“Maar wel baar dit verwondering dat soveel kerkleiers, soveel Christelike teoloë, die evolusieleer aanvaar en op allerlei kunsmatige maniere met die Bybelleer probeer versoen. Hierdie feit moet egter verstaan word in die lig van die volgende oorwegings: (a) Die Bybelkritiek is in die ondermyning van die Bybelgeloof ’n bondgenoot van die evolusieleer; (b) Hierdie teoloë glo dat die wetenskap en sy evolusieleer nie betwyfel mag word nie, omdat die wetenskap en sy evolusieleer op feite en op onbevooroordeelde eksperimentele feite-ondersoek alleen rus. (c) Hulle weet dat as hulle die evolusieleer beslis verwerp, hulle dan ontelbare geleerde manne uit die kerk sal verloor, terwyl hulle hierdie manne in die kerk wil behou.” – dr. HG Stoker (Die Evolusieleer, in: Koers in die Krisis I, Stellenbosch: Pro Ecclesia: 1935, bl.353-364)
Die GKSA sinode in 2009 het die volgende deputate aangestel om ‘n studiestuk (studiedokumente) op te stel oor Evolusionisme:
Prof PH Stoker (Sameroeper), Ing AT van de Wetering (Die Kandelaar), Prof HG Stoker (gekoöpteer), ds PJ Venter, dr L Coetzee (Randburg), prof L Coetzee (Rietvallei), dr AG Miskin, en prof HG Kruger (Pinetown).
Die volledige studiestuk is hier beskikbaar: Evolusionisme
Sinode 2012 het bloot van hierdie dokumente ‘kennis geneem’.
Hier is die besluit en opdrag van 2009 se Sinode (beklemtonings bygevoeg):
1.2.2 Sake waaroor die Sinode moet besluit
Sinode 2009 word versoek om Studiedeputate aan te wys om ‘n duideliker Skriftuurlike beoordeling van Teïstiese evolusie te formuleer. Dit moet veral gedoen word in die lig van die verstaan van Genesis 1 en 2 en ander relevante Skrifgedeeltes.
Besluit: Goedgekeur met die volgende opdragte:
Ad hoc-deputate met kundiges uit verskillende vakgebiede word op grond van 1.2.1 en 1.2.2 – vgl Acta 2003 (424-428, 4.2) en Acta 2006 (343 en 344, 1.2.7-1.4.4 – aangewys met die volgende opdragte:
1. Die aktiewe apologetiese hantering van die evolusionisme op verskillende terreine, maar in die besonder op die terrein van die onderwys.
2. Die toerusting van ouers en onderwysers met verskillende moedertale en van verskillende agtergronde met die nodige deeglik begronde maar tog eenvoudig-hanteerbare en verstaanbare literatuur en media-(oudio-visuele) hulpmiddels in hierdie verband, verkieslik in die moedertaal.
3. ’n Indringende studie oor die vraagstuk geloof en wetenskap (waaronder ook onder andere die teïstiese evolusionisme en ander teorieë in die hantering van hierdie vraagstuk).
(bl.301 van die Handelinge van 2009 Sinode)
In 2012 word hierdie amptelike stuk van die Deputate nie eers bespreek nie, inteendeel, toe die saak op die tafel kom is daar ‘n groot geskarrel in die sinodesaal om die saak so gou as moontlik te demp en van die tafel af te kry.
Die laaste keer dat ek so iets in die sinodesaal beleef het, was toe ds. Gustav Opperman (GK Brits-Wes) met ‘n vorige sinode opgemerk het, dat in plaas van bekommerd te wees oor die vrou nie in die ouderling/diakenbanke is nie, moet ons besorgd wees oor die leë moederskamers.
Daar het ‘n gedruis in die saal plaasgevind (amper gelyk soos ‘n ‘mexican wave’ op Loftus … net baie groter …) en ‘n geskarrel om gou by Beeld se verslaggewer uit te kom om hom te verseker dat dit – ds. Opperman se ‘gewraakte’ opmerking – nié die Sinode se standpunt nie.
Inderdaad is dit nie die GKSA se siening nie – daarom dat ons besig is om die een kerk(gebou) na die ander toe te maak en ‘omkeerstrategieë’ as dekmantel te gebruik om die kinderseën-opdrag nog steeds te vermy. Daarteenoor leer die Bybel ons moet die een doen (evangelie-opdrag, Matt.28:18-20), sonder om die ander (kinderseën-opdrag, Mal.2:15; 1 Tim.2:15) na te laat. Die genadeverbond van ons Vader in Jesus Christus is met gelowige ouers én hul nageslag (v/a 74, HK).
Hier is my beriggewing van Sinode 2012 (9 Januarie) se ‘hoogvat’ op die Deputate se (Anti-) Evolusionistiese (en pro-Skeppingsleer) dokumente:
17h05: art.19.16 oor ad-hoc deputate evolusionisme is nou op die tafel. Sekeres wil bloot kennis neem en ander wil die inhoud bespreek. ‘n Kontroversiële saak, want Ps.11:3.
17h10: art.19.16 word van kennis geneem, deputate het hul opdrag uitgevoer. So daar is geen aanvaarding of afkeur van die inhoud soos op die gksa se webblad nie. Amandement is bygevoeg dat dit die ‘standpunt van die skrywers’ is.
Die implikasie daarvan soos ek dit sien: die GKSA is nie amptelik vir of teen evolusie nie, al hoe wel daar in die verlede reeds ‘n verklaring oor die saak deur die sinode uitgereik is wat nog die amptelike standpunt van die kerkverband is (as iemand die verklaring het, stuur dit vir my aan asb).
Nou wat het hier gebeur ?
Soos ek die kerkreg verstaan, word deputate deur sinodes aangestel om met studies te kom oor belangrike sake wat al die kerke saam raak en dat ‘n opvolgende sinode dan (as kerke saam vergader in die algemene sinode) besluite oor hierdie belangrike sake neem. Is dit tog nie wat die opdrag was van die Sinode in 2009 nie, let op die volgende belangrike woorde by bogenoemde besluite:
– ‘n duideliker Skriftuurlike beoordeling van Teïstiese evolusie
– ‘indringende studie oor die vraagstuk geloof en wetenskap’ by opdrag 3
Is die doel van drie jaar se harde intensiewe werk bloot dat die volgende sinode kom, en in ‘n paar minute, jare se harde werk aframmel met:
– ‘deputate het hul werk gedoen … kennis geneem’
Kennis geneem ? …
So belangrike saak wat die wese van ons geloof, die wese van ons Skrifbeskouing, die wese van ons verlossing in Christus raak … en dan bloot ‘kennis geneem’ ?
Wat het geword van die ‘dringendheid’ van Sinode 2009 ?
Wat het geword van die noodsaak om teïstiese evolusie Skriftuurlik te weerlê, want dit raak ons gesinne, gemeentes en skole ? (Teïstiese evolusie is inderdaad gevaarliker as ateïstiese evolusie, net soos die Satan hom as ‘n ‘engel van die lig’ voordoen, 2 Kor.11:14)
Die saak raak ons kinders en die wese van ons verbondstaak, ons doopbeloftes.
Laat ek raai wat die redes kon wees waarom die sinode nie die saak met ‘n 100m paal wou aanraak nie:
– het ‘ons’ dalk in drie jaar so vêr ge-evolueer dat ‘ons’ nou spyt is oor daardie opdragte en/of veral die antwoorde wat in die Deputate se dokumente na vore gekom het ?
Wat wou ‘ons’ hoor:
– skepping en die ewolusie(leuen) is versoenbaar ?
– dat Darwin en Moses eintlik vriende is ?
– dat onder leiding van sommige NWU teologiese- en natuurwetenskaplike professors, bybelse geloofswetenskap en ongeloofs (ewolusie)wetenskap nou versoenbaar is ?
– dat die Bybel niks te sê het oor oorspronge nie, maar die ongeloofs (ewolusie) ‘wetenskap’ al die antwoorde sal verskaf oor oorspronge ?
– dat die evolusie-geloof werklik ‘natuur-wetenskap’ is ?
– dat die Bybel net nog ‘n pienkboekie laat-my-lekker-voel ‘devotional’ is en niks te doen het met die tyd-ruimte-plek werklikheid van hierdie wêreld nie ?
– dat Genesis 1 tot 3 eintlik, soos ‘n teologiese professor van die NWU/GKSA beweer, ‘saga’ (net ‘n sagte naam vir mite?) is en nie werklike geskiedenis/historiese gebeure nie ?
– dat om die skeppingsleer aan te tas geen gevolge het vir die res van ons geloof en belydenis nie ?
– dat dit soos ander leersake … eintlik maar ‘n ‘middelmatige’ onbelangrike saak is waaroor die kerke mekaar nie moet ‘veroordeel’ nie ?
Die doel van so ‘n belangrike studie – soos blyk uit vele ander rapporte en deputate werk van bv Sinode 2012 – is dat dit ten minste op die tafel kom om bespreek te word, of hoe ?
En, as ‘ons’ nie hou van die huidige antwoorde nie, dan kan dit mos deur ‘ons’ verwys word na ‘n kommissie sodat ‘ons’ dit op die tafel kan hou vir die volgende rondte Sinode-geveg, of hoe ? … soos ‘ons’ bv gedoen het met die NG Kerk samewerkingsooreenkoms wat nie aanvaar is nie (maar hopelik volgende keer), en, soos met die VIDA debat wat op die tafel gaan bly totdat ‘ons’ tevrede is en die antwoorde hoor wat ‘ons’ wil hê ?
Maar hoekom wou die Sinode nie hierdie dokumente amptelik aanvaar nie, en nog erger, nie eers bespreek nie ?
Hoekom is hierdie anti-Evolusionistiese pro-Skeppingsleer dokumente sommer die nek omgedraai nog voor dit behoorlik ‘n kans gegee is om aangehoor of bespreek te word deur die sinode ?
En, om dan nog daarby ‘n stertjie te voeg by die ‘kennis geneem’ besluit, dat “dit is die standpunte van die skrywers”, en het dus niks met die Sinode of die kerke amptelik te doen nie, laat net meer vrae opkom oor hierdie hele saak.
En, wie besluit nou in die toekoms oor watter rapporte en studie deputate se werk moet daar met erns omgegaan word en watter nie ?
Gaan ons in 2015 bloot kennis neem van ‘Die Omkeerstrategie’ en dit dan na ‘n paar minute eenkant toe skuif met ‘n nota: ‘die inhoud is die skrywers se mening’, klaar – afgehandel ?
Hoekom nie ?
Hoekom is die Beskrywingspunt aangaande die Ekologiese Krisis (Agenda 25.5) met groot meerderheid verwelkom en goedgekeur, maar nie die Evolusie Krisis nie ?
Daar is probleme met die inhoud van die Beskrywingspunt oor die Ekologiese krisis (nie die saak nie), soos ek hier aangedui het:
Die ekologiese krisis en wat is die Missie van die Kerk ?
Maar die saak is – met die uitsondering van een predikant wat daaroor vrae gehad het – vinnig aanvaar en afgehandel.
Dit blyk dus dat die GKSA meen die ekologie krisis verdien ons aandag, maar die evolusie krisis is nie ‘n probleem nie, inteendeel, die optrede van Sinode 2012, of gebrek daaraan, wys dat evolusie, soos ander dwalings (bv. VIDA, die OT/Psalms is nie Messiaans nie) al meer verdra, geakkomodeer en later omhels gaan word ?
Kan die lidmaat op plaaslike vlak die Sinode nog enigsins ernstig opneem na die afgelope kerkordelike chaos en voetwerk ?
Ek vermoed die volgende is die onderliggende probleem wat in ‘n bespreking van die anti-Evolusie pro-Skeppingsleer dokument na vore sou kom:
die wesentlike krisis in Skrifbeskouing, Skrifgesag en belydenisonderskrywing sou nog meer in so ‘n gesprek na vore kom, en sou uitwys hoe ver die verdeelheid en ongereformeerde Skrifbeskouings reeds in die GKSA deur sy verskillende teoloë, predikante en lidmate ingebring is.
Dieselfde krisis in Skrifbeskouing onderliggend aan die VIDA kwessie (soos uitgewys deur dr. Jac Howell in sy Ope Brief), is ook die onderliggende krisis in die Skepping vs Evolusie debat:
die mens se woord (via sosio-historiese/buite-bybelse studies) wat heers oor die Heilige Woord van God.
God, mens en wêreld word nie meer verstaan deur die lens van die Heilige Skrif gelei deur die Heilige Gees nie (Calvyn se bril: Woord en Gees), maar die Bybel word gelees en verstaan deur die mensewoord en tydsgees bril van ons moderne en/of postmoderne wêreld.
Nie meer: daar staan geskrywe … (Matt.4:4)
Maar: evolusionistiese studies het bevind dat …
Nie meer: die Bybel is onfeilbaar en die finale gesag in alles waaroor dit spreek
Maar: slegs die weg van verlossing is ‘onfeilbaar’, die res is of kan verkeerd wees en het geen gesag vir die res van ons lewens en wêreld nie
Nie meer: PU vir CHO – In U lig sien ons die lig (Ps.36:10)
Maar: NWU-innovasie deur diversiteit (wat dit ook alles kan beteken?)
Ek eindig hierdie artikel om u opnuut te verwys na die volgende skrywe:
Skepping vs Evolusie in die Kerkblad
Sien veral die artikel van prof. Paul Kruger (professor in OT, TSP), waar hy wys volgens die gereformeerde belydenisskrifte, wat ‘ononderhandelbaar’ is in die debat tussen skepping vs evolusie, spesifiek vanuit die belydenis gesien:
Gereformeerde belydenisskrifte oor God se skeppingswerk
Calvyn by Ps.33:6-8,
”In saying that the heavens were created by the word of God, he greatly magnifies his power, because by his nod alone, without any other aid or means, and without much time or labor, he created so noble and magnificent a work. But although the Psalmist sets the word of God and the breath of his mouth in opposition both to all external means, and to every idea of painful labor on God’s part, yet we may truly and certainly infer from this passage, that the world was framed by God’s Eternal Word, his only begotten Son. … but the breath of his mouth is used figuratively for the very utterance of speech; as if it had been said, As soon as God uttered the breath of his mouth, or proclaimed in word what he wished to be done, the heavens were instantly brought into existence, and were furnished, too, with an inconceivable number and variety of stars.”
Die studiestuk “Evolusionisme” die eerste klikbare skake gee die volgende boodskap:
“Ag nee..
Ons kon ongelukkig nie die verlangde bladsy vind nie. Dit kan wees a.g.v:
verkeerde adres “
Ek sien dit is nie meer op die GKSA webblad nie, sal uitvind en jou laat weet.