Skrifoordenking: God het gepraat (Hebr.1:1-4)

nota: ek was so bietjie op ‘blogverlof’ in September, en beplan om in die komende maande  saam met preke en nuwe artikels (DV), ook ouer artikels hier op my blog te plaas, vanuit die publikasies van die Esra Verslag tydskrif, uitgaande van die Esra Instituut (wat verskyn het tot en met 2007).  Die kanse is min dat enige van die Esra publikasies weer herdruk gaan word, daarom wil ek dit graag hier op my blog-argief plaas.  Mag dit vir elke gelowige tot opbou van die ware geloof wees.

God het gepraat

dr. Ludi Schulze

(Openingsrede by die Teologiese Skool, Potchefstroom op 27 Februarie 2001. Prof. LF Schulze was in lewe professor in Kerk- en Dogmageskiedenis van die GKSA, 1971-1994. Oorspronklik verskyn in die Esra Verslag, Jg.11. nr.54, 2003)

Lees: Heb.1:1 – 2:4

Sing: Ps 100 1-4; 86 6; 33 5, 6 ; 95:4-6.

Teks: Heb.1:1-4:

Nadat God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het. Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte, terwyl Hy soveel uitnemender geword het as die engele namate Hy ‘n voortrefliker naam  geërf het as hulle.

God het gepraat!

Dis uniek, want afgode praat nie, omdat hulle nie kan praat nie. Psalm 115 vers 5 teken die magteloosheid van die stom, blinde afgode, en Jesaja spot met hierdie mensgemaakte houtgedaantes wat die toekoms nie ken nie, kragteloos is en tot as kan verbrand:

Gee te kenne die dinge wat later sal kom, sodat ons kan weet dat julle gode is … Kyk, julle is niks, en julle werk is niks; ‘n gruwel is hy wat julle uitkies (41:23-24).

Hy wat hom besig hou met as, ‘n bedroë hart het hom verlei (44:20).

Hoe raak teken die Skrif nie die afgode nie.

Kyk maar na die godsdiens van die Babiloniërs, Egiptenare, Grieke en Romeine, en dié van die Ooste. Hulle gode is natuurkragte, wat as persone (gode) voorgestel word. Ten diepste is die natuur in sy  kringloop van sterrevelde, van seisoene, van lewe en dood, die ewige, die onwrikbare, die blywende – die kosmos is ‘god’, ‘n onpersoonlike krag wat nie kan praat nie!

Die enigste lewende God is egter ‘n Persoon, en Hy het gepraat.

Daarom mag en moet ons ook praat, maar ons mag niks anders sê as wat Hy gesê het nie. Ons moet alleenlik sy woord na-sê en uit-sê.

Dit gebeur helaas nie altyd nie.

In die Ou Testament lees ons reeds van profete wat vals profeteer, en so die volk van God verwar en bedrieg het (Jer.5:2,31). Wat ‘n gruwel is dit om as profeet uit jou eie bedrieglike hart te praat; om in die Naam van God met jou eie politieke voorkeure en ‘geestelike stokperdjies’ te smous.

In die Nuwe Testament ontmoet ons nie die struikelende profeet nie, maar die teendeel van die profeet – die vals profeet, pseudo-profeet, wat verlei en die wêreld vir die eindoordeel voorberei.

Om na te sê wat God gesê het, behels ‘n huiweringwekkende verantwoordelikheid, wat alleen in die pad van gehoorsaamheid nagekom kan word. Om waarlik profeet te wees beteken om te lees en te leer en te luister na God se stem in sy Woord.

Ons teks sê dat God in die verlede gepraat het en nog heerliker in die hede gepraat het. Die teenstelling tussen verlede en hede, tussen God se praat toe en nou, beheers ons teksverse.

Toe – baie keer en op baie maniere;

nou – in hierdie laaste dae.

Toe – met die aartsvaders;

nou – met ons.

Toe – deur die profete (wat Moses en Dawid insluit);

nou – deur die Seun, die Erfgenaam, die Skeppingsmiddelaar wat alles dra, die uitdrukking van God se eie Wese, wat uitermate verhoog is en ‘n voortrefliker Naam as die engele ontvang het.

Die res van die eerste hoofstuk teken die Seun se uitnemendheid bo die engele met aanhalings uit die Ou Testament volgens die Septuagint. Die uiteensetting van die naamlose skrywer in sy adreslose brief kan daarop dui dat die eerste lesers Christene uit die Jodedom was.  Die Jode het hulle immers daarop beroem dat hulle die wet ontvang het. Dit was hulle hoogste eer, want die wet is deur bemiddeling van engele aan Moses gegee. Heerliker kan die bevoorregte posisie van die Jode nie geteken word nie, want die engele is gedurig omvou deur die glans van God se heerlikheid en dien Hom as troondraers, soos die roepingsvisioene van Jesaja en Esegiël vermeld (kyk Jes.6 en Esg.1). Net voor sy steniging verwyt Stefanus die Jode nog:

julle wat die wet deur die beskikkinge van engele ontvang het en tog nie onderhou nie! (Hand. 7: 53).

Die Seun is egter nie net hoër as die engele nie maar ook hoër as Moses, want Moses was maar ‘n dienaar in God se huis, maar die Seun is Hoof oor die huis en Bouer van die huis (Heb.3:1-6).

Met hierdie drievoudige kontras tussen toe en nou beklemtoon die skrywer dat God nou met ons finaal (in die laaste dae) en duidelik gepraat het. Heerliker en helderder kan dit nie. En hierdie spreke deur die Seun is nie meer stuksgewys en onvolledig soos vroeër toe God met die vaders deur ‘n lang, opeenvolgende ry profete op baie maniere gepraat het nie. Inteendeel, dit is volledige openbaring van God se raad en wil.

Hoe bewys die skrywer die heerlikheid en helderheid van God se finale openbaring deur die Seun?

Deur aan te haal wat God vroeër self gesê het. Die grootste deel van hoofstuk een bevat aanhalings, hoofsaaklik uit die Psalms. Luister maar hoe die betoog ingelei word:

Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer? En weer: Ek sal vir Hom ‘n Vader wees, en Hy sal vir My ‘n Seun wees? En wanneer Hy weer die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: En die engele van God moet Hom aanbid (verse 5 en 6).

In hierdie twee verse word reeds drie aanhalings uit die Ou Testament gemaak, naamlik uit Psalm 2 vers 7; uit 2 Samuel 7 vers 14, en dan uit die Griekse vertaling van Deuteronomium 32 vers 43.  In die loop van die hoofstuk kom Psalms 104, 45, en 102 ter sprake en dan word die betoog afgesluit met Psalm 110 vers 1 (Heb.1: 13):

En aan watter een van die engele het Hy ooit gesê: Sit aan My regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete?

Hierdie verwysings na wat God sê, loop deur die brief tot by hoofstuk 12 vers 26:

Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie maar ook die hemel bewe (‘n aanhaling uit Hag.2:6).

As “praat” een kant van die muntstuk is, is “hoor” die ander kant, want God het met ons gepraat. Daarom moet ons hoor, gehoorsaam en nie parmantig sy woorde in die wind slaan nie. As Hy bowendien deur die Seun gepraat het, moet ons nog meer opmerksaam en gehoorsaam wees as die ‘vaders’, die Israeliete van ouds. Hiertoe word ons aangespoor:

Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie. Want as die word deur engele gespreek, onwankelbaar was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regverdige vergelding ontvang het, hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het(Heb.2:1-3).

Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as hùlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ‘n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek (Heb.12:25).

Die laaste gedeelte van hoofstuk 3 (vs7-19) is ‘n magtige waarskuwing om nie soos die verharde Israeliete te word, wat hulle eie erfenis (Kanaän) nie in besit kon neem nie. Hulle kon nie in die land ingaan nie omdat hulle ongeloof hulle verhinder het. Die land is as erfdeel met ‘n eed deur God aan hulle beloof. Tog kry hulle hul eie erfdeel nie – nie omdat God sy testament verander het nie, maar eenvoudig omdat hulle dit nie “gevat” het nie. In plaas van die belofte gehoorsaam hulle eie te maak, gaan hulle en plaas vraagtekens agter God se beloftes. So maak hulle ongeloof dat hulle lyke in die woestyn bly lê het.

God het gepraat – toé en nóu.

Dit beteken vir ons en ons lewenswyse drie dinge:

Ten eerste: ons mag nooit ‘n wig probeer indryf tussen die Ou en Nuwe Testament nie. Vanaf Genesis tot openbaring loop die goue draad van God se woorde. Inderdaad is daar ‘n ontwikkeling, ‘n geskiedenis in die manier waarop God gepraat het: toe op baie maniere; nou finaal; toe stuksgewys, nou volledig – soveel as wat ons in hierdie lewe nodig het (NGB art.2). Die verhouding van Ou tot Nuwe Testament is dié van:

–  skaduwee en werklikheid (Hebreërs);

– van houtskoolskets en skildery (Calvyn);

– van die knop en die blom (Augustinus).

Hierdie waarheid lyk so vanselfsprekend, en tog is dit betwis deur die eeue: eers deur Marcion in die tweede eeu, toe deur die Doperse rigting in die sestiende eeu (tot vandag), en ten slotte deur hedendaagse moderne teoloë.

Die wig wat ingedryf word, kan nogal varieër:

– die ‘god’ van die Ou Testament is ‘n minderwaardige skepper van stof  en anders as die geestelike Vader van Jesus (Marcion);

– die doop het niks met die besnydenis te doen en die Nagmaal met die Paasfees nie (Wederdopers);

– die God van die Ou Testament het sy pond vleis ge-ëis (sommige teoloë in kringe van die Wêreldraad van Kerke in die jare 1960, 1970);

– die Ou Testament moet streng binne sy eie konteks verklaar word en niks van die Nuwe Testament mag in die Ou Testament ‘teruggelees’ word nie; die Nuwe Testament is ‘n ander teks in ‘n ander konteks (‘n moderne geleerde).

In elke geval, hoe ook al geformuleer, is die wig dààr, en bly die Hebreërbrief ‘n steen van aanstoot.

Ten tweede: God het klaar gepraat, finaal, in die laaste dae. Hy praat nie meer deur ekstra openbaringe en gesigte en profetiese insprake deur die Gees nie. Hierdie duidelike stelling van ons teksverse word ook betwis.

– Dit is betwis deur Montanus en sy twee profetesse wat die bedéling van die Gees en die spoedige voleinding geproklameer het (tweede eeu).

– Eienaardig genoeg duik die Wederdopers, met wie ons reeds in die vorige punt kennis gemaak het, hier weer op. Van hulle leiers het Luther en Calvyn uitgekryt omdat laasgenoemdes soos dwase bly vashou aan die “dooie letter” van die Skrif en die vryheid en lewe, wat die Gees alleen bring, misken. Terloops moet opgemerk word dat die Bybel nêrens van ‘n “dooie letter” praat nie, maar wel van ‘n “letter wat doodmaak” (2 Kor. 3: 6), wat sien op die letters in klip gegrif, naamlik die wet (vs.7).

– Voorts glo alle vorme van Christelike sektes en alle skakerings van charismatiese groepe dat die Gees nog steeds nuwe openbaringe aan hulle laat toeval. Dat dit nie die Gees van die waarheid (Joh.16: 13) is wat hulle lei nie, word bewys deur die feit dat hulle telkens weer die‘datum’ van die wederkoms moet aanpas.

Derdens: dat God gepraat het, verplig ons om “des te meer ag te gee op wat ons gehoor het” (2: 1). Dit hou ‘n diep respek vir die waarheid van sy Woord in en belet ons om in gewaande ‘mondigheid’ aan die gesag van sy woord te torring soos baie vandag doen.

Inteendeel, God se finale praat met ons vra ‘n “nuwe gehoorsaamheid” (Doopformulier) en ‘n vrymoedige omhelsing van sy onwrikbare beloftes (Heb. 10: 19).

Waar die vrymoedigheid begin ontbreek om oor God en sy genade te praat, begin die gevaarligte flikker, begin daar klein vraagtekentjies agter die waarheid en wonder van sy beloftes geplaas word. Dis die begin van die pad van ongeloof, afval en verharding wat in die woestyn met sy bleek gebeentes doodloop (3:17-18). Dis die gruwelpad van ongehoorsaamheid en van minagting van God. Want kyk, God het,

omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met ‘n eed gewaarborg (6: 17).

Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie!

Amen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: