Opebrief 2 aan die GKSA – dr. Jac H Howell (Heidelberg, Gauteng)

[Deel 1: Ope brief aan die GKSA]

Ope Brief 1 in Perspektief

In die lig daarvan dat baie lidmate van die GKSA vrae het rondom die motivering tot die eerste Ope Brief wat aan die GKSA gerig is en die klaarblyklike verwarring rondom die situasie waarbinne die kerke van die GKSA hulle bevind, die volgende:

Die agtergrond tot Ope Brief 1 is die feitelike situasie waarbinne die kerke van die GKSA hulle tans bevind. Plaaslike gereformeerde kerke (kerke op ‘n spesifieke plek, bv. die Gereformeerde Kerk Pofadder) kom byeen saam met ander plaaslike gereformeerde kerke en vorm só ‘n kerkverband.

Daardie kerke onderneem teenoor mekaar dat hulle in die lig van die Skrif, belydenis en kerkorde sal optree en dat hulle hul sal hou aan die besluite wat die kerke tesame tydens meerdere vergaderings geneem het. Indien hulle ongelukkig is oor die besluite wat geneem is, onderneem hulle om op die kerklike weg (deur beswaarskrifte en appélskrifte) hulle probleme met die ander kerke op te neem en uit te sorteer. Eers wanneer hulle besware of appélle geslaag het en ‘n besluit op grond daarvan verander sou word, sal hulle volgens daardie (veranderde) besluit begin optree.
Ongelukkig is daar kerke wat nie hou by hul beloofde onderneming om hulle te hou by die besluite wat hulle saam met die ander kerke geneem het nie.

Tydens Sinode 2012 was daar meer as een predikant wat openlik in die vergadering erken het dat hulle hul nie hou by genome besluite nie. Een predikant het selfs erken dat hy skuldig voel daaroor, maar nou ja …

Tans is die gestoei binne die GKSA oor die vraag na die vrou in die amp, die puntjie van die ysberg. Daar is kerke binne die GKSA waar daar kinders tot die Nagmaal toegelaat word. Daar is kerke waar hulle liedere tydens die erediens sing wat nie saam met die ander kerke getoets is aan die Woord nie. Daar is kerke wat reeds vroue in die ouderlingamp bevestig het. Daar is selfs ‘n kerk waar vroue toegelaat word om te preek. Dinge soos afsonderlike kinderdienste, kinders wat op versoek van ouers ingeseën en nie gedoop word nie, prediking wat aan die hand van stories gedoen word, orkeste wat ‘n al meer prominente plek inneem om jongmense te lok, sogenaamde jeugdienste wat “tradisionele dienste” vervang, preekstoele wat vervang word deur ‘n konsertverhoog, is aan die orde van die dag.

En tog het Gereformeerdes oor feitlik al bogenoemde sake reeds besluite geneem. Hulle het onderneem om dit anders te doen op grond van hul gesamentlike insig op grond van die Skrif, die belydenis en kerkorde. Sonder om te veroordeel, staan die weg immers vir enigeen oop om hom/haar by ‘n kerkverband te gaan voeg waar daar om bepaalde redes ander besluite geneem is. Gereformeerdes het egter, nadat hulle tesame na die Skrifbeginsels gaan kyk het, anders daaroor besluit. Daarmee veroordeel hulle nie ander kerke en mede-gelowiges wat dit anders doen nie, maar het hulself uit die Woord vergewis dat hulle nie dinge op daardie manier doen nie. Daaroor het hulle met mekaar ooreengekom en saam besluit. Oor die dinge waaroor hulle nie gesamentlike besluite geneem het nie, maar van mekaar verskil (sake waarin ons nie eenders is nie, maar wat nie die eenheid in gedrang bring nie, soos: sit of staan tydens erediensgebede; twee eredienste soggens of een in die oggend en een in die aand), verdra hulle mekaar in liefde en erken hulle die verskeidenheid binne die eenheid wat hulle belewe. Ook daar waar hulle van mekaar verskil, bly hulle egter gebonde aan die toets van Skrif, belydenis en kerkorde.

Natuurlik sou dit arrogant wees om voor te gee dat alleen jy al die kennis en pag het … dat alleen jy en jou mening die korrekte is. Maar … jy moet ‘n mening hê wat jy kan verdedig. Daarom het jy saam met mede-gelowiges besluite op grond van die Skrif geneem wat jy kan en sal verdedig. Juis daarom is jy ‘n lidmaat van ’n Gereformeerde Kerk. Dit sal ontrouheid wees aan die Skrifgegronde besluite wat die kerke binne die GKSA biddend onder leiding van die Heilige Gees geneem het en teenoor mekaar onderneem het (belowe het) om na te kom, as jy daarvan sou afwyk. Daarmee word nie beweer dat kerke in ander kerkverbande nie ook biddend besluite neem nie. Tog het ons, op grond van ons bepaalde Skrifbeskouing, by ander verdedigbare antwoorde uit die Skrif uitgekom as waarby hulle uitgekom het.

Die kerke binne die GKSA lê o.a. klem op die belangrikheid daarvan om die kerkgeskiedenis deeglik na te vors. Uit die kerkgeskiedenis kom daar dikwels bepaalde patrone na vore. Een van die logiese gevolge van ‘n verskuiwing in die Skrifbeskouing binne ‘n kerkverband, is dat ‘n konsekwente deurtrek van die toepassing van daardie Skrifbeskouing na alle etiese en ander vrae noodwendig plaasvind. So is daar byvoorbeeld gereformeerde kerke (buite die GKSA) waar die toelating van die vrou tot die ampte van die ouderling en predikant uiteindelik ook aanleiding gegee het tot iets soos die aanvaarding van homoseksuele verhoudings as ‘n gegewe alternatiewe lewenswyse. Die wyse waarop die Skrif hanteer word om vroue tot die amp van ouderling en predikant toe te laat, kan nie anders as om die deur uiteindelik ook oop te laat vir die goedkeuring van iets soos homoseksuele bedrywighede nie.

Indien daar van die Skrifwaarhede waaroor Gereformeerdes deur die eeue met mekaar eens was, afgewyk word, kan daar nie eenheid en rus en vrede binne die kerke van die kerkverband wees nie. Daar kan alleen eenheid gevind word in die waarheid van die Woord. Ons sien egter die gevolge waar die waarheid (soos Gereformeerdes dit bely) verlaat word, rondom ons. Daar is onrustigheid binne die kerke van die GKSA. Die eenheid kom in gedrang. Daarom ook die geweldige reaksie, vir of teen, die Ope Brief.

Een van die grootste beskuldigings wat gemaak word, is dat kerkskeuring deur die Ope Brief aangewakker word. Die werklikheid is dat diegene wat hierdie beskuldiging maak dikwels die oorsaak is dat die eenheid binne die kerke versteur word. Van diegene wat erg beswaard is oor die Ope Brief, hou hulle NIE aan onderlinge genome besluite nie en hul optrede wys dat hulle hulself nie as gebonde beskou aan die Skrif, belydenis en kerkorde nie. Daar word met hierdie skrywe NIE kerkskeuring bepleit nie, maar opgeroep tot ‘n daadwerklike terugkeer na Gereformeerd-wees soos wat ons met mekaar ooreengekom het. Sodoende moet ‘n potensiële kerkskeuring juis verhoed word. En dit is tog die eerlike weg om te loop. ‘n Huis kan nie binne homself verdeeld wees deur twee stelle huisreëls te probeer nakom nie. Wie is dan reg en wie is verkeerd? Oor tyd het ons tog vooraf gesamentlik besluit en ooreengekom oor wat die huisreëls volgens God se Woord is. Die huisreëls is vasgestel en oor ooreengekom. Nou moet dit in die praktyk ook toegepas, verdedig en uitgeleef word.

Dit is wel jammer dat die gesprek wat onder mede-gereformeerdes gevoer word ook ‘n draai in die pers gemaak het. Gelowiges gebruik nie die pers as forum om hul onderlinge verskille met mekaar op te los nie. Die Ope Brief is egter nooit aan die pers gerig nie. Die opskrif van die brief is tog duidelik gerig aan die kerke binne die GKSA. En as ‘n mens fyn sou lees, spesifiek aan die Bedienaars van die Woord, wat binne hul onderskeie gemeentes aan lidmate moet leiding gee in die lig van Skrif, belydenis en kerkorde. Die betrokke joernalis wat die berig geplaas het, is pertinent daarop gewys dat die brief nie vir die pers bedoel is nie. Ten spyte daarvan is ‘n opsomming van die brief in die pers geplaas. Die brief is wel op die internet geplaas t.w.v. toeganklikheid vir alle gereformeerde lidmate.

Lidmate moet immers ingelig wees. Dan kan hulle toets. In die presbiteriale kerkregeringstelsel (die gereformeerde kerkregeringstelsel waar die ouderlinge in die Naam van Jesus Christus die kerk volgens die Woord en onder leiding van die Heilige Gees regeer) het die ouderlingamp nog altyd, in die woorde van die kerkhervormer, Johannes Calvyn, die pous skaakmat gestel. Waar die ouderlingamp in die GKSA reg funksioneer, sal dit nooit ‘n predikantekerk word waar predikante blindelings nagevolg word, sonder om hul leiding en optrede aan die Woord, belydenis en kerkorde te toets nie.

Hoe moet daar dan “getoets word” of iets reg of verkeerd is? Toets met die Woord. Nadat jy alles gehoor het wat geleerde mense te sê gehad het: Lees self die Woord. Laat die Woord homself verklaar deur Skrif met Skrif te vergelyk. Die Woord is immers deursigtig sodat selfs ‘n klein kindjie die kernboodskap daarvan kan verstaan. Waar jy as gelowige biddend onder die leiding van die Heilige Gees die Here se wil volgens sy Woord soek en dit getoets het aan die belydenis, gaan jy meestal by die regte antwoord uitkom. Uiteindelik moet jy jou voor die Here verantwoord. In jou gewete staan jy voor Hom wat jou tot in jou diepste wese deurgrond.

Is dit dan verkeerd om Gereformeerd te wees?

Is dit verkeerd om te glo soos wat ons nog altyd geglo het?

Om te glo soos ons ouers en voorouers geglo het?

Om te glo dat die Bybel onfeilbaar die Woord van God is?

Om te glo dat die onveranderlike God Homself in sy onveranderlike Woord aan ons bekend gemaak het?

Om te glo dat God se wil vir alle tye en omstandighede vas is soos wat Hy vas en onveranderlik is? …

Beslis nie!

Ons lewe in ‘n tyd waarin relativisme verkondig word. Dit beteken dat daar ontken word dat daar ‘n vaste en sekere waarheid is. Daar word ontken dat ons verstaan van die waarheid van God se Woord noodwendig die enigste of korrekte kan wees. En omdat die wêreld so onseker is van homself, doen hy alles in sy vermoë om gelowiges van hul vaste sekerheid volgens God se Woord te beroof en te ontneem. Daar word gepoog om die waarheid as belaglik voor te stel. Gelowiges word as arrogant voorgestel indien hulle durf opkom vir die waarheid waarop hulle hul geloof bou.

Onthou egter: Om nie aan ‘n vaste waarheid te glo nie, is ook ‘n standpunt. Ons standpunt is dat ons vashou … onwrikbaar vashou … aan die waarheid van God se Woord. Hoe troosteloos en onseker moet dit nie sonder die vaste sekerheid van God se Woord wees nie?!

Gereformeerdes staan in 2012 voor ‘n kruispad.

Wat gaan ons aan ons kinders nalaat?

Gaan daar nog ‘n Gereformeerde Kerk wees waar ons kinders en kleinkinders ‘n lewende lid van kan wees?

Op die ou end is dit in God se hand. Maar, jy en ek het steeds ‘n verantwoordelikheid. Daarom mag ons nie maar stilbly en akkomodeer omdat ons bang is om rimpels te veroorsaak nie. Daar kom ‘n tyd om standpunt in te neem. Die tyd is nou. Dit is tyd om “ja” te sê vir wat jy is. Jy is Gereformeerd. Onbeskaamd. Dankbaar. Dit is tyd om “nee” te sê vir dit wat nie Gereformeerd is nie, maar wat binne die GKSA as “Gereformeerd” voorgehou word.

En dit … sonder om andersdenkendes af te kraak. Steeds een met almal wat Christus en Christus alleen as enigste Verlosser en Saligmaker erken. Maar, dit beteken nie dat alle standpunte aanvaarbaar is en ter wille van die liefde (maar ten koste van die waarheid) verdra mag word binne een kerkverband nie. Weens die sondige verskeurdheid is daar verskillende hanteringswyses van die Skrif (verskillende Skrifbeskouings) wat die bestaan van verskillende kerkverbande ‘n voldonge feit maak. Tog het jy jou by die Gereformeerde Kerke gevoeg omdat jy glo dat die Gereformeerde leer (met sy onderliggende Skrifbeskouing) die waarheid volgens God se Woord verkondig.

Weer eens:

Is dit dan verkeerd om Gereformeerd te wees?

Is dit verkeerd om met die Skrif besig te wees op dieselfde wyse as ons voorouers sedert 1859?

Op dieselfde wyse beteken geensins dat ons die omstandighede waarbinne die Woord geskryf is ignoreer nie. Wie kan tog só naïef wees? Die Gereformeerde hantering van die Skrif is juis grammaties-histories. Dit beteken dat ons die oorspronklike taal ondersoek, maar ook die omstandighede waarbinne dit ontstaan het, verreken. Daarmee saam neem ons ook die openbaringshistoriese in ag. Ons ondersoek die lyne in die Skrif waarin God Homself oor die eeue aan ons bekend gemaak het. Dieselfde boodskap en Godsopenbaring wat gegeld het vir die eerste lesers van Genesis 1 tot en met Openbaring 22 oor Wie God is en wat Hy van Homself bekend maak en oor wat sy wil is, geld vir die leser van vandag.

Daardie selfde boodskap moet in sy/haar lewe in 2012 ingedra en toegepas word. Al het die tyd en die omstandighede verander. God en sy bekendmaking van Homself en van sy wil het NIE verander nie. Indien ons sou meen dat God se wil en openbaring van Homself verander het en bepaal word deur die tyd waarbinne ons lewe, bevraagteken ons God se onveranderlike Godheid. Maar God is tog bó die tyd. Hy verander nie soos die tyd en soos omstandighede verander nie. Hyself en sy wil is onveranderlik vas. Sy wil en dit wat Hy van Homself in die verlede bekend gemaak het, geld steeds vir vandag en tot in alle ewigheid.

Maar, wat dan van reformasie?

Wil Gereformeerdes hulself nou verhef en as volmaak en gearriveerd beskou?

Het hulle al die kennis en die pag?

Is daar niks waarin hulle nie ook tot bekering en tot reformasie moet kom nie?

Natuurlik is daar verseker nog baie sondes en gebreke en onvolmaakthede by alle Gereformeerdes. Ons is immers in sonde ontvang en gebore. Tog staan ons elkeen in ons gewete voor die Here. Ons staan op grond van dit wat ons kinderlik voor God bely volgens die drie Formuliere van Eenheid (Heidelbergse Kategismus, Nederlandse Geloofsbelydenis en Dordtse Leerreëls) OMDAT dit met die Woord van God ooreenstem. Die Gereformeerde Skrifbeskouing het ons by HIERDIE bepaalde verstaan van God se Woord uitgebring. ‘n Ander Skrifbeskouing gaan ons uiteindelik laat wegdryf van ons Gereformeerde belydenis en erfenis.

Daarom: Altyd reformeer. Altyd weer terug na die Skrif.

Daarin is ons eens met die Reformasie van die 16’e eeu. Daarin is ons eens met die stigters van die GKSA in 1859. En só staan elkeen van ons ook vandag voor die Here. Daarom kan ek nie anders nie!

Jul broeder in Christus
Jac Howell (Heidelberg, Gauteng)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: