Posted by: proregno | April 18, 2011

Prof. Adrio König en die kritiese lees van die Bybel

“Wie volgens ons Belydenis die Skrifgesag ten volle aanvaar, kan met die Skrifkritiek geen enkele skrede saamgaan nie.” – Totius

In prof. Adrio König se onlangse skrywe in die Beeld van 13 April 2011, onder die opskrif  ‘Bybel kon beter beeld geskep het’, skryf hy teen mense wat volgens hom die Bybel nie krities ‘genoeg’ lees nie, asook teenoor mense wat die Bybel ‘te’ krities lees (‘hiperkrities’).  König meen die eersgenoemde groep aanvaar te veel van die Skrif as ‘histories betroubaar’, d.w.s die hele Skrif, alles in die OT en NT is ‘histories betroubaar’, terwyl laasgenoemde groep weer te min as ‘histories betroubaar’ aanvaar en sommer die Evangelies en die uittog uit Egipte as ‘histories onbetroubaar’ beskou. En selfs vir König se gematigde kritiese hart is dit een te veel … te liberaal en ‘te’ krities.

In König se poging om ‘n ‘middeweg’ te vind, eindig hy egter na my mening (onwillig) by die ‘te’ kritiese groep op, die hiperkritiese groep, aangesien sy ‘kritiese’ lees net verskil in kwantiteit, maar nie kwaliteit nie. Waar die volwaardige kritiese teoloë (die liberaliste?) die hele Skrif ‘te’ krities lees, vanaf Genesis tot Openbaring (die  Evangelies ingesluit), wil König dit slegs doen met die dele van die Skrif wat volgens hom nie oor die ‘groot sake’ gaan nie, maar ‘skrifkrities’ wil hy lees.

König help ook nie eintlik met ‘n lys van ‘groot sake’ en ‘klein sake’ nie, sodat ons kan weet wanneer om nie ‘te’ krities te lees nie, en wanneer om net krities ‘genoeg’ te lees nie.  Sien hier my bespreking van prof König se boek “Die Evangelie op die Spel”, wat sal aandui wat König as die ‘groot sake en klein sake’ beskou van ons geloof.  In die resensie, soos my skrywe hier onder, wys ek daarop dat nie net die ‘Nuwe Hervorming’ teoloë (die sogenaamde ‘hiperkritiese teoloë’) nie, maar ongelukkig ook prof. König se eie hantering van die Skrif die evangelie en die Christelike geloof op die spel plaas.  

Inteendeel, met alle respek teenoor prof. König, in sekere gevalle is dit selfs gevaarliker as die blatante liberale teologie, aangesien dit voorgee om die Evangelie te bewaar, maar by implikasie besig is om dit te ondermyn deur ‘n verkeerde beskouing van die gesag en verklaring van die Heilige Skrif.  Verder kan die vraag ook gevra word in hoeverre die ‘kritiese teologie’ van Unisa in die 1970-1990 jare, die weg voorberei het na die ‘hiper kritiese teologie’ van die middel 1990’s en daarna. Van Deist na Spangenberg in 40 jaar ?

Hier volg dan nou prof. König se volledige Beeld artikel, en tussen in sy skrywes is my repliek, wat ek elke keer aandui deur my voorletters ‘slc’.

Bybel kon beter beeld geskep het

Deur die Bybel krities te lees kan ’n mens die historiese betroubaarheid daarvan maklik bepaal, meen prof. Adrio König.

König skryf: “Daar is mense wat nie die Bybel krities lees nie. Hulle vra nie regtig vrae nie. Hulle aanvaar sonder meer die goddelike gesag en die onfeilbaarheid van die Bybel.”

slc: Gelowiges vra die vraag: wat leer die Bybel self aangaande sy gesag en onfeilbaarheid, en aanvaar dan sonder meer die Heilige Gees se ‘antwoord’ vanuit die Bybel.  Die antwoord uit die Bybel word goed saamgevat in die volgende drie belydenisgedeeltes, wat prof. König blykbaar nie meer ‘van harte’ onderskryf nie:

Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) Artikel 3 – Die geskrewe Woord van God

“Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van ‘n mens gestuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê (2Pe 1:21).  Daarna het God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid sy knegte (die profete en apostels) beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel, en H self het met sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe.  Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige en Goddelike Skrif.”

2Pe 1:21; Psa 102:18(Ou Vert. Vers 19); Exo 17:14 (Deu 3); Exo 34:27; Deu 5:22; Exo 31:18

NGB Artikel 5 – Die gesag van die Heilige Skrif

“Ons aanvaar al hierdie boeke en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.”

NGB artikel 7 – Die volkomenheid van die Skrif

“… Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: “…maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is” (1Jo 4:1) en: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie…” (2Jo 1:10). …”

Dus, ons glo die Bybel het goddelike gesag en is onfeilbaar omdat die Heilige Gees in ons harte daarvan getuig, en, omdat die Bybel self openbaar dat dit goddelike gesag het en onfeilbaar is.  Prof König vra dalk kritiese vrae, maar luister nie mooi na die Bybel se eie openbaring, se eie antwoord self nie, iets wat van elke ware wetenskaplike verwag word, veral teoloë.  Dit blyk dat hy meer na modernistiese teorië ‘oor’ die Bybel luister, in plaas van wat die Bybel oor homself openbaar. Selfs blindes kan die goddelike gesag en onfeilbaarheid raaksien, hoekom nie ook die krities (en hiperkritiese) wetenskaplike teoloë wat kritiese vrae vra nie ?

König skryf: “Indien hulle daarop ingevra word, sal hulle eenvoudig verwys na ’n teks soos: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer” (2 Tim. 3:17). Hulle sal nie eintlik daaraan dink nie dat dit net na die Ou Testament verwys en dan nog na die Griekse vertaling van die Ou Testament waarin daar baie vreemde vertalings van die Hebreeus was. Daar is waarskynlik ’n baie groot persentasie gewone Bybellesers wat so lees. Hulle word maklik geskok deur enige vrae oor die betroubaarheid en gesag van die Bybel.”

slc: Ja, die gevaar is daar vir die gelowige om die Skrif nie reg te verstaan nie, buite konteks aan te haal en te misbruik, en daarteen moet ons waak.  Dit verhoed egter nie dat dit wel korrek gedoen kan en moet word nie, in navolging van Christus (Matt.4:1-11), Petrus (Hand.2:14-36) en Paulus (Rom.9-11), asook die teoloë van (bv) die Heidelbergse Kategismus.  Misbruik hef nie gebruik op nie. 

Wat 2 Tim.3:16 betref, kyk wat sê die Teks self: “Die hele Skrif” (Grieks: pasa graphe), dit wil sê nie net die OT nie – waarvoor daar terme gebruik is soos bv. ‘wet en/of die profete’ (Matt.5: 17) en ‘die wet van Moses en die profete en die psalms’ (Luk.24:44) – maar die hele Skrif wat deur God uitge-asem is (theopneustos), is beide die OT en die NT.

Ja, natuurlik verwys Paulus histories hier eerstens na die OT (want die NT kanon was nog in wording), maar in die openbaringshistoriese konteks en in die lig van die proses en vorming van die volledige kanon (NGB art.3,4), is 2 Tim.3:16 van toepassing op die hele Skrif, OT en NT (sien GW Knight, Commentary on the Pastoral Epistles, 1992, p.447-8).  Dit dui die Apostel Petrus reeds aan, as hy ge-inspireër en gedryf deur die Heilige Gees (2 Pe.1:19-21) skryf oor Paulus se Geskrifte:

2 Petrus 3:15-16  5 En ag die lankmoedigheid van onse Here as saligheid, soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het,  16 net soos in al die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf.

“Net soos die ander Skrifte” (Grieks: los kai loipoy graphe), die Heilige Gees openbaar deur Petrus dat Paulus se Geskrifte, Woord van God is, soos die hele OT Woord van God is, in die taal van ons belydenis: “Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige Goddelike Skrif” (NGB artikel 3).

Dit blyk dus dat König as teoloog en wetenskaplike ook nie een van die sentrale reëls van Skrifverklaring nakom nie, nl. Skrif met Skrif vergelyking, oftewel, Scripturam ex Scriptura explicandam esse = die Skrif moet vanuit die Skrif verklaar word.  

As ons wil weet wat ‘n bepaalde Teks beteken, dan begin ons met die onmiddelike konteks van die verse, perikoop, hoofstuk en boek, en beweeg dan verder tot ons die hele Kanon bestudeer het, dit is die grammaties-historiese Openbaringshistoriese Skrifbenadering wat getroue teoloë en gelowiges deur die eeue gevolg het, en nog behoort te volg.  

König skryf: “Aan die ander kant is daar mense, in die meeste gevalle “Bybelwetenskaplikes,” wat skynbaar behae daarin vind om gewone gelowiges so erg moontlik te skok met allerlei hiperkritiese opmerkings oor die Bybel. ’n Bekende siening is dat Jesus net ’n verhaalkarakter is, dat elke evangelis oor Jesus geskryf het wat hy graag wou, sy eie Jesus-prentjie geteken het en hom min gesteur het aan wat werklik met Jesus gebeur het.

’n Paar jaar gelede het een van die bekende kritici verklaar dat Psalm 23 glad nie deur Dawid geskryf is nie. Op sigself sou dit min betekenis gehad het vir enige teoloog, maar vir “naïewe gelowiges” was dit ’n skok omdat juis hierdie Psalm so gelief onder gewone Bybellesers is.  Sy argument was dat die Psalm oor die tempel skryf en dat die tempel nog nie in Dawid se tyd bestaan het nie. Eers Salomo het dit gebou. Intussen was daar natuurlik lank voor die tempel in Jerusalem reeds een in Silo.”

slc:  Ja, in 1 Sam.1:9 lees ons van die tempel van die HERE in Silo … deur Skrif (Ps.23) met Skrif (1 Sam.1:9) te vergelyk. Sou graag wil sien dat König dit ook moet doen as hy ‘hiperkritiese’ vrae vra oor die goddelike gesag en onfeilbaarheid van die Skrif, veral as hy 2 Tim.3:16 (en ander gedeeltes) verklaar.

König skryf: “Maar daar is teoloë wat die Bybel krities lees, juis om Christene se insig te suiwer, te versterk en te verryk. Hulle is bereid om kritiese vrae te vra, juis ter wille van hul geloof. As die Bybel nie in die groot geheel histories betroubaar is nie, is ons geloof ook op losse skroewe. “

slc: “En juis hier, staan König se hele argumentasie oor die betroubaarheid van die Bybel op dit wat hy juis wil voorkom, nl. ‘losse skroewe’.  Hy wys of toon nie aan hoe ons nou moet bepaal wat deel is van die groot geheel en wat nie deel is van die groot geheel wat ‘histories betroubaar’ is of nie ? Hoekom (bv) is Genesis 1 as geskiedenis onbetroubaar (want sommige natuurwetenskaplikes weerspreek dit vandag?), maar bv Matteus is histories betroubaar (terwyl daar tog wel ook historici is wat dit sal ontken, veral die wonders wat plaasgevind het). König dui nie die uitkoms uit hierdie dilemma aan nie, wanneer en hoekom ons sekere wetenskaplike getuienis oor die Bybel moet aanvaar of nie aanvaar nie, maar aanvaar bloot dat ons as gelowiges nou skielik sal weet wat is betroubaar en nie betroubaar in die Bybel nie.

König skryf: “Ons aanvaar byvoorbeeld die totaal ongehoorde ding dat Jesus uit die dood opgestaan het en ons weet dit beteken nie net dat Hy weer lewend geword het nie, maar dat Hy totaal nuut, verheerlik uit die graf is. Hoe betroubaar is so ’n geweldige aanspraak? Natuurlik kan die aard van Jesus se opstandingsliggaam nie wetenskaplik nagevors word nie. Maar is hy regtig weer lewend gesien? Hoe betroubaar is die evangeliste se getuienis? Of het elkeen ook in hierdie geval sommer geskryf wat hom gepas het? Die vraag is of die Evangelies in die wesenlike sake histories betroubaar is.”

slc:  Weereens, hoekom verwerp König op grond van ‘wetenskaplike’ getuienis (eintlike vooroordele en voorveronderstellings) die ‘totaal ongehoorde ding’ van ‘n letterlike historiese sesdae skepping; maar op grond van huidige wetenskaplike navorsing wat aandui ‘n mens staan nie uit die dood op nie, aanvaar hy tog nogsteeds die ‘totaal ongehoorde ding’  dat Christus opgestaan het ?  Hoekom aanvaar hy nie Gen.1 in die lig van Hebr.11:3 nie, maar wel Joh.11:25,26 ? Hoekom aanvaar hy net sekere dele van die Skrif, terwyl ons glo die ‘hele Skrif’ is deur God ingee om te glo, en waarvan ons bely in antwoord 21 van die Heidelbergse Kategismus, dat ‘n ware geloof is om “alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar te aanvaar” ?  

König skryf: “Ons neem twee sake wat herhaaldelik na vore kom: die dissipels en die vroue. In die tyd toe die Evangelies geskryf is, waarskynlik so tussen die 60’s en die 70’s, was sommige dissipels juis die leiers in die kerk.  ’n Mens sou dus kon verwag dat die evangeliste hulle sou ophemel as hulle geskryf het wat hulle wou. Ek kan my indink dat Markus, wat moontlik ’n vriend van Petrus was, van Petrus sou vertel het dat hy deur dik en dun by Jesus gestaan het, tot voor die hoëpriester en selfs voor Pilatus.

Petrus was tog die leier onder die dissipels. En hoe die ander dissipels hulle om die kruis geskaar het en Jesus moed ingepraat het en probeer help het, en hoe hulle Hom ’n ere­begrafnis gegee het.  Maar geen spoor daarvan nie. Trouens, die Evangelies is deurspek van die dissipels se mislukkings. Vroeg reeds is Jesus gefrustreerd oor hul onbegrip (Mark. 8:16-21).  Die drie lydensaankondigings dryf dit op die spits as Hy Petrus “Satan” noem, as die groep niks verstaan van sy komende lyding nie, maar onder mekaar stry oor wie van hulle die belangrikste is, en as Jakobus en Johannes Hom selfs die uitsoekplekke vra in sy komende regering in Jerusalem.

En ná Petrus se selfvertroue dat hy selfs saam met Jesus sal sterf, kan hy en die ander nie eens ’n rukkie wakker bly om Hom in Getsemane te ondersteun nie, vlug almal as Hy gevang word, verloën Petrus Hom selfs met ’n eed, en verdwyn hulle by die kruis en die begrafnis.  ’n Skandgeskiedenis! Waarom skryf al die evangeliste dieselfde seer geskiedenis? Omdat hulle daarop uit was om die waarheid te skryf, al het dit verleentheid veroorsaak in die situasie waarin hulle geskryf het.  Presies dieselfde geld die vroue as die eerste getuies van Jesus se opstanding. Dis die laaste keuse wat ’n evangelis sou uitoefen as hy geskryf het wat hom gepas het. Vroue se getuienis is destyds glad nie aanvaar nie. En dat al vier Evangelies dieselfde kerngetuie aanwys, Maria Magdalena, die vrou met die gure geskiedenis, kan weer net een ding beteken: Hulle het geskryf wat werklik gebeur het.

Dis sulke trekke in die Evangelies wat my vertroue gee in hul verhaal.

Trouens, daar is veel meer. Dink net aan die feit dat Lukas Handelinge geskryf het in ’n tyd waarin die wonderlike betekenis van Jesus se kruisdood al algemeen bekend was, maar nog altyd sy kruisdood negatief voorstel soos die dissipels dit inderdaad kort ná sy opstanding beleef het.

En dink aan die wyse waarop die evangeliste oor Jesus se opstanding skryf. Ook hulle skryf in ’n tyd toe die ryk betekenis van sy opstanding al gemeengoed onder Christene was, maar hulle rep geen enkele woord oor hierdie ryk betekenis nie. Hulle vertel die verskyningsverhale steeds net as vreemde verhale van Jesus wat skielik daar is en weer skielik verdwyn. Hulle het dus selfs sover gegaan om hul eie oortuigings van die betekenis van sy opstanding tydelik “op te skort”, om hulle eers weer in te leef in die tyd toe Hy verskyn het, toe die dissipels dit nog glad nie verstaan het nie en dit nog net beleef het.

Wat die geloofwaardigheid van die uittogverhaal betref: As dit regtig net ’n klompie Bedoeïene was wat stadig­aan bymekaar gekom het om hulle beter teen rowers te verdedig, sou die geskiedenis van die uittog heeltemal anders gelyk het. Dan sou daar pleks van die aanhoudende gemor, opstand en vrees ’n paar rolmodelle na vore gekom het wat die Egiptenare uitoorlê en die volk met moed en mening die uittog laat aanpak en voltooi het.

Daar is oorgenoeg inherente getuienis in die Bybel dat dit histories betroubaar is in die groot sake waaroor dit gaan. Deur kritiese, vraende denke kan ’n mens dit agterkom. “

slc: Dus, prof. König se hele argument vir die ‘historiese betroubaarheid’ van die ‘groot sake’ van die Bybel staan daarop dat omdat dit ook die ‘skandgeskiedenis’ opteken (die swakhede en sondes van die kerk uitwys en wat dus aanstoot veroorsaak en die ‘wêreld’ vrae laat vra), daarom beteken dit die gedeeltes is ‘histories betroubaar’.  Probleem met hierdie argument: daar is baie verhale, mites, boeke en films wat al die ‘skandgeskiedenis’ in detail uiteensit, maar dit maak nie al daardie verhale en mites noodwendig geskiedenis nie, of nog minder ‘histories betroubaar’.  Dit is dalk ‘n argument vir die oorspronklikheid en eerlikheid van ‘n dokument, maar as jou belangrikste argument vir ‘historiese betroubaarheid’ faal dit jammerlik.

Verder, as die insluiting van die ‘skandgeskiedenis’ van die apostels aanvaar word as teken van ‘histories betroubaarheid’, hoeveel te meer geld dit vir die historiese betroubaarheid van die Genesis geskiedenis van oorspronge, die sondeval en die gebeure daarna.  Die wêreld lag en spot met Genesis, die skepping, sondeval, sondvloed geskiedenis, maak dit af as bloot ‘n klomp mites en fabels, “wat sal iemand so ‘primitief’ soos Moses nou weet van die wonders en oorspronge van die kosmos”, so dit beteken dan juis dat dit ‘histories betroubaar’ moet wees, as ons König se redenasies volg. 

Ja, juis die historiese eenvoud en aanstoot van die skeppings- skandsgeskiedenis (teenoor die hoogs aanvaarde evolusie hipotese) behoort dus te getuig van sy historiese betroubaarheid, in die denke van König se argument.

Probleem is net, König pas sy argument kieskeurig toe slegs op dit wat hy subjektief onder die invloed van vandag se histories-kritiese tydsgees wil aanvaar en nie aanvaar nie. So elkeen kan maar self besluit wat is die groot sake of nie, wat hy wil glo ? 

Die Skrif self maak egter nie daardie onderskeid nie, ja, daar is sekere heilshistoriese en openbaringshistoriese lyne wat meer aandag kry en beklemtoon word as ander, maar nêrens in die Skrif kry ons ‘n aanduiding dat sekere historiese dele en gebeure is histories betroubaar maar ander nie.  Christus en die Apostels gaan ook nie willekeurig en kieskeurig om met die Skrif nie, nee, die hele Skrif word in al sy dele en in sy geheel as die onfeilbare Heilige Skrif aanvaar en as betroubare geskiedenis gebruik, of dit nou gaan oor die skepping (Matt.19:4), Adam (Rom.5:12-19), sondeval (1 Tim.2:14), Abel (Matt.23:35), die sondvloed (Luk.17:26,27), Abraham (Joh.8:58), Dawid (Matt.22:43) of die profete (Matt.15:7).  

En daarom is die eintlike ‘skande’, dat belyers van Christus, teoloë van Christus in navolging van Hom, nie al die historiese gebeure in die Bybel as ‘histories betroubaar’, van Genesis tot Openbaring, wil aanvaar op grond van die Skrif self en die Heilige Gees se getuienis nie (NGB art.3-7).  Dit is tragies dat dit blyk dat König saam met die ‘hiperkritiese’ teoloë en liberale teologie die goddelike gesag en onfeilbaarheid van die Skrif verwerp of ten minste ondergrawe.  Sodoende saag hy die epistemologiese tak mors af waarop hy sy hele argument vir die ‘historiese betroubaarheid’ van Jesus Christus, ons Opgestane Heer, probeer vestig. 

Daarteenoor bely die gelowige, deur die Gees en Woord, in die woorde van NGB art.4, “Ons vat die Heilige skrif in twee dele saam: die Ou en die Nuwe Testament. Dit is die kanonieke boeke waarteen niks ingebring kan word nie.”

Daar kan ‘niks’ ingebring word teen die historiese betroubaarheid van die Evangelies nie, maar ook nie teen die ‘historiese betroubaarheid’ van Genesis nie.  Dit is een ding om biddend en onder leiding van die Heilige Gees vrae te vra en die Bybel te ondersoek vir antwoorde (Ps.1:2; 119:18; Hand.17:11), dit is ‘n heel ander ding om regter oor die Bybel te speel en volgens ons tydsgees en vervalle verstand en hart die Bybel te bevraagteken, met die norm wat vir ‘my’ en ‘ons tydsgees’ aanvaarbaar is (2 Petrus 3: 3,4).

Soos iemand tereg gesê het: die Bybel kritiseer ons, nie ons die Bybel nie (ek dink dit was Totuis, maar ek is nie seker nie). 

Mag prof König en ander wat soos hy geleidelik afdwaal van die geloof wat eenmaal aan ons oorgelewer is (Jud.3), besef: net soos die kruis, opstanding en komende oordeel dwaasheid in die oë van die wêreld is (Hand.17:31; 1 Kor.1:18-31), net soos Christus aanstoot veroorsaak in die wêreld (en König bereid is om die spot te dra), net so moet ons die spot en dwaasheid dra van die wêreld (met al sy ateïstiese en evolusionistiese wetenskaplikes en teoloë) wat lag deur die eeue, en veral vandag vir die ‘historiese betroubaarheid’ van skeppingsgeskiedenis, sondeval, die wêreldwye sondvloed, die Tien Gebooie en die res van die heilsgeskiedenis van die hele Skrif.

Ten einde gaan daar altyd skaamte wees, die vraag is net vir wie en wat ons ons gaan skaam ? 

Vir ons sonde en ongehoorsaamheid … of vir God en sy Woord ?

Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele. – Mark.8:38

Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny. – 2 Tim.2:15

Prof. König is afgetrede professor in sistematiese teologie aan Unisa.


Responses

  1. Sien ook:

    http://www.albertmohler.com/2011/04/19/throwing-the-bible-under-the-bus/

  2. Baie dankie, Slabbert, soos gewoonlik uiters lesenswaardig! In ons boek “Die Trojaanse perd in die NG Kerk” begin ons juis by die gesag van die Skrif en hoe die Skrifkritiek die gesag van God se Woord aantas.

  3. […] Prof. Adrio König en die kritiese lees van die Bybel […]

  4. Sjoe, dit is ontstellend…Het die week na ‘n lesing oor JOB geluister…en die soewereiniteit van GOD word totaal afgemaak…HOE OP AARDE BIED MENS TROOS VIR MENSE AS GOD NIE IN BEHEER IS NIE? WIE HET DIE SLEUTELS VAN DIE DODERYK? Openb.1:18..IS DIT WERKLIK WINS OM TE STERF..of is dit strag? Fil.1:20-23…IS ONS HOOP OP CHRISTUS NET VIR HIERDIE LEWE..1 Kor.15 noem dat ons wat ons hoop net vir die lewe op die HERE plaas, die bejammerenswaardigste van alle mense is..As GOD NIE ALMAGTIG SOEWEREIN IS en werklik almal hou in die holte van SY hande nie…dan is Hy mos nes al die ander gode, wat van klip en hout gemaak is…DEISME..asof GOD eenmaal geskep het en glad nie meer betrokke is nie. DIE OPSTANDINGSKRAG VAN CHRISTUS WORD TOTAAL MISKEN BINNE DIE GELOWIGE..Ef.1:18-23..Mense wat volhard deur ‘n krisis word afgemaak as uitsonderings…ons durf nie vir hul vertel..GAAN NA JESUS, WANT HY GEE KRAG..die waarborg dat HY JOU WAARLIK SAL DRA en jou denke vernuwe..en dat LIEFDE VIR HOM JOU DRYFVEER IS..Moet ons mense eerder net omarm en vir hul pille of drank voer om hul te sus? HELP DIT REGTIG VIR IEMAND WAT ‘n kind verloor het, om te noem: ek is jammer, ek verstaan ook nie..of dalk te noem, weet jy, ek weet hoe jy voel..ek het ook ‘n kind verloor..Bring dit regtig troos vir daardie mense as verlange hom wil verteer…KAN ONS PEIL TREK OP Jes.53 se inhoud?..HET DIT EFFEKTE ..praktiese tasbare effekte dat JESUS ONS WONDE KAN GENEES en ons denke van vul met HOMSELF en dat dit werklik meebring dat die HEERLIKHEID die lyding oortref. NATUURLIK HET CHRISTUS EFFEKTE! KEN ONS DIE PRAKTIESE EFFEKTE VAN DIE SKRIF IN ONS LEWENS? HERKEN ONS DIT IN manne soos Charles Spurgeon, Whitfield, Wilberforce, John Newton? SIEN ONS NIE JESUS CHRISTUS SE VINGERAFDRUKKE OP DIE MENSE SE LEWENS NIE? Maar ouens lees dit nie…sal eerder die HERE rondskp soos ‘n sokkerbal en praat oor die bybel asof dit net nog ‘n litirêre werk is. Uiterlike skyn van godsaligheid, sonder om die krag te erken..2 Tim.3:5…’n halwe baksteen trek baie verder as ‘n heel baksteen..’n halwe waarheid is veel erger, as ‘n openlike leuen.


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: