Begrafnispreek: Tannie Anna Malan (1922 – 2013)

 tannie anna kaleidoskoop

 Ons het Saterdag oggend hier in Carletonville tannie Anna Malan begrawe. Sy was ‘n kosbare gelowige mens gewees vir familie, vriende en lidmate.

Ons as gesin het tannie Anna die afgelope 6 jaar goed leer ken. Dit was vir ons geseënde jare saam met haar.  Ons dank die Here vir die getuienis was ook deur haar na ons almal uitgegaan het, veral in haar getrouheid om die eredienste by te woon …. in die oggend én die aand.

Op aanvraag van familie en lidmate plaas ek graag hier onder die begrafnispreek uit Luk.2:36-38. Mag dit vir ander gelowiges ook tot troos en hoop wees.  Laat ons almal opnuut vertroos word deur die woorde van die gedenkplaat in een van die foto’s hierbo, Ps.126:3.

Let wel: ek plaas beide die opname en die geskrewe teks van die preek hier, maar eersgenoemde was die preek op die dag, wat hier en daar verskil van die geskrewe teks.

Die opname: Luk.2:36-38 preek: begrafnis van tannie Anna Malan 

Ons enigste troos in lewe en in sterwe: Jesus Christus, dag én nag

Lees: Lukas 2:21-40

Teks: En daar was Anna, ‘n profetes, die dogter van Fánuel, uit die stam van Aser. Sy was op baie ver gevorderde leeftyd en het van haar maagdom af sewe jaar lank met haar man saamgelewe;  en sy was ‘n weduwee van omtrent vier en tagtig jaar. Sy het nie weggebly van die tempel nie, en met vaste en gebede God gedien, nag en dag.  En sy het in dieselfde uur daar gekom en die Here geprys en van Hom gespreek met almal in Jerusalem wat die verlossing verwag het. – Luk.2:36-38

Psalms: 84:1,2; 23:1; 147:1,4

Geliefde familie, vriende, mede-lidmate,

Ons word vanoggend hier bymekaar geroep deur nog ‘n oop graf

Ons het nie gevra daarvoor nie, maar dit is deel van die lewe,

die werklikheid, harde werklikheid, die gebroke werklikheid,

ongeag hoe baie mense hierdie werklikheid probeer ontken, aflag, ignoreer,

maak asof dit nie bestaan nie ….

En, nou is die vraag:

met watter verwagting het ons opgetrek na die huis van die HERE vanoggend ?

Wat is ons verwagtiging, hoekom het ons gekom ?

Om bloot afskeid te neem van ‘n kosbare geliefde, ‘n bekende ?

Ter wille van die familie, om gesig te kom wys, om beleefd te wees ?

Omdat dit deel van ons tradisie is, ons begrawe ons geliefdes …

Maar geliefdes, dit is hierdie dinge, maar soveel meer …

Ons afspraak met die dood vanoggend, is juis om die lewe te sien !

Want elke afspraak met die dood, is weer ‘n keuse tussen die dood en die lewe

Daarom wil ons vanoggend, met die begrafnis van ‘n geliefde, opnuut hoor:

 Wat is ons enigste troos in lewe en in sterwe

 

Gaan ons waarlik, waarlik vertroos hier weg vanoggend,

of is daar geen troos in hierdie wêreld,

hierdie gebrokke stukkende sondige wêreld,

waarvan ons in ons lewens en ons tye al te bewus is van …

Is die dood en ellende die einde van alles, ook van enige troos en hoop in die lewe ?

Ons teks vertel vir ons van twee oud-gelowiges,

in vandag se taal, senior burgers van die volk Israel,

senior-lidmate van die godsdiens van Israel.

Uit Simeon se woorde in v.29 kan heel waarskynlik afgelei word,

dat hy nie net aan die einde van sy profetiese roeping gestaan het nie,

maar ook aan die einde van sy lewe.

Met Anna is dit baie duideliker, Lukas beklemtoon haar ouderdom

in verse 36 en 37:

– ‘baie ver gevorderde leeftyd’

– in alle waarskynlikheid oor die 100 jaar, dalk al 105 !

Maar, hul ouderdomme was nie die belangrikste aspek van hul lewe nie,

maar hul lewenswyse:

– Simeon word beskryf as ‘n regverdige en vroom man,

– iemand wat vol van die Heilige Gees was

– Anna word beskryf as ‘n ‘senior lidmaat’ wat:

– nie weggebly het van die tempel nie, van die huis van die Here nie,

– sy het nag en dag deur vaste en gebede God gedien.

Nou is dit kenmerkend dat sy uit die stam van Aser was,

wat noordwes van Jerusalem, die tempel was, die verste weg (Galilea),

en tog … lees ons: “Sy het nie weggebly van die tempel nie, en met vaste en gebede God gedien, nag en dag.” (v.37)

Die woord ‘gedien’ wys op toewyding, aanbidding, verheerliking,

lofprysing van God …

Die woorde ‘nag en dag’ wys op totale oorgawe,

dit was die sin van haar lewe,

dit is waarop sy gefokus het in haar lewe.

NOU, geliefdes hier vanogggend, wat is dit wat hierdie twee oud-gelowiges gedryf het ?

Waarom hierdie totale toewyding, hierdie totale oorgawe ?

Waarom hierdie – wat baie vandag, selfs in kerke sal noem – ‘ongebalanseerdheid’ in hul lewe ?

Waarom sulke toegewyde tempelgangers ?

Wat het hul na die tempel gedryf week na week, jaar na jaar ?

Hoekom was dit vir hul geen las, om midde ‘n gebroke wêreld,

waar mede volksgenote die Here nie meer ywerig en volgens die Woord gedien het nie,

… tog aan te hou optrek na die huis van die Here ?

Was dit ‘n blote familie saak

Om deur ander mense gesien te word ?

Ek gaan besigheid doen in Jerusalem,

daarom kan ons by die tempel gou-gou ‘n draai maak …

as daar tyd is (soos baie van ons vandag sal redeneer)

Was dit bloot om hul volk se tradisies te onderhou

bloot goeie dade te doen om deur mense gesien te word …

Nee, geliefdes, hul diens aan God, dag en nag in die tempel (Anna)

en hul lewe van vroomheid en regverdigheid (Simeon)

was die vrug van dit wat die wesentlike sin was in hul lewe,

wat hul hele lewe bepaal het,

wat die hele temple verteenwoordig het, waarbinne hul nou staan,

wat al die jare se offers en seremonies uitgebeeld het …

nl. ‘n Mens, ‘n Godmens, ‘n Verlosser, ‘n Trooster, wat moes kom

en dit is Jesus Christus.

Hy wat nou self daar in die tempel is !

Immanuel, God met ons !

as klein kindjie, ingedra deur sy ouers !

Hy wat deur ons teks as volg beskryf word:

– v.25, die Vertroosting van Israel, wat alle trane kom wegvee, wat sy Gees vir ons gee vir altyd as Trooster in ons lewens.

– v.26 die Christus van die Here, die Gesalfde wat moes kom volgens die OT, gesalf om vir ons sondes en ellende te kom sterwe, sodat ons weer kan lewe, ons volkome Koning, Priester en Profeet.

– v.27 die Kindjie Jesus, die naam Jesus wat beteken die Here red, Hy verlos.

– v.28 ‘u heil’, d.w.s. God se, ons Vader se verlossing, nie net vir die Jode nie, maar die hele wêreld,

vir alle volke stamme tale en nasies, v.31-32,

” …. u heil …. wat U berei het voor die oë van al die volke — ‘n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel.”

(En mag ek ons almal hier herinner, ook op die datum vandag, 6 April. Dink aan 6 April 1652, ons volksplanting dag, wat die sin en roeping van ons plek in Afrika verteenwoordig. Die gebed van Jan van Riebeeck dat die christelik gereformeerde geloof in Afrika onder al die volke bekend gemaak sal word.  Christus aan al die volke, dit is vandag nog ons roeping !)

Ja, Christus, is die rede en bron van Simeon en Anna se toegewyde dankbaarheids-godsdiens.

En, as Anna, v.38, in dieselfde uur daar is, en dit alles aanskou en hoor,

DAN gaan sy oor in aanbidding en lof aan die Here, maar ook,

om die Christus te verkondig, aan die hele Jerusalem.

Haar godsdiens gaan oor in aanbidding en verkondiging,

nie van haarself, of hul tradisies nie, maar, v.38 ‘van Hom’

Daarom was Simeon en Anna se enigste troos in lewe en sterwe,

Jesus Christus, en alles wat Hy sou kom doen het

vir hulle, maar ook vir al sy kinders deur alle eeue tot die laaste dag (v.32).

Daarom kon Simeon, en seker ook Anna, die Verlossing in hul hande

letterlik vashou en werklik sien, wat hul voor dit net gehoor en van gelees het,

in die OT geskrifte.

Nou het dit ook ‘n wonderlike konkrete troos vir hulle bevestig:

– troos van die vergifnis van sonde,

– troos om ewig te lewe, veral as hul aan einde van hul lewens is

– die troos om ook eendag hul geliefdes te sien …

Anna wat na 84 jaar, ook as sy sterwe, haar man gaan sien, v.37,

as hy in die Here gesterwe het,

WANT, die Verlosser van Israel en die ganse wêreld, is gebore.

Die tyd van verlossing het aangebreek !

NOU, geliefde tempelgangers, kerkgangers vandag,

Ook vir ons gemeente, vir u lewens as familie en vriende,

is ‘n Anna gegee vir 90 jaar om, om deur haar te getuig van die

troos en verwagting waarin sy en ons moet lewe,

dat Christus, ons enigste Troos in lewe en sterwe is !

Ook tannie Anna het die Here getrou gedien in sy tempel, in sy huis

van 1953 (met onderbrekings hier en daar) tot einde 2012,

en die laaste paar maande in Kriel tot haar afsterwe,

by haar seun en skoondogter (Neels en Hannatjie).

Hoe het haar stille getuienis nie uitgegaan aan ons almal nie !

Vir ons as gesin was dit ‘n diepe troos, ‘n bemoediging, ‘n hoop

as tannie Annie, selfs toe sy al so oud was, moeg was, swak was

… nie net in die dag nie, die oggenddiens …

… maar ook in die nag, die aanddiens …

opgetrek het na die huis van die Here,

OM TE HOOR VAN ONS ENIGSTE TROOS IN LEWE EN STERWE,

ONS HERE JESUS CHRISTUS !

Uit haar mond was alleen danksegging, bemoediging en hoop,

ook vir my as predikant, ook as ek moedeloos en moeg was.

Toe ek haar die 2de laaste keer gesien het, maar ook die laaste keer

saam my gesin, ‘n paar dae voor haar sterwe,

het sy in haar pyn en lyding, net aanhou 2 dinge vra:

– hoe gaan dit met jou gesin ?

– hoe gaan dit met die gemeente, die huis van God ?

Nie aan haarself gedink nie, maar aan haar geliefdes.

Haar bedes het dag en nag uitgegaan vir ons, vir ons gemeente

En haar enigste troos was om vas te hou aan God se genade in Christus.

Maar, terug by ons geliefdes,

Simeon en Anna en tannie Anna en ‘n ontelbare skare gelowiges,

het reeds ons vooruit gegaan,

hulle geloof het nou ook in aanskoue oorgegaan,

om die HEIL van God te sien, vas te hou, te omhels (v.28).

Maar, ons is nog op die pelgrimspad,

ons lewe nog op die aarde, in die belofte tyd

Waar is ek en u vanoggend ?

Deel u saam in die Vertroosting van Israel, in God se heil

glo u waarlik in Jesus Christus,

dat Hy ons enigste verlossing van sonde is,

ons van die ewige dood en hel kan bevry ?

Is Hy, ja HY die rede waarom u vandag hier is ?

Is Hy die troos by die oop graf ?

Is Hy u troos as u more, die week en die jare wat kom, die gevaar loop om

deur u sonde en ellende, en dood en pyn en hartseer oorweldig te word ?

As die wêreld en die Satan u wil oortuig daar is geen hoop en verwagting meer nie.

Want sien geliefdes, Simeon deur die Gees waarsku my en u ook vanoggend,

in vers 34, dat Jesus Christus, die Naam is wat die Here, die skepper van

hemel en aarde gegee het, wat ons hele lewe, ons ewigheidsbestaan bepaal:

“Kyk, hierdie Kind is bestemd tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel en tot ‘n teken wat weerspreek sal word.”

Hierdie Kind is bestemd tot ‘n val en opstanding van baie in Israel

en deur die eeue, ook by ons, en ook vandag en more.

O geliefde, moenie dat die graf jou ewige troostelose dood wees nie.

Moenie vandag hier weggaan sonder Christus nie.

Glo in Jesus Christus, en jy sal gered word

Weier Hom, verwerp Hom, dan gaan jy ewig verlore sonder hoop (Joh.3:36).

As Christus later self by die graf van sy goeie vriend Lasarus staan,

sê en vra Hy vir Martha, maar ook vir ons as begrafnisgangers vandag:

“Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe;  en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?”(Joh.11:25,26)

Glo u in daardie Troos geliefdes ?

Dan is die begrafnis hartseer saak, ons mag ons geliefdes mis,

maar ons is nie moedeloos en hopeloos nie,

Ons het ‘n hoop, ‘n verwagting, ‘n Troos deur ons hartseer !

Vir die lewe nou en tot in ewigheid.

Daarom, glo in Jesus Christus,

dien Hom dag én nag,

Trek op na sy huis, nie net vandag nie,

maar ook more, op sy rusdag en feesdag,

vir die res van u lewens,

want u wil die Here dien en Christus ontmoet,

leef nou en vir die toekoms met ‘n hoop en verwagting soos Simeon en Anna gedoen het,

Ons het ‘n hoop en verwagting dat Jesus Christus terug gaan kom,

om die lewende en die dooies te oordeel.

En alleen as ons in Christus is, kan ons in die Vader se velige arms wees,

vir ewig veilig en getroos, geen meer oordeel of dood nie.

Tannie Anna en die triomferende kerk loof en prys die Here nou in volmaaktheid

Ons doen dit nog deur die geloof oppad, verwagtend, en hopend.

En van daardie hoop, troos en verlossing gaan ons nou sing,

uit ‘n geliefde Psalm van tannie Anna, Ps.147 (waaruit ek ook more preek),

wat ook ons troos vandag is.

Ek hou vir u die woorde voor ….

Laat voor die HEER ‘n lofsang rys!

Hoe goed is dit om God te prys!

Hoe lieflik om dié lof te sing,

die lof wat ons aan Hom moet bring!

Want Hy wil ons in guns aanskou,

Hy wil Jerusalem herbou

en Isr’el wat verstrooid nog swerf,

versamel op die heil’ge erf.

Amen.

2 thoughts on “Begrafnispreek: Tannie Anna Malan (1922 – 2013)

Add yours

  1. Dankie Slabbert vir ‘n troostende en nogtans uitdagende boodskap.
    Wat ‘n troos vir die mens wat weet sy lewe is in die hand van die getroue God en Vader.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: