
Die wat ons gesin al die afgelope 8 jaar ken, weet wie Buks is. Ou Buksie is ons gesin se worshond, wat ons in 2002 gekry het toe ons in Potch gebly het vir my teologiese studies. Buks het soos ‘n ‘ouboet’ grootgeword saam met al die kinders, van Joanette tot my jongste seun, Berto, en nou ook Hilke.
Buks het al baie oorleef, baie siektes, Dorothea, my vrou, wat oor sy agterlyf gekry het (per ongeluk!), vele beserings (onder andere ‘n paar harde loesings van my kant af!), drie keer is hy al deur groter honde verskeur soos ‘n stuk lap, waarvan ons twee keer hom na die veearts moes vat om hom weer aan mekaar te werk, sodat hy weer een stuk wors kan wees !
Ons het al begin dink Buks is ‘n kat met worshondklere aan, en dat hy nege lewens het !
Maar, gisteraand was sy laaste aand saam met ons gewees. Toe ons vanoggend uit die huis gaan, het Buks en die klein worshondjjie wat ons laasjaar as maat vir hom gekry het (Soekie) albei dood by die buitedeur gelê, vergiftig. Soekie was klaar dood, Buks het met glasoë daar gelê, tong wat uithang en skuim wat uit sy bek geloop het, en ‘n sagte roggel geluid wat uit sy mond gekom het. Ek het gehoop ons kon hom nog red, vinnig in die kar gespring, en wou na die veearts met hom jaag. Maar, ek was skaars om die hoek, toe sien ek daar is geen meer lewe nie.

Die hele gesin, veral ons oudste, Joanette (vir wie ons Buks oorspronklik gekry het), was en is nog baie hartseer. Ons het die twee honde agter in ons tuin begrawe, met ‘n troosgebed dat die HERE wat alles sien en van weet, regverdig sal oordeel, ja, al was dit net diere, maar troeteldiere vir wie ‘n mens baie lief geraak het.
‘n Mens voel maar magteloos in so ‘n situasie, en word saam hartseer oor die getroue honde wat ‘n mens verloor het. En mens word veral hartseer as ‘n mens sien hoe affekteer dit die kinders, en dan huil ‘n mens maar saam met hulle.
Ons weet egter die Here gee om vir diere (Gen.1:24,25; Ps.24:1; 50:10,11) en sorg vir hulle (Ps.147:9; Matt.6:26), en daarom kan ‘n mens verwag dat die Here ook omgee oor hoe diere behandel word, as deel van ons kultuurdopdrag (Gen.1:26-28).
Oor die vergiftiging self: om diere te mishandel, is ‘n kenmerk van die goddelose, ons lees in Spr.12:10,
“Die regverdige gee om vir sy diere, maar ‘n goddelose mens is altyd wreed met hulle” (NLV)

Die troos is dat die goddelose nie sal bly bestaan in God se regverdige oordeel nie, vir elke onreg wat gepleeg is sal hul moet rekenskap gee (2 Kor.5:10), maar die regverdige, o.g.v. Christus se werke, sal bly bestaan, saam met mede-gelowiges, saam met die ganse kosmos, in die nuwe hemel en aarde, wat ook (hopelik!) diere sal insluit (Jes.11:6-9).
Een ding, wat ek altyd van Buks sal onthou, is dat gee nie om hoe ek hom behandel het nie, en of ek hom baie of min aandag gegee het nie, hy was ALTYD getrou, vriendelik, opgewonde om ons te sien, of ons nou ‘n paar uur weg was van die huis, en of ons weke weg was.
Dit laat ‘n mens eintlik beskaamd.
Hoe opgewonde is ons as gelowiges, as gesin, as familie om mekaar elke dag te sien, hoe is ons liefde en trou teenoor mekaar, voorwaardelik of onvoorwaardelik ?
En, is ons oë so stip gerig op die Here, soos ‘n hond se oë gerig is op die hand van sy baas ?
“Ek slaan my oë op tot U wat in die hemel troon. 2 Kyk, soos die oë van die knegte is op die hand van hulle heer, soos die oë van die diensmaagd is op die hand van haar meesteres — so is ons oë op die HERE onse God, totdat Hy ons genadig is. 3 Wees ons genadig, o HERE, wees ons genadig …” – Ps.123:1-3
‘n Gesinsfoto (Soekie op Mia se skoot en Buks op Hannelie se skoot):
Hier is Buks in gelukkiger dae, toe die dogters met hom pop gespeel het:
Hier hou Berto vir Soekie vas toe ons haar laasjaar gekry het:
Ai tog Slabbert…
Sê vir die kinders – ja, wat? Ek weet nie. Dis vir hulle altyd erg.
Die lewe, hoeveel dood ervaar ons nie elke dag?