TOTIUS PREEK: DIE WERELDRYK EN DIE ANTICHRIS (OP. 13:1-10)

Totius se eskatologie oor die laaste dae volgens Openbaring 13

En ek het ‘n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe ‘n naam van godslastering. … As iemand krygsgevangenes maak, gaan hy in krygsgevangenskap; as iemand met die swaard doodmaak, moet hy met die swaard doodgemaak word. Hier is die lydsaamheid en die geloof van die heiliges.” – Openb. 13:1,10

Dit is duidelik uit Totius se verklaring van die Openbaring boek (Versamelde Werke, 1977, deel 5: 268-451), dat hy nie sy vader, ds. SJ Du Toit, se spesifieke eskatologie (‘leer oor die eindtye of laaste dae’) gevolg het nie (‘klassieke premillenialisme’ ook ‘chiliasme’ genoem), maar dr. Abraham Kuyper se ‘gereformeerde ammillenialisme’ van die laat 20ste eeu uit Nederland.

Hierdie was twee van die drie persone en mede-gelowiges, volgens Totius self, wat die grootste invloed op sy lewe en vorming uitgeoefen het. Die ander persoon was die tweede professor aan die teologiese skool van die Gereformeerde Kerke in SA, Jan-Lion Cachet (sien meer hieroor in hierdie lesing wat ek aangebied het: Genade, alles genade: die lewe, werke en betekenis van Totius)

Sien Totius se volledige preek van Op. 13:1-10 in sy Versamelde Werke. Hier onder lig ek ‘n paar sake uit (met die gebruik van aanhalings uit Totius se preek) wat vir ons meer insigte gee oor Totius se eskatologie asook ander verwante sake wat ook leersaam is vir ons wat heeltyd in die ‘eindtye’ lewe, tot ons enigste Troos maar ook om die tye reg te verstaan (beklemtonings  is bygevoeg):

1 Totius verstaan die ‘monsteragtige dier’ wat in Op. 13 beskryf word, as die ‘staatsmag en wêreldheerskappy’ deur alle eeue, en dan veral in die laaste dae:

“Hier is sprake van staatsmag, wêreldheerskappy en – wat daarmee saamhang – militêre grootheid. Ons lees tog van koppe en horings en van koninklike krone (vs. 1); van ‘n troon en van groot mag wat deur Satan aan die dier gegee is ( vs. 2); van die mag om oorlog te voer, wat altyd van bewindhebbers uitgaan (vs. 7). En dan: Aan Daniël word nadruklik die verklaring gegee: “Hierdie groot diere wat vier is – vier konings sal uit die aarde opstaan (7:17) – natuurlik konings as verteenwoordigers van koninkryke. Hierby sluit aan wat ons in Openb. 17:10 meegedeel word – maar daaroor sal ons later handel. Hier moet ons net in die oog hou dat in Openb. 13 die wêreldmag in sy eenheid as dier optree en dat die sewe koppe die sewe wêreldryke is wat in die geskiedenis na mekaar gekom het, terwyl die tien horings (blykens Dan. 7:7) uit die laaste kop, die laaste wêreldryk, groei en die tienvoudige vertakking daarvan voorstel.”

2 Totius onderskei dan baie duidelik in navolging van die Skrif, tussen die staatsmag wat die Here erken en die wat Hom verag:

“Maar nou kom die belangrike vraag: Waarom word die staatsmag hier met die veragtelike naam “dier” aangedui? Het die Here dan nie self die owerheid ingestel om die doodslag te weer nie (Gen. 9:6; Rom. 13)? Het die Here nie self gesê nie: “Deur My regeer die konings” (Spr. 8:15)? En dink aan Jesus se woorde aan Pilatus: “U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie” (Joh. 19:11). So is dit, en so het die gelowiges dit altyd verstaan.

Maar luister nou wat Calvyn van die benaming “dier” sê:

“In hulleself is die wêreldryke baie mooi afspieëlinge van die goddelike wysheid, deug en regverdigheid, alhoewel die wat oppermagtig is, baie selde erken dat hulle op goddelike wyse daargestel is om hulle amp waar te neem. Omdat konings dus meestal tiranne is, vol wreedheid en barbaarsheid, en vergeet wat menslikheid is, wys die profeet aan dat hierdie ondeug uit hulleself voortkom en nie uit die heilige ordinansie van God nie” (Kommentaar op Daniël 7: 3).

Hierdie uitspraak behou nog sy krag, al is dit ook dat daar nou dikwels in die plek van konings ander maghebbers optree. Hoe staan sake dan ook in Openb. 13? Nie minder as drie keer nie lees ons dat die staatsmag hom aan Godslastering skuldig maak (vs. 1, 5, 6). … Só word die Naam van God ontheilig deur die wat die Naam hoog en heilig moes hou. Só is die staatsmag nie meer ‘n dienaar van God nie maar stel hom in die plek van God. Openbaring 13 sê dan ook twee maal dat die dier hom laat aanbid (vs. 4 en 8), iets wat net aan God toekom.

3 Totius maak dan ‘n baie belangrike persoonlike toepassing, een wat ons ook in ons tye baie ter harte moet neem (en ook vir die toekoms), wanneer ons tereg beswaard raak oor die goddelose optrede van die tiranne en slegte owerhede van ons dag:

“Leser, mag daar by die behandeling van ‘n donker profesie in u hart die bede weerklink: laat u Naam geheilig word! Die gruwelike werklikheid van wat in die wêreld gebeur en sal gebeur, moet ons met vrees en bewing vervul, sodat die heilige Naam van God om ons ontwil nie gelaster nie maar geëer en geprys word. Ons hele lewe, al ons gedagtes, woorde en dade moet ons daartoe skik en rig.”

Opmerking: ons as gelowiges, kerk van Christus, moet gelowig bly tot die einde toe, ly as Christene, nie rewolusionêre of barbare of wetsveragters nie, ongeag dat die wêreld om ons al meer barbaars en meer boos word, sien Rom. 12:16-21 en 13:10-14 as wesentlike konteks juis van Rom. 13:1-7; asook 1 Petrus 4:12-19 se troos én vermaning vir die kerk van Jesus Christus, ook in ons tye, tot die einde toe.

4 In die volgende saak wat Totius in sy preek vermeld, kom sy siening van die geskiedenis en eskatologie verder na vore. Dit handel oor die verklaring van Op. 13:3, en hy meen dit verwys aan die eenkant na die evangelie en die Christendom se kosbare maar tydelike oorwinning in die 4de eeu nC met Konstantyn se wesentlike verandering van die samelewings orde(13a) …

 “Maar nou sien Johannes verder iets opmerkliks: een van die koppe van die dier word net asof dit dodelik gewond is (vs. 3).

Wat beteken dit?

Skrifverklaarders dink hier aan die Romeinse Ryk, waarvan die westelike deel in 476 na Chr. heelternal vernietig is en die oostelike deel in 1453 deur die Mohammedane. Hiermee kan ons saamstem vir sover die Romeinse Ryk genoem word, iets wat ons nader sal aanwys as Openb. 17 ter sprake kom. Maar daar is ‘n ander, dieper verklaring wat hom deur sy klaarblyklikheid en inwendige waarheidskrag aan ons opdring.

Dit is die gedagte van Auberlen, wat hierop neerkom dat die Christendom die dier dodelik gewond het.

In die 4de eeu na Christus het die keiser Konstantyn die Grote naamlik die Christelike godsdiens aangeneem, en van die tyd af begin wat gewoonlik die Christelike staat genoem word.

Soseer het die Christelike godsdiens die publieke lewe aangegryp dat ‘n openbare Godslastering nie meer moontlik was nie. En daardie Europese volke wat die evangelie aangeneem het, het die leiding op die wêreldtoneel in die hande gekry. Wat verder in Asië en Afrika gebeur het, kon die stroom van groot gebeurtenisse nie meer beheers nie. Selfs tot vandag toe (eerste helfte van die 20ste eeu – slc) is dit Christelike volke wat op die wêreld die toon aangee. Die staatsmag is dus in sy vroeëre, dierlike uiting bedwing; dit is asof dodelik gewond. Die dier moes, altans uitwendig, sy monsteragtigheid laat vaar.

Dit het die teenswoordig so baie gesmade Christendom dan tog gedoen, en ons is die Here daarvoor dankbaar. Vir die evangelie is in dié tyd ruimte gemaak, en die geklank daarvan het deurgedring tot by die eindes van die aarde. So het God in sy voorsienigheid vir die kerk deur die volkerelewe heen ‘n weg gebaan.

5 … maar dan verwys Op. 13 ook verder na die verval wat later sou plaasvind soos die Christendom verwerp word veral na die Reformasie tyd met o.a. die Franse Rewolusie, ens. (vers 3b):

“Maar die dier se dodelike wond is genees – so staan daar verder in vers 3. Wat nog in die toekoms lê, meld die profetiese gesig aan ons as iets wat reeds gebeur het. So vas staan die waarheid van God.

Kan ons, met die oog op hedendaagse gebeurtenisse, nie sê dat hierdie toekoms al nader en nader kom nie? In elk geval, as Bolsjewisme en Sosialisme eenmaal die oorhand kry, die geroep naamlik dat daar nie meer regeerders by die grasie van God is nie; as ook die sosiale gesag eenmaal omvergewerp en die maatskaplike ordeninge uit hulle voeë gelig is; as die vaderlike tug eenmaal weg is en die kinders oor hulle ouers baasspeel; as die Christelike samelewing eenmaal tot ‘n puinhoop vermorsel is deur die verwoestende mag van ongeloof en geweld – dan kan ons verwag dat die Antichris sal optree om op die puinhoop van die Christelike beskawing sy troon te vestig, net soos Napoleon sy keiserryk laat verrys het uit die verwarring van die Franse Revolusie.

Ons het nou net gespreek van die persoonlike Antichris en het daarmee die oorgang gemaak van ‘n onpersoonlike wêreldryk na ‘n persoonlike regeerder.

Daartoe gee die Woord van God ons die reg as ons Skrif met Skrif vergelyk. Want die laaste kop van die dier in Openb. 13 kan wel net ‘n ryk of heerskappy aandui, en die klein horing in Dan. 7 kan wel net ‘n aardse grootmoondheid beteken as ons dit net maar met die ander tien horings vergelyk. Maar as ons daarby in aanmerking neem dat in Dan. 8 Antiochus Epifanes, die persoonlike vyand van God se ou bondsvolk, ook met ‘n klein horing vergelyk word en dat die Antichris in Openb. 17:10 as persoon optree, dan is die gevolgtrekking gewettig dat ons by die antichristelike ryk van die toekoms ook ‘n persoonlike Antichris moet dink.

Dit word verder bevestig daardeur dat Paulus in 2 Thess. 2: 3 die Antichris as persoon aandui, as “mens van die sonde” en “seun van die verderf’. Hier kom eindelik nog by dat groot wêreldryke in die verlede hulle mag en heerlikheid in deurlugte persoonlikhede beliggaam het, soos Nebukadnesar, Cyrus, Alexander, Caesar en Napoleon.

Ja, die wond genees, en dit sal daartoe lei dat die hele aarde verwonderd agter die Antichris sal aangaan en dat aanbiddend uitgeroep sal word: “Wie is aan hierdie dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” (vs. 3 en 4). Net soos die Romeinse keisers Augustus en Nero betitel is met die byvoeging: divus (goddelik), so sal ook die Antichris in die tempel van God as God gaan sit en voorgee dat hy God is (2 Thess. 2:4).”

6 Totius verklaar dan verse 4 en verder in terme van die tyd van die post-Christendom, die tye wat hy reeds beleef het, en ons ook al meer beleef:

“Aan die dier word ‘n mond gegee om groot woorde en godslasteringe uit te spreek, 42 maande lank; en hy het sy mond oopgemaak om teen God te laster, om sy Naam te laster en sy tabernakel en die wat in die hemel woon (vs. 5 en 6).

Dan breek die ou vervolginge weer met hernieude woede los: die dier ontvang mag om teen die heiliges oorlog te voer en om hulle te oorwin, en dit kry mag oor elke stam en taal en nasie; en al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, “almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie’ (vs. 7 en 8).

Die vervolginge van vroeër breek weer los – dit is die feit wat hier so sterk na vore spring. Die dier het sy Christelike gedaante laat staan en martel nou dood almal wat die Naam van Christus noem.

Die belydenis van Christus sal dan geen modegodsdiens wees nie maar ‘n ontroerende werklikheid.

Vreeslik is dit om aan so ‘n toekoms te dink, om die doodsvonnis oor alle ware Christusgelowiges te hoor uitspreek.

Nietemin is dit die waarheid wat nie vir ons toegedek mag word nie. Net soos die saad van die kerk ontkiem het, bevogtig deur die vroeë reën van die bloed van Abel, net so sal die oes van die kerk ryp word onder die bevogtiging van die laat reën van martelaarsbloed.”

7 ‘n ‘Neutrale’ staatsmag lei tot ‘n Godloënende Godslasterlike staat wat weer begin met Christenvervolging

“So kan dit eenmaal wees met die dier van Openbaring. Kyk maar goed diep in die oë van die ondier, en wat sien u daaragter afgespieël Is dit nie asof die monster bloed, mensebloed, Christenbloed begin ruik nie? Asof dit al vleis sien, rou vleis, Christenvleis?

In elk geval, die teenswoordige neutraliteit, onsydigheid en onverskilligheid sal nie voortduur nie. Teenoor God kan die mens op die duur nie neutraal wees nie. Dis gewoonlik die eerste stap tot vyandskap, tot gewetensdwang, tot moorddadigheid. Wat in Rusland en elders gebeur, kan ons oë reeds oopmaak. Godloëning moet uiteindelik lei tot Godslastering en Christenvervolging. Dis die weg wat die wêreldmag gaan bewandel.

Die Antichris sal die vleis eet en die bloed drink van hulle wie se name in die boek van die lewe staan. In hierdie woorde Iê die kerk se doodvonnis maar ook sy ryk en vaste vertroosting. God ken hulle wat syne is, by name, en Hy sal hulle onfeilbaar bewaar in die uur van versoeking en duisternis.”

 8 Totius eindig sy Op. 13:1-10 preek met ‘n paar belangrike toepassings vir sy tyd, ook vir ons tye: ons moet die profetiese Woord baie ernstig opneem, en lydsaam en standvastig wees om in alle tye tot die einde toe te volhard in Christus Jesus, in wie alleen al God se verbondsbeloftes ja en amen is:

“En so kom ons tot die toepassing wat God se Woord ons hier bied, in hierdie geval enersyds besonder skerp maar andersyds ook kragtig vertroostend.”

Toepassing 1: Daar staan in vers 9: “As iemand ‘n oor het, laat hom hoor”.

Daaruit maak ons in die eerste plek op dat die profetiese Skrif nie verwaarloos mag word nie, omdat sowel dit as alle ander Skrif as maatstaf gegee is sodat ons ons geloof en lewe daarna kan rig en reël.

In die begin van Openbaring (1:3) het al gestaan: “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor”. En aan die einde staan dit weer: “Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar:” (22 :7). Hier, in die middel, weerklink die geroep: Hoor! Die profesie aangaande komende dinge kan ons dus nie mis sonder om in ons geestelike groei en vastheid skade te ly nie.

Toepassing 2: Maar in die tweede plek lei ons uit die vermaning van vers 9 af dat dit, helaas! alte veel en altyd meer gewoonte sal wees om nie te hoor nie maar om in onverskilligheid die profesie verby te gaan.

Bespeur ons dit in die Christelike kerk? Bespeur ons dit by onsself? …

0, laat ons dan vrees en – hoor. Laat ons hoor om ons nie in die lydensnag onder die vyande van God te bevind nie. Want merk op wat vers 10 sê, Vir die teenstanders van God en die moordenaars van sy volk vlieg daar deur die donker nag, soos ‘n bliksemstraal, die blinkende swaard van God se geregtigheid:

“As iemand krygsgevangenes maak, gaan hy in krygsgevangenskap; as iemand met die swaard doodmaak, moet hy met die swaard doodgcmaak word”. Dan sal dit wees “oog om oog, tand om tand, lyding om lyding, lewe om lewe . . . volgens die strengste reg van die suiwerste weervergelding”. God sal die gruweldade van Sy vyande oordeel in sy gerig, want Hy is ‘n God van stipte geregtigheid.

Toepassing 3: Lydsaamheid!

En dan volg die pragtige woord (v. 10): ‘Hier is die Iydsaamheid en die geloof van die heiliges’

Lydsaamheid word eerste genoem (hoewel dit ‘n vrug van die geloof is, Rom. 5:1-5), omdat Iydsaamheid dan so nodig sal wees. Wat beteken die woord? Daar kom dit vir ons op aan.

Om te sê dat dit beter is om die grondwoord met standvastigheid te vertaal, omdat lydsaamheid aanleiding gee om aan “lydelikheid” te dink, maak die saak nie uit nie.

Haupt wys ons in sy Kommentaar op Kolossense die regte pad. Hy sê:

‘Die Griekse woord is in die Nuwe Testament nooit die natuurlike draagkrag van ‘n sterk karakter nie, ook nooit die onverskilligheid van ‘n Stoîsyn wat nie omgee wat gebeur nie, maar dis altyd ‘n religieuse kragsuiting: die uithou op grond van die innerlike oorwinningsgevoel dat oor alle vyandige magte getriomfeer sal word. Want in die Nuwe-Testamentiese uitdrukking het die gewone spraakgebruik met die Hebreeuse woorde van dieselfde betekenis saarngegroei, Laasgenoemde dra net die merkteken van die hoop, terwyl eersgenoemde (die Griekse) net die merkteken van vastheid of volharding vertoon’

Laat ons dan ons gedagte met beeldspraak verduidelik.

As u wil weet wat lydsaamheid is, moet u na ‘n bruisende rivier toe gaan. Maar dan moet u nie op die rots let wat daar in die middel van die stroom stewig vas op sy fondamente staan nie: die rots is uitbeelding van standvastigheid en niks meer nie. Nee, u moet kyk na die biesie wat aan die kant staan en waaromheen die water rys en swel. Slank en slap is die biesie, en dit buig, want die waterstroom is swaar; maar dit staan; dit buig neer en buig weer, maar na elke golfslag kom die top weer regop. Dit hou aan en hou uit, totdat die rivier weer sak, om dan weer vry te wees, te groei en te juig in die sonneskyn. Só is die Christelike lydsaamheid. Dit hou uit en vertrou; dit buig (want die wêreldmag is te groot), maar dit staan.

Lydsaamheid – dis wat Psalm 42:5 besing:

Maar die HEER sal in my lewe

weer oord ag sy guns gebied.

Ook deur donker nag omgewe,

sing ek nog my pelgrimslied.

Ja, ek lofsing in die nag,

want ek bly die HEER verwag;

my gebed sal opwaarts strewe

na die bronwel van my lewe.

Baie soorte kruis en teenspoed – dit is wat die gelowige altyd voorlê. Deur baie verdrukkinge moet ons in die koninkryk ingaan. Maar insonderheid sal dit die geval wees met gelowiges wat in die laaste dae lewe.

Daarom moet ons leer om uit te hou, in die versekering dat God uitkoms sal beskik. As dié oorwinningsgevoel nie by ons is nie, dan is die kruis met sy harde hout vir ons ‘n aanstoot en ‘n kwelling soos vir die wêreldling.

Wees dan lydsaam in die Naam en krag van die Here; wees buigsaam as die storm aankom maar staan ook vas, gewortel in die beloftes van God, wat in Christus ja en amen is.

AMEN.”

Bron: Versamelde Werke, 1977, deel 5: 346354)

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑