Ek het onlangs ‘n skrywe ontvang van ‘n mede-lidmaat wat deel is van die GKSA kerkverband, wat vir my statistieke aangestuur het oor die krimpende lidmaatgetalle in die GKSA en NGK, asook die min teologiese studente wat beskikbaar is. Hy deel ook sy besorgdheid oor die dooplidmate wat verminder, maar ten einde lê die groot rede vir die skrywer in die afname van lidmaatgetalle by die feit dat die GKSA nog nie vroue as predikante en ouderlinge bevestig het nie. Daar word aangevoer dat lidmate oorgaan na charismatiese kerke waar ‘mans en vrouens hulle kan uitleef in lofprysing en diens aan die Here!’
Hier is my antwoord op die skrywer, met die nodige aanpassings vir die openbare oog, aangesien die saak wat hy aanraak ook alle kerke raak:
Beste ______________ ,
Dankie vir jou skrywe in die pos. Hier is my eie antwoord oor die saak:
Ek is self baie versigtig om ‘God te probeer speel’ met statistieke, en te vinnig afleidings te wil maak. As statistieke of getalle die maatstaf is van ware kerk wees, sou die meeste ‘gemeentes’ en predikers in die Skrif nou as ‘onsuksesvol’ en ‘dwalend’ beskou moet word, omdat onder hul bediening en prediking die kerk nie baie gegroei het nie (dink bv. maar aan Noag, die Rigterstyd, die profete Jesaja, Jeremia en Esegiël, Christus self, Joh.6:67, ens.).
Verder sal ons ook NGB art.27 uit ons belydenis moet skeur waar bely word dat die kerk ‘… soms ‘n tyd lank baie klein is en dit in die oë van die mense lyk asof dit tot niet gegaan het …’
Ons moet ook onthou, kerkverbande kom en gaan, maar die kerk van Christus bly tot in ewigheid (HK v/a 54). God is nie afhanklik van enige kerkverband nie, sy reddingsplan sal geskied, met of sonder die susterskerke. As plaaslike kerke, kerkrade en predikante hul ‘eerste liefde’ verlaat en dwalinge begin akkomodeer en goedpraat, dan sal dieselfde met hul gebeur as met die gemeentes van Op.2 en 3 gebeur het. Natuurlik wil ons almal hê die kerk van Christus moet groei, deur sy Woord en Gees, maar getalle en grootte is nie die toetsteen nie (Ex.23:1-3), maar of ‘n kerk suiwer en waar is en aanhou reformeer volgens die Skrifte (NGB art.29), en nie die tydsgees nie. Dus, ‘n kerk se getalle kan ‘n aanduiding van die ware of valse leer wees, kyk maar net na Rome, wat baie getalle het maar nie die ware geloof en leer nie.
Verder, ‘n mens kan statistiek ook gebruik soos dit jou eie agenda dien, soos in u geval (“die rede waarom die GKSA leegloop is … omdat ons nie vroue in al die ampte het nie!”), terwyl daar in werklikheid verskeie redes kan wees waarom kerke groei of leegloop. Ek meen dat van die redes van die doodgaan van ons susterskerke, is dalk juis meer te vinde in die feit dat met die koms van die nuwe bedeling dit nie meer polities en ekonomies voordelig is om aan “die kerk” te behoort nie, en daarom verlaat baie ons kerke wat vir verkeerde redes aan die kerk behoort het (1 Joh.2:19), ook baie ‘ledemate’ wat op die boeke aangeteken was maar nooit met hart en siel deel was van die gemeente nie.
Verder is dit juis omdat die NG Kerk en Dopperkerk al meer afdwaal van die gereformeerde Skrifbeskouing (in o.a. die aanvaarding van ewolusie, kontra NGB art.2-7), die gereformeerde konfessies, weg van God se skeppingsorde vir die gesin en kerk, wat veroorsaak dat die kerk leeg loop. Ironies genoeg, was dit juis in die 1980’s toe die NAV aanvaar is, dat getalle drasties begin val het in ons susterskerke, sien u dalk daardie ‘link’ ook raak, of kyk u dit rustig verby omdat dit nie inpas by u eie agenda nie ?
En, wat van die feit dat die GKSA in 2003 (en die NGK en NHK voor dit) die Messias-ontkennende Cloete omdigting aanvaar het, is dit nie dalk die Here se oordeel omdat ons nie in ons vertaling en beryming(omdigting) sy Seun wil erken en besing nie, dat ons kerke nou so leegloop ?
Nog moontlike vyf redes vir die verval van ons kerke, en ons volk en land:
1. die afwesigheid van Adam (mans) om liefdevolle leierskap en diens te lewer in beide gesin en kerk, en as mans al meer daardie roeping verlaat, vergryp vrouens hul aan daardie roeping en taak, baie maal omdat mans nie wil voorloop nie. Dit veroorsaak ‘n bose kringloop: afwesigheid van manlike leierskap veroorsaak vrouens wat hul eie roeping versaak om die mans se werk te doen.
2. die volgehoue weiering, veral van die 1980’s om kinders, baie kinders as ‘n seën van die Here te verkry (Ps.127 en 128). Baie is vandag verskriklik ywerig vir sending en evangelisasie en ‘kinderbedienings’, maar is nie bereid om self tot eer van God en sy kerk ‘n ‘geslag van God’ te verkry en op te voed in sy Naam nie (Mal.2:15; Ef.6:4).
3. die volgehoue weiering vir dekades lank om ware gereformeerde tuisskole en privaat ouerskole te bevorder, en in plaas daarvan word staatskole ge-ondersteun wat geensins voldoen aan die gereformeerde doopbelofte nie. Kinders is verdeeld tussen wat in die skole geleer word (en as daar christelike onderrig is, is dit nie gereformeerde onderrig nie, maar charismatiese onderrig, g’n wonder ons kinders stroom dan na belydenis na charismatiese kerke nie, gesangsingende en al), en by die huis en in die kerk, as daar nog die gereformeerde leer geleer word in die huis en kerk, en nog Psalms waardeer en gesing word ?
4. Die opkoms van die TV/media- geslag. Ja, die tegnologie en media is nie die probleem op sig self nie, maar soos dit nou aangewend word, het dit die huisaltaar vervang. Vaders, moeders en kinders kuier nie meer saam nie, hou nie huisgodsdiens nie, maar is verdeel in verskillende ‘groepe’ wat ook in die kerke verder verdeel word (jeugbedienings, kinderkerke, ens).
5. 2 Tim.3:1-5 en 4:3,4 moet ook nie uit die oog verloor word nie.
As ‘n mens dus statistiek wil gebruik, dan kan ek ook die stelling teruggooi:
“Ons kerke is besig om leeg te loop … omdat sekere mense in ons kerke, kundig of onkundig, goed bedoeld of nie, besig is om God se skeppingsorde vir man en vrou, die gesin en die kerk om ver te gooi, en in Ps.11:3 en 127:1 lees ons dat as God se fondamente omgegooi word, as die Here die gesins- en kerkhuis nie meer bou nie, daar geen meer hoop en toekoms is nie.”
So terloops, die NG Kerk se getalle daal ook (nog steeds) elke jaar drasties, en dit ongeag dat hul die vrou in die amp het (ek vermoed dat na hul vrou in die amp gekry het, hul getalle ook drasties geval het).
Daar is net een antwoord:
“Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad (toekoms) het nie.” – Jes.8:20
Gaan kyk/luister ook na: Churches Using Carnal Means to Attract Carnal People
Sien ook : It’s Probably Not the Worship Style
http://bit.ly/mlYQFH
Ek kan nie glo wat ek hier lees nie!! U begin met die volgende vrome woorde (skynheilige ?): “Ek is self baie versigtig om ‘God te probeer speel’ met statistieke, en te vinnig afleidings te wil maak.”
Dan gaan u nie voort om net afleidings te maak nie, maar u oordeel asof u God is! Absoluut verregaande! U sonder net twee van die susterskerke uit, is die Ned Herv Kerk dan volgens u die suiwer kerk wat nie dwaal nie?
As gelowige steek ek graag my hart in eie boesem en sal graag na oplossings wil soek en bid, maar u maak dit regtig moeilik….”
Met respek in die liefde van Christus Jesus,
Johan E van Rooyen
Johan, om tantrums te kom gooi hier is nie eintlik antwoorde op enige iets wat ek hier geskrywe het nie. Dit sal beter wees om jou ontsteltenis te verduidelik met argumente en redes. So terloops, na jy my beledig het sonder enige argumente (terwyl ek juis hand in eie boesem gesteek het deur moontlike redes te gee vir die daling van lidmaatgetalle), groet jy my met mooi ‘vrome’ woorde … of is dit skynheilige woorde van jou kant af ?
Jy is welkom om verskoning te vra en dan kan ons die gesprek oor die inhoud van die saak, en nie ons persone, voortsit. D.w.s. kom ons speel die bal, nie die man nie. Dankie.
Dankie Slabbert – ek dink dis ‘n goeie antwoord. Een waaruit ek ook leer.
Dis ‘n baie goeie en omvattende antwoord! Voeg daarby dat sommige kerke die aspirasie het om almal te akkommodeer en op die ou end nog vis nog vlees is! Op die ou end staan die kerk vir niks en verloor dan juis hulle beste lidmate.