Die GES/GKSA/NGK/NHK en die inspirasie van die Skrif (deel 3: Leerstellige deel)

(Sien deel 1 vir die agtergrond van hierdie deel: Inleiding oor die Inspirasie van die Skrif)

(Deel 2a: Die getuienis van die Skrif)

(Deel 2b: Jesus en die Apostels se getuienis oor die Skrif)

INHOUD VAN HELE RAPPORT OOR DIE INSPIRASIE VAN DIE SKRIF

Inleiding

1.  Die getuienis van die Skrif.

a.         II Timotheüs 3:15, 16.

b.         II Petrus 1:21.

c.         Die Ou Testament in die Nuwe.

d.         Die Openbaring van die Nuwe Verbond.

e.         Organiese karakter van die openbaring van die twee Verbonde.

2.  Leerstellige deel.

a.         Historiese oorsig.

b.         Definisie van inspirasie.

e.         Inspirasie en openbaring.

d.         Inspirasie en verlossing.

e.         Inspirasie en inkarnasie.

f.          Inspirasie en onfeilbaarheid.

Konklusie.

(Nota: beklemtonings en sekere opskrifte bygevoeg)

2. LEERSTELLIGE DEEL (laaste deel van die rapport)

a. Historiese oorsig.

Die gedagtes van die Gereformeerde kerke van die sestiende en sewentiende eeu aangaande die Heilige Skrif het tot uitdrukking gekom en hulle noukeurigste omskrywing gevind wat die formulering van ‘n belydenisskrif betref, in hoofstuk 1 van die Westminster-Konfessie (1646). Die leerstuk aangaande die Skrif word logies uiteengesit wat betref noodsaaklikheid, omskrywing, gesag, genoegsaamheid, duidelikheid, oordrag, vertolking en finaliteit. In die verband van ons teenswoordige teologiese situasie is twee trekke van hierdie formulering werd om besonder benadruk te word. Hulle het betrekking op die omskrywing en die gesag van die Skrif.

Westminster Konfessie

In die omskrywing van die Skrif hoef daar geen twyfel te bestaan dat die Skrif in sy geheel as “die geskrewe Woord van God” opgevat word nie (Westminster Konfessie I, ii) en dat die Skrif sodanig is omdat dit gegee is deur die inspirasie van God” (idem). Dat onfeilbaarheid beskou word as die gevolg van sodanig inspirasie, word ten oorvloede duidelik gemaak. Want die Konfessie gaan voort om te spreek van die onfeilbare waarheid en goddelike gesag van die Skrif, van sy “onvergelyklike uitnemendhede” en “volkome volmaaktheid (I, v); eis op dat die Skrif is “die onféilbare reël vir die vertolking” (I, ix); bevestig dat dit die Heilige Gees is wat in die Skrif spreek (I, x) en handhaaf dat deur geloof ,,’n Christen glo dat dit waar is wat ook al in die Woord geopenbaar word ter wille van die gesag van God self wat daarin spreek (XIV, ii).

Wat betref die gesag van die Skrif maak die Westminster-Konfessie duidelike onderskeid tussen die grond waarop die gesag van die Skrif rus, en die oorsprong waaruit ons “volle oortuiging en versekering” aangaande dié gesag voortkom. Die gesag van die Skrif rus op die feit dat God die Outeur daarvan is (I, iv), en God is die Outeur daarvan omdat dit gegee is deur sy inspirasie (I, ii). Dit is die feit van die inspirasie wat die Skrif met goddelike gesag beklee. Maar ons volle oortuiging aangaande dié gesag kom voort uit “die inwendig werk van die Heilige Gees, wat getuig deur en met die Woord in ons harte” (I, v). Dit is daarom nie die inwendige getuienis van die Heilige Gees wat die Skrif gesagvol maak nie; die getuienis stel ons slegs in staat om die gesag te herken wat reeds tevore by die Skrif aanwesig is as gevolg van die inspirasie. Daarom is dit ‘n verdraaiing om die Konfessie so voor te stel asof dit sou leer dat die inwendige getuienis van die Gees die faktor is wat die gesag verleen.

Dit is daarom bo redelike twyfel dat die leer wat in die Westminster Konfessie uiteengesit word, die verhewe leerstuk van die inspirasie en die gesag van die Skrif is. Dit moet egter nie veronderstel word dat hierdie geloof in die Skrif as die geskrewe Woord van God ‘n verskil aandui met die geloof wat deur die Gereformeerde Kerke van ‘n vroeëre periode gehuldig is nie. Terwyl die uiteensetting van die leerstuk aangaande die Skrif in die Konfessie die rykste vrugte van Gereformeerde denke verteenwoordig, tog was dieselfde leerstelling in ander Gereformeerde belydenisse beliggaam.

Tweede Helvitiese Konfessie

Geen belydenisskrif het in die Gereformeerde Kerke hoër agting ontvang as die Tweede Helvetiese Konfessie (1566) nie. In hoofstuk I gaan dit om “die Heilig Skrif as die ware Woord van God”, en daar word heel aan die begin gesê “Ons glo en bely dat die Kanonieke Skrifte van die heilige profete en aposte van beide Testamente die ware Woord van God is en dat hulle genoegsame gesag nie van mense nie maar uit hulleself het. Want God self het gespreek tot die vaders, profete en apostels en spreek nog tot ons deur die Heilige Skrifte.

“En in die Heilige Skrif, is vir die universele kerk van Christus alle dinge volledig uiteengesit wat tot die saligmakende geloof behoort en ook tot die vorming van ‘n lewe wat aanneémlik is voor God; en in hierdie opsig word dit uitdruklik deur God beveel dat niks hiertoe bygevoeg of hiervan weggeneem mag word nie (Deut. iv, 2; Openb. xxii. 18, 19).

“Ons verfoei daarom al die ketterye van Artemas, die Manicheërs, die Valentiniane, van Cerdon en die Marcioniete, wat onken het dat die Skrif uitgegaan het van die Heilige Gees of wat anders sommige daarvan nie aangeneem het nie of daaraan verander en korrupsie gepleeg het”.

Galliese Konfessie

Die Galliese Konfessie (1955) verkondig, hoewel in korter vorm, dieselfde gedagtepatroon wat later voller uitdrukking gevind het in die Westminster-Konfessie, naamlik dat die Woord van God “wat in die begin geopenbaar’ is deur godsprake…, later op skrif gestel is in die boeke wat ons die Heilige Skrif noem… saamgevat in die boeke van die Ou en Nuwe Testament” (art. II en III), en gaan dan verder om te bevestig dat “die Woord van God wat hierdie boeke bevat, uitgegaan het van God en sy gesag verkry van Hom alleen en nie van mense nie” (art. V);

Nederlandse Geloofsbelydenis (Belgiese Konfessie)

Dieselfde strekking het die lering van die Belgiese Konfessie (1561) wan­neer dit bely dat die “Woord van God nie gestuur of daargestel is deur die wil van ‘n mens nie, maar dat heilige manne van God gespreek het soos hulle deur die Gees gedrywe is…, En dat God agterna, as gevolg van ‘n besondere sorg wat Hy vir ons en ons verlossing het, sy diensknegte, die Profete en Apostels beveel het om sy godsprake op Skrif te stel” (art. III). Dit verdien die aandag dat hier, soos in die Galliese Konfessie van die sprake van God gesê word dat dit op skrif gestel is. Die Skrif self word daarom voorgestel as die Woord van God wat die godsprake bevat. Artikel IV gaan voort om te bevestig dat hierdie Skrifte wat die godsprake bevat, “saamgevat is in twee boeke, naamlik die Ou en die Nuwe Testament, wat kanoniek is en waarteen niks ingebring kan word nie“.

Teoloë deur die eeue

Hierdie opvatting van die Skrif self was geen nuwigheid wat deur die Gereformeerde Kerke ingebring is nie. B.B. Warfield kan hom met reg beroep op die feit dat “die vroegste skrywers geen ander leer ken nie”. Hy kan Origenes aanhaal as een wat bevestig dat “die Heilige Gees die Medewerker van die Evangelieskrywer was in die samestelling van die Evangelie en dat daarom ‘n vergissing van die geheue ‘n fout of onjuistheid vir hulle onmoontlik was”; en Irenaeus, die leerling van Polycarpus, as een wat vir die Christene opeis “’n heldere wete dat die Skrifte volmaak is, aangesien hulle uitgespreek is deur God se Woord en sy Gees”. Op dieselfde wyse verklaar Polycarpus, die leerling van Johannes, hom die eersgeborene van die Satan “wie ook al die woorde van die Here verdraai”, en Warfield gaan voort: “Ook ken die latere vaders geen ander leer nie. Augustinus byvoorbeeld, bevestig dat hy onder boeke slegs na die kanonieke Skrifte met soveel eerbied en eer verwys dat hy baie vas glo dat nie een van hulle outeurs in enigiets gedwaal het toe hulle geskrywe het nie! Presies dieselfde het die Hervormers geglo en geleer. Luther neem hierdie woorde van Augustinus as sy eie aan en verklaar dat al die Skrifte aan die Heilige Gees toegeskrywe moet word en daarom nie kan dwaal nie; Calvyn eis dat wat ook al in dié Skrif voorgestel word, “sonder uitsondering”, ootmoediglik deur ons aangeneem moet word; dat die Skrifte as geheel deur ons ontvang moet word met dieselfde eerbied wat ons aan God betoon omdat hulle van Hom alleen uitgegaan het en met niks mensliks vermeng is nie” (Revelation and Inspiration, 1927, pp. 54 v.).

Selfs die Kerk van Rome, hoewel dit radikaal verskil van die Protestantse kerke wat betref die enige gesag van die Skrif as reël van leer en lewe, huldig dieselfde beskouing van die heilige boeke wat die Roomse Kerk as kanoniek beskou. Die Konsilie van Trente het uitgespreek dat aangesien God die Outeur was van beide Testamente al die boeke ontvang en geëer moet word met ‘n gevoel van piëteit en eerbied. En die Dogmatiese Dekrete van die Vatikaanse Konsilie van 1870 is meer eksplisiet en emfaties wat betref die feit dat die “boeke van die Ou en Nuwe Testament ontvang moet word as heilig en kanoniek, in hul integriteit in al hulle dele… Hierdie boeke beskou die Kerk as heilig en kanoniek, nie omdat helle, nadat hulle sorgvuldig deur bloot menslike inspanning saamgestel is en hulle agterna op sy (die Kerk se) gesag goedgekeur is nie, ook nie bloot omdat hulle die openbaring sonder ‘n fout bevat nie, maar omdat hulle terwyl hulle geskrywe is deur die inspirasie van die Heilige Gees, God as hulle Outeur het en as sodanig aan die Kerk self oorgelewer is”.

En hier dieselfde Konsilie het sy anathema uitgespreek oor enigeen wat “nie as heilig en kanoniek sal aanneem die boeke van die Heilige Skrif, in hulle geheel in al hulle dele, soos die heilige Sinode van Trente hulle opgenoem het nie of wat sal ontken dat hulle goddelik geïnspireerd is”.

Die posisie wat betref die inspirasie van die Heilige Skrif, soos geformuleer in die Reformatoriese Konfessies, moet dus beskou word as dit wat die algemene kerklike dogma aangaande die inspirasie verteenwoordig, en histories gesien, is dit “die uitgemaakte geloof van die universele kerk van God”. Die universele kerk het “die Bybel (beskou) as ‘n boek van godsprake, — as die Woord van God in so ‘n sin dat wat dit sê, God sê, — nie ‘n boek, dus waarin ‘n mens moontlik deur te soek een of ander woord van God mag vind nie, maar ‘n boek waarop met vrymoedigheid ‘n beroep gedoen kan word op enige plek, in die sekerheid dat wat ook al gevind mag word dat dit sê. dit die Woord van God is” (B. B. Warfield: op. cit., p. 106).

b. Definisie van inspirasie

Inspirasie moet in beide aktiewe en kwalitatiewe sin gedefinieer word. As ‘n woord wat ‘n handeling beskrywe, het dit betrekking op die werksaamheid van God waardeur die besondere openbaring aan die mense gegee is. Wan­neer dit in kwalitatiewe sin verstaan word, het inspirasie betrekking op die eienskap wat aan daardie openbaring eie is as gevolg van die goddelike werksaamheid waardeur die openbaring gegee is, ‘n eienskap wat gepas sy geïnspireerdheid genoem mag word.

Beide aspekte van inspirasie bly waar selfs wanneer God die mens direk aanspreek en nie van die bemiddeling van mense of engele as organe van openbaring gebruik maak nie, Wanneer God sy wil aan mense deur openbaringsorgane bekend maak, het inspirasie in die ak­tiewe betekenis van die woord betrekking op die bonatuurlike invloed wat op hierdie instrumente uitgeoefen word, waardeur hulle tot openbaringsorgane gemaak word en in staat gestel word om te verklaar wat die wil van God is. En inspirasie wanneer dit in kwalitatiewe sin gebruik word, het betrekking op die goddelike karakter en gesag van die openbaring wat gegee is. Inspirasie in aktiewe en kwalitatiewe sin karakteriseer dus alle besondere openbaring, of dit direk van God gegee is of deur die bemiddeling van die daargestelde organe. Teboekstelling is maar een vorm van inspirasie.

Wanneer die woord inspirasie as die predikaat van die Skrif gebruik word, verwys dit, in die ak­tiewe sin van die woord, na die bonatuurlike invloed wat op die Bybelskrywers uitgeoefen word om te verseker dat wat hulle te boek stel, die Woord van God was, en in die kwalitatiewe sin van die woord verwys dit na die goddelike karakter en gesag van dit wat te boek gestel is, ‘n goddelikheid wat voortkom uit die bonatuurlike invloed waardeur die Skrif voortgebring is en wat aan die Skrif permanent eie is as ‘n Godgegewe iets.

Hierdie leerstuk aangaande die inspirasie mag tereg as organiese inspirasie aangedui word. Die doel wat die gebruik van die woord “organiese” dien is om by voorbaat enige idee van ‘n bloot meganiese inspirasie af te wys waarvolgens die Bybelskrywers as blote neerskrywers beskou sou word. Die Gereformeerde leer aangaande die inspirasie gee die gepaste erkenning aan die-menslike aspek van die Heilige Skrif en hou vol dat die Heilige Gees die profete en apostels geïnspireer het. Hy het hulle persoonlikliede nie onderdruk nie en die werksaamheid van hulle kant nie uitgesluit nie. Die noodsaaklikheid van navorsing en nadenking van hulle kant is nie uitgesluit nie, en karakteristieke eienskappe van styl en taal is nie onderdruk nie; hulle het geskrywe in ooreenstemming met hulle eie eienaardighede. Ondertussen het die Heilige Gees vrymagtig hierdie onvolmaakte en feilbare manne op onnaspeurbare maniere voorberei, beheer en gerig met die gevolg dat die woorde wat hulle geskrywe het, God-beademde woorde was wat op onfeilbare wyse God se selfopenbaring aan die mensdom deurgegee het.

Hoewel die Skrifte tot ons gekom het deur die bemiddeling van mense wat aan dwaling blootgestaan het, bied hulle ons tog nie ‘n mengsel van waarheid en dwaling nie. Die werklike Outeur van die Bybel is die Heilige Gees, wat die profete en apostels as sy organe gebruik het, en aangesien die handeling van die Heilige Gees in die inspirasie deurdringend was, is die Bybel geheel goddelik in al sy dele en in al sy elemente, in sy uitdrukkingsvorme sowel as in die inhoud van sy leringe. Kortom, die Bybel is die absoluut betroubare en gesaghebbende Woord van die Allerhoogste God.

c. Inspirasie en openbaring

Die besondere verlossingsopenbaring het sy begin in die oerevangelie wat aan Adam in die Paradys gegee is. Vanaf hierdie begin is dit al voortgaande ontvou totdat dit sy hoogtepunt bereik het indie hoogste openbaring van God in Jesus Christus. Die inspirasie het in alle stadiums van hierdie bekendmaking van God se reddende genade gewerk; dit moet daarom nie beperk word tot die inspirasie wat die Skrif voortgebring het en karakteriseer nie. Laasgenoemde is maar een soort inspirasie, hoewel dit inderdaad die finale en volledige vorm is.

Inspirasie sover as dit die Skrif aangaan, mag gedefinieer word as die “bonatuurlike invloed wat deur die Gees van God uitgeoefen is op grond waarvan hulle geskrifte Goddelike geloofwaardigheid gegee word (B. B. Warfield: op. cit., pp. 77v.). Ons moet nie die standpunt inneem dat inspirasie wat op dié wyse omskrywe word in beide aktiewe en kwalitatiewe betekenisse, slegs te doen het met ‘n goddelike en outentieke optekening van openbaringe wat tevore gegee is nie, nog veel minder met ‘n menslike verslag van die open­baring. Dit is waar dat die Skrif ons ‘n goddelik geoutoriseerde verslag bied van soveel van die geskiedenis van die openbaring as wat God nodig geag het om in die Skrif op te neem. Maar die Skrif is veel meer as ‘n verslag van die openbaring en veel meer as ‘n geïnspireerde getuienis aangaande die open­baring wat in die verlede gegee is. Die Skrif is in sigself openbaringgewend. Die volgende oorwegings getuig vir hierdie feit:

(1) Selfs wanneer dit vir die Skrif gaan om verslag te doen van open­baringe wat in die verlede gegee is op ander maniere as dié van teboekstelling, is dit (die Skrif) meer as ‘n verslag; dit is ‘n geïnspireerde verslag. Daarom het inspirasie as ‘n handeling behoort tot die optekening, en inspirasie as eienskap is van toepassing op die verslag. Die Skrif, in sover dit ‘n verslag is, is dus openbaringgewende verslag en het die betekenis en gesag van openbaring.

(2)    ‘n Groot deel van die Skrif val nie in die kategorie verslag nie. Die Psalms en Briewe bevat gepaste voorbeelde. In sulke gevalle het die openbaring met die skrywe saamgeval en is die openbaring gegee deur die werklike te­boekstelling.

(3)    Die Skrifte is die enigste bestaande vorm van besondere openbaring, die “finale en volledige vorm, as sodanig in gebruik geneem juis vir die doel om God se geopenbaarde wil die blywende en universele besit van die mens te maak” (B, B. Warfield: op. cit., p. 47). Alles wat gesê gaan word aangaande die organiese samehang van openbaring en verlossing, is van toepassing op die Skrif as die finale, volledige en die enigste bestaande vorm van die be­sondere openbaring. Die Skrif is verlossingsopenbaring en is daarom nie slegs ‘n begeleidende verskynsel van God se verlossingsdade en van die vervulling van sy verlossingsoogmerke nie, dit is in sigself ‘n wesenlike en onmisbare element van die proses waardeur God sy verlossingswerk uitgevoer het en waardeur Hy voortgaan om sy verlossingsdoeleindes tot volmaaktheid te bring.

d. Inspirasie en verlossing

Hoewel besondere openbaring voor die val van die mens gegee is en hoe­wel die waarheid wat op dié wyse aan Adam geopenbaar is, van goddelike aard en gesag was en daarom geïnspireerd, is nogtans die groot hoeveelheid openbaring wat in besonder aan die mensdom oorgedra is, gegee ná die sonde ingekom het en word dit wat sy inhoud en strekking betref, deur dié feit bepaal. Hoewel nie alle besondere openbaring wat ná die val gegee is, spesifiek verlossend van karakter is nie, soos byvoorbeeld die nasondvloedse Noagitiese verbond, nogtans is dit in ‘n groot mate binne die verloop van die verlossing wat die besondere openbaring plaasvind.

Die voorwaardes van die verlossing is van toepassing gemaak op die mens vanaf die aanvang van sy geskiedenis as ‘n gevalle wese, en hierdie voorwaardes het God se benadering van die mens bepaal. Aangesien inspirasie te doen het met die openbaring van God tot die mens, daarom is die vraagstuk van die inspirasie de facto in ‘n baie groot mate in ‘n wederkerige betrekking met die verlossing.

Verlossing in sy sentrale betekenis is die werk van God en God alleen. As handeling veronderstel dit nie enige kennis van die kant van die mens vooraf nie. Maar as gevolg van twee redes kan verlossing nie tot verwerkliking kom sonder begrype van die kant van die mens nie.

(1) Die mens word die begunstigde in die verlossing, en aangesien begrypende bewussyn hoort tot die beskrywing van die mens as geskape na die beeld van God, daarom kan hy nie ‘n deelgenoot van die verlossing wees sonder dat hy van die feit bewus is nie.

(2) Die bewussyn van die mens moet self verlos word, omdat die sonde en sy gevolge die mens se bewussyn verwar en verderwe het. Daarom moet verlossing openbaring wat verlossend van karakter is, omvat en moet dit beantwoord aan daardie openbaring op ‘n manier wat in die bewussyn tot verwerkliking bring dié verlossing waarvan die mens ‘n deelgenoot is. Inspirasie is dus ‘n noodsaaklike deel van die verlossing om­dat dit deur inspirasie is dat die verlossingsopenbaring meegedeel word. Inspirasie as handeling is daardie proses waardeur die openbaring meegedeel word, en inspirasie as eienskap is onontbeerlik om die goddelike karakter en gesag van die waarheid te verseker wat die mens se bewussyn in beslag neem en dien tot sy verlossing.

Dit is ‘n drogrede om te veronderstel dat die verlossingsdade van God in geskiedenis in hulleself openbarend is los van die woord wat hulle verklaar. Verlossingsdade sonder verklaring sou dooie dade wees sonder enige uitwerking op die bewussyn van die mens. Daarom word die verlossingsdade altyd vergesel van die verklarende en openbarende woord, en die verlossingsdade word nooit toegelaat om hulleself te vertolk nie.

Hierdie verklarende openbaring mag egter nie as ‘n blote begeleidende verskynsel van die verlossingsdade beskou word nie; dit is self ook ‘n verlossingsdaad daarin dat dit gerig is op die bewussyn van die mens om sy verlossing te bewerkstellig. Die innige verhouding wat die openbaring ten opsigte van die verlossing handhaaf, beteken dat die voortgang van die openbaring organies verbonde is met die voortgaande uitvoering en verwerkliking van die verlossing. Met die opstapeling van God se verlossingsdade en die versnelling van die verloop van die verlossing was daar ‘n ooreenstemmende versnelling in die verloop van die openbaring. En toe die objektiewe bewerkstelliging van die verlossing sy voltooiing in die volheid van die tyd bereik het, het die verloop van die open­baring ook tot sy ooreenstemmende voltooiing gekom.

Dit is die verklaring vir die voltooiing van die kanon van die openbaring. Teboekstelling as die finale vorm van die openbaring is daarom gelykluidend met die organiese verhouding waarin die openbaring tot die verlossing staan. Die grafiese inspi­rasie as die wyse waarop die te boek gestelde openbaring die blywende besit van die kerk van God gemaak is, is die waarborg vir die goddelike karakter en gesag van die openbaring wat onmisbaar is vir die voortgaande verwerkliking in die geskiedenis van God se verlossingsdoel. Die te boek gestelde Woord is die enigste bestaande vorm van die besondere openbaring. En as die enigste bestaande vorm van die openbaring is dit nie slegs ‘n begeleidende ver­skynsel van die voortgaande verwerkliking van God se verlossingsdoel nie maar ‘n samestellende deel van daardie verlossingsproses waardeer die verlossingsplan voortbeweeg tot sy voleinding in die verskyning van die heerlikheid van die grote God en ons Verlosser Jesus Christus.

Hierdie organiese verhouding wat die Skrif tot die verlossing handhaaf, verhinder ons om die Skrifte as bloot menslike geskrifte te beskou. As ons aan die Skrifte ‘n gesag en karakter toeskrywe wat tekort doen aan die goddelikheid wat eie is aan die verlossingswerk self, beide in sy eenmalige historiese voltooiing en in sy voortgesette toepassing, dan is ons skuldig aan vooroordeel teenoor die aard van die verlossingsproses. Ons is verplig om die Skrif te gebruik met daardie sorg en eerbetoon wat die goddelike gaafheid van die verloop van die verlossing vereis.

e. Inspirasie en inkarnasie

Dit moet ondubbelsinnig bely word dat die vleesgeworde Seun van God Self die hoogste openbaring van God is. Hy is Self die Waarheid, die Beeld van die onsienlike God, die afskynsel van die heerlikheid van die Vader en die uitdrukte beeld van sy persoon. Hy is hipostaties die Woord van God wat vlees geword het en onder die mense gewoon het sodat hulle sy heerlikheid as die Eniggeborene van die Vader aanskou het. Openbaring het deur Hom persoonlik geword op ‘n manier wat op geen ander van toepassing kon wees nie.

En die uitwerking daarvan is dat terwyl ons met Hom gekonfronteer word, ons nie net gekonfronteer word met die openbarende Woord van God nie, maar met God self geopenbaar in die vlees. Hier het ons die unieke en onvergelyklike feit in die hele verloop van die verlossing en van die besondere openbaring. Die hoofsom van die verlossing en openbaring is saamgetrek in Hom en in sy afgeronde en voortgesette werk.

Dit moet egter nie veronderstel word dat sentrale en unieke betekenis van Jesus Christus as die hipostatiese Woord inbreuk maak op of op enige wyse afbreuk doen aan die noodsaaklikheid of aktualiteit van die inspirasie soos hierbo omskrywe, hetsy in sy aktiewe hetsy in sy kwalitatiewe betekenis van die woord nie. Daar is drie opsigte waarin die inspirasie met die feit van die inkarnasie in verband gebring moet word.

(1) In die geval van Christus self sluit die feit dat Hy die hipostatiese Woord is, nie die noodsaaklikheid van die inspirasie as aan Hom verbonde uit nie. Hy het gepreek deur inspirasie, en inspirasie was eie aan: die woorde wat Hy gespreek het. “Die voorstelling — dat Christus alle dinge sonder inspirasie vanself geweet het — is niks minder as die loëning van die vleeswording van die Woord nie. Die bewussyn van God en die Middelaarsbewussyn van die Christus is nie een nie maar twee, en die oorplasing van Goddelike gedagtes van die bewussyn van God na die bewussyn van die Christus is nie slegs inspirasie nie maar inspirasie in sy hoogste vorm. Dit is in sigself die natuurlike gevolg van sy werklike aanneming van die menslike natuur; maar die noodsaaklikheid hiervan is bowendien verhoog as gevolg van sy aanneming van daardie natuur in al sy swakheid, op die enkele uitsondering van. die sonde na (Hebr. 4:15), wat op hierdie stadium aantoon dat daar in Jesus geen leuen teen die waarheid opgestel was nie wat, soos in die geval van die gewone profete, eers onderdruk moes word nie” (Abraham Kuyper; Encyclopaedie der Heilige Godgeleerdheid, deel II, pp. 492 v.; vgl. E.V., pp. 537 v.).

(2) Die feit dat Jesus Christus die Woord van God is, raak nie die in­spirasie nie en maak die inspirasie wat by die gesproke en geskrewe Woord van God hoort ook nie oorbodig nie. Die opvatting van die dialektiese teologie hou in dat ons ontmoeting met die Woord van God altyd persoonlik moet wees, en daarom beteken vereenselwiging van die Skrif met die openbarende Woord van God dat die Woord van God in ‘n statiese, onpersoonlike liggaam van geskrewe woorde ingekerker word. Dit, so word beweer, lei tot Bybel-vergoding, en sien die feit dat daar slegs een inkarnasie van die goddelike Woord is, oor die hoof.

Dit moet bely word dat Jesus Christus die vleesgeworde Woord van God is en dat die ontmoeting met Hom ontmoeting met God is en dat die ontmoeting altyd persoonlik is. Dit moet ook bely word dat die sentrale doel van die Skrif is om getuienis te lewer aangaande Hom en om ons te konfronteer met Hom as die vleesgeworde Woord en Waarheid; dit is slegs wanneer ons Hom ken dat ons hom tot kennis van God wat die ewige lewe is. Maar die gevolgtrekkinge wat van hierdie feite gemaak word in belang van die ontkenning of prejudisering van die inspirasie van die geskrewe Woord, moet teëgestaan word as vals en tot oneer van Christus as die hipostatiese Woord.

      (a) Christus as die vleesgeworde Woord word nooit buite die Skrif om met ons in aanraking gebring nie; die Skrif is altyd die feit wat voorafgaan. Die geskrewe Woord is daarom onmisbaar vir konfrontasie met die persoonlike Woord.

(b) Die sentrale plek wat Christus as vleesgeworde Woord inneem, kan nie losgemaak word van die openbaarmaking van Christus in die dae van sy omwandeling en van die getuienis wat Hy aangaande Homself in daardie open­baarmaking gegee het nie. Maar om aan sy openbaarmaking en getuienis te dink los van die woorde wat Hy gespreek het, is ‘n abstraksie wat geen betekenis of werklikheid besit nie. En die woorde wat Jesus gespreek het, is nie beroof van hulle openbarende karakter bloot omdat Hy wat sy persoon betref, die vleesgeworde Woord was nie. Sy woorde was openbaringgewend omdat HyGod was in die vlees geopenbaar. Dat die woorde wat Hy gespreek het, geïnspireerd was in beide die aktiewe en die kwalitatiewe betekenis van die woord inspirasie en om dié rede onfeilbaar was, het nie in die minste die feit geraak dat Hy die vleesgeworde Woord was nie. Die volledige inspirasie van sy woorde het voortgevloei uit die feit dat Hy die Waarheid was; en die feit dat Hy die waarheid was, het die onfeilbaarheid van sy gesproke Woord gewaarborg. As sy onfeilbare woord nie onversoenbaar was nie met, maar eerder in ooreenstemming met die sentrale plek wat Hy as vleesgeworde Woord inneem, dan is openbarende en geïnspireerde nie onverenigbaar met openbaring nie maar onmisbaar daarvoor.

(c) Vir ons wat nie onmiddellike kontak het met die Seun van God soos Hy openbaar was in die dae van sy omwandeling en wat Hom nie hoor spreek soos die dissipels Hom gehoor het nie, vir ons moet daar ‘n ander weg wees waarlangs ons die Openbarende woord ontvang. Ons sou andersins afgesny wees van kontak met Hom net so seker as wat hulle in die dae van sy om­wandeling sou afgesluit wees van ontmoeting met die vleesgeworde Woord tensy openbarende, gesproke woorde die medium van sy self-mededeling was. Daarom as die openbarende woord, woordelike mededeling, onmisbaar is, is die enigste medium wat vir ons beskikbaar is, die te boek gestelde Woord.

(d) Dit is om logiese redenering belaglik te maak om van die feit dat Jesus Christus die vleesgeworde Woord en saamtrekpunt van die Skrif is af te lei dat die geïnspireerde en openbarende aard van die Skrif om die rede uitgeskakel is of om te veronderstel dat die letterlike inspirasie tot Bybel-vergoding lei. Waarom sou teboekstelling as ‘n manier van woordelike mede­deling meer in die betekenis van die vleeswording ingryp as wat die woorde van Jesus in die dae van sy omwandeling dit gedoen het? Daar is niks in die aard van die teboekstelling wat dié manier van woordelike mededeling minder openbarend of gesagvol maak nie. Onse Here en sy apostels het hulle op die Skrif as ‘n afdoende gesag beroep. En hierdie getuienis verseker ons dat geen manier van woordelike mededeling vaster en gesagvoller as die van die teboekstelling kan wees nie.

Die polemiek wat die dialektiese teologie voer in die ontkenning van die openbarende karakter van die Skrif self, uit eerbied vir die beginsel dat openbaring persoonlik moet wees en ons in ‘n persoonlike ontmoeting moet intrek, , en bly in gebreke laat na om in berekening te bring die onmisbare plek wat die ge­sproke woord in die eksistensiële ontmoeting met God inneem om rekening te hou met die implikasies van die verhouding wat die woordelike medeling met die openbaring van Jesus as vleesgeworde Woord handhaaf.

(3) Van die analogie wat soms gemaak word tussen die vereniging van die goddelike en die menslike in die Persoon van Jesus Christus en die ver­eniging van die goddelike en menslike in die inspirasie van die Skrif, kan nie gesê word dat dit heeltemal sinloos is nie. Die vleeswording vertoon inderdaad die verbinding van die goddelike en die menslike op die hoogste vlak waarop so ‘n verbinding denkbaar en werklikheid is. En dit is ‘n bewys van die waarheid dat aangesien die mens geskape is na die beeld van God, daar nie so ‘n ongelykheid tussen God en mens is dat dit die ver­eniging op hierdie vlak onversoenbaar met die natuur van God of die mens maak nie. En aangesien daar ‘n verbinding is in hierdie hoogste sfeer van verwantskap, sou dit in teëspraak met ‘n analogie wees om die moontlikheid uit te sluit, soos dit ook inderdaad in teëspraak met ‘n analogie sou wees om die werklikheid van ‘n verbinding uit te sluit in ander verhoudingsfere en sfere van werksaamheid.

Om presies te wees, die vereniging wat in die vlees­wording te sien is, verwyder die beswaar wat gevoel mag word teen die saamwerkende werksaamheid (naamlik van die goddelike en die menslike) wat die leerstuk van die inspirasie van die Skrif inhou, en dit berei ons voor vir die waardering van die soort saamwerkende werksaamheid waardeur die Skrif, hoewel gegee deur die bemiddeling van mense, terselfdertyd in sy geheel die Woord van God is. Nietemin, die radikale onderskeid tussen die vereniging wat daar in die Godmens bestaan en die verbinding wat in die inspirasie van die Skrif getoon word, verhinder ons om ‘n parallelisme tussen die inkarnasie en inspirasie daar te stel.

(a) Die vleeswording is heeltemal uniek, en sy eiesoortigheid mag nie verkleineer word deur die instelling van parallelle nie; daar is geen ander feit wat met die vleeswording vergelykbaar is nie.

(b) Inkarnasie beteken dat onse Here ware God en ware mens is. Hy is alles wat God is, en Hy is alles wat die mens is, onverminderd goddelik en onverminderd menslik. Maar ons mag nie sê dat die Skrif beide menslik en goddelik is nie of dat dit ‘n menslike element besit en een wat goddelik is nie. Die Skrif is heeltemal goddelik, hoewel dit in sy geheel deur die bemiddeling van mense gegee is.

(c)     Die menslike natuur van onse Here was volmaak, heeltemal vry van sondige swakheid en dwaling. Die menslike instrumente wat God as die organe by die teboekstelling gebruik het, was nie sonder sonde in hulleself nie. Hierdie feit het die teenwoordigheid van sekere faktore in die inspirasie van die Skrif nodig gemaak wat nie in onse Here werksaam was nie.

(d)    Inkarnasie beteken die hipostatiese vereniging van die nature. Daar is geen sodanige verbinding in die inspirasieproses nie. Die menslike instrumente is gedrywe deur die Heilige Gees, maar hulle is nie persoonlik met die goddelike verenig nie.

(e) Die inspirasie as werksaamheid was ‘n verbygaande gawe; die inkar­nasie is ‘n blywende feit.

Die vleeswording bewys dat die menslike natuur ‘n geskikte openbarings-medium van God tot die mens is en toon aan dat die beperkinge eie aan die menslike natuur nie afdoen aan die volmaaktheid en onfeilbaarheid van die gegewe openbaring nie. Maar die verskil tussen die soort vereniging wat deur die inkarnasie daargestel word, en die soort verbinding wat inspirasie inhou, is so fundamenteel dat ons ons nie op eersgenoemde kan verlaat om aan te toon wat alles aan laasgenoemde verbonde is nie.

f. Inspirasie en onfeilbaarheid

Die stelling dat die Skrif onfeilbaar is, is dieselfde as die bewering dat dit vas en seker is, dat die Skrif nie gebreek kan word nie (Johannes 10:35). Onfeilbaarheid is ‘n afleiding wat gemaak word uit die feit dat die hele Skrif deur God geïnspireer is. Want as inspirasie van die Skrif gesê kan word, dan moet dié inspirasie hom uitstrek tot die onderskeie besonderhede wat die samestellende dele van die geheel is, en dan moet dit hom ook uitstrek tot die woorde wat in toepaslike en betekenisvolle verhouding tot mekaar die media van uitdrukking en mededeling is. Onfeilbaarheid is dus in ooreenstemming met woordelike inspirasie.

Die opvatting van onfeilbaarheid moet egter nie willekeurig gevorm word nie; dit moet uit die Skrif self afgelei word. Ons mag nie aan die Bybel voor­afgevormde kriteria van die waarheid oplê nie, en net so mag ons nie die Skrif onderwerp aan voorafgevormde opvattinge oor onfeilbaarheid nie. Dit is maklik vir die teëstanders van onfeilbaarheid om kriteria op te stel waarvolgens maklik aangetoon kan word dat die Skrif verkeerd is. En die voorstanders van onfeilbaarheid bewys geen diens aan die leerstuk aangaande die Skrif deur reëls aan te neem wat nie met die Skrifgegewens ooreenkom nie. Ons moet aan onfeilbaarheid konkreet dink en ons kriteria suiwer van die a priori en meganiese opvattinge wat dikwels met onfeilbaarheid verbind word, veral in die gedagtes van hulle wat vyandig is teen die leerstuk.

Die sillogisme: Gods Woord is onfeilbaar, die Bybel is Gods Woord, daarom is die Bybel onfeilbaar, is nie sonder geldigheid nie. Want dié sillogisme rus op voorveronderstellinge afgelei uit die Skrif aangaande God, die Bybel en Gods Woord. Die onderliggende aksioma is dat God waarheid is en nie kan lieg nie, ‘n premis waarsonder alle argumentasie oor hierdie vraagstuk futiel is. Maar hoe waar die sillogisme ook al is, is -dit tog nie ‘n geskikte manier om die onfeilbaarheid van die Skrif te handhaaf of te verdedig nie. Die betekenis van die woord onfeilbaarheid moet uit die Skrif vasgestel word, en dit word deur die sillogisme veronderstel, nie bewys nie.

In alle vraagstukke wat betrekking het op die leerstuk aangaande die Skrif, moet dit in gedagte gehou word dat die betekenis van die Skrif die Skrif is; dit wat die Skrif beteken, maak die Skriflering uit. Die beginsels van die wetenskap van die hermeneutiek moet met ywer toegepas word. Die analogia Scripturae byvoorbeeld vereis dat in die behandeling van enige on­derwerp wat die Skrif tot ons kennis bring, al die gegewens wat op die onder­werp betrekking het, in aanmerking geneem moet word; en wanneer moeilikhede of skynbare teenstrydighede voorkom, moet ons ook in gedagte hou dat die beperkinge van ons kennis dikwels op ons die noodsaaklikheid lê om rekening te hou met gegewens wat aan ons onbekend is wat as hulle bekend was, die moeilikheid of skynbare teenstrydigheid sou uitskakel. Verder: dit moet onthou word dat dit nie die doel van die Skrif is om ons te voorsien van al die inligting wat betrekking het op die openbaringsgegewens wat die Skrif bied nie. Om nie meer te sê nie — dit sou onmoontlik wees. Die implikasies wat opgesluit is in en die voorbehoude wat voortkom uit die genoegsaamheid van die Skrif, het nodig om gewaardeer en bewaak te word. Die Skrif voorsien wat genoegsaam is vir leer en lewe, en die genoegsaamheid van die Skrif is in wederkerige verhouding met sy volmaaktheid om die doel waarvoor dit bestem is, te vervul.

Wanneer reëls soos hierdie in die oog gehou word, word die leerstuk van die onfeilbaarheid bevry van die kunsmatige beklemminge waarvolgens dit te maklik opgevat word. Onfeilbaarheid maak volle voorsiening vir die variasie wat dikwels in die Bybelse voorstellinge voorkom. Die menigvuldige perspektiewe waaronder die historiese feite besien en vertolk kan word en van waaruit die groot waarhede van die goddelike openbaring beskou kan word, word ten volle erken en gehandhaaf. Die verskille wat dikwels na bewering die teenstrydigheid uitmaak, is die bewyse van die rykdom en die volheid van die waarheid, ‘n rykdom en volheid wat aan ons bewys word deur die verskeidenheid van voorstelling wat die Skrif so dikwels toon. Die besware teen onfeil­baar spruit te dikwels voort uit die nalatigheid om nie alleen die noodsaaklikheid nie maar ook die grootsheid van hierdie verskeidenheid te waardeer. Bybelse onfeilbaarheid moet nie met pedantiese kunsmatigheid vereenselwig word nie. Onfeilbaarheid maak volle voorsiening vir die verskeidenheid wat eie is aan die waarheid, en vir die verskeidenheid van literêre middels wat die taal van stereotiepe eenvormigheid en eentonigheid red.

KONKLUSIE

  1. Die leerstuk van die inspirasie wat in die voorafgaande rapport uiteengesit is, kom daarop neer dat die Heilige Skrif alleen en die Heilige Skrif in sy geheel die geskrewe Woord van God is, gegee deur die inspirasie van God om die reël van leer en lewe te wees, ‘n inspirasie wat noodwendig as volledig, organies en woordelik gekarakteriseer moet word, en ‘n inspirasie so uniek in sy uitwerking dat die Skrif nie alleen die Woord van God is nie maar ook dat die Woord van God vir ons die Skrif is.
  2. Hierdie leerstuk van die inspirasie leer wel aan die een kant dat die menslike outeurs van die Skrif op bonatuurlike wyse beïnvloed is om te verseker dat wat hulle skrywe, op onfeilbare wyse God se selfopenbaring meedeel, maar handhaaf aan die ander kant ook dat die Heilige Gees nie hulle persoonlikhede onderdruk het nie maar eerder dat Hy hulle vrymagtig voorberei, beheer en gerig het op so ‘n wyse dat Hy hulle gawes en ondervinding, hulle navorsing en nadenke, hulle taal en styl gebruik het. Hierdie menslike kant van die Skrif maak egter nie toelating vir die afleiding dat die Skrif as ‘n feilbare menslike getuienis aangaande die goddelike openbaring beskou word nie, want so ‘n beskouing beteken ‘n aanval op die heerlike soewereine werk van die Heilige Gees in die inspirasie.
  3. Hierdie opvatting aangaande die Skrif is die eis wat voortspruit uit die getuienis wat die Skrif self gee met betrekking tot sy goddelike oorsprong, aard en gesag. In besonder word dit ge-ëis deur die getuienis van onse Here en sy apostels, en om ‘n ander opvatting daarop na te hou beteken om die getuienis van Jesus en die apostoliese instelling te verwerp.
  4. Hierdie leerstuk aangaande die Skrif moet nie beskou word as ‘n addendum wat laat vaar kan word nie, veel minder nog as ‘n blote menslike aangroeisel by ons Christelike geloof. Die Heilige Skrif is die enigste bestaande vorm van die verlossingsopenbaring. Geloof in die Skrif as synde God-beademde openbarende Woord lê opgesluit in ons geloof in die goddelike aard van die verlossing self.
  5. Hierdie beskouings dat die Skrif baie duidelik getuienis lewer wat betref sy eie God-beademde oorsprong en aard en dat dit as verlossingsopen­baring noodwendig gekenmerk word deur die goddelikheid wat by die verlossing hoort, is die verklaring van die volgehoue geloof van die historiese Christelike Kerk dat die Skrif in sy hele omvang en in al sy dele die onfeilbare en onfeillike Woord van God is.
  6. Vir hierdie geloof soos dit tot syvolste en konsekwenste uitdrukking gekom het in die belydenisskrifte van die Gereformeerde Kerke, getuig die Gereformeerde Ekumeniese Sinode en soek op die grondslag van hierdie leerstuk aangaande die Skrif om te getuig vir die hele raad van God in die eenheid van die Gees en in die band van vrede.

HERMAN KUIPER, Voorsitter. FRED H. KLOOSTER, Skriba.

One thought on “Die GES/GKSA/NGK/NHK en die inspirasie van die Skrif (deel 3: Leerstellige deel)

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: