Ons roeping om onsself en ons kinders te katkiseer

Lees: Lukas 1:1-4; 2:41-52

Teks: Lukas 1:4 en 2:46,47

” … sodat u met volle sekerheid kan weet die dinge waaromtrent u onderrig is. … En ná drie dae het hulle Hom in die tempel gevind, terwyl Hy in die midde van die leraars sit en na hulle luister en hulle uitvra. En almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy verstand en sy antwoorde.”

Tema: Ons roeping om onsself en ons kinders in die vrees van die HERE te katkiseer

Nota: ‘n verwerking van ‘n preek wat ek gelewer het by die GK Carletonville, 14 April 2013.

Geliefdes in Christus,

Die woorde ‘katkisasie’, ‘kategete’, ‘katkisant’ en Heidelbergse ‘Kategismus’,

is by ons as gereformeerde gelowiges baie bekend, of …

dit behoort by ons baie bekend en bemind te wees.

Ons word daarmee groot, ons hoor dit tydig en ontydig.

Maar, ons vergeet baiemaal die belangrikheid daarvan,

juis vir ons tye wat godskennis so minag,

en ook die belangrike rol wat katkisasie speel,

om die kerk van Christus uit te bou en te bewaar.

Ons kerkverband is besig om, na aanleiding van ‘n 2012 sinodebesluit

opnuut te besin oor ons kerkverband wat sterwend is.

Volgens statistiek was ons (Afrikaanse gemeentes) in 1971  104 000 lidmate,

waarvan 38% dooplidmate was, dus 40 000.

Vandag (2011/12) is ons 63 000 lidmate, waarvan 16% dooplidmate is, dus 10 000.

(sien die Omkeerstrategie skrywe, Sinode Handelinge van 2012)

En dalk is juis een van die redes daarvoor,

dat daar nie genoegsame erns gemaak word met katkisasie,

ons verbondsbeloftes, en alles wat dit behels nie ?

Ons wil vanoggend opnuut aandag gee aan die kerk en dus ons almal, se

Roeping om ons en ons kinders in die vrese van die HERE te katkiseer.

En ons gee daaraan aandag,

eerstens, heel vanselfsprekend, omdat ons katkisasie vandag na die erediens weer begin.

Maar ook, tweedens, hierdie jaar is die 450-jaar gedenkjaar van die

bestaan van die Heidelbergese ‘Kategismus’,

seker die bekendste katkisasie- en kategismusboek

in die gereformeerde wêreld ooit, vandag nog.

Nou eerstens, wat beteken die woord ‘katkisasie’ ?

Die woord kom van die Griekse woord ‘katecheo’

Hierdie woord verskyn x9 keur in die NT.

En dit beteken letterlik: om klank aan te stuur om te bons, om klank heen en weer te stuur.

Amper soos ‘n ego in die berge, jy skree iets, en die klank kom terug na jou toe.

Of soos ‘n boomerang, jy gooi dit, en dit kom terug na jou toe.

Of soos ‘n tennisbal wat jy teen die muur bons, dit kom terug na jou toe.

Van toepassing op woorde:

Jy sê iets, spreek woorde, sinne uit, en dan kry jy ‘n antwoord terug.

En dan vra jy weer en kry weer ‘n antwoord (die woorde ‘bons’ heen en weer)

En daarom, vraag en antwoord … dink aan die Heidelbergse Kategismus !

So, katkisasie is om onderrig te ontvang, onderwys te ontvang, lering te ontvang,

deur die vraag en antwoord metode.

In Lukas 1:4 kry ons hierdie woord,

“sodat u met volle sekerheid kan weet die dinge waaromtrent u onderrig is.”

Die woorde ‘onderrig’ is die woordjie ‘katecheo’, om gekatkiseer te word.

Om onderrig, om katkisasie te ontvang.

So, alles wat Lukas nou gaan skryf, is om Teofilus, en die kerk, en dus ons

te onderrig, te katkiseer, te leer.

Maar, baie belangrik, dit is nie net bloot inligting oordra nie,

Dit is om lering, kennis, ‘n boodskap oor te dra,

en dan te verwag daar kom iets terug,

daar kom ‘n antwoord op die Woord.

Daar kom ‘belydenis van geloof’ !

Dit is intieme gesprekvoering, ‘n ware verbondsgesprek.

Daarom die belangrike aspek van vraag en antwoord

wat in die woord se betekenis opgelê is.

En soos jy kennis oordra, deur vraag en antwoord,

leer jy wat iemand anders weet, en bevestig dit,

help reg, voeg by, ens.

Ons kry iets daarvan in die teksgedeelte van Lukas 2, verse 46,47.

As Jesus se ouers agterkom hy is nie meer met hulle met die terugreis nie,

keer hul terug na Jerusalem,

en daar vind hul hom in die tempel, en ons lees dan:

“… terwyl Hy in die midde van die leraars sit en na hulle luister en hulle uitvra.”

Luister en uitvra.

Dit is wat hier plaasgevind het,

onderrig, katkisasie, tussen Christus en die leraars, én andersom.

Sien ook vers 47, hulle was ‘verbaas oor sy verstand en sy antwoorde.’

Moenie vergeet nie geliefdes, Jesus was sondeloos in sy mensheid,

maar moes in sy mensheid nog leer, gekatkiseer word, onderrig ontvang,

nog vrae vra en antwoorde kry.

Sien vers 52, “En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en by die mense.”

So geliefdes, ware katkisasie is nié:

– koop vir my kind ‘n Bybel vir verjaarsdag en sê dan “dê, gaan lees dit op jou eie, en vat dit kerk toe nie”,

– sorg dat my kind by die katkisasie klas afgelaai word met hul katkisasie boeke nie, en dan dink my taak as ouer is nou verby nie.

Nee, dit is dit maar soveel meer:

Dit is ‘vraag en antwoord’, bespreking, belangstelling, besinning,

uitvind wat weet die kind, ‘katkisant’, en wat nie, gesprekvoering,

die uitruil en omruil en terugruil van ware kennis.

Tweedens, wat moet gekatkiseer word, watter inhoud ?

Volgens Lukas, hier in 1:1-4, asook sy tweede boek, Hand.1:1-3:

“alles wat Jesus begin doen en leer het”, die Evangelie,

maar dan ook die hele Woord, soos ons hoor in 2 Tim.3:16,17:

“… en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,  sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”

Die hele raad van God moet aan ons en ons kinders geleer word (Hand.20:27), gekatkiseer word.

Want, ons leer van Christus, reeds vanaf Genesis 1 tot Openbaring 22 (sien HK v/a 19).

In ons gereformeerde doopsformulier, in ons belydenis van geloof formulier, hoor ons: “die leer van die Ou en Nuwe Testament, wat in die artikels van die Christelike geloof saamgevat en in die Christelike kerk hier geleer word, die ware en volkome leer van die saligheid.”

So, ons moet mekaar en ons kinders die hele Woord leer.

Mekaar katkiseer daarin, van geslag tot geslag (Ps.78:3,4 wat ons gesing het).

En nou, geliefdes, juis om ons daarin te help, het ons belydenisskrifte,

maar dan veral ook die Heidelbergse Kategismus,

wat deur vraag en antwoord ons die kern van ons Christelike geloof leer:

My enigste Troos in lewe en in sterwe is dat ek na liggaam en siel,

nie aan myself nie, maar aan Jesus Christus behoort (HK v/a 1), en om in

hierdie saligheid te lewe moet ek 3 dinge weet (v/a 2):

– hoe groot my sonde en ellende is

– hoe ek in Christus verlos word van my sonde en ellende, en

– hoe ek in dankbaarheid, volgens sy Wet, deur gebed kan lewe.

Dit was veral die protestantse kerke, veral die gereformeerd protestantse kerke

wat konfessies en kategismusse, baie van hulle, ontwikkel het.

Hoekom ?

Om mense wat deur baie eeue deur baie onkunde vasgevang was deur die Rooms Katolieke sisteem, te bevry met die waarheid van God se Woord, met die Evangelie (sien HK v/a 98).

Deur die Latynse taal wat vir die gewone volk ontoegangbaar was,

deur die priesters versus leke teenstelling in die kerk,

was die kerkvolk onkundig gehou aangaande die Woord en evangelie,

en is hul vasgevang gehou in dwalinge.

Toe Luther, Calvyn en Knox en baie ander die reformatore

die evangelie en sola Scriptura herontdek het,

het daar ‘n bevryding gekom deur die Waarheid (Joh.8:31-36),

wat mense se lewens en kerke en samelewings bevry het van die Roomse juk.

En in hierdie reformatoriese bevrydingsbeweging het belydenisskrifte en kategismusse sentraal gestaan. Ek lees vir u ‘n aanhaling uit die geskiedenis om dit te wys:

“The heretics have chiefly made use of catechisms to corrupt the minds of Christians.”

“The papists … acknowledge that all the advantage which the Protestants have gotten of them hath come by this exercise [of catechetical instruction].”

Eersgenoemde aanhaling is van die Council of Trent (1545-63) wat deur Rome gehou is om die Reformasie teen te werk, en laasgenoemde van Lancelot Andrews (1555-1626).

(Bron: Rediscovering Catechism: The Art of Equiping Covenant Children, Donald van Dyken, Philipsburg, NJ: P&R Publishing, p.31. Hierdie boek word sterk aanbeveel vir ouers, kategete en predikante om te lees)

Wat tragies is geliefdes, in die 1500’s het Rome met dwang die Woord weggehou van die kerkvolk.

Vandag, doen Protestante dit aan hulself !

Daar word eintlik geroem in die onkunde, om so min as moontlik

van die Bybel, belydenis, kerkgeskiedenis, ens., te weet.

Baie kerke en lidmate dink dit is ‘n deug om so min as moontlik te weet,

Party wil die belydenis weggooi, verander, vergeet !

Kinders word deur ouers se voorbeeld mislei om te dink net kennis van hul aardse beroep is belangrik.

Skool word nie gemis nie, maar kerk en geloofsake kan maar gemis word

Eredienste kan maar opgegee word, katkisasie klasse is nie so

belangrik nie, maar ander aardse sake, sport en akademie wel.

Die ware leer moet plek maak of selfs vervang word deur ‘aksies’

Ons wil nie meer leer nie … net ‘doen’, hoor ons al meer.

Tragies.

Maar deel van die probleem en dan oplossing geliefdes, is juis die derde vraag:

wie moet katkisasie gee ?

Die antwoord is baie duidelik, die ouers, met die kerk/mede-gelowiges se hulp,

daarom die hulp-kategete gedagte, met ouers as die hoof-kategete,

Let wel: nie ‘ek’ of ‘ons’ nie, maar albei, verbondsmatig.

Gelowige ouers midde die gemeente se ‘ons’, onderrig mekaar in die vrese van die HERE.

Eintlik moet almal almal leer in die Woord, elkeen op die plek wat die Here bepaal het.

Gal.6:6 wat ook die woord katecheo gebruik:

“Maar laat hom wat in die Woord onderwys ontvang, meedeel van alle goeie dinge aan hom wat onderwys gee.”

Elkeen het ‘n bepaalde taak, laat ons mekaar daarin help.

In die doopsformulier staan daar ‘onderrig en laat onderrig’

Ouers moet self katkisasie gee, en dan laat katkiseer,

ook die katkisasie van die kerk gebruik,

ook die gawes van ander lidmate.

In ons teks by Lukas 2 sien ons dat Jesus deur die leraars geleer is (v.46,47),

maar ook aan sy ouers onderdanig was, en van hul dus geleer het (v.51,52).

Maar, baie belangrik, gemeente onderrig vervang nie die huis- of ouerlike onderrig nie,

inteendeel eerssgenoemde bou voort op laasgenoemde.

Dit is ook wat ons hoor in Deut.6:4-9,

4 Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE.  5 Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.  6 En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees;  7 en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.  8 Ook moet jy dit as ‘n teken bind op jou hand, en dit moet as ‘n voorhoofsband tussen jou oë wees.  9 En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe.

Hieruit sien ons dat om ‘katkisasie’ te gee, om te onderrig, om te leer, ‘n lewenswyse is,

nie bloot ‘n 20 minute of halfuurtjie elke 2de Sondag nie !

Ouers moet in hul hele lewenswyse self leer, in Sy weë wandel,

en dan in hul hele lewenswyse hul kinders ook leer, saam leer, vraag en antwoord,

heen en weer mekaar opvoed in die vrese van die HERE.

Verbondsouers, as jul nie in julle hele lewe jul kinders van die Here en sy Woord leer nie, vergeet dat ‘n halfuur of 20 minute katkisasie per week, 25 keer per jaar dit gaan doen.

Dalk loop die GKSA juis ‘leeg’, omdat ons nie met ons totale lewenswyses,

die Here met hart, siel en verstand liefhet en dien nie ?

Dalk omdat ons nie ons Here Jesus totaal liefhet in alles in ons lewens nie,

Ons nie sy Woord oor ons hele lewe laat skyn as ouers nie

…. en ons kinders sien dit ….

En dan leef ons kinders in 2 wêrelde … soos ons:

– die Sondag gaan ons kerk toe, wees heilig vir ‘n paar oomblikke, doen gou katkisasie

– maar die res van die week leef ons asof Hy en sy Woord nie bestaan nie.

Dan vind daar nie onderrig, katkisasie as ‘n lewenswyse plaas nie.

Oupas en Oumas, ons lees in 2 Tim.1:5 van Timoteus se moeder én grootmoeder, wat heel waarskynlik hom ‘gekatkiseer’ het,  en later het Paulus daarmee aangegaan.

Gesin en kerk wat saam die Here dien en eer, ook deur katkisasie.

U, saam met ander lidmate moet besorg wees oor u eie kleinkinders se katkisasie.

Pa’s, ons lees in Ef.6:4 En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.

Vaders, katkisasie is nie net moeders en hulp-kategete se taak nie, ons moet betrokke wees,

– met huisgodsdiens voortgaan in Bybel lees, Psalms sing, gebede doen

– kinders vrae vra, met hul lewenssake in die lig van die Skrif bespreek,

– nie net reddingsake nie, maar ook heiligmakingsake soos verhoudings, kleredrag, musiek, vriendekringe, films, internet, ens.

En dit beteken ouers, as u ‘n roeping, ‘n plig het om te katkiseer, te onderrig,

dan geld Gal.6:6 ook vir u,

wat beteken u moet self Bybel lees, die belydenis bestudeer, kerk toe gaan, ens !

En as u nie die kennis het nie, begin iets daaraan doen,

woon die bybelstudies by, lees goeie boeke, gebruik die huisgodsdiensrooster,

LEES EN BESTUDEER BO ALLES DIE BYBEL EN ONS PSALMBOEK EN ALLES DAARIN.

Geliefde, mede-katkisant en mede-kategete,

Laat ons opnuut ons verbind om mekaar te katkiseer,

sodat, Luk.1:4, ons en ons kinders tot volle sekerheid kan kom

oor die ware geloof wat aan ons oorgelewer is,

Laat ons in ons hele lewe, elke dag van die week,

daar waar die Here ons elkeen roep, in ons gesinslewens, in ons ontspanning,

in alles, besig wees ‘in die dinge van (ons) Vader’ (Luk.2:49),

mekaar werklik katkiseer deur sy Gees en Woord.

Laat ons terugkeer na ons eerste liefde (Op.2:4), ons Here Jesus Christus.

Dan sal ons kinders ook begin terugkeer (Mal.4:6), alleen deur Sy genade.

Anders, gaan die woorde van Hosea 4:6 ook waar word van ons en opkomende geslagte,

ook vir die GKSA … met Omkeerstrategie en al:

My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.

Amen.

4 thoughts on “Ons roeping om onsself en ons kinders te katkiseer

Add yours

  1. Baie dankie dat jy ‘n uiters belangrike saak aanraak. Ek is seker dinge in die NGK loop so skeef omdat daar nie meer behoorlike “katkisasie” gedoen word nie, ten spyte van die plegtige belofte ( gelofte?) wat ouers met die doop van elke kind aflê ( “te onderrig en te laat onderrig”) , soos jy ook hier bo duidelik uitwys. En hoe kan ‘n ouer dit doen, as hy/sy nie self een of ander vorm van “onderrig” ontvang nie?

  2. Interessant dat ek op jou ” page” afkom. Ek was in vatikaanstad en ontdek die woord ” konsistorie” by die pous se hart saam met ” bafomet” en wonder toe van more waar kom di woord “katkisasie” vandaan. Moet sê ek stem totaal saam dat ons “gelowiges” so onkundig is tov die woord en waarheid. Veral wanneer ons bv by kinderdoop wat geensins in die woord voorkom nie. Wel as dit verwys na besnydenis soos NG kerk se xtra bybels…ek praat van heidelbergse katigusmus en leerreëls uitkom het die arme dogtertjies ń probleem!!! Daars niks om af re sny nie!!! So, wanneer daar na waarheid verwys word…hoort daar nie xtra bybels nie. Ek sien ook dat sekere gedeeltes of omskryf of ge-ignoreer word! Wanneer die “kerklidmaak” wat ni in kweekskool geleer word nie, maar deur die HG begin vra, vra moet ” teologiese” onverstaanbare antwoorde gegee word. Ek meen maar, hoekom word daar nie in tale gepraat nie, soos Paulus? Het God sy plan verander? Hoekom word Jesus as baba besny en as grootmens gedoop? Nee, weet jy die waarheid lê in die Woord! En dis so eenvoudig, kindertjies kan dit verstaan. As jy Jesus volg, sê hy: no 1: gaan na alle nasies ( waar val Belhar uit????? Maw gaan julle na hulle) no2. MAAK hull my dissipels no3. DOOP hulle …noudat hulle dissipels is No3 Leer hulle die waarheid.
    Wanneer ń mens by die een oudige waarheid vd Woord hou, het jy moeilikheid veral as “broer” calvyn en dies meer uitgelaat word.Maar dièsulkes sal die HG moet teenstaan en dis ń plekkie waar ek nie wil wees nie. Bv hou maar by julle sondag shabbat saam met die pous en bafomet, wat dit weer WET gaan maak om op 1ste dag…met “son” dag die shabbat op almal gaan afdwing. Sterkte. Drienie

  3. Liewe Drienie. NOU raak jy ‘n teer raakpunt aan! Hoekom word lidmate al hoe minder ten spyte van bybelgeskiedenis wat op kinders af geforseer word? Juis dalk hoekom Jesus in Matt sê:
    Mat 15:8 Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. (klink kompleet soos ‘n godsdienstige kerk ritueel?)
    Mat 15:9 Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. ???

    My persoonlike ervaring is sodra ek deur HG(Roach) gelei word en ek uit en deur verhouding die Woord(skrifte) begin ondersoek(van moederskoot af gelei word)…..dan is woordbestudering(en nie lering) vir my ‘n plesier en ek kom by die werklike waarheid uit!

    Dan is dit nie meer vir my ‘n ritueel of godsdiens nie maar dit word ‘n leefwyse en die Woord word lewendig en ek kan nie GENOEG daarvan inneem nie.

    Mis die gereformeerde gelowiges moontlik die bedoeling….geheel en al? Hoeveel lidmate het nie al weens hierdie “leringe” moeg geraak langs die pad en besluit om dit eerder HEELTEMAL te los as om onderwerp te word aan menslike instellings waar HG GEEN inspraak het nie!!!

    Gerrit.

  4. AFR Proverbs 4:2 want ek gee aan julle goeie LERING, verlaat my onderwysing nie.

    AFR Proverbs 16:21 ‘n Wyse van hart word verstandig genoem, en soetheid van lippe vermeerder die LERING.

    23 Die hart van die wyse maak sy mond verstandig en vermeerder die LERING op sy lippe.

    AFR Proverbs 24:32 En ek het dit aanskou, ja, daarop gelet, gekyk, en LERING aangeneem:

    AFR Jeremiah 35:13 So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Gaan sê aan die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem: Wil julle hieruit geen LERING trek om na my woorde te luister nie? spreek die HERE.

    AFR Mark 4:2 En Hy het hulle baie dinge geleer deur gelykenisse en vir hulle in sy LERING gesê:

    AFR Romans 12:7 is dit profesie, na die maat van die geloof; of bediening, in die werk van bediening; of wie leer, in die LERING;

    AFR Romans 15:4 Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons LERING tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.

    AFR 1 Timothy 4:13 Totdat ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en LERING.

    AFR 2 Timothy 3:16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot LERING, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,

    AFR 2 Timothy 4:2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en LERING;

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: