Preek: Daar waar God se Gees is, daar moet dinge verander

Photo: Duits-Wes Afrika!

Efesiërs 5 (Navolgers van God)                                                          GK Matlabas 2013 03 24

Lees: Ef 4:17 – 5:21

Teks: Ef 5:1 Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders

Tema: God se reisreëls

Sing: Pss 84:1,3; 84:4,6; 25:2,3; 25:4,6; 89:1,6

Prediker: Ds. Gustav Opperman

Broeders en Susters van ons Here Jesus Christus,

Geen huisgesin kan funksioneer sonder ‘n paar basiese huisreëls nie.

Maak nie saak hoe gemaklik ons met mekaar is nie,

As daar nie ‘n orde in ‘n huisgesin is nie,

dan wil verhoudinge maar net nie vlot nie.

Net so kan dinge lelik skeefloop met ‘n geselskap

wat deur die woestyn reis,

as daar nie ‘n onderlinge verstandhouding is

van wat mág en wat nié mag nie.

In hierdie brief van die apostel Paulus aan die gemeente in Éfese

stel hy die gelowiges bekend aan God se reëls,

net soos die HERE destyds deur Moses sy reisreëls aan die volk Israel by Sinai gegee het:

die Tien Gebooie.

Ek het julle uit Egipteland verlos

(so het ons vanoggend die Here se woorde weer gelees)

Ek het julle uit Egipteland verlos,

en Ek het nou by julle kom tabernakel,

by julle kom tentopslaan.

Op hierdie basis kan ons saam bly.

Op hierdie grondslag kan ons saam vorentoe.

So sê die HERE ook vir die gelowiges in Éfese.

Julle het vroeër gewandel volgens die loop van hierdie wêreld,

maar nou is julle huisgenote van God.

Nou loop julle die pad saam met die HERE.

Ja, geliefde kinders van God, daar is nog ‘n pad

wat geloop moet word,

‘n weg wat gewandel moet word.

Alhoewel ons nou saam met God woon,

is daardie woning nie staties nie,

staan dit nie op een plek nie,

maar is dit soos die tabernakel in Moses se tyd.

Soos ‘n tent is dit telkens aan die beweeg.

Die kerk is ‘n reisgeselskap op die pad van Egipteland na die Beloofde Land.

Van die sondegevalle skepping na die nuwe hemel en die nuwe aarde

is die HERE en sy gelowiges saam op reis.

Nou, Broeders en Susters, wees dan navolgers van God op hierdie reispad.

Julle is sy geliefde kinders.

Noudat Christus Homself vir ons oorgegee het,

noudat Christus die volmaakte offer gebring het,

noudat Christus ons verhouding met die Vader herstel het,

noudat julle Christus leer ken het,

is dit net redelik om te verwag,

dat julle al hoe méér soos Hy sal wil wees.

Noudat julle die nuwe mens in julle Verlosser leer ken het,

is dit vanselfsprekend

dat julle die ou Egiptiese mens sal wil agterlaat,

dat julle jul van die ou Efésiese mens sal wil distansieer.

Hoe het ons die Nuwe mens leer ken?

Hoe is die Here Jesus?

Hy is heilig en sonder gebrek voor die Vader.

Dis net redelik

om nou van julle te verwag

dat julle vernuwe sal wil word,

dat julle jul met die nuwe mens sal beklee,

nie meer soos Adam met vyeblare vir God sal wegkruip nie,

maar dat julle voor God sal wil staan,

na sy beeld herskep,

weer oorgemaak na sy beeld,

beklee in ware geregtigheid en heiligheid.

U weet, Geliefdes, baie baie kerkmense is tevrede daarmee

om Sondae in die kerk te wees,

om by die huis ‘n tafelgebed op te sê,

om hulle kinders katkisasie toe te bring,

maar vir die res … vir die res

kan jy geen verskil tussen hulle en die Egiptenare of Efésiërs sien nie.

Ek mag miskien tevrede wees met die status quo.

Ek mag miskien gelukkig wees met hierdie stand van sake,

maar die Gees van God is nie.

Daar waar my hart nog aan Egipteland kleef,

daar waar ek nog soos die ander Efésiërs praat

en ek nog soos hulle loop

en aantrek,

daar bedroef ek die Heilge Gees.

U weet mos:

God se Gees is onrustig.

Solank die nuwe hemel en die nuwe aarde nog nie daar is nie,

sal God se Gees altyd rusteloos wees.

Solank die nuwe Jerusalem in al haar heerlikheid en skoonheid

nie hier op aarde skitter nie,

sal God se Gees steeds aan die werk wees.

Daar waar God se Gees is,

daar moet dinge verander.

Die wolkkolom het die Israeliete op pad na die Beloofde Land aan die beweeg gehou.

Vorentoe, altyd vorentoe …

In Matheus lees ons:

God se Gees het die Here Jesus die woestyn in gedryf

om daar deur die Satan versoek te word

om dan, soos dit die nuwe mens betaam,

daardie versoeking te weerstaan.

God se Gees is soos ‘n wind.

God se Gees is soos ‘n vuur.

God se Gees is die water

wat by die tempel uitstroom en die hele Jerusalem benat

en dan Judea nat maak

en uiteindelik die soutwater van die Dooie See lewendig maak.

God se Gees maak van die kinders van ongehoorsaamheid,

kinders van die lig …

Hy maak van hulle fakkeldraers op die woestynpad,

om self as ligte te skyn te midde van ‘n krom en verdraaide geslag (Fil 2:15).

Om dit te ontken,

is om van die HERE ‘n leuenaar te maak.

Moenie vir my sê,

u is nou maar eenmaal só gemaak

en só laat staan nie.

Dominee, ek is nou maar eenmaal só ‘n soort mens,

ek laat nie toe

dat iemand my verkeerd opvryf nie …

Dominee, ek is nou maar só,

ek hou nie daarvan

om by die kerk met ander mense te gesels nie …

Dominee, ek weet dis verkeerd,

maar …,

en dan volg die versoek,

dat een of ander sonde maar verskoon moet word.

U sien, Geliefdes, ons kan nie op ‘n Sondag hier in die kerk bely:

Ek glo in die Heilige Gees

en dan vir mekaar sê:

“ek is nou maar eenmaal

soos ek is nie”,

want dan ontken u die werk van God se Gees,

dan ontken u dat Hy in Jesaja 55 gesê het:

dat Hy vir die doringboom ‘n sipres sal laat opgaan

en dat Hy vir die distel ‘n mirteboom sal opgaan (Jes 55:13).

Dan ontken u,

dat Hy saam met u op pad is na die Beloofde Land.

Dan ontken u,

dat u inderdaad Christus ken.

Dan bedroef u die Heilige Gees.

Daarom, wees dan navolgers van God soos geliefde kinders,

God se Seun het vir julle ‘n voorbeeld gestel,

volg Hom na.

Die apostel Petrus bring dieselfde boodskap in sy eerste brief:

Christus het vir julle ‘n voorbeeld nagelaat,

(skryf hy)

sodat julle sy voetstappe kan navolg (1 Pet 2:21 ev.).

Hy wat, toe Hy uitgeskel is,

nie terug uitgeskel het nie;

toe Hy (onder die mense) gely het,

nie gedreig het nie,

maar dit oorgegee het aan Hom

wat regverdig oordeel.

As u Saam met God in sy huis woon,

dan hoef u nie soos die mensdom om u

te leef en te lyk nie.

As u saam met God onderweg is na die ewige saligheid,

dan mag u nie soos die mense om u leef en lyk nie.

U het Jesus Christus as voorbeeld:

só lyk die nuwe mens,

sê die Skrif.

Die gedrag van die Egiptenare is te verstane.

Ons kan die manier van doen van die Efésiërs rondom ons verklaar.

Hulle ken nie die Here Jesus nie:

hullle is verduisterd in hulle verstand;

hulle is vervreemd van die lewe van God;

hulle lewe in onkunde;

hulle hart is verhard teen die Evangelie;

hulle het hulself oorgegee aan die ongebondenheid.

Hulle maak soos hulle wil.

Hulle drink soos hulle wil.

Hulle glo in die vryheid van spraak.

Hulle sê wat hulle wil.

Hulle vloek soos hulle wil.

Die ongebonde mens behou homself die reg voor

om die Here se heilige Naam te gebruik en te misbruik,

hier, hier, daar, voor, agter, soos hy wil.

Daar is nou al tot in sms-taal ‘n afkorting geskep

om te laster:

OMG: “Oh my God”.

Hulle swets soos hulle wil,

hulle gebruik die vieslikste f-woorde

hier, daar, voor, agter,

asof dit die mees normale ding op aarde is.

Soos Lameg van ouds wreek die ou mens homself ook,

soos hy goeddunk.

Nee, jy moenie met hom sukkel nie.

Hy sal jou gou ‘n ding of twee wys …

Hy sal jou vinnig sê

en hy sal jou góéd sê

en onthou, as jy hom te na gekom het,

hy het ‘n laaang … geheue.

As hy iets kan kry,

sonder om te werk,

dan is die Gelukgodin met hom.

En hy lieg:

Hy sal tot hier in die kerk kom staan en lieg.

Hy sal hier voor kom staan en belowe

dat hy die eredienste ywerig sal opsoek,

maar jy soek hom tevergeefs in die eredienste.

Hy sal hier voor die kansel kom belowe,

dat hy nooit sy vrou sal verlaat nie,

maar drie of vyf jaar later is dit presies wat hy doen.

Hy sal hier kom belowe,

dat hy sy kinders in die vrees van die Here sal grootmaak,

maar jy moet daardie kinders liefs nie iets oor die Bybel vra nie.

En dit word al hoe erger.

Namate God met sy volk op pad is,

so vererger die toestand van dié wat agterbly.

Dis nou die Egiptenare wat in Egipteland agterbly,

maar ook diegene van die volk, van die Israeliete,

wat op die woestynpad wegval

en daar agterbly.

Paulus skryf in sy eerste brief aan die Korintiërs van hierdie Israeliete.

(Want u sien,

die Korintiërs was maar net soos die Efésiërs.)

Paulus skryf van daardie Israeliete.

Hulle was saam met hulle ander volksgenote deur die Rooi See,

(sê hy)

hulle was saam onder die wolkkolom op pad na die Beloofde Land,

maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie,

want hulle is neergeslaan in die woestyn (1 Kor 10:5).

Namate God met sy volk op pad is,

namate die tyd uitloop,

word die sonde al hoe erger.

Die boek Openbaring sê:

die wat onreg doen,

doen al hoe meer onreg

en die wat vuil is,

word al hoe vuiler (Op 22:11).

Die wat vrot is,

word al hoe vrotter.

En dis seker nie duideliker as in die seksuele verwording van ons tyd nie.

In hebsug word daar al hoe meer onreinheid bedryf,

soos ons Skrfgedeelte sê:

prostitusie, pornografie

en in die advertensie en films en op die TV-kanale is dit net seks en nogmaals seks.

Hoerery in alle vorme is aan die orde van die dag.

Saamwonery word nie eers meer bevraagteken nie,

ook nie deur kerkmense nie.

Owerspel en egskeiding lig nie meer ‘n wenkbrou nie.

As jy teen homoseksualiteit is,

dan word jy geklasifiseer as ‘n haatdrande mens.

En Geliefdes, laat ons met mekaar hieroor heeltemaal duidelik wees,

want ons Skrifgdeelte is heeltemaal duidelik hieroor:

Geen hoereerder het ‘n erfdeel in die koninkryk van God nie.

Julle moet dit weet.

 

Ons Skrifgeeelte sê ook die dae is boos,

die tyd moet uitgekoop word.

Hoe verder God se uurglas leegloop,

hoe nader ons aan die Beloofde Land kom,

hoe boser gaan die dae word.

Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders.

Lê die ouer mens af, Broeders en Susters,

daardie ouer mens wat deur die begeerlikhede van die verleiding te grond gaan.

Beklee julself met die nuwe mens,

die nuwe mens soos ons Hom in Jesus Christus duidelik sien.

Let op die woorde

wat by julle mond uitgaan.

Lê die leuen af

en spreek die waarheid.

En onthou, as u nie Christus verkondig nie,

dan het u nog nie die waarheid gespreek nie,

dan het u nog nie ‘n lig in hierdie donker wêreld laat skyn nie.

Laat geen vuil woord by julle mond uitgaan nie.

Ek meen dis redelik helder en duidelik, Geliefdes.

As jy ‘n vloekgewoonte het,

stop dit!

As ek die gewoonte het

om vrylik uiting aan my woede en frustrasie teenoor ander mense te gee,

moet ek my van daardie gewoonte distansieer.

As ek ‘n voorliefde het vir dwase en lawwe praatjies,

as ek ‘n voorliefde het vir skuins grap,

as ek meedoen aan al die onder-die-belt kwinkslae

wat in omloop is,

weet dan wat ons Here Jesus gesê het:

van elke ydele woord wat die mense praat,

daarvan sal hulle moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag (Mat 12:36).

In sy brief verwys die apostel Jakobus ook na die gebruik van ons tong (Jak 3:1 ev)

en dan wil hy by die gemeente weet

hoe dit moontlik is,

dat ons hierdie tong gebruik

om ons God en Vader te loof,

maar dit teselfdertyd ook kan gebruik

om ander mense te vervloek,

mense wat na die gelykenis van God gemaak is?

‘n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en bitter water opborrel nie?

Let op wat by jou mond uitgaan, geliefde kind van God.

Jy het nie vryheid van spraak nie …

nie in God se huis nie,

nie in God se reisgeselskap nie.

In die HERE se huis

en in die HERE se reisgeselskap het ons die opdrag

om mekaar te bemoedig met woorde.

Woorde wat goed is vir die nodige stigting,

met ander woorde, woorde wat opbouend is,

woorde wat genade gee aan aan die wat dit hoor.

Woorde wat getuig van vriendelikheid en ontferming.

Ons sal nooit genoeg dankiesê-woorde kan hoor nie.

Laat ons God die Vader altyd dank.

Laat ons God die Vader vir alles dank.

Altyd dank,

vir alles dank,

sê ons Skrifgedeelte.

En ja, dan is daar die Psalmwoorde.

As ek met God se Gees vervul is,

dan sal daar Psalmwoorde by my mond uitkom.

As ek die Here Jesus leer ken het,

dan sal ek, net soos Hy,

by elke moontlike geleentheid die Psalms oor my lippe laat kom …

Psalmwoorde wat goed is vir die nodige stigting.

Inderdaad, woorde wat genade gee

aan die wat dit hoor.

Wees dan navolgers van God, geliefde Broeders en Susters.

Loop in die spore

wat die Here Jesus vir ons gelos het.

Hy is ons Leidsman en Verlosser.

Amen.

3 thoughts on “Preek: Daar waar God se Gees is, daar moet dinge verander

Add yours

  1. Fantastiese preek van Ds Opperman oor Waar die Gees is daar moet dit verander. Lekker gelees. Loof en dank die HERE vir sulke predikers wat die Woord nog reg en reguit sny. Sterkte en mag die HERE jul ryklik seën in jul bedieningswerk. Groete Lizette

  2. Dankie Lizette, ons waardeer die bemoedigende woorde, en is dankbaar vir elke kind van God wat honger en dors na sy Woord. Ook groete vir julle almal.

  3. Dit is ‘n baie betekenisvolle preek, maar ek dink dit sou beter wees om die klem te lê op gehoorsaamheid aan Jesus, eerder as ‘om in Sy voetspore te volg’

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: