“The question of where ultimacy lies should be central to the Christian. It is easy to see the social implications of allowing priority to fall to either the one or the many. This volume examines in-depth the Christian solution to the problem of the one and the many – the Trinitarian God. Only in the godhead is this dilemma resolved. Only in the Trinity does there reside an equal ultimacy of unity and plurality. Rushdoony examines the history of Western thought from the standpoint of the one and the many and demonstrates clearly that the most astute thinkers were unable to resolve this philosophical conflict. What is needed now is a complete return to the Trinitarian view of God and its implications for a Christian social order.”
Die Belhar belydenis en die afgelope nuwe SA verkiesing het een ding in gemeen, en dit is die unitariese lewensbeskouing dat eenheid belangriker is as verskeidenheid in ons land se sosiale orde. Ja, ongeag die mooi praatjies dat verskeidenheid ‘gerespekteer’ word, is die eensydigheid duidelik te sien in die verabsolutering van eenheid ten koste van verskeidenheid, ten minste in die lewenspraktyk.
Ons sien dit in die nuwe SA se ‘rainbow nation’, waar die ‘nation’ (‘we are one’) verhef word en bo die ‘rainbow’ (‘cultural diversity’) beklemtoon word. Ons sien dit in die Belharbelydenis, as hul skryf:
“Daarom verwerp ons enige leer wat of die natuurlike verskeidenheid of die sondige geskeidenheid so verabsoluteer dat hierdie verabsolutering die sigbare en werksame eenheid van die kerk belemmer of verbreek of selfs lei tot aparte kerkreformasie …”
Nêrens in die Belhar belydenis word daar gewaarsku teen die valse ekumene, die valse eenheid ten koste van die ware eenheid, die valse eenheid ten koste van die Waarheid wat saambind, nie. Sigbare strukturele eenheid vir hierdie valse unitariese denke, is belangriker as teologiese en konfessionele suiwerheid. Daarom het die Belhar-belydenis plek vir marxistiese en liberale teoloë wat bv die goddelike inspirasie van die Bybel verwerp, die wonderwerke bevraagteken, Jesus se Godheid ontken, homoseksualisme goedpraat, wie se leiers die gelykheid van godsdienste bepleit, wat die SARK/WRK met ope arms verwelkom, ens. … solank hul net ‘verenig’ is teen die sogenaamde ‘euwel van apartheid’.
In hierdie unitaristiese godsidee word daar bloot veronderstel (met die misbruik van ‘n paar bybelversies, veral Joh.17) dat slegs eenheid belangrik is (wat volgens hul hoofsaaklik ‘n strukturele eenheid is), en dat hul verskeidenheid alleen verdra as dit in diens is van die eenheid (gewoonlik ‘n valse sosio-polities gedrewe ekumene).
Die probleem met hierdie verabsolutering van die ‘eenheid’, ten koste van die ‘verskeidenheid’ van die lewe, is dat dit indruis teen die Bybels-trinitariese lewens- en wêreldbeskouing, wat beide die eenheid en verskeidenheid handhaaf, erken en heilig – en nie vernietig of teen mekaar afspeel nie.
In ‘n lesing, baie jare gelede (1996) oor die saak van “Die eenheid én verskeidenheid van ‘n sosiale orde”, het ek dit as volg gestel:
“Die Christelike oplossing (in antwoord op die verabsolutering van eenheid of verskeidenheid) is heel eenvoudig: nie die eenheid of verskeidenheid is finaal of die belangrikste nie. Albei is ewe belangrik en nodig maar nie een is finaal of absoluut nie, aangesien niks in die skepping finaal of absoluut is nie. God alleen, Skepper van die ganse kosmos, die Drie-enige, die drie én een God is absoluut en finaal.
Dit hef ook die gesagsprobleem op aangesien die finale gesag nie in die eenheid (huwelik, kerk, volk, staat) of die verskeidenheid (man/vrou, lidmate, burgers) setel nie maar in God alleen wat die hoogste en finale Wetgewer is, deur Sy Woord en Gees. Die mens en sy instellings het wel afgeleide gesag wat aan God verantwoordelik is en deur Sy Wetboek beperk word. Geen mens of instelling is dus absoluut nie.
Die Christelike oplossing vind sy basis in die Triniteitsleer soos geopenbaar in die Skrif en uiteengesit in die Christelike kerk se belydenisskrifte van Athanasius (4 de eeu), die Apostoliese Geloofsbelydenis (2de eeu) en die Nederlandse Geloofsbelydenis (16de eeu): artikels 8 en 9.
Die Protestantse Reformasie, in lyn met die Bybel en die getuienis van die vroeë kerk en kerkvaders, het met sy rykdom van Skrifgefundeerde belydenisskrifte (16de en 17de eeu) weer die geloof in die Drie-enige God opnuut in die middelpunt van die hele lewe erken en geplaas. Met hul basiese belydenis van sola Scriptura, sola fïde, sola gratia, soli Christo en soli Deo Gloria, het hul die regte grondmotief in die sentra van die lewe en denke geplaas. Nie aan die Griekse gode, Romeinse keisers, pous, kerk of staat nie maar aan God alleen die eer ! … “
Teen die huidige situasie waarin slegs die (valse) eenheid beklemtoon word, behels ‘n trinitariese beskouing van ons sosiale orde:
“Ons probleem is dus nie dat daar mense met verskillende kulture en tale en gewoontes is nie, maar die sonde (opstand teen God en sy gebod, Ps.2) wat veroorsaak dat daardie volke nie in vrede met mekaar kan saamwerk sonder om mekaar te wil vernietig nie. Ons as gelowiges moet bid en werk dat elke volk en kultuur in ons land sy hele lewe baseer op die Woord van God, en nie om alle volke saam te dwing om een taal, kultuur en tradisies te hê nie. Ons visie is dat alle volke die Christelike geloof (eenheid) sal hê waarop hulle totale lewe as individue, gesinne, kerke, burgers, ens (verskeidenheid) gebaseer sal wees. Daarvolgens kan op gemeenskaplike terreine saamgewerk word, bv. evangelie, sendingwerk, teen ‘n gesamentlike vyand, ens.; en kan elkeen weer sy eie sake behartig waar dit kom by eie kultuur aktiwiteite of inrigting van ‘n eie volkslewe. … Ons toekoms, veral as Christene onder alle volke, is om naas ons eie lewens, ook die totale sosiale orde waarin my volk of kultuur hom vind, in lyn te bring met die Skrif. Wanneer gelowiges uit verskillende volke mekaar se eenheid in die geloof, en tog verskeidenheid van kulture erken, en dit alles op die Skrif fundeer, dan sal en kan daar, as die HERE wil, eendag hier aan die suidpunt van Afrika ‘n “Gemenebes van onafhanklike Christelike Republikeinse state” wees wat gebaseer is op God se Heilige Wet, met Jesus Christus as Alleenheerser en Verlosserkoning van daardie volke, waar elkeen in hul onderskeie eenheid en verskeidenheid, in al die aspekte van die lewe, die eer en glorie bring aan die God van die Bybel, die Trinitariese God: Vader, Seun en Heilige Gees: God Drie-enig!”
Die sosio-politiese denke van Paul Kruger, Totuis, Stoker en Verwoerd, met hul gebreke en al, was baie meer in lyn met die trinitariese bybelse lewensbeskouing, kontra die unitariese denke van Rhodes, Jan Smuts, FW de Klerk, Mandela, Zille en die res van die nuwe SA.
Gelowiges op elke terrein sal opnuut bybels, Niceaans, trinitaries moet begin dink.
My volledige lesing oor hierdie onderwerp, kan hier afgelaai word:
Die eenheid en verskeidenheid van ‘n sosiale orde
Sien ook ‘n resensie van Rushdoony se boek, The One and the Many.
Baie dankie, Slabbert. Sal graag wou sien tot watter mate hierdie gedagterigting ook van toepassing is op die eenheid en verskeididenheid probleem wat daar binne kerke bestaan wat wel bogenoemde belydenisse onderskryf.
Hallo Gustav, ek dink net soos eenheid misbruik kan word en dan op ‘n valse eenheid neerkom (bv. die Belhar tipe ekumeniese beweging), so kan verskeidenheid ook misbruik word en dan op ‘n valse verskeidenheid neerkom (bv. een gemeente mag maar vrouderlinge hê, maar ‘n ander een hoef nie, ens.). Daarom moet beide eenheid en verskeidenheid nie verabsoluteer word nie, maar voldoen aan die enigste absolute: God wat spreek deur Sy Woord vir sy Kerk, sodat ware eenheid en ware verskeidenheid erken en gehandhaaf word binne sy bevele.
Ironies soek baie vandag ‘n eenheid sonder die ware leer (dus in sigbare menslike eenheid in strukture, nie in die ware leer en belydenis nie), en wil hul Godgegewe ‘verskeidenheid’ (bv. man en vrou se verskillende take/rolle) onderdruk/verwerp, of bv. die ‘sonde’ sien in die feit dat daar verskillende kerke is vir elke volk, taal en kultuur.
So om saam te vat: die valse kerk is akkomoderend oor waar ons eintlik een moet wees, die ware leer; en hul is onverdraagsaam daar waar Godgegewe en natuurlike verskeidenheid is: verskillende kerke vir verskillende tale/kulture, ens.
Gustav, ek hoop ek het jou opmerking reg verstaan, brei gerus meer uit as ek iets gemis het.