van die “genadeloon” (vr. 63) en in die Konfessie van die “genadige vergelding” (art. 37).
Hoe moet hierdie genadeloon nou verstaan word? Hoe kan ons vry bly van die Roomse dwaling aan die een kant en van dowwe lydelikheid aan die ander kant?
Dr. Kuyper gee in sy verklaring van die Kategismus ‘n duidelike antwoord hierop. Ons vertaal daaruit hierdie reëls:
“Hierby (naamlik by die vraag oor die loon) moet ‘n onderskeid gestel word tussen “die ewige lewe” self en ‘n besondere eer of genieting in hierdie ewige lewe. Sonder hierdie onderskeid kom mens nie ‘n enkele stap verder nie. As dit dan tog vasstaan dat Christus vir al sy verlostes die ewige lewe verwerf het, en as daar nog bykom dat sommige verlostes bowendien nog ‘n genadeloon ontvang, dan word dit duidelik dat hierdie genadeloon nie dieselfde as die ewige lewe is nie. Immers, hierdie ewige lewe ontvang almal; hierdie genadeloon ontvang net hulle wat aanspraak daarop het. Die ewige lewe is vir almal wesenlik eenders, maar die genadeloon is vir elkeen verskillend . . . Hierdie verskil moet ons dus skerp in die oog hou: die genadeloon is nooit die ewige lewe self nie maar iets wat by die ewige lewe bykom”.
Dr. Kuyper stel dus voorop dat Christus en Hy alleen die ewige lewe vir al sy verlostes verwerf. Hier is genade en niks anders as genade nie; alle werk is uitgesluit.
Hy sê: “Die sondaar kry grasie (genade). Sy teregstelling word nie voltrek nie. Hy was by die dood maar kyk, die Koning van die Godsryk verordineer vir hom die lewe”.
Hierdie lewe is “om opgeneem te wees in die volle, ryke lewe van die Vaderhuis daarbo en om te kan saamleef aan die lewe wat daarin deurleef word”.
‘Tog’, gaan Kuyper verder, “volg hieruit nog glad nie dat hierdie lewe vir elke verloste dieselfde sal wees nie. Dit kan nie so wees nie. As dit so was, dan sou al die kinders van God soos druppels water na mekaar moes gelyk het . . . As daar ‘n naturel in Afrika sterf wat tot Christus bekeer is, en so ‘n naturel maak in die ewige lewe sy oë oop, sal hy nie sommer skielik op een lyn met die apostel Johannes staan nie. En tog sal dit nie daarom aan die saligheid van hierdie naturel iets te kort doen nie”.
Kuyper praat egter liewer van “beloning”, want “loon” laat mens dink aan die verdienste van ‘n bediende, iets wat hier uitgesluit is. Hy sê: “Die bediende beding loon; moet vir daardie loon werk: en as hy die werk volbring het, dan ontvang hy sy loon.
Heeltemal anders is dit daarenteen met ‘n kind van ons huisgesin gesteld. So ‘n kind werk ook, maar eenvoudig omdat sy vader of sy moeder hom daardie werk opdra en omdat dit vir die kind lekker is om saam met Sy vader of sy moeder te werk. Al kry kinders dus nie loon nie, werk hulle tog . . . Maar omdat hulle nie om ‘n loon werk nie, sit hulle tog nie met die hande gevou nie; inteendeel, hulle is altyd geroepe om die werk vir hulle ouers te doen, al ontvang hulle ook niks ekstras daarvoor nie. En as hulle vader of moeder hulle tog iets belowe, dan gaan hulle nie ter wille van daardie beloning werk nie, maar hulle span hulle des te yweriger in om by ‘n soveel ryker liefdesopenbaring van hulle ouers van hulle kant nie in die liefde te kort te skiet nie”.
Tot sover Kuyper.
Ten slotte nog twee vrae:
Waarom praat ons van ‘n genadeloon?
Omdat ons uit onsself niks kan voortbring wat nie eers deur God aan ons geskenk is nie. Die talente en die krag om daarmee te woeker kom albei uit God. Hy deel na sy vrymag die gawes uit. Ook hier pas die belydenis ons dus: “O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!” (Rom. 11:33).
Die tweede vraag is: “Watter nut het hierdie kennis, hierdie wete van ‘n genadeloon vir ons ?
Om ons aan te spoor om met trou en volharding die loopbaan te loop. Selfs Jesus kon nie sonder daardie vooruitsig op loon klaarkom nie. Vir die vreugde wat Hom voorgehou is, het Hy die kruis verdra en die skande verag (Heb. 12:2). Hoeveel te meer moet ons dan op die genadeloon let, dat ons nie in ons siele verflou en beswyk nie? Mag ons waarlik geprikkel word om voorwaarts te gaan in die hoop van die saligheid en die beloning uit genade.
Amen.
__________________________________________
* Beklemtonings bygevoeg.
Bron: ‘Versamelde Werke van J.D. Du Toit (Totius)’, deel 2: bl. 57-103 (Johannesburg: Dagbreek-Boekhandel 1960 uitgawe).
Sien ander saligsprekinge-oordenkings asook ander Totius artikels hier.
Leave a Reply