Die Christelike huisgesin: HOOFSTUK 5: Die huisgesin in die Nuwe Testament

DIE CHRISTELIKE HUISGESIN

 HOOFSTUK 5: Die huisgesin in die Nuwe Testament

Herman Bavinck

[Vertaal deur J. Coetzee en verder verwerk deur S. Le Cornu uit die oorspronklike, Het Christelijk Huisgezin (Kampen: J.H. Kok, 1908), beklemtonings en sommige opskrifte bygevoeg.  Meer inligting oor Bavinck (1854-1921) kan hier bekom word: http://hermanbavinck.org/ Van sy werke kan hier, Paideia Press, en hier, Neo-calvinisme, afgelaai word]

Vorige inskrywings:

Inleiding en agtergrond (ook tot vertaalprojek)

Hoofstuk 1: Die oorsprong van die huisgesin

Hoofstuk 2: Die versteuring van die huisgesin

Hoofstuk 3,  deel 1: Die huisgesin onder die volke na die sondeval

Hoofstuk 3,  deel 2: Die huisgesin onder die volke na die sondeval – ewolusionistiese konstruksies

Hoofstuk 4: Die huisgesin onder Israel

Inleiding tot hoofstuk 5 – S. Le Cornu
Hier kom ons nou by die belangrikste en hoogtepunt van Bavinck se boek oor die Christelike huisgesin, naamlik die koms van Christus en wat dit alles beteken vir die huwelik en gesin. Lees dit peinsend biddend deur vir jouself, huwelik, gesinne, gemeentes ens. Gebruik dit gerus by katkisasie tuis en gemeente, om te leer wat Christus beteken vir al ons verhoudinge.

Jongmense moenie wag tot jul eers ‘verlief’ is om oor hierdie wesentlik belangrike vrae oor die huwelik te besin nie, dit moet onderrig wees lewenslank, “… en dat jy van kleins af die Skrifte ken…” (2 Tim. 3:14-17, sien die hulpmiddels hier onder vermeld).

Bavinck spreek onder andere die volgende onderwerpe aan vanuit die Heilige Skrif:

Die heilige gesin; Christus oor vroue; huwelik en egskeiding; Christus oor kinders; die apostels oor die gesin; die huwelik as skeppingsordening; huwelik en die besondere ampte (VIDA sake… onthou: die beste manier om die onchristelike feministiese en chauvinistiese bose aanslae aan te spreek = om die ware evangelie en wil van Christus te leer oor die huwelik en gesin, 2 Kor. 4:2; 6:7 en veral 13:8); Paulus oor die huwelik en verlating in 1 Kor. 7; die verval van die huwelik deur hoerery en geboortebeperking; Christus bring verdeeldheid in die gesin en familie…. bring ook hoop en liefde wat Hom as bron en fondament van hul huwelik en gesin erken (Ps. 127-128; Matt. 6:33); Christelike vroue se dienswerk in die gemeentes en gesinne as evangelieverkondigers en leraaresse; die huwelik en gesin as bousteen van die hele samelewing, ens.

Tolle lege!

“Die betekenis , wat die vrou in die gemeente verkry het, werk op haar maatskaplike posisie in. Terwyl sy langsamerhand in die Romeinse wêreld tot ‘n slavin of ‘n genotmiddel van die man verlaag was, word sy nou weer ‘n eie, selfstandige persoonlikheid, met ‘n eie gedagte en wil. Sy bly sy hulp, maar is met hom ‘n erfgenaam van dieselfde genade van die lewe. Man en vrou word in die Christelike geloof aan mekaar terug geskenk, en allerlei sondes van hoerery en ontug, owerspel en egbreek moet wyk voor die liefde, wat beide verbind. Die Christendom het die huwelik geheilig, van allerlei ongeregtighede bevry en weer bevestig op die grondslag van die Goddelike gebod.

En soos die man en vrou weer saamgevoeg is, so het ook die ouers teruggekeer na die kinders, en die kinders na die ouers. Die vrou word weer moeder in die ware sin van die word, nie alleen voortbringer nie, maar ook opvoeder van haar kinders. En die kinders kry regte o.a om nie reeds voor die geboorte vrylik versmoor of na die geboorte dood gemaak of verlaat te word nie. In die korrupte samelewing was daar eintlik geen vaders en geen moeders, geen eggenote en geen kinders meer nie. Maar nou word hul almal weer saamgebind tot ‘n kring en in ‘n gesin ; en die gesin was nie bloot ‘n deel van die staat nie, maar hul kry ‘n selfstandige bestaan en word die grondslag van hele samelewing. ” – Herman Bavinck

______________________________________

Lees opnuut die inleiding tot hierdie vertaalprojek van Bavinck se boek, waarin ek aantoon hoekom hierdie boek so belangrik is vir elke gelowige, veral elke gesin en gemeente, en daarom het ons dit begin vertaal en verwerk (dankie vir elkeen wat al donasies begin gee het vir die Bavinck vertaalprojek, ons waardeer elke bydrae.)

___________________________________

HOOFSTUK 5: Die huisgesin in die Nuwe Testament

Die Nuwe Testament neem ‘n aanvang met die verhaal van die wonder geboorte van Jesus uit die maagd Maria. Hierdie feit is uniek in die geskiedenis. By die heidense volke kom wel allerlei verhale voor oor seuns wat deur gode by vroue verwek is, maar die geboorte van ‘n kind uit ‘n maagd wat oorskadu word deur die krag van die Heilige Gees, heeltemal uniek en sonder analogie. Maria beklee ‘n geheel unieke plek in die geskiedenis van die menslike geslag. In waardigheid en eer gaan sy selfs die profete en die apostels te bowe; sy alleen was waardig om moeder van die Seun van God te wees; sy is die geseënde, die begenadigde onder die vroue en word salig gespreek deur al die geslagte van die aarde.

En tog is sy nie gered deurdat sy Jesus in haar baarmoeder gedra en aan haar bors gesoog het, want salig is alleen diegene, wat die woord van God hoor en dit bewaar, Luk. 11:27,28. Maar ook dit het Maria gedoen. As die engel haar die boodskap bring, wat haar ontroer in die diepte van haar gemoed, gee sy haarself in volkome onderwerping oor:

“Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord.” (Luk. 1:38)

Maria is die Israeliet by uitnemendheid, wat nie vooruit loop en self handelend optree nie, maar wat in kinderlike geloof ontvang wat God haar skenk. Terwyl Eva haarself van die woord van God losmaak en haar eie weg inslaan, neem Maria die woord van God sonder murmurering of teenspraak aan; sy is deur God self voorberei en gevorm, om die ontvangster van sy hoogste openbaring te wees. En terwyl sy aanvanklik niks anders doen nie, as om in die mees volkome sin van die woord haar oor te gee aan die wil van die Here, tree sy ook later op as moeder, wat aangaande haar seun baie wonderlike dinge verneem, maar dit alles stil en nadenkend bewaar in haar hart.

Voordat Maria die boodskap van die engel ontvang, was sy al verloof aan Josef, wat uit die geslag van Dawid afstam en in Nasaret die timmermansbedryf beoefen.  Die verlowing dra reeds die karakter van ‘n egverbintenis, alhoewel Josef sy verloofde vrou nog nie tot homself in sy eie huis geneem het nie. Voordat dit geskied, word Maria egter swanger bevind uit die Heilige Gees.

Omdat Josef niks weet van die boodskap van die engele nie, en ‘n regverdige man was, wat ook in hierin begeer om te handel na die Here se wet, koester hy die voorneme, om haar sonder opspraak, slegs in die teenwoordigheid van twee getuienis, ‘n skeibrief te gee en haar te laat gaan.  Maar ‘n engel, wat aan hom verskyn in ‘n droom, maak aan hom die geheim van Maria bekend, en sê vir hom dat hy nie bevrees moet wees om Maria as sy vrou tot hom te neem nie, want wat in haar ontvang was, was uit die Heilige Gees. Van diè uur af twyfel Josef geen oomblik meer aan die ongeskondenheid van Maria se eer nie. Hy neem haar as sy vrou tot homself in sy huis en leef saam met haar, maar hy het nie met haar geslagsgemeenskap nie, totdat sy haar eersgeborene gebaar het.

Dit word deur God so bestuur, ooreenkomstig die belofte en deur middel van die gebod van die keiser Augustus so beskik, dat die geboorte nie in Nasaret nie, maar in Betlehem plaasgevind het.  En nie alleen dit nie, maar dit duur ook geruime tyd voor Josef en Maria met die kindjie na Nasaret terugkeer, want ten eerste bly sy nog so lank in Betlehem totdat die minstens een-en-dertig dae van Maria se reiniging vervul was en die kindjie in die tempel te Jerusalem aan die Here voorgestel word. En ook was die vyandskap van Herodes en die moord van kindertjies in Bethlehem die oorsaak, dat Josef met die kindjie en die moeder op goddelike opdrag na Egipte vlug en eers ‘n paar jaar later, na die dood van Herodes, na Palestina en na Nasaret terugkeer.

Dit verklaar waarom Jesus in Nasaret en in die omgewing gewoon as seun van Josef en Maria bekend gestaan het. Die ouers bewaar hierdie geheim van sy ontvangenis en spreek nie met vreemdelinge daaroor nie. Eers later toe Jesus deur sy woorde en dade homself bewys as die Seun van God, en ‘n skare van dissipels gewen het, het hy dit waarskynlik aan enkele vertroude vriende en vriendinne meegedeel, en so is die wonder verhaal van Jesus se ontvangenis en geboorte in die Evangelie opgeneem en deur die boeke van Mattheus en Lukas tot ons kennis gebring.

Van Josef verneem ons egter later niks meer. As by ‘n bepaalde geleentheid die moeder en die broers van Jesus Hom soek om met hom te spreek en saam na die huis te wil neem, word Josef nie meer vermeld nie.  Aan die kruis vertrou Jesus sy moeder toe aan die sorg van sy dissipel Johannes.  Na die hemelvaart word alleen Maria, die moeder van Jesus, en sy broeders vermeld.  Dit is om al hierdie redes waarskynlik dat Josef reeds voor die openbare optrede van Jesus gesterf het.

So het Jesus, alhoewel hy die Seun van God was, Hom nie geskaam vir Josef sy vader, Maria sy moeder en aan ons sy broers te noem.  Net soos Hy in hierdie ganse vernedering aan die Vader gehoorsaam was, so het Hy in die gehoorsaamheid aan sy ouers die gehoorsaamheid aan sy Vader in die hemel bewerk.  Dit staan uitdruklik van Hom opgeteken, dat Hy hulle onderdanig was en in genade by God en die mense toegeneem het.  Ook die vyfde gebod van die wet behoort tot die geregtigheid, wat Hy as Saligmaker van die wêreld vervul het.  Dit is wel waar, dat die geestelike verwantskap vir Hom hoër as die van die bloed is. So ook het Maria nie salig geword deur die oorskaduwing van die Heilige Gees en die geboorte van die geboorte van Jesus, maar deur die aanhoor en bewaring van Gods woord, so reken Christus as sy broer, sy suster en sy moeder  alleen diegene, wat die wil van God doen, Mark. 3 : 32 – 35. Sy aardse ouers mog hulle dus ook nie inmeng in die dinge, wat sy amp aangaan en sy hemelse, Goddelike roeping aanbetref. As dit gebeur, wys Hy, nie uit die hoogte of minagtende toon, maar tog kragtig en beslis, selfs sy moeder af:  as Seun van die Vader arbei Hy in die dinge van sy Vader, Luk. 2:49, en oor die ure, waarin Hy die werk van die Vader gedoen het, beskik Hy self alleen, Joh. 2:4. Maar dis nie te min, tot sy middelaarskap behoort ook die onderdanigheid aan sy ouers. Aan die kruis vergeet Hy sy eie smart en dink Hy aan sy moeder; met die teerste liefde lei Hy die aandag aan Maria van Homself af, gee hy haar in Johannes, die dissipel wat hy liefgehad het, ‘n ander seun, en dra aan hom die sorg vir sy moeder op, Joh.  19: 26,27.

Christus oor vroue

Die heilige familie is die voorbeeld van die Christelike huisgesin. En die voorbeeld word versterk deur die woorde en die dade van Jesus.  Hy was self in ‘n huwelik, want sy bruid is die gemeente, wat Hy liefgehad het en vir wie Hy Hom oorgegee het, sodat Hy haar reinig en heilig sou hou. Maar hy was tog geen monnik wat te vroom is, om sy oë op te slaan en met ‘n vrou te spreek nie.  Jesus gaan ongedwonge en vry om met vroue; vroue behoort tot sy mees geliefde dissipels; hulle volg hom in Galilea en Juda, dien Hom van harte en is getuie van sy kruisiging en begrafnis, van sy opstanding en verskyning. Die dissipels verwonder hulle nog, dat Hy in Sigar met ‘n vrou praat, maar Jesus self vind daar niks vreemds in, want oral en altyd en by alles was dit sy spys, om die wil van sy Vader te doen en sy werk te volbring, Joh 4:27,34. Hy vergewe die vroue se baie sondes, wat in Simon se huis sy voete was en met trane afdroog met haar hare van haar hoof, omdat sy veel liefgehad het. Die owerspelige vrou laat Hy onveroordeeld van Hom gaan, met die woorde; gaan heen, en sondig nie meer nie (Joh. 8:1-11). En van die hoere en die tollenaars sê Hy dat hulle ander sal voorgaan in die koninkryk van die hemele.

Christus oor die huwelik en egskeiding

So het Jesus die vrou geëer en uit haar val weer opgebeur. En ook so eer en herstel Hy die huwelik. Wel is dit geen onvoorwaardelike plig om in die huwelik te tree nie. Daar is omstandighede waarin die roeping kan wees om jou van die huwelik te onthou ter wille van die koninkryk van die hemele, Matth. 19:12. Daar kom tye van verdrukking, waarin swanger en vroue wat soog, swaar sal kry, Matth. 24:19. En die huwelik, hoe eerbaar en heilig ookal, is ‘n verbygaande staat en tot die aardse bedeling beperk, want in die opstanding, word nie meer in die huwelik geneem nog ten huwelik uitgegee; die saliges is dan soos die engele van God in die hemel, Matth. 22:30. Maar binne die grense het Christus die huwelik erken en eerbiedig as ‘n instelling van God .

Reeds die bywoning van die bruilof te Kanaan en die eerste wonder, wat hy daar bewerk het, lewer hiervan ‘n oortuigende bewys. En voorts het Hy die huwelik daarin bo alles geëer, dat Hy dit teruggebring het na die oorspronklike verordening van God en handhaaf as veilige hawe teen allerlei sonde. Jesus kom nie om ‘n nuwe wet te gee nie, ook nie betreffende die huwelik nie, maar Hy kom, om die wet en die profete te vervul en tot volle uitwerking en toepassing te bring (Matt. 5:17-20). As Hy dan ook in die bergrede die sewende gebod verklaar, verbied Hy nie alleen die sonde van owerspel nie, maar sê Hy dat selfs hy wie wellustig na ‘n (getroude) vrou kyk, alreeds in sy hart owerspel met haar bedryf het. So iemand het, sover dit Hom betref, reeds veroorsaak dat die getroude vrou owerspel bedryf en haar eg verbreek het. Maar nie alleen mag niemand die eg van ‘n ander verbreek nie, hy mag ook sy eie huwelik nie vernietig nie. Moses het wel toegelaat (Deut. 24:1-4), dat ‘n man aan sy vrou ‘n skeibrief gee en haar laat gaan; maar dit was ‘n toelating vanweë die verhardheid van harte en nie in die oorspronklike ordening van God gegrond nie; dit was wettiglik voor die reg, maar nie moreel regverdigbaar nie, nie in die gewete geoorloof nie (Matt. 19:1-12).

Onder die dissipels van Jesus behoort dit dan ook anders te gaan. Wie sy vrou verstoot, om ‘n ander te trou, doen nie alleen self owerspel nie, maar veroorsaak ook dat die verstote vrou owerspel doen en so ook diegene, wat haar ten huwelik neem, Matth. 5:32, 13:9. Sonde baar sonde; owerspel verwoes nie net een nie, maar meerdere huisgesinne.

Alleen in een geval staan Jesus die egskeiding toe: hoerery. In Israel het vroue nie die reg gehad om haar wettige man skei nie, alhoewel die man wel sy wettige vrou mag geskei het. As ‘n getroude vrou haar skuldig gemaak het aan seksuele immoraliteit en daardeur die eg verbreek het, dan hoef die man nog nie en was ook nie verplig om hierdie vrou te verstoot nie, maar hy mag dit tog doen, dan mag hy, met ‘n vrye gewete, sy ontroue vrou laat gaan en die eg regtens as ontbonde te beskou. Jesus bedoel hiermee nie ‘n skeidingsgrond aan te gee wat wettiglik van krag moet wees en in die wet opgeneem moet word nie. Hy laat hom daaroor in die geheel nie uit nie. Hy sê nie wat die wetgewer in een of ander land aangaande egskeiding moet bepaal nie. Maar Hy gee ‘n sedelike wet, wat die gewete van sy dissipels moet bind. En daarby gaan Hy uit van die oorspronklike instelling van die huwelik,’n verbintenis van één man en één vrou tot een vlees en vir die hele lewe. So het God hulle saamgevoeg, en wat God so saamgevoeg het,  mag die mens nie skei nie, Matth. 19 : 4 – 6.

Christus oor kinders

By dit alles kom nog die groot liefde wat Jesus tot kinders betoon het. Wel gaan die koninkryk van die hemele in waarde alles te bowe; om die Evangelie se ontwil moet alles verlaat word, huis en akker, broers en susters, vader en moeder, vrou en kinders; wie vader of moeder, seun of dogter liefhet bo Hom is Hom nie waardig, Matth. 10:37. Maar onderhewig aan hierdie grondwet van die koninkryk, lê Jesus die band tussen man en vrou en ook so diè tussen ouers en kinders weer onverbreeklik vas.

Die Jode het ten alle tye die gewoonte gehad om allerlei ondeurdagte en behoeftige geloftes te maak waarmee hulle hul verbind het om, as ‘n mate van om gevaar te voorkom of een of ander voordeel verkry is, ‘n gawe vir die tempel en vir die godsdiens af te sonder.  Die Rabbyne het nie hierdie kwade gewoonte oorkom nie, maar probeer wel om die hand daarop te hou, dat so ‘n belofte, eenkeer afgelê, in ooreenstemming met die wet, Deut. 23:21–23, gehandhaaf en vervul sou word.  Dit gaan sover, dat die gelofte soms nagekom word, ten koste van die sedelike verpligtinge, wat kinders teenoor ouers het.

En daarteen kom Jesus op Matth. 15:4–6, Mark. 7:10–12: as iemand sê: wat ek aan my ouers kon gestuur het vir hul ondersteuning is ‘n offergawe, dit wil sê, is deur my in ‘n gelofte vir die tempel afgestaan, en as die wetsgeleerde dan sê, dat so ‘n gelofte nie terwille van die ouers die verskuldige eer verbreek mag word nie, dan veroorsaak hy deur dit alles, dat ‘n kind niks meer vir of aan sy vader of moeder kon doen nie.  Dan word die gebod van God kragteloos gemaak deur menslike insettinge.

Soos Jesus hier in die algemeen die krag van die vyfde gebod herstel, so toon Hy elders meermale ‘n diepe besef te hê van die tere verhouding, wat tussen ouers en kinders bestaan. Hy het medelye met die maansieke en doofstom kind, wat ‘n man tot hom bring, en genees hulle van hul krankheid, Matth. 17:14. Hy red die kind van die koninklike hof van die dood, Joh. 4:49, word met innerlike ontferming oor die weduwee te Nain bewoeë, wat haar enigste seun grafwaarts dra, en roep hierdie seun terug in die lewe, Luk 7:12ev, en wek ‘n tyd daarna die dogtertjie van Jairus uit die dood op, Luk. 8:41ev. En self het Jesus met ‘n groot, innige liefde ook die kinders liefgehad. Hy laat die kinders regstreeks na Hom kom en lê hul seënend die hande op, Matth.19:13ev. Hy stel hulle in hul eenvoud, opregtheid en nederigheid aan sy dissipels as voorbeeld, Matth. 18:3, en verheug Hom oor die kleinstes, wat in sy Naam glo, Matth. 18:5. As die kinders dan op die dag van sy koninklike intog in Jerusalem in die tempel Hom hul hosanna’s toeroep, dan sien Hy daarin die gedagte van die Ou Testament vervulling, dat die Here uit die mond van die jong kinders en die suigelinge sy sterkte grondves en lof toeberei, Matth. 21:16.

Die apostels oor die Christelike gesin

Met die woorde van Christus kom die hele onderwys van die apostels ooreen.  Reeds is dit  opmerklik dat hulle as broers van die Here, waarskynlik almal, behalwe Paulus, getroud was, met name ook Petrus, Matth. 8:14; 2 Kor. 9:5. Wel ag Paulus soos Jesus, dat die ongetroude staat in sommige gevalle die voorkeur verdien, 1 Kor. 7:1ev, maar hy is ver daarvan om die huwelik as onwettig of die huweliksgemeenskap as onrein te veroordeel.  Inteendeel, teenoor diegene wat die onthouding van die huwelik en allerhande kos beveel, hou hy vol dat alles goed is en dat daar niks verwerpliks is nie,  indien dit met danksegging geneem en deur die woord en die gebed geheilig word, 1 Tim. 4:3–5. Die huwelik is nie net alleen eerbaar nie, Hebr. 13:4, maar dit was reeds van sy instelling af en bly tot sy wese ‘n skaduwee van die die intieme gemeenskap wat tussen Christus en sy gemeente bestaan. Die aardse huwelik is ‘n beeld van die hemelse, en dien om die hemelse voor te berei; want die einddoel van die geskiedenis is, dat daar ‘n mensheid kom, waarvan Christus die Hoof is en waarin alles en almal is, Ef. 5:32.

Die huwelik as skeppingsordening van God van die begin af

Die huwelik is daarom wel geen Christelike instelling, in diè sin, dat dit aan die Christendom sy oorsprong en reël te danke het nie.  Immers, die dagteken van die skepping, ontvang toe onmiddellik sy reël en reg, en kom, (hoe dikwels dit ookal ontaard) by alle volke voor. Ook die Nuwe Testament gaan soveel te meer tot die oorspronklike instelling van die huwelik terug om daaraan die reëling te verkry, waarna dit ook tans ingerig behoort te word.

Adam is eerste gemaak, daarna Eva; die man is die beeld en die heerlikheid van God, maar die vrou is die heerlikheid van die man; die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit die man; die man is nie geskape terwille van die vrou nie, maar die vrou terwille van die man; en Adam is nie verlei nie, maar die vrou, wat verlei is, het oortree. Op al hierdie oorwegings word die vermaning gegrond, dat die vrou die man as hoof van die gesin erken en hom onderdanig moet wees, 1 Kor. 11:7–9; Tim. 2:12–14. Die in die skeppingbegronde ordening word dus deur die besonder openbaring nie verswak of tot niet gemaak nie. Maar dit word daardeur bevestig en versterk, dit ontvang daardeur ook ‘n ryker sin en ‘n dieper betekenis.

As die huwelik ‘n beeld is van die gemeenskap tussen Christus en sy gemeente, dan behoort dit allereers daaruit te kom, dat beide man en vrou, hul huweliksverbond aangaan in die Here, 1 Kor 7:39. In die algemeen vermaan die apostel die gelowiges, om nie met die ongelowige in een juk te trek nie, 2 Kor. 6 : 14. Hy wil daardeur nie alle verkeer met die heidene afsny nie, want dan sou die Christene eintlik uit die wêreld moet gaan, 1 Kor 5:10; 10:27. Maar sonder twyfel is dit tog sy bedoeling, dat die  gelowige nie so ‘n gemeenskap met die ongelowige sal aangaan, waardeur hulle van hul eie vryheid beroof, aan hul Christelike plig ontrou, en onder die juk van die ongelowige gebring kan word nie.

Al spreek Paulus in die algemeen, tog is dit nie ongeoorloof, om sy woord ook op die gemengde huwelik (met ‘n ongelowige) toe te pas nie. Want so ‘n huwelik lewer ernstige gevaar op, dat die gelowige eggenoot tot ‘n skikking in die lewe kom, wat met die koningskap van Christus in stryd is. En dit mag nie: selfs as die een eggenoot tot Christus bekeer word, en die ander ongelowig bly, soos in die dae van Paulus meermale plaasgevind het, dan behoort die Christelike eggenoot tog die toon aan te gee. Sy huisgesin behoort ‘n Christelike huisgesin te wees, waarin die ongelowige man deur die gelowige vrou geheilig word en ook die kinders self heilig te wees, 1 Kor. 7:14.

Want ‘n Christelike gesin, is ‘n gesin in die Here, ‘n gesin in die gemeenskap met Christus, ooreenkomstig sy voorbeeld en bevel, in die eenheid van sy gees. Die belydenis van Christus maak die natuurlike orde nie tot niet nie; die man bly man, die vrou bly vrou en die kinders bly kinders. So ook die slaaf, wat tot die Here bekeer word, daardeur nie ophou om slaaf te wees nie.

Redding in Christus vir die gesin, heilig die onderskeie verskeidenheid, verhoudinge en take, dit vernietig nie God se skeppingsordeninge nie

Maar die verhouding van man en vrou, van ouers en kinders, word tog, terwyl hulle deur die sonde ontaard en verwoes was, deur Christus herstel en vernuwe.  Die man bly dus die hoof van die gesin, terwyl hy die beeld en die heerlikheid van God is, en die vrou bly hom onderdanig, omdat sy, na en uit en vir hom geskape, die heerlikheid van die man is. Maar tog, hoe word die verhouding tot mekaar vernuwe en geheilig! In Christus is daar geen man of vrou, Gal. 3:28, beide is erfgename van die genade van die lewe, 1 Petr. 3:7, beide het dieselfde geloof, dieselfde doop, dieselfde nagmaal, dieselfde Heilige Gees ontvang, beide het dieselfde toegang tot die Vader.

Al bly die natuurlike onderskeid en die oorspronklike verhouding tussen man en vrou ook bestaan, dit kry tog alles ‘n ander karakter: die man moet die vrou liefhê, vir haar lewe en hom vir haar oorgee, soos Christus die gemeente liefgehad en Hom vir haar oorgegee het, en die vrou moet die man onderdanig wees in die Here, Ef. 5:22–33, Kol. 3:18,19, 1 Petr. 3:1–7. En so ook bly die kinders ooreenkomstig die gebod, veplig tot gehoorsaamheid aan hulle ouers, Ef. 6:1–3, maar hulle staan nie teenoor mekaar nie, hulle vorm ‘n gemeenskap in die Here; ook die kinders is heilig, behoort tuis op op die erfplaas van die gemeente en sy erfgename van die belofte van die verbond, Hand. 2 : 29, 1 Kor. 7 : 14, Tim 2 : 15. Ouers moet hulle kinders opvoed in die lering en vermaning van die Here, en kinders moet hulle ouers liefhê en gehoorsaam wees in die Here, Ef. 6:1,4; Kol. 3:20,21.  Manne, vroue, kinders vorm (al word hul onderskei) ‘n uitverkore geslag, ‘n heilige volk, ‘n koninklike priesterdom, 1 Pet. 2:9.

Huwelik en besondere ampte

Indien die huwelik so ‘n innige gemeenskap van man en vrou is, dat dit ‘n voorbeeld mag wees van die eenheid van Christus en sy gemeente, dan spreek dit vanself, dat dit nie anders kan wees as ‘n verbintenis van ‘n man en ‘n vrou, wat vir hulle hele lewe gesluit word, en alleen deur die dood ontbind kan word.  Soos Christus, sê ook Paulus, dat elke man sy eie vrou sal hê, 1 Kor. 7:2, Ef. 5:31,33, dat in die besonder die ouderlinge en diakens met nie meer as een vrou in gemeenskap mag lewe nie, 1 Tim 3:2,22; Tit. 1:6, en dat die twee tot een vlees sal wees, Ef. 5: 31; 1 Kor. 6:16. En so ‘n verbintenis duur tot die dood.

Paulus oor die huwelik in 1 Kor. 7

Ook ‘n verskil in godsdiens, wat soms deur die oorgang van een van die gades na die Christendom ontstaan, ontbind die huwelik nie; ‘n eggenoot, wat gelowig geword het, mag sy wederhelfte nie verlaat nie, 1 Kor. 7:12–14, en wanneer hierdie geval hulle in stryd met die gebod van God voordoen, dan moet die eggenoot wat geskei het, ongetroud bly of terugkeer en hom met sy wederhelfte versoen, 1 Kor 7:11. Wanneer die ongelowige  eggenoot die egskeiding voltrek het, bly die skuld daarvan vir sy rekening en kan die gelowige eggenoot nie verplig word om deur dwang die verbreekte verbintenis weer te hervat nie, 1 Kor. 7:15. Of hierdie gelowige eggenoot, wat sonder skuld deur sy wederhelfte verlaat was, ‘n ander huwelik mag aangaan, word nie deur Paulus gesê nie. Dit was vir hom genoeg, om daarop te wys, dat die gelowige eggenoot vanaf sy kant nooit die huwelik mag verbreek nie.

Die verval van die huwelik deur hoerery en geboortebeperking

Deur al hierdie voorskrifte en onderwysinge is die Christendom vir die gesinslewe ‘n ryke seën gewees. In die outyd was die huwelik by die Romeine die hoogste eer, en die huisvrou beklee in die familie ‘n aansienlike plek. Maar toe die Griekse en Oosterse sedes Rome binnedring het die eenvoud plek gemaak vir rykdom en weelde, en tree daar langsamerhand ‘n sedelike verval in  wat in die dae van Paulus ooreenkomstig sy beskrywing in Rom. 1:26ev ‘n verskriklike hoogte bereik het. Die huwelik het dikwels bestaan slegs uit ‘n (met wedersydse goedkeuring ) tydelike saamleef;  egskeiding was aan die orde van die dag.

Wanneer ‘n man nie ten volle aan die huwelik deelneem nie, en uit gemaksug en op ander wyse bevrediging van sy wellus soek, leef  so ‘n man tog in die praktyk nie as ‘die-man-van-een-vrou’ nie (1 Tim. 3:2), maar onderhou gemeenskap met hoere en dwing daardeur die wettige vrou hoe langer hoe meer op die agtergrond. Die geboorte word willekeurig beperk: die kinders word ter opvoeding aan die slawe toevertrou en van ‘n familielewe tussen man en vrou, tussen ouers en kinders was daar in verskillende kringe van die maatskappy hoegenaamd geen sprake meer nie.  En by al hierdie ongeregtighede kom dan nog die sogenaamde onnatuurlike sondes, waarby die natuurlike gebruik van die vrou verander in ‘n gebruik teen die natuur en manne met manne skandelikheid bedrywe (Rom, 1:25-32). Dit lyk soms, asof die dae voor die sondvloed en die gruwel van Sodom en Gomorra teruggekeer het.

Christus bring verdeelheid in die gesin en familie …

In hierdie onsedelike samelewing maak die belydenis van Christus sy intrede. Die mens mag nie vergeet dat Christus menigmaal groot verdeeldheid in die huisgesin gebring het nie. Christus het nie gekom om vrede te bring nie, maar om die swaard op die aarde te bring, en om tweedrag te veroorsaak teen sy vader, en die dogter teen haar moeder, en die skoondogter teen haar skoonmoeder.  Die oudste geskiedenis van die Christelike kerk lewer hiervan vele voorbeelde; man en vrou, vader en seun, moeder en dogter, broer en susters kom dikwels terwille van geloof as vyande teenoor mekaar te staan, en menigeen, wat die Christendom omhels, het alles verlaat, om Christus waardig en sy dissipel te wees. Wat moes dit Perpetua gekos het om die geweld, die gebed en die trane van haar vader te weerstaan en haar belydenis getrou te bly!

… Maar ook liefde en hoop 

Maar daarteenoor staan dat die Christelike geloof vrede bring in die harte, en in menige huis die liefde laat terugkeerDie Christendom werp die natuurlike ordening en instelling nie omver, maar stort ‘n nuwe gees in en hervorm dit van binne uit. Dit maak die vroue van die manne nie los, en die kinders nie van die ouers, en die diensknegte nie van hulle heer, en die arbeiders nie van hul beroep, en die onderdane nie van die staat nie. Maar dit maak hul beter vroue en kinders, diensknegte en diensmaagde, arbeiders en burgers van, en lei hulle so tot Hom terug. Dit maak geestelik vry en herskep juis daardeur die aardse verhoudings. Wie ‘n dienskneg genoem word, bly ‘n dienskneg, maar word ‘n vrygelatene van die Here, en wie as vrye geroep word, dié word ‘n dienskneg van Christus 1 Kor. 7:22. Juis deur hierdie prediking van gehoorsaamheid en liefde het die Christendom wondere verrig.

Christelike vroue se dienswerk in die gemeentes en gesinne

Van die aanvang af vind dit veral ook by die vroue ingang. Nie alleen word Jesus by sy omwandeling in Galilea en Judea deur verskeie vroue vergesel nie, maar na die hemelvaart kom hulle met die apostels saam en ontvang saam met hulle die gawe van die Gees. In die gemeente, wat deur die apostels of hulle mede arbeiders gestig word, tree telkens vroue op die voorgrond en spel ‘n belangrike rol. Uit Jerusalem word ons van die vele vroue, wat daar tot die gemeente behoort, Hand. 1:14, 5:14, nie alleen Maria, die moeder van Jesus nie, maar ook Maria, die moeder van Markus, getuig, Hand. 12 : 12. Terwyl ons van Thessalonica en Berea in kennis gestel word dat vele vroue alreeds tot die Here bekeer was, Hand. 17: 4,20, maak die Handelinge en die Briewe van die Apostels ons in Joppe met Tabita, in Plilippi met Lydia, in Athene met Damaris, in Efese met Priscilla, in Kenchreae met Phoebe, in Colosse met Nymphe, in Philippi met Euodia en Syntyche bekend; en in Rom. 16 noem Paulus naas agttien broers nie minder nie as agt susters , aan wie hy sy besondere groete stuur.

Vele van hierdie vroue verrig ook gewillige dienswerk in die gemeente; sy ontvang hulle in haar huis, Hand. 12:12; 1 Kor. 16:19, help die apostels in die werk van die bediening, Rom. 16: 3,6, tree soms in die vergadering van die gelowiges op, wel nie om te leer nie, 1 Kor 14:35, 1 Tim. 2:12, 1 Petr. 3:1, maar tog om te bid en te profeteer, 1 Kor. 11:5, en word miskien soms ook, sonder om ‘n bepaalde amp  te dra, met een of ander werksaamheid in die midde van die gemeente belas, Rom 16: 1, Tim. 3 : 11, 5 : 3 – 16.

Uit latere tyd weet ons, dat die prediking van die Evangelie veral ook by die vroue ingang gevind het, en self werk sy aan die verspreiding van die Evangelie mee; bo die manne styg sy dikwels uit in ondersoek van die Skrifte en in die kennis van die waarheid; in standvastigheid van die geloof blink sy dikwels bo die manne uit; vele ondergaan vir die belydenis van Christus die marteldood, en word deur die gemeente hoog aangeslaan, en dikwels ook deur die heidene bewonder.       

Hierdie geestelike verheffing van die vrou het ook die huishouding bevoordeel.  Dit is opreg gesê, dat die Christendom die skoonheid en die rykdom van die gemoedslewe van die vrou weer aan die lig gebring het.  Dit het die vrou wel uitgesluit van die kerklike amp en haar nie tot die amp van ‘n priesteres verhef nie, maar het ‘n algemene priesterskap van die gelowige ingevoer, waarin ook die vrou, en die vrou nie die minste nie, gedeel het.

Die betekenis , wat die vrou in die gemeente verkry het, werk op haar maatskaplike posisie in. Terwyl sy langsamerhand in die Romeinse wêreld tot ‘n slavin of ‘n genotmiddel van die man verlaag was, word sy nou weer ‘n eie, selfstandige persoonlikheid, met ‘n eie gedagte en wil. Sy bly sy hulp, maar is met hom ‘n erfgenaam van dieselfde genade van die lewe. Man en vrou word in die Christelike geloof aan mekaar teruggeskenk, en allerlei sondes van hoerery en ontug, owerspel en egbreek moet wyk voor die liefde, wat beide verbind. Die Christendom het die huwelik geheilig, van allerlei ongeregtighede bevry en weer bevestig op die grondslag van die Goddelike gebod.

En soos die man en vrou weer saamgevoeg is, so het ook die ouers teruggekeer na die kinders, en die kinders na die ouers. Die vrou word weer moeder in die ware sin van die woord, nie alleen voortbringer nie, maar ook opvoeder van haar kinders. En die kinders kry regte o.a om nie reeds voor die geboorte vrylik versmoor of na die geboorte dood gemaak of verlaat te word nie. In die korrupte samelewing was daar eintlik geen vaders en geen moeders, geen eggenote en geen kinders meer nie. Maar nou word hul almal weer saamgebind tot ‘n kring en in ‘n gesin ; en die gesin was nie bloot ‘n deel van die staat nie, maar hul kry ‘n selfstandige bestaan en word die grondslag van hele samelewing.
________________________________________
Gebruik gerus hierdie twee bronne om verder te leer oor die huwelik en gesin volgens die Heilige Skrif:

Huwelik en Gesin in die Heilige Skrif, ds. MJ Booyens

Hoopvolle Lewe vir die Christelike Huisgesin, Jay E. Adams

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑