Vyf opmerkings op dr. Wim Vergeer se artikel: “Kanttekeninge oor 1 Tim. 2:9-3:1” in Die Kerkblad

Vyf opmerkings op dr. Wim Vergeer se artikel: “Kanttekeninge oor 1 Tim. 2:9-3:1” in Die Kerkblad

“Die verlossingswerk van Christus hef die sondige ongelykheid op, maar nié die skeppingsprimaat van die man nie, en ook nié die genadige ordereëling van God vir hierdie sondebedeling nie (net soos die owerheidsgesag nie deur Christus opgehef is nie). … Dit is baie belangrik om daarop te let dat die apostel Paulus vir hierdie sondebedeling hom nie beroep op konvensie nie; nie op die eietydse siening van die plek van die vrou nie — daarvoor was die Kerk die wêreld ten ene male te ver voor! Maar hy beroep hom steeds op God se openbaring in die begin: eerstens op die sondestraf en genadige ordereëling van God, bv in 1 Tim 2:14; tweedens op die man se Godgegewe skeppingsprimaat, bv in I Kor 11:8,9 en I Tm 2:13. … Die wyse waarop Paulus sy reëling hier in die Skrif self fundeer, sluit alle reg uit van enige wegredenering van I Tim 2:11-15 as sou dit ’n bloot tydgebonde reëling wees vol gens eerste eeuse sosiale praktyke.” – prof. dr. JC Coetzee

“1 Timoteus 2:9-3:1 bepaal dus nie ewiggeldende ordereëlings vir die erediens nie, maar word gegee om die hierbo gestelde godgegewe doelwit (om alle mense te red) in Efese te dien … Dit kan dus voorsien word dat Paulus hier die gelowige vroue van Efese aanmoedig om hulle ter wille van die evangelieverkondiging te skik by voorskrifte wat in pas is met die eerste-eeuse Judaïstiese lewens en wêreldbeskouing van die omgewing waarin hulle woon. … Indien die voorskrifte in 1 Timoteus 2:9-3:1 wel as voorskrifte vir die erediens beskou word, is die selektiewe toepassing hiervan in die Gereformeerde kerkpraktyk nie versoenbaar met die standaard van gesonde Skrifuitleg nie. … Sulke inkonsekwente Skrifverklaring en toepassing is onwetenskaplik, onaanvaarbaar en verdag. Die oorsprong hiervan rus nie in gedeë eksegese nie, maar lê dalk eerder in onbewuste sosiopolitiese angst en/of in ingeteelde patriargie. Hieroor moet ons onsself ondersoek.” – dr. Wim Vergeer

“Agter die benadering van die Bybel as ’n tydgebonde en daarom aan kritiek onderworpe voorstelling  van Gods heil en agter die siening van die gesag van die Bybel as tradisie-gesag, sit ’n  bepaalde Skrifbeskouing.  Daarom is dit by die bespreking van die probleme met betrekking tot die posisie van die vrou in die kerk van die uiterste belang hoe ons die Bybel en die tekste wat spreek oor die plek van die vrou in die kerk benader.” – proffs. JC Coetzee, BJ de Klerk, L. Floor[1]

INLEIDING

Dr. Wim Vergeer (GK Krugersdorp) het in Die Kerkblad van April 2024 ‘n artikel geskryf onder die titel, “Kantaantekeninge oor 1 Tim. 2:9-3:1” (bl. 22-24)

Samevattend meen dr. Vergeer:

a) “1 Timoteus 2:9-3:1 bepaal dus nie ewiggeldende ordereëlings vir die erediens nie, maar word gegee om die hierbo gestelde godgegewe doelwit (om alle mense te red) in Efese te dien.”

en hy begrond dit in die volgende stelling:

b) “Die drie teologiese idees in 1 Tim 2:13-15 kan wel nie in die Skrif teruggevind word nie, maar uit ander bronne weet ons dat dit bekende slagspreuke van die eerste-eeuse Judaïsme was.”

en is sy konklusie van ons kerke, die GKSA se verklaring van hierdie gedeelte:

c) “Die huidige Gereformeerde standpunt oor 1 Timoteus 2:12, soos verwoord in verskeie besluite van die Sinode is …. inkonsekwente Skrifverklaring en toepassing is onwetenskaplik, onaanvaarbaar en verdag. Die oorsprong hiervan rus nie in gedeë eksegese nie, maar lê dalk eerder in onbewuste sosiopolitiese angst en/of in ingeteelde patriargie. Hieroor moet ons onsself ondersoek.”

MY SKRYWE AS ANTWOORD DAAROP IN 5 OPMERKINGS:

‘n Bietjie later meer oor die ‘inkonsekwente Skriverklaring en toepassing’ waaroor ek dink dr. Vergeer ‘n punt het, maar wat wel baie duidelik is, is dat dr. Vergeer in lyn met die opkoms van die “sosio-historiese” verklaringsmetode[2] van die 20ste eeuse metode, baie duidelik:

a) teen die gereformeerde openbaringshistoriese Skrifverklaring is (wat wel ‘kultuurhistoriese’ inligting nog altyd gebruik en erken het deur die eeue[3]), van die sinodes wat besluit het dat op grond van die Heilige Skrif,  susters nie as predikante en ouderlinge mag dien nie, o.a. volgens 1 Tim. 2:11-15, en ander tekste (sien al die studierapporte, hantering van beswaarskrifte, ens. in die Actas van die GKSA[4]).

b) dat hy meen die gelowiges deur die eeue, die teoloë deur die eeue, en dan veral mede-gelowiges in die GKSA wat met hom verskil oor hierdie saak, en veral die ekgese van 1 Tim. 2 en 3 die afgelope paar dekades, dat ons siening, meen hy, dalk se “oorsprong hiervan rus nie in gedeë eksegese nie, maar lê dalk eerder in onbewuste sosiopolitiese angst en/of in ingeteelde patriargie.”

Ek is dankbaar vir die openhartigheid waarmee dr. Vergeer skryf, en dat hy meen dat na 2000 jaar het hy uiteindelik by die betekenis van sekere tekste gekom. Alles wat hy skryf in sy artikel roep uit hoe ver hy verwyder is van die Skrifbeskouing en Skrifgesag siening van ons kerke, en die gereformeerde belydenis en kerke deur die eeue.

Dr. Vergeer noem in die begin van sy artikel hoe elke gelowige, en dus nie net teoloë en kerkrade en meerdere vergaderings nie, dit vir hul inderdaad moet uitmaak wat leer die Here oor die VIDA saak, ons kan almal daaroor volkome saamstem, die oproep van Hand. 17:11 beginsel vir alle tye en gelowiges en kerke.

Dit was juis ‘n ‘gewone’ maar baie ernstige mede-lidmaat wat jare gelede vir my gevra het of VIDA, of hierdie ‘kerkregering saak’, hierdie dankbare gehoorsaamheid saak nie ten einde ons verlossingsaak ook gaan begin aanraak nie?

Dus, hoe langer jy torring en nie wil buig aan wat daar duidelik staan,[5] en dit ‘sosio-histories’ wil gaan begin weg- ‘eksegetiseer’ met ‘moderne ontdekkings en tegnieke’ oor “hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ’n pilaar en grondslag van die waarheid” (1 Tim 3:15), dus ook aan ‘wie in die besondere ampte mag dien’, die kerkregering van Christus as Koning van die kerk, dan gaan dit ten einde ook ander belangrike wesentlike sake begin raak, en gaan die twyfel en onsekerheid nog verder gesaai word, weens die onderliggende Skrifbeskouing en Skrifgesag vraagstukke wat onderliggend is aan daardie ge-torring, wat die gesag van die Skrif, kwessies van skeppingsorde oor man en vrou, ook in ons tye in wese aantas.[6]

Ek wou self eers ook mooi die duidelike onderskeid handhaaf, maar dit is al meer duidelik dat ons verskil al vir dekades nie net oor ‘gehoorsaamheid’ sake nie, maar, soos dr. Vergeer se artikel openbaar, en om sy eie woorde te gebruik, dit lyk ‘eerder’ opnuut dat ons wesentlik verskil oor Skrifbeskouing, Skrifgesag, Skrifgebruik en toepassing, en ten einde gaan die “sosio-historiese” herinterpretasie van die die Here se bevele, ook lei dat ons nou ander uitsprake van Paulus se geïnspireerde brief moet begin bevraagteken… maar is daardie verlosingswoorde, is daardie evangelie woorde van Paulus, bv. 1 Tim. 1:15 nie ook net tydelik gewees nie, dalk ‘n tydsgebonde ‘messias kompleks van die eerste eeuse kerk se gemeente teologie nie’?, en dus nie – om dr. Vergeer se eie woorde te gebruik – is die evangelie self dalk nie ‘ewigdurende’ waarhede vir all tye, mense, plekke nie, maar ‘tydsgebonde’?

Ek ondersteun ten volle dr. Vergeer se finale woorde in sy artikel, wat alle gelowiges en alle kerke en alle kerklike vergaderinge lewenslank moet doen: “Hieroor moet ons onsself ondersoek”, wat geld vir ons almal, Hand. 17:11, en daarom doen ek ‘n beroep op hom en almal wat sy standpunt oor VIDA volg, om dit ook saam ons te doen, soos wat ek graag wil doen met my bydrae hier onder as antwoord op sy artikel (Matt. 7:12):

Ek wil aantoon wat ek hierbo vermeld, deur dr. Vergeer se artikel volledig hier onder te plaas, en dan met my eie 5 opmerkings daarop te antwoord tussen sy artikel. Mag ons elkeen afsonderlik, en inderdaad ja, die hele kerkverband, in lyn met dr. Vergeer se oproep (sien sy laaste twee sinne in sy artikel), dat ons ons hieroor moet ondersoek, of al die onrus en onenigheid in ons kerkverband oor VIDA, nie juis veroorsaak word deur ‘n Skrifbeskouing en eksegese wat eerder in ‘n ‘onbewuste’ en ‘ingeteelde’ 20/21ste feministiese anti-God se skeppingsorde sy oorsprong het nie?  Ja, ons moet heeltyd reformeer, ook alle vorme van misbruike teen enige man, vrou en kind, maar volgens die Skrif, nie die anti-vroulike feministiese òf anti-manlike chauvinistiese tydsgees nie, maar deur die werk van die Gees wat volgens en deur sy Woord werk, Matt. 4:4; 2 Tim. 3:14-2 Tim. 4:5.

Nota: my artikel as antwoord is nie bedoel om ‘n volledige verklaring van die bepaalde teksgedeelte (1 Tim. 2:9-3:1) en onderwerp te wees nie (sien onder aan die artikel vir die pastorale briewe kommentare en bronne wat ek aanbeveel), maar beperk ek my, op grond van dr. Vergeer se artikel, tot die volgende vyf opmerkings wat hier afgelaai en gelees kan word:

Vyf opmerkings op dr. Wim Vergeer se artikel: “Kanttekeninge oor 1 Tim. 2:9-3:1 in Die Kerkblad

Hier is die 5 opmerkings of hoofpunte wat ek aanspreek in bogenoemde artikel, let wel: dit is net ‘n opsoming en ‘n paar aanhalings daaruit, gaan lees asb. die artikel self vir die volledige vyf opmerkings:

Opmerking 1a: Die Sinode van Dordt se optrede teenoor hulle wat nie wou instem met die gesonde leer nie (1 Tim. 6:3-5).

Opmerking 1b: ‘n Paar van die Statevertaling se kanttekeninge oor 1 Tim. 2:11-15.

Opmerking 1c: Dirk Postma se Skrifverklaring metode in kontras met die sosio-historiese metode.

Opmerking 2: Nie net die voorafgaande konteks van 1 Tim. 2:9-3:1 nie, naamlik 1 Tim. 2:1-8 nie, maar ook die konteks wat volg, 1 Tim. 3:1-15 en verder, moet help om daardie teksgedeelte reg te verstaan.

Opmerking 3a: Die ‘elke plek’ (1 Tim. 2:8) wat dr. Vergeer wil verstaan as net betrekking op die ‘ganse lewe’, wys eerstens en in die besonder op ‘eredienste en samekomste’, soos die onmiddelike en verdere konteks van die Skrif duidelik openbaar. 

Opmerking 3b: Die ‘elke plek’ van 1 Tim. 2:8 wys op die uitbreiding van die ‘plekke van samekomste, eredienste’ in die OT onder Israel, na die ‘plekke van aanbidding, samekomste’ onder alle volke en plekke en tye, en dan het dit natuurlik, ook betekenis vir die algemene en ganse lewe van die gelowige in alle verhoudings en alle plekke.

Opmerking 3c:  Die ‘elke plek’ hef dus nie die besondere ‘elke plek’ van aanbidding en eredienste op nie, maar bevestig dit en leer dat gelowiges sekere geloofshandelinge en onderrigtake op een plek kan uitvoer, maar nie op ander nie, alles soos die Here bepaal en beveel volgens sy Woord.

Opmerking 4: Die wesentlike van die plasing van die frase ‘dit is ‘n betroubare woord‘ (aan die einde van 1 Tim. 2 of begin van 1 Tim. 3), is nie nie waar dit geplaas word nie, maar a) wat dit beteken en waar dit vandaan kom, en b) hoekom dr. Vergeer dit aan die einde van 1 Tim. 2 wil plaas. Dit alles openbaar waarom dr. Vergeer nie 1 Tim. 2:11-15 as God se ewigdurende wil vir Christus se kerke se inrigting wil sien nie, en waarom hy sy kerkverband se leerbesluite daaroor verwerp.

BELANGRIKE VRAAG wat dan vir dr. Vergeer gevra word op grond van sy verklaring van die funksie en doel van die ‘dit is ‘n betroubare woord’ frase:

“Is dit wat hy beweer, dan ook waar vir die ander “dit is ‘n betroubare woord” frases in die onmiddelike konteks, dus dat bv. 1 Tim. 1:15 nie die produk is van die Gees se ewige wil vir alle tye en plekke nie, maar ook (soos die Nuwe Hervormers en liberale teologie nog altyd beweer), die produk is van voor, tydens en na Christus opgevaar het se ‘gemeente teologie’, wat ‘n messiaanse verlossingsidee gehad het wat beïnvloed en bepaal is deur hul sosio-historiese tye, nl. Grieks-Romeinse mites en fabels oor redders en messiasse, en dit dan oorgedra het na die ‘opgestane Here Jesus’, in kontras met die ‘historiese Jesus’?”

Opmerking 4b: Die regte verstaan van die “dit is ‘n betroubare woord‘ in verhouding tot 1 Tim. 2:11-15 én 3:1 en wat volg.

Opmerking 4c: Weerlegging van dr. Vergeer se bewering dat daar nie deur die Skrif gesag gekoppel word aan die ‘skeppingsprimaat’ Adam, in verhouding tot Eva nie, en dat dit dus daarop wys dat vanuit die skeppingsorde deur God gestel, is daar ‘ewiggeldende ordereëlings’ vir die huwelik en gemeente verhoudings tot die laaste dag.

Opmerkings 5: Ek stem saam met dr. Vergeer se vermelding oor sekere inkonsekwente besluite oor bv. die diakonale amp, maar antwoord wat die regte weg is om dan te bewandel kerkordelik, en spreek ook sy argument aan van dat of alle voorskrifte ‘letterlik’ toegepas moet word ook vandag en dat ons kerke sogenaamd 1 Tim. 2:11-15 net selektief toepas.

Opmerkings 6a: In antwoord op dr. Vergeer wat beweer die sinodes en teoloë van die GKSA se verklaring van 1 Tim. 2:11-15 is nog in navolging van ‘die eerste eeuse Judaïsme (se) lewens en wêreldbeskouing’ en dat ons ‘selektiewe toepassing’ van sekere voorskrifte ‘dalk eerder in onbewuste sosiopolitiese angsten/of in ingeteelde patriargie wat ons moet ondersoek, vra ek ook dat die ondersoek na die anderkant ook sal plaasvind:

“So, ons moet ons as kerke ook ondersoek dat alles wat dr. Vergeer hier geskryf het (in sy artikel), nie dalk die vrug is, onbewustelik dalk by baie, van onverantwoordbare ongesonde eksgese, dus nie die ‘Skrif alleen’ verantwoordbare eksegese nie, maar die feministiese ideologie van die 20/21ste eeu wat hier ‘n groot rol speel om by VIDA uit te kom.”

Opmerking 6b: Wat Gal. 3:28 nog altyd beteken, ook vir ons en alle tye, ook vir die verstaan van 1 Tim. 2:11-15.

Slotopmerking 7: “Mag die Here ons genadig wees, om verder te reformeer, afsonderlik en saam, dat misbruike van beide chauvinisme en feminisme deur die eeue, nie ons eksegese, prediking en kerklike agendas sal bepaal nie, maar die Here alleen, deur sy Gees en Woord. Mag manne en vroue van die Here almal saam en afsonderlik, in die ‘amp van gelowige’ en hulle wat tot die ‘besondere ampte’ geroep word, se fokus op die Here se eer wees, die verkondig van sy evangelie orals, maar wel volgens sy goeie wil, soos geopenbaar word in die Skrif vir alle tye en plekke.

Mag elkeen wat hier lees, in gebed deur die Gees sy Woord verder ondersoek (Hand. 17:11) en aanhou reformeer oor ons roeping en taak, alles tot eer van God en die diens in ons gemeentes, want die doel van die evangelie, verlossing en kerkwees, van alle ‘ampte of dienste’ sien ons juis daar in die Pastorale Briewe, in die volgende verse:

Dit is ’n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is. Maar daarom is aan my barmhartigheid bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid sou betoon, om ’n voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die ewige lewe. Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.” (1 Tim 1:15–17)

Soli Deo Gloria!

Volledige artikel: 

Vyf opmerkings op dr. Wim Vergeer se artikel: “Kanttekeninge oor 1 Tim. 2:9-3:1 in Die Kerkblad

____________________________________

Verdere bronne om te bestudeer oor die onderwerp:

1) Dr. Woodhouse lectures on 1 Timothy

Prof. John W. Woodhouse (emeritus, Moore Theological College, Australia) het ‘n paar jaar gelede terug deur 1 Timoteus gepreek of lesings gehou, ek wil dit sterk aanbeveel vir enige gelowige en kerk wat nog worstel na soveel dekades oor hierdie onderwerp. Sy verklaring en toepassing, wat na alle kante in die debat sny in terme van beide die saak self en hoe ons dit voer, is baie leersaam en waardevol, ook vir ons tye. Hoor veral sy laaste samevattende leersinnige en pastorale opmerkings na die 1 Tim. 2:11-15 gedeelte wat hy in detail behandel het, vir goeie selfondersoek na beide kante van die debat.

Hier is die begin van die reeks: https://www.youtube.com/playlist?list=PLQ20r982e5fCZt-yBmYSD8-5GEGmauobJ

2) Sien die volgende artikels van proffs. Floor en GW Knight:

‘n Eervolle plek vir die vrou in die Kerk van Christus: https://wp.me/aM9VW-3jb

Die rol van vroue in die kerk: https://proregno.com/2011/12/06/die-rol-van-vroue-in-die-kerk/

Vroue diakens?: https://proregno.com/2010/01/21/vroue-diakens/

3) VIDA verwante artikels op Pro Regno hier beskikbaar: https://proregno.com/category/vida/

4) Kommentare om te raadpleeg op 1 Timoteus: Calvyn, Hendriksen, Ridderbos, Mounce, Knight, ens.

https://www.ligonier.org/learn/articles/top-5-commentaries-pastoral-epistles

5) Belangrike artikels en bronne oor  gereformeerde openbaringshistoriese Skrifverklaring, veral vanuit die GKSA:

https://proregno.com/2023/07/31/bybels-gereformeerde-beginsels-en-metodes-van-skrifverklaring-en-toepassing/

One thought on “Vyf opmerkings op dr. Wim Vergeer se artikel: “Kanttekeninge oor 1 Tim. 2:9-3:1” in Die Kerkblad

Add yours

Leave a reply to ricrogers@absamail.co.za Cancel reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑