Historiese agtergrond
Die GES (Gereformeerde Ekumeniese Sinode) het sy ontstaan te danke gehad aan die iniasitief van die GKSA wat in die 1920’s ‘n behoefte uitgespreek het dat kerke met gereformeerde belydenis wêreldwyd mekaar bystaan in sake van gemeenskaplike belang, veral wat veranderinge aan die belydenis betref.
Die eerste sinode is gehou in 1946, en het bestaan uit die GKSA, die GKN (Gereformeerde Kerken van Nederland) en die CRC (Christian Reformed Church, van die VSA).
Die volgende sake is o.a. aangeraak deur die GES in die jare van sy bestaan:
– Skrifinspirasie en Skrifgesag
– Sending en evangelisasie
– Ekumenisiteit
– Eskatologie
– Belydenis
– Rassevraagstuk
– Ampte
– Huweliksake
In 1988 het die GKSA bande gebreek met die GES, vir die volgende twee redes (EP Nel, Die GKSA en die GES – Kerkregtelike Studie, 1990, bl.16):
1) die GKSA het “ernstige voorbehoude oor dubbele lidmaatskap van lidkerke van die GES met die Wêreldraad van Kerke (WRK) en die World Alliance of Reformed Churches (WARC).”
2) Die GKSA “is verder van mening dat dit onmoontlik is om verder met die GKN binne die GES saam te werk, vanweë die GKN se afwykende standpunt oor Skrifgesag en homoseksualiteit.”
Die naam van die GES is ook in 1988 verander na die GER (Gereformeerde Ekumeniese Raad).
‘n Verduideliking vir onttrekking van die GKSA uit die GES
In die Kerkblad van 13 Julie 1988 verduidelik prof. Callie Coetzee (toe predikant van die GK Potchefstroom), die ontrekking uit die GES as volg:
“Ware of valse eenheid ?
Met hierdie twee besluite oor die WBGK en die WRK was die Skrif aan die muur. Die eerste loopgraaf het geval. Nie een van hierdie twee liggame maak erns met die Gereformeerde belydenisgrondslag waarop die GES homself stel nie. Daarby handhaaf die WRK o.a. ‘n baie verdraagsame standpunt oor die valse Islamgodsdiens, en is sy steun aan terrorisme ook goed bekend.
Deur voorgesette kontak met die WBGK en deur ‘n verdraagsame houding teenoor kerke wat lid van die WRK is, het die GES dit vir homself onmoontlik gemaak om sy belydenisgrondslag te handhaaf, des te meer as in gedagte gehou word dat die GKSA en drie ander kerke wat juis erns maak met die handhawing en toepassing van die Gereformeerde belydenis, die GES verlaat het.
Dit kan verwag word dat die GES al hoe meer in die vaarwaters van die WBGK en die WRK sal beland. Van die ware eenheid, gebou op die fondament van die Skrif en die belydenis sal daar steeds min sprake wees.
In so ‘n geselskap kan die GKSA nooit tuis voel nie.”
‘n Paar opmerkings en vrae:
1. Wat het in-tussen gebeur, vanaf 1988 tot vandag, het die WRK toe wel erns begin maak met die gereformeerde belydenisgrondslag ?
2. Het die WRK wel hul verdraagsame standpunt oor Islam verander na ‘n Joh.14:6 standpunt ?
3. Het die WRK terrorisme ongekwalifiseerd wêreldwyd veroordeel, ook die ANC terrorisme van die huidige regering in die verlede ?
4. Is die GKSA nog onverdraagsaam teenoor kerke wat lid van die WRK is ?
5. Was die GKSA reg om die ‘valse eenheid’ van die WRK/GES te verlaat ?
6. Deel die huidige lidkerke van die WRK, onder andere die NGK en die NHK (wat lid is van die SARK, wat deel is van die WRK), dieselfde “erns …. met die handhawing en toepassing van die Gereformeerde belydenis”, as die GKSA ?
7. Is daar huidiglik sprake van ‘ware eenheid’ op grond van die ‘Skrif en belydenis’ tussen lidkerke van die WRK/SARK, en daarom tussen die GKSA en die NGK/NHK ?
Hierdie is belangrike vrae om te vra, want:
1. by die afgelope twee sinodes van die GKSA (2009 en 2012) was daar pogings om by die SARK (Suid-Afrikaanse Raad van Kerke) aan te sluit, wat deel is van die WRK (sien Handelinge 2012: 192).
2. met die Januarie 2012 algemene Sinode van die GKSA, was daar ‘n sterk poging om ‘n “Memorandum van Ooreenkoms tussen die GKSA en die NGK” goedgekeur te kry (Handelinge, 2012: 186), en toe ek laas gekyk het, was die NGK (en NHK) ‘n lid van die SARK wat lid is van die WRK ?
3. In die NGK is dit verder bekend dat daar wesentlike probleme is, oor sake wat juis die redes was waarom die GKSA van die GES weggebreek het, veral oor Skrifgesag en homoseksualisme.
Sien die volgende artikels oor al die probleme daaroor in die NGK:
U as leser, word nou uitgenooi om die Studierapport van die GES in 1958 te lees en te bestudeer, en dan eerlik die volgende vrae te vra en oor te peins:
1. Wie is die ware draers van die Bybels gereformeerde Skrifbeskouing van NGB art.2-7: hulle wat meen slegs die ‘verlossing skopus’ van die Skrif is onfeilbaar en gesaghebbend; of hulle wat meen die hele Skrif in sy geheel en in sy afsonderlike dele is onfeilbaar en gesaghebbend oor leer en lewe ?
2. Let daarop dat reeds in die 1950’s het die vrysinniges wat die evolusie, VIDA en homoseksuele agendas gestoot het, reeds die etiket ‘biblisis’ en ‘biblisisme’ gebruik teen gelowiges wat die hele Woord glo, wat in sy geheel en dele onfeilbaar en gesaghebbend is.
3. Het die WRK/SARK/NGK/NHK waarlik vandag erns begin maak met die gereformeerde belydenis, met Skrifgesag – of is dit die GKSA wat juis minder erns maak met Skrifgesag en met die gereformeerde belydenis, sodat daar nou aansoek gedoen word om lid te word van die SARK/WRK, asook nouer bande met die NGK met al sy Skrifkritiek, o.a. die Nuwe Hervorming teologie en Evolusie leuen wat daardie kerkverband vernietig ?
4. Is dit hoekom VIDA ook ten volle aanvaar moet word, sodat die ‘ware eenheid’ (nie meer die ‘ware eenheid’ van 1988?, toe die GKN se vroue in die amp ‘verkeerd’ was nie?), tussen die ‘susterskerke’ herstel moet word, ten alle koste, die politiek van die dag vereis dit ?
5. Laat ons opnuut bid en besin oor Jes.5:20 vir ons kerklike tye:
Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter. … omdat hulle die wet van die HERE van die leërskare verwerp het en die woord van die Heilige van Israel verag het.
Tegniese opmerkings
Die kommissie rapport oor Skrifinspirasie is ietwat lank, so ek gaan dit in 3 dele hier plaas.
Deel 1: Inleiding en oorsig
Deel 2: die getuienis van die Skrif
Deel 2: Leerstellige deel en konklusie
(nota: alle beklemtonings is bygevoeg)
KOMMISSIERAPPORT INSAKE DIE INSPIRASIE VAN DIE SKRIF
INHOUD
Inleiding
1. Die getuienis van die Skrif.
a. II Timotheüs 3:15, 16.
b. II Petrus 1:21.
c. Die Ou Testament in die Nuwe.
d. Die Openbaring van die Nuwe Verbond.
e. Organiese karakter van die openbaring van die twee Verbonde.
2. Leerstellige deel.
a. Historiese oorsig.
b. Definisie van inspirasie.
e. Inspirasie en openbaring.
d. Inspirasie en verlossing.
e. Inspirasie en inkarnasie.
f. Inspirasie en onfeilbaarheid.
Konklusie.
2a.l. KOMMISSIERAPPORT INSAKE INSPIRASIE
Vanaf die heel begin van die Gereformeerde ekumeniese beweging het die onderwerp van die inspirasie en gesag van die Heilige Skrif op die voorgrond van die belangstelling getree. Toe planne beraam is vir die byeenroeping van die Eerste Gereformeerde Ekumeniese Sinode, wat in Grand Rapids in Augustus 1946 gehou is, het beide die Amerikaanse en Suid-Afrikaanse Kerke voorrang verleen aan die onderwerp van die inspirasie onder die dogmatiese kwessies wat deur die Sinode behandel moes word (Handelinge, pp. 14 en 16).
Die Sinode van Grand Rapids was inderdaad nie van sodanige gesindheid dat hulle die noodsaaklike optrede oor hierdie vraagstuk sou uitstel en so die publiek oor sy basiese standpunt in onsekerheid laat nie. Hierdie feit is duidelik veral daaruit dat “die Heilige Skrifte van die Ou en die Nuwe Testament” as basis aangeneem is en dat in hierdie verband verklaar is dat:
“dit duidelik verstaan moet word dat hierdie Skrifte sowel in hulle geheel, as in elke deel daarvan die onfeilbare en ewig blywende Woord van die lewende Drie-enige God is, absoluut gesagvol in alle sake van leer en lewe, en dat die Belydenisskrifte van die Gereformeerde leer aanvaar word omdat hulle die goddelike, geopenbaarde waarheid bevat, die versaking waarvan die oorsaak is van die betreurenswaardige verval van die moderne lewe” (Handelinge, pp. 41, 64).
Nie tevrede met hierdie plegtige verklaring van sy grondslag wat as ‘t ware grondwetlike status verkry het nie, het die Sinode van Grand Rapids ‘n Getuienis die lig laat sien wat aangrypende uitdrukking gegee het aan ‘n kinderlike geloof in en die noodsaaklikheid om te getuig van “die rykdom van die openbaring van God wat in die wêreld ingegaan het in die vorm van die Heilige Skrif,” en het die Sinode gewaarsku teen:
“elke poging om hierdie werk van die Heilige Gees te verduister deur dit maar in die minste te beskou as ‘n menslike en feilbare getuienis aangaande die goddelike openbaring, aangesien dit niks minder is as ‘n aanval op die heerlike werk van die Gees van God, en aangesien dit die sekerheid van ‘n kinderlike geloof ondermyn” (Handelinge, pp. 52 v.).
2. Die Sinode het nogtans ook tot die konklusie gekom dat hy ter wille daarvan dat sy oortuigings aangaande die Heilige Skrif duideliker en doeltreffender uiteengesit kan word en om die jongste aanvalle op die behoudende leer aangaande die Skrif te weerlê, ‘n spesiale kommissie insake die inspirasie moet benoem om ‘n uitgebreider verklaring vir voorlegging aan die volgende Sinode gereed te maak.
Die Kommissie soos saamgestel deur die Sinode van Grand Rapids het nie daarin geslaag om sy mandaat uit te voer nie, en daar is dus geen rapport voortgebring nie, nog by die Sinode van Amsterdam in 1949 nog by die van Edinburgh in 1953. Toe dit duidelik geword het dat daar geen werklike vooruitsig bestaan dat die kommissie soos oorspronklik saamgestel, ‘n verslag sou kon gereedmaak nie, het die Tussentydse Kommissie, wat deur die Sinode van Edinburgh aangewys is, die bedankings van sekere persone aanvaar en sekere nuwe lede bygevoeg, sodat die kommissie soos hy opnuut saamgestel is in 1956, bestaan het uit dr. J.T. Hoogstra en professore Fred H. Klooster, Herman Kuiper, John Murray en Ned. E. Stonehouse.
In die uitvoering van sy opdrag het die Kommissie getrag om te vermy aan die een kant om ‘n uitgebreide akademiese verhandeling daar te stel wat maklik die kerklike karakter van ons amptelike opdraggewers uit die oog kon verloor en ook die behoefte van die kerke tot wie ons ons sou rig, maar ook aan die ander kant om ‘n beknopte verklaring te gee wat die indruk van dogmatisme kon skep. Ons het derhalwe getrag om ‘n deeglike behandeling van die grondleggende eksegetiese en dogmatiese vraagstukke te gee en om terselfdertyd *n oproep tot al die kerke te rig om vas te staan op die rots-fondament van die Heilige Skrif in gehoorsaamheid aan die Here.
Hierdie gehoorsaamheid vereis nie alleen dat ons die Skrifte as die ware Woord van God aanvaar met dieselfde eerbied wat kenmerkend was van onse Here in sy gebruik daarvan en sy uitsprake daaroor nie, maar ook dat daar algehele onderwerping sal wees aan die lering daarvan net soos Hy daarin gesoek en gesien het die opdrag vir die ampsbediening waarvoor Hy in die wêreld gekom het.
Soos hierdie rapport hieronder sal aantoon, is die leerstuk van die inspirasie en gesag van die Heilige Skrif as die onfeilbare Woord van God nie uitsluitlik ‘n Reformatoriese dogma nie.
3. Dit is wesenlik die leerstuk van die universele kerk in alle eeue. Nietemin mag dit erken word dat die Gereformeerde kerke hulle onderskei het deur die uitdruklikheid en volledigheid van hulle belydenis aangaande die Heilige Skrif. Met weinig of geen oordrywing mag gesê word dat dit die roem van die Gereformeerde belydenis was dat dit so ‘n standvastige en ondubbelsinnige getuienis aangaande die onfeilbaarheid van die Skrif gelewer het. Dit het inderdaad om hierdie rede ook verwyte moes verduur. Dikwels het dit die vorm van ‘n aanklag van biblisisme aangeneem. Vir sover die gebruik van hierdie benaming betrekking het op die onwilligheid van die Gereformeerde kerke om histories onderskeid te maak tussen die Bybel en die Woord van God, moet dié verwyt met blymoedigheid gedra word.
Vir sover egter die benaming biblisisme dien om uitdrukking te gee aan die aanklag van ‘n wesenlik foutiewe en verkeerde waardering van wat die Bybel vir homself opeis en hom openbaar om te wees, kan ons dit nie aanneem nie. Nietemin durf ons nie ons oë sluit vir die aanvalle wat voortdurend op ons historiese leerstuk aangaande die Skrif gemaak word nie. Ons moet in alle nederigheid op ons hoede wees vir ons eie neiging om nie heeltemal gehoorsaam te wees aan alles wat die Skrif aangaande homself leer nie en ook van ons beklaenswaardige tekortkominge wat betref ‘n duidelike en doeltreffende getuienis vir die waarheid.
Ons is ons daarvan bewus dat ons in ‘n tyd lewe waarin die aanvalle op die leerstuk aangaande die Skrif soos ons dit bely, so heftig is soos dit nog nooit was nie. Dit is veral ‘n waarheid binne die belydende kerk van Christus. Terwyl dit in vroeër tye algemeen voorgekom het dat die behoudende leerstuk aangeval is deur aan die Bybelouteurs ‘n laer graad van inspirasie toe te skrywe en deur die bewering te maak dat die Bybel, in plaas van vereenselwig te word met die Woord van God, in mindere of meerdere mate die Woord van God bevat, daar is dit in ons eie tyd algemeen om nadruk te lê op die werklik feilbare karakter van die Bybel as ‘n noodsaaklike gevolg van die menslikheid van die outeurs.
Op dié. wyse hou Karl Barth vol dat die Bybel deurgaans gekenmerk word deur menslike feilbaarheid. Sy wondbaarheid, of moontlikheid om te faal, strek hom uit, so bevestig hy, tot “sy religieuse en teologiese inhoud” toe. Daar is, sê hy:
“klaarblyklike oorvleuelings en teësprake, bv. tussen die Wet en die profete, tussen Johannes en die Sinoptici, tussen Paulus en Jakobus. Verder: ons moet versigtig wees dat ons nie verlei word om kant te kies sodat ons die een Bybelfiguur teen die ander afspeel nie, sodat ons verklaar dat hierdie of daardie een gedwaal het. Vanuit watter standpunt kan ons enigsins so ‘n uitspraak maak? Want binne sekere beperkinge, en daarom betreklik, is hulle almal kwesbaar, en om dié rede kan hulle dwaal selfs met betrekking tot godsdiens en teologie. Gesien die werklike samestelling van die Ou en Nuwe Testament is dit ‘n feit wat ons onmoontlik kan ontken as ons nie hulle menslikheid wil wegredeneer, as ons nie aan Docetisme skuldig wil wees nie. (Kerklike Dogmatiek, 1, 2, Die Leerstuk aangaande die Woord van God, E.T., pp. 509 v.).
Vir Barth was die outeurs van die Skrif nie net vatbaar vir en skuldig aan dwaling nie; selfs die aanwesigheid van ‘n onfeilbare element in die Skrif word ontken:
“As God Hom nie geskaam het oor die feilbaarheid van al die menslike woorde van die Bybel, oor hulle historiese en wetenskaplike onnoukeurighede, hulle teologiese teësprake, die onsekerheid van hulle oorlewering, en, bowenal, hulle Judaïsme nie, maar inteendeel hierdie uitdrukkinge aangeneem en gebruik het in al hulle feilbaarheid, dan hoef ons ons nie te skaam wanneer Hy dit in al sy feilbaarheid vir ons as ‘n getuienis wil vernuut nie, en dit is slegs eiewilligheid en ongehoorsaamheid om te probeer om ‘n paar onfeilbare elemente in die Bybel te vind” (ibid., p. 531).
Gesien hierdie ontleding van die karakter van die Bybelse getuienis en teen die agtergrond van sy opvatting van openbaring as synde na sy ware wese ‘n aktuele konfrontering is dit geen wonder nie dat Barth spesifiek ontken dat die Skrifte beskou mag word as synde geïnspireerd en daarom as sodanig te vereenselwig met die Woord van God.
Nietemin spreek Barth ook van “die goddelike onfeilbaarheid van die Bybel” en so ook van die theopneustia van die Skrifte. Met beroep op II Timotheüs 3:16 verstaan hy die term theopneustia heeltemal, of ten minste in die grond van die saak, in ‘n aktiewe betekenis as “inspirerende.” Hoewel hy van hierdie woord spreek in die sin van “gegee en vervul en geregeer deur die Gees van God,” lê hy tog besondere nadruk op sy eie opvatting daarvan as: “daadwerklik besig om uit te adem en wyd te versprei en bekend te maak die Gees van God” (ibid., p. 504).
Die goddelike aksie met betrekking tot die Skrifte is nie, volgens Barth, van ‘n skeppende aard waardeur die Skrifte self te voorskyn gebring word deur soewereine goddelike werksaamheid nie, maar is eerder ‘n aksie van God met betrekking tot ‘n boek wat tereg beskrywe word as een wat in aansyn gebring word deur die aktiwiteit van mense.
Dit word beklemtoon wanneer hy sê dat die verhouding tussen God en Skrif slegs verstaan kan word “as ‘n afdoende daad en beslissing van God self,” ‘n handeling wat hy ook beskrywe as bestaande “slegs in ‘n onderstreping en afbakening van die ontoeganklike verborgenheid van die vrye genade waarin die Gees van God aanwesig is en aktief is voor en bo en in die Bybel” (ibid., p. 504).
In laaste instansie, dus, is nòg die Bybel in sy geheel nòg enige deel daarvan soos dit geskrywe is en soos dit toevertrou is aan die kerk, te vereenselwig met die Woord van God. Nietemin, die kerngedagte van die dialektiese teologie in hierdie verband is dat die Bybel ‘n getuie is vir die goddelike openbaring, en slegs in die oomblik van die goddelik-menslike ontmoeting word dit die Woord van God vir die mens.
Moderne opvattings soos die voorgaande maak aanspraak op steun in die Skrif, en ons kritiese beskouing moet rekening hou met dié aanspraak. Dit gaan ons egter nog meer om die positiewe getuienis van Skrif self oor sy eie inspirasie, en hieraan moet ons vervolgens aandag gee.
(deel 2a: die getuienis van die Skrif)
Hierdie is ‘n uiters belangrike onderwerp, baie dankie daarvoor Slabbert. Dankie ook dat jy duidelik uitwys wat die gevolge is vir die NG Kerk. Die eerste hoofstukke in ons boek, “Die Trojaanse perd in die NG Kerk” gaan juis daaroor: Die omkeer in Skrifbeskouing; Skrifkritiek en Skrifgebruik, die gevolge van verkeerde besluite aangaande Skrifbeskouing en homoseksualiteit – ’n voorbeeld van die heersende manier van Skrifuitleg.
Ek dink ek het die selfde opinie as Karl Barth.
Soos hy, glo ek ook in die boodskap van die Bybel.
Maar hierdie is geen nuwe tema op jou Blog nie.
Wat bedoel jy Andre ?
Glo jy die ‘boodskap’ dat Jesus opgestaan het, nie dat Hy noodwendig histories dit werklik in die geskiedenis gedoen het nie ?
Dankie vir jou antwoord.
Die boodskap is tog dat Hy noodwendig histories werklik uit die dood uit opgestaan het en as Hy dit nie gedoen het nie is ons as Christene die mees armsaligste van mense.
Hierdie boodskap van die Bybel bly dieselfde ook as daar ‘n Griekse spelfout of skryf-fout deur die skrywers van die Bybel gemaak was, selfs as daar dele van die Bybel verlore gegaan het, selfs as daar geen Bybel meer bestaan nie, bly die feit staan dat Jesus Christus uit die dood uit opgestaan het.
Het Karl Barth anders geglo?
Amen op die eerste sin. Wat die tweede sin betref, hoe weet ons of dit ‘n Griekse spelfout of skryf-fout was, en nie ons wat foute daarin lees nie ? Soos reeds genoem, glo ek wel dat in die vertalings en oordra van die Skrifte deur die eeue foute kon ingeslyp het, of dat ‘foute’ die gevolge is van ons westerlinge wat dinge nie reg verstaan nie, of met ‘n modernistiese standard die Skrif wil weeg. Ons kan ook saam dankbaar wees dat die Here belowe het dat sy Woord sal bly tot in ewigheid, gras verdor, blare verwelk, maar sy Woord bly tot in ewigheid.
Wat Barth betref, aangesien jy hom nou lees, kan jy die vraag beter antwoord: het hy wel geglo in die histories-letterlike opstanding van Christus ?
Ek het nog niks gelees wat my laat dink het dat Barth enige iets anders glo nie. Ek het ook nie die vermoede nie. Barth is defnetief ‘n Christen, in die erenstige sin van die woord. Nie net ‘n Christen nie maar ‘n voorbeeld vir Christene.
Ek het vir ‘n rukkie gedink my teologiese idees is oorspronklik, toe het ek Barth ontdek. Nog nie klaar nie. 🙂
Andre, soos jy hom lees, deel enige ‘oorspronklike insig’ wat hy gehad het my. Party is egter van mening dat alles na Calvyn is net voetnotas. 😉
Calvyn het byvoorbeeld geen komentaar op Openbaring of die 3 Johannes briewe geskryf nie. Calvyn het skaars oor Eskatologie geskryf. Ek dink daar bly nog genoeg dinkwerk oor, sou daar iemand wees wat belangstel.
Ja, ek het net gegrap oor Calvyn, daar is nog baie baie om te skryf na Calvyn. Die volgende teoloë het meer geskryf oor die eskatologiese aspekte: George Ladd, Geerhardus Vos en meer onlangs, GK Beale se ‘A New Testament Biblical Theology’
Slabbert,
Duidelik besef jy en Andre (julle glimlaggende gesiggies verwys) nie die erns van Barth se antichristelike program nie. Vestaan julle nie die kloof wat hy tussen Woord en Waarheid probeer skep het nie? Dit gaan nie oor Calvyn nie, maar oor die Woord van God.
Neem tog uiteindelik ‘n standpunt in: “Want as die basuin ook ‘n onduidelike klank gee, wie sal klaarmaak vir die oorlog?”
Barth’s dialectical theology permitted him to use old words and phrases – Biblical words and phrases – while giving them new, and quite un-Biblical, meanings. What the liberals had done partially with phrases such as the “divinity of Christ” and what the Roman Catholics had done with terms such as “justification,” “church,” “saint,” and “grace,” Barth was able to do with the entire theological discourse of the Reformation. His equivocation was not occasional and partial, as in liberalism, but throughout and complete. Barth made Protestant theological equivocation systematic and systemic.
(John Robbins. “Karl Barth”. The trinity Review, February 1998: 3)
Louis Karel Bernardus Breytenbach
Oom Louis, soos die Bybel en enige ander boek, moet ‘n mens ook enige boodskap wat jy lees in konteks lees, gaan kyk gerus weer waar my ‘smileys’ geplaas was, dit was geensins ‘n goedkeurende ‘smiley’ vir Barth se teologie nie.
Hallo Louis
My standpunt is Jesus Christus. 🙂
Dit is natuurlik tipies van amerikaners soos John Robbins (ek het nog nooit van hom gehoor tot nou toe nie) om van die grootse teoloë (bv. Karl Barth) te kritiseer om so hulle eie name genoem te kry.
Of dalk is Robbins eerlik, en as hy is, dan is dit ook tipies van hom, as amerikaner, om Barth nie te verstaan nie.
Wat u standpunt i.v.m Karl Barth betref slaan ek voor u probeer self Karl Barth lees eerder as om op amerikanse ekonome (Robinson het nie eers teologie studeer nie) se opinies te steun.
Enige iemand wat van Barth se anti-christelikke program praat, praat van ‘n ander Barth as wat ek so vêr gelees het.
Andre, en daar doen jy toe presies wat jy oom Louis van beskuldig, asook andere: veroordeel iemand voordat jy hom ordentlik gaan lees het. Gaan lees gerus wat Robbins en andere oor Barth geskryf het, en moenie hul afskryf deur bloot te ‘etiketeer’ as amerikaners wat nie gelees hoef te word nie. Jy klink dan soos ‘n hoogmoedige europiaan. 😉
Sien hierdie artikel: http://www.trinityfoundation.org/journal.php?id=147
Sien ook hierdie bespreking van Barth: http://www.puritanboard.com/f15/what-did-karl-barth-teach-10420/
As ek oor Karl Barth wil weet dan lees ek tog Karl Barth.
Wie op dees aarde is Robbins in die wêreld van Teologie?
Ek het niks met hom te doen nie.
Daardie artikel op Trinity Foundation begin sommer met ‘n klomp beledigings, dit is tipies amerikaans. Ek verpes dit ek moet sê.
Ek skaam my vir die amerikaanse christene, hulle stry en baklei en weet niks van ordentlike gesprek nie.
Dan klap ons Suidafrikaners nog vir hulle hande ook.
Lees tog weer die begin van daardie artikel, dis meer Hollywood as Teologie.
Robbins probeer Barth in 6 bladsye opsom, dalk kan Amerikaners nie meer as 6 bladsye op ‘n slag hanteer nie. Liewe genugtig! Karl Barth in 6 bladsye!?
Geen wonder dat Barth van sulke mense (amerikaners!!) die volgende gesê het nie:
“…I cannot respect the questions of these people from Christianity Today…. Such a discussion would have to rest on the primary presupposition that those who ask the questions have read, learned, and pondered the many things I have already written about these matters. They have obviously not done this…”
Self op die gesprek forum is die eerste sin:
“I never read anything from Karl Barth, i only heard from others that you have to carefull with his theology because he hath some false teaching…”
Hahaha ek kan defnetief saamstem dat mens versigtig moet wees as ‘n mens Karl Barth lees. ‘n Mens moet oor die algemeen versigtig wees met mense wat vir hulle self kan dink.
En as Karl Barth ‘n teologiese fout gemaak het (wat ek nog nie gevind het nie) wat daarvan? Luther en Calvin het ook nie saam gestem oor alles nie, beteken dit een van hulle is vandag in die hel, of beteken dit dat hulle nie broers in Christus was nie?
Andre, dankie vir jou tirade, sal later probeer antwoord.
Slabbert,
Sou jy se dat die volgende stelling (Andre, 07.2012 @17:00) deel van die konteks is?:
“Barth is defnetief ‘n Christen, in die erenstige sin van die woord. Nie net ‘n Christen nie maar ‘n voorbeeld vir Christene.
Ek het vir ‘n rukkie gedink my teologiese idees is oorspronklik, toe het ek Barth ontdek. Nog nie klaar nie.”
As dit nie is nie, en ek, soos jy insinueer, nie kan lees nie, sou ek nogtans jou antwoord daarop wou hoor. Tewens, toe ek op universiteit Barth se skrifbeskouing gekritiseer het, moes ek ook hoor dat ek nie die konteks verstaan nie. Ek gee dus geredelik toe dat jy reg kan wees. Nog iets, ek het nie besef dat jou antwoord ‘n “boodskap” was nie nie.
oom Louis,
Met boodskap en konteks het ek hierdie antwoord van my bedoel:
“Andre, soos jy hom lees, deel enige ‘oorspronklike insig’ wat hy gehad het my. Party is egter van mening dat alles na Calvyn is net voetnotas. ;-)”
So ek verwys na die groot teologiese invloed van Calvyn, en dan tong-in-die-kies dat na my mening Barth nie eintlik iets beters kon gesê het nie. Maar ek het nie Barth self in detail gelees of bestudeer nie, so as iemand dit wel doen, sal ek luister as hy dit met my wil deel en dan my mening gee of ek daarmee saamstem of nie.
Ek het ook klompie jare gelede hier en daar iets van Barth gelees, en saam met baie gereformeerde teoloë (party wat hom in detail bestudeer het, bv. die vroeë Berkhouwer, Clark, Van Til, ens.) is hy meer gevaarlik as behulpsaam vir ons geloof, so ek sal ook nie aanbeveel dat lidmate hom lees nie.
Andre,
Ja jong, die maklikste manier om iemand se kritiek te verwerp of te ignoreer is om bloot te sê “hy verstaan my nie” of “hy het nie alles gelees wat ek geskryf het nie”.
Dit laat natuurlik die vraag na vore kom: as iemand vir baie so onduidelik is, is hy die moeite werd om te lees en te bestudeer ?
Dan dink ek dit is beter om tyd te spandeer aan teoloë wat duidelik die Skrif verduidelik en naspreek, soos bv. Calvyn.
Jy is welkom om vir ons te sê waarom dit so belangrik is om Barth te lees, ek hoor graag, wat maak hom uniek of anders ? Die belangrikste vraag is natuurlik: stem hy saam met die gereformeerde konfessies, veral die DFE en die Westminster Konfessies, want dit is wat algemeen aanvaar word as ‘gereformeerd of calvinisties’ Wat het hy anders geleer as hierdie belydenisskrifte ?
So terloops, hoe weet jy bv Robbins en Clark het nie juis vir Barth deeglik gelees nie ? Moenie omdat hul nie saamstem met hom, dit verwar met = nie gelees nie.
Verder, daar is mense wat Barth kritiseer sonder dat hul iets gelees het van hom, maar daar is weer baie ander wat hom baie deeglik gelees en geken het, wat hom nog steeds gekritiseer het, of is almal bloot verkeerd as hul nie met Barth saamstem nie ?
Sien ook hier vir verdere deeglike bespreking van teoloë wat Barth wel deeglik bestudeer (veral Jim Cassidy en Keith Davis):
http://reformedforum.org/podcasts/ctc202/
Dit is nie so belangrik om Barth te lees nie. ‘n Mens hoef dit nie te doen nie. Saligheid hang nie daarvan af nie.
Ek dink Barth sal meeste mense net deurmekaar maak.
Lees eerder net die belydenisskrifte. 🙂 Dit is genoeg.
Andre,
1. As ek jy was, sou ek my onkunde oor die persoon en werk van John Robbins probeer stilhou. Dit word net deur jou arrogansie oortref.
2. Jou stelling: “My standpunt is Jesus Christus” (alweer die sotlike gesiggie!), is sinneloos; tensy jy dit in die Barthiaanse sin bedoel, naamlik dat Jesus ‘n gebeurtenis of “event” is (soos jy nou al weet, het Barth proposisionele openbaring ontken).
In sy Church Dogmatics IV/I: 128 [T&T Clark 1961]) verwerp hy die Bybelse onderskeid tussen die persoon van Christus en die versoenende werk van Christus. Hy dring daarop aan dat Sy persoon sy werk is en dat Sy werk sy persoon is.
En hier sal ek jou moet skok met nog ‘n verwysing na ‘n Amerikaner. Ek haal aan uit Robert L. Reymond (A New Systematic Theology of the Christian Faith 1998: 628):
“By actualising the Incarnation into an ongoing process, in the interest of interpreting Jesus Christ as ‘event,’ Barth erroneously concludes:
‘…the being of Jesus Christ, the unity of being of the living God and this living man, takes place in the event of the concrete existence of this man. It is a being but a being in history [Geschichte]. The gracious God is in this History, so is reconciled man, so both are in their unity. And what takes place in this history [Geschichte], and therefore in the being of Jesus Christ as such, is atonement. Jesus Christ is not what He is ̶ very God, very man, very God-man ̶ in order as such to mean and do and accomplish something else which is atonement. But His being as God and man and God-man consists in the completed act of the reconcilliation of man with God (ibid. 126-127).’
For Barth Jesus Christ is the reconciling act! But according to Scripture, the Word became flesh in order to die a reconciling death, and His mediatorial work of redemption at Calvary was accomplished once for all time in history and is now a finished work, remaining only to be applied to God’s elect.”
Soos dit ook opgeteken is: “Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe.” (Rom 5.6), en: “Want in die eerste plek het ek ook aan julle oorgelewer wat ek ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte.” (i Kor 15.3), en : “…onse Here Jesus Christus wat vir ons gesterf het…” (1 Thes 5.10).
3. Jy sien, enige gelowige met die Bybel (die onfeilbaar, volledig en foutloos geinspireerde Woord van God) in sy hand is wyser as enige“van die grootse teoloë (bv. Karl Barth)”, soos jy dit stel. Een teks uit die Woord van God is meer as genoeg om Barth te antwoord. Robbins se 6 bladsye was na my mening oordrewe.
“Uit u bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke leuenpad” (Ps 119.104)
Louis Karel Bernardus Breytenbach.
Ek gee toe, ek is baie onkundig oor Robbins, ek het nog nooit van hom gehoor nie.
Ek het ook nog nie so baie Barth gelees nie, dit sal my nog ‘n rukkie vat om sy teologie deeglik te verstaan.
My arogansie is vir myself ook ‘n groot probleem en een van die redes waarom ek seker nooit goed genoeg vir Gereformeerde kerk sal wees nie. Ek probeer heiliger lewe en elke keer as ek sulkes soos u ontmoed spoor dit my aan om nog harder te probeer, sodat ek ook kan uitkom waar u is. Ek is dalk net nie so slim en goed gelese soos u nie, maar ek probeer my beste sodat my doopdag in die Gereformeerde kerk nie vir my ouers ‘n skande sal wees nie. Ek lees nog meer en meer en probeer die regte teologie verstaan sodat Jesus my nie ook nog verwerp nie.
Louis Karel Bernardus Breuytenbach wees my genadig asb.
Andre, dankie vir jou mooi gesindheid in hierdie skrywe. Ons almal, ja elkeen van ons struikel dikwels in woorde (Jak.3:1,2), en daarom moet ons altyd bid voor ons te vinnig skryf of dinge sê. Ek wil tog graag daarom op hierdie woorde vir jou reageer, en as ek jou verkeerd verstaan, help gerus reg:
“Ek lees nog meer en meer en probeer die regte teologie verstaan sodat Jesus my nie ook nog verwerp nie.”
Oom Louis het pragtig aangehaal hierbo wat die ware evangelie is:
“Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe.” (Rom 5.6)
Al skryf jy of ek of oom Louis die mees ortodokse Skriftuurlike gereformeerde regsinnige teologie, is dit nie wat ons red nie, maar Christus se bloed alleen. (punt)
Ja, ons moet strewe om in beide leer (ortodoksie) en lewe (ortopraksie) suiwer en reg te wees, maar as vrug en dankbaarheid vir Jesus alleen (sola Christo) wat sy lewe eenmaal vir altyd (die Hebr. boek) vir sy kinders gegee het.
Dit is nie my regte tong of regsinnige skrywes wat my/ons red nie, maar Hy alleen.
Daarom is ons almal se troos, as ons dikwels struikel, sondig, val in woord, daad of gedagte, dat ons Here Jesus vir ons intree (1 Joh.2:1,2), sodat ons opnuut in ‘n nuwe lewe kan aanhou wandel, hoe langer hoe meer.
Sondag 23, v/a 60 van die HK, vat hierdie wonderlike troos wat ons het in Christus pragtig saam, –
Vraag 60: Hoe is jy regverdig voor God?
Antwoord: Slegs deur ‘n ware geloof in Jesus Christus (a); so dat al kla my gewete my aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie (b) en dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is (c), God nogtans (d) aan my sonder enige verdienste van my kant (e), uit louter genade (f) die volkome genoegdoening (g), geregtigheid en heiligheid van Christus skenk (h). Dit reken Hy my toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie, asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het (i). Aan hierdie weldaad het ek deel vir sover ek dit met ‘n gelowige hart (j) aanneem.
(a) Rom 3:21, Rom 3:22, Rom 3:24; Rom 5:1-2; Gal 2:16; Eph 2:8-9; Phi 3:9.
(b) Rom 3:9.
(c) Rom 7:23.
(d) Rom 4:4; 2Co 5:19.
(e) Tit 3:5; Deu 9:6; Eze 36:22.
(f) Rom 3:24; Eph 2:8.
(g) 1Jo 2:2.
(h) 1Jo 2:1.
(i) 2Co 5:21.
(j) Rom 3:22; Joh 3:18.
“Al skryf jy of ek of oom Louis die mees ortodokse Skriftuurlike gereformeerde regsinnige teologie, is dit nie wat ons red nie, maar Christus se bloed alleen.”
En al verstaan jy of ek of oom Louis, die Bybel heeltemal verkeerd is dit nog steeds net Christus se bloed wat ons red.(?)
Ek het nou eers besef hierdie is, tien teen een, dieselfde Louis wat dink dat Jesus ‘n tatueermerk op sy bobeen het, dalk is hy reg. Maar as Louis verkeerd is dink ek nogsteeds nie dit beïnvloed sy saligheid nie.
Nietemin dink ek gesprek is belangrik vir my sodat ek kan leer wat reg en wat verkeerd is. Dis net moeilik om gesprek te voer met mense wat alreeds alles in die Heilige Skrif verstaan, hoekom dit altyd hulle is wat so ongeduldig en liefdeloos is, weet ek nie.
Andre, as ons gered is uit genade alleen, deur die geloof alleen, dan sal ons – nie volmaak nie, maar wel genoegsaam reg ken en lewe uit dankbaarheid, as vrug van ons verlossing, hoe langer hoe meer. Christus het gekom nie sodat ons net reg kan lewe nie (ortopraksie), maar ook reg kan ken (ortodoksie), sien o.a. Joh.17:3; 1 Tim.4:16; 1 Joh.5:20, ens.
Die feit dat Christus alleen ons red, sluit ook die middele en die weg in (sien Rom.8:82-30), onthou ook die belangrike laaste woorde in my vorige boodskap, waar ek aangehaal het uit HK v/a 60, ‘… Aan hierdie weldaad het ek deel vir sover ek dit met ‘n gelowige hart aanneem’.
Deur die geloof, die ware ware geloof aanvaar ons nie net sommige nie, maar alles wat in die Skrif staan, sien HK v/a 21:
Vraag 21: Wat is ‘n ware geloof?
Antwoord: ‘n Ware geloof is nie alleen ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het (a) vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue (b) wat die Heilige Gees (c) deur die evangelie in my hart werk (d), naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus (e), vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid (f) geskenk het.
(a) Jam 2:19.
(b) Heb 11:1; Heb 11:7; Rom 4:18-21; Rom 10:10; Eph 3:12; Heb 4:16; Jam 1:6.
(c) Gal 5:22; Mat 16:17; 2Co 4:13; Joh 6:29; Eph 2:8; Phi 1:19; Act 16:14.
(d) Rom 1:16; Rom 10:17; 1Co 1:21; Act 10:44; Act 16:14.
(e) Eph 2:8; Rom 3:24; Rom 5:19; Luk 1:77-78.
(f) Rom 1:17; Gal 3:11; Heb 10:10; Heb 10:38; Gal 2:16.
So, as iemand bv verkeerdelik glo Jesus het nie vir ons sondes gesterf nie, Jesus is nie God nie, ens., dan openbaar hy daardeur dat hy nie kind van God is nie, en dat Christus nie vir hom gesterwe het nie.
Stem saam dat ons geduldig en liefdevol moet omgang met mekaar, die Gees leer dit vir ons veral in 2 Tim.2:23-26, ek sukkel ook maar met die ongeduld en liefdeloosheid baie keer en moet daarvan bekeer, maar, as ek moet kies, dan gee my eerder ‘n broer wat ongeduldig is met ketterye, dwalinge en valse profete, as meeste van vandag se ‘jelly tot’ proffies en teoloë wat mense meer vrees as vir God, en vir hul preek wat hul wil hoor, en nie die Woord van God, die ware Evangelie nie, sien 2 Tim.4:3,4.
Ek dink oom Louis gee jou baie goeie stof tot nadenke. Wees maar bietjie meer geduldig en liefdevol teenoor hom ?