Dr. Willie Marais (1929-2014) – VDM !

DR. WILLIE MARAIS (1929-2014) – VDM !

Ek het vandag ‘n berig ontvang dat dr. Willie Marais gister oorlede is. Verder het ek nie veel meer inligting nie, ons medelye gaan uit aan sy vrou, gesin en familie.

As jong seun was ek lidmaat van die NG Kerk Pretoria-Oos waar hy predikant was, en van al die NG predikante wat ek gehad het, kon ek hom nog die beste onthou.  As klein seuntjie het hy ‘n blywende indruk op my gelaat. Hier was ‘n man wat werklik geglo het in die Bybel. Hier is ‘n man wat met gesag die Woord van God verkondig het, juis omdat hy soos ‘n kindjie daarin geglo het.

Een insident onthou ek nog goed: ds. Willie het soos gewoonlik laaaaaaaaaaank gepreek, op ‘n warm somer Sondagoggend.  Na ‘n lang ruk se prediking, sê ds. Willie toe:

“Ja, ek sien julle kyk heeltyd op jul horlosies, maar ek is nog nie klaar nie, julle wil seker nou hê ek moet klaar maak sodat julle die Rapport kan gaan koop !?”

Ds. Willie was soos die goeie onderwysers wat ‘n mens ook altyd sal onthou – die soort mense wat jou nie net aan jouself oorgelaat het om te doen wat jy wil nie, mense wat streng tog liefdevol was om die waarheid aan jou te bring.  Diensknegte van Christus.

Later in my lewe het ek hom altyd onthou as die oom, as jy hom met ‘n speld sou steek, dan bloei hy ‘Byblikaans ‘ !  Luister gerus na die volgende onderhoud wat Radio Pretoria met hom gevoer het, om te hoor hoe ‘bloei’ oom Willie Marais oor die groot liefde in sy lewe:

Radio Pretoria onderhoud

Ag, mag die dag kom dat ouers, kinders, lidmate en veral predikante, ouderlinge, diakens en professore weer so lief is vir die Heilige Skrif !

Oom Willie het my laat dink – dit is hoe Paulus sou gelyk en geklink het as hy vandag sou gepreek het, en later in my lewe het hy my ook laat dink – dit is hoe George Whitefield vandag sou geklink het in Afrikaans.

Soos ek groot geword het in die NGK het ek al meer predikante en teoloë gehoor en gesien wat nie meer die Bybel glo as die absolute onfeilbare foutlose Woord van God nie, wat kerk speel, en mistiek najaag in plaas van die waarheid.  Wat prediking nie meer sien as die eenvoudige verklaring en toepassing van God se Woord nie, maar dat daar op allerlei mistiese en visuele wyse mense begelei moet word om ‘God te ontmoet’.

‘n Proefskrif wat gedoen is oor dr. Willie Marais se prediking, openbaar iets van die ‘postmoderne denke en prediking’ wat die moderne NG Kerk vernietig het en besig is om te vernietig. Ongeag die skrywer se lofprysinge oor dr. Willie Marais se ‘toewyding, erns en eerlikheid’, is die kritiek o.a. as volg:

“In twee gevalle sou dit wel vir Marais ‘n probleem wees om die hedendaagse hoorder in sy konteks te bereik:

 – Vanweë die gebrek aan Skrifkennis van die hedendaagse hoorder sal Marais se gebruik van tekste nie effektief wees nie. Vir die hedendaagse hoorder sal daar ordentlike Skrifuitleg gedoen moet word. Met ander woorde die konteks van die teks en die konteks van die hoorder sal bymekaar gebring moet word.

 – Intussen het die homilitiek sodanig ontwikkel om die hoorder in sy konteks aan te spreek.  Hierdie kennis ontbreek by Marais om dit te kan doen.

 Vanwee sy passie vir die Skrif, sy opregtheid en sy logiese argumentering kon hy tog wel ‘n groot bydrae vir die hedendaagse prediking lewer. ….

Hedendaagse predikers sal moet leer om met minder stelligheid te preek (Van Wyk 2002 : 248). Prediking beteken vir Van Wyk nie ‘n kontrole oor en van die waarheid nie, maar ‘n verwonderende spreke oor God te midde van die uitspreek van die spreker se onsekerheid, worsteling en gebrokenheid in God se teenwoordigheid (2002 : 249).

…. Die postmoderne christen is daarop ingestel om die godsdiens op ‘n eenvoudige wyse te beoefen. Dit word opgemerk by hulle byeenkomste, waar die struktuur van nul en gener waarde is. Dit is vir hulle belangrik dat elkeen in die erediens ‘n inset lewer.   Hulle is ook daarop ingestel om die basiese van kerkwees uit te lewe soos wat ons dit in Handelinge 2 aantref. Hulle is mededeelsaam en glo ook dat die armes en die minderbevoorregtes gehelp moet word. Dus kan gesê word dat dit vir hulle belangrik is om as koninkryksmense te leef. Dit is uiters belangrik dat prediking hierop afgestem sal wees, wat nie van Marais se prediking gesê kan word nie. Sy prediking is altyd op bekering ingestel, en daarby vergeestelik en moraliseer hy baie.

Marais se preekstyl is argumentatief en voorskriftelik, en beindruk baie, maar dit is nie nie kommunikatief nie. Om regtig die postmoderne mens te bereik, sal daar baie meer van visuele beelde socs die powerpoint gebruik gemaak meet word. Ek is bevrees dat Marais se preekmetode  naamlik: aanskouing, mededeling, ontwikkeling (denke), selfuitvinding of heuristiese metode, sal nie hier van nut kan wees nie, omdat die hedendaagse mens deur die elektroniese media en hul denkwêreld deur die visuele gevorm is (vgl. Pieterse 2005).” (bl.3,133)

Die skrywer hierbo noem dat dr.Willie Marais se preke ook ‘te veel feite in een preek bied’, waarmee hy bedoel sy preke was te lank (bl.132).

Hoe tragies dat daar nie meer ‘n honger en dors na God se Woord is nie, dat lidmate begin kla as ‘n preek langer as 20 minute is, maar hulle het nie ‘n probleem om na ‘n 2 uur film of 1 en halfuur sportprogram  vasgenael te sit en kyk nie.  Ja, waar jou hart is ….

Natuurlik is geen mens se prediking onfeilbaar nie, en glo ek dr. Willie sou die eerste een wees wat dit sou erken, maar in bogenoemde proefskrif is daar ‘n duidelike afwyking van die gereformeerde siening van die prediking van God se Woord, nl. die gesaghebbende verklaring en toepassing van God se Woord deur die Heilige Gees.  Die proefskrif klink vir my soos die vervanging van die algemene ongetwyfelde Christelike geloof vir die getwyfelde postmodernistiese ongeloof en absolute vertroue in onsekerhede, wat die prediking behels.

Lees meer daaroor en gereformeerde prediking hier:

Prediking vanuit die Goddelike Woord

Ongeloof onder die dekmantel van ‘heilige twyfel’

Aan Julian Muller – ek twyfel ook!

Heilshistoriese én eksemplariese prediking

HK Sondag 35, v/a 98 is ook van toepassing, teenoor die postmoderne denke dat ons nou die mense ‘visueel en misterieus’ moet oortuig in plaas van deur die Woord en Gees alleen:

98. Vr. Maar sou ons die beelde in die kerke as boeke van die leke nie mag toelaat nie?

Antw. Nee, want ons moet nie wyser wees as God nie, wat sy Christene nie deur stomme beelde nie, maar deur die lewende verkondiging van sy Woord wil laat onderrig.

Deel van die probleem van die ‘postmoderne lidmaat’ is juis dat ons beeldgesentreerd geraak het, en nie meer Woordgesentreerd is nie.  Deel van die probleem van die postmoderne mens, lidmaat en veral teoloê en teologiese skole is die probleem van die Sadduseërs en geleerdes van Christus se dag:

“Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.” – Matt.22:29

Daarom is die sola Scriptura verklarende oproepende prediking van dr. Willie Marais en andere broodnodig.

Natuurlik was daar ook bepaalde aspekte van dr. Willie se bediening, veral in sy latere jare wat ek ook vrae oor het, maar sy prediking, en spesifiek dit wat ek gehoor het, is die prediking wat ons vandag nodig het, en dit was nie net sogenaamde ‘bekeringsprediking’ wat ek gehoor het nie, maar ook preke wat die res van die lewe raak.

Ons benodig prediking waar die Here deur sy Woord en Gees tot ons spreek, ons denke verander en bekeer, wat uitloop tot goeie werke tot sy eer, in ons hele lewe (sien HK v/a 91).

Hier is ‘n kort oorsig van dr. Willie se lewe, uit die boek ‘Die Bybel is tog reg’ geneem:

Dr Willie Marais is in Christiana gebore op 5 Mei 1929. In 1949 verwerf hy sy B.A.-Admissie graad aan U.K.O.V.S en in 1953 word hy gelegitimeer aan die Die Kweekskool te Stellenbosch. Op 3 April 1954 word hy georden as predikant van die Grootte kerk Pretoria. In 1969 verwerf hy ‘n D.D.-Graad aan UNISA.

Hy bedien sewe gemeentes, te wete: Pretoria, Odendaalsrus, Brixton, Olifantshoek, Krugersdorp, Bloemfontein en Pretoria-Oos.

In 1981 word hy Besturende Direkteur van T.W.R (RSA) en op 1 Augustus 1983 Predikant in Sinodale Diens, Ampsbediening en Evangelisasie vir Noord-Transvaal.

Hy is getroud met Maryna Otto. Uit die huwelik is drie kinders gebore en vyf kleinkinders. Dr Marais is skrywer van 54 boeke en honderde artikels, brosjures, pamflette en traktaatjies. Een van sy boekies: “Die Heerlikheid Van Ons Verlossing,” is reeds in 32 tale vertaal en word dwarsoor die wêreld versprei.

Doktor Marais het ‘n weeklikse radioprogram vir Radio-kansel behartig. Hy het op 5 Mei 1994 met eervolle ontslag afgetree.

Boeke, preke, lesings, ens., van dr. Willie Marais kan hier verkry word:

Video preke

Audio preke

Boeke en preke

Wikipedia oor dr. Willie

Dankie dr. Willie vir u liefdevolle vermanende getroue prediking deur die jare !

6 Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?  7 Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.  8 Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.  – Hebreërs 13

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑