Die GES/GKSA/NGK/NHK en die inspirasie van die Skrif (deel 2b: Jesus en die Apostels se getuienis oor die Skrif)

 

(Sien deel 1 vir die agtergrond van hierdie deel: Inleiding oor die Inspirasie van die Skrif)

(Deel 2a: Die getuienis van die Skrif)

INHOUD

Inleiding

1.  Die getuienis van die Skrif.

a.         II Timotheüs 3:15, 16.

b.         II Petrus 1:21.

c.         Die Ou Testament in die Nuwe.

d.         Die Openbaring van die Nuwe Verbond.

e.         Organiese karakter van die openbaring van die twee Verbonde.

2.  Leerstellige deel.

a.         Historiese oorsig.

b.         Definisie van inspirasie.

e.         Inspirasie en openbaring.

d.         Inspirasie en verlossing.

e.         Inspirasie en inkarnasie.

f.          Inspirasie en onfeilbaarheid.

Konklusie.

(Nota: beklemtonings bygevoeg)

c. Die Ou Testament in die Nuwe

Van die beskouing van II Timotheüs 3:15 v. en II Petrus 1:21, wat ten duidelikste oor die betekenis van die inspirasie handel, gaan ons na die be­skouing van ander Bybelse getuienis. Niks is nuttiger nie as om ons uitgangspunt te neem in die beskouing van onse Here self oor die Skrif. Aangesien ons hoofbelang moet wees die erkenning van sy heerskappy in woord en daad, mag ons nie te kort skiet nie en ook nie verder gaan as sy waardeskatting van en sy beroep op die Skrif nie.

Het Jesus self die heilige geskrifte erken as gegee deur die inspirasie van God, as geskrifte waarvan God self die Outeur is en daarom as absoluut gesagvol vir leer en lewe? Of was dit vir Hom wesenlik ‘n menslike boek wat duidelik die feilbaarheid toon waartoe mense geneig is, en so op sy beste ‘n getuienis vir die goddelike openbaring wat God deur ‘n genadige beslissing vir sy verlossingsdoel mag gebruik ?

Dat eersgenoemde eerder as laasgenoemde alternatief die beskouing oor die Skrif van onse Here was, kom bestendiglik tot uitdrukking in sy lering. Ten spyte van die feit dat sy lering vir sy tydgenote so voorgekom het en inderdaad in baie opsigte rewolusionêr was, is dit tog hoogs behartigenswaardig dat Hy nie hulle eerbiedige aanvaarding van die Ou Testament as die werklike Woord van God aangeval of gewysig het nie, In die Bergpredikasie, byvoorbeeld, wat met verbasing ontvang is omdat Hy geleer het soos een wat gesag het en nie soos die Skrifgeleerdes nie (Matt. 7:28 v.), dra Hy noukeurige sorg om nadruk te lê op die feit dat Hy nie gekom het “om die Wet of die Profete te ontbind nie.”

Die Wet en die Profete word nie alleen deur Jesus ongeskonde gelaat nie, maar die eintlike doel van sy bediening word beskrywe as dat hulle vervul sal word; dit beteken: Hy self sal so op daardie fondament bou dat die Wet en die Profete deur Hom volledige vervulling en verwerkliking sal kom (Matt. 5:17-20). Wanneer Hy in Johannes 10:33-36 sy argument opbou op ‘n enkele woord van Psalm 82:6, verklaar Jesus dat “die Skrif nie gebreek kan word nie”, en daarmee openbaar Hy ‘n opvatting van die Skrif wat ooreenkom met die sinoptiese verklaring dat “nie een jota of titteltjie van die wet ooit (sal) verbygaan totdat alles gebeur het nie” (Matt. 5:18).

Die feit dat Jesus die bindende gesag van die Wet en Profete in geen mindere mate as die Joodse leiers van sy tyd bevestig het nie, dat Hy hulle selfs oortref het in die krag waarmee Hy Hom aan die Skrifte as die Woord van God gebind het, word bewys deur sy woordestryd met die Fariseërs en Skrifgeleerdes soos beskrywe in Markus 7:1 vv. en Matt. 15:1 vv. In hierdie verband beroep Jesus Hom daarop dat die vyfde gebod en ander verordeninge van die Wet elkeen afsonderlik “die gebod van God en “die Woord van God” is, en Hy lei ‘n aanhaling uit Jesaja in met die plegtige aanhalingsformule, “daar is geskrywe”.

Die Fariseërs en die Skrifgeleerdes mag miskien soortgelyke beroepe op die Wet en die Profete gedoen het, maar Jesus beweer dat hulle binding daaraan slegs formeel is, dat hulle God met die lippe vereer terwyl hulle harte ver van Hom is. En die bewys dat hulle aanhanklikheid aan die Skrif bloot formeel is, vind ons in die opmerking dat hulle in hulle beroep op die tradisie “die gebod van God nalaat” en “aan die oorlewering van mense” vashou. Hulle onvermoë om ‘n kwalitatiewe onderskeid te maak tussen die Woord van God en die woord van mense, hulle onvermoë om die tradisie aan die Skrif te onderwerp, is deur Jesus skerp veroordeel as ‘n aanval op die wese van die ware godsdiens. Geloof in en gehoorsaamheid aan die lewende God eis van mense om in woord en daad nie slegs formeel nie maar van harte te erken die unieke goddelike gesag van die Wet en die Profete.

Miskien word die sterkste bewys van die algehele oorgawe van onse Here aan die goddelike gesag van die Skrif gevind in die toepassing van die lering daarvan op sy eie lewe en bediening. Hy was nie tevrede om slegs aan te dring dat dit en dit alleen as die Woord van God erken moes word deur die mense wat Hy toegespreek het  nie. Ongeag wat dit Hom mog kos in die vorm van vernedering en lyding, selfs as gehoorsaamheid daaraan vir Hom ‘n weg van optrede en ‘n onderwerping aangedui het waarvan sy siel met die uiterste hewigheid van gevoel teruggedeins het, selfs as dit van Hom geëis het dat Hy die vloekdood van die kruis moes sterwe, was Hy nogtans vasbeslote en gedetermineerd dat die Woord van God soos in die Skrif gegee, in Hom volkome vervul moet word. Hy was die Seun van God en die Seun van die mens wat in die wêreld ingekom het om die verlossing van sy volk te bewerkstellig, en dit was as Gesalfde Gods en as Kneg van die Here dat dit vir Hom nodig was om gehoorsaam te wees aan die Vader wat Hom gestuur het, en om getrou te wees in die uitvoering van die goddelike plan van verlossing.

Hierdie plan is egter nie vir die eerste keer aan Jesus gedurende sy lewe op aarde geopenbaar nie. Want die Skrifte van die Ou Testament het reeds die lyne getrek van die weg van selfvernedering en lyde en dood wat Hy moes gevolg het. So is elke poging om Hom af te trek van die weg wat vir Hom voorgeskryf is, verwerp as een wat ‘n volkome verloëning van sy opdrag inhou, as een, met ander woorde, wat geëis het dat die Woord van God kragteloos gemaak word. So het Hy aan die begin van sy ampsbediening die versoekings van die duiwel afgewys deur ‘n beroep op die Skrif. Gehoorsaamheid aan God eerder as aan Satan vind uitdrukking in die herhaalde stelling: “Daar is geskrywe”. So in besonder in antwoord op die eerste versoeking sê Hy: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan”.

Veel later, in sy antwoord aan Petrus, het onse Here verklaar dat om die weg van lyde te vermy sal beteken om “nie oor die dinge van God (te) dink nie, maar oor dié van mense” (Matt. 16:23). Jesus het in dié verband gespreek van die noodsaak dat Hy as die Messias moet opgaan na Jerusalem en baie dinge sal moet ly van die oudstes en owerpriesters en Skrifgeleerdes en doodgemaak moet word en die derde dag opgewek word. Hierdie refrein van die noodsaak word oor en oor gehoor in die lydensgeskiedenis (vgl. Matt. I7:22 vv.; 20:18 vv. en die ooreenkomstige plekke). Hierdie noodsaak word duidelik verstaan as die noodsaak dat die goddelike verlossingsplan vervul moet word ongeag die prys wat dit van die Kneg van die Here sou eis. En dit is van die grootste betekenis en insiggewendheid vir ons onderwerp dat dit ‘n noodsaak is wat oor en oor aangedui is as ‘n noodsaak om die Skrifte te vervul. (Matt. 26:24 vgl. Mark. 14:21, Luk. 22:22; vgl. ook Mark. 9:12; 12:10; Mark. 14:21, 27, 49; Luk. 4:17-21, 22:37; 24:25, 27, 44-46). So sien ons uit die uitsprake van onse Here aangaande die Skrifte en uit sy onderwerping aan die lering daarvan dat sy waardeskatting van die Skrifte dieselfde was as dié wat die apostel later laat hoor het in sulke Skrifgedeeltes soos II Timotheüs 3:15 v. t II Petrus 1:21.

Ook nie in die openbaring van die Nuwe Testament as geheel kom ons ander beoordeling van die Ou Testament teë as dié een wat in die leer e lewe van onse Here weerspieël word nie. ‘nPaar verwysinge mag dien as voorbeelde van die geheel:

– Dit is ‘n karakteristiek van die Evangelieskrywer Matteus dat hy die lewe en werk van Jesus beskou as die noodsaaklike vervulling van die Skrif.

– Die apostoliese prediking en onderwysing in die boek Handelinge doen dieselfde. In Handelinge 1:16 verklaar Petrus: “ … hierdie Skrif moes vervul word wat die Heilige Gees voorspel het deur die mond van Dawid aangaande Judas.” Die apostoliese boodskap is voluit reeds bekend gemaak deur die profete (vgl. Handelinge 2:16 w., 25 vv.; 3:18; 10:36; 13:23).

– Die apostel Paulus beroep hom herhaaldelik op die Skrif om die goddelike gesag van sy boodskap te bevestig (vgl. Romeine 3:4, 9 vv., 21; 9:25 v., 3; 16:26). Sy volgehoue versekering is dat sy evangelie volgens die Skrifte is (I Kor. 15:3 v.). Dit is klaarblyklik omdat hy God as die outeur van die Skrif beskou dat hy die Skrif personifieer wanneer hy daarvan praat as die een watvooraf aan Abraham die evangelie verkondig” het (Gal. 3:8).

– Die Brief aan die Hebreërs onderskei hom deur die onmiddellikheid waarmee hy God invoer as die Een wat in die Skrif spreek (vgl. Hebr. 1:15 w.; 3:7 vv.; 4:4, 7; 10:5vv.).

Uit hierdie en baie ander feite wat aangevoer kan word, is dit duidelik dat die Nuwe Testamentiese woordvoerders as uit een mond getuienis afgelê het van hulle geloof in die Ou Testament as synde gesagvol en betroubaar op grond van die feit dat dit sy oorsprong dank aan God en dat dit goddelik openbaringe uitmaak.

d. Die Openbaring van die Nuwe Verbond

Met die oog daarop dat ‘n enigsins duideliker perspektief verkry word met betrekking tot die omvang en betekenis van die inspirasie, is dit nou nodig om oor te gaan na sulke beskouings oor die Ou Verbond om oorweging te skenk aan die plek wat aan die openbaring van die Nuwe gegee word. Tot dusver het die nadruk geval op die feit dat God “in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete”. Dit wat die Nuwe Testament egter die meeste onderskei en wat selfs tot emfatieser uitdrukking kom, is dat “Hy inhierdie laaste dae tot ons gespreek (het) deur die Seun” (Hebr. 1:1 v.). Die openbaring wat deur Jesus Christus gekom het, oortref in heerlikheid die wat deur die profete gespreek is, net soos wat die Seun in wie die nuwe openbaring beliggaam is, hulle oortref wat bloot menslike boodskappers van God was. Desgelyks verwys die apostel Paulus na die groter heerlikheid van die openbaring van die Nuwe Verbond in II Korinthiërs 3.

Teenoor die kenmerkend skeptiese en radikaal negatiewe kritiek op dit Evangelies in ons tyd moet ons insien en volhou dat die Here vir Homself absolute gesag opgeëis het, ‘n gesag wat nou verbonde is met sy goddelike Seunskap en sy Messiaanse amp. lets wat grootliks bygedra het tot die verbasing waarmee sy prediking aangehoor is, was sy bewering dat Hy gesag in Homself het, dat Hy in sy bevestiging van die gesag van die Wet en dat Hy in die bevesting van die gesag van die Wet en die Profete ook besig was om te vervul, dat Hy verkeerde toegewinge ter syde kon stel met sy oorweldigende uitsprake wat ingelei word met die woorde: “Maar Ek sê vir julle”.

Dus aan die een kant het Hy volgehou dat “nie een jota of een titteltjie van die Wet sal verbygaan totdat alles vervul is nie”, maar aan die ander kant ook dat “die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woord sal nie verbygaan nie” (Matt. 24:35). In volledige ooreenstemming met die eksklusiewe kennis van die Vader aangaande die Seun, eis Hy vir Homself op ‘n ooreenstemmende soewereine reg en optrede op die gebied van die openbaring; “ook ken niemand die Vader nie behalwe die Seun en aan wie die Seun Hom wil openbaar” (Matt. 11:27). So sê Hy ook in Johannes 14:6: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie”.

Onder hierdie gesigspunt kan die wonders van Jesus gesien word as goddelike dade van openbaring en verlossing. Sy magtige dade net soos die Evangelie wat Hy aankondig, lei die nuwe bedeling in wat “baie profete en regverdiges begeer het om te sien… en te hoor” (Matt. 13:16 v.). Hierdie magtige dade as objektiewe openbaringe van God se verlossingsplan moes mense tot berou en bekering bring (vgl. Matt. 11:20-24) en moet so beskou word as werklike openbaringe ook hoewel die mense nie daarop met geloof gereageer het nie.

Die apostels van die Here Jesus Christus neem ‘n baie belangrike plek in die geskiedenis van die openbaring in, juis omdat hulle verteenwoordigers van Christus was en met gesag beklee was om in sy Naam te spreek. Dit is nie as sekondêre of latere gesaghebbendes in die kerk wat hulle ons aandag opeis nie, maar slegs omdat, volgens die Nuwe Testament, al hulle gesag ‘n afgeleide gesag is. Dit is die gesag van die Here self wat bemiddel word deur sprekers wat Hy self aangestel en met gesag beklee het as sy gevolgmatigdes. Vir hierdie opvatting van die apostelskap stry Paulus in sy Brief aan die Galasiërs. Dit word weerspieël nie alleen in sy uiteensetting en verdediging van die Evangelie nie maar ook in die onverskrokkenheid waarmee hy dit waag om anathemas uit te spreek oor die wat enige Evangelie mag predik wat afwyk van die wat hy aan hulle verkondig het (Gal. 2:8 v.).

Die omvang van die gesag wat die apostel Paulus vir homself opeis, kom nêrens tot duideliker uitdrukking as in 1 Kor.14 nie, waar hy die reg eis om as apostel die beoefening van die Geestesgawes in die kerk te reël: “As iemand dink dat hy ‘n profeet is of die gawe van die Gees besit, laat hom kennis neem van die dinge wat ek aan jou skrywe, dat dit die gebooie van die Here is” (I Kor. 14:37). Dit wat Paulus skrywe, word uitdruklik aangedui as die “gebod van die Here”.

Die stellinge wat Paulus maak, is des te opmerkliker omdat niemand die apostel oortref het in die helderheid waarmee die nuwe bedeling beskou word as die bedeling van die Gees nie. Die nuwe bedeling in Christus Jesus word deur hom beskou as daargestel en beheer deur die Gees van God. Dit mag as verregaande aanmatiging van hom beskou word om die reg te eis om die openbaringe van die Gees in die lewe van die kerk te reël. Nogtans is dit presies wat hy doen; en hy doen dit in die bewussyn dat hy as apostel van Jesus Christus met gesag beklee is om met die gesag van die Koning van die kerk te spreek.

e. Die organiese karakter van die Openbaring van die twee Verbonde

Die voorgaande oorsig oor Skrifgegewens het ons gestel voor betekenisvolle perspektiewe om die geïnspireerde openbaring van die Ou en Nuwe Verbond te verstaan. Aangesien die Ou Testament beskou word as die “Godsprake” wat aan die volk van God toevertrou is, en aangesien die gesag daarvan deur Jesus Christus self geaksepteer en bevestig is, mag dit vanuit ‘n sekere ge­sigspunt beskou word as ‘n openbaring wat in homself ‘n afgeronde geheel is.

Nietemin leer die Nuwe Testament uitdruklik dat die Ou Testament beskou word as dié Verbond wat sy vervulling vind slegs in en deur die bediening van Christus en wat gegeeis om die mense wys te maak tot verlossing deur middel van die geloof in Christus. Daarom hang die regte verstaan van die Ou Testament af van die erkenning van die organiese verhouding waarin die Oue tot die Nuwe staan.

Aan die ander kant, terwyl die Here Hom uitspreek met absolute gesag, as Een in wie die volheid van die Godheid liggaamlik woon, kom die openbaring wat “in die Seun” is, nogtans tot uitdrukking binne die breër verband van die hele openbaringsgeskiedenis. Christus kom as die Voleinder van daardie geskiedenis van verlossingsopenbaring, en so staan Sy Woord as die verlengstuk van daardie selfde openbaring waarbo en waaroorheen Hy uitgaan. Gevolglik kan die Nuwe Testament ook nie begryp word los van die erkenning van die plek wat dit binne die hele organisme van die Heilige Skrif inneem nie.

Binne hierdie perspektief mag mens ook die breër vraagstuk van eenheid en verskeidenheid in die Skrif benader. Aangesien God die Outeur van alle openbaring is, of dit nou van die Ou of die Nuwe Verbond is, word sy open­baring noodwendig gekenmerk deur eenheid. In sover, egter, ás wat dit ‘n openbaring in die geskiedenis is, ‘n openbaring wat onderskei tussen die Ou en die Nuwe Verbond, is daar ook ‘n betekenisvolle verskeidenheid. Die ver­skeidenheid is nie beperk tot hierdie teëstelling tussen die Ou en die Nuwe Verbond nie, want dit kom ook tot uitdrukking deur hierdie Verbonde. Daar is, byvoorbeeld, ‘n openbaring vōór Sinaï en ‘n openbaring ná Sinaï; daar is ‘n openbaring vóór Pinkster en ‘n openbaring wat vanaf die Pinkster uitgaan. Die Skrifgetuienis vereis daarom dat ons reg sal laat wedervaar aan die verskeidenheid in die eenheid sowel as aan die eenheid in die verskeidenheid. En dit kan ook alleen gedoen word as die organiese karakter van die Skrif ingesien word.

Die erkenning van die organiese karakter van die openbaring het belang­rike betekenis nie slegs op ons vertolking van die Skrif nie. Dit dien ook as ‘n wag teen verkeerde opvattinge van die Skrif en dui die weg aan tot wederlegging van verskillende soorte kritiek op die inspirasie. Die eenheid van die Skrif soos omskrywe in die terme van sy eie selfgetuienis, sluit ‘n atomistiese benadering van die Skrif uit. Die Skrifte is die sprake van God, maar dit bestaan nie uit ‘n veelheid van afsonderlike sinne wat verstaan mag word los van die plek in hulle onmiddellike verband en in dié van die breër verband nie. Wanneer daar na behore gelet word op die feit dat die Skrif ‘n organisme is, sal skynbare teësprake dikwels blyk te wees verskillende aspekte van die waarheid of selfs één aspek van die waarheid wat op verskillende maniere gestel word.

Bowendien, wanneer klaarblyklike verskille nie onmiddellik opgelos word nie, sal die student van die Skrif nie tot die konklusie geraak dat die leerstuk van die woordelike inspirasie in twyfel gestel word nie of dat hy sy toevlug moet neem tot ‘n meganiese en geforseerde metode van harmonistiek. Terwyl hy weet hoe ondeurgrondelik God se oordele is en hoe onnaspeurlik sy weë, sal hy erken dat daar ‘n eenheid en harmonie bestaan wat nie van menslike navorsing of vindingrykheid af hang nie, maar sal hy versekerd wees deur die wete dat dit God is wat in die Skrifte spreek.

Vanuit hierdie gesigspunt mag ‘n mens ook beoordeel die beswaar dat die vorm van die Ou-Testamentiese aanhalinge in die Nuwe afbreuk doen aan die woordelike inspirasie. Die aanklag is dikwels gemaak dat die losheid waarmee die Ou Testament in die Nuwe aangehaal word, bewys is of dat die Nuwe-Testamentiese skrywers die Oue nie as geïnspireerd beskou het nie of dat hulle self nie geïnspireerd kon wees in hulle aanhalinge van die Oue nie. Dit moet erken word dat hierdie vraagstuk werklik gekompliseerd is. Nietemin mag hier die feit gestel word dat hierdie kritiek ‘n atomistiese benadering inhou van beide die Ou en die Nuwe Testament, wat ver verwyder is van die van die Bybelskrywers self.

In vele gevalle neem die gebruik van die Ou Testament die vorm aan van ‘n blote verwysing, en in baie ander gevalle is die bedoeling klaarblyklik om van wat die Ou Testament leer ‘n toepassing op ‘n nuwe situasie te maak. En selfs waar die element van bewysvoering vir die Nuwe-Testamentiese geskiedenis op die grondslag van die Ou-Testamentiese aanhalings binne die gesigsveld kom, blyk dit dat die gebruik van die Ou Testament beheer word deur ‘n omvattende opvatting van die openbaringsgeskiedenis in die Ou en die Nuwe Testament.

Wanneer, byvoorbeeld, die Evangelieskrywer Mattheus die aanhaling “Uit Egipte het Ek my Seun geroep” aanvoer as ‘n vervulling van die profesie, is dit duidelik dat die woord van Hosea nie beskou word as een wat slegs of selfs in die eerste plaas op die geskiedenis van Christus betrekking het nie. Liewer is Mattheus se opvatting van die openbarings- en verlossingsgeskiedenis sodanig dat die verlossing van die volk van God uit Egipte sy vervulling vind in die antitipiese handeling met betrekking tot Christus. Wanneer rekening gehou word met die manier waarop hierdie gedeelte ingelei word, is dit duidelik dat die bedoeling van die Evangelieskrywer nie was om die inspirasie van die Ou Testament te bewys deur middel van ‘n beroep op ‘n gebeurtenis in die geskiedenis van Christus nie, nog om hom te beroep op die Ou Testament as dit wat presies ‘n teksbewys vir die Christelike onderwysing lewer nie. Dit was eerder om aan te toon dat, terwyl die profetiese woord gesien is binne die nuwe perspektief wat deur die Nuwe Testament in Christus gegee is, sy uiteindelike betekenis tot openbaring gekom het.

Terwyl hierdie voorbeeld en baie ander aldus die betreklike vryheid aandui waarmee Ou-Testamentiese gedeeltes aangehaal en toegepas word, daar weerspieël dit die Bybelse opvatting van die inspirasie, wat heel gepas gekarakteriseer word as volledig, woordelik en organies, eerder as om die inspirasie uit te sluit.

Laaste deel: Leerstellige gedeelte (Deel 3: Historiese oorsig, definisie van inspirasie, inspirasie en openbaring, inspirasie en verlossing) 

2 thoughts on “Die GES/GKSA/NGK/NHK en die inspirasie van die Skrif (deel 2b: Jesus en die Apostels se getuienis oor die Skrif)

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: