Posted by: proregno | October 10, 2012

Die stryd rondom die suiwer Psalmboek

Die Stryd rondom die suiwer Psalmboek

Stellenbosch 1812 – Rustenburg 1859 – Potch 2003

prof. V.E. d’Assonville

(Prof. d’Assonville is ‘n groot kenner op die gebied van die dogmatiek, kerkgeskiedenis en volksgeskiedenis. Uit sy pen verskyn bekende werke oor die lewe van ds. SJ du Toit, Totius en oor Bloedrivier.  Sy doktorale proefskrif het gehandel oor die invloed van Calvyn se Institusie op die teologie van John Knox. Artikel gepubliseer in Esra Verslag, nr.54 Jg.11, 2003)

Stellenbosch, 15 November 1812

‘n Pragtige somersdag. Na die winterreëns het die natuur van die Boland in sy volle tooi uitgebreek. Die skepping juig, maar wat ‘n donker dag in die geskiedenis van die Gereformeerde kerke! Op daardie dag het die kerkraad van Stellenbosch besluit om 2000 eksemplare van die “Evangeliese Gesangboek” wat in 1805 in Nederland verskyn het, te bestel, en ook vir die ander Gereformeerde kerke beskikbaar te stel. Op 6 Desember 1813 juig ds. Fleck van Kaapstad dat die gesangboeke gekom het en dat die gemeente dit op die tweede Sondag in 1814 sal begin sing.

Met hierdie één enkele daad, die invoering van die Gesangboek in Suid-Afrika, was dit die grootste ramp wat die Gereformeerde kerke in die 19de eeu in Suid-Afrika getref het. Onberekenbaar was die skade wat aangerig is, meedoënloos die terugslag vir die Gereformeerde Belydenis. Van 1814 af toe sing die gemeentes uit ‘n nuwe “liedboek” waarvan daar in die voorwoord staan:

             “De gezang die op het hart werken, geven aan haar den voorrang boven andere deelen der  godsdienstoefening”.

M.a.w. die gesang geniet die voorrang bo die prediking van God se Woord in die kerk. En hierdie gesange wat nooit aan die Bybel getoets is nie, nie deur ‘n kerkraad of deur ‘n sinode nie, het Sondag na Sondag ‘n stroom van valse leringe in die erediens laat vloei. Die humanisme waardeur die mens se hoë waarde ten koste van God se eer verheerlik word, het al singende hoogty gevier. Die keuse van die mens om self vir sy saligheid te kies, is openlik deur ‘n mensgemaakte lied ten koste van die Here se soewereine genade en verkiesing bely. Twee eeue na die groot sinode van Dordtrecht was die remonstrantisme weer springlewendig in die erediens. Die ingeskape “goedheid” in elke mens is van jongs af aan die jeug geleer ten koste van die Heidelbergse Kategismus wat in vraag en antwoord 5 van sy totale verdorwenheid bely. Oor dekades heen het die gesange, soos wat in die voorwoord staan, “de aandoeningen onzer zielen in beweging” gebring.

Hierdie gesange van die 19de eeu met sy “gevoelsaandoeningen” het week na week die bres vir ‘n liberale vrysinnigheid geslaan. In die vorm van die metodisme (wat deur die invoer van Skotse predikante versterk is), is die egte Skrifprediking, met moralistiese sedelesse op die kansels vervang. Daarby het dit nie gebly nie. Op die voetspoor van die gesange het die piëtistiese Sankey-liedere van Amerika gevolg en aan die kinders is die sg. Kinderharp met sy mensgemaakte liedjies oor die kindjie “Liewe Jesus” op die Sondagskole geleer. In die 20ste eeu, toe ons land in ‘n puinhoop deur die verwoestende Anglo-Boereoorlog gelaat is, het die “Halleluja”-liedere die skole verower en die Heilige Gees se psalms is verder uitgedruk.

Die prys wat deur die Gereformeerde kerke in Suid-Afrika teen die middel van die 19de eeu betaal is, was groot – ‘n kerk op ‘n pad van totale deformasie wat menslik gesproke nie meer kon gekeer word nie. In die 20ste eeu was dit ‘n “snelle afloop als der wateren” soos wat die Statebybel in Genesis 49:4 sê dat ons in baie eertydse gereformeerde kerke skokkende verskynsels sien, o.a. die vrou in die amp, kinders aan die Heilige Nagmaal, die sogenaamde “Nuwe Hervorming” wat die maagdelike geboorte van Jesus Christus en sy opstanding verwerp en aan die gesag van Heilige Skrif geen waarde meer heg nie.

Hierdie dinge het nie eers in die 20ste eeu begin nie, maar die wortels lê in die 19de eeu toe die aanslag teen die Gereformeerde Belydenis met ‘n felheid sy tienduisendes verslaan het. Dit is teen hierdie agtergrond wat daar op die dorp Rustenburg op 11 Februarie 1859 ‘n ingrypende ding in die Kerkgeskiedenis in Suid-Afrika gebeur het.

Rustenburg 11 Februarie 1859

Agter daardie geskiedkundige dag van Rustenburg, lê daar ‘n stryd van byna ‘n halwe eeu deur lidmate in verskeie gemeentes wat hulle teen die nuwe mensgemaakte gesange en baie afwykings verset het. Hierdie beswaardes wat in leer, diens en tug vir die Gereformeerde Belydenis geywer het, is later met die skeldnaam “Doppers”getipeer – waarskynlik afkomstig van die woord “domper” wat die lig van ‘n kers uitdoof. Hulle het hul teen die “nuwe lig” van die tydsgees verset.

Dit is opvallend dat hierdie beswaardes teen die vrysinnigheid (ook liberalisme genoem) in die kerk, meestal uit die geledere van die pionier-trekboere gekom het. Trouens, ‘n groot deel van die Voortrekkers van die Groot Trek van 1836 af, was mense wat geweier het om die vrysinnige gesange te sing. Met die donker nag voor die slag van Bloedrivier het Sarel Cilliers, hulle godsdienstige leier alleen Psalms in hulle godsdiensoefeninge laat sing.

Nadat die republieke van die Transvaal en die Oranje Vrystaat teen die helfte van die 19de tot stand gekom het, het die “Doppers” steeds hulle beginsels in die kerk gehandhaaf. Die Statebybel met sy verklarende aantekeninge en die drie Gereformeerde Belydenisskrifte was die hoofbronne waaruit hulle dag vir dag geestelik gevoed is. Hulle het selfs hulle kinders daaruit geleer lees en skryf. Daarby was hulle geestelike literatuur vir die Gereformeerde belydenis hoofsaaklik uit die bronne van die sg., “Oude schrijvers” van die nadere reformasie soos W. a’Brakel, Comrie, Hellenbroek en Smytegeld.

In die gemeente van Rustenburg, wat toe in die verband van die Hervormde Kerk van Transvaal was, die destydse staatskerk, het die smeulende konflik tot ‘n uitbarsting gekom. Niemand anders nie as die lidmaat S.J.P. Kruger, die latere staatspresident, wat toe alreeds ‘n sterk leier was, het in Augustus 1857 namens die beswaardes die toestemming gekry dat hulle ‘n eie predikant binne die staatskerk mag beroep. Die Volksraad van die Republiek het dit goedgekeur met o.a. die voorwaarde dat die predikant vry sal wees in “die hou van godsdiens” ooreenkomstig die waardigheid van sy amp en “die instellinge van Christus”. Hierdie feit en die datum (Augustus 1857) is baie belangrik. Daar was dus reeds ‘n verdeling in die kerk van Rustenburg – twee jaar voordat ds. Dirk Postma op die toneel gekom het.

Die Algemene Kerkvergadering op 11 Januarie 1859 te Pretoria se besluit oor die vrysinnige Gesangboek, was die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het. Toe word besluit dat die kerklike inrigting, soos dit tans bestaan, met sy Evangeliese Gesange gehandhaaf moet word.

Die Gereformeerdes van Rustenburg het geen keuse meer gehad nie, Hulle gewetens is deur ‘n “hoëre” vergadering gebind. Die geskiedenis het homself herhaal:

– net soos wat die Kerkraad van Stellenbosch besluit het om die Gesangboek in te voer sonder dat dit aan die Heilige Skrif getoets is;

– net soos die Ring van Graaff-Reinet in 1841, en die Kaapse Sinode van 1847 sonder die toets van die Bybel en die Belydenisskrifte, is die vrye gesange op die lidmate afgedwing.

Ons ruimte is uiters beperk. Oor die stryd vir die Gereformeerde waarheid by Rustenburg in 1859, kan ‘n dik boek geskryf word. Ons volstaan met hierdie ou Doppers se verklaring aan die Staatsowerheid. In hierdie dokument vind ons ‘n kernagtige samevatting van hulle belydenis:

1. Die Gereformeerde Kerk Rustenburg kom geheel en al met die Gereformeerde kerke in die Sinode van Dordtrecht 1618/19 in leer, diens en tug ooreen.

2. Hulle gaan vir die kerkregering terug na die Dordtse Kerkorde.

3. Hulle verlang om van die “Hoog edele Regering” grondwetlike beskerming te ontvang.

4. Hulle vra ook nederig, dat as die staat voordele vir die godsdiens in die land gee, hulle ook daarin sal deel en beloof om “gehoorsame onderdane” van die staat te wees.

Op 11 Februarie 1859 is die teerling gewerp. Die beslissing is geneem. ‘n Reformasie terug na die Heilige Skrif en die Gereformeerde Belydenis is deurgevoer. Alles het begin in die stryd om die Psalmboek te bewaar. Die deformasie wat reeds op baie ander terreine in die kerk gewoeker het, is oopgevlek. In leer, diens en tug, was daar weer na baie jare ‘n kerk wat gehoorsaam onder die gesag van God se Woord gebuig het:

– die preke was volgens God se Woord;

– die erediens was weer volgens God se Woord omdat mensgemaakte gesange en die mens se idees sonder die Woord, uitgegooi is;

– die sakramente (veral die Nagmaal) is weer volgens God se Woord gevier soos wat Christus dit ingestel het (art. 29 van die NGB);

– die ampte is weer volgens God se Woord ingestel;

– die onbybelse kerkregering met die hiërargie van meerdere vergaderings oor die plaaslike gemeentes, is verwerp.

Potchefstroom Januarie 2003

Dieselfde kerk van Rustenburg in 1859 met al die ander kerke wat op die weg van reformasie daarna oor byna ‘n eeu-en-‘n half in die GKSA gevolg het, hou in Januarie 2003 ‘n sinode.

Dieselfde kerke wat van die 19de eeu af so ‘n streng standpunt oor die suiwer Psalmboek gehandhaaf het, het nou vir hierdie Psalmboek met sy streng beryming volgens die beginsels van die 16de eeu (Calvyn in Straatsburg 1539) moeg geraak. Die uiters belangrike beginsel dat die digwerk geheel aan die Hebreeuse teks gebonde moet wees, is geïgnoreer. Calvyn, Datheen, Marnix en Totius is verouderd, sê hulle. Die ou Afrikaans praat nie meer die taal van ons tyd nie. Ons moet ‘n nuwe bundel hê, kom wat wil. Ons wil een hê waarin die Christusprofesieë verwyder is (vgl. die digter se uitsprake in Rapport, 4 November 2001 en Die Kerkbode, 13 April 2002). Ons wil liewer ‘n kort Psalmboek hê waarin ten minste een-derde van die Bybelse inhoud weggelaat is. Ons verkies ‘n Psalmboek wat dit nie so ernstig met God se Hebreeuse name van Jahwe, Adonai en Elohim neem nie. “What is in a name?”, het Shakespeare gesê. Waarom sou die betekenis van God se name dan vir ons so belangrik wees? Laat dit die meeste kere maar weg, verander na eie goeddunke die inhoud, solank dit net rym en ons mooi gedigte het. Gooi weg die sleutelwoorde van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls, nl. goedertierenheid, geregtigheid en barmhartigheid, verbondsterme uit die Heilige Skrif.

En toe het dit gebeur. Die teerling is weer eens vir die Gereformeerde kerke gewerp. Die beslissing is weer eens geneem. ‘n Nuwe Psalmomdigting wat die Gereformeerde inspirasieleer en daardeur die Skrifgesag van artikels 3 tot 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis verwerp, is deur ‘n Gereformeerde sinode goedgekeur.

Ja, wat het Potchefstroom 2003 met Stellenbosch 1812 te doen? Baie! Heel eenvoudig: Die kerkraad van Stellenbosch het op 15 November 1812 besluit om ‘n vrysinnige Gesangboek in te voer; die sinode van Potchefstroom het in Januarie 2003 besluit om ‘n vrysinnige Psalmboek in te voer.  Die stryd vir die waarheid het net skerper en hewiger geword. Die Gesangboek van die 19de eeu het nooit gepretendeer om berymings van die Bybel te wees nie, maar die nuwe Psalmboek se mense hou vol: Dit is die Bybel se psalms wat “omgedig” is. En hoe gaan ‘n mens bewys dat die nuwe psalms nie die oorspronklike teks van die Bybel vertolk nie? Vir die dominees wat Hebreeus ken, is dit eintlik maklik: Neem jou Hebreeuse psalm en vergelyk dit vers vir vers met die betrokke een in die Omdigting 2001. Vir ons ander wat nie Hebreeus ken nie, is dit ook maklik: Neem die 1933/53 Afrikaanse Bybelvertaling of enige ander goeie vertaling in Engels (bv. die King James Version of die New International Version) of ‘n goeie Duitse vertaling. Neem enige psalm uit hierdie Bybel en lê dit langs die betrokke psalm van die nuwe omdigting. Vergelyk dit ook vers vir vers en jy sal baie gou agterkom wat gebeur het.

Dit is ewe-eens skrikwekkend erg as ons agterkom dat dominees en professore van die GKSA in hulle adviese aan die nuwe digter van die 2001-Psalmboek met ‘n valse, onbybelse teologie gewerk het. Die Deputate vir hierdie “omdigting” skryf offisieël die volgende:

 “Die kommissies het besluit om die grondteks te volg deur die Psalms te verstaan soos die eerste hoorders dit sou verstaan het” (vgl. die Agenda, Sinode 2003, p. 280).

In hierdie woorde van die GKSA se deputate, nl. om “die Psalms te verstaan soos die eerste hoorders dit sou verstaan het”, ontmasker hulle self die dwaalteologie wat hulle aanhang. Dit is die moderne “gemeenteteologie” wat Jesus Christus se eie woorde in Luk. 24:44, dat die hele Ou Testament waaronder die psalms oor Hom geskrywe het, verwerp. (Lukas 24:44: “Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word”). Ons het hier met die valse sogenaamde “sosio-historiese metode” te doen wat die ontstaan van die Skrif bloot as ‘n interpretasie (‘n eie vertolking) van die eerste Christene destyds verklaar. Dan verstaan ons op ons beurt die Deputate se metode van Psalmberyming “om dit soos die eerste hoorders dit sou verstaan het” weer te gee.

Waar kom hierdie teoloë daaraan dat “die eerste hoorders” die Woord van God “anders” verstaan het, as wat die Gereformeerde Belydenis dit verstaan? – psalms sonder Christus! ‘n Nuwe Psalmboek? Nee, ‘n nuwe mensgemaakte gesangboek nie volgens die Heilige Skrif nie, maar na aanleiding van die psalms, deurdrenk met ‘n vals teologie wat die Skrifgesag volgens artikel 3 tot 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis verwerp het en ‘n streep deur artikel 69 van die Dordtse Kerkorde (alleen Psalms en Skrifberymings) getrek het.

Dit is waarvoor die sinode van 2003 vir ons nageslagte gekies het.


Responses

  1. Dit is gewoon arrogant om te beweer dat enigeen van ons, hoe geleerd jy ookal mag dink dat jy is, in die 21ste eeu sou weet hoe die “eerste hoorders” van die Psalms of enige ander teks sou interpreteer of verstaan het. Vra maar net na ‘n preek vir verskillende mense wat hulle sou gehoor het en jy kom agter dat daar glad nie eenstemmigheid is nie.

    • En die ironie van alles, die ‘eerste hoorders’ het ook nie altyd reg verstaan nie, selfs nie eers sy dissipels by tye nie:

      Joh.12:16 “Dit het sy dissipels egter eers nie verstaan nie; maar nadat Jesus verheerlik is, toe het dit hulle bygeval dat hierdie dinge van Hom geskrywe was en dat hulle dit aan Hom gedoen het.”

      Ons moet die Skrif verstaan soos dit ge-openbaar is deur sy Gees en Woord.

  2. Johan,

    As jou stelling waar is, volg dit:
    1. Dat niemand (en dit sluit jou in) kan weet wat jy bedoel nie, en
    2. Dat as jy die teendeel beweer, jy arrogant is.

    Louis Karel Bernardus Breytenbach

  3. Ek stem volkome met die artikel saam, die Christus boodskap in die Cloete ‘omdigting’ is totaal verwyder. Dan nie eers genoem wie die medewerkers was wat gehelp het nie!

  4. […] Dit is ‘n reeds bekende feit dat die GKSA in 2009 afskeid geneem het dat hul hoofsaaklik ‘n Psalmsingende kerkverband is, en nou ook ‘n Gesangsingende kerkverband is. By die onlangse sinode (2018), is daar ook ongeveer 130 nuwe Gesange uit die Liedboek bygevoeg (sien hierdie artikel van prof. V.E. d’Assonville oor die stryd om die Lied: Die Stryd rondom die suiwer Psalmboek). […]


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: