Skokkend Positief ?
Waarom die NGK Sinode so maklik die
pro-homoseksuele besluit kon neem
“Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.” – Hebreërs 13:4
Die kort antwoord is – daar is geen meer vrees vir God nie, die Woord as finale gesag vir leer en lewe het verdwyn, en daarom word sy skeppingsordening, die huwelik nie meer as eerbaar beskou nie, d.w.s. geheilig en beskerm word deur tweesnydende swaard verkondiging van die Evangelie van Christus nie, en ook nie die liefdevolle toepassing van die christelike tug nie (sien HK Sondag 31).
Die langer antwoord is, omdat onwettige onbybelse egskeidings, asook saamwoon (saamslaap) buite die eg deur die kerk geheilig is deur dit te akkomodeer of te verdra, al vir dekades (sien hier die laaste wollerige amptelike besluit van die NGK oor saamwoon buite die eg, wat vir alle praktiese doeleindes daarop neerkom dat “paartjies voorhuwelikse seks mag hê om seker te maak dat hulle bymekaar pas voor hul besluit om te trou”).
Die noodwendige gevolg is dat die Here ons dan net nog meer aan onsself oorgee, nie net aan die onwettige egskeidings en hoerery wat toeneem en meer aanvaarbaar word nie, maar ook die goedkeuring en bevordering van homoseksualisme, soos verwoord in Rom.1:18-32.
Die pro-gay aktiviste het ‘n punt beet as hul die afvallige kerk wys op hul dubbele standaarde.
Ek het al reeds heelwat geskryf oor die onwettige egskeidings en hertroue wat plaasvind, maar wil hier nou verder ingaan op die kwessie van saamwoon (saamslaap) buite of voor die huwelik.
Ek het die afgelope week die gratis blaadjie, Kruisgewys, van Bybel-Media ontvang (Oktober 2015-uitgawe). Die tema van hierdie uitgawe, is
Die artikels is opsommings en beskrywings van die ‘nuwe navorsing’ wat gedoen is oor die ‘aktiewe kerkjeug’, en in die volgende boek gepubliseer is:
Skokkend Positief: Insigte vanuit nuwe navorsing oor aktiewe Afrikaanse kerkjeug
Nou waaroor, onder andere, is die skrywers en tydskrif so ‘skokkend positief’ ?
Ek haal vir u aan uit een van die artikels, “Wat sê die jongmense oor seks en hulle geloof”:
“Sonder om al die statistiese bevindings hier te lys, word opsommende waarnemings vanuit die resultate hier weergegee. Dit word vervolgens in die volgende stellings verwoord:
- Die respondente is oorwegend heteroseksueel.
- Die meerderheid van hulle is of was in ’n vorm van romantiese verhouding. ’n Groot aantal is óf getroud óf in ’n gevestigde verhouding. Tog is ’n beduidende persentasie van die respondente nie op die oomblik in ’n romantiese verhouding nie.
- ’n Klein hoeveelheid van die respondente woon tans saam met ’n lewensmaat sonder om getroud te wees, terwyl meer as ’n derde (39%; 116) voel dit sou aanvaarbaar wees.
- Respondente se deelname aan seksuele aktiwiteit (sonder gemeenskap) word as 57% (165) binne ’n gevestigde verhouding en 29% (83) buite ’n gevestigde verhouding aangetoon. Slegs 36% (108) vind sulke aktiwiteite aanvaarbaar indien jy nie getroud is nie, 21% (63) buite ’n huwelik en 10% (31) buite ’n gevestigde verhouding.
- Respondente se deelname aan seksuele gemeenskap word as 36% (104) binne ’n gevestigde verhouding en 14% (42) buite ’n gevestigde verhouding aangetoon. Slegs 18% (53) vind so ʼn verhouding aanvaarbaar indien jy nie getroud is nie, 11% (32) buite ’n huwelik en 7% (20) buite ’n gevestigde verhouding.
- Meeste van die respondente is eksklusief in hulle verhoudings en voel ook sterk dat dit so moet wees.
- Amper al die respondente wil hulle Christelike geloof die basis van hulle romantiese verhoudings maak.”
Nou let wel, hierdie statistiek is gedoen onder ‘kerkjeug’, nie ‘n klomp heidene of in Hilbrow se agterstrate nie, dit is in die ‘kerk’ gedoen, onder belydende jongmense van die kerk.
Soos die projekleier van die navorsing dit stel:
“Die kerk wou vir ’n slag weer weet hoe lyk sy jongmense. Ons het amper alle kerke in die land op hierdie reis saamgenooi. Party het van die begin af nie kans gesien nie; ander het soos die enorme logistieke taak duidelik geword het, besluit dat hulle nie dadelik wil voortgaan nie. Hopelik sal hulle nog in die toekoms! Uiteindelik het ons met ’n paar van die Afrikaanse susterskerke geëindig. Dit was voorwaar ’n besondere belewenis om as kerke saam te werk. Ons het immers een saak gemeen: ons jeug!”
So die skrywers, teoloë en/of predikante, is ‘skokkend positief’ oor die feit dat ons jong lidmate:
- heelwat buite die eg saamslaap (lees: hoereer)
- tot 39 persent meen dit is nie verkeerd en ‘n sonde nie
- dat 86 persent aan seksuele aktiwiteite buite die eg deelneem
- dat 36 persent van die jongmense seksuele aktiwiteite buite die eg as aanvaarbaar beskou
- dat 50 persent buite die eg seksuele gemeenskap beoefen
- dat 36 persent seksuele gemeenskap buite die eg as aanvaarbaar beskou
Daarteenoor bely die ‘susterkerke’ volgens die Skrif, soos saamgevat in Heidelbergse Kategismus, Sondag 41,
108 Vraag: Wat leer die sewende gebod ons?
Antwoord: Alle onkuisheid is deur God vervloek (a), en daarom moet ons dit hartgrondig haat (b). Daarenteen moet ons kuis en ingetoë lewe (c) sowel binne as buite die huwelik (d).
(a) Lev 18:28. (b) Jud 1:23. (c) 1 Tess 4:3-5. (d) Heb 13:4; 1 Kor 7:7.
109 Vraag: Verbied God in hierdie gebod niks meer as net egbreuk en sulke skandes nie?
Antwoord: Omdat beide, ons liggaam en siel, ‘n tempel van die Heilige Gees is, wil God dat ons altwee rein en heilig bewaar. Daarom verbied hy alle onkuise dade, gebare, woorde (a), gedagtes, luste (b) en alles wat ‘n mens daartoe kan verlei (c).
(a) Ef 5:3, 4; 1 Kor 6:18, 19. (b) Matt 5:27, 28. (c) Ef 5:18; 1 Kor 15:33.
Maar daar word net ‘bely’ en ongelukkig ook nie ‘gedoen’ nie, kontra die Koning van die Kerk, Jesus Christus, se woorde:
“En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Luk.6:46)
Kontra wat Jakobus leer dat ‘n ware geloof/belydenis in ‘dade’ gesien, getoon, geopenbaar moet word (2:14-26).
Wat die kerk wat hierbo genoem word, dus nie doen nie, is om liefdevol maar duidelik die christelike tug toe te pas op lidmate wat volhard in openlike openbare sonde, naamlik hoerery, wat in stryd is met die Koning se wil vir sy kinders (1 Kor.5:1-3; 1 Thess.4:1-8; sien ook HK So.30-32,31,41).
In die hele Oktober uitgawe van Kruisgewys, is daar nie een woord van liefdevolle vermaning aan die jeuglidmate wat verlore gaan as hulle hul nie bekeer van die sondige (buite-die-eg-saamslaap) weg wat na die hel lei nie,
10 Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. – 1 Kor.6:10
Nêrens word die ware Evangelie van Christus gehoor wat duidelik en sterk die waarheid verkondig, dat daar bekering moet wees van die sondige saamwoon en saamslaap kultuur wat onder ons jongmense posgevat het nie. Ons hoor nie 1 Kor.6:11, wat vers 10 opvolg, nie,
11 En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.
En as mens 1 Kor.6:9-11 verder gaan lees, verse 12-20 verder gaan lees, kom die sterk maar baie liefdevolle waarskuwing aan ons almal, ook alle jongmense, of hul nou ‘kerkjeug’ is of nie,
18 Vlug vir die hoerery. Enige sonde wat ‘n mens doen, is buite die liggaam; maar wie hoerery bedryf sondig teen sy eie liggaam. 19 Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? 20 Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.
Vandag is daar ook al meer kerkjeug, jongmense, studente wat wel saamwoon in huise, en in woonstelle en slaaplokale, maar nie saamslaap (hoereer) nie. Is dit om te vlug van die hoerery, of die moontlike gevare daarvan, of die tydsgees daarvan in ons tyd ?
Die vraag moet gevra word, wat van Skrif en die belydenis wat waarsku om die skyn van die kwaad te vermy, ter wille van ‘n getuie vir die wêreld wees (Matt.5:13-16; Rom.13:14; Ef.5:3,15-17; 1 Petrus 2:11-12), dat ons erns maak om die sonde of die skyn van die sonde te vermy, om ons ‘lewenswandel onder die heidene skoon’ te hou (1 Pe.2:12), en die Here te heilig:
Daarom verbied hy alle onkuise dade, gebare, woorde (a), gedagtes, luste (b) en alles wat ‘n mens daartoe kan verlei (c).
Paul Washer, skryf waarskuwend as volg:
“In Ephesians 6:10-12, you are commanded to make your stand against the devil. In James 4:7 you are given the promise that if you resist him, he will flee from you. Nevertheless in II Timothy 2:22 you are commanded to ‘flee youthful lusts’.
It is rather amazing that you are commanded to be strong, take your stand, and fight against fallen angels, while at the same time, you are commanded to flee with fear from youthful lusts. This demonstrates that the youthful lusts of your flesh and the unbridled sensuality of your culture is more dangerous than a face to face battle with the devil. I have known countless Christian youth who demonstrated genuine evidence of conversion, and yet upon entering into a relationship with the opposite sex, they fell into immorality. I have known them to memorize Scripture, pray, and even fast to be pure in their relationship, and yet still they fell. Why? Because they did not understand that all the spiritual disciplines in the Scriptures could not save them from youthful lust. They were trying to wage battle while God commanded them to flee.
To summarize: You cannot be alone in a relationship with a person of the opposite sex for any extended period of time without falling. Therefore, you should never be alone together in a house, car, or any other place where lust can be kindled and failure is certain.”
Hoe liefdeloos is hierdie leraars en teoloë, wat nie die geleentheid gebruik om deur hierdie tydskrif te getuig van die sonde van saamwoon buite die eg nie, die gevare daarin verbonde, die skade wat dit aan ons getuienis lewer, asook die gebrek om die genade redding in Christus te verkondig, in ‘n lewe van bekering en gehoorsaamheid aan sy wil?
Het hul vergeet van,
“Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele.” (Markus 8:38)
En,
“1 Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: 2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; 3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. 5 Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.” – 2 Tim.4
Die naaste wat ‘n artikel daaraan gekom het, en die probleem help aandui, is ds. Albert Coetzee van die GK Uitschot, as hy skryf in sy artikel, “Hoe geloof en moraliteit saamloop”,
Die plek van die Skrif in besluitneming: Dit is geweldig positief dat feitlik al die respondente (99%; 294) hulleself as persone met Christelike waardes beskou, dat die oorgrote meerderheid (97%; 287) voel dat hulle geloof in God hulle besluite beïnvloed en dat 86%(254) van die respondente meen daar is vaste reëls vir wat reg en verkeerd is.
Tog is die plek wat die Skrif in die besluitneming van die respondente inneem, nie by almal dieselfde nie. Slegs 63% (184) van die respondente neem besluite oor wat reg en verkeerd is in die lig van wat hulle dink God en die Skrif hulle leer, terwyl slegs driekwart (75%; 222) bely dat hulle keuses in die lewe direk deur die Tien Gebooie beïnvloed word. Dit kom dus voor of ons ons jongmense nóg beter moet leer dat wanneer dit by besluitneming kom, die Christen onder alle omstandighede heel eerste moet vra wat die wil van God in ’n bepaalde situasie is – en wat die wil van God in ’n bepaalde situasie is, leer die Christen uit die Woord van God.
Ja, wat die jongmense en ons almal moet leer, is dat,
indien die ‘kerkjeug’, tussen 30 tot 50 persent, meen buite die eg seksuele aktiwiteite en seksuele gemeenskap is ‘aanvaarbaar’, en nie sonde en verkeerd nie,
dat hul dus nie daaroor vermaan en getug moet word in liefde nie,
dan beteken dit hulle is of totaal mislei deur die valse profete van ons dag (Matt.5:19; Rom.1:32; 2 Tim.4:3,4),
of hulle is nog glad nie kinders van die Here nie, is nog nie wedergebore nie (Joh.3),
dat hul nog vasgevang is in 1 Kor.6:10, en nie die Evangelie van v.11 al gehoor het nie,
dat hul uitroep ‘Here, Here’ elke Sondag, maar die Here ken hul nie, hoor hul nie, want hul wil nie afstand doen van die ongeregtigheid, soos Christus dit vereis in Matt.7:21-23 nie (sien hierdie preek oor Matt.7:21-29).
Daarom wil ek alle ‘kerkjeug’ wat hul in valse kerke met valse leraars bevind (wat vir hul leer hul kan aanhou bly in hul sondes en daarin volhard, totaal in stryd met die Skrif, sien 1 Joh.1:5-2:2; 5:1-5), baie sterk oproep om daardie kerke te verlaat en ware prediking en kerke op te soek waar volgens NGB art.29 kerk gehou word en nagestreef word, in die suiwer verkondiging van die Evangelie, sakramente en tugtoepassing.
Dit is nie ons liefdevolle Herder se stem wat sê, bly in jou sonde en gaan verlore nie, dit is ons Herder se stem wat ons waarsku teen sonde en die wolwe (Joh.10:1-5, 11-15, 27-30), en ons leer om in dankbaarheid “met ‘n ernstige voorneme … nie alleen volgens sommige nie maar al die gebooie van God te lewe” (HK Sondag 44, v/a 114), al is dit baiemaal gebroke, en nie volmaak in hierdie lewe nie.
Sien ook hierdie behulpsame artikels van Tim Challies, om jou te help om ‘n ware kerk op te soek:
Vernietig ‘n kerk in vier eenvoudige stappe
Hoe om jou gemeente te beskerm in een eenvoudige stap
Ons sal opnuut, as predikers en mede-gelowiges, ouers, ens., onsself en mekaar en ons kinders die Bybel moet leer aangaande die Here se wil vir man en vrou, die huwelik, kinders kry, kerk en koninkryk, ens.
Luister gerus na hierdie boodskap, jongmense: Shocking Youth Message
Hier is ‘n paar artikels vir jongmense, asook hulpmiddels oor gesin en huwelik, kuisheid, ens.:
Jeugdag: Jongmens, waarom noem jy My, Here ?
Vermaan die jongmanne (Tit.2:6)
Die vrees van die HERE (Spr.1:7-9)
Man en vrou: wat is ware liefde ? hoe werk dit ?
Saamwoon voor die huwelik: ‘n teologies-etiese beoordeling
Die Jeugkrisis en Jeugbediening
Drie preke oor die 7de gebod en ons heiligmaking
Belydenisaflegging van ‘n jongmens (2 Tim.2:15,19,22)
Hallo Slabbert,
Ek het ‘n PhD student wie se verloofde aptekerswese swot en wat volgende jaar haar internskap moet doen. Tans bly hulle in aparte woonstelle. Die enigste plek waar sy plek kon kry om die internskap te doen is in Randfontein. Nou gaan hulle saam bly. Albei bely hulle is Christene. Maar toe ek so paar maande gelede met die student daaroor gepraat het was sy antwoord “dat almal dit doen”. Dit is werklik asof hulle nie die twee sake by mekaar kan uitbring nie.
As jy dan vra hoekom jy nie nou maar trou nie: daar is nie nou geld vir ‘n troue nie. Hoekom nie? Omdat hulle nie in ‘n kerk wil trou en die onthaal gewoon in die kerksaal wil hou nie – dis nou nie juis geskik nie vir so-iets nie. So, dit MOET ‘n trou venue wees ens ens. Ons ouer geslag het almal in kerke getrou en eenvoudige onthale in kerksale gehad – ek en my vrou nie eens by ‘n saal nie. Maar vandag wil almal hierdie fancy troues h^e en dan hou baie van dit nie eers so lank nie!
Groete
Johan
Ja Johan, dit is tragies. Die etiek van ‘dat almal dit doen’ het ook nie ‘almal’ wat buite Noag se ark was veel gehelp nie ?
Pragmatisme en my eie wil en begeertes staan sentraal, nie God, sy Woord en sy eer nie.
Mag ons Here ons genadig wees in hierdie tye !
‘n Skitterende Bybels-gefundeerde uiteensetting & analise vd problematiek on behandeling.
Die feit is: Die NG-Kerk het as kerk reeds lankal afskeid geneem van Bybels-gefundeerde besluite & kompromiee aangegaan met die losse, ongoddellike sedes vd tydsgees.
Die jongste besluit vd Algemene Sinode vd NGK om homoseksueles volledig toe te laat tot die ampte & selfs homoseksuele huwelike kerklik te voltrek & te ‘seen’, is ‘n gruwel in God se oee.
Dit kan nie meer die kerk van Christus Jesus wees nie, want diegene wat hulel moet bekeer van hul dood-styl van lewe wat tot die verdoemenis lei, word nie meer na Christus Jesus gewys nie.
Die offer van Jesus aan die kruis word dus onderslaan as nie-meer-nodig nie.
Inteendeel: Blatante hoerery in al sy aspekte (homo & heteroseksueel) word goedgekeur.
Dit tas God se verlossingskarakter m.b.t. sonde in wese aan, asook die feit dat God man & vrou vd begin af so geskep het om Christus & Sy Verloste kerk (Sy bruid) uit te beeld & uit te leef (Efes 5).
So ‘n kerk is nie meer kerk nie – dit is ‘n sinagoge van Satan wat mense na die hel help.
Wat ek nog nie kan verstaan nie, is dat die GKSA steeds ‘n ‘samewerkingsooreenkoms’ met die NGK nastreef.
Hoe kan lig & duisternis gemeenskap he?
“Keer jou van sulke mense af” se die Skrif.
Die GKSA behoort alle bande met die Alg Sinode vd NGK te verbreek.
Dit sou die weg vd ware kerk wees.
Sommie, ons sal moet sien of enige opkomende vergaderings van die GKSA hul uitspreek teen die NGK sinode se besluit, asook oor die toekoms van die samewerkingsooreenkoms.
Ek weet wel dat klassis Moot van die GKSA hul baie sterk teenoor die besluit uitgespreek het, en my eie gemeente het ook ons naam by hul Mosie gevoeg, en dit verder gestuur na gemeentes in ons klassis, met die versoek dat die Mosie ook sal dien by November se streeksinode.
Hier is die Mosie van klassis Moot te lees:
https://proregno.com/2015/10/13/twee-getuienisse-teen-die-ngk-sinode-2015-se-pro-sonde-besluit/
Amen!
Dankie Slabbert,
Netjiese artikel!
Groete Gideon