Ek moet seker iets skryf oor die verkiesing wat môre/vandag plaasvind.
Aangesien almal mos nou ‘geregtig’ is op ‘n mening, hier is myne (jy moet elke stap slaag om aan te gaan na die volgende stap):
Stap 1: Voor jy gaan stem, kyk watter party erken en bely Jesus Christus as enigste Koning en Verlosser en wil die land met al sy volke regeer volgens God se Woord, die Tien Gebooie (Ps.2), en nie volgens die humanistiese menseregte grondwet nie ?
Stap 2: As jy gereformeerd is, kyk watter party en kandidate onderskryf art.36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis, waar beide kerk en staat in diens moet wees van God, elkeen op sy onderskeie terrein volgens God se goeie wet ?
Stap 3: As daar dan so party en kandidaat bestaan, stel realisties vas of die party in die huidige opset en bedeling “met tienduisend die een … met twintigduisend” (Luk.14:31) kan verslaan by die verkiesingsbus ? (Dit sal goed wees om hierdie party dan ook te vra wat sy standpunt is oor die herstel van die gesin, moederskap en die kinderseën, veral Ps.127:5 se man wat nie beskaamd by die poorte [stembus?] opdaag nie, omdat sy pylkoker gevul is, d.w.s. wat is die plan om ‘getalle te kry by die stembus’?)
Waarskuwing, stap 3 vereis ook so bietjie wiskundige logika, d.w.s. dinkwerk, dinkwerk wat duidelik afwesig was by die 1992 refendum toe – hulle wat die land oorgee het aan die aborsie, misdaad en wanorde kultuur deur ‘Ja’ te stem, en waarteen hul duidelik gewaarsku het dit sou gebeur – nie daardie eenvoudige wiskunde en logika gebruik het om te besef die nuwe ‘een mens een stem’ politieke model sal die dood beteken vir Christelike wetgewing en ‘minderheidsgroepe en belange’.
As hierdie ‘ja broers’ nou kom en sê: maar nou moet ons vir da lesser of two evils stem, dan is die antwoord:
“If you choose the lesser of two evils, you are stil choosing evil.” – Ralph Nader
Om bv. vir ‘n marxisties-humanistiese party te stem wat pro-aborsie en pro-homoseksueel is, of ‘n liberaal-humanistiese party wat pro-aborsie en pro-homoseksueel is, is twee kante van dieselfde munstuk, albei partye draai hul oor weg van God se Wet (Spr.28:9).
Ek kan ook nie die sin daarvan in sien om ‘n party of kandidaat in te stem wat die huidige nie-christelike humanistiese grondwet moet aanvaar en handhaaf nie ?
En, wat gaan die ‘lesser of two evils’ wees oor twintig jaar ?
Moet ons dan vir pres. Malema stem wat ten minste teen die Satanistiese Party is ?
Waar eindig dit, dat ons eendag ‘moet’ kies tussen die dier wat uit die see of die dier wat uit die aarde opkom (Op.13) ?
Nee, laat ons eerder ons skaar by Op.12:11,
“En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hul getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.”
Ja, die ‘lesser of two evils’ pragmatisme is soos om te dink jy ‘moet’ tussen Hitler en Stalin stem vir president:
Why I’d vote For Adolf Hitler: A Satire On Voting For The Lesser Of Two Evils
Onderliggend aan die “ons moet vir die ‘lesser-of-two-evils’ stem, anders gaan die einde van die wêreld aanbreek” …. is ongeloof, ongeloof in Spr.21:1,
“Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.”
Geen mens of party nie, maar God regeer soewerein, van ewigheid tot ewigheid.
Ten einde is dit nie mense se verkiesings nie, maar God se uitverkiesende genade wat alles bepaal in die geskiedenis, sien die verhouding tussen Ef.1:4 en 11.
Miskien as ons dit in ons eenvoudigheid begin glo, werklik weer begin glo, en in ons gesinne en kerke leer en omhels, dat Christus waarlik Koning is, gaan ons weer leiers onder ons volke kry (Ex.18:21) wat Christus waarlik bely op die politieke terrein, én hul nie skaam vir sy goeie en regverdige wette nie (Mark.8:38).
Tot dan, stem reg, bly weg.
Wow. Ek twyfel sterk of jy my antwoord gaan plaas MAAR:
Laat ek jou een groot gat in jou sogenaamde argument uitwys: Om “nee” te stem in ’92 was, en is, heeltemal teen Christen waardes.
Hoe ookal jy dit ook spin kan jy nie verby daardie een kom nie – is dit dan geoorloof vir ‘n Christen om ‘n regering te ondersteun wat grootskaalse misdrywe op verskeie terreine voorgestaan het?
En indien jy daardie argument kies om te ignoreer, want jy kan nie verby hom kom nie; Jy noem dat die party moet voldoen aan die vereistes van die gereformeerde kerk (met die kwalifiseerder “indien jy gereformeerd is”), die kerk wat die vorige regime goedgekeur het willikeurige misinterpretasies van die Woord?
Dieselfde kerk wat – siende dat jy homoseksualiteit aangehaal het gebruik ek dit nou teen jou – homoseksuele predikante goedkeur op hulle sinodes, en hewig debat voer daaroor? Dit behoort mos bo bespreking vasgepen te wees, maar daar is nie eensinnigheid daaroor nie.
Wat moet God se wet dan doen? Homoseksuele uit die land dryf? Dit klink baie soos die ou bedeling wat swart mense uit die land wou dryf. Dit onwettig maak om ‘n aborsie te hê?
En ek aanvaar al klaar dat jy pro doodstraf sal wees – en dan gerieflik sal ignoreer wat Jesus se kruisdood vir die uitvoering van die doodstraf beteken het.
En jy noem die man se rol by die stembus deur gemaklik met woorde te speel buite konteks om jou punt te staaf, wat dan van die vrou se rol? Mag vroue stem in jou utopia? Ek neem aan die antwoord is “nee” en dat jy vinnig ‘n versie sal nader skraap om gewig aan jou opinie te leen.
My antwoord op hierdie drekspul van jou is in kort: Jy het geen been om op te staan nie want jy sou (het?) “nee” gestem het in ’92 en dus die “GREATER of two evils” gekies het – misdrywe, diskriminasie, rassisme, ‘n staatskerk wat sy posisie versterk het deur na die regering se pype te dans, moord.
Ek hoop van harte jy stem nie more nie, die land het jou tipe – soos met Hormeyer en Malema en die AWB – nodig nie.
Al jou argumente stort in duie met jou aaname dat n “NEE” stem n stem vir die regering van daardie dag was. Juis die teendeel is waar, die regering van daardie dag het n “JA” stem gepropageer, dus as jy “JA” gestem het het jy vir daardie regering gestem. n “NEE” stem het bloot gese jy stem nie met die regering se voorgestelde veranderings pad saam nie. (Almal het geweet verandering is nodig, die enigste vraag was hoe en wat.) Al wat n “JA” stem vermag het is om n groot gemors groter te maak.
Quintin, dankie vir jou eerlike mening. Ek sal moontlik more op verkiesingsdag baie tyd hê om jou te antwoord, omdat ek nie in die lang rye hoef te gaan staan nie.
Dankie dat jy my kommentaar geplaas het.
Ek sien uit na jou antwoord.
Proregno, ek stem met elke woord saam.
Die weirdo’s…
Slabbert, wanneer kan ons by die pastorie kom koffie drink??
Die reg om te stem, net soos die reg op onderwys, beteken by implikasie ook die reg om nie my reg te gebruik nie. En soos julle, gaan ons ook hierdie reg uitoefen.
Rustige dag.
Bel gerus, dan reël ons vir ‘n kuier
Quntin,
Die ’92 referendum het nie gehandel oor of jy die regering van die dag se “misdrywe”goedkeur aldan nie.
Dit het vir my eerder gevra watter rigting? ( new age of behoudend)
South African Apartheid Referendum
17 March 1992
Do you support continuation of the reform process which the State President began on February 2, 1990, and which is aimed at a new constitution through negotiation?
Yes or no
Groete
Maak nie saak hoe jy dit spin nie.
Jy het twee keuses gehad – behoudend: jy keur die ou manier van dinge doen goed – en – verandering; jy keur nie die ou manier van dinge goed nie.
Die ou regering het nie Christelik opgetree nie, dit was ‘n euwel vir te veel jare, en deur dit te wil behou impliseer jy dat jy dit goedkeur. Dit strook gladnie.
Sou jy tevrede gewees het as ons nog steeds met apartheid en die euwels van die ou regering saamgeleef het?
En jy gebruik die term “New Age.” Kan jy definieër wat presies jy met daardie term bedoel, want dit het vele konnotasies.
Vir wat dit werd is, “New Age” soos ek dit verstaan is die spookgogga wat deur die konserwatiewe kerk gebruik is om hulle gemeentelede bang te praat en in toom te hou.
Quintin, ek sal hier en daar op jou oorspronklike skrywe antwoord, laat weet as ek iets mis, dan sal ek weerprobeer antwoord.
In die lig van jou skrywe, wil ek die volgende stellings eers maak, en daarna ‘n vraag vir jou vra:
1. ons moet alle bedelings en regerings aan God se Woord te toets.
2. geen bedeling, in die verlede of hede is of gaan volmaak nie, so erken ek definitief dat die vorige bedeling ook sy sondes en probleme gehad het.
3. ekself is ‘n voorstaander daarvan dat alle volke mag stem, vir hul eie volk oor hul eie lotgevalle. In daardie sin het ek nie ‘n probleem daarmee gehad dat daar veranderinge moes kom nie, die probleem is net:
4. was die verandering van die ou bedeling na die nuwe bedeling, gesien in die lig van die Skrif, reformasie of nog verdere deformasie ? Ek dink laasgenoemde.
Quintin, om dan een voorbeeld te gebruik, was dit meer Christelik om te beweeg van ‘n bedeling wat mense verbied het om op sekere plekke te bly (apartheidswette), na ‘n nuwe bedeling wat mense verbied om te lewe (aborsiemoord) ?
Ja, daar het ook seker moord en doodslag plaasgevind in die ou bedeling, waarvan ons seker vandag nog nie weet nie, maar die huidige bedeling het moord op sig self goedgekeur en beskerm mense wat daagliks met wit jasse moorde pleeg (van 1997 al meer as ‘n miljoen mense vermoor). So, as ons nie mag diskrimineer teen ras nie, hoekom diskrimineer ons teen ouderdom (die ongebore baba) ?
So, ek is ‘n verdediger van alles en nog wat van die verlede nie, maar die verlede is verby.
Die vraag is wat van nou: sien jy werklik die beweging van apartheid SA na ‘n aborsie, misdaadgeteisterde, verwerping van God se gebod nuwe SA as enigsins ‘beter’ as die verlede, getoets aan God se Woord ?
Jy het veel meer genoem as net aborsie in jou oorspronlike skrywe.
Aborsie is ‘n moeilike onderwerp, en ek stel aan jou dat die twee benaderings wat tans rondgegooi word albei verkeerd is.
1 – Anti Aborsie – Die benadering is dat ALLE aborsie moord is. Dit is absoluut simplisties en ignoreer vele gevalle wat strek van praktiese aspekte soos die oorweging waar die swanger vrou se lewe in gevaar is tot morele vraagstukke wat insluit vrouens wat swanger ord a.g.v. verkragting.
2 – Pro Aborsie – Sogenaamde “Pro Choice.” Hierdie beweging doen homself voor dat hy vrye keuse voorstaan van die vrou, en ignoreer die ongebore kind se reg tot lewe en beskerming. Dit laat die deur oop vir aborsie as ‘n oplossing vir ‘n losbandige lewe, dit laat die ouer(s) toe om die verantwoordelikheid vir hulle lewensstyl te verplaas en die nagevolge daarvan te aborteer.
Aborsie is op hierdie stadium van die geveg wat skaamteloos rondgegooi word as ‘n maklike “ons teen hulle” verdeler, wat die dieper argument ignoreer en die vind van ‘n beter oplossing benadeel.
Voor jy my dalk misverstaan: ek is nie pro aborsie in die bree gebruik van die term nie, maar ek glo dat dit nie onwettig verklaar mag word nie – daar is gevalle waar dit ‘n werkbare oplossing is vir ‘n onaangename situasie of gebeurtenis soos ek bo voorbeelde genoem het.
En dan in antwoord op jou punt 4:
“4. was die verandering van die ou bedeling na die nuwe bedeling, gesien in die lig van die Skrif, reformasie of nog verdere deformasie ? Ek dink laasgenoemde.”
Ek stem nie saam nie – dit was reformasie, van dit goed, van dit sleg. Indien dit ‘n koue ruiltransaksie kon wees (wat dit nie is nie) is die menswaardigheid van dertig miljoen ingeruil vir die menswaardigheid van een miljoen.
Dis te simplisties – dis nie die beste oplossing nie, maar dis die een waarmee ons leierskap op daardie stadium na vore gekom het. Uit jou oorspronklike stuk blyk dit asof jy eerder “nee” sou stem en daarmee tevrede sou gewees het, solank – omdat jy dit in jou antwoord genoem het – aborsie nie gewettig word nie.
En dan jou laaste vraag:
”
So, ek is ‘n verdediger van alles en nog wat van die verlede nie, maar die verlede is verby.”
Ek neem aan jy het bedoel “nie ‘n verdediger nie.”
“Die vraag is wat van nou: sien jy werklik die beweging van apartheid SA na ‘n aborsie, misdaadgeteisterde, verwerping van God se gebod nuwe SA as enigsins ‘beter’ as die verlede, getoets aan God se Woord ?”
Jy maak ‘n paar aannames hier:
1 – dat daar geen wettige aborsies voor 1994 plaasgevind het nie.
2 – dat die hoeveelheid onwettige aborsies voor 1994 minder was as die hoeveelheid wettige aborsies sedertdien.
3 – dat die regering se optrede nie misdaad was nie. Ek gee graag toe dat ons met ‘n massiewe misdaadprobleem sit, en lê die blaam voor ons huidige regering se deur.
4 – Dat God se gebod verwerp is. Wat presies bedoel jy hiermee? God se gebod met die land se pre1994 leierskap? Dit sou impliseer dat God die ou regering goedgekeur het. Ek glo Hy het nie.
As ek kil die hele opsomming van ons land se geskiedenis neem moet ek tot die slotsom kom dat die huidige bedeling meer in lyn is met God se plan vir die mens as voorheen.
Dis glad nie in lyn op hierdie oomblik nie, maar dit is nader as wat dit voorheen was.
“So, ek is NIE ‘n verdediger van alles en nog wat van die verlede nie, maar die verlede is verby.”
Leeukuil het reeds geantwoord oor die 1992 referendum kwessie. Deur ‘nee’ te stem het jy nie saamgestem met alles in die verlede nie, maar juis teen FW se planne tot oorgawe van ons land aan ‘n onchristelike humanistiese rewolusionêre magte van die ANC en die liberale Weste, wat almal geweet het sou lei tot die vernietig van die Christelike wette van ons land.
Dus, baie Christene het ‘nee’ gestem, nie omdat hul nie wil hê ander volke moet ook hul ‘stemreg’ kan beoefen nie, maar omdat FW se planne sou lei tot:
– die vernietiging van die Christelike beskawing wat deur eeue hier gevestig is, en
– omdat dit ‘n volk se vryheid oor homself te regeer van hom sou wegsteel.
Ek glo die vorige bedeling het die mag en manskappe gehad (weermag, polisie, ens) om ‘n beter en regverdiger bedeling vir al die volke te beding, maar ongelukkig het ons ‘n geslag papbroekige politieke en kerklike leiers gehad wat die knie gebuig het en voor die wêreld, die kommunisme en die liberale media ‘ge-hensop’ het, sien Ps.78:9-11.
Ek is jammer, ONS land? En wie se reg tot selfregering is weggeneem?
Het die “ander” mense in hierdie land nie dieselfde aanspraak op hierdie land gehad nie?
Het die blanke dan ‘n voorkeur tot selfregering wat nie die nie-blanke toekom nie?
En dan ook, ons vorige bedeling was definitief nie ‘n Christelike beskawing nie. Nie naby nie. Dit impliseer dat God apartheid goedgekeur het, eksperimentering op swartmense goedgekeur het.
Jy kan nie eerlik glo dat dit die geval was nie?
In die vorige bedeling het swart mense ook stemreg gehad. Net nie in Suid-Afrika nie. Die Sothos kon gaan stem in Bopotutswana en die Xhosas kon gaan stem in Transkei of Ciskei, en ander volke kon in ander tuislande gaan stem. Omtrent net die Zoeloes het nog nie ‘n tuisland gehad nie, aangesien Buthelezi nie na PW Botha se pype wou dans nie.
Die bruin mense en die Indier kon vir hulle verteenwoordigers in die 3-kamer parlement gaan stem.
Of ‘n stem in jou tuisland of vir jou 3-kamer verteenwoordiger ‘n verskil sou maak aan jou lot, is onwaarskynlik. Maar of jou stem ‘n verskil kan maak in die huidige bedeling is maar net so onwaarskynlik.
Daar is dus geen wesenlike verskil tussen die vorige tuisland/3-kamer demokratiese sirkus en die huidie een-man-een-stem (intussen aangepas na een-persoon-een-stem) demokratiese sirkus nie.
Quinton, oor homoseksualisme en aborsiemoord, albei is ‘n gruwel in God se oë en moet verbied word, soos in die vorige bedeling en soos die Skrifte leer (Rom.1:25-32). ‘n Samelewing wat hierdie twee euwels goedkeur en goedpraat, wys daardeur dat hul onder die oordeel van God is.
Daar is, dank God, vergifnis, vir elkeen van ons wat sondig, ook vir die gay persoon of die vrou wat aborsie-moord gepleeg het, maar ons mag dit as daad/lewenswyse/handeling nooit goedpraat nie:
1 Kor. 6:10-11 10 “Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. 11 En dit WAS SOMMIGE VAN JULLE; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.”
Dit is baie liefdeloos van ‘n predikant, sielkundige of politikus/regering om vir iemand te vertel dat jy ‘n reg het om in jou sondes te volhard, en alles is reg so. ‘n Ware gelowige sal aan elkeen verkondig, ook myself, dat wat sonde is (God se wet as norm), en dan daarop wys dat daar redding en verlossing is in Christus alleen, vergifnis, en ook krag deur die Heilige Gees om teen daardie sonde te stry.
Dit is een ding om te worstel teen sondes en swakhede, soos ons almal moet doen, ons hele lewe lank; dit is ‘n verkeerde ding om God se Wet te verdraai en aan te pas by ons sondige begeertes, sien Matt.5:19a en Rom.1:32.
Homoseksualisme is ‘n saak op sy eie waaroor ek nog ‘n vaste besluit moet neem, so ek sal vir nou nie daaroor kommentaar nie. Ek glo wel dat God se genade genoeg is maak nie saak wat jou sondetoestand is nie.
As jy my vorige antwoord lees sal jy opmerk dat ek gladnie aborsie as ‘n lewenswyse goedkeur nie. Dit kan wel nie heeltemal weggeneem word as ‘n opsie nie – die regte lewe is nie swart-en-wit (in die afwesigheid van ‘n beter uitdrikking) nie.
Jou aanahling van 1Kor 6 sluit die woord “kwaadspreker” in. Onthou jy die “swart gevaar” toesprake? Is dit dan nie kwaadspreking nie?
Die woord sny albei kante toe, daarby kan niemand verby kom nie.
En om my stelling oor homoseksualisme te verklaar – ek het nie ‘n voller en meer deurdenkte argument daaroor behalwe dat die menswaardigheid van homoseksueele mense nooit aangetas mag word nie.
In hierdie gesprek, met iemand van jou oortuiging is dit moeilik verdedigbaar siende dat ‘n humanistiese aanslag alreeds verwerp is.
Ek antwoord bietjie later, gaan ook gou toustaan … maar in Pick ‘n Pay !
Quintin, dit is waar dat die vorige bedeling die uitsonderingsgevalle gehad het vir aborsie (5?), terwyl die huidige bedeling aborsie op aanvraag ook goedgekeur, en dus nog verder met die euwel gegaan het. Ek verwerp albei bedelings se standpunte, en selfs die een geval waar die moeder se lewe op die spel is, veg jy vir albei se lewe.
Maar daar is selfs ‘n groot verskil tussen die uitsonderingsgevalle aborsie standpunt, teenoor die huidige bedeling se ‘aborsie op aanvraag’ standpunte, erken jy dit ?
Of ‘n mens die apartheidswette gelyk daaraan kan stel aan die feit dat die nuwe bedeling nou verbied dat sekere mense mag lewe, dink ek nie gaan so mooi op nie. Eersgenoemde, in jou oë, tas dan mense se ‘waardigheid’ aan, laasgenoemde tas hul lewe opsigself aan.
So terloops, gee eers ‘n definisie van die woord ‘menswaardigheid’, voordat ons by mekaar verbypraat ?
Quintn ek “spin” dit so
Hier geld die beginsel, of ons reformeer nader na Gods gebooie of “Homoseksualisme”/ (aborsie, moord, sabats ontheiliging ens soos jy dit stel:
“is ‘n saak op sy eie waaroor ek nog ‘n vaste besluit moet neem”
Quintin jy hoef nie daaroor ‘n vaste besluit te neem nie.
God het reeds daaroor besluit en sy raad is ewig.
Contra principia negantem non est disputandum.
Wat is nou eintlik gesê met die ‘swart gevaar’ toesprake ?
As daar gesê is: omdat swartes swart is, daarom is hul ‘n gevaar, dan stem ek nie daarmee saam nie.
As daar gesê is: die swart gevaar is ‘n gevaar omdat hul met die marxistiese ooste en liberale weste saamsnoer om die Christelike geloof en ons volk omver te werp, en dit moet ons beveg – dan stem ek saam.
Of, as daar bloot uit ‘n praktiese wyse politieke besinning (soos AP Treurnicht) gesê is: as daar een man een stem kom, is dit die einde van ons volk se vryheid, dan stem ek saam. Die voorgeslagte se wiskunde was duidelik beter as die huidige liberale geslag s’n. Weereens, as elke volk vir hul eie leiers stem, het ek vrede daarmee, maar ek kan nie sien hoe 30 miljoen kan besluit vir die ander 5 miljoen, nou enigsins meer regverdig en goed is as wat in die apartheidsdae se 3 miljoen vir 30 miljoen besluit het nie. Kan jy vir my verduidelik hoekom liberale demokrasie van die nuwe SA meer regverdig en bybels is as die vorige bedeling ? Ek leer graag.
Let wel, ek sê nie in enige van die gevalle hierbo wat ek noem, dat dit is wat werklik gesê is nie, ek gebruik net die voorbeelde om te onderskei.
En ja, ek glo daar was/is ‘n rooi, liberale en roomse ‘gevaar’ ook, ek val nie vir al die grappies daaroor nie, alhoewel ek ook lekker kan saamlag oor sommige oordrywings daarvan.
Die feit dat ons land volgens omtrent 7 van die 10 marxistiese beginsels regeer word, bevestig die ‘rooi’ gevaar.
Die feit dat ons een van die mees liberale grondwette in die wêreld het, bevestig die liberale gevaar.
Die feit dat baie kerke en kerkverbande al meer die verlossing uit genade, deur die geloof alleen, en die eenvoudige erediens, verwerp, en deel word van die ekumeniese bewegings (SARK, WRK) bevestig die roomse gevaar.
Ek dink ons arrogante hedendaagse (post)moderne geslag (van alle kleure en geure) wat dink net omdat hullle ‘n “ek is teen apartheid” hempie dra, hul nou op ‘n hoër morele grond plaas as ons voorvaders, maar in-tussen verder hoer en rumoer soos hul wil teen God se wet, moet bietjie meer respek betoon vir ons voorgeslag, wat net soos hulle ook mede sondaars was.
Let wel, Quintin, ek sê nie dit is hoe jy is nie, ek ken jou nie om daardie afleiding te maak nie, dit is ‘n algemene stelling, die nuwe wet vandag in die plek van God se wet : “solank jy teen apartheid is, is jy OK, jy kan maar God se naam laster, Hom bevloek, sy rusdag onteer, egbreek pleeg, aborsies aanmoedig, gay lewe bevorder, ens ens … maar as jy vir apartheid was, gaan jy hel toe ….”
Om die afgode/heilige koeie van ons verlede af te takel, broederbond, NG Kerk, NP, ens is maklik … maar moenie die afgode/heilige koeie van ons tyd, die DA, ANC, Madiba, menseregte ideologie, demokrasie ideologie, ens. vergeet nie.
Dus, my pleitdooi is, as jy dan glo die vorige bedeling was nie Christelik nie (ons kan maar verskil oor die graad daarvan), en dat baie mislei is daardeur, dan soveel te meer pasop dat jyself nie ‘n ‘slagoffer van die nuwe SA’ en sy propaganda word nie.
Quintin, soos gevra. Om net my beskeie mening aangaande New Age te stel,net kortliks: New age/New World Order/ New Civilisation is so oud soos die mens self en kan terug gevoer word na Satan se opstand teen God en sy poging om die mens van die Vader en Jesus Christus te vervreem. Gen 3 vers 4&5 “ Julle sal gewis nie sterf nie” maar “julle oe sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.” Of jy nou Bevrydings teologie, Bevrydings Politiek, Rome of enige ander vorm van Humanisme of Menseregte beoefen, en jy nie na Gods wil skik nie, het jy die mens en sy regte bo die ware Chritelike leer gestel.
Ek wonder net hoeveel argumente kan uit die bybel aangehaal word om n mens en beskawing te veroordeel vandag.
Reeds in Genesis word genoem dat n mens nie van die boom van kennis van goed en kwaad mag eet nie. In die konteks kan beskawing opsigself as n verval in sonde gesien word en aborsie dan net n sprekende voorbeeld van die graad waarmee ons die bevel verontagsaam en die gruwel daarvan.
Verder wonder ek of die bybel se wette hierna nie ook lynreg teen hierdie eerste en enigste bevel aan die mens tydens die skepping inwerk nie. Dit alles handel tog oor kennis van goed en kwaad?
Een ding maak seker sin, as n mens in n paradys wil leef sal almal seker naak, onopgevoed en n natuurkind moet wees. (smile)
Maar terug na die hede en politiek. Ek moet erken dat dit blyk dat die verkiesing goed verloop het en dat die politsi hulle die keer beter gedra het. Voel amper soos n stilte voor die storm.