Hoe het ons gekom waar ons tans is?
Oor die vraagstuk: Vrou in die besondere amp al dan nie
[Die Engelse vertaling van die artikel: How did we get here ? – regarding the question : Women in special office or not. Vertaal deur Christo van der Walt, lidmaat van die Bethel Protestant Reformed Church (PRCA)]
Waar staan ons met mekaar na Sinode 2012 oor die vraagstuk rondom die vrou in die besondere amp (kerk?) en hoe het ons by hierdie punt uitgekom? Vanuit die perspektief van diegene wat die Skrif verstaan en leer soos wat die Gereformeerde Kerke dit vanaf 1859 verstaan en geleer het, is die volgende my siening van sake:
Volgens die bestaande siening vanaf 1859 is die algemeen aanvaarde (en met uitsondering, ook die wêreldwye) Gereformeerde eksegese en verstaan van God se Woord dat die vrou nie in die amp van predikant, ouderling of diaken mag dien nie. Sommiges sal wel sover gaan om toe te gee dat die vrou as diaken in die amp kan dien, aangesien diakens nie geroep word om – soos die ouderlinge – te leer en te regeer nie.
Onder die invloed van nuwe, ander denke binne die GKSA, het daar geleidelik onder sommige eksegete ‘n ander verstaan oor die vrou in die besondere amp begin posvat. Die verskuiwing in denke is veroorsaak deur die hermeneutiese vertrekpunt dat die tydsomstandighede bepalend is (of ten minste ‘n veel groter rol moet speel) in die hermeneuse (en eksegese?). Die noodwendige gevolg is dat daar ook van ‘n grondliggend ander Skrifbeskouing gebruik gemaak word. Nie meer “die Skrif en die Skrif alleen” nie, maar die Skrif en daarmee saam die invloed van die “Sitz in Lieben” vir die bepaalde tyd waarbinne geleef word. Die deurslaggewende veranderde uitgangspunt is dus dat dit wat vir ‘n sekere tyd geld, nie noodwendig vir alle tye geld nie. Hierdie standpunt lei onvermydelik en uiteindelik tot vrysinnigheid en relativisme in die teologie.
Binne die GKSA bely ons almal dat ons Gereformeerd is in ons Skrifbeskouing, maar tog verskil ons in ons verstaan van “gereformeerd” wees. En dan moet ons mekaar nie hieroor verketter nie, maar ook daaroor met mekaar eerlik wees. Só moet ook hulle eerlik wees wat opstaan nadat die openlike verklaring voor ‘n meerdere vergadering gelees word – waarmee hulle openlik verklaar (onderneem/belowe) om alle besluite wat ons gesamentlik neem te honoreer op grond van Skrif, belydenis en kerkorde. Diegene wat egter nie in die praktyk doen wat hulle teenoor hul medebroeders onderneem en beloof het nie, verstaan verseker nie die Bybel en gereformeerd wees dieselfde nie. Dan hoort hulle sekerlik ook nie saam nie, aangesien dit duidelik is dat hul verstaan van die Waarheid van God se Woord radikaal van dié van hul medebroeders verskil.
Diegene wat die nuwe, veranderde denke en Skrifbeskouing voorstaan en verkondig, het hul egter vasgeloop teen Gereformeerde eksegete wat nie met hulle saamgestem het oor hierdie nuwe vertrekpunt nie. Dus moes hulle subtiel te werk gaan en geleidelik oor tyd hul strategie probeer deurvoer.
1. Eers het hulle gesorg dat hul denke deur bepaalde akademici verkondig word. Oor tyd het hulle ‘n ondersteuningsbasis vir hul Skrifbeskouing opgebou. Hul leerlinge het ook mettertyd verder as hul leermeesters in hul denke “ontwikkel”.
2. Voorts het hulle gepoog om indringende eksegese te doen – waarvoor hulle sekerlik erkenning behoort te ontvang. Ongelukkig het hul eksegetiese arbeid (weens hul bepaalde Skrifbeskouing) hul by ander antwoorde as die bestaande Gereformeerde eksegese uitgebring (waar die Bybel en die Bybel alleen as Bron van die waarheid beskou word). Toets bv. hierdie eksegete deur te vra of daar werklik in die paradys ‘n slang was wat met Adam en Eva gepraat het. Indien jy as ‘n “biblisis” gebrandmerk word oor hierdie vraag, dan weet jy waar jy met hulle staan. Ook vraagstukke rondom die maagdelike geboorte van Jesus, die evolusieleer, homoseksualiteit, verassing, Sondagsport, ens. gaan uiteindelik verskillend beantwoord word. Die Skrifwaarheid, wat vas en enig is, word geleidelik nie meer as die enigste vaste waarheid beskou nie.
3. Daarna het die nuwe denkendes moeite gedoen om die Gereformeerde eksegese en Skrifbeskouing en hul alternatiewe Skrifbeskouing as alternatiewe gelykwaardige en aanvaarbare eksegetiese modelle daar te stel.
4. Die boek oor die vrou in die kerk wat voor Sinode 2009 gepubliseer is en wat die resultaat is van studie oor die vrou (of sy in die besondere amp mag dien al dan nie) is ook in die bovermelde proses gebruik. Heelparty broeders wat nie tot die gevolgtrekking kom dat die vrou in die besondere ampte kan dien nie, het ook meegewerk aan hierdie boek. Wat egter goed verstaan moet word, is dat baie se insette gevra is, maar dat die resultaat en wat gepubliseer is, die skrywers se siening is en weerspieël nie noodwendig die medewerkers se sienings nie. Nooit was daar ooreengekom om beide standpunte as ewe aanvaarbaar en as blote eksegetiese alternatiewe weer te gee nie. Die twee standpunte verteenwoordig duidelik twee uiteenlopende Skrifbeskouings. Die standpunt wat die vrou in die besondere amp wil bevestig, wyk af van geykte en gedeë Gereformeerde eksegese. Dit verteenwoordig dus ‘n Skrifbeskouing wat vreemd is aan Gereformeerde eksegese en behoort as sodanig afgewys te word. (sien bygevoegde nota 1 hier onder, prof. Gert Jordaan se nabetragting na die ‘Geslagtelikheid in die Kerk’ GTV konferensie van 2008 – slc)
5. Toe word daar baie moeite gedoen om eers die vrou as diaken in die amp bevestig te kry. Diegene wat hulle hiervoor beywer het, het geweet dat dit waarskynlik vir diegene wat die gereformeerde eksegese sedert 1859 handhaaf, moeiliker sou wees om te bewys dat die vrou nie in die diakenamp tuishoort nie.
6. In bovermelde proses word die gereformeerde kerkregtelike beginsel telkens opsy geskuif, naamlik dat die een wat iets in die lig van Skrif, belydenis en kerkorde wil verander, met gegronde eksegese moet aantoon waarom verander moet word. Die bal word egter telkens teruggegooi, sodat bestaande besluite en eksegese verdedig moet word. Die kar word dus voor die perde gespan. Die bewyslas word verplaas. Die beginsel is tog dat daar eers uit Skrif, belydenis en kerkorde bewys moet word … voor daar verander word. Daar kon egter nie bewys word nie. Sou daar bewys kon word, sou daar mos net een Skrifgetroue standpunt kon wees. En daar is volgens diegene wat die gereformeerde eksegese sedert 1859 handhaaf, slegs een Skrifgetroue standpunt, nl. dat die vrou volgens God se vrymagtige bedoeling NIE in die besondere ampte in sy kerk mag dien nie. Die vraag is egter: Wil ons luister en buig voor die Skrif? Buig voor God se wil soos geopenbaar in sy Woord?
7. Toe die besluit dat die vrou wel in die diakenamp mag dien, uiteindelik deurgedruk word (‘n kompromisbesluit waarvoor die kerkreg myns insiens tegnies misbruik is), word daar verskuif na die poging om die vrou ook in die amp van ouderling en predikant te bevestig … wat vanuit die staanspoor die uiteindelike doel was.
8. Intussen is daar ‘n geweldige poging om daarop te wys dat die hele saak rondom die vrou in die besondere amp werklik net ‘n kwessie van interpretasie is, maar dat dit die wese van kerkwees glad nie raak nie. Inteendeel, dat die tyd en moeite wat aan hierdie saak spandeer word bloot iets is wat die satan gebruik en misbruik sodat die kerk nie by haar EINTLIKE taak kan uitkom nie. Binnegevegte belemmer die kerk om haar roeping na buite na behore te kan nakom. Daarom word gepoog om besluite oor sake soos die vrou in die besondere amp af te skuif na die plaaslike kerk. Daar word valslik geredeneer dat hierdie bloot ook ‘n middelmatige saak is waarin ons aan mekaar die vryheid moet laat om self te kan besluit. Die waarheid is dat hierdie ‘n Skrifbeskoulike kwessie is met verreikende gevolge. Dit word egter doelbewus verswyg.
9. Op Sinode 2009 was feitlik al die broeders wat betrokke was by beswaarskrifte wat sou dien op Sinode 2012 oor die besluit van Sinode 2009 oor die vrou in die besondere amp, deel van die besluit van Sinode 2009. Hulle het tydens Sinode 2009 geweldig kapsie gemaak teen die voorgestelde bewoording in die besluit, nl. dat die besluit “volgens die Skrif” geneem is. Hulle het gesorg dat hierdie woorde verander word om te lui dat die besluit “volgens die rapport” geneem is. Hulle het geweet dat dit aan hulle die deur sou ooplaat vir latere beswaarskrifte. Ons weet egter almal dat die besluit geneem is op grond van die eksegese wat in die een spesifieke (die staande gereformeerde) standpunt in die rapport voorgehou is. (sien bygevoegde nota 2 hier onder – slc)
10. En nou is ons in 2012 en die Trojaanse perd is binne die geledere van die GKSA.
11. My vraag is: Moet ons nie nou maar openlik teenoor mekaar erken dat ons onderskeie Skrifbeskouings wesenlik van mekaar verskil nie? Die logiese gevolg hiervan is dat ons by eksegetiese kwessies by ander/verskillende antwoorde gaan uitkom. Met die openlike erkenning hiervan verketter ons mekaar geensins nie, maar ons is ten minste eerlik met mekaar.
12. Voorts moet ons onsself afvra of die huidige situasie binne ons kerke werklik houdbaar is binne een kerkverband? Ons weet immers wat die gevolge daarvan in die geskiedenis van ander gereformeerde kerkverbande was. Kan ons eerlik een kerkverband wees as ons nie de jure (in beginsel) EN de facto (in praktyk) een is op grond van Skrif, belydenis en kerkorde nie?
13. As ons sou besluit om die vrou binne die GKSA in die amp van ouderling en predikant toe te laat – al sou ons die besluit oorlaat in die hande van die plaaslike kerke – gaan die onderlinge band tussen die kerke binne die GKSA skeur. Daaroor bestaan daar geen twyfel in my gemoed nie. Indien die besluit oorgelaat sou word in die hande van die plaaslike kerk, skeur die eenheid feitelik (in praktyk) daar waar gelowiges op grondvlak binne plaaslike kerke hul geloof lééf. Om hierdie besluit oor te laat in die hande van die plaaslike kerk sou ook ‘n papbroekige besluit wees – uit vrees daarvoor om standpunt te moet inneem vir die waarheid.
14. En toe volg Sinode 2012 die versigtige weg. Ons kan dit ook die “maklike” weg noem. Is dit nie ook maar eintlik die oneerlike weg nie? Is dit nie omdat ons bang is om openlik teenoor mekaar te erken dat ons op grond van die Skrif van mekaar verskil nie? Dat ons nie werklik eerlik en onbevange kan sê dat ons op dieselfde wyse met die Skrif besig is nie (en daarom uiteindelik ook nie meer met dieselfde Skrif besig is nie). Hoe gaan die uitstel om ‘n besluit te neem ons help om in ons verstaan van die Skrif nader aan mekaar te beweeg? Is ons besig om politiek te probeer speel in die kerk van die Here? Hoeveel kere het dit nie gebeur dat bepaalde groepe tydens Sinode 2012 gekoukus het oor watter “strategie” nou volgende gevolg moet word nie? In die kerk van die Here!? Hieroor sal daar beslis ook aan die Koning van die kerk verantwoording gedoen moet word. En gevolglik word daar weer eens ‘n sogenaamde “kompromisooreenkoms” aangegaan. Daar word besluit om nie te besluit nie! Dit stel tog net die uiteindelike pyn en hartseer na weerskante toe uit!
15. Diegene wat hulle daadwerklik vir die vrou in die besondere ampte binne die GKSA beywer (deur selfs vroue in die amp van ouderling te bevestig en vroue toe te laat om ‘n sogenaamde “stigtelike woord” te “preek”): Is dit liefde teenoor jou broeders teenoor wie jy onderneem/beloof het om onderlinge ooreengekome besluite op grond van die Skrif, belydenis en kerkorde te honoreer? Is dit gehoorsaamheid aan die Here? Kan jy jou werklik voor die Here en sy Woord verantwoord? Natuurlik behoort jy hierop te kan “ja” sê as jy werklik glo dat jy op die regte wyse met die Here se Woord werk en werklik glo dat dit die weg is wat jy moet loop. Maar dan verskil jou siening van die Gereformeerde siening en verstaan van God se Woord. Dan het jy ‘n ander Skrifbeskouing met ‘n ander verstaan van die waarheid van die Skrif.
16. Jy het “ja” gesê die dag toe jy belydenis van geloof afgelê het.
Jy het “ja” gesê die dag toe jy in die amp bevestig is.
Jou “ja” het toe beteken dat die vrou nie in die besondere amp bevestig mag word nie. Só glo ons op grond van Skrif, belydenis en kerkorde.
Het jou “ja” intussen verander in ‘n “nee”?
17. In alle liefde: As jy nie meer Gereformeerd wil wees nie … wees eerlik daaroor. Daarom: Keer of terug na die Gereformeerde verstaan van die Skrif sedert 1859. Of anders: Groet ons en gaan voeg jouself eerbaar by ‘n kerkverband waar jy jou tuis voel. Dit is tog die eerlike en eerbare weg om te volg.
Jul broeder in Christus
JH Howell (Heidelberg, Gauteng)
_______________________________
Redaksionele nota: Die Ope Brief is hier geplaas met die toestemming van die skrywer. Die numering van 1 tot 17 is bygevoeg.
Nota 1: ‘Manlik en Vroulik in die Kerk’ – nabetragting oor ‘n boek en konferensie, prof. GJC Jordaan
Nota 2: veral punt 9 is vir my belangrike nuus, omrede die volgende skrywe van my (2010-11-22) juis ook daardie probleem raakgesien het van ‘volgens die Skrif’ vs ‘volgens die rapport’ (ek was nie by die Julie 2009 verlengde sinode nie en was dus nie bewus van hierdie ‘ordevoorstel’ wat die bewoording verander het nie), en het heelwat beswaarskrifte ten gunste van VIDA vinnig gespring om daardie geplante ‘swakpunt’ uit te buit:
Mag ons gebed in hierdie tye wees in nederigheid teenoor die HERE ter wille van Sy eer en die heil van sy kerke: Ps.25:22.
Middag medebroeders,
Eerstens dankie aan dr Jac vir die goeie uiteensetting van die saak. Ek dink baie van ons voel dieselfde oor die saak, maar het dalk nie altyd die teologiese agtergrond om dit so uiteen te sit nie. Ek het by ‘n vorige geleendheid al gevra of ons nog regtig gereformeerd wil wees en of ons wil afwyk daarvan, want dit is per slot van sake waaroor dit gaan. Die kerkstigters van 1859 het dit dit nie maar uit die bloute gedoen nie, maar baie lank daaroor gebid en gepraat. Dit was nie maklik nie en daar was groot stryd en wroeging daaroor. Nogtans het hulle die beginsels neer gepen volgens die Skrif en ook volgens die 3 belydenis skrifte. Ons het groot geword met die beginsels soos in katkisasie aan ons geleer. Nou lyk dit of daardie beginsels bevraagteken word en eintlik beteken dit dat gelowiges begin twyfel of daardie beginsels nog geld. Twyfel is ‘n baie lelike ding veral as dit ons geleerde teoloee is wat dit saai.
Ek hoop en bid dat die saak uiteindlik opgelos sal word en dat ons altyd sal vra na wat die Bybel eintlik aan ons verklaar. Maw wat is God se wil hieroor.
Groete
Jaco Wattel.
Dags^e almal,
Ek haal my hoed vir Jac af dat hy die moed gehad het om te s^e wat lankal ges^e moes gewees het.
Die volgende kom uit Calvyn se kommentaar oor Gal. 4: 21:
“Scripture, they say, is fertile and thus bears multiple meanings. Iacknoledge that Scripture is the most rich and inexhaustable fount of all wisdom. But I deny that its fertility consists in the various meanings which anyone may fasten to it at his pleasure. Let us know then that the true meaning of Scripture is the natural and simple one, and let us embrace and hold it resolutely. Let us not merely neglect as doubtful, but boldly set aside as deadly corruptions, those pretended expositions which lead us away from the literal sense”
Johan
Hello – ek was bly om hierdie brief te lees. ‘n Vriend van my het gevra om dit in Engels te vertaal – Hopelik het ek toestemming van skrywer om dit in Engels te vertaal. Ek het eers bietjie gesukkel met woord keuses, maar later het dit beter gegaan – Daar is wel een woord waarmee ek sukkel en dit is “verketter” – in die konteks het ek dit vertaal na “curse / hate / detest”. Laat my asb. weet of dit die korrekte gedagte is.
Was daar al enige reaksie and terugvoer oor die brief ?
Christo
Christo, dr. Howell en myself dink nie daar is ‘n direkte engelse woord daarvoor nie, daarom is dit iets soos ‘make someone a heretic’ Hoop dit help.
I am no expert in translation but from the context I would suggest “excommunicate” or perhaps more accurately (though less common) anathematise.
You can call someone a heretic, but you can’t make someone a heretic. He makes himself a heretic by dissenting from Church teaching.
You can declare him a heretic formally and excommunicate him.
The idea of curse seems to me linked to anathema.
Hi Christo,
What happened to the English Translation of the First Open Letter? I have already translated the Second Letter, and am awaiting Dr. Howell’s comments/approval. If he is happy with it, I hope it will find it’s way onto this blog.
There appears to be some International interest in these events. I might also translate the response from Dr. Vergeer.
Regards
Shaun
Apologies,
I see there is a pdf of the English translation at the top of this page.
Thank you Christo
Regards
Shaun
To much talking (for years) by those that disagree with the way the GKSA is/has been going. To much ‘pointing out’ and clarifying what the issues are. Not enough action.
Dont be a hearer of the word ONLY but a doer. Please for the sake of the cause of Christ and His church, do something, make a stand no matter how costly (even financial cost). I am personally tired of the talking, complaining and whining by those that disagree. Please act.
Christo, dankie vir die Engelse vertaling. Ek sal die skrywer self vra watter Engelse woord hy daar wil gebruik, dan kom ek terug na jou toe. As dit reg is met jou, stuur ook die Engelse vertaling as hy klaar is vir my sodat ek dit vir die skrywer kan aanstuur om te hoor of hy daarmee tevrede is, dan kan ek dit ook hier op my blog plaas vir Engelse lesers. Dankie
Good day Marc, do not know if we have met, but welcome. Thank you for your comment. Please tell us a bit more what you have already done and where and how you made a stand, in order that we can learn from your example. Thank you brother.
Its simple really, you just resign your membership and now longer represent the denomination to society and other churches. How can you in good conscience formally represent an organisation one disagree’ fundementally with
Marc, ek dink deel van die antwoord lê in wat dr. Howell in sy laaste paragraaf van sy brief sê, nl. dat hulle wat nie meer gereformeerd wil wees nie, ons kerkverband moet verlaat, en nie ons wat gereformeerd is en wil wees nie. Tydens die Reformasie van 1859 was daar ook baie sake wat gelei het tot die afstigting, maar dit het veral tot uiting gekom in die Psalmkwessie, toe Gesange bindend gemaak is, het die Afstigting/Herstigting plaasgevind.
Laat ek jou verseker dat ek al baie nagte geworstel het oor ons roeping hier in SA, binne of buite die GKSA kerkverband. Bo alles gaan dit oor waar die Here ons wil gebruik, en nie enige finansiële oorwegings nie, ek glo werklik van harte aan Matt.6:33.
Ek kan nie namens ander praat nie, maar vir my en my gesin sal sodra daar amptelik besluit is in die GKSA dat vroue mag wel in die ampte van predikant en ouderling dien, die finale kruispad wees, soos dr. Howell ook in sy OB noem hierbo. Dan tree myns insiens 1 Tim.6:3-5 in werking.
Die feit dat dit nie die afgelope sinode gebeur het nie, is dalk juis die aanduiding van God dat daar nog genadetyd is vir die GKSA ?
Verder is daar ook – en weereens wat my en my gesin betref – nie ‘n ander heenkome in ‘n ander kerkverband of gemeente tans in SA nie. Die oortuigings wat ek het vanuit die Skrif en waarvan ek skryf hier op die blog word nie deur almal gedeel in ander gereformeerde kerkverband nie. Die NGK en NHK is glad nie meer ‘n opsie vir ‘n gereformeerde Afrikaner nie, en al wat oorbly is die APK en VGKSA, wat albei Gesangsingende Feesdag onderhoudende kerkverbande is waarmee ek in liefde met hul verskil en nie kan saamgaan nie (daar is natuurlik ook ander belangrike sake). Daar is dus nie enige kerke en/of kerkverbande wat verdere deurgaande reformasie nastrewe oor hierdie en ander sake nie, ten minste waarvan ek bewus is nie.
En dan laastens, dit gaan nie net oor my gesin nie, maar ook my roeping van God wat my geroep het om hier waar ek nou is te bedien. My liefde en ontferming vir my plaaslike gemeente dring my om die ‘strategie’ van Jer.26:2 te volg, hoe moeilik en inkonsekwent dit ookal mag wees, nl. ‘staan in die poorte’ (wees midde die stryd) maar dan ook preek tydig en ontydig ‘al die woorde wat Ek jou beveel … laat geen woord weg nie’. Dit is waarna ek strewe, en of ek dit enigsins regkry laat ek aan die Here oor. Hier sal ek arbei totdat die Here elders roep deur sy kerk op ‘n ander plek.
My advies dan aan ander leraars en lidmate in ons of enige ander kerkverband wat deformeer: as jy bly dan moet jy getuig, soos jy sê ‘make a stand’, maar jy kan nie net in jou hoekie sit en gereformeerd wil wees nie. As jy en jou gesin dit nie meer kan doen nie, of die gemeente waar jy tans is wil nie reformeer nie, dan moet ‘n mens begin soek na ander gemeentes in jou kerkverband of in ander kerkverbande wat nog gereformeerd wil wees. As dit net oor my gesin gegaan het, was ek dalk nie eers meer lidmaat in die GKSA kerkverband nie.
Dit kan wees dat die Here in sy voorsienigheid dinge laat gebeur vir die reformasie vir sy kerke hier in SA, maar daar is ook die nederige besef dat die Here op sy tyd die reformasie sal stuur, die Reformasie van 1859 het nie oornag gebeur nie.
Dagse,
Die “kompromisooreenkoms” waarvan die skrywer in punt 14 skryf, laat my onwillekeurig dink aan ‘n wysheid van Alexander Swiętochowski –
“‘n Kompromis is ‘n berekeningsfout. Vir die nuttigheid van vandag word duur betaal met die skade van oormore.”
Mag die Here ons nageslag beskerm teen die foute wat daar vandag begaan word.
Groete in Christus
Punt 11: Ongelooflik! Wat is nuut? Sien die Kerkblad van 29 Januarie 2003 waarin Jordaan toe reeds gesinspeel het dat daar meer as een Skrifbeskouing in GKSA is. Maar so gaan die gepraat aan en 280 Sinodegangers weet nie wat in die Woord staan nie? Aan die wat wroeg: Wat van gewoon doen wat reg is? Laat julle ja en julle nee vas wees. Julle hink op twee gedagtes wat die indruk skep dat die inhoud van die Woord ‘n saak van demokratiese besluitneming is. En intussen word ons wat lank reeds uitgegaan het verketter. Gegroet.
Louis Breytenbach.
Dear Slabbert
While I follow these VIDA debates with interest I struggle to understand the legislative background i.e who constitutes the Synod? How are representatives elected? What is its binding authority on congregations? What are beswaarskrifte? etc.
It would also be informative to know the relative strength of the factions? Has the strength of the VIDA people increased or decreased over the years for example.
Perhaps when you get a chance you can explain some of this.
Christopher.
Dear Christopher,
You can see our church order/government here:
Click to access Kerkorde%20Church%20order.pdf
Specifically from art.29.
Gerrie Snyman het ‘n paar jaar gelede geskryf oor die onverdraagsaamheid in die Gereformeerde Kerke. Dit het nie verander nie. Drs Howell en Vergeer, Daan Malan en andere se skrywes is openlike getuienis hiervan. In plaas van om werklik op ons knieë te gaan en oplossings te soek – daardie begeerte ontbreek – sal ons ander sieninge liewer verguis en verdoem. Ons sal selfs sover gaan om hul uit die kerk te wil jaag. Dit doen ons terwyl ons Christus se opstanding en verlossing van sondaars moet verkondig. Kan ons dit teenoor God regverdig ?
Martin Luther: ” If I profess with loudest voice and clearest exposition every portion of the truth of God except prcisely that little point which the world and the devil are at the moment attacking, I am not confessing Christ, however boldly I may be professing Christ. Where the battle rages, there the loyalty of the soldier is proved, and to be steady on all the battlefield besides, is merely flight and disgrace if he flinches at THAT point”
Beste me. of mnr Lynzaad,
Gerrie Snyman se sogenaamde ‘verdraagsaamheid’, ‘n ‘onverdraagsaamheid’ van ander se standpunte waaroor hy skeidsregter speel, is netso onverdraagsaam (en nog meer gevaarlik) soos enige van die persone wat jy hierbo beweer daaraan skuldig is (dieselfde geld vir jou eie hoogmoedige onverdraagsaamheid teenoor polemiek in die kerke). Hier het ek oor Gerrie se blatante onverdraagsaamheid geskryf, gaan lees gerus:
Die nuwe onverdraagsame manier om die Bybel te lees
https://proregno.com/2008/07/22/die-nuwe-onverdraagsame-manier-om-die-bybel-anders-te-lees/
Dit is goed om te bid, alles begin daar, maar dit eindig nie daar nie, dan moet ons van ons kniekies opstaan en die dwalinge en dwaallerraars (soos bv hulle wat die valse leer van VIDA verkondig) aanspreek en oproep tot bekering, soos Tit.1 ons leer. As hul volhard in hul dwalinge moet hul getug word en/of mooi gevra word om te loop (soos dr. Howell respekvol uitnooi om te doen).
Dit is valse leer, nie polemiek of mense wat vir die waarheid staan, wat die Evangelie en die kerke van Christus beskadig en skade aandoen.
Chistus se opstanding en verlossing het nie net ons ewige saligheid ten doel nie, maar dat ons as verloste kerk nou weer lewe volgens sy goeie bevele, daarom dat Hy ook vra: waarom noem julle my Here, Here en doen nie wat Ek sê nie (Luk.6;46).
Deel van die groot (evangelie) opdrag (Matt.28:18-20) is ‘leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het’, en een van daardie bevele deur sy apostel Paulus is dat Hy nie toelaat dat die vrou oor die man leer of regeer nie, d.w.s. in die ampte van ouderling, predikant en diaken staan nie. Sien 1 Tim.2:11-15 wat deur baie verdraai word om by die tydsgees aan te pas, en nie gelees word deur die Gees en Woord van God nie.
Mag die Here meer manne soos Howell en Malan gee wat vasstaan juis ter wille van die Evangelie, die eer van God en die heil van ons naaste.
GOD SE OPDRAG, DIE GEROEPE VROU EN ONS
deur Jan Lynzaad (GK Rooihuiskraal)
Verwarrende Tye
Ons leef vandag in uiters verwarrende tye. So verwarrend dat ons twee strome in die Gereformeerde Kerke het – vrou in die amp toelaat OF vrou in die amp nie toelaat nie. Baie sê dat Christus Hom nie uitgelaat het oor die vrou in die ampte nie. Is dit werklik so? Johannes skryf aan die einde van sy Evangelie: “Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê”.
Uiteraard moes Christus dus ook oor heelwat onderwerpe, wat nie in die Evangelies opgeskryf is nie, gespreek het. Ons kan dus nie sê dat Christus Hom nie oor die onderwerp van die vrou in die amp uitgespreek het nie. Het Christus dit wel gedoen, is dit deur die Evangelieskrywers om redes nie aan ons bekend nie, nie opgeteken nie. Ek is egter van mening dat ons die voorbeeld wat Christus vir ons gestel het, moet raaksien en navolg.
Die Opdrag aan Maria Magdalena
Christus gee na Sy opstanding aan Maria Magdalena en ander vroue wat by haar was die opdrag om aan die ander, d.w.s. aan tenminste die elf dissipels, te gaan vertel dat Hy opgestaan het, dat hulle Hom gesien het. Wat die werklike verhouding vooraf tussen Maria Magdalena en Christus en die elf dissipels was, weet ons nie. Was dit miskien Christus se bedoeling dat Maria Magdalena ook aan die ander wat daagliks saam met hulle beweeg het die boodskap moes bring?
Die opdrag aan Maria Magdalena is seker die belangrikste opdrag wat Christus aan ‘n individu toevertrou het – “gaan vertel dat ek opgestaan het … gaan vertel wat julle gesien het”. Dit beteken eintlik om te gaan vertel dat Christus tenvolle voldoen het aan die opdrag van God, dat Hy ons sondes op Hom geneem en tenvolle daarvoor betaal het. Hy vertrou dit allereers aan Maria Magdalena toe (Mar 16:9-10), en daarna aan Sy dissipels en aan ons. Moet ons dit as toevallig beskou dat die vroue eerste by Christus se graf opgedaag het en Christus na Sy opstanding eerste aan hulle verskyn het? Dit kan tog nie toevallig wees nie dat net omdat die vroue eerste by die graf opgedaag het, Christus die opdrag allereers aan ‘n vrou gegee het? Daar s tog niks toevallig in God se raadsplan nie?!
Genesis 3: Die Gevolg op die Sondeval
Die rede vir Christus se kruisiging en opstanding is vir ons as gelowiges baie bekend – die sondeval soos beskryf in Gen 3. Net so bekend is die straf wat God die vroulike geslag opgelê het. In breë trekke beteken dit dat God die vrou gestraf het waar dit haar die seerste maak, haar in haar diepste wese raak – in haar vrouwees en haar moederwees. God bevestig die breuk en vervreemding tussen God en mens wat sy veroorsaak het met tweërlei strawwe, nl. dat sy met pyn haar kinders sal baar – God onttrek Sy bystand aan die vrou t.o.v. die pyne wat sy ervaar in haar barensnood – liggaamlik en geestelik; en tweedens word sy nou in haar huwelik ondergeskik gestel aan haar eggenoot, sodat sy na hom sal hunker en hy oor haar sal heers.
Ons moet besef dat hierdie nuwe verhouding tussen die vrou en haar man binne die opset van die huwelik gegeld het. Net voor die sondeval het God die vrou uit die man geskep, as sy gelyke – ‘n vennoot binne die huweliksband. Dit word vir ons duidelik gemaak in Adam se lied “regte metgesel … regte deel van my … soos een mens word”. Die een mens word en wees beginsel tussen man en vrou bly na die sondeval steeds van krag, maar sy is nou ondergeskik aan haar man gestel. Dit geld op rolverdeling en funksionele take, en op seksuele vlak, binne die huwelik. Dit wil egter nie sê dat ‘n vrou toe ondergeskik gestel is teenoor alle mans nie. Om elke vrou ondergeskik te stel aan alle mans sou op chaos uitloop. God is egter ‘n regverdige God en straf daarom die vrou waar sy gesondig het – sy het teenoor God gesondig deur toe te laat dat die slang haar verlei, en sy het haar man, haar eggenoot, verlei om saam met haar te sondig.
Ou Testamentiese Riglyne vir Take Buite die Huweliksverband
Die vroulike geslag is in die Ou Testament nie uitgesluit het om ‘n roeping vir die Here op te neem nie. God het egter ‘n voorwaarde hieraan gestel, nl. haar man of, sou sy nog jonk en ongetroud wees, haar vader moet nie beswaar maak oor haar besluit nie (Num 30). Die geldigheid van die besluit was dus die verantwoordelikheid van die man in die huis – die gesinshoof. Weduwees en geskeide vroue moes die verantwoordelikheid vir hulself opneem. Hierdie reëling was gedoen sodat by die besluit en gelofte gehou word en daar nie onwaardig teenoor God opgetree word nie. Waardigheid en respek teenoor God in die nakoming van die besluit en gelofte is dus die allereerste vereiste. Die vrou is nie ondergeskik aan ‘n ander manspersoon nie en is dus ‘n ander man se beswaar nie geldig nie.
God roep in die Ou Testament vroue, ondanks hulle sondes, vir spesifieke take. So is Mirjam die taak gegee om te profeteer en voor te sing (Eks 15:20-21) – om leiding te neem en ‘n voorganger vir Israel te wees; Debora was die taak opgedra om leier van die Israeliete te wees (Rig 4:4) en is deur die Israeliete as leier erken (Rig4:8); Jael, die vrou van Geber, moes vir Sisera dood maak (Rig 4:9 en 21); Hulda/Gulda het ook die profetiese gawe ontvang (2 Kon 22:14 en 15); en Ester moes as koningin haar volk by Ahasveros verteenwoordig.
Die Nuwe Testament – God Verwyder die Breuk
Waar God in Genesis 3 die vrou gestraf het in haar vrouwees en haar moederwees, laat Hy die verkondiging van die koms van Christus plaasvind deur die vrouwees en moederwees van Maria en Elisabeth. Interessant is dat die Joodse Evangelieskrywers dit nie in hul Evangelies vermeld het nie, maar wel Lukas wat as nie-Jood die Evangelie wil weergee vanuit ‘n Joods-kulturele perspektief. Daarom beskryf Lukas die lofsange van Maria, Elisabet en Anna in geheel, en laat hy ons God se onuitspreeklike genade raaksien. Dink net aan die vreugde van Maria en Elisabet in hul wete dat Christus op pad is, en dat hulle – veral Maria – die uitverkore instrumente daartoe mog wees? Waar die sonde deur die vrou in die wêreld gekom het, is dit God wat die verlossing deur die vrou aankondig en word die Verlosser m.b.v. die maagdelike skoot van Maria in die wêreld ingebring. Wat ‘n genade!
Let op dat God teenoor Sagaria en Elisabet in ooreenstemming met Numeri 30 gehandel het. Sagaria se beswaar, wat betref hul ouderdom, was egter nie die regte rede nie. Op sy versoek om ‘n teken word Sagaria se mond gesnoer. Vir nege maande moet hy luister na Elisabet se lofliedere. Hy kon daarom ook nie anders nie as om self later uit te bars in ‘n lofsang tot God.
Die Omstandighede by die Graf – ‘n Bewys van God se Vergifnis Teenoor die Vrou
Ons kan dus nie nou meer die omstandighede by die graf as bloot toevallig beskou, of dit ignoreer nie. Waar God die vrou in haar vrouwees en moederwees gestraf het, maak hy juis van die vrou in veral haar vrouwees en versorgende natuur gebruik om eerste by die graf te wees; om eerste te “gaan vertel dat ek opgestaan het … gaan vertel wat julle gesien het” – te gaan vertel dat Christus waarlik ons sondes op Hom geneem het en tenvolle daarvoor betaal het. In voortsetting na die aanwending van Maria en Elisabet vir die aankondiging van die koms van Christus, verwyder God hier die breuk en vervreemding tussen God en die vrou – nou geheel en al. Ons vind dus hier ‘n bewys dat die skeur van die voorhangsel tydens die sterwe van Christus aan die kruis as teken dien van die verwydering van die breuk tussen God en die mens, ook op die vrou van toepassing is. God had dus diepgaande redes waarom die vroue eerste by die graf moes wees.
Die Reaksie van die Apostels en Christus
Die apostels wou die vroue egter nie glo nie. Lukas skryf dat die boodskap van die vroue vir die apostels “na onsin” gelyk het. Petrus is daarom met ‘n spoed na die graf toe, en keer daarna vol verwondering huiswaarts. Ook wou die apostels twee ander, aan wie Christus verskyn het toe hul op pad was na Emmaus, nie glo nie (Mar 16:12-13). Christus se kommentaar self op die ongeloof was “Wat ‘n gebrek aan begrip en wat ‘n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie?” (Luk 24:25). Christus se verduideliking dat “Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder” (Luk 24:46-47), maak dit duidelik dat om die boodskap van verlossing te verkondig kennis en begrip van die Bybel as geheel en ‘n helder verstand nodig is.
Vir Christus is dit belangrik dat Sy boodskap van verlossing en liefde uitgedra word aan alle nasies. Self maak Christus geen onderskeid wie dit doen nie. Hy het trouens al vantevore gesê “Wie nie aan my kant is nie, is teen My; en wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar” en “As julle sê ‘n boom is goed, moet julle ook sê sy vrugte is goed; en as julle sê hy is sleg, moet julle ook sê sy vrugte is sleg. ‘n Boom word tog aan sy vrugte geken” (Mat 12:30 & 33).
Ons Situasie Nou
Paulus stel dit duidelik hoe gelowiges met mekaar moet leef: in Efesiërs 5:21-33 – die verhouding tussen man en vrou in die huwelik; Efesiërs 6:1-4 – die verhouding tussen kinders en ouers; en Efesiërs 6:5-9 – die verhouding tussen slawe en eienaars. Die algemene beginsel is “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig” (Ef 5:21). Basies dieselfde beginsel het geheers met die skepping, in die sin van “Wees uit eerbied vir God die Skepper aan mekaar onderdanig”.
Dit is daarom ook nie vir ons om te sê wie die boodskap van verlossing mag uitdra en verkondig en wie nie. Ons kan uit onsself nie oordeel of ‘n ander, man of vrou, spesifiek deur Christus geroep en getaak is om Sy gemeente te versorg, of nie. Ons kan ook nie aan God voorskryf aan wie Hy hierdie taak mag of moet opdra en wie nie. Paulus wys daarop in Romeine 15 dat wanneer ‘n persoon deur God vir ‘n bepaalde taak geroep is, die persoon daardie taak met volle vrymoedigheid en geloof kan en moet aanpak. Ons mag daarom ook nie ‘n persoon verhinder om die geroepe taak wat God hom of haar opgelê het uit te voer nie. Ons is egter medeverantwoordelik om toe te sien dat daardie persoon die nodige kennis en begrip opgedoen het om die taak te kan uitvoer, en die vrugte wat daardie persoon lewer goed is.
Paulus begin die afsluiting van sy brief aan die Romeine (Rom 16) deur hulle te versoek om groete oor te dra aan mans en vrouens wat hul onderskei het in diens van die Evangelie en hul ondersteuning aan hom om sy taak te kan uitvoer, en in die bediening en versorging van vele gemeentes. Hierdie name kom ook in ander briewe van Paulus voor en dit maak dit net meer duidelik dat ons mekaar in liefde moet ondersteun om die take wat God ons voor roep en oplê ten beste te kan uitvoer.
Beste lynolie/lynzaad ? en enige ander lesers,
Stuur asb jou naam en van saam met die opmerking/artikel wat jy skryf, dan plaas ek dit gerus. Pro Regno plaas nie meer artikels/opmerkings wat onder skuilname/byname geskryf word nie.
Dankie.
Jan, al die sake wat jy na vore bring in jou skrywe is deur die dekades in die GKSA reeds deeglik beantwoord, so ek gaan nie alles weer herhaal nie, net ‘n paar opmerkings maak:
1. Die belangrikste gedeeltes, 1 Kor.14:34-40 en veral 1 Tim.2:11-15 word nie verreken in jou skrywe nie. Dit is ‘n algemeen bybels en gereformeerde verklaringsbeginsel om verhalende stof (bv. opstandingsverhale, Rom.15) in die lig van lerende (bevelende) stof te lees (bv. 1 Kor.14 en 1 Tim.2 en 3). Vroeë Openbaring moet ook gelees word in die lig van later Openbaring (so moet bv die tyd van profete en profetesse gelees word in die lig daarvan dat dit ge-eindig het en die Here Jesus deur sy geroepe apostel, Paulus, nou vir ons die ampte van leraar, ouderling en diaken gegee het, sien die Pastorale Briewe).
2. As jy skryf “Ons kan dus nie sê dat Christus Hom nie oor die onderwerp van die vrou in die amp uitgespreek het nie,” is dit nie heeltemal waar nie, aangesien hy deur sy geroepe dienskneg, Paulus (Hand.9, en sien veral 1 Tim.1:1 se woorde – “Paulus, ‘N APOSTEL VAN JESUS CHRISTUS, volgens die bevel van God, ons Verlosser …” ) Hom baie duidelik oor die saak uitgespeek het, sien 1 Tim.2 en 3. Die bevele van Paulus oor die ampte (1 Tim.2 en 3) is die bevele van Jesus Christus, die Koning van die Kerk, vir sy gemeentes deur al die eeue tot die laaste dag (1 Tim.3:15).
3. Jy skryf “God Verwyder die Breuk Waar God in Genesis 3 die vrou gestraf het in haar vrouwees en haar moederwees, laat Hy die verkondiging van die koms van Christus plaasvind deur die vrouwees en moederwees van Maria en Elisabeth”
Presies, elkeen in sy regmatige plek volgens elkeen se aard en roeping wat deur God bepaal word. Natuurlik moet alle gelowiges, jonk en oud, man en vrou, ouers en kinders, alle soorte mense ens ens getuig en verkondig van ons Here Jesus se koms, maar dit hef nie op dat almal nie dieselfde gawes het en ampte beklee nie, soos die Bybel leer.
Ironies genoeg, dit wat jy meen die sterkpunt is vir die vrou in al die ampte (die feit dat ook vrouens die evangelie uitgedra het, veral met die opstanding), is eintlik juis ‘n baie sterk getuienis TEEN die gedagte dat die vrou nou wel in al die ampte kan dien en daar nou nie meer onderskeid is in wie die ampte mag beoefen nie.
Ek het eenmaal oor hierdie saak gepreek en geskryf, wat veral die moeder van ons Here Jesus raak, want as daar nou iemand is wat ons sou meen as moontlike apostel verkies moes kan word, dan is dit Maria. En tog, vind dit nié plaas nie. As Jesus ooit verandering in wie die leraars/ouderlinge moes wees wou bring, dan was dit met die vestiging van die kerk en die uitstorting van die Heilige Gees. As die Here ooit vroulike diakens daar wou stel, was dit met die vestiging van diakens in Hand.6, en tog vind dit nie plaas nie. Dit bevestig dat die koms van Christus nie die onderskeie take van man en vrou in huwelik en/of kerk/gemeente ophef nie, maar heilig in sy diens.
Hier is die artikel waarin ek dit alles saamvat, lees gerus:
Die vrou in die amp in die lig van die Pinkstergebeure
Dit kan hier afgelaai word:
Click to access vida-en-die-pinkstergebeure.pdf
Hier is ‘n paar uitreksels (met verwysing na Hand.1:13-26):
9. In v.14 lees ons van ‘aantal vroue’ wat saam gebid het, wat deel is van die omtrent 120 dissipels (1:15; 2:1) wat saam met die manne vervul gaan word met die Heilige Gees om in verskillende tale te getuig van die ‘groot dade van God’ (2:11).
10. Hierdie ‘aantal vroue’ is hoogs waarskynlik niemand anders as die vroue wat saam met die twaalf apostels van ‘een stad en dorp na die ander gereis’ het en ‘Hom … met hul besittings gedien het’ (Luk.8:1-3). Hierdie vroue, of ten minste van hulle, was ooggetuies van sy kruisiging (Matt.27:55,56) én sy opstanding (Matt.28:1ev), ja, nog voor die elf apostels was hul reeds die getuies van die Goeie Nuus: Hy het opgestaan ! (Luk.24:9,10).
11. En, nie net die ‘aantal vroue’ nie, maar ‘Maria, die moeder van Jesus’ was ook daar, die Teks sonder haar uit: die ‘een’ wat genade by God gevind het (Luk.1:30), wat salig is (Luk.1:45,48) omdat sy Hom gebaar en gesoog het (Matt.1:23; Luk.11:27) die ‘een’ deur wie ‘n swaard sou gaan weens haar Seun se lyde (Luk.2:34), wat Hom sien groot word en groei in grootte en in genade by God en die mense (Luk.2:52), wat Hom opgevoed het saam sy broers (13:55), ‘n eerstehandse ooggetuie van sy hele lewe, lyding en sterwe (Joh.19:25).
12. Die aantal vroue en Maria die moeder van Jesus, was dus meer as geskikte kandidate: hulle ontvang ook die gawe van die Gees, hulle ontvang die verlossing in Christus, hulle was ooggetuies wat saam Jesus drie jaar lank Hom bedien het, hulle was getuies van sy kruisiging en opstanding, nog meer as die apostels en ander manlike dissipels.
13. En tog, sê Petrus, gelei deur die Gees (1:21), in navolging van God se skeppingsordeninge, in lyn met die apostel Paulus (1 Kor.11:3; 14:34; 1 Tim.2:13): “van die manne (Grieks: aner) dan wat saam met ons rondgegaan het …”
Ja, vanuit ‘die manne’, wat Hom verlaat het in sy grootste lydingstyd, soos al die ander dissipels, uit hulle moet daar ‘een’ verkies word om Judas se plek in te neem. Nié vanuit die vroue wat Hom nié verlaat het nie, en aan die kruis tot sy dood toe Hom getrou gedien het (Matt.27:55), maar uit die ‘manne’ moet nog ‘n apostel verkies word.
14. En, as die Heilige Gees uitgestort word, dan is almal getuies, mans en vrouens, seuns en dogters, diensknegte en diensmaagde profeteer (2:4,17; 21:19), manne en vroue kom tot geloof (5:14; 17:12,34), manne en vroue word gedoop (8:12), manne en vroue het in hul huise ander dissipels geleer (18:26); maar, let wel,
– behalwe vanuit ‘die manne’ wat ‘n apostel verkies is, sien ons ook in Handelinge:
15. Alleen uit ‘die manne’ word daar opgestaan om te preek (‘Petrus … met die elf’; 2:14ev).
16. Alleen uit ‘die manne’ word ‘sewe manne’ verkies as diakens (Hand.6:3).
17. Alleen uit ‘die manne’ word die sakrament van die doop bedien (8:38; 19:5).
18. Alleen uit ‘die manne’ vind die regering van die kerk plaas en word ‘afgevaardiges’ verkies (Hand.15:22-26).
19. Kortom: as daar ooit ‘n tyd/geleentheid/oomblik was in die heilsgeskiedenis, waar die vrou tot die ‘besondere ampte’ verkies moes word, dan was dit met die verkiesing van nog ‘n apostel (Hand.1), toe diakens met die weduwee-krisis verkies is (Hand.6), en met verdere aanwysing van ouderlinge (14:23).
Maar, ons vind niks daarvan nie.
20. Wil die voorstaanders van VIDA ons nou regtig vertel dat ‘die Woord en Gees’ het nou skielik tot ons geslag (in die 20ste eeu en daarna) alleen gekom om ons anders te leer, en hierdie ‘nuwe insig’ te gee (1 Kor.14:36?), wat Hy nie eens aan sy Apostels en Profete geopenbaar het nie, wat die “fondament” van die Kerk is, terwyl Jesus Christus die Hoeksteen is (Ef.2:20). Moet ons nou dink dat die geloof wat eenmaal oorgelewer is (Jud.3), toe nie heeltemal oorgelewer is nie, en dat ongeag dat die apostelamp ge-eindig het in die eerste eeu (Hand.1:21,22; 2:43; 2 Kor.12:12), daar vandag ‘nuwe apostels’ opgestaan het wat ons nou verdere of andere openbaring gee oor hierdie saak ?
21. Daar het veranderinge plaasgevind tussen die OT en NT bedeling (sien veral die boek Hebreërs), o.a. die doop wat die besnydenis vervang het, die heil wat van een volk na alle volke gaan, die Gees wat in ‘n voller omvattender wyse uitgestort is, die ophef van die seremonies (NGB art.25), ja, ook die vrou ontvang nou die verbondsteken – die doop, maar dit alles het nie God se skeppingsorde van manlike leierskap en vroulike onderdanigheid (Ef.5:21ev) – gelyk in waarde en wese (Gal.3:28; 1 Pe.3:7), maar verskillend in rol – opgehef nie. Nee, die redding en vervulling in Christus, die koms van die Gees heilig God se skeppingsorde, dit vernietig of vervang dit nie.
22. Dus, ongeag dat ons dierbare vrouens, mede-burgers van God se Koninkryk is in Christus, mede-erfgename deur die geloof is, kosbare gawes het, saam met ons diensbaar is in sy Koninkryk en ons mekaar moet help en ondersteun om Kerk van Christus te wees, sien ons reeds in die eerste eeuse ‘kerkgeskiedenis’ geen aanduiding dat die vrou geroep word tot die besondere dienste van leraar, ouderling en diaken nie. Ons mag nie God se orde omver werp nie, want dit veroorsaak onvrede, verdeeldheid en chaos in Christus se Kerk (1 Kor.14:33,40).
23. Maria, die moeder van Jesus, het haar, nie soos Eva (1 Tim.2:14), vergryp aan wat haar nie toekom nie (Gen.3:13), maar sy is, in die woorde van 1 Tim.2:15, “gered deur kinders te baar”, deur in die geloof in haar Seun, haar roeping as vrou en moeder wees te omhels, soos die “vroue wat op God gehoop het” (1 Pe.3:5) deur die eeue gedoen het, en nog steeds doen. Mag ons vrouens wat so mislei word deur die feministiese tydsgees, ook en veral deur ‘evangeliese feminisme’, opnuut die roeping en taak van 1 Tim.2:15 (her)ontdek, en soos Maria, Sara en al die ‘heilige vroue’ as ‘salig’ beskou word (Luk.11:27).
24. In lyn met Gen.2:18 moet ons diensbare vrouens ons swakke begenadige mans tot hulp wees om ons roeping en taak as leier-diensknegte te vervul, want God roep ons nog steeds: Adam, waar is jy ? (Gen.3:9), veral vandag, ons gaan nie wegkom nie, daar is werk om te doen, ‘n roeping om te vervul, om sterk in die geloof en manlik te wees (1 Kor.6:13) en, juis in die roepingsvervulling (opofferende liefdevolle dissipelskap en knegskap teenoor God, ons vrouens, kinders, ons gemeentes en ons naaste) lê ons vryheid en hoop (Joh.8:32-36), òòk vir die vrou (sien die belangrikheid van 1 Tim.2:8 en 1 Pe.3:7 in hul onderskeie perikope wat handel oor die vrou se rol en taak).
DIE VROU IN DIE TYD VAN PAULUS EN VANDAG
Wanneer die saak betreffende die vrou in die ampte beoordeel word, word hoofsaaklik gekyk na wat Paulus in hierdie verband geskryf het en gedoen het. Die wat teen die vrou in die amp gekant is, kyk hoofsaaklik na wat Paulus geskryf het, en die daar voor na wat Paulus gedoen het. Op hierdie manier kom ons nie bymekaar uit nie, leef ons by mekaar verby. In werklikheid lees geen van beide partye die gehele kanon nie, met die gevolg dat beide partye nooit bymekaar kan uitkom nie. Wat Paulus gedoen en geskryf het word voorop geplaas en hiervolgens wil ons God se heilige Wil bepaal.
In my vorige artikel “GOD SE OPDRAG, DIE GEROEPE VROU EN ONS” het ek dit probeer duidelik maak dat in die eerste plek na God die Vader en Christus se handelinge, Ou en Nuwe Testament, gekyk moet word. Hiervolgens, en die feit dat Paulus binne die konteks van sy tyd geskryf het, moet ons Paulus probeer verstaan.
Paulus se sieninge, veral weergee in 1 Kor 14: 26-40, moet dus in die lig van die volgende beskou word:
a. Sy kennis van die Ou Testament, veral die Mosaïse Wette, d.w.s. die Torah;
b. Die voorafgaande artikel. Hoofsaaklik omdat dit nie betaamlik is om tydens dienste in die kerk sonder die nodige kennis te praat en vrae te vra nie. Paulus se redes word veral in twee verse saamgevat, nl.:
“Maar in die byeenkoms van die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand praat om ook ander te onderrig, as duisend woorde in ongewone tale of klanke” 1Kor 14:19; en
“God is tog nie ‘n God van wanorde nie, maar van orde en vrede” 1 Kor 14:33;
Paulus se sieninge moet dus in die eerste plek as ‘n voortsetting van God die Vader en Christus se handelinge beskou word – hoe vreemd dit ookal mag klink.
c. Paulus, en die ander apostels, se bewuswees van die wêreldsieninge van daardie tyd. Hier moet veral na die Joodse (Judaïstiese) en heidense oorwegings t.o.v. die vrou gekyk word. Dit geld ook vir die gebeure soos beskryf in Hand 1:13-26.
Die Wêreldsieninge van daardie Tyd
Oos-Meditereense Wêreld:
In die Oos-Meditereense Wêreld, die tyd voor Christus d.w.s. die Ou Testamentiese tyd, was die lewenswyse patriarglokalisties. Hier het die mans hoofsaaklik in familiegroepe naby mekaar gewoon. Hul vrouens het van elders gekom. Die verantwoordelikheid het dus op die mans gerus om hul kulturele gebruike en sieninge, insluitend religië voort te dra. Die vrouens wat eintlik die kultuur by hul moes mans leer, was oor die algemeen beskou as ‘n noodsaaklike bykomstigheid. Die vroue moes hul mans se kinders in die wêreld bring en versorg en hul huishoudings aan die gang hou.
Baie belangrik hier is dat na die Babiloniese ballingskap nie alle Jode na Israel teruggekeer het nie. ‘n Geruime hoeveelheid, waaronder Skrifgeleerdes, het in Babilonië agtergebly. Hierdie Jode het ook in familiegroepe saamgewoon, getroud met vrouens van die heidense bevolking. Van die mans was verwag om ‘n ‘koninkryk van God’ in hul gemeenskap daar te stel, maar uiteraard het heidense sieninge en gebruike hierby ingesluip. Ook in Israel was hierdie gebeure, alhoewel in ‘n mindere mate, vry algemeen.
Onder die Judaïste het die reël gegeld dat wanneer ‘n man ‘n vrou vanuit ‘n ander volk wil trou, sy eers haar hare moes afskeer as bewys van afstanddoening van haar kultuur en religie (Deut 21:12). Daarom dat Paulus in 1 Kor 11:5-6 dit stel dat ‘n vrou met afgeskeerde hare haar man oneer aandoen. Binne die gesinsopset is die man, ook in die Nuwe Testamentiese tyd, steeds as hoof van die gesin beskou.
Westerse-Meditereense Wêreld – Heidense Oorwegings:
Die Grieks-Romeinse, oftewel die Nuwe Testamentiese Tyd, word as die Westerse-Meditereense Wêreld beskou. In hierdie wêreld was seksuele verhoudinge tussen ouer mans en jong seuns vry algemeen – inteendeel dit was as die ‘hoogste vorm van liefde’ beskou. Hierdie stelsel het status aan die ouer mans verleen. Hierdie ouer mans was veral verantwoordelik om die seuns te leer en kon hul status verhoog om met die seuns seksuele gemeenskap te hê. Hul status het daarin gelê dat hul die aktiewe rol in die seksuele daad vervul het. Dit het mag en dominansie in die sosiale wêreld beteken.
Met dieselfde gesindheid het die mans hul vrouens en dogters onderwerp. D.m.v. die verkragting van vrouens en kinders, selfs hul eie, het aan die ouer mans status en aansien verleen, en terselfdertyd onderdanig te wees, en die metode het klaarblyklik ‘goed’ gewerk. Dogters moes vinning leer om onderdanig te wees, want dan sou hul goeie vrouens en moeders uitmaak. Hier het ook nog die siening van Aristoteles dat vrouens onderontwikkelde mans, en daarom van minderwaardige gehalte was, gegeld.
Mans wat nie die dominante rol vervul het nie, d.w.s. passief was, was as ‘n gevaar vir die manlike samelewing beskou.
In Korinthe was die gebruik van prostitute en profetesse van sekere heidense gode om hul hare los te dra. Ook moet ons onthou dat wanneer ‘n Israelietise vrou in die Ou Testament van ontrouheid verdink was, haar hare los gemaak moes word (Num 5:18). Onder die gelowiges is los hare derhalwe as ‘n skande beskou.
Westerse-Meditereense Wêreld – Judaïstiese Oorwegings:
Twee Talmuds, byvoegings tot die Torah met ‘n enorme hoeveelheid bykomende wette en reëls vir die Judaïstiese volgelinge – een uit Babilonië en die ander een uit Jerusalem, het ongeveer 200 jaar na Christus hul verskyning gemaak. In sommige kringe het die Talmud ‘n belangriker riglyn as die Torah geword, alhoewel die Torah vir die Isaeliete oorspronklik die primêre bron van leer was.
‘n Bekende siening wat in die Babiloniese Talmud beskryf is – in sommige dele nogal kras ook – het daarop neergekom dat dit beter is om die seuns te laat leer as die vrouens en dogters. Om vrouens en dogters die Torah te leer was hoofsaaklik as tydmors beskou.
Die verskyning van die Talmuds was egter oor die algemeen net ‘n verwoording van dit wat alreeds (die vorige 100-150 jaar) onder die Judaïste gegeld het. Hierdie ekstremistiese sieninge aan die een kant, het saam met die verkondiging van die Christus Evangelie van sonde vergifnis en bekering aan die ander kant, tot gevolg gehad dat vele Jode, o.a. ook Skrifgeleerdes, hul tot die Christelike geloof bekeer het. Hierdie Jode was as’t ware voorsien van ‘n dryfkrag om weg te kom van die Judaïstiese ekstremisme en ‘n trekkrag na Christus se waters waar rus is.
Dit is dus vir my duidelik dat a) kulturele oorwegings en b) ontbreking van kennis by die vroulike geslag die grootste rol gespeel het in God se roeping van die vrou in daardie tyd.
Die Gebeure in Hand 1:13-26
Heeltemal tereg begin Petrus die byeenkoms in die “bovertrek waar hulle gewoonlik vertoef het” dus met die aanspreekvorm “Broers” (Hand 1:14). Kultureel het alle besluite om die man as hoof van sy gesin gedraai. God se besluit om Mattias as 12de apostel aan te wys instede van bv. Maria Magdalena of Maria die moeders van Jesus, kan, in die lig van die wêreldsieninge van daardie tyd, ook nie gesien word as maatstaf waarom God die vrou vandag nie tot die amp sal roep nie.
Paulus – die gewese Skrifgeleerde – en sy Gemeentes
Paulus as apostel van Christus en gewese Skrifgeleerde was duidelik bewus van die verwikkelinge in die heidense en Judaïstiese wêreldsieninge. Maar, dit het sy werk ook baie bemoeilik en moes hy uiteraard briewe skryf en die reëls neerlê in ooreenstemming met die wette van Moses om die orde en waardigheid in die gemeentes en liefde en respek onder die gelowiges onderling te verseker.
Uit die eerste brief aan die gemeente in Korinthe, wat in werklikheid nie die eerste was nie maar die tweede, word dit duidelik dat Paulus soms moeite met die Korinthiërs gehad het. Dit word nog meer duidelik as ons die eerste drie hoofstukke van Paulus se brief aan die Romeine lees. Die brief aan die Romeine is waarskynlik geskryf terwyl Paulus oorspronklik in Korinthe werksaam was.
Ons moet dus wanneer ons Paulus se briewe lees, onderskeid tref tussen wat hy ter wille van orde en onderlinge liefde in die gemeentes geskryf het vanweë die feit dat daar struwelinge tussen ex-heidene, tussen ex-Judaïste, en tussen ex-heidene en Judaïste was, en wat werklik Evangelie gerig was. Die Judaïste wat as Skrifgeleerdes oorgekom het na die gemeente, sou ook na alle waarskynlikheid ‘n senioriteit in die nuwe gemeente beklee het.
Ook moes sommige van die vrouens met hul nuutverworwe vryheid gevoel het soos wilde diere wat uit ‘n vanghok vrygelaat was. Die nadeel was egter dat hul geen kennis van hul eie kulturele wêreldsieninge – wat nog enige van die Christelike, heidense en/of Judaïstiese wêreldsieninge gehad het nie. Om hul dan toe te laat om tydens byeenkomste te sê en heen en weer te vra net wat hul wil, sou noodwendig op chaos uitgeloop het.
Daarom verwys Paulus behalwe na Gen 3:16, ook o.a. na Numerie 30, wanneer hy skryf:
“God is tog nie ‘n God van wanorde nie, maar van orde en vrede. Soos in al die Christelike gemeentes
moet die vrouens ook in julle byeenkomste stilbly, want hulle word nie toegelaat om te praat nie. Hulle moet onderdanig wees, soos die wet ook sê. As hulle iets te wete wil kom, moet hulle tuis hulle eie mans vra, want dit is lelik vir ‘n vrou om in die erediens te praat” 1 Kor 14:33-35.
Eers wanneer hul geloof én kennis tot aanvaarde standaard ontwikkel en gegroei het, dan kan hul toegelaat word om te praat – mits hul die toestemming van hul mans sou hê om nie wanordelik te wees nie en hulle hul mans nie tot oneer sou bring nie. Dit word nog meer duidelik in 1 Kor 11:2-16 wanneer Paulus Priscilla nie teengegaan het nie toe sy saam met haar man vir Apollos die Christelike leer nog duideliker gemaak het (Hand 18:26). Vir meer as twee jaar lank het Paulus die geleentheid gehad om vir Priscilla en haar man Akwila in Korinthe te onderrig, terwyl Paulus by hul ingewoon en hul saam tente gemaak het.
Gevolgtrekking en Afsluiting
Vir my is dit dus duidelik dat dit wat Paulus oor die vrou geskryf het, sterk beïnvloed was deur die lewensomstandighede van daardie tyd. Ons mag daarom ook nie die bewoording van dit wat Paulus geskryf het, netso letterlik van toepassing op ons vrouens van vandag bring nie. Dit sou ook op skending van die Evangelie neerkom, omdat dit dan ook nie in konteks met God die Vader en Christus se handelinge gelees word nie.
Die vroulike geslag van vandag leef ‘n heel ander lewenswyse as die van 2000 jaar gelede, en ontvang vandag dieselfde opvoeding as die manlike geslag. Terseldertyd moet ons ook die wese van vrouwees veral wat moederwees en versorging betref as Godgegewe beskou. Hierdie wese van vrouwees maak hul uitermate geskik om Christus se liefde uit te dra. God het bedoel dat man en vrou saam moet werk in en heers oor Sy Skepping. Deur die wêreldgeskiedenis heen – ook in die Ou Testamentiese tyd – sien ons patriargale en outoritêre dade en magte tevoorskyn kom wanneer slegs die man heerskappy voer. Dit is duidelik dat God juis die liefdesgesindheid van die vrou geskep het om balans in God se Skepping te bring. Sal Hy dit nie ook in Sy Kerk wil hê nie?
As laaste opmerking wil ek noem dat wanneer ampte in God se Kerk ter sprake is, God self die aanstellings maak – Eks 29:9; Num 8:25; Jes 22:19 & 23; Hand 1:20; en Hand 13:22. Daarom moet elke persoon wat in een van die ampte in die kerk dien, ook van harte voel en besef dat hy/sy deur God self daartoe geroep is. Dit is nie vir ons as ‘toeskouers’ om te oordeel of te beoordeel of dit so is of nie. Christus het tog inmiddels gesê: “As julle sê ‘n boom is goed, moet julle ook sê sy vrugte is goed; en as julle sê hy is sleg, moet julle ook sê sy vrugte is sleg. ‘n Boom word tog aan sy vrugte geken” (Mat 12:30 & 33).
Dit is dus vir my duidelik dat
• God beide mans en vroue steeds roep om in sy diens te staan. God het dit ook so beskik dat Hy aan elke geslag en elke persoon unieke talente geskenk het. Dit is egter vir God om te besluit deur wie en waar Hy hierdie talente aangewend wil hê.
• Om ‘n vrou van vandag, aan wie God ‘n wye verskeidenheid van liefdestalente geskenk het, buite Num 30 om weg te wys en te verhoed dat sy die roeping van God – ongeag wat die taak is wat God aan haar opdra – opvolg, kom dus vir my daarop neer dat ons God deur hierdie eensydige aksie bedroef.
• Ons is medeverantwoordelik om toe te sien dat elke persoon die nodige kennis en begrip opgedoen het om sy/haar taak te kan uitvoer, en die vrugte wat daardie persoon lewer goed is.
JAN LYNZAAD
ROOIHUISKRAAL
Beste Jan,
Jou skrywe bevestig ongelukkig dat ons en julle met twee wyd uiteenlopende Skrifbeskouings en manier van Skrifverklarings werk.
Jou sleutel tot die verstaan van die Skrif lê in die kultuur van die dag en nie in die Skrif self wat vir alle tye geskryf is nie. So, jy is reg, ons gaan mekaar elke keer mis. ‘n Mens kan egter enige leerstuk van die Bybel vat en dit in die lig van die kultuur van daardie tyd weg verklaar. So doen die Nuwe Hervormers met die verlossingsleer van Christus, hul sê in daardie tye was daar verskillende messiaanse idees (mense wat gode gemaak is of so beskou is wat die mens kom red) en daarom moet ons die NT en Evangelies nou ‘anders’ lees in die lig van die moderne mense se siening van die lewe. Die einde is die Evangelie gaan verlore. Ongelukkig is dit waarheen jul Skrifbeskouing en Skrifverklaring gaan eindig in die opkomende geslagte, ongeag of die huidige geslag meen hul sal glad nie so ver gaan nie end at hul alles opreg bedoel.
Sien my skrywe heel onder in die artikel as reaksie op dr. Vergeer se skrywe, waar ek daarop wys – soos gereformeerde skrifverklaarders reg deur die eeue – die kultuurstudies help ons om die Skrif te verstaan, dit bepaal nie ons Skrifverklaring of heers daaroor nie. Met die VIDA skrifverklaring word die kultuur en tye gebruik om God se duidelike bevele te verwerp of te verdraai, en soos hierbo genoem, later kan dit met enige leerstuk gedoen word.
https://proregno.com/2012/02/16/n-openhartige-antwoord-op-n-openhartige-brief/
As Paulus se beroep op Genesis (die skeppingsorde) in 1 Kor.14 en 1 Tim.2 bloot gesien word as ‘kulturele waardes’ wat nie vir altyd was nie, dan het ons mekaar inderdaad ongelukkig heeltemal verloor, dan het ons nie meer ‘n wedersydse kanon en norm om te besluit hoe om kerk van Christus vandag te wees nie, dan is ons oorgelewer aan wat mense bloot ‘vandag’ wil hê, in die lyn van 2 Tim.2:3,4.
Ek het al reeds my standpunt hier op my blog genoeg uiteengesit en gaan nie weer herhaal nie (kyk maar onder die ‘vrou in die ampte’ afdeling op my blog).
Die vraag is nou: wat dan gedoen as gelowiges radikaal oor so saak verskil, want daar kan nie tegelykertyd vrou in die amp wees en nie wees nie en dink dit gaan vrede veroorsaak. Ons kan nie saam kerkregering beoefen nie, dit is ‘n saak wat daar eenheid van leer en optrede moet wees ter wille van gesoende kerkverband wees.
Ek aanvaar dat ons en jullle in liefde aanhou moet gesels en mekaar beter moet probeer verstaan, ek is altyd oop vir enige gesprek, maar menslik gesproke na 3 dekades se debat en gesprek in die GKSA lyk dit nie of ons mekaar gaan oortuig nie, inteendeel, ons skuif al verder uitmekaar.
Nou is dit juis die tyd vir liefdevolle opregte optrede, en dit is waar dr. Jac Howell 100 persent reg en liefdevol optree deur sy Opebrief skrywes.
As iemand dan so sterk oortuig is dat vroue in die amp moet wees, en nadat die GKSA dit vir 3 dekades beoordeel en verwerp het op Skrifgronde deur sy sinodes, dan is dit tyd vir daardie gelowiges om aan te beweeg en nie verder liefdeloos ons kerke te verdeel en onordelik te maak nie.
Om ‘n ander voorbeeld te gebruik: as ek oortuig word van die grootdoop, sal ek dit nie beoefen nie, en sal ek al die kerklike weë volg om my kerk en kerkverband daarvan te oortuig (kerkraad, klassis, part-sinode, algemene sinode). Maar, as die vergaderings herhaalde male my standpunt verwerp en veral oproep om die orde te handhaaf van sy besluite, sal ek of daarby berus, en as ek nie kan berus nie ‘n Baptistiese kerkverband gaan opsoek waarin ek my nuwe standpunt met passie kan leer en beoefen. Ek gaan nie in ‘n kleindoop kerkverband chaos en wanorde en verdeeldheid bevorder met my baptistiese standpunt nie.
Ek glo die liefdevolle pad teenoor mede-gelowiges waarmee ek verskil en besef ons gaan mekaar nie oortuig nie en kan mekaar nie akkommodeer nie, is dat ek wat met die nuwe lering kom, hul vrede sal respekteer en dan na ‘n ander kerkverband sal opsoek, juis ter wille van die koninkryk.
In die lig dat heelwat kerke en gelowiges wat ten gunste is van VIDA dit egter nie wil doen nie, laat my dan juis hul motiewe en mooi praatjies oor liefde en verdraagsaamheid bevraagteken.
Dan begin ek wonder hoekom hul wil bly en aanhou die verdeeldheid wil bevorder, aanhou die onordelikheid bevorder. Is daar dan ander redes waarom hul dalk by die GKSA wil bly, dalk die pensioenfonds ? Ek vra maar die vrae ?
Beste Ds Slabbert
Dit wat ek in my eerste artikel geskryf het, is vir julle nie aanvaarbaar nie. Dit word as’t ware van die tafel afgevee. Waarskynlik omdat dit kontra-produktief sou wees teenoor wat Paulus in sommige Skrifgedeeltes geskryf het. Die argumente wat ek daarin aangehaal het moet egter volgens my voorop bly staan. Christus is die een wat nagevolg moet word – nie ‘n interpretasie van Paulus nie.
Laat ek verduidelik:
Wanneer ons in diepte kyk na wat Paulus geskryf het, lyk dit – tensy ons sekere dele ignoreer om tot jou en ander se interpretasie te kom – of Paulus homself weerspreek, soos bv. t.o.v. die vrou:
* Paulus het vroue op vele vlakke in die bediening gebruik – vglk Hand 18:26; Rom 16:1-3; Fil 4:3; 1 Tim 5:9-10 & 16.
* Paulus laat toe dat ‘n vrou ‘n leraar tereg wys – Hand 18:26
* Paulus beklemtoon dat mans en vroue in Christus gelyk is – Gal 3:28;
* Paulus noem vroue by die naam en dank hulle vir hul diens in die bediening – vglk Rom 16; Fil 4:2; 2 Tim 1.
* Paulus laat nie toe dat vroue in die gemeente praat nie, maar hulle moet hul mans tuis ondervra: 1 Kor 14:35 & 36; 1 Tim 2:11-12;
* Paulus laat toe dat vroue in die gemeente bid en profeteer – 1 Kor 11: 5 & 13 (In 1 Kor 11:16 maak Paulus dit wel duidelik dat hier van ‘n erediens gepraat word, en in 1 Kor 14:3 stel Paulus dit baie duidelik wat hy as ‘profeteer’ beskou);
Hoe verklaar ons hierdie op die oog af teenstrydighede? Ons kan sekere gedeeltes ignoreer of ander verklarings vir die teenstrydighede soek. Een hiervan is om in die kultuur-historiese wêreld te gaan delf, juis ook omdat Paulus ook verwys na die algemene kultuur, bv. ‘algemene opvatting’ 1 Kor 11:14.
Ek is heeltemal bewus van die gevare om die kultuur-historie oor die teks te laat heers. maar waar dit Skrifgedeeltes duidelik maak waar dit voorkom of Paulus homself en ook Christus weerspreek, het dit ‘n dienende funksie en sou selfs Calvyn nie ‘n beswaar gehad het nie.
Inteendeel, sou die antwoord wel in die kultuur-historiese lê soos dit hier definitief blyk te wees, mag dit dan ook nie geïgnoreer word nie!
Om sekere Skrifgedeeltes van Paulus dus voorop te stel oor God se straf op Eva, Christus se opdrag aan Maria Magdalena en die gevolglike bewys van die verwydering van die breuk tussen God en die vrou, en ander Skrifgedeeltes van Paulus te ignoreer, terwyl ons nou die redes vir die verskille weet, kom nou daarop neer om sekere Skrifgedeeltes oor ander te laat heers. Dit is nie reformatories nie.
Ons moet ook hierby in gedagte hou dat die gehele Bybel, Ou en Nuwe Testament gesamentlik, die Kanon vorm. Ons kan dus nie impliseer dat Paulus in sy briewe so volledig was dat hy die gehele Bybel daarin kon saamvat nie. Ook skryf Paulus dat God deur die Heilige Gees aan elke persoon unieke werkings – d.w.s. unieke talente, unieke take, unieke genadegawes ongeag Jood of Griek, slaaf of vry persoon, man of vrou, uitdeel en binne die kerk take uitdeel volgens die genadegawes wat hul ontvang het en so een liggaam met Christus vorm (1 Kor 12).
Deur die Bybel so te interpreteer asof God nie vroue in die Nuwe Testament en daarna vir die kerk roep nie terwyl
a.) Paulus dit stel dat almal lede van een liggaam vorm, d.w.s. een liggaam met Christus; en
b.) God dit wel in die Ou Testament gedoen het,
kom vir my ook daarop neer om sekere Skrifgedeeltes oor ander te laat heers.
Jou en dr Howell en Ander se Beskuldigings
Jy beskuldig my en ander daarvan dat ons God se duidelike bevele verwerp of verdraai. Is dit verkeerd om met nuwe oë na die Skrif te kyk en foute in vroeë skrifverklarings uit te wys? Toegegee, die skrifverklarings rondom Paulus en die vrou soos jy dit het, bestaan al lankal – dit is vir my niks nuut nie, maar net so lank as wat die verklarings bestaan kon daar steeds nie verklarings gevind word vir die teenstrydighede nie. Vir die afgelope 50 jaar al is ek daarvan bewus dat daar nie antwoorde gevind kon word hiervoor nie. Dit gaan dus nie om bloot wat mense die afgelope 3 dekades of ‘vandag’ ‘wil hê’ nie. Dit gaan om wat mense vandag besef fundamenteel verkeerd is.
Met die reformasie is niks verkeerd nie. Maar dit is ons plig, joune en myne en elke Gereformeerde lidmaat, dat ons nie soos die RKK van ouds mense wil wegjaag net omdat ons met mekaar verskil nie. Kyk behoorlik en in diepte na ons argumente en bewyse – en moenie tot konklusies hardloop en ons net summier wil wegjaag nie.
Verder beskuldig jy, dr Howell, ea. ons dat ons die kerk liefdeloos verdeel en onordelik maak. Vir die afgelope 50 jaar al is ek daarvan bewus dat die Gereformeerde kerk meer en meer outokraties en liefdeloos word – tipiese simptome van ‘n suiwer manlike regering. Hoekom dink julle loop die jeug op strepe? Vanweë hulle sondige natuur of is dit omdat die kerk nie hand in eie boesem wil steek nie? Ook ek wou dit 40 jaar gelede al gedoen het! Hoekom – omdat Christus se liefde in die kerke onderling meer en meer besig is om uit die Gereformeerde kerk te verdwyn. En hoekom het ek nie? Omdat God my daarvan weerhou het! Vandag weet ek hoekom! Ek is nie ‘n predikant nie, net ‘n gewone lidmaat wat met die pensioenfonds niks uit te maak het nie!
Hoe Nou Gemaak
Hoe ons nou teenoor mekaar moet optree is die antwoord duidelik in die Heilige Skrif te vinde:
* Die navolging van die Wet soos Christus dit aan ons deurgee in Mat 22:37-39; Mar 12:30-31; Luk 10:27; Joh 13:34; Joh 15:12 & 17.
* Paulus se skrywe in Rom 14 en 15, in besonder Rom 15:7.
Enigiets anders is nie reformatories nie.
Baie dankie om op Christelike wyse met mekaar te kon verskil,
Jan Lynzaad
Rooihuiskraal
Beste Jan, dankie vir jou skrywe. Ek plaas jou skrywe (gemerk met jou voorletters ‘JL’) weer hier in my antwoord, en dan reageer ek hier en daar tussen-in, met my voorletters ‘slc’ gemerk:
JL skryf: “Dit wat ek in my eerste artikel geskryf het, is vir julle nie aanvaarbaar nie. Dit word as’t ware van die tafel afgevee. Waarskynlik omdat dit kontra-produktief sou wees teenoor wat Paulus in sommige Skrifgedeeltes geskryf het. Die argumente wat ek daarin aangehaal het moet egter volgens my voorop bly staan. Christus is die een wat nagevolg moet word –nie ‘n interpretasie van Paulus nie. ”
slc: Jan, so ook julle, na 3 dekades vee vee jul bloot ons (en baie eeue voor ons se) Skriftuurlike argumente van die tafel af omdat julle teenstrydighede in Paulus se uitsprake inlees ter wille van julle voorafopgestelde idee om vrou in die amp in die Skrif te skep. Julle interpretasie van Paulus se ‘teenstrydighede’ is die produk van die middel 20ste eeu se moderne feministiese hermeneutiek en daarna, ongelukkig nie van wat die Skrif leer oor die onderwerp nie.
Ja, Christus moet navolg word, so ook as Hy deur een van sy apostels, Paulus gelei deur die Gees, vir ons opdragte vir sy Kerk gee.
Daar is geen teenstrydigheid tussen Jesus en Paulus se leer of optredes nie, julle lees dit daar in.
JL: “Laat ek verduidelik:
Wanneer ons in diepte kyk na wat Paulus geskryf het, lyk dit – tensy ons sekere dele ignoreer om tot jou en ander se interpretasie te kom – of Paulus homself weerspreek, soos bv. t.o.v. die vrou:
* Paulus het vroue op vele vlakke in die bediening gebruik – vglk Hand 18:26; Rom 16:1-3; Fil 4:3; 1 Tim 5:9-10 & 16.
* Paulus laat toe dat ‘n vrou ‘n leraar tereg wys – Hand 18:26
* Paulus beklemtoon dat mans en vroue in Christus gelyk is – Gal 3:28;
* Paulus noem vroue by die naam en dank hulle vir hul diens in die bediening – vglk Rom 16; Fil 4:2; 2 Tim 1.
* Paulus laat nie toe dat vroue in die gemeente praat nie, maar hulle moet hul mans tuis ondervra: 1 Kor 14:35 & 36; 1 Tim 2:11-12;
* Paulus laat toe dat vroue in die gemeente bid en profeteer – 1 Kor 11: 5 & 13 (In 1 Kor 11:16 maak Paulus dit wel duidelik dat hier van ‘n erediens gepraat word, en in 1 Kor 14:3 stel Paulus dit baie duidelik wat hy as ‘profeteer’ beskou);
Hoe verklaar ons hierdie op die oog af teenstrydighede? Ons kan sekere gedeeltes ignoreer of ander verklarings vir die teenstrydighede soek. Een hiervan is om in die kultuur-historiese wêreld te gaan delf, juis ook omdat Paulus ook verwys na die algemene kultuur, bv. ‘algemene opvatting’ 1 Kor 11:14.”
slc: Jan, die feit dat julle ‘teenstrydighede’ ‘sien’, beteken nie almal sien dit in hierdie Skrifgedeeltes nie. Ek sien dit nie in enige van die Skrifgedeeltes nie, en glo as mens Skrif met Skrif vergelyk daar nie probleme is nie. So het die kerk deur al die eeue nog nooit teenstrydighede gesien nie … maar het die ‘teenstrydighede’ eers in die 20ste eeu skielik na vore gekom, jy moet vra hoekom ?
Ek dink ‘n ander rede waarom julle dalk verward is oor die saak, is omdat jul juis nie die verband tussen lerende stof en verhalende stof reg lees en verklaar nie, soos ek reeds ‘n vorige keer genoem het.
In al die verse wat jy daarbo noem vind ek geen weerspreking van 1 Kor.14 en 1 Tim.2 wat leer dat die vrou nie oor mans mag regeer en/of leer nie. Waar is die weersprekings en teenstrydigheid, waar ?
Om jou dalk verder te kan help:
Verhalende gebeure is ook nie noodwendig normatief as lerende stof daar spesifiek in die konteks of elders in die Skrif dit nie bevestig nie. So kan iemand bv nie egbreek of poligamie goedpraat bloot omdat dit in die Bybel staan nie (bv. 2 Sam.11), maar moet dit gelees word in die konteks van die res van die Skrif (o.a. Ex.20:14).
En, as 2 dele vir jou lyk of dit mekaar weerspreek, hoe kies jy dan watter deel moet watter deel bepaal ? By julle lyk dit asof dit dan juis julle feministiese lees van ons tye in die Bybel in is wat bepalend is, en daarom dat sosio-historiese inligting dan heersend van aard word, en nie soos altyd deur reformatore verstaan is, dienend van aard nie.
Dit het verder ook te doen met die Skrifverklaring beginsel dat duideliker dele onduideliker dele moet verklaar, so ook dat lerende stof wat duidelike bevele bevat onduideliker dele moet verklaar wat beskryf en nie voorskryf nie.
As iemand bv. Romeine 16 (onduideliker deel; verhalende beskrywende stof) gebruik om 1 Tim.2 en/of 1 Kor.14 (duideliker deel, lerende/bevelende/voorskrywende stof) te weerspreek, dan word daar myns insiens nie eerlik met die Skrif omgegaan nie, maar word ware lering verdraai vir ‘n eie agenda, wat jammer is.
Dit is soos iemand wat poligamie regverdig vir vandag, bloot omdat sekere gelowiges in die OT dit beoefen het, wat as dit reg gelees word in die konteks van die hele Skrif, dit tog duidelik is dat die Skrif ‘n monogame huwelik beveel (bv. Gen.1,2; Ex.20:14; Jesus in Matt.19, 1 Tim.3; Hebr.13:4; ens.)
JL: “Ek is heeltemal bewus van die gevare om die kultuur-historie oor die teks te laat heers. maar waar dit Skrifgedeeltes duidelik maak waar dit voorkom of Paulus homself en ook Christus weerspreek, het dit ‘n dienende funksie en sou selfs Calvyn nie ‘n beswaar gehad het nie.”
slc: dit is juis die wesentlike probleem, van buite word inligting gebruik om Paulus vir Jesus te laat weerspreek, en nie omdat die Teks self ‘n weerspreking is nie. Daar word ongelukkig begin met: ‘ek hou nie daarvan dat vroue nie in die ampte kan dien nie, en daarom moet daar ‘n ander interpretasie wees van 1 Kor.14 en 1 Tim.2 en ander plekke, en daarom word die Skrif nou ‘vaag’ oor die saak, en dan moet die sosio-historiese inligting nou duidelik word om die Skrif wat onduidelik geword het te verklaar”.
Soos reeds genoem, so manier van Skrifomgang gaan in chaos en ander dwalinge eindig, nie miskien jy of die huidige geslag nie, maar kyk maar die volgende geslag.
Hoekom word daar so klem geplaas op sogenaamde weersprekings, wat in elk geval nie daar is nie ? Al rede wat ek aan kan dink is dat die Skrif eintlik so duidelik is oor die saak, en daarom moet eers twyfel gesaai word, dan is die Skrif skielik onduidelik en dan laastens, moet ons buite bybelse inligting inroep om sogenaamd ‘duidelikheid’ te bring. Dit bou nie die eenheid en orde van die kerk nie, soos Paulus noem aan die einde van 1 Kor.14.
En kan ons glo, die Here het vir 2000 jaar sy kerk weerhou van hierdie wesentlike waarheid (VIDA), en eers in die middel van die 20ste eeu en daarna het daar nou ‘reformasie’ gekom ?
Klink amper soos ‘n Da Vinci Code storie ? 😉
Maar dit is ‘n gevaarlike pad om te kies.
JL: “Inteendeel, sou die antwoord wel in die kultuur-historiese lê soos dit hier definitief blyk te wees, mag dit dan ook nie geïgnoreer word nie!”
slc: Jan, jy kan dit alleen skryf omdat jou bepaalde nuwe siening van die saak jou noodsaak om so ‘n nuwe sosio historiese interpretasie te maak, omdat jy teenstrydighede geskep het en nou sogenaamd antwoorde iewers anders moet gaan soek behalwe in die Teks. Ek bedoel dit nie lelik nie, maar dit is presies wat die Nuwe Hervorming doen met ander leerstukke. Dit wat kerk oor 2000 jaar oor Jesus bely het, moet nou deur sosio-historiese studies herontdek word, ons moet die ‘historiese Jesus’ herontdek, nie die Bybel, die Teks bloot verstaan soos dit daar staan nie. Buite-bybelse inligting mag nie ge-ignoreer word nie, argumenteer die nuwe hervormers, dit moet wat vaag was oor die historiese Jesus nou vir ons duidelik maak !
JL: “Om sekere Skrifgedeeltes van Paulus dus voorop te stel oor God se straf op Eva, Christus se opdrag aan Maria Magdalena en die gevolglike bewys van die verwydering van die breuk tussen God en die vrou, en ander Skrifgedeeltes van Paulus te ignoreer, terwyl ons nou die redes vir die verskille weet, kom nou daarop neer om sekere Skrifgedeeltes oor ander te laat heers. Dit is nie reformatories nie.”
slc: nee, dit is om Skrif met Skrif te vergelyk, dit is reformatories en bybels om te glo God spreek nie soos die Satan met twee tonge nie, dit is om die Skrif te volg dat die Gees wat deur Christus gespreek het ook die Gees is wat deur Paulus gespreek het, en mekaar nie weerspreek of ons mislei nie.
So terloops, in beide 1 Kor.14 en veral ook 1 Tim.2 beroep Paulus hom nie net op die sondeval en/of gevolge daarvan nie, maar bo alles op die skeppingsordening van God, nog voor die sondeval dat die Here daar reeds ‘n bepaalde orde gestel het vir man en vrou wat beide gesin en kerk moet respekteer, sien 1 Kor.14:34c en 1 Tim.2:13.
Julle probleem is nie met ons nie, Jan, maar met die Here en sy skeppingsordening en wil vir huwelik, gesin en gemeentes.
JL: “Ons moet ook hierby in gedagte hou dat die gehele Bybel, Ou en Nuwe Testament gesamentlik, die Kanon vorm. Ons kan dus nie impliseer dat Paulus in sy briewe so volledig was dat hy die gehele Bybel daarin kon saamvat nie. Ook skryf Paulus dat God deur die Heilige Gees aan elke persoon unieke werkings – d.w.s. unieke talente, unieke take, unieke genadegawes ongeag Jood of Griek, slaaf of vry persoon, man of vrou, uitdeel en binne die kerk take uitdeel volgens die genadegawes wat hul ontvang het en so een liggaam met Christus vorm (1 Kor 12).”
slc: Impliseer jy dus dat daar nou ‘n oop kanon is, of dat God se wil soos ons bely in NGB 7 en 32 nie genoegsaam vir ons opgeteken is oor die saak van die ampte nie ? Dat ons slimmes van die 20ste en 21ste eeu nou uiteindelik gaan herontdek wat die Bybel nou eintlik leer oor die ampte ?
Indien wel, waar gaan dit eindig, gaan dit beteken dat oor nog 200 jaar ons bv kan verklaar dat die Skrif, as dit reg sosio-histories gelees word in daardie nuwe tyd, ons weer die saak anders oor die ampte kan laat verstaan, of bv dat kinders nou ook ampsdraers kan word ?
Verder, as Paulus skryf in 1 Kor.12-14 van die verskillende gawes en talente, ens, dan kom hy aan die einde van 1 Kor.14, en wys dan juis dat ongeag dat almal, man en vrou in Christus gered is en die Gees het en gawes het, almal nie dieselfde funksies kan verrig nie, dat sekeres sekere take en ampte kan doen, en ander nie, dit is sy skeppings ordening wat Jesus, die apostels asook Paulus bevestig, nie vernietig nie.
JL: “Deur die Bybel so te interpreteer asof God nie vroue in die Nuwe Testament en daarna vir die kerk roep nie terwyl
a.) Paulus dit stel dat almal lede van een liggaam vorm, d.w.s. een liggaam met Christus; en
b.) God dit wel in die Ou Testament gedoen het,
kom vir my ook daarop neer om sekere Skrifgedeeltes oor ander te laat heers.”
slc: ek reeds hierdie valse aanklag hierbo beantwoord. Kan net byvoeg en vra, wat maak julle dan met die vrou se spesifieke roeping van moederskap wat Paulus juis op wys in 1 Tim.2:15 en 5:14 en Tit.2:3,4 ?
Word dit dalk ook sosio-histories (feministies?) weg verklaar vir ons tyd ? Iets soos die aarde het nou te veel mense, ons kan nie meer baie kinders kry nie, vrouens het mos ander talente ook (sy kan enige talent gebruik, maar die moedertalent is nie meer so belangrik nie), so hoekom nog kinders kry …. en as vroue predikante en ouderlinge en diakens word kan hul mos nie meer hierdie ‘seksistiese’ opdragte van Paulus opvoer nie, ens.
Daar is nou ‘n teenstrydigheid/weerspreking, as jy waarlik een soek: ‘n getroude gelowige vrou wat weier om die kinderseën van God te ontvang, want ‘ek is geroep om predikant/sendeling/ouderling te word, en daarom kan ek nie nou kinders kry nie’
JL:”Jou en dr Howell en Ander se Beskuldigings
Jy beskuldig my en ander daarvan dat ons God se duidelike bevele verwerp of verdraai. Is dit verkeerd om met nuwe oë na die Skrif te kyk en foute in vroeë skrifverklarings uit te wys? Toegegee, die skrifverklarings rondom Paulus en die vrou soos jy dit het, bestaan al lankal – dit is vir my niks nuut nie, maar net so lank as wat die verklarings bestaan kon daar steeds nie verklarings gevind word vir die teenstrydighede nie.”
slc: soos reeds genoem, dit is julle ‘teenstrydighede’ wat julle in die Skrif inlees en wat nuut is, iewers in die 20ste eeu begin en nou ry julle daardie perd tot hy erken hy is ‘n donkie. Ons gaan net nie saam julle ry nie.
“Vir die afgelope 50 jaar al is ek daarvan bewus dat daar nie antwoorde gevind kon word hiervoor nie.”
slc: jy het nie die antwoorde gevind wat inpas by jou interpretasie en praktyk wat jy graag wil hê vandag nie. Vir ons ander is die saak, in navolging van die Skrif vir 2000 jaar, baie duidelik. Daarom die liefdevolle pleitdooi aan julle – soek dan die kerkverband op wat julle nuwe leringe ondersteun en deel jul gawes daar. Maar by ons wat ook die Here wil dien soos ons nog altyd oortuig is, respekteer wat ons geglo het vir eeue en nog steeds glo, in leer en praktyk.
Daarom, broer, as ek sê ons verskil soos dag en nag oor ons Skrifbeskouings en hoe ons die betrokke tekste verklaar, is dit bloot ‘n feit wat ek konstateer, die doel is nie om te verdeel nie, dit is om opreg eerlik te wees oor die saak. Net so min as bv. skeppingsgelowiges en evolusiegelowiges mekaar gaan vind, net so min dink ek gaan pro-VIDA’s en anti-VIDA’s mekaar vind.
Ek glo 100 persent ‘n mens moet aanhou besin en gesels (ek gesels graag met enige mens, gelowig of ongelowig), maar dit sal vir my baie meer liefdevol en bybels wees om mekaar dan vanuit verskillende kerkverbande te respekteer en dan verder te besin oor die saak, as die valse vrede dat twee sulke wyd uiteenlopende verklarings onder een dak in vrede kan voortleef. Die kerkgeskiedenis van die afgelope paar dekades wys die teendeel.
JL: “Dit gaan dus nie om bloot wat mense die afgelope 3 dekades of ‘vandag’ ‘wil hê’ nie. Dit gaan om wat mense vandag besef fundamenteel verkeerd is.”
slc: let wel, wat sekere mense dink verkeerd is, ons almal dink nie saam met julle nie. En, die meerderheid of die minderheid bepaal nie wat is reg en verkeerd nie, God se Woord bepaal wat is reg en verkeerd ongeag of die minderheid of meerderheid daarmee saamstem of nie.
Die meerderheid wou ook vir Jesus in sy tyd kruisig, maak dit dit reg ?
Die meerderheids tydsgees is die humanistiese feministiese tydsgees, dit is daarom geen wonder dat julle die tydsgees agter jul het oor hierdie saak nie. Wees verseker, julle gaan die helde wees as jul dit dalk uiteindelik in die GKSA kry, maar ons gaan nie saamgaan nie.
Ons wil ook ‘n kerkverband hê waar ons ons oortuigings oor die saak kan uitleef, maar dit lyk of julle vasbeslote is om dit ook van ons en ons nageslag te ontneem … en dit in die naam van ‘sogenaamde liefde’ ? Ek plaas sommer nog ‘n vraagteken by ?
JL: “Met die reformasie is niks verkeerd nie. Maar dit is ons plig, joune en myne en elke Gereformeerde lidmaat, dat ons nie soos die RKK van ouds mense wil wegjaag net omdat ons met mekaar verskil nie.”
slc: stem volkome saam, maar broer, besef dit tog asb – as julle vrou in die amp gaan deurdruk gaan julle ons wegjaag, soos die RKK gedoen het met die reformatore. Onthou, daar is lidmate wat ook ons kerke verlaat weens die aanhoudende druk van die VIDA agenda, so dit gebeur ook.
Ongeag ons verklaringsverskil (wat ons mekaar nie gaan oortuig nie), is die praktiese werklikheid die volgende – ons glo in ons gewete dit is ‘n sonde as ‘n vrou oor ons in die kerk regeer en/of leer in die ampte.
Daarom kan ons nie teen ons gewete ingaan nie, en dit bedoel ons opreg, dit gaan nie oor mense, man of vrou nie, dit is die Skrif wat ons so bind, en as ons verkeerd is, mag die Here ons genadig wees, maar in liefde tot Hom en sy Woord mag ons nie ons gewetens verkrag vir ‘n valse liefde wat sê oortree maar die Skrif ter wille van ‘n valse eenheid nie.
JL: “Kyk behoorlik en in diepte na ons argumente en bewyse – en moenie tot konklusies hardloop en ons net summier wil wegjaag nie.”
slc: in ons teologiese opleiding moes ons dit doen, en ek doen dit in diepte al vir die afgelope 10 jaar en meer, en is nie oortuig deur julle argumente nie, eerlik. Nog niks nuuts vanuit die Skrif het van julle na vore gekom nie. Ek gesels graag verder, soos ons hier doen, maar glo ook daar sal ‘n tyd moet kom om aan te beweeg, juis ter wille van die Koninkryk en sy kerk. Ons is besig om die Here se kerk skade aan te doen met hierdie saak wat heeltyd op die agenda bly en blykbaar deur gedwing gaan word, as die Here ons nie genadig is nie.
JL: “Verder beskuldig jy, dr Howell, ea. ons dat ons die kerk liefdeloos verdeel en onordelik maak. Vir die afgelope 50 jaar al is ek daarvan bewus dat die Gereformeerde kerk meer en meer outokraties en liefdeloos word – tipiese simptome van ‘n suiwer manlike regering.”
slc: ja, ons mans is sondig, ek is een van hulle ! Maar so ook vrouens, maar dit vat nie God se bevele weg nie. Christus se redding herstel man en vrou wees, vernietig dit nie.
Om die skuld te plaas op bloot ‘manlikheid’ op sig self soos jy hierbo doen, is juis om jou feministiese onderklere te laat uithang.
Ons soek Christus se regering soos sy Woord dit deur Sy Gees openbaar het (sien NGB art.30-32), en as Hy bepaal het mans moet die liefdevolle leiding gee en vrouens en kinders moet gehoorsaam en onderdanig volg, dan moet ons dit najaag en gelowige mans help om goeie godsvresende leiding te gee, nie eiewillig self te besluit vroue moet hul nou vergryp aan die ampte nie, bloot omdat daar sekere slegte mans is wat hul take nie goed doen nie. Verder, soos ons bely in HK Sondag 39, moet ons ook met mekaar se gebreke geduld hê.
JL: “Hoekom dink julle loop die jeug op strepe? Vanweë hulle sondige natuur of is dit omdat die kerk nie hand in eie boesem wil steek nie? Ook ek wou dit 40 jaar gelede al gedoen het! Hoekom – omdat Christus se liefde in die kerke onderling meer en meer besig is om uit die Gereformeerde kerk te verdwyn. En hoekom het ek nie? Omdat God my daarvan weerhou het! Vandag weet ek hoekom! Ek is nie ‘n predikant nie, net ‘n gewone lidmaat wat met die pensioenfonds niks uit te maak het nie!”
slc: Jan, my hele familie is in die NGK en daardie kerke loop net so leeg met al hul ‘wine, women and song’ teologie van ‘n paar dekades, so moenie daardie dreigement gebruik nie, dit klink ongelukkig te veel na 2 Tim.4:3,4 se stem wat ek hoor.
Natuurlik wil ek ook hê die kerk van ons Here Jesus moet groei. Dit moet ons almal se hartsbegeerte en gebede wees, maar nooit ten koste van die waarheid nie. Ons moet Christus se kerk diensbaar bou volgens sy Woord, nie ons woorde en idees nie, deur die krag van die Gees.
Hier is my artikel as moontlike verduideliking waarom kerke leegloop:
https://proregno.com/2011/05/16/waarom-daal-die-lidmaatgetalle-in-die-susterskerke/
JL: “Hoe Nou Gemaak
Hoe ons nou teenoor mekaar moet optree is die antwoord duidelik in die Heilige Skrif te vinde:
* Die navolging van die Wet soos Christus dit aan ons deurgee in Mat 22:37-39; Mar 12:30-31; Luk 10:27; Joh 13:34; Joh 15:12 & 17.
* Paulus se skrywe in Rom 14 en 15, in besonder Rom 15:7.
Enigiets anders is nie reformatories nie.”
slc: stem saam, maar onthou die liefde is die volle uitvoering van die wet (Rom.13:8-10), Jesus sê, as julle My liefhet … maak wat julle wil, besluit self wie jul wil bevestig in die amp ? … Nee, bewaar My gebooie (Joh.14:15), ook die bevele van 1 Kor.14 en 1 Tim.2. Dit is ware liefde in dade, dit is ware eenheid in die waarheid.
JL: “Baie dankie om op Christelike wyse met mekaar te kon verskil,”
slc: Jan, ook baie dankie van my kant dat ons rustig oor al hierdie dinge kan gesels. Hopelik verstaan ons mekaar beter na die gesprekke, al beteken dit ongelukkig dat ons nie gaan saamstem nie. Sterkte daar.
Slabbert, dankie vir jou repliek. Ek het dit in my oor geknoop.
Die sieninge wat ek voorgehou het, was van my afkomstig en nie van ander VIDA ondersteuners nie. So sit elkeen, VIDA ondersteuner en nie-VIDA ondersteuner, maar met sy eie vraagstukke en uitgangspunte. Solank net besef word dat elkeen die beste soek vir Christus se Kerk in God se Koninkryk. Dan het ek my doel met my skrywe, hoe skeef jy dit ookal mag vind, bereik.
Ek beskou myself nie as ‘n feminis nie, daarvoor weet ek teveel daarvan af – ek het my huiswerk oor hulle gedoen!
Dankie
Jan Lynzaad