Teen die Israelvisie, die Evangelie !

Die Vernaamste Sondaar

deur ds. Gustav Opperman (GK Matlabas)

Lees Fil 3:1-8; 1 Tim 1:1-2:7

Teks: 1 Tim 1:15, Dit is ’n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.

Geliefdes,

In hierdie brief val die apostel Paulus sommer met die deur in die huis:

Daar’s ’n probleem in Efese … sommer ’n groot probleem …

en die probleem moet hanteer word word.

Daar’s mense in die Efese-gemeente wat hulle met snert besig hou

en hulle moet aangespreek word.

Hulle leer ’n ander leer.

Hulle hou hulle besig met fabels …

met eindelose geslagsregisters …

Hulle hou hulle besig met twisvrae …

En dit waarmee hierdie gemeentelede besig is,

werk ondermynend …

Dit ondermyn die evangelie van die heerlikheid van die salige God.

Die evangelie wat aan domineeTimoteus toevertrou is …

Die evangelie wat aan die apostel Paulus toevertrou is …

Dit ondermyn die betroubare Woord

die betroubare Woord wat werd is

om ten volle aangeneem word

En daardie Woord gaan oor net een sentrale waarheid:

Christus Jesus het in hierdie wêreld gekom

Hy het in hierdie wêreld gekom met een groot doel:

Hy het gekom om sondaars te red

Daar is een Middelaar tussen God en die mensdom …

Dis die mens Christus Jesus

en Hy wil hê,

dat alle soorte mense gered word

Nou mag u wel vra, Broeders en Susters,

wat dan nou eintlik die probleem met die geslagsregisters was?

en hoekom was die mense in Efese se belangstelling in die wet so afbrekend?

Dis mos ’n goeie ding om ’n geslagsregister te hê?

om te weet waar jy vandaan kom …

Die Here sê dan self in sy Woord, in Jes 51:

Aanskou die rots waaruit julle gekap is.

Aanskou Abraham, julle vader,

Aanskou Sara, wat julle gebaar het … (Jes 51:1b,2a).

En dan weer in die brief aan die Hebreërs hoor ons:

Gedenk julle voorgangers … (Heb 13:7).

Dis sekerlik goed om te weet

(soos in my geval)

om te weet dat jou voorgeslagte uit die Deense koningshuis kom …

dat daar ook Hugenote bloed in jou are vloei …

dat daar stoere Doppers onder jou voorsate was:

Snymans en Pretoriusse …

dat jou oupagrootjie aan moederskant as rebel in die Anglo-Boereoorlog geveg het

en dat jou ouma aan vaderskant twee konsentrasiekampe in dieselfde oorlog oorleef het …

om te weet dat jou vader ’n taal-en kultuurstryder was soos min …

Dis goed om te weet …

Aanskou die rots waaruit jy gekap is

As meer Afrikaners dit maar vandag ’n besef het …

’n besef het dat hulle deel het aan ’n volk met trotse verlede …

’n volk wat hulself in hierdie land deur onstaglike gevare heen gevestig het.

Dis goed om daardie voorgangers te gedenk …

Nou, wat is dan nou eintlik die probleem met die geslagsregisters?

Geliefdes, daar was gemeentelede in Efese,

wat hulle herkoms gebruik het,

om hulself teenoor ander mense te verhef …

ander wat nie daardie afkoms met hulle gedeel het nie.

Hulle het gesê:

Ons kan ons geslagsregister na vader Abraham terugvoer…

Ons is die nasate van God se uitverkore volk, van Israel …

Die res van die mensdom, die ander … wel wie weet waar hulle vandaan kom?

Kain se kinders miskien?

Gam se nageslag?

Was Kus en Nimrod hulle voorsate?

Wie weet …

Ons is die uitverkore volk …

Die res is die goyim, die nasies, die onbesnedenes, die sciths, die barbare, die vervloektes …

Dit beteken ons is hier bo,

die ander … hulle is daar onder …

En so loop die gesprekke in die gemeente van Efese …

Maar nie net in Efese nie …

Ook in die apostel se brief aan Titus lees ons

dat die gemeente op Kreta met dieselfde probleem gesit het.

Daar vermaan Paulus vir Titus

om dwase strydvrae en geslagsregisters te vermy.

Vroeër in die brief waarsku hy ook teen Joodse fabels

dieselfde fabels wat Paulus ook in sy brief aan Timoteus noem.

Waar kom die fabels vandaan?

Fabels is fantastiese versinsels uit die voortyd.

Wanneer ons geslagsregisters in die newels van die tyd vervaag,

dan neem die fabels oor …

dan word daar verhale opgemaak …

dan neem die verbeelding vrye teuels …

Daar waar die geslagregisters tekortskiet,

daar neem die legendes oor.

U is miskien bewus daarvan, Broeders en Susters,

dat daar die afgelope dekades so ’n fabel onder ons mense geloofwaardigheid begin verkry het …

en dit is

dat die Afrikaners die direkte afstammelinge van die verlore tien stamme van Israel is …

en dat die Bybel net vir Westerlinge bedoel is

en niemand anders nie …

Dis nie meer net tientalle

wat dit glo nie,

maar hulle tel nou al in hulle duisendtalle …

Volgelinge van die sogenaamde Israelvisie in een of ander vorm …

Studente van eindelose geslagregisters,

fabelvolgelinge …

mense wat net twisvrae bevorder …

en uiteindelik gaan dit maar net oor een ding …

Ons hier bo,

die ander, die res … daar onder …

Terloops, hierdie siening geld vandag nog in Israel.

’n Bekende godsdiensleier in Israel, Rabbi Yosef, het in die afgelope tyd die volgende by ’n openbare byeenkoms in Jerusalem gesê …

Hy sê:

Die Goyim was slegs gebore om

die Jode te dien …

Daarsonder het die nasies geen plek in hierdie wêreld nie …

net om die volk Israel te dien …

Die Jode daarbo,

Die res, ook u en ek, is slegs geskape om hulle te verryk en verheerlik.

In ons Skrifgedeelte noem die apostel Paulus ook ’n ander verskynsel,

wat in Efese sy kop uitgesteek het:

die dwaalleraars probeer ook

om leraars van die wet wees …

Nou mag u ook wel vra,

wat het die Ou Testamentiese wetsonderhouding met die geslagregisters te doen?

Wel, as die geslagsreigters ‘n onderskeid tussen die Jode en die res daargestel het,

dan het die nougesette wetsonderhouding daardie afstand nog verder vergroot …

Nie net het die Jode se afkoms hulle in ’n spesiale kategorie van genade gestel nie,

maar ook die feit dat hulle die wet geken het

en dit onderhou het …

is ’n teken dat hulle God se uitverkore volk is …

Dis die ou probleem van die Farisieërs …

Hulle sê:

Ons ken die wet …

die res nie …

Ons onderhou die wet…

die ander kan nie …

Daarom is die res onkuis, onrein,

vieslike vuil sondaars …

Hulle is die onbesnedenes …

Hulle eet nie die regte kos nie …

Hulle onderhou nie die regte sabbat nie …

Hulle ken nie die Here se regte verbondsnaam nie …

Ons lees in Johannes se Evangelie

dat die Farisieërs van mening was,

dat die skare, die breë bevolking,

wat die wet nie ken nie,

dat daardie mense vervloek was … (Joh 7:49).

U is ook miskien bewus daarvan, Broeders en Susters,

dat daar die afgelope dekades onder baie Afrikaners ’n toename in Ou Testamentiese wettisisme is …

die tipe waarvoor die Farisieërs en hierdie Jode in Efese bekend was.

Daar is ’n toenemende aantal Afrikaners,

wat nou die Joodse Sabbat begin navolg …

Daar is selfs van hulle,

wat nou weer die ou Loofhuttefees begin vier.

Daar is ’n toenemende aantal wat daarop aandring,

dat die HERE se Hebreeuse Name gebruik moet word …

Vervloek is jy,

as jy nie HERE as Jahwe aanspreek nie …

Ander sê weer jy moet Jehova sê …

En, o ja, dis nie Jesus nie,

Maar Jehashua ,of iets dergliks …

U sien, nou is ons weer daar heel … heel bo …

en die ander, die res?

Kyk hulle is daar heel, heel onder …

Dis nie waarvoor God se wet bedoel is nie, Broeders en Susters,

so sê die Here se apostel in ons Skrifgedeelte.

Dis nie ’n wettige gebruik van die Here se wet nie.

Die wet is gegee vir tugtelose mense,

Goddeloses, moordenaars, hoereerders, sodomiete, leuenaars …

nie om die breë mensdom op allerhande wyses van God se genade te probeer uitsluit nie …

Hy is die God wat wil hê dat alle soorte mense gered word

en tot kennis van die waarheid kom

Dis mos wat ons hier saam gelees het.

Nou waar laat dit ons alles, Geliefdes?

Wat sal ons van al hierdie dinge sê?

Kom ons volg Paulus die Here se apostel,

’n apostel volgens die bevel van God, ons Verlosser

Ons kyk eerstens wat hy in die brief aan die Filippense skryf …

Ja, in Filippi was daar ook ’n probleem met ’n Joodse elite.

In Fillippense drie sê Paulus,

dat hy rede het

om self op die vlees te vertrou

Sy geslagsregister is reg …

Hy kom uit die geslag van Israel

Hy kom uit die stam van Benjamin

Trouens, hy is ’n Hebreër onder die Hebreërs

Dis so goed hy sê:

“Ek is ’n Afrikaner-Boer onder die Afrikaner-Boere” …

Wat die geregtigheid in die wet betref,

is sy CV ook onberispelik …

Hy is besny op die agste dag

Hy is opgelei as ’n Farisieër

Sy herkoms het hom daar bo geplaas …

Sy kennis en die wet …

sy onderhouding van die wet het hom daar heel bo geplaas …

Maar dan gaan Paulus verder, en skryf:

wat vir my wins was,

dit het ek om Christus wil skade geag.

Ja waarlik, ek ag ook alles skade,

om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here,

ter wille van wie ek alles prysgegee het

en as drek beskou,

om Christus as wins te verkry (Fil 3:7,8).

Ter wille van Jesus Christus gee ek my afkoms prys.

Ek gee ek my status as Farisieër prys, ter wille van Jesus Christus.

Nee, nog meer …

ek beskou dit alles as drek.

Drek … ’n sterk woord …

Hierdie woord kom net een maal in die Nuwe Testament voor …

Die Nuwe Vertaling het die betekenis daarvan probeer versag,

deur dit met waardeloos te vertaal …

Drek is nie net “waardeloos” nie, Geliefdes …

Drek is diereuitskeiding …

Dis wat drek is.

Ter wille van Jesus Christus gee ek al hierdie dinge waarop ek sou kon roem, prys.

Nee, nog meer …

Ek beskou dit alles as hondemis

om Christus as wins te verkry …

Aaah, Christus as wins …

die evangelie van die heelikheid as wins …

Daar’s niks beter op die hemel en op die aarde nie …

Dis my enigste … enigste troos in lewe en in sterwe.

Die genade van ons Here was vir my baie, baie oorvloedig …

Ja, aan my is barmhartigheid bewys

Die Here was so … so lankmoedig met my …

Wie is ek?

Is ek die trotse Israeliet?

Is ek die uitmuntende Farisieër?

Is ek die Boereseun uit ’n heldegeslag van Afrikaners?

Van geboorte af die Dopper onder die Doppers?

Is ek die blanke Westerling, begaafd met ’n analitiese vermoë,

wat die meeste ander volke nie het nie?

Is ek die akademikus wat ’n aantal grade met lof geslaag het?

Wie is ek?

Ek is die vernaamste, Geliefdes …

die vernaamste wat?

Die vernaamste sondaar …

Ek is die vernaamste sondaar …

Ja, kom ons begin hier,

sê die apostel Paulus …

Nou is ons besig met die gesonde leer

Nou is ons besig met ’n betroubare woord

’n woord wat werd is,

om ten volle aangeneem te word …

’n woord waaruit ons leer,

dat Christus Jesus in die wêreld gekom het …

om sondaars te red,

van wie ek die vernaamste is.

“Ek het mense vervolg” …

bely die apostel.

“Ek manne en vroue geboei …

Ek het die Jesus se dissipels in die gevangenis gegooi …

Ek het toegekyk,

hoe hulle Stefanus met klippe doodgooi …

Ek het mensebloed op my gewete …”

Mea culpa … my skuld … o my sonde!

Maar ek is gered, Broeders en Susters …

deur Jesus Christus is ek verlos!

Dis die Evangelie van die heerlikheid van die salige God …

Aan my is barmhartigheid bewys …

Al was my sondes so rooi soos skarlaken,

deur Jesus het dit wit geword soos sneeu;

Al was dit rooi van purper,

deur Jesus sal dit wit word soos wol … (Jes 1:18).

Ek kan mos nie nou meer rondkyk

en wonder watter mense, watter volke, dalk van God se genade uitgesluit is nie?

Ek is te verwonderd, te dankbaar, te verheug,

omdat ek ingesluit is!

Ek, die vernaamste van alle sondaars …

Watter groot en genadige God het Homself oor my ontferm!

Watter barmhartige en lankmoedige God het hierdie rotter,

wat hier voor u staan, in liefde aangekyk …

hierdie leuenaar, hoereerder, dief, Godslasteraar, afgodedienaar,

wat ek was …

Ek was soos ’n stomme dier by u,

(sê Psalm drie-en-sewentig),

Ek was soos ’n reptiel voor u …

’n koudbloedige veragtelike reptiel …

Maar U, o Here, het U oor my ontferm …

U was my genadig …

U het my siel van die dood bevry

In vergelyking hiermee is alle ander woorde en waarhede oor my verlede,

alle feite en fabels, my voorkoms en ook my afkoms,

is dit alles net drek …

Ek het niks,

niks om op trots te wees nie.

Daar’s niks waaroor ek myself of my mense teenoor ander mense kan verhef nie …

Dis nie ek (of ons) hier bo

en die res, die ander daar onder nie …

Dis net ek hier onder, hier heel onder …

en Christus daar bo … daar heel bo …

Aan die Koning van die eeue,

Aan die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God,

aan Hom en Hom alleen ….

kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid.

Amen.

14 thoughts on “Teen die Israelvisie, die Evangelie !

Add yours

  1. U artikel is natuurlik baie meer as bloot ‘n reaksie op Israelvisie maar veral in betrekking tot Israelvisie is daar nog twee teksgedeeltes waaraan ek gedink het terwyl ek hierdie preek gelees het, dalk kan dit mense, wat al deels deur sulke praatjies mislei is, nog verder help:

    Op. 3:9
    “Kyk(sê die Here Jesus aan Sy gemeente), Ek gee jou uit die sinagoge van die Satan, van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar lieg — Ek sal maak dat hulle kom en voor jou voete neerbuig en erken dat Ek jou liefgehad het.”

    Rom.3
    “Want nie hý is ’n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie;
    maar hy is ’n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God.”

    1. Die volgende verse gebruik ek ook in sulke gesprekke:

      Joh. 1:12-13 12 Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; 13 wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.

  2. Baie dankie di. Gustav en Slabbert! Dis so nodig, want soveel mense raak weg…

    Luk 18:8b ….maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?

  3. Baie waar…Mense moet roem in CHRISTUS…oor die feit dat hul uit Adam gehaal is en in CHRISTUS ingeplant is..Gal.3:16 “16
    God het sy beloftes aan Abraham en aan sy nakomeling gegee. Daar staan nie “aan nakomelinge”, meer as een nie, maar: “en aan jou nakomeling” , net een, en hierdie nakomeling is Christus.

    3:16: Vgl. Gen. 12:7; 13:15; 17:7; 24:7.

    Gal.3:26
    Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God,

    27
    want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword.

    28
    Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.

    29
    En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.

  4. In hierdie preek word aannames gemaak en ‘statements’, sonder dat daar vaste bewyse voor gegee word. Die Woord praat slegs van die geslagsregisters, maar wei glad nie daaroor uit nie. Dit is nie logies vir ons om daaroor uit te wei nie, tensy ons bewyse uit die Bybel daarvoor kan gee.

    ‘n Jood is nie ‘n Israeliet nie… nie eens ‘n lid van die stam van Juda nie. Menigmaal word daar in die Bybel gepraat van mense wat eerder nie by ‘n saak betrokke geraak het nie “uit vrees vir die Jode”. Die man wat van geboorte af blind was, wie Jesus sy sig van herstel het se ouers is maar een van hierdie gevalle. Was hulle dan bang dat hul eie volksgenote hulle uit die sinagoge sou ban? Dit maak nie sin nie.

    Jesus het probleme gehad met die jode – wat nie Israeliete was nie, maar Idumeers wat in Juda woonagtig was. Hulle was in Juda ingelyf deur Johannes Hyrcanus en het politiese regte in Juda verkry om en by 126 voor Christus, maar hulle voorsate was vanuit die vermenging van Esau en sy Hetitiese en Ismaelitiese vroue.

    Joodse fabels. Weereens – jode is nie Israeliete nie. Jode (die Edomitiese vermengde volk wat homself voordoen as Juda) is die grootste fabel en leuenvertellers ooit. Vandag nog. Jesus sê dat hulle die werke doen van hulle vader. Ons weet uit die Woord dat Satan die vader van die leuen genoem word. Die duiwel se kinders sal sy eienskappe dra net soos God se kinders sy goddelike eienskappe dra. Dawid was ‘n Israeliet. Het hy fabels en leuens vertel? Nee. Hy het psalms geskryf! As ‘n Israeliet in die hart getref word met woorde van waarheid, wat is sy reaksie? “Wat moet ons doen?”: reageer hy. Gaan lees maar in Handelinge. ‘n Jood weier om die evangelie aan te hoor, en praat jy met hom oor die weg van saligheid, sal jy hoor watse twak kom by sy mond uit. Fabels en raaisels en wat nog alles. Die vrug wat hy dra is nie die van God se volk nie. Jesus se skape (Israel) ken sy stem en reageer daarop. ‘Pasop vir die suurdeeg van die fariseers’. Fariseers uit die skool van Shamma wat Jesus weerstaan het. Hulle was Edomiete, nie Juda nie.

    ‘n Vraag. Wat is ‘ou testamentiese wettisisme’? Jesus het gesê: As julle My liefhet, onderhou my gebooie. …en – dat Hy nie gekom het om die wet te ontbind nie, maar om dit te vervul. Wat nou. Moet ons nou die wet ignoreer as dit so duidelik aan ons gestel word dat dit juis vir ons gegee is sodat ons daardeur sal lewe? Moet nie die Hebrew Roots beweging verwar met die Israelwaarheid nie. As kinders van God – as Israel, hou ons die sabbat. Of dit nou Saterdag of Sondag of iewers tussen die twee dae is, weet ons nie noodwendig nie, maar ons hou die sabbat. Ons steel nie. Ons moor nie. Ons disrespekteer nie ons ouers nie. Ons eer God. Deur die wet te hou, eer ons God. Deur die wet te verbreek land ons in die tronk; word ons land ‘n hool; raak ons kinders ontugtig; verval ons in dwaasheid. Nou asseblief, wat het u teen Ou Testamentiese wettisisme?

    Ek is deel van Israel. My volk is deel van Israel. Ons is deel nie omdat ons onsself as beter beskou nie, want God het gesê dat ons ‘n geringe ou volkie was toe Hy ons uitgekies het. Ons is deel omdat ons is. Wat kan ‘n mens nou meer sê? Sy wette het Hy in ons harte opgeskryf. Ons het sy stem gehoor en Hom gevolg. Onthou nou dat ons praat van ons volk. Waar kom ons volk vandaan? Europa. Daar waar die evangelie 2000 jaar gelede verkondig was. Het Paulus nie na Rome gegaan nie? Die geskiedenis van Israel nadat hulle uit nie noordelike koninkryk weggevoer was, het meestal vir ons verlore gegaan, maar nie vir altyd nie. In Daniel staan dat in die laaste dae, die kennis sal vermeerder. Gaan ons onsself doof en blind hou vir daardie kennis? My hart het my van kleintyd af oortuig dat ons volk God se volk is. Ek behoort aan geen ‘Israelvisie’ kerk nie. Ek het hulle nie nodig om my te oortuig nie, want daar is geskiedenis waaruit ons kan leer en daar is logiese denke wat ons kan inspan saam met die lees van die Woord van God.

    1. Dankie vir al jou ‘statements’ en aannames.

      Let wel: ek het hierdie boodskap van jou deurgesit onder jou skuilnaam, maar as jy weer iets wil plaas, moet dit asb onder jou werklike naam en van wees, nie ‘n skuilnaam nie, dankie.

    2. “Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode.” sê Jesus Christus.
      Dis interesant nê, lyk my Jesus het nogal baie van die “Edomite” gedink.

  5. Sheugnet, as ek jou reg verstaan (dat jy nie in Jesus Christus as Verlosser glo nie) sal ons mekaar nie hier kan vind nie. Jy haal self vir Jesus aan dat Hy nie gekom het om die wet te ontbind nie, maar om dit te vervul. Vir ‘n oomblik daar het ek gedink jy glo in Hom! Jy verstaan blykbaar nie wat jou aanhaling beteken nie: dat Jesus die prys vir die wetsoortreders kom betaal het, hulle straf op Homself geneem het, sodat elkeen wat in hom glo, die ewige lewe kan beërwe. “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.” (Rom 6:23) Só het Jesus die wet kom vervul.

    In’t geval ek jou verkeerd verstaan het, die volgende: Jy sê duidelik dat die wet vir ons gegee is sodat ons daardeur (deur die wet) sal lewe. Dit druis reëlreg in teen alles wat in (o.a. by uitstek!) die hele brief aan die Romeine gesê word. Ook in Gal 5:4 lees ons: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.”. Nee Sheugnet, geen Christen kan deur die wet lewe nie, maar wel deur die Gees, deur geloof in Jesus Christus, die enigste hoop vir ons.

    Daar is nog baie wat ek graag hier sou wou sê, maar dan sou ek eers moes weet met wie ek praat – Christen of nie.

  6. DIT WAT HIER VOLG IS DAREM MAAR ‘N VERSKRIKLIKE LIEG WAT JY VERKONDIG, DIT STAAN NIE IN MY BYBEL GESKRYWE NIE:

    “die betroubare Woord wat werd is

    om ten volle aangeneem word …

    En daardie Woord gaan oor net een sentrale waarheid:

    Christus Jesus het in hierdie wêreld gekom …

    Hy het in hierdie wêreld gekom met een groot doel:

    Hy het gekom om sondaars te red …

    Daar is een Middelaar tussen God en die mensdom …

    Dis die mens Christus Jesus …

    en Hy wil hê,

    dat alle soorte mense gered word …”

    MESSIAH SE: PAS MY SKAPE OP, LAAT MY LAMMERS WEI EN DAN SPESIFISEER HY WIE IS SY SKAPE EN HOE HUKLE LYK.

    DAN SE HY VERDER: EK IS NET GESTUUR NA DIE VERLORE SKAPE VAN DIE HUIS VAN ISRAEL, EN VOOR SY HEMELVAART SE HY VIR SY APOSTELS WEER ‘N KEER: SOOS DIE VADER MY GESTUUR HET NET NA SY SKAPE TOE NET SO STUUR EK JULLE OOK NET NA MY SKAPE TOE!!

    Hnd 13:23-24 Uit die nageslag van hierdie man HET GOD VIR ISRAEL, VOLGENS DIE BELOFTE, YAHSHUA AS VERLOSSER VERWEK, nadat Johannes voor sy koms eers die doop van bekering aan die hele volk van Israel verkondig het.

    Vir Sy volk Israel volgens Sy Belofte as Verlosser, nie vir alle soorte mense as Verlosser nie!!

    As jy ‘n teoloog is dan is dit ‘n tragedie dat jy ‘n gemeente so erg kan belieg!!

    Maar, dit is omdat jy self nie die betroubare Woord glo nie dat jy so geweldig lieg, en AL DIE LEUENAARS SE DEEL IS IN DIE POEL VAN VUUR – JOU DEEL OOK!!!

    So, gaan maar voort met jou leuens en jy sal ook soebat in die hel vir ‘n druppel water van ‘n regverdige en dit sal tevergeefs wees. Lees maar Esegiel 34:1-31 baie goed en let die verskriklike oordeel oor julle vals herders.

    1. ‘Robin wood’, ek sien jy skryf baie maklik van wie gaan hel toe (iets wat die Here alleen bepaal, sien Matt.10:28), en van leuens, maar jy is self te papbroekig en ‘vreesagtig’ (sien Op. 21:8) om onder jou regte naam te skryf ?

      My beleid hier is om slegs ‘comments’ deur te laat as mense in hul regte name skryf, maar ek het besluit jy moet eers lees wat ek hier vir jou geskryf het.

      Bekeer jou van jou valse evangelie van valse redding deur jou eie ‘rassebloed en/of velkleur’, en glo in die evangelie van redding uit genade alleen, deur die geloof alleen, niks maar niks van die mens nie:

      12 Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; 13 wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is. – Johannes 1.

      Die ware Israel, die ware kerk is die Here se kinders onder alle volke, stamme, tale en nasies, ongeag ‘velkleur of ras’, elkeen wat Hy genadiglik uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld (Rom. 9:6-23; Ef. 1:4: 2 Tim. 1:8,9).

      Om dit in Engels vir jou duidelik te stel wat die Bybel leer: “we are saved by grace, not by race”.

      Mag die Here jou deur sy Woord en Gees genadig wees en red van die verdoemende dwalinge waarin jy vasgevang is, om saam alle ware gelowiges onder alle volke ons Here Jesus Christus alleen te glo en te bely. Hier is die Evangelie weer, en mag jy genadiglik bekeer (lees gerus die preek weer hierbo, hierdie keer biddend en met ‘n gees wat deur sy Woord en Gees gelei wil word, nie die ‘velgees of witgees of blanke gees’ nie):

      “Dit is ’n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.” (1 Tim. 1:15)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: