GKSA TEOLOGIESE OPLEIDING: dit moet Skriftuurlik en Gereformeerd ‘In U lig’ teologie wees, nie mensgesentreerde NWU teologie nie

GKSA teologiese opleiding: dit moet Skriftuurlik en Gereformeerd ‘In U lig’ teologie wees, nie mensgesentreerde NWU teologie nie


In U Lig sien ons die lig – Ps. 36:10

“Die bevinding van die Deputate-rapport aan die Nasionale Sinode (GKSA) was dat die Hollandse stuk (van die Gereformeerde Kerken in Nederland) ‘Over mensen die homofiel zijn’, geheel en al onaanvaarbaar is … nie net die standpunt oor homo­filie nie, maar ook en veral die wyse waarop die Skrif in die Rapport gehanteer word, vir die Gereformeerde wat leef by die belydenis van die gesag en genoegsaamheid van die Heilige Skrif, geheel en al onaanvaarbaar is.” – prof. PW Buys (in ‘n In die Skriflig artikel in 1976, oor die GKSA se verwerping van die destyds afvallige GKN, wat beide vroue in die besondere ampte en later homoseksualisme as aanvaarbaar verklaar het volgens hul ‘nuwe hermeneutiek’ Skrifbeskouing wat veral deur die dwaalleraar HM Kuitert bevorder is)

Geslag (dus God se skeppingsorde en wilsbevel, 1 Kor. 14:33-40; 1 Tim. 2:11-15 – slc) maak nie saak vir die besondere ampte nie = is nie ‘n wesentlike saak nie (verskeie GKSA predikante, professore en beswaarskrifte die afgelope paar dekades ten gunste van susters in die besondere ampte in die GKSA, 2000’s tot vandag toe….)

“Na 30 jaar kon die grammaties-historiese metode van  Skrifondersoek nie daarin slaag om die etiese probleem van die vrou in die kerklike ampte (en homoseksualiteit) in die GKSA op te los nie. Hierdie metode kan na alle waarskynlikheid nie meer as die enigste verklaringsmetode gebruik word nie en moet deur ander uitgangspunte aangevul word.” – dr. AL Rheeder (in ‘n In die Skriflig artikel in 2012, waarin hy meen dat met nuwe metodes die Skrif nou verskillende (teenstrydige) sienings toelaat en dat ander faktore dan leer dat vroue in die besondere ampte mag dien, terwyl  reeds dieselfde soort vrae begin gevra word oor homoseksualiteit, as met die vrou in die besondere ampte kwessie)

Dit is al baie ou nuus dat die ‘geslag maak nie saak nie‘ Skrifbeskouing en verklaringsmetodes lei gewoonlik van die vrou in die besondere ampte wat aanvaarbaar word, na die gay agenda wat ook aanvaarbaar word, soos die tydsgees dit vereis en bepaal (2 Tim. 4:3).

In ons eie land sien ons dit reeds in die tragiese verval van die NG Kerk:

DIE NG KERK BESLUIT OPNUUT OM SONDE GOED TE PRAAT

“Hiermee verwerp die NGK (opnuut?) wat die Skrif leer oor die huwelik en seksuele verhoudings, en is hul besluit ‘n aanvaarding van wat Paulus as sonde beskryf, waarvan bekeer moet word, en waarmee gebreek en teen gestry moet word, sonde moet nie geregverdig, goedgepraat en geakkommodeer word nie.”

En, nog onlangs die tragiese verval en deformasie van die eens sterk reformatories-konfessionele Vrygemaakte Kerke in Nederland (GKv), sien hier waar ek daaroor geskryf het:

Die verval van die Vrygemaakte Gereformeerde Kerke in Nederland (GKv) en wat ons daaruit moet leer

“Susters in die besondere ampte is ‘n teken van ‘n verkeerde Skrifbeskouing, verkeerde kerkregering en verkeerde siening van die roeping van man en vrouwees tot eer van God en die diens aan die naaste … die slagspreuk ‘geslag maak nie saak in die kerk nie’ (VIDA), lei tot ‘geslag maak nie saak in die gesin en gemeenskap nie’ (HIDA) = die LGBTQ agenda wat volg … en die res van al die alfabetiese dwalinge wat gaan volg…”

As dit begin drup in die kerk (‘geslag maak nie saak nie’), dan reën dit in die wêreld (‘geen geslag maak later saak nie’)

“En tragies, as die kerk van Christus, as predikers en teoloë nie die Skrif se skeppingsorde meer handhaaf nie, gaan die lidmate dit nie meer handhaaf nie, en dan natuurlik – nog minder gaan die samelewings waarin die kerk haar bevind dit doen, as daar nie meer ‘n reg verkeerd is nie, as ‘geslag nie meer saak maak nie’.”

Sien hier meer: homoseksualisme

‘n Nuwe ongereformeerde Skrifbeskouing onderliggend aan die soeke na VIDA 

En nou is die onderliggende stryd reeds dekades lank ook teenwoordig in die GKSA, deur ‘n vreemde of ‘nuwere’ Skrifbeskouing en hermeneutiek (Skrifverklaring beginsels) wat ingevoer is en al meer geakkommodeer word alles in die naam van ‘teologiese wetenskap’, en is die ‘de facto’ resultate: baie oftewel ‘n groeiende groep professore en predikante en lidmate wat reeds pro- en/of oop- en/of verdraagsaam is en raak oor vroue in die besondere ampte, en … dalk ook al meer pro-  en/of oop- en/of verdraagsaam gaan raak teenoor homofilie wat gaan volg in die toekoms, as die Here nie ingryp en die VIDA agenda as voorganger daarvan keer en radikale bekering bewerk in hull wat hierdie agendas wil aanhou stoot nie?

En om dit vir u te toon dat die gevaar alreeds teenwoordig is in die GKSA geledere, sien die volgende:

Ons het reeds ‘n professor in NWU teologie wat lidmaat is in die GKSA, wat in GKSA publikasies publiseer dat susters in die besondere ampte toegelaat moet word omdat,

a) die Skrif ‘metode’ (en Skrifbeskouing) wat nog altyd duidelik bevind het dat beide vroue in die besondere ampte en homofilie geheel onaanvaarbaar is (sien prof. Buys se aanhaling hierbo), nou nie meer die oplossing nie (lees: nie meer wil sê wat sy en ons tye en begeertes, die wêreld om ons verlang nie, en daarom 2 Tim. 4:3), en ook,

b) omdat baie vandag nie meer ‘eenstemmig’ daaroor is dat VIDA en die gay agenda sonde is nie,  dus dat die Skrif nou ‘onduidelik’ daaroor geword het volgens baie, en nie meer ‘genoegsaam’ en gesaghebbend is nie, dus nie finaal reeds gespreek het oor daardie onderwerpe  nie, soos bv. in prof. PW Buys se dae nie… daarom moet vroue in die besondere ampte (en dus homofilie later?) toegelaat of ten minste verdra en geakkomodeer word .

Hier is die uitsprake, sien gerus die volledige artikels vir die volledige argumente vir ‘n nuwere aangevulde hermeneutiek (beklemtonings bygevoeg) en nuwe Skrifbeskouing:

“Ten eerste word aanvaar dat die Bybel, alhoewel ’n goddelike boek, ’n besliste kreatuurlike kant het wat in die vertolking daarvan in ag geneem moet word. Tweedens word geredeneer dat die Skrif nie ’n teologiese boek is nie, wat beteken dat gelowiges in etiese sake waaroor daar twee verstaansmoontlikhede bestaan, die reg gegun moet word om self die Skrif te vertolk. Daar word tot die gevolgtrekking gekom dat ’n etiese verstaan van die vrou daartoe moet lei dat die vrou as gelykwaardig aan die man beskou en behandel moet word, met die gevolg dat die vrou tot alle ampte in die kerk toegelaat moet word.”

“Na 30 jaar kon die grammaties-historiese metode van Skrifondersoek nie daarin slaag om die etiese probleem van die vrou in die kerklike ampte (en homoseksualiteit) in die GKSA op te los nie. … met die gevolg dat die vrou tot alle ampte in die kerk toegelaat moet word.” 

“’n Bespreking oor Skrifverstaan en hermeneutiek is vandag wêreldwyd op die teologiese en kerklike agenda. Van der Walt (2008:636–638) toon aan hoe hierdie bespreking ook in die Gereformeerde kerke op populêre vlak in Die Kerkblad en op wetenskaplike vlak In die Skriflig plaasvind en dat daar nog steeds nie eenstemmigheid bestaan oor hoe die Bybel in etiese sake, soos die vrou in amp en homoseksualiteit, toegepas moet word nie.”

“Is dit konsekwent dat daarop aangedring word dat die verbod op homoseksualiteit in die Skrif letterlik verstaan moet word…”

“Selfs in die Bybel word gevind dat nie oor alle sake finale besluite geneem word nie (Hand 15:29; Van Rooy 2001:56). Myns insiens geld dieselfde argument ook ten opsigte van  kontensieuse vraagstukke soos evolusie en homoseksualiteit (vgl. Van Wyk 2008:700–701)”

“Wanneer twee botsende interpretasies oor die posisie van die vrou bestaan (byvoorbeeld vir en teen die vrou in kerklike ampte), moet die liefdesinterpretasie wat tot die bevryding van die vrou (uit patriargale strukture) lei, en dus sosiale geregtigheid teenoor die vrou beteken, voorrang geniet. … Wanneer twee botsende interpretasies oor die posisie van die vrou bestaan, moet die interpretasie wat die meeste lyding vir die vrou veroorsaak, verwerp word. Dit beteken dat enige interpretasie van die Skrif wat die vrou van haar gelyke status aan die man beroof, verwerp moet word.”

“Op hierdie wyse is tot die gevolgtrekking gekom dat die Eksodus-verhaal tog gebruik kan word as impetus vir die bevryding van die vrou uit stollende patriargale strukture soos dit in die Bybel voorkom. Uit die toepassing van hierdie twee hermeneutiese vertrekpunte, tesame met die grammaties-historiese metode, is tot die gevolgtrekking gekom dat die vrou wel soos die man tot die amp van ouderling, predikant en professor toegelaat mag word.”

Nota: in antwoord op Rheeder se eensydige skeefgetrekte én fundamentalisties-feministiese lees van die Bybel oor die vrou, waarin dit duidelik is dat hy A. König slaafs navolg, sien hierdie artikel: Ons moet mooi onderskei tussen ‘Die BYBEL’  en ‘Bybelse’ TYE: VERAL OOR WAT DIE BYBEL LEER VAN DIE WAARDE EN ROL VAN DIE VROU]

Vanaf die 1970’s tot vandag: wat het gebeur?
Nou wat het in die GKSA gebeur tussen die 1970’s en vandag, dat dit wat as geheel onaanvaarbaar beskou is volgens die Skrif, vandag deur sommige as aanvaarbaar beskou word, naamlik bv. in die VIDA agenda wat lei tot die GAY agenda?

Nog ‘n vorige professor van die GKSA, prof. PJ de Bruyn, gee vir ons die antwoord in sy studie van die Nederlandse godsdienstig-humanistiese antropoloog, HM Kuitert, Die plek van die mens in die etiek van HM Kuitert

Ek haal die konklusie van prof. Paul de Bruyn se studie van Kuitert aan, wat wys wat die wesentlike probleem is van die ‘nuwere hermeneutiek’, die ‘nuwe Skrifbeskouing’, ook vandag wat besig is om die kerkverband van binne te vernietig, al is dit net ‘n afgewaterde vorm van Kuitert se antropologie onder die dekmantel van ‘teologie’ (beklemtonings bygevoeg), wat dalk nie deur hierdie geslag nie, maar die volgende geslag teoloë tot sy volle konsekwentheid deurgetrek gaan word, soos onder andere alreeds in NGK geledere plaasvind:

“Egskeiding (volgens Kuitert) behoort aanvaar te word as ‘n goeie wyse van oplossing van huweliksprobleme, want op die wyse kan die lewe vir die mens makliker gemaak word en struikelblokke op die pad van ontplooiing van sy mens-wees uit die weg geruim word.

Homoseksualiteit, dit moet, volgens Kuitert, vir die homoseksuele mense moontlik gemaak word om – ook in die kerk – hulle indiwidualiteit tot sy reg te laat kom. Hulle moet aanvaar
en verdra word en daar mag geensins teen hulle gediskrimineer word nie. Hulle indiwidualiteit as mense staan dus ook hier in die sentrum. Daarteenoor word van God se oordeel oor homoseksuele dade niks gesê nie.

Konklusie: Aan die begin is die vraag gestel of Kuitert se etiek ‘n mensgesentreerde etiek is. Na die ondersoek wat gedoen is, moet op die vraag bevestigend geantwoord word. In elke afsonderlike aspek van sy etiek staan die mens in die sentrum en nie God nie. En daarmee het Kuitert onteenseglik die Skriftuurlike en Gereformeerde pad verlaat en dieonskriftuurlike pad van die humanisme gekies.

Gereformeerde teologiese etiek (is) teosentries. Kuitert se etiek is afgewys omdat dit antroposentries en humanisties is, en  humanisme is in wese afgodery: ‘n verheerliking van die outonome mens. 

Maar hoe behoort ‘n Gereformeerde teologiese etiek dan wel daar uit te sien, en wat is die plek van die mens daarin?

Die antwoord is dat die Gereformeerde teologiese etiek teosentries moet wees en nie  antroposentries nie. Derhalwe is Rom. 11:36 hier ook van kardinale belang: “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid”.

Daarom moet die mens se lewe ook ‘n lewe wees wat op God gerig is, waarin God gedien word en wat aan sy Woord enwil onderworpe is. Volgens die Heidelbergse Kategismus kan slegs die dade van die mens as goeie werke beskou word:

wat uit ‘n ware geloof, volgens die Wet van God, alleen tot sy eer gedoen word, en nie die wat op ons goeddunke of op insettinge van mense gegrond is nie’ (antwoord 91).

Die implikasie van Kuitert se etiese beskouings is dat die mens leef en werk ter wille van die mens. Volgens die Gereformeerde teologiese etiek moet die mens leef en werk ter wille van die eer van God . En as hy, volgens ‘n teonome etiek, dit doen in gehoorsaamheid aan God, sal hy self as beeld van God tot sy reg kom en ook sy roepinq teenoor sy medemens suiwer sien en op die regte wyse vervul (1 Joh. 4:20, 21; Jak. 2:14-26).”

[Sien ook prof. HG Stoker: Direk of Indirek – ‘n Antwoord op HM Kuitert se siening van Skrifberoep in die Etiek]

Dr. Rheeder in een van die aanhalings hierbo, maak ook gebruik van die ‘liefdes-etiek’ oftewel om die ‘liefdesinterpretasie’ om die uitdruklike wil en wet van God te vervang of te veto, as hy skryf:

“Wanneer twee botsende interpretasies oor die posisie van die vrou bestaan (byvoorbeeld vir en teen die vrou in kerklike ampte), moet die liefdesinterpretasie wat tot die bevryding van die vrou (uit patriargale strukture) lei, en dus sosiale geregtigheid teenoor die vrou beteken, voorrang geniet.”

Dit is ook niks nuuts nie, die GKN in hul verval het dit in die 1970’s ook reeds gedoen. Prof. J. Douma (Voorbeeld of gebod?, enkele opmerkingen over het Schriftberoep in de ethiek, Amsterdam: Ton Boland, bl. 47) verduidelik dit as volg in sy weerlegging van die Skrifberoep in die etiek wat in die GKN gelei het tot susters in die besondere ampte en daarna die toelating van homofilie (beklemtonings bygevoeg):

“Anderen zijn zo royaal om toe te geven, dat de Schrift zich wel  distantieert van de homosexualiteit in het algemeen. Men kan zelfs zeggen, dat hun stem de laatste tijd kragticher is dan die van eerstgenoemden. Zo schrijft Prof. dr. G. Th. Rothuizen in het rapport Over den mensen die homofiel zijn – aangeboden aan de Generale Synode van de synodaal-gereformeerde kerken te Dordrecht 1971-72 – dat het Oude zowel als het Nieuwe Testament zich beide over homosexuele handelingen afkeurend uitlaten. En volgens de dagbladpers kreeg onlangs de Generale Synode van de Ned, Herv. Kerk met meerderheidsrapport over De nieuwe moraal te maken, waarin de ondertekenaars stellen, dat in het bijbelse levensgevoel homosexualiteit wordt afgewezen. Toch wordt in beide rapporten voor de homosexualiteit een plaats gevraagd, en dan nog wel vanuit de Schrift!

Hoe pakt men dat aan? Kort gezegd als volgt: Terwijl men met de teksten niets meer weet aan te vangen, grijpt men een bijbels thema aan ter verdediging van de homosexualiteit. Voor Rothuizen is dat het thema van de liefde (zie hierboven 4.61), voor het meerderheidsrapport het thema van het verbond. 

Beide wegen zijn voor ons onbegaanbaar. Wat de eerste weg betreft: het is inderdaad exegetisch geknutsel de Schriftgegevens contra homosexualiteit zo uit te leggen, dat de homosexuele praktijken van vandaag buiten schot blijven. Maar het is niet minder gevaarlijk om op de tweede weg de Schrift tegen de Schrift uit te spelen door bepaalde teksten – die de homosexualiteit afwijzen – weg te strepen om dan vervolgens via een bepaald bijbels thema precies het tegendeel – wél homosexualiteit – te gaan verdedigen.”

Verder, dr. Rheeder beskryf die Bybel en dus sy Skrifbeskouing as:

“as alhoewel ’n goddelike boek, ’n besliste kreatuurlike kant het wat in die vertolking daarvan in ag geneem moet word … Die Bybel is ’n geloofsboek wat deur geloof onstaan het, wat in geloof gelees en nagevolg moet word. Die Bybel is 100% die Woord van God, 100% deur mense geskryf. Die Skrif is die menslike, kreatuurlike gestalte wat God se Woord aanneem en waardeur dit vir mense kenbaar word.”

Hierdie is, om die minste te sê, verwarrende uitsprake oor wat die Bybel nou eintlik is en nie is nie, en wat word bedoel met die Bybel ‘is ‘n geloofsboek wat ‘deur geloof ontstaan het’, beteken dit die mens skep die Woord ‘deur geloof’, dat die mens die eintlike oorsprong is van die Bybel, kontra 2 Tim. 3:15-17; 2 Petrus 1:19-21?

Is die Bybel vir Rheeder God se gesaghebende onfeilbare Woord aan die mens, naamlik Goddelike Openbaringsboek deur die Gees met die mense as instrumente geskryf, of is die Bybel die produk van mense se ‘geloofswoorde’ oor God?

Waarom nie spreek soos Gereformeerde teoloë deur die eeue gedoen het nie: die Bybel is die onfeilbare Woord van God, die Heilge Skrif is die Goddelike Openbaringsboek, volkome, onfeilbaar en gesaghebbend in alles wat dit spreek, openbaringshistories reg verstaan?

Waarom die groot klem op die ‘kreatuurlike kant’ en waarom gebruik hy nie die taal van ons gereformeerde konfessies nie, wat sê sy kleinletters, en is die Bybel vir hom maar net nog ‘ ‘n ‘ goddelike boek soos baie ander?

Die Gereformeerde gelowige, teoloë en kerk bely in navolging van die Skrif, baie doelbewus en duidelik en eenvoudig, die Bybel is ‘n:

“heilige en Goddelike Woord” (NGB art. 2)

“Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige en Goddelike Skrif.” (NGB art. 3)

“Ons vat die Heilige Skrif in twee dele saam: die Ou en die Nuwe Testament.” (NGB art. 4)

“Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie.” (NGB art. 7)

“En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut. 12:32)” (NGB art. 7)

“Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie.” (NGB art. 7)

Lees ek te veel in hierdie woorde van Rheeder, dalk, maar ek vermoed tog nie, hy wil daardeur baie meer sê na my mening as wat ons dink. Kyk wat skryf Prof. JC Coetzee oor prof. WS Vorster se teologie waar soortgelyke verskynsel gesien word (beklemtonings bygevoeg):

“LÊ HIERAAN ’N EIE SKRIFBESKOUING TEN GRONDSLAG?

Reeds in sy inleiding (bl. 4) stel Vorster self die vraag wat vir hom duidelik wesenlik is: “Wat is die Bybel?” Die opvallendste kenmerk van Vorster se denke in sy inougurele rede en elders (vgl. aangehaalde literatuur) is die karakteriserende wyse waarop hy praat oor die Bybel, in casu die Nuwe Testament. Hy mag wel een enkele maal opmerk: ‘Daarmee word nie tekort gedoen aan die eie aard van die Bybel as woord (is die kleinletter die werk van die drukkersduiwel, of is dit ’n simptoom van Vorster se denke? — J.C.C.) van God nie, ook nie aan die rol van die Heilige Gees by die uitleg van die Bybel nie … ” (bl. 5).

Maar vir die res van sy rede geld as primêre spraakgebruik dat hy byna konsekwent praat van die Nuwe Testament as: ‘die tekste oor God’! Dit neem tewens ’n aanvang nog in dieselfde hierbo aangehaalde sin. Die keuse van hierdie benaming as aanduiding van die Nuwe Testamentiese Skrifte is sekerlik nie toevallig of betekenisloos nie. Dis duidelik dat Vorster hiermee iets (wil?) uitdruk van sy siening op die karakter en wese van die Skrif.

In die uitdrukking ‘tekste oor God’ sit onmiskenbaar ’n ‘rigtingwyser’ ingebou: die beweging is hier ’n beweging VANAF die mens NA God toe. Dit, in plaas van die eg-Bybelse visie op die Skrif: Godsopenbaring — vanaf God na die mens toe! Is die Nuwe Testament dus vir Vorster primêr of selfs uitsluitend „urchristliche Literatur”, of: die kerk se „teologiese refleksie” op die sprake Gods (vgl. Vorster se opmerkings oor die preek op bladsy 3)?”

Mag die Here die GKSA help, gelowiges in die gemeentes, kerkrade om te bly by die Heilige Skrif, en ons te bekeer waar ons afgedwaal het, of afgewater het, in Skrifbeskouing, Skrifgesag, Skrifverklaring beginsels, ens, in leer en lewe.

Prof. PW Buys wat ek reg in die begin aangehaal het, roep daartoe op in sy behandeling van die homofilie kwessie, wat ware liefde is vir hulle wat daarmee worstel, en die beginsels geld netso vir die kwessie oor wat die rol van man en vrou vandag is, die kerkregering, VIDA en baie ander sake, kom ons luister daarna (beklemtonings bygevoeg):

Uit die voorgaande Skrifuitsprake is duidelik dat homofiele aanleg teen-natuurlik is en dat homoseksuele dade sonde is en dat as daar in sulke dade volhard word, so ’n mens die koninkryk van God nie kan beërwe nie. Dit word deur die Skrif genoem op dieselfde vlak as ernstige oortredinge soos owerspel, diefstal, dronkenskap, moord. Wie hierin volhard, word verslaaf aan ’n vreemde mag.

Seksuele vergryp het nie alleen betrekking op wat ’n mens doen nie, maar dit tas die wese van die mens aan, soos Paulus dit stel: Hy wat ’n hoer aanhang, is met haar een liggaam — 1 Kor. 6:16. Die uitdruklike bevele van God geld nie net diegene wat tot die daad oorgaan nie, dit geld ook vir diegene wat daartoe geneig is. Vergelyk in die verband die verklaring van die Heidelbergse Kategismus van die Tiende Gebod.

Voorts berus die bevel tot bekering nie op die bekwaamheid van die mens om hom te bekeer nie — watter mens sou op so ’n basis vir God aanvaarbaar wees? Die eis tot heiligmaking geld onverswak, ondanks die mens se onvermoë tot heiligmaking. Die wet is juis ’n tugmeester wat die sondaar na Jesus Christus dryf.

’n Pastorale antwoord op die probleem van die homofilis

Die kerk bewys sy homofiele lidmate geen diens deur die weg op te gaan wat in die Rapport opgegaan word nie. Die weg naamlik om vir die homofiel te sê: die Bybel verbied nou wel homofile, maar die Bybel is tydgebonde en daarom kan sy uitsprake maar rustig  opsy geskuif word en homoseksuele verbintenisse in die kerk aangegaan word. ’n Geneesheer bewys sy pasiënt wat maagkanker het, geen diens deur uit valse menslikheids-oorwegings te diagnoseer dat die pasiënt m aar net ’n ligte maaggriep het nie.

As die Bybel homoseksualisme as ’n pad na die dood diagnoseer, dan is dit wreed van die kerk om aan die homofilis te sê: Gaan maar voort op hierdie pad. Daar moet dus ’n ander weg gesoek word. Die weg is gegee in die verlossende krag van Jesus Christus en die heiligmakende werk van die Heilige Gees.

Dit hou in dat on vervals en onverswak aan die homofilis gesê moet word wat die Skrif van homoseksualiteit sê en dat die homoseksuele mens geroep sal moet word om sy verantwoordelikheid te besef. Hierdie oproep tot bekering moet natuurlik nie as ’n hooghartige bevel uitgereik word nie maar as ’n liefdevolle eis, begelei met die versekering van God se vergewende genade in Christus en sy liefde wat van ons meer as oorwinnaars maak in die haglikste omstandighede. Die houding van die pastor en die gemeente sal jeens hierdie mens veel van die liefde van Christus moet uitstraal. Want net soos die prostituut, die alkoholis, die seksmaniak, die kleptomaan is hierdie mens in ’n besondere greep van die Bose wat hom van God af na die verderf wil sleep.”

_______________________________________________________

Sien ook: Slaan jy jou vrou nog? – van VIDA tot homoseksuele predikante

‘n Paar artikels oor die bybels-gereformeerde beginsels van Skrifverklaring:

DIE HERMENEUSE VAN DIE SKRIF MET DIE OOG OP HEDENDAAGSE KERKLIK-ETIESE VRAAGSTUKKE, J.C. Coetzee, B.J. de Klerk, L. Floor

“Agter die benadering van die Bybel as ’n tydgebonde en daarom aan kritiek onderworpe voorstelling van Gods heil en agter die siening van die gesag van die Bybel as tradisie-gesag, sit ’n bepaalde Skrifbeskouing. Daarom is dit by die bespreking van die probleme met betrekking tot die posisie van die vrou in die kerk van die uiterste belang hoe ons die Bybel en die tekste wat spreek oor die plek van die vrou in die kerk benader.”

Oor Ware Gereformeerde Hermeneutiek, proffs. GJC Jordaan & SP van der Walt

“Geloof in die Bybel as gesagvolle Woord van God is derhalwe ‘n voorveronderstel­ling waarmee die gereformeerde Skrifver­klaarder die Bybel benader. Dit rig alle eksegetiese arbeid — gevolglik ook die hermeneuseproses. Gereformeerde hermeneuse glo dat God se Woord ook op vandag van toepassing is. Die proses van hermeneuse wat begrond is op die Skrifbeskouing van en geloof in die Bybel as gesagvolle Woord van God, wil dus die betekenis van die Skrifboodskap toepas op die hedendaagse konteks. God wat eenmaal ‘n tydgerigte woord gespreek het, spreek daardeur ook tydgerig tot die konteks van vandag.”

Skrifgesag en Skrifvertolking, prof. GJC Jordaan

“Aangesien die hele eksegese proses, in sy grammatiese fase en in sy historiese fase, maar veral in die proses van sintese en hermeneuse, in werklikheid nie sonder die interpretasiegawe van die Heilige Gees kan geskied nie, is dit nie moontlik om dit werklik as ’n meganiese toepassing van hermeneutiese reëls te bedryf nie. Ook in die bepaling van wat werklik God se blywende opdrag vir ons vandag is, en wat slegs as situatiewe opdragte beskou kan word, in die bepaling van wat die fokuspunt van ’n Skrifdeel is en wat bysake is, ook daarin moet die Skrifverklaarder biddend werk dat die Heilige Gees hom die insig sal gee om te interpreteer en die gawe om te onderskei.”

‘n ‘Ou Boek in ‘n nuwe wêreld’, of ‘n ‘Nuwe Boek in ‘n ou wêreld’?, prof. JC Coetzee

“Hoe moet ons die Nuwe Testament besien? As, saam met Vorster: ,,’n Ou boek in ’n nuwe wêreld”? Of veeleer as: ’n Nuwe Boek in ’n ou (verslete, verbygaande) wêreld?”

“In his 2006 book Evangelical Feminism: The New Path to Liberalism?, Wayne Grudem argued that compromise on the Bible’s teaching on gender roles within local churches and denominations often sets institutions on a course toward the acceptance of homosexuality. News out of three mainline denominations from last week well illustrate Grudem’s claim.” – Jeff Robinson.

Sien:  PCUSA, Anglicans, Virginia Episcopalians Affirm Homosexual Ordination

Resensie van DoumaVoorbeeld of gebod? Enkele opmerkingen over het Schriftberoep in de ethiek

“Net soos Velema is ook Douma van oordeel dat ons die wortel van Kuitert se denke moet soek in sy siening op die verhouding van God — mens in die verbond. Douma is van mening dat Kuitert God te veel aan die mens vasbind met die gevolg dat panteïsme en ateïsme reële dinkmoontlikhede word (p. 41). Douma wys verder daarop dat volgens die benadering van Kuitert God se transendensie besig is om te verdwyn (p. 40). Dit gebeur volgens die strekking in die nuwere teologie; daar word nog wel gespreek van die transendensie van God, maar dan is dit ’n transendensie in die tyd en nie in die ruimte nie (want transendensie in die ruimte is „metafisies” en dit is vandag in die teologie ’n onbehoorlike woord). By Pannenberg vind ons dieselfde benadering van die transendensie van God: God is ons vooruit.”

One thought on “GKSA TEOLOGIESE OPLEIDING: dit moet Skriftuurlik en Gereformeerd ‘In U lig’ teologie wees, nie mensgesentreerde NWU teologie nie

Add yours

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑