“En daar het hul die evangelie verkondig” – Hand.14:7
‘n Mens staan baiemaal beskaamd as ‘n mens die lewe van die apostel Paulus bestudeer, of eerder die getuienis van die lewe van Christus deur Paulus (Gal.4:14). Nog meer word ek tans daarvan bewus terwyl ek deur die boek Handelinge preek. Die afgelope Sondag het ek uit Hand.14, spesifiek v.22, gepreek:
“… en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.”
In die hoofstuk vind ons vir Paulus in sy ‘eerste sendingreis’ (Hand.13 en 14), wat verwerp en bedreig word met baie mishandeling en steniging (v.5). Sy prediking en die wonders deur hom gedoen word deur sekeres aanvaar (13:48) en deur ander verwerp (14:2) en/of ‘verdraai’ om
afgodery te bevorder (v.11). Eindelik word hy deur sy ‘aanhoorders/ gemeente’ werklik gestenig, amper tot die dood toe (v.19).
Kyk, as daar nou al ooit ‘n prediker was wat die boodskap moes kry – hy is nie welkom (om vandag se taal te gebuik) in die ‘nuwe SA kerk en samelewing’ nie, is dit broer Paulus !
Paulus is nie welkom nie, want sy Here is nie welkom nie en nog minder sy boodskap, want in die oë van die wêreld se konings en intellektueles – gister én vandag s’n – is die wysheid van God, nl. die maagdelike geboorte, wonderwerk lewe, kruisiging, opstanding en hemelvaart van die Seun van God, Jesus Christus (nog) steeds ‘n dwaasheid, ‘n dwaasheid waarin hul verlore gaan (1 Kor.1:18-31).
Ja, Paulus se Evangelie veroorsaak aanstoot in beide ‘kerk én staat’ (v.5), hy soek nie die vrede van die valse ekumeniese gees van sy tyd, die ‘sinagoge van die Satan’ (Op.2:9), of van die heidense samelewing en tydsgees nie (sien ook Hand.17:17).
Maar, kry Paulus die ‘boodskap’ van ‘jy is onwelkom’, laat jy gaan, ons lewe in ‘n ‘ “Nuwe Hervorming” (post) moderne tyd waarin mense mos nie uit die dode opstaan nie’, soos (bv) geleer word in die Atheense Universiteit deur die grootste ‘teoloë en filosowe’ van die dag, en ook
deur liberaal protestantse instellings vandag (sien Hand.17:32, asook die voetnota hier onder, opgedra aan die ‘Nuwe Hervorming’), … ?
Nee, in v.20-22 staan Paulus as’t ware uit die dood uit op – nie om te onttrek uit die stryd nie (‘ek het my deel gedoen, dit is nou ander ouens se beurt’), om eenkant ‘n aftree-huisie met sy laaste pensioengeldjies van Antiochië gemeente te gaan koop en gelukkig vis te vang en 7de Seëroete te volg op die kassie nie, ‘terwyl die wêreld maar kan vergaan’.
Nee, ons lees: die ‘volgende dag’ ! is hy al weer oppad, om: “die evangelie te verkondig” … (v.20,21). Paulus het 2 Tim.4:2 ‘letterlik’ verstaan … en dit het vir hom gegeld tot die ‘einde toe’ (nie tot die dag van ‘aftrede’ nie, maar ‘ek het die wedloop voleindig’, 2 Tim.4:6-8)
En, hoe ironies, hy wat troos nodig het, hy wat bemoediging nodig het om nie op te gee nie, wat doen hy ?
Vers 22: hy en Barnabas het die gelowiges versterk en vermaan om in die geloof te bly, omdat ons deur ‘baie’ verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan !
Stryd, reeds gewen in Christus (Rom.8:30-38; 1 Kor.15:57,58; 1 Joh.5;4,5) is ‘n deel van die gelowige se lewe, van geboorte tot begrafnis, ‘n werklikheid wat nie ontken mag word nie. Dit is ‘n stryd teen die eie sonde, wêreld en die Satan (HK Sondag 52). Ja, ons smag almal na vrede en rus, maar nooit ten koste van die waarheid nie, nooit los van Christus en sy Woord nie. Geen vrede, sê my God, vir die goddelose, vir die wetteloses, vir die opstandelinge, vir die Godsveragters nie (Spr.28:4,9; Jes.48:22; Joh.16:33).
Paulus het nie die ongehoorsame Jode (v.2) met hul verlossing deur wet/werke (Galasiërs boek; Hand.15), of die Nuwe Hervormers van sy dag (Sadduseërs, Matt.22:23ev; Hand.23:8) se dwalinge probeer akkomodeer in die kerk van Christus nie (1 Kor.15), hulle moes ge-evangeliseer word.
So sien ons, die kerkvergaderende werk van ons Here Jesus gaan voort, ongeag vervolging, verdraaiing van God se Woord, en verwerping van die Evangelie ! :
1. die evangelie word verkondig; sending werk word gedoen (v.1, 7, 21, 25)
2. apologetiese stryd in kerk én wêreld gaan voort, ongeag al die verdraaiings en gelykheid van godsdienste en idees wat beweer word (v.14, sien ook Hand.17:15-17)
3. visitasie van en deur onderlinge gemeentes (v.21b)
4. ouderlinge word gekies (v.23), interessant, hoe swaarder dit blykbaar met die kerk van Christus gaan … hoe meer ouderlinge is daar om te verkies?
5. visitasie verslae (v.27)
6. ‘n tyd vir rus en kragte opbou (v.28) …
7. vir die volgende stryd, vervolging en verdrukking wat kom: hoofstuk 15 … die ‘redding deur werke’ en ‘kerkverband’-probleem !
En so, ook vandag nog, gaan die goeie stryd voort, gaan ons deur ‘baie’ verdrukkinge die koninkryk moet ingaan, stryd van binne en buite, fisies en geestelik van aard. Daar gaan altyd daardie mense met oë wees, met verstand wat sy Woord sal verdraai en nie aanvaar nie (14:18; 2 Petr.3:16; 2 Tim.4:3,4), maar blind is in hul sondes om nie te buig voor Christus en sy Woord nie. Die feit dat daar teenstand en verwerping is, moet ons egter nie ontstel nie, dit het begin in die tuin van Eden (‘Het God werklik gesê’ …) en sal tot die laaste dag daar wees (NGB art.37). Eendag sal hul ‘ongeloof’ ook oorgaan tot aanskouing: Luk.16:28.
Daar is niks nuuts onder die son nie, ook die ‘nuwe’ SA met sy verwerping van God en sy gebod, met sy godsdiensgelykheid, met sy postmodernisme, new age gedagtes, Nuwe Hervormers, sy groeiende getal militante ‘nuwe ateiste en evolusioniste’, verval van kerk en staat, verval van morele waardes, daar is niks nuuts nie, Paulus het in dieselfde soort tye gelewe, ons mense bly sondaars, ons (tegnologiese) middele om te sondig het net meer gevorder.
En, die antwoord bly dieselfde, deur al die eeue en tye:
“En daar het hulle die evangelie verkondig” (v.1,7,21,25)
Laat ons in Christus, deur sy Gees en Woord, die goeie stryd stry midde die geestelike en fisiese verdrukkinge (Joh.15:5; 2 Tim.4:1-7)
Gebed: Mag die Here die ‘gees van Paulus’ (2 Kon.2:9) ook meer in ons lewe laat gestalte kry, nie net in (en veral in) predikers nie, maar ook ouderlinge, vaders en jongmans – sodat ons ons vrouens, kinders en gemeentes in sy Naam mag lei en bedien, met die wete dat deur sy genade, “almal wat verorden is tot die ewige lewe”, gered sal word, en vrug sal dra in geloof, bekering en gehoorsame dankbaarheid (13:47-49).
‘n Paar Skrifgedeeltes vir verdere bemoediging en oproep:
Exodus 14:13-14 13 Maar Moses het aan die volk gesê: Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie. 14 Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees.
Deut.20:1 As jy na die oorlog uittrek teen jou vyand en perde en strydwaens sien, ‘n volk meer in getal as jy, dan moet jy vir hulle nie vrees nie; want die HERE jou God wat jou uit Egipteland laat optrek het, is met jou.
John 16:33 33 Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.
Voetnota: sien die duidelike antitese wat Paulus en Barnabas as ‘predikante en teoloë’ handhaaf in Hand.14 – die antitese tussen ‘Godsopenbaring’ (v.7,15b-17, ‘… tot die lewendige God … te vervul’) teenoor die ‘nietige dinge’ van die Griekse/Romeinse mitologie (v.11b-13).
Hierdie is ‘n duidelike verwerping van die bultmanniaanse-nuwe hervorming idees wat die vroeë kerk se ‘gemeente teologie’ in die griekse/romeinse mitologiese wêreldbeskouing soek, en nie in
‘Goddelike Openbaring’ (Daar staan geskrywe nie) nie. Die Nuwe Hervormers verwerp die gesag van die Heilige Gees deur mense, en aanvaar die gesag van mitologiese en fabelagtige stories.
Paulus verwerp die Zeus/Hermes (Jupiter/Mercurius) fabels en stories as ‘nietige dinge’, en leer dat God alleen lewendig is, en hierdie ‘gode’ dood is, dat Paulus en Barnabas bloot mense is, dat God in sy voorsienigheid alles onderhou en dat geen mens nie (veral nie die sogenaamde evolusionis en naturalis) sy getuienis in die skepping kan ontken nie (v.17). En, laastens, die tye van onkunde is nou verby, dat elke nasie nie meer in hul eie weg mag mag wandel nie (dus of jy in Afrika, Weste, Ooste, Japan of waar ook al is), almal word opgeroep tot geloof, bekering en gehoorsaamheid aan die lewendige God van die Heilige Skrif, soos Paulus dit teenoor die Atheense ‘Vrydenkers’ van sy tyd ook gestel het:
Hand.17:30-31 ” 30 God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, 31 omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.”
Paulus se ‘skeppingsleer’ van v.15b-17 is ook ‘n verwerping van die modernistiese en Skrifkritiese teologie van hulle, veral modernistiese OT geleerdes wat Gen.1-3 se oorsprong soek in babiloniese
oosterse mitologiese ‘skeppingsverhale’ en latere teenreaksies daarop deur Joodse ballinge, en nie in ‘Goddelike openbaring’ (‘In die begin het God die hemel en die aarde geskape’ …) nie.
Petrus se woorde (2 Pe.1:16 ev), in lyn met broer Paulus se woorde hier, geld inderdaad ook vir ons hedendaagse mitologies-gedrewe geleerdes in die spekulatiewe teologiese raadsale:
“Want ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit … En ons het die profetiese woord wat baie vas is …. (want) deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek”,
… en ja, nie net Paulus nie, maar ook Moses het deur die Heilige Gees gespreek (so ook al die ander Bybelse skrywers), en daarom verwerp die gelowige en die kerk van Christus deur die eeue(nog steeds) die mitologies-fabelagtige verhale en stories wat opgedis word as ‘alternatief’ vir die historiese skeppings- en evangelie gebeure, in beide die vrydenkende teologiese en natuurwetenskaplike laboratoriums van ons dag, waardeur die ‘waarheid van God’ verruil word ‘vir die leuen en die skepsel vereer en gedien’ word (Rom.1:25)]
Gebed: Here, hou ons getrou aan die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is (Judas 3), dat ons ons nie sal skaam vir die Seun van God en vir sy Woord nie, nie in die gemeente nie, ook nie in die laboratorium of klaskamer nie (Mark.8:38).
BAIE dankie vir hierdie inspirerende woorde! Henrietta Klaasing
My broer jou oordenking is vir my soos vars doudruppels in ‘n dorre woestyn van onkunde. Mag die God wat ons dien en liefhet omdat Hy ons eerste liefgehad, het jou bediening gebruik om die onkundiges en ook hulle wat die waarheid nie wil sien nie te bereik. Ek dra jou nou in gebed aan die troue sorg van ons Hemelse Vader op.
Henrietta en Louis, dankie ook vir julle woord van waardering en ondersteunende gebed. Die Here se Woord is lewendig en kragtig, en bemoedig en versterk ons in die goeie stryd van die geloof.