Psalm 78: om ons kinders van die HERE te vertel

kinderseen

Psalm 78: om ons kinders van die HERE te vertel

ds. Cobus Rossouw (GK Daspoort)

Broers en susters, die Woord van die HERE spreek tot ons uit Ps 78:1-8.

Skrifverklaring

Inleiding.

Geliefdes … vanoggend kon ons weer getuies wees …

deur die wonderlike genade van die HERE …

van die doop van ‘n verbondskind.

En wat ‘n wonder!

Die wonder … waarop die doop ons wys

en wat die doop aan ons verseël:

Dat die belofte van die volkome verlossing in Jesus Christus

en die gawe van die Heilige Gees

verseker ook vir ons kinders is!

Wat ‘n wonder!

*******************

Maar dadelik bring dit ons ook by die belangrike opdrag …

vanuit die Woord van die HERE …

om ons kinders breedvoerig hieroor te onderrig.

Breedvoerig te onderrig oor die verlossing in Jesus Christus …

die gawe van die heilige Gees

en alles wat daarmee saamgaan.

En hoe belangrik is dit nie net nie!

Ja … as daar nou een ding is wat belangrik is …

dan is dit om ons kinders van Jesus te vertel.

Verduidelik

Want weet u:

Dit is juis deur ons onderrig … dat die Heilige Gees werk …

en die verlossingswerk van Christus … en die gawe van Homself …

‘n werklikheid kom maak in die lewe van ons kinders.

Bewys

Petrus sê immers in 1Pet 1:23

dat ons weergebore is deur die Woord.

Watter Woord? …

Die Woord wat aan ons verkondig is … geliefdes!

Die Woord wat ons aan ons kinders verkondig.

Ja, met daardie Woord … gaan die Heilige Gees aan die werk.

Met daardie Woord … laat Hy ons uitverkore kinders weergebore word

sodat hulle Jesus kan aanneem

en kan deel in die volheid van die verlossing.

*******************

En oor hierdie belangrike ding …

dat ons … ons kinders in die Waarheid …

met kennis van die ewige lewe moet onderrig …

kom praat die HERE met ons … deur Ps 78.

En dan leer Hy ons deur Asaf – wat hier die digter is – van …

Ons lewensbelangrike roeping om ons kinders van die HERE te vertel.

Daarom verkondig ek aan u

  • Ons roeping om te vertel.
  • Wat ons moet vertel.
  • En die gevolg wanneer ons vertel.

1. Kom ons kyk nou eers na ons roeping om te vertel

In vers 1 hoor ons Asaf se oproep:

“My volk, luister na my onderrig;

neig julle oor tot die woorde van my mond.”

En dan in vers 2 … sê Asaf vir ons …

hoe hy sy volk nou wil onderrig.

Hy sê: “Ek wil my mond open met ‘n spreuk …”

****************

Verduidelik

Nou, as Asaf hier in Ps 78 praat … van ‘n spreuk …

dan is ‘n spreuk … soos ‘n preek.

Asaf wil sy volk leer met ‘n preek.[1]

En hierdie preek gaan … oor “raaisels uit die voortyd …”

so hoor ons in die tweede gedeelte van vers 2

Verduidelik

En hierdie raaisels uit die voortyd … is niks anders

as die HERE se wonderlike geskiedenis met sy volk nie.

 

Ons noem hierdie wonderlike geskiedenis van die HERE,

die HERE se openbaringsgeskiedenis.

************

En dis wonderlike geskiedenis … hierdie openbaringsgeskiedenis …

want daarin leer ons die “roemryke dade van die HERE

en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het.”

Wonders … Baie maal vir ons raaisels …

sodat ons saam met Ps 71 sing:

“U redding meld ek elke stonde;

al kan ek dit nie skat nie, besyfer of bevat nie.”[2]

****************

Ja, Asaf wil vir sy volk preek … uit die openbaringsgeskiedenis.

Maar nou is hierdie preek nie maar net …

die oorvertel van die geskiedenis nie.

Nee, Asaf wil hê … die HERE se volk moet iets leer.

Asaf wil hê hulle moet die HERE leer ken

uit die openbaringsgeskiedenis –

hulle moet sien … wat Hy doen … en Wie Hy is.[3]

 

Toepassing

En geliefdes … dit geld vandag nog vir die volk van die HERE …

Vandag nog … moet ons uit die openbaringsgeskiedenis …

die HERE leer ken.

Paulus leer dit vir ons … as hy in Rom 15:4 sê:

“alles wat tevore geskrywe is,

is tot ons lering tevore geskrywe …”

Daarom praat Asaf hier in Ps 78 ook met ons.

Ook vir ons preek hy vanoggend …

Ook vir ons wil hy vertel van die HERE …

Dis sy doel hier in Ps 78.

Asaf sê dit vir ons in vers 1 en 2

*************************

Maar as ons nou by vers 3 kom,

gebeur daar iets interessants.

In vers 2 sê Asaf:

Ek wil my mond open met ‘n spreuk …”

Maar in vers 3  hoor ons:

“Wat ons gehoor het en weet

en ons vaders ons vertel het,

sal ons nie verberg vir hulle kinders nie …”

 

Verduidelik

Wat ons nou hieruit moet raaksien,

is dat Asaf wil vertel van die HERE …

Maar dan is dit asof hy wil sê:

‘Maar ek is nie die enigste een … wat moet vertel nie …

Nie net ek – soos in vers 2 nie –

Nee, ons … ons moet vertel – soos in vers 3 en 4.’

Ons moet aan die kinders vertel …’

******************

Gevolgtrek

Nou … wat dit beteken … is dat Asaf

en die res van die grootmense van sy tyd …

die kinders moet vertel … van die HERE.

Dis nie net Asaf se werk

om te preek uit die openbaringsgeskiedenis nie.

Nee … al die grootmense moet dit doen …

en die kinders so van die HERE leer.

*******************

Maar waarom … moet hulle aan die kinders vertel?

Wel … as ons nou weer mooi luister na vers 3 en 4

gaan ons begin … om agter te kom.

In vers 3 en 4 praat Asaf … namens al die grootmense van sy tyd.

En dan sê hy: “Wat ons … vaders ons vertel het,

sal ons nie verberg vir hulle kinders nie,

maar aan die volgende geslag vertel …”

Hoor u hoekom Asaf-hulle vertel?

Asaf-hulle vertel aan hulle kinders …

omdat Asaf-hulle se pa’s en ma’s … weer aan hulle vertel het.

****************

Maar nou is die vraag:

Waarom het Asaf-hulle se pa’s en ma’s dan vertel?

Die antwoord op hierdie vraag kry ons in vers 5.

Daar waar ons hoor … dat die HERE “‘n getuienis opgerig in Jakob

en ‘n wet gegee in Israel,

wat Hy ons vaders beveel het—

om dit aan hulle kinders bekend te maak …”

Hoor u dit? …

Die HERE het sy getuienis … en sy wet vir Israel gegee …

En dan wil die HERE hê … dat die pa’s en die ma’s …

dit bekend moet maak aan hulle kinders.

Dis hoe die HERE dit wil hê … Dis sy bevel.[4]

 

Samevatting

Sien u nou, geliefdes …

waarom Asaf-hulle aan hulle kinders … wil vertel van die HERE?

Hulle wil vertel … omdat hulle pa’s en ma’s … aan hulle vertel het.

En hulle pa’s en ma’s …

het opdrag van die HERE af gekry … om te vertel …

Daarom dat Asaf-hulle gehoor het … en kan weet …

En so moet dit nou van geslag tot geslag gaan.

Asaf hulle het gehoor …

Maar Asaf-hulle moet ook vertel …

want dit is God se bevel … ook vir Asaf-hulle.

****************

Toepassing

En so … is dit die gebod van God deur die eeue …

tot by ons vandag.

Want nadat die HERE een maal in Deut 6 gesê het:

“En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel,

moet in jou hart wees;

en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek”[5]  

sê die HERE later weer in die NT in Efes 6:

“En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie,

maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.”[6]

 

Dis ons roeping …

Net soos dit Asaf-hulle se roeping was …

en voor hulle … hulle pa’s en ma’s se roeping was.

Die HERE wil dit so hê.

Vanuit die openbaringsgeskiedenis …

moet ons die HERE bekend maak … aan ons kinders.

Saam met Asaf-hulle moet ons sê:

Wat ons vaders ons vertel het,

sal ons nie verberg vir hulle kinders nie,

maar aan die volgende geslag vertel …”

********************

Ons moet vertel, geliefdes … nie verberg nie.

Ons mag nie die HERE in toe Bybels verberg nie.

Nee, ons moet ons Bybels oopmaak

en vir ons kinders van die HERE vertel.

En hierdie woord vir vertel … wat Asaf hier gebruik …

sê vir ons … dat ons dit aanmekaar moet doen.[7]

Aanhoudend moet ons vertel

soos die HERE ons beveel as Hy in Deut 6:7 sê:

“en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek …

as jy in jou huis sit

   en as jy op pad is

     en as jy gaan lê

        en as jy opstaan.”

Aanhoudend moet ons vertel …

Die HERE roep ons op … om dit te doen.

Ons moet vertel …

En vertel beteken jy sit by jou kinders …

en jy praat met hulle.[8]

Jy vertel vir hulle uit die Bybel van die HERE.

En vertel beteken nie

dat jy vir jou kinders die ‘Kadot en die Profete’ DVD …

of die ‘Simson’ DVD … of die ‘Dawid en Goliat’ DVD …

of watter DVD ook al … in speler sit

en hulle dan daarna laat sit en kyk nie …

Dis nie vertel nie.

Dis nie waarvan Asaf hier praat nie.

Ons moenie slimmer as God probeer wees nie.

Die HERE praat hier van vertel.

En pa’s en ma’s wat vertel … sit by hulle kinders …

sommer lekker naby hulle …

en in liefde praat julle met mekaar …

Jy vertel hulle van die HERE …

en jy praat so … dat hulle lief word vir die HERE.

2. Dis ons roeping … geliefdes.

Dis wat ons beloof het … toe ons ons kinders gedoop het.

Die HERE wil hê pa’s en ma’s moet hulle kinders vertel …

Maar wat moet hulle nou vertel?

en dit bring ons nou by ons tweede punt.

 

Van wat ons ons kinders moet vertel …

hoor ons in vers 4 en 5

maar ook in die res van Ps 78 …

So … kom ons kyk nou … wat ons moet vertel –

en dan gaan ons eers kyk na vers 4 … dan na vers 5

en dan na die res van Ps 78.

A. In vers 4  hoor ons

dat Asaf-hulle … hulle kinders wil vertel

van “die roemryke dade van die HERE en sy mag

en sy wonders wat Hy gedoen het.”

Verduideliking

Nou … die HERE se roemryke dade … is die dade van die HERE

waarvoor ons Hom moet loof en prys.

Dis die HERE se wonderwerke.

En die HERE doen hierdie wonderwerke van Hom …

deur sy almagtige krag.[9]

**********************

Ja, Asaf-hulle wil hulle kinders vertel

van die “roemryke dade van die HERE en sy mag

en sy wonders wat Hy gedoen het.”

En van al hierdie dinge leer ons …

in die HERE se openbaringsgeskiedenis …

Ons sien dit baie mooi … as ons deur die res van Ps 78 lees.

Want in die res van Pa 78 vertel Asaf vir ons

die openbaringsgeskiedenis van Israel.

****************

Ps 78-inhoud

Asaf leef in die tyd van Koning Dawid …

en in die tyd van koning Salomo.

En dan vertel hy vir ons die geskiedenis …

vanaf die tyd van Israel se uittog uit Egipte …

totdat Dawid koning oor Israel geword het.

En uit hierdie geskiedenis wys Asaf dan vir ons

hoe die HERE in hierdie tyd … roemryke dade gedoen het –

Wonders deur sy almag.

  • Hy verlos sy volk uit Egipte.[10]
  • Die HERE kloof die Skelfsee.

En Hy laat sy volk veilig daardeur trek.[11]

  • Met wonderwerke … versorg die HERE sy volk …

op hulle woestyn tog.[12]

  • Die HERE verdryf die volke van Kanaän voor Israel uit

sodat hulle Kanaän in besit kan neem.[13]

Alles roemryke dade van die HERE –

wonders deur die HERE se almagtige krag …

*******************

Maar dis nie al nie.

Wanneer die HERE hierdie wonderdade van Hom doen,

Dan is dit die openbaring van sy verbondstrou.

Bewys

Want het die HERE nie lank terug … doer in die boek Genesis …

vir Abraham … en sy nageslag … die land Kanaän beloof nie?

Ja … Hy het.

En deur sy wonders …

maak die HERE sy verbondsbeloftes werklikheid.[14]

*******************

Toepassing

En dit is … wat Asaf-hulle aan hulle kinders moet vertel …

En dit is … wat ons aan ons kinders moet vertel.

Ons moet hulle vertel van die HERE se roemryke dade.

Ons moet hulle vertel van die HERE se wonders …

waarin Hy sy verbonsdstrou vir ons te wys.

Ja, die HERE doen wonders

omdat Hy trou is aan sy verbond …

Omdat ons ‘n God het wat sy beloftes hou …

En ons moet dit vir ons kinders vertel.

************************

B. Maar kom ons by vers 5 hoor ons van nog iets

wat Asaf-hulle vir hulle kinders moet vertel.

Hulle moet vertel …

dat die HERE “‘n getuienis opgerig het in Jakob

en ‘n wet gegee het in Israel …”

Verduideliking

Nou wanneer Asaf hier praat van die wet …

dan gaan dit nie net oor die 10 gebooie nie.

Nee, die wet waarvan Asaf hier praat … is Gen tot by Deut.[15]

Dit is wat die wet van die HERE hier beteken.

En dis juis in hierdie boeke – in Gen tot Deut –

waar ons ook lees van die HERE se getuienis.

Ons lees daarvan in Eks 31.

Dit was toe die HERE met Moses op die berg Sinai gepraat het.

En dan lees ons in vers 18 van Eks 31 –

“En Hy het aan Moses … die twee tafels van die Getuienis gegee,

tafels van klip, beskrywe met die vinger van God.”

Sien u wat die getuienis van die HERE is?

Dit … is die 10 gebooie.

******************

Toepassing

En dit moet Asaf-hulle aan hulle ook kinders vertel … en ons ook …

Ons moet hulle van die wet … en die getuienis vertel.

  • Uit die wet … uit Genesis 1 en 2 … moet ons hulle vertel

hoe die HERE alles geskep het.

  • Ons moet ons kinders vertel … van die sondeval in Gen 3 …
  • Ons moet hulle vertel van die verkondiging

van die evangelie van ons Here Jesus in Gen 3:15.

  • Ons moet ons kinders vertel …

van die HERE se genadeverbond met Abraham.

  • Ons moet hulle vertel – uit Eks 1-12 –

hoe die HERE Abraham se nageslag … ja, sy volk … uit Egipte verlos.

Ja, ons moet ons kinders leer uit die wet … uit Gen tot by Deut.

Maar dan moet ons ons kinders ook vertel

van die HERE se getuienis … wat ons kry in die 10 gebooie …

Ons moet ons kinders vertel

dat die HERE dit aan sy verloste volk gee

sodat hulle daarvolgens kan leef.

****************

Samevatting

Ja, geliefdes, ons het ’n roeping om te vertel.

Ons moet ons kinders vertel

van die HERE se almagtige wonderdade van verlossing.

Ons moet hulle vertel

van die HERE se verbondstrou …

Maar ook van sy verbondseise in die 10 gebooie.

Dit sien ons raak in vers 4 en 5.

*************************

C. Maar as ons nou verder deur Ps 78 lees …

dan sien ons nog iets … wat ons ons kinders moet vertel …

En dit is ons elkeen se verskriklike sonde.

Ons sien dit raak as Asaf vir ons Israel se geskiedenis vertel …

  • Israel wat op hulle woestyn tog … die wonders van God vergeet.
  • Israel wat die verbondstrou van die HERE beleef …

maar dan nie in die HERE wil glo nie.

  • Israel wat deur die HERE in Kanaän ingelei word …

maar dan nie die HERE uit dankbaarheid wil dien nie …

En so … deur hulle vreeslike sonde

bring hulle die HERE se straf oor hulle.

******************

Ons moet dit vir ons kinders vertel.

Ons moet hulle uit die openbaringsgeskiedenis vertel …

van ons sonde-krisis.

Ons moet hulle vertel … dat die HERE sonde straf …

Maar dan moet ons hulle ook vertel van die HERE se genade …

want dit is hoe Ps 78 eindig.

Ps 78 wat ons vertel van die HERE se verbondsrou …

en ons ontrou …

eindig met die HERE se genade …

want die HERE gee vir Israel ‘n Koning Dawid.

So eindig Ps 78 … met die HERE wat Koning Dawid gee …

En dit is die HERE se genade … Sy genade onbeskryflik groot.

Want geliefdes as ons aangaan om te vertel …

Aan hou om deur die blaaie van die openbaringsgeskiedenis te vertel …

dan kom ons op ‘n dag by Mateus uit.

En dan … dan vertel ons ons kinders

van die geslagsregister van Jesus Christus …

“die seun van Dawid …”

Ons vertel hulle hoe Hy gebore is uit die maagd Maria.

Ons vertel ons kinders … hoe die engel met Josef … Maria se man …

kom praat het … en vir Josef gesê het:

“jy moet Hom Jesus noem,

want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”

*******************

Toepassing      

Dit … Dit is ons roeping …

En dis so belangrik geliefdes!

Ons moet ons kinders vertel … van die HERE se wonderdade;

van die HERE se verbondstrou … van ons eie ontrou.

Maar ons moet hulle ook vertel van die HERE se genade.

Daarom moet ons hulle vertel van Dawid …

en van Jesus … die Seun van Dawid …

wat vol is van genade.[16]

Ons moet dit vertel …

Ons moet by hulle sit … en hulle lief hê … en hulle vertel.

*********************

3. En dan is daar gevolge

En wat ‘n wonder: … As ons vertel … is daar gevolge.

Ons hoor daarvan in vers 7.

Ons moet vertel sodat ons kinders

“hulle vertroue op God kan stel

en die dade van God nie vergeet nie,

maar sy gebooie kan bewaar.”

Dis ‘n wonder … ‘n Ontsaglike wonder …

Want … weet u: …

Die Heilige Gees gaan aan die werk …

met ouers wat vertel.

Wanneer ons ons kinders van die HERE vertel …

dan werk die Heilige Gees geloof in sy uitverkorenes se harte.

Hy gee aan hulle nuwe harte

en ‘n nuwe gees in hulle binneste.

En dan vertrou hulle … Hulle glo in die Here Jesus.

Hulle vergeet Hom nie.

En hulle begin … om sy gebooie te onderhou.[17]

 

Slot.

Geliefdes, ons het ‘n roeping … ‘n Lewensbelangrike roeping.

Ps 78:1-8 leer dit aan ons.

Ons het ‘n roeping om ons kinders te vertel …

vanuit die Woord van die HERE … sy “roemryke dade …

en (van) sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het.”

Van die HERE se wet en sy getuienis – daarvan moet ons vertel

****************

Selfondersoek

Waar staan ons geliefdes? … Vertel ons … of swyg ons?

Pasop … want as jy swyg …

dan word jou kinders “‘n koppige en wederstrewige geslag,

‘n geslag met ‘n onvaste hart

en wie se gees nie trou is teenoor God nie.”

‘n geslag wat afstorm op die hel.

*****************

Daarom het Jesaja eenmaal gesê:

“Tot die wet en tot die getuienis! … (Soos Asaf ook sê)

(Ja, terug na die Wet van die HERE en sy openbaringsgeskiedenis)

(want) As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie,

is hulle ‘n volk wat geen toekoms het nie.”[18]

Antwoorddiens

Amen.


[1] Vgl TWOT vol 1 bl 533; NIDOTTE vol 2 bl 1134; vol 4 bl 897

[2] Ps 71:9 berym; Vgl NIDOTTE vol 2 bl 107; Ridderbos se Ps komm vol 2 bl 291

[3] NGB art 2

[4] Vgl Deut 6:6-7

[5] Deut 6:7

[6] Vgl Calvyn se Ps komm vol 2 bl 230-232; Efes 6:4

[7] מספרים = Pi-el part wat dui op aanhoudende handeling (BHNG bl 122).

[8] Vgl NIDOTTE vol 3 bl 284

[9] Vgl NIDOTTE vol 1 bl 1035; vol 3 bl 366, 615-616; vol 4 bl 897; TWOT vol 2 bl 660.

[10] Vgl vers 44-51

[11] Vgl vers 52-53

[12] Vgl vers 23-28

[13] Vgl vers 54-55

[14] Vgl Gen 12:7; 15:7-8, 13-14

[15] Vgl NIDOTTE vol 4 bl 897

[16] Vgl Joh 1:14

[17] Vgl Sondag 25 v/a 65; Eseg 36:26; 1Pet 1:23

[18] Vgl Jes 8:20

One thought on “Psalm 78: om ons kinders van die HERE te vertel

Add yours

  1. Inspirerende preek. Ek is onlangs getroud en dink nogal die afgelope ruk baie aan tekste soos Psalm 78 en die opdrag van Deut 6:7 en die implikasies wat dit op die die besluit van ouers om hul kinders via tuisonderrig, privaatskool of staatskool te (laat) onderrig. As ek na die afvalligheid van my eie generasie kyk dan kan ek heelhartig getuig dat in die huidige bedeling behoort staatskool nie ‘n opsie vir enige Christen ouer te wees nie. Ek is egter nog onseker oor die keuse tussen privaatskole soos die BCVO (wat maar baie gebreke het – ek was self in so skool en kan daarvan getuig) of tuisonderig, wat teoreties ideal blyk, maar ook skynbaar baie praktiese probleme het – veral in Suid-Afrika, waar ons nie die tipe netwerke het wat die tuisskolers in die VSA het nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: