Behoort kindertjies ook aan die koninkryk, verbond en kerk van die Here, en moet daarom gedoop word?

Behoort kindertjies ook aan die koninkryk, verbond en kerk van die Here, en moet daarom gedoop word?

BBWarfieldPhoto.jpg“God het sy Kerk in die dae van Abraham gevestig en kinders daarin geplaas. Hulle moet daarin bly totdat Hy hulle daar uithaal. Hy het nêrens hulle uitgehaal nie. Hulle is daarom steeds lidmate van sy Kerk en as sulks geregtig op haar ordinansies. Die doop is een van daardie ordinansies.” – Benjamin Warfield.

Skrifgebruik om die vraag te beantwoord
In die gesprekke en debatte oor die kinderdoop, meen baie dit gaan bloot daaroor om net te vra:

Gee my ‘n eksplisiete spesifieke teks in die NT wat kinderdoop noem, of voorbeeld van ‘n baba wat gedoop is in die NT, dan sal dit die debat finaliseer.

Dat hierdie nie die enigste vraag is om te beantwoord nie, en ook omdat ons as gereformeerdes nie daardie soort van eensydige NT-alleen biblisitiese Skrifgebruik huldig nie, kan mens die vraag beantwoord deur dan bloot drie verdere vrae te vra, nl:

Gee my ‘n eksplisiete spesifieke teks (of voorbeeld), waar God noem of beveel het of gewys het kinders is nie meer deel van die koninkryk, verbond en kerk van die Here in die NT tyd nie (soos kinders tog was in die OT bedeling)?, en, om ‘n ander baie belangrike leersaak ook as voorbeeld te gebruik;

Gee my ‘n eksplisiete spesifieke teks wat God ‘Drie-enig’ noem ?

‘n Mens kan ook daarby voeg: gee my tekste wat elke uitverkorene se naam eksplisiet noem, dat hul in die Boek van die Lewe opgeskryf is, ens.?

Hierdie, en ander vrae, laat gereformeerdes in navolging van die Skrif bely, om die woorde van die Westminster Konfessie (1:6) te gebruik,

Die volle raad van God met betrekking tot alle dinge wat nodig is vir sy heerlikheid, die saligheid van die mens, en die geloof en lewe, is uitdruklik opgeteken in die Skrif, of mag van die Skrif afgelei word, deur ‘n goeie en noodsaaklike gevolgtrekking.

Lees hier, meer oor hierdie belangrike saak van hoe ons God se wil soek, en sy Woord gebruik, oor die saak van die Kinderdoop: Die Kinderdoop en die Skrif

Met dit as agtergrond, is ek van mening, die groter en belangriker vraag is om te vra, wat leer die Skrif in sy geheel, hoe sien God, kindertjies van gelowiges in sy koninkryk, verbond, en kerk?

Hoe verskil gereformeerdes en baptiste, oor hoe ons na kinders kyk ?

Ek is van die oortuiging dat die wesentlike probleem by baptiste is, hoe hul kinders van gelowiges verkeerdelik beskou in die NT bedeling as in stryd met die OT bedeling, en dit lei dan tot hul verwerping van die kinderdoop.

John Piper oor kinders

John Piper het ‘n artikel geskryf waarin hy antwoord hoe hulle na ongedoopte kinders kyk in die lig van die Nuwe Verbondsbeloftes. Dit kan hier gelees word, en as ek verdere opmerkings daaroor maak, veronderstel ek dat u, die leser, sy artikel gelees het:

How Do My Unbaptized Children Relate to the New-Covenant Promises?

Piper begin sy artikel deur – in sy redenasie waarom hy meen ons die verbond ‘herdefinieër’ om kinders toe te laat in die verbondsgemeenskap – hyself dus veronderstel dat deur net ‘believers baptism’ te handhaaf,  die ‘new covenant community’ net uit uitverkore volwassenes bestaan, d.i. nou hulle wat ‘n belydenis van geloof gedoen het, en ‘n getuienis van ‘n geloofslewe het.

Die groot ironie van sy argumentasie is, dat terwyl hy meen verbondsouers kan nie sekerheid hê oor hul klein kindertjies se redding nie (dat hul uitverkore is nie), meen hy dus, by implikasie, dat hy en al die baptiste wel sekerheid kan hê oor almal wat groot gedoop is, dus eers as hul hul geloof bely het en toe eers gedoop is ?

So, Piper meen ons as verbondsouers kan nie sekerheid hê oor redding van babas nie, maar hy kan wel sekerheid hê van elkeen wat hy doop het, of hoe? Is dit dan nie juis dieselfde probleem as wat (ek en hy) verwerp nie: wedergeboorte deur die doop (baptismal regeneration), nie ?

Hierdie redenasie van Piper (en baptiste oor die algemeen), bevestig juis wat ek in die vorige artikel geskryf het hul groot probleem is, waarom hul die kinderdoop verwerp, nl. hul sien, of verstaan nie, dat God se uitverkorenes bestaan uit beide uitverkorene volwassenes én uitverkore kinders (babas ingesluit), en is daarom ook deel van die bediening van die verbond en sigbare kerk hier op aarde nie.

En daarom, kan die bediening van die teken van die verbond, die doop, nie aan gelowige ouers se kinders weerhou word nie, anders is die implikasie daarvan juis, dat die grootdoop ‘bepaal’ wie die uitverkorenes is, of nie, terwyl ons glo God doen dit alleen deur sy vrye welbehae, juis dit waarvan die doop getuig.

Piper noem verder in sy artikel, 4 sake waaroor ons almal gaan saamstem, met sekere kwalifikasie van nr.5, soos in die res van my artikel sal blyk:

  1. kinders is ‘n geskenk van God.
  2. kinders moet opgevoed word in die vrese van die Here.
  3. kinders moet opgedra word in gebed dat die Here genadig sal wees in hul lewens.
  4. ons moet die Here dank vir kinders, hul is deel van sy goedheid.
  5. ons hoop dat ons kinders tot geloof mag kom.

Die sake waaroor ons verskil, is in die volgende 2 sake wat Piper noem, asook punt 5 hierbo, wat ons as gereformeerdes verder sal kwalifiseer (kursief bygevoeg):

1) We do not assume that our children are born again until they make a credible profession of faith. We base that on 1 Peter 1:23, that the new birth is through the Word of God.

2) We do not formalize their union with Christ and his people by membership in the church until that credible profession of faith is publicly signified by baptism.

5) Finally, we view them as little pilgrims in hope on the way to faith, woven into the fabric of relationships in the family and the church

In hierdie drie stellings is die baptiste se probleem, dit is waar in sekere aspekte, maar verteenwoordig nie wat die hele Woord leer oor wie wedergebore kan wees, en wie almal aan die koninkryk, verbond en kerk behoort nie. Dit is die tragiese van die Baptiste se siening van kinders, hul erken so baie dinge van kindertjies waaroor ons saamstem, maar die heel belangrikste mis hulle heeltemal, dat klein kindertjies ook deel uitmaak van die verbond, kerk en koninkryk van die Here, en daarom ook die teken daarvan moet ontvang.

Gereformeerdes bid ook vir die redding van hul kinders, dat hul mag glo, maar, en hier is die groot verskil, ons glo van harte, dat die wedergeboorte en geloof wat daaruit volg, nie beperk kan word net tot volwassenes nie, of eers as ‘jy groot is’ en dan ‘n ‘credible profession of faith’ doen nie. Ons glo nie jy word eers deel van die kerk, verbond en koninkryk, net (ek herhaal ‘net’) eers wanneer jy volwasse is nie. Inteendeel !

Ons berus en vertrou in die Here se vrye welbehae dat Hy die wedergeboorte, die redding skenk aan elkeen wie Hy wil, maar ook wanneer hy wil.

Dit lyk my die baptiste veronderstel dat ‘n baba of jong kindjie nie wedergebore kan wees, en nie kan glo (binne sy beperkte omvang nie), soos Ursinus, die opsteller (of een van die opstellers) van die Heidelbergse Kategismus dit as volg stel, oor die redding van verbondskinders (kursief en beklemtoning bygevoeg):

“This is sure and certain, that God instituted his sacraments and covenant seals only for those who recognize and maintain the church as already made up of parties of the covenant, and that it is not His intention to make them Christians by the sacraments first, but rather to make those who are already Christians to be Christians more and more and to confirm the work begun in them. . . .

Hence, if anyone considers the children of Christians to be pagans and non-Christians, and damns all those infants who cannot come to be baptized, let him take care on what ground he does so, because Paul calls them holy (1 Cor. 7:14), and God says to all believers in the person of Abraham that He will be their God and the God of their seed. . . . Next let him consider how he will permit them to be baptized with a good conscience, for knowingly to baptize a pagan and unbeliever is an open abuse and desecration of baptism.

Our continual answer to the Anabaptists, when they appeal to the lack of faith in infants against infant baptism, is that the Holy Spirit works regeneration and the inclination to faith and obedience to God in them in a manner appropriate to their age, always with it understood that we leave the free mercy and heavenly election unbound and unpenetrated” (quoted in Südhoff, Olevianus und Ursinus, pp. 633f. Aangehaal deur Geerhardus Vos in sy artikel:”The Doctrine of the Covenant in Reformed Theology”’, hier beskikbaar).

Daarom lei die ‘geloof as gawe van God’ skade by die baptistiese teologie, ongeag hul goeie bedoelings om redding deur geloof alleen te wil handhaaf. Hul beperk die soewereine almag van God in redding, veral as dit by klein kindertjies kom in die genadeverbond.

Die gereformeerdes is dit volkome eens met baptiste, dat volwassenes moet opgeroep word tot geloof en bekering, en dan volg die teken van die redding, die doop. So daardie oproep geld ook vir al ons verbondskinders, maar ons weet en erken volgens die Skrif dat die Here enige tyd wedergeboorte en geloof kan skenk aan sy uitverkorenes, nie ‘net’ eers wanneer hul groot geword het, en aan ‘ons’ getuienis van geloof en lewe kan gee nie.

Daarmee is ons met baptiste volkome eens wat volwassenes betref, dit is die algemene oproep tot geloof en bekering wat na alle mense moet uitgaan (Hand.17:31), en daarna volg die teken en seël van hul verlossing.  Dit is hoe die Here in die OT ook gewerk het, sien weereens Abraham se voorbeeld, Gen.12,15 en 17.

Maar, dit is nie al wat die Skrif leer nie, die Skrif leer ook hoe die Here omgaan met kindertjies van gelowiges, in sy genadeverbond, in beide die OT en NT bedeling nie. Die Skrif leer ook dat kindertjies van gelowiges eers die teken ontvang, en dan volg die onderrrig, vermaning, oproep tot bekering, geloof, goeie werke ens., in die verbondsgemeenskap, sien die gereformeerde doopsformulier vir kinders.

God het dit so bepaal, en so geopenbaar, en ons moet daarby berus.

In wat hier nou volg, is dan ‘n verduideliking oor hoe ons kinders sien in die koninkryk, kerk en verbond van die Here, wat ons daartoe lei om ons kinders in die verbond ook te doop, as antwoord wat ons sien as baptiste se verkeerde siening van kinders van gelowiges in die verbond, en daarom verwerp hul die kinderdoop:

KINDERS VAN GELOWIGES IN DIE KONINKRYK, VERBOND EN KERK VAN DIE HERE

Al die verse wat gewoonlik deur baptiste aangehaal word, dat die doop ’n teken is van redding deur geloof alleen en dat iemand dan eers die teken van die doop moet ontvang, moet gesien word in sy konteks, tot wie dit spreek: tot volwassenes, hulle wat hul geloof kan bely en daarop volg die teken van die redding, die doop.  Dit is nie Skrifgedeeltes wat antwoorde gee oor kinders van gelowiges se plek in die genadeverbond en wanneer hul die tekens moet ontvang of nie.

Ons moet dus verder die hele Skrif bestudeer om te sien hoe die Here omgaan met kinders in die verbond, in die hele Skrif, en daarvolgens leer oor hul plek in die genadeverbond, die kerk, die koninkryk en of en wanneer hul die tekens van sy redding mag ontvang.

Daarom dat die gereformeerde geloof die hele raad van God (Hand.20:27) bestudeer oor hierdie vraagstuk, en die vraag beantwoord hoe die Here nie net omgaan met volwassenes nie, maar ook klein kindertjies van gelowiges.

En dit is hier waar ons volgens die Skrif glo, die grond van die kinderdoop lê in beide testamente in die Bevel en Belofte van die Here vir gelowiges en hul kinders, hul nageslag, én dit het nie verander in die NT dat dit net individualisties net vir die individuele volwasse gelowige bedien moet word nie (Gen.17:7; Hand.2:39). Die Here werk nog steeds deur die geslagte om vir Hom ’n volk te vergader uit volwassenes en klein kindertjies, tot sy eer.

Een van die baptiste se redes vir die verwerping van die kinderdoop, is dan dat daar mos geen getuienis is van geloof by babas nie, hoe kan hul gedoop word, want ons word mos deur geloof alleen gered?

Wel, as dit so is, dan moet dit beteken geen baba gaan hemel toe nie, of, dat daar wel geloof ter sprake is by babas wat gered word, of hoe ?

Hoe maak ons dan anders met kinders van gelowiges wat vroeg tot sterwe kom?

Dalk word geloof as werklike gawe, misterie en werk van God (Joh.6: 29; Ef.2:8-10; Filp.1:29); Hebr.11), nie reg verstaan by die baptiste nie, maar word dit ongeag dat dit seker ontken gaan word, as iets gesien wat slegs ‘volwassenes’ kan ‘doen’, ’n werk van die mens, iets wat glad nie by ‘babas’ op enige manier teenwoordig kan wees nie ?

Kom ons kyk opnuut na wat die Skrif leer oor die redding van klein kindertjies, en of daar enige aspek van gelowig wees by hul teenwoordig kan wees, asook hul plek in die kerk en koninkryk van God?

21 Toe vra sy dienaars hom: Wat is dit vir ‘n ding wat u gedoen het? Ter wille van die lewende kind het u gevas en geween, maar net toe die kind dood was, het u opgestaan en brood geëet.
22 En hy sê: Toe die kind nog in die lewe was, het ek gevas en geween, want ek het gedink: Wie weet—die HERE kan my genadig wees, sodat die kind in die lewe bly.
23Maar nou is hy dood—waarom sou ek dan vas? Sal ek hom nog kan terugbring? Ek gaan na hom, maar hy sal na my nie terugkeer nie. – 2 Sam.13:21-23

Opmerking: Dawid se hoop en sy troos is dat hy as gelowige, gaan na waar alle kinders van God/gelowiges/uitverkorenes/regverdiges gaan – die hemel, waar sy vroeggestorwe baba ook sal wees, en dus ‘n kind van God is.

Ja, U is dit wat my uit die moederskoot uitgetrek het, wat my veilig laat rus het aan my moeder se bors. Aan U is ek oorgegee van die geboorte af; van die skoot van my moeder af is U my God. – Psalm 22:10,11

Opmerking: Dawid behoort reeds van die moederskoot aan die Here, nie eers wanneer hy ‘volwasse’ word of sy geloof kan bely of sy vrugte van geloof getoets kan word nie.

5 Want U is my verwagting, Here HERE, my vertroue van my jeug af. 6 Op U het ek gesteun van die geboorte af, van die moederskoot af is U my bevryder; oor U is my lof altyddeur. … 17 o God, U het my geleer van my jeug af, en tot nou toe verkondig ek u wonders. – Psalm 71:5,6,17

Opmerking: Dawid beskryf sy baba en jeugtyd met woorde wat getuig van ‘n wedergebore hart: ‘my vertroue’ en ‘gesteun’ en ‘bevryder’ en ‘my lof altyddeur’. Is dit alles aanduidings van ‘n heiden en ongelowige as baba, kind, jeugdige ?

4 Die woord van die HERE het dan tot my gekom en gesê: 5 Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot ‘n profeet vir die nasies gemaak. – Jer.1:5,6

Opmerking: Reeds in die moederskoot is Jeremia geken en geheilig, laasgenoemde is die vrug van wedergeboorte, soos geloof ook is.

20 Verder het jy jou seuns en jou dogters geneem wat jy vir My gebaar het, en dié aan hulle geoffer om verteer te word. Was dit nie genoeg met jou hoererye nie,
21 dat jy my kinders geslag en dié oorgegee het deurdat jy hulle vir hulle deur die vuur laat gaan het? – Esg. 16:20,21

Opmerking: Die Here spreek die klein kindertjies wat Israel gruwelik ge-offer het, as ‘my kinders’ aan, ongeag die gruwelike daad wat hul ouers gepleeg het.

39 En in daardie dae het Maria opgestaan en haastig na die bergstreek gegaan, na ‘n stad van Juda; 40 en sy het in die huis van Sagaría gekom en Elisabet gegroet. 41 En toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in haar skoot opgespring; en Elisabet is vervul met die Heilige Gees 42 en het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou skoot!

Opmerking: Johannes die Doper is hier in die skoot van sy moeder reeds vervul met die Heilige Gees en openbaar vrugte van iemand waarin die Here reeds gewerk het deur sy Gees, selfs nog voor sy geboorte (sien Hand.10:47 waar ons leer dat hulle wat die Gees ontvang het, geregtig is op die doop, hoekom kinders dan uitsluit wat ook die Gees kan ontvang?)

15 En hulle het ook die klein kindertjies na Hom gebring, sodat Hy hulle kon aanraak; en toe die dissipels dit sien, het hulle hul bestraf. 16 Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God. 17 Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie. – Lukas 18:15-17

Opmerking: daar is verskillende Griekse woorde wat gebruik word om kinders aan te dui, van babas tot klein kindertjies of groter kinders (veral paida, teknon, brephos). Hier by vers 15 word die Griekse woord gebruik wat in die besonder ongebore of pasgebore babas en suigelinge beskryf (brephos). Soos volwassenes wat glo, behoort hierdie kindertjies ook aan die Koninkryk. In Joh.3:1-5 leer Jesus ons dat alleen hulle wat wedergebore is, behoort aan die Koninkryk van God, so dit is ook kinders, ook klein kindertjies. Mag kinders wat aan die Koning en sy Koninkryk behoort deur die wedergeboorte nie sy teken en seël dra nie (Tit.3:5)?  Sien ook die volgende artikel: Laat die kindertjies na My toe kom: ‘n Gereformeerde antwoord op ‘n baptistiese standpunt.

1 In daardie uur het die dissipels na Jesus gekom en gesê: Wie is tog die grootste in die koninkryk van die hemele? 2 Toe roep Jesus ‘n kindjie na Hom en laat hom in hulle midde staan 3 en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie! 4 Elkeen dan wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele. 5 En elkeen wat een van sulke kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My6 maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see.

3 Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie4 Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? 5 Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. – Matt. 18 en Joh. 3

Opmerking: Kinders word nie net gebruik om die ‘wyse of inhoud’ van geloof of gered wees te verduidelik nie, maar word deur Jesus gesien, gereken, beskou as deel van sy ‘wedergeborenes’ deur Gees en water (Joh. 3:3-5), asook as burgers van sy Koninkryk (Matt. 18:3; Luk. 18:16), hulle is ook ‘die kleintjies wat in My glo’ (Matt. 18:6), en dus so deel aan die verbond, kerk en koninkryk van die Here.

1 Paulus, ‘n apostel van Jesus Christus deur die wil van God, aan die heiliges wat in Éfese is, en die gelowiges in Christus Jesus: … 1 Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. 2 Eer jou vader en jou moeder—dit is die eerste gebod met ‘n belofte — 3 sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde. 4 En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here. . – Ef. 1:1; 6:1

1 Paulus, ‘n apostel van Jesus Christus deur die wil van God, en die broeder Timótheüs, 2 aan die heilige en gelowige broeders in Christus wat in Kolosse is: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus! 3 Ons dank die God en Vader van onse Here Jesus Christus altyd as ons vir julle bid, 4 omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en julle liefde tot al die heiliges … 18 Vroue, wees julle mans onderdanig soos dit betaamlik is in die Here. 19 Manne, julle moet jul vroue liefhê en nie teen hulle verbitter word nie. 20 Kinders, julle moet jul ouers in alles gehoorsaam wees, want dit is die Here welbehaaglik. 21 Vaders, moenie julle kinders terg nie, sodat hulle nie moedeloos word nie. – Kol. 1:1-4; 3:18-21

Opmerking: Die heiliges, die gelowiges, die kerk van die Here in Efese en Kolosse, bestaan uit volwassenes (manne, vroue, ouers en ander volwassenes) én hul kinders, dus nie net uit volwassenes nie. En watter baptis gaan dit waag om te leer dat kinders eers gehoorsaam mag wees as hul alles presies reg ‘glo en verstaan’ ?  Kinders is dus deel van die koninkryk, kerk en verbondsgemeenskap van die Here.  Die Here en sy Woord beskou hul so, en so moet ons ook doen, en hul so behandel.

14 Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, 15 en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. – 2 Tim.3:14,15

Opmerking: Hier gebruik Paulus ook die Griekse woord brephos (v.15, ‘van kleins af’) wat in die besonder wys op ongebore of pasgebore babas en suigelinge (sien Hand.7:19; 1 Pe.2:2). Verder – baie belangrik – verbind hy dit wat hy kan ken as brephos aan ‘die saligheid deur die geloof in Christus Jesus’.  Dit is vir ons ’n wonderbare misterie, maar ’n wonderlike genadige misterie deur ons genadige God in Christus deur sy genadeverbond, wat Hy handhaaf en deur sy Gees toepas vir al sy uitverkorenes, klein en groot. Daarom kan ons nie anders as om saam uit te roep, die woorde van Psalm 8:  “Uit die mond van kinders en suiglinge het U sterkte gegrondves, om u teëstanders ontwil, om die vyand en wraakgierige stil te maak.” (sien ook die voortgaan daarvan in die NT: Matteus 21:16)

Gevolgtrekking
Die feit dat die kerk van Christus nie oor die vrugte van gelowiges se babas en klein kindertjies kan oordeel nie (hul belydenis en lewe), of dat babas nie soos volwassenes in die openbaar presies op dieselfde wyse kan ‘glo en bely’ nie, beteken nogtans nie dat sommige van hul nie al reeds wedergebore en gered kan wees op ‘n baie vroeë ouderdom nie, inteendeel, dit kan enige tyd plaasvind na konsepsie, na die Here se vrye welbehae. Mense word nie net gered as hul ouer word nie, dit kan baie vroeg ook plaasvind. Die baptiste plaas ‘n eensydige klem net op redding later in mense se lewens, terwyl die Skrif albei leer.

Ja, alle kinders – so ook gelowiges se kinders – word in sonde ontvang en gebore (Ps.51:6), “en is daarom onder die toorn van God, sodat ons nie in die ryk van God kan inkom nie, tensy ons opnuut gebore word.” (Joh.3:3, sien die Gereformeerde Doopsformulier).  Maar die Here kan in sy soewereine genade enige tyd, vir wie Hy wil en wanneer Hy wil, die wedergeboorte skenk, soos Jesus ons leer:

8 Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is. – Joh.3:8

Ons moet daarom – volgens die Skrif – onderskeid maak hoe ons volwassenes beskou, beoordeel en hanteer (belydenis van geloof en lewe, dan doop, sien bv. Abraham en sy kinders, Gen.15 en 17), en hoe ons gelowiges se kinders beskou en behandel (doop en dan onderrig en oproep tot geloof en bekering, soos hul opgroei in leer en wandel).

Konklusie

Ons herhaal weer, gereformeerdes glo volgens die Skrif dat ons gelowiges en hul kinders doop, omdat God dit beveel en omdat Hy belowe het dat Hy ook sy uitverkore kinders wederbaar en red in en deur die geslagte van gelowige ouers, deur sy Gees en Woord (Gen.17:7 en Hand.2:39).

Dit is sy verbondsraamwerk en reddingsplan waardeur Hy werk, in beide OT en NT bedeling, die genadeverbond, ook genoem die nuwe verbond (Rom.4; Gal.3) alles in Christus (Ef.1:4-6; 2 Tim.1:8,9; Tit.1:1-3).

Daarom geld die woorde van 2 Tim.2:19 ook, in aansluiting by Ursinus se laaste woorde hierbo oor die uitverkiesing en die doop, by ons omgaan met die doop aan gelowiges en hul kinders:

“Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.”

Die Here is besig om in sy soewereine almag en genade, in Christus, deur die krag van sy Gees en Woord sy uitverkorenes te wederbaar en te red “voor, tydens of na die bediening van die teken van die verbond” (sien GKN Sinode besluit, 1943 hier), aan Hom alleen al die lof en eer.

Daarom, as ons die woorde van Hand.10:47 kan gebruik vir ons onderwerp:

“Niemand kan tog die water weer” van kindertjies van gelowige ouers wat ook gewederbaar is of gaan word, en “net soos ons (volwasse gelowiges) die Heilige Gees ontvang het” en daarom gedoop moet word.

Ja, laat die kindertjies na Jesus toe kom en verhinder hulle nie (Luk.18:15-17), ook nie in ons roeping om die genadeverbond te bedien vir ons en ons kinders in ons gemeentes nie.

Ons veronderstel nie dat alle babas wat gedoop word wedergebore is of gaan word nie, net soos ons nie veronderstel dat alle volwassenes wat gedoop word, wedergebore is nie. Die Here alleen weet wie Syne is (2 Tim. 2:19), maar ons weet wel wat geopenbaar is in die Skrifte (soos hierbo uiteengesit), ja ons weet waarlik dat die Here sy uitverkore kinders het, nie net onder volwassenes nie, maar ook onder (klein) kindertjies, na sy vrye welbehae. Ons weet dat sy koninkryk, kerk en verbond bestaan uit volwassenes én kinders.

Daarom, op grond van sy belofte en bevel (Gen. 17:7; Hand. 2:39) bedien ons die doop aan gelowige ouers en hul kinders, en omdat ons weet dat Hy besig is om vir Hom ‘n volk te vergader ‘in en deur die geslagte’.

Totius vat dit goed saam, as hy skryf:

“…. hierdie indeling van die gemeente (slc – die baptistiese siening) … volgens die geloof van die mens, en nie volgens die belofte van God in die genadeverbond nie, vol­gens die wisselvalligheid van die menslike glo of nie glo nie, en nie volgens die vastigheid van wat God doen nie, (is) onbybels en ongereformeerd … Daardie verbond (Gen.17:7; Hand.2:39) bind dus nie alleen enkele persone nie maar ook families en geslagte; nie alleen die wat van hierdie verbond bewus is nie (Abraham en die Pinkstergelowiges), maar ook die wat daarvan nog onbewus is (die nageslag en die klein kindertjies).“

Mag ons baptiste broers se oë oopgaan vir die volle Openbaring van God aangaande sy kerk en koninkryk, die volle rykdom van die genadeverbond met ons en ons kinders, ook hier en nou in die nuwe bedeling.

8 thoughts on “Behoort kindertjies ook aan die koninkryk, verbond en kerk van die Here, en moet daarom gedoop word?

Add yours

  1. Ek is nou heeltemal deurmekaar, want ek verstaan nie oral mooi die logika van jou argument aangaande die uitverkiesing van kinders nie.

    Maar voordat ek verduidelik wat my verwar, dink ek net weereens dat die Baptistiese siening nie heeltemal reg weergegee word nie. As jy sê “[Piper en die baptiste se] groot probleem is, … nl. hul sien, of verstaan nie, dat God se uitverkorenes bestaan uit beide uitverkorene volwassenes én uitverkore kinders (babas ingesluit) … nie,” dan dink ek nie dit is ’n korrekte verteenwoordiging van hulle posisie nie. Ek dink jy lees eerstens ’n veel sterker onderskeid tussen kind en volwassene in hulle standpunt in as wat hulle self sal maak. Hulle sal eerder onderskei tussen diegene wat oor die vermoë beskik om te KAN glo (en onder húlle tussen diegene wat glo en dié wat nie glo nie), en dié wat nié kan glo nie (bv. babas) – soos wanneer Piper sê: “So infants incapable of faith are not to be baptized.” (En in hierdie opsig wil dit voorkom asof die Gereformeerde siening, soos jy dit weergee, en die Baptistiese siening van wat geloof is moontlik van mekaar mag verskil, soos ek dink ook na vore kom in wat jy geskryf het). Maar om, tweedens, ook te beweer dat hulle dink dat daar nie uitverkorenes onder kinders of babas kan wees nie, is m.i. om hulle ’n standpunt toe te dig wat hulle nie huldig nie … tensy jy vir my kan aanhaal waar hulle dit sê of sonder twyfel impliseer in wat hulle sê (want ek sien nie waar Piper dit sê of impliseer nie).

    Wat my egter verwar, is dat ek nie kan insien wat die hele gedagte van uitverkiesing van klein kinders met die doop te doen het nie. Wanneer jy tekste gebruik waardeur jy wil aantoon dat dit moontlik is vir babas om wedergebore te wees, probeer jy dan sê dat ALLE kinders van gelowiges reeds as babas wedergebore is, en daarom gedoop behoort te word? (Dit is nie wat ek verstaan jy sê uit wat jy geskryf het nie). Of is die doel om te sê dat SOMMIGE kinders van gelowiges al as babas wedergebore IS of KAN WEES? (Dit dink ek sê jy wel, as jy bv. sê: “…[dit] beteken nogtans nie dat sommige van hul nie al reeds wedergebore en gered kan wees op ‘n baie vroeë ouderdom nie.”) Maar as net SOMMIGES en nie ALLE kinders van gelowiges wedergebore kan wees as babas nie, hoe is dit ’n motivering daarvoor om ALLE kinders van gelowiges te doop?

    Of VERONDERSTEL ons dat hulle ALMAL wedergebore is (omdat ons God se uitverkiesing nie ken nie), al weet ons net SOMMIGES is uitverkies, en doop hulle weens veronderstelde wedergeboorte, wat dalk later mag blyk ’n valse veronderstelling te gewees het? Maar nou sê jy aan die een kant, “Ons veronderstel nie dat alle babas wat gedoop word wedergebore is of gaan word nie …,” maar aan die ander kant verskil jy van Piper wat sê: “We do not assume that our children are born again until they make a credible profession of faith.” As jy van Piper verskil, bedoel jy om te sê: “We DO assume that our children are born again …”? Maar jy sou eerder die negering van sy stelling anders moes verwoord om die Gereformeerde siening weer te gee, sonder om teenstrydig te wees met jou stelling “Ons veronderstel nie dat alle babas wat gedoop word wedergebore is of gaan word nie …”?

    Is jou standpunt dus dat nié ALLE kinders van gelowiges vroeg reeds wedergebore word nie, maar SOMMIGES dalk wel, en dat ons nié veronderstel dat ALLE kinders van gelowiges vroeg reeds wedergebore word nie? Maar wat het die MOONTLIKHEID van uitverkiesing of vroeë wedergeboorte met die doop van ALLE babakinders van gelowiges te doen? Want ek verstaan die argument wat sê dat kinders van gelowiges “in die verbond” is en daarom gedoop behoort te word met die doop as “teken van die verbond”, maar die argument dat dit moontlik is vir SOMMIGE van hulle om wedergebore te wees (en geloof te kan hê) en dat ALMAL daarom gedoop behoort te word (sonder om wedergeboorte te veronderstel) verstaan ek hoegenaamd nie – ek sien net glad nie die verband nie. Kan jy dalk verduidelik wat die moontlikheid van vroeë wedergeboorte by sommige babas met die kinderdoop te doen het?

    1. Pieter, dankie vir jou gedagtes.

      Ek het begrip vir die verwarring wat jy moontlik beleef, dit is ook my ervaring as ek die baptiste se artikels lees oor die verskillende sake, en ek volg ook nie hul logika heeltemal nie, so dit is dalk ‘n wedersydse ervaring.

      Ek sal verder probeer verduidelik:

      Die Baptiste se standpunt is, soos jy dit self daar aanhaal,

      “So infants incapable of faith are not to be baptized.”

      My artikel, verteenwoordigend van die hele gereformeerde teologie, wys daarop dat dit ‘n valse redenasie is van die baptiste.

      Ek het al die Skrifgedeeltes daar gegee wat die teenoorgestelde wys, dat ook by babas/kindertjies getuienis is van geloof, wedergebore wees, kind van God wees, “volgens hul aard”, en nie as volwassenes nie (sien weer Ursinus se aanhaling)

      Ek sien nie dat jy daarop antwoord, en daardie Skrifgedeeltes weerlê nie, want daardie Skrifgedeeltes weerspreek die baptistiese verwerping van kinders in die verbond, kerk en koninkryk.

      Gereformeerdes grond die kinderdoop in die Bevel van God (Gen. 17:7; Hand. 2:39) en die Belofte – dat Hy in Christus al sy uitverkorenes sal red – in en deur die geslagte, en dit moet aan beide gelowige ouers en hul kinders bedien moet word. Ons sien nie dat die Here daardie bevel en belofte opgehef het in die NT nie (sien weer Charles Hodge se aanhaling). Daar is geen NT tekste of afleidings wat dit leer nie.

      Die rede waarom ek en ander gereformeerdes dan wel skryf oor wedergebore babas, of getuienis van geloof by klein kindertjies, kinders as deel van die kerk, koninkryk, wedergeborenes, is juis omrede baptiste dit voorhou (“babas kan nie glo nie”) as rede waarom hul nie babas/klein kindertjies nie wil doop nie, omdat hul nie ‘kan bely en getuig’ nie.

      Ons meen baptiste is reg oor volwassenes of hulle wat kan bely, maar nie oor kindertjies nie. Die verwarring en logika probleme kom juis hier in, omdat baptiste nie mooi onderskei hoe die Here verskillend met volwassenes wat kan bely omgaan, en hoe Hy met klein kindertjies omgaan in die kerk, verbond en koninkryk nie, wat na “ons oordeel en wat ons kan sien”, nog nie kan ‘bely en getuig’ nie.

      So, die bespreking van klein kindertjies, wedergebore of nie, gelowig of nie is wesentlik belangrik en relevant vir die gesprek, in soverre baptiste meen daardie aspekte kan nie teenwoordig wees by kindertjies nie, en daarom doop hul nie kinders van gelowiges nie.

      Maar, en hier kom die uitverkiesing ook in, ons bely – omdat die Skrif dit ook leer, die werklikheid en waarheid van die uitverkiesing, na die Here se vrye welbehae: soos daar volwassenes is wat gedoop is en word, maar nie werklik glo nie, so is daar babas wat gedoop word wat nie gered is of gered gaan word nie, en nie later werklik gaan glo nie. Daar is wel volwassenes (belydende gelowiges) wat wel waarlik gered word of is, en so is daar ook babas wat werklik wedergebore is of gaan word, wanneer dit die Here bepaal.

      Dus, as baptiste geen probleem het om almal te doop wat hul geloof bely (en tog weet daar kan min of baie van hul wees wat nie werklik glo nie, nie uitverkorenes is nie), netso behoort hul dan geen probleem te hê, om op grond van God se bevel en belofte, ook gelowiges/belyers, se kinderjties te doop nie, want ook onder kinders, soos volwassenes, of belyers, het die Here sy uitverkore kinders. Baie eenvoudig eintlik.

      Daarom is dit vir gereformeerdes onlogies en verwarrend dat baptiste:

      a. self die uitverkiesing bely, en dus erken dat baie wat groot gedoop is, nie gered is nie, hul dus (tereg) ‘n onderskeid maak tussen die teken wat bedien word, en die inhoud wat Christus alleen gee, maar

      b. as dit dan by klein kindertjies kom, dan skielik weier hul dieselfde gesindheid teenoor kinders, naamlik die onderskeid van die teken wat bedien word ogv. God se bevel, en die inhoud wat die Here alleen gee.

      In een van ons belydenisskrifte, oor die nagmaal, maar daar word verwys na beide sakramente, word die onderskeid wat by beide kinderdoop en grootdoop gehandhaaf word, in die lig van die uitverkiesing, soos volg verwoord, dalk sal dit jou help in jou verwarring:

      “Verder, hoewel die sakramente én die sake waarvan hulle tekens is, bymekaar hoort, word nie beide deur alle mense ontvang nie12.

      Die goddelose ontvang wel die sakrament tot sy verdoemenis, maar hy ontvang nie die waarheid van die sakrament nie. So het Judas en Simon die towenaar albei wel die sakrament ontvang maar nie Christus, wat daardeur voorgestel word nie13; Hý word slegs aan die gelowiges gegee14.” – NGB art. 35

      Weet nie of jy dit mis gelees het nie, maar hier is wat ek daarom geskryf het:

      “Ons veronderstel nie dat alle babas wat gedoop word wedergebore is of gaan word nie, net soos ons nie veronderstel dat alle volwassenes wat gedoop word, wedergebore is nie. Die Here alleen weet wie Syne is (2 Tim. 2:19), maar ons weet wel wat geopenbaar is in die Skrifte (soos hierbo uiteengesit), ja ons weet waarlik dat die Here sy uitverkore kinders het, nie net onder volwassenes nie, maar ook onder (klein) kindertjies, na sy vrye welbehae. Ons weet dat sy koninkryk, kerk en verbond bestaan uit volwassenes én kinders.”

      En daarom behoort daar geen probleem te wees om, in gehoorsaamheid aan die hele Skrif, kindertjies van gelowiges te doop nie.

      In die praktyk werk gereformeerdes, met wat ons noem die ‘gunstige oordeel of ‘oordeel van liefde’ – beide hul wat hul geloof bely, en hul kindertjies word gedoop en hul word saam as kinders van God behandel, beskou, totdat die teendeel blyk in hul leer en lewe, en dan moet daar met die nodig tug en vermaning met hul omgegaan moet word, ens.

      In DL 3/4:15 bely ons dit as volg:

      “Verder moet oor hulle wat hulle geloof in die openbaar bely en hulle lewe verbeter, volgens die voorbeeld van die apostels, baie gunstig geoordeel en gepraat word, want die binneste van die hart is aan ons onbekend.”

      Hoop jy verstaan beter die relevansie van hoe ons na kinders kyk, en hoe dit juis wesentlik sentraal is, of mens kinders doop of nie.

      Groete

  2. Dankie vir jou antwoord, Slabbert. So, as ek jou dan reg verstaan, is jou argument dus iets soos die volgende: As Baptiste glo (Baptistiese Premis 1:) dat geloof die doop moet voorafgaan, (Baptistiese Premis 2:) dat babas of klein kindertjies nie (kan) glo nie, en daarom (Baptistiese Gevolgtrekking:) dat babas nie gedoop behoort te word nie, dan spreek jy Baptistiese Premis 2 aan deur te argumenteer dat daar wel babas/klein kindertjies is wat (op hul eie manier, “volgens hul aard”) glo. As Baptistiese Premis 2 dus dan faal, val die hele redenasie plat. Verstaan ek jou reg?

    Ek is egter nie seker waarom jy dink, in jou antwoord, dat ek die Skrifgedeeltes wat jy gegee het sou wou weerlê wanneer jy sê: “Ek sien nie dat jy daarop antwoord, en daardie Skrifgedeeltes weerlê nie, want daardie Skrifgedeeltes weerspreek die baptistiese verwerping van kinders in die verbond, kerk en koninkryk,” nie. Ons is dan tog nie in ’n debat verwikkel oor die kinderdoop nie. Want in die eerste plek het ek nie myself voorgeneem om in ’n debat met jou te tree nie. Die bedoeling met dit wat ek geskryf het was om te kenne te gee dat ek nie reken dit reg is om Baptiste sienings toe te dig wat hulle nie verkondig nie, en ook het ek daadwerklik probeer verstaan wat jou argument hierbo is. In die tweede plek sou dit in elk geval nie vir my sin gemaak het om te antwoord (hetsy in weerlegging of beaming) op jou interpretasie van die Skrifgedeeltes wat jy gegee het terwyl ek nie die relevansie van die gebruik daarvan in jou argument insien nie. Maar as my bedoeling was om met jou in debat te tree, sou ek geantwoord het op jou argumente.

    1. Beste Pieter, voor ek jou premises beantwoord (wat ek behulpsaam vind), wil ek ons albei hopelik tyd spaar, dat ons mekaar nie mis in verdere gesprek nie.

      Wat is jou en/of die baptiste se siening oor die volgende frases:

      “hulle wat glo”,
      “hulle wat uitverkore is”
      “kinders in die koninkryk”
      “kind van God”
      “heiliges”
      “gelowiges”
      “Christene”
      “die kerk/gemeente”
      “oorblyfsel”

      Verwys al hierdie frases, en daar is ook ander, na hulle wat werklik gered is, gewas deur Christus se bloed, sal nooit verlore gaan nie, ens. En, is hulle almal geregtig op die teken van die verbond, die doop? (let wel, ek vra nie ‘wanneer’ nie, maar wel of hul wat almal onder daardie name deurgaan, geregtig is op die uiterlike teken van ‘n innerlike werklikheid wat die Gees werk, wanneer Hy wil (bv. wedergeboorte en alles wat daaruit volg)

      Hierdie is nie om vas te vra nie, maar dit kan dalk wees dat daar term verwarring ook kan wees, wat gesprek dalk nog moeiliker maak.

      Dankie vir jou antwoord.

      1. Jy vra of almal van die frases “hulle wat glo”, “hulle wat uitverkore is”, “kinders in die koninkryk”, “kind van God”, “heiliges”, “gelowiges”, “Christene”, “die kerk/gemeente”, “oorblyfsel” verwys na hulle wat werklik gered is, gewas deur Christus se bloed, sal nooit verlore gaan nie, ens. En, is hulle almal geregtig op die teken van die verbond, die doop?

        Na my mening, oor die algemeen, ja. Maar ek dink terselfdertyd dat daar kwalifisering van sekere van die begrippe behoort te wees. Daar is byvoorbeeld “geloof” wat nie “reddende geloof” is nie, maar dit is ’n onderwerp op sy eie. As ek van “uitverkorenes” praat, dan is dit soos in Romeine 8:29 (want dit kan ook soos in Hand. 1:24 gebruik word). Ek is nie seker waarna jy verwys met “kinders in die koninkryk” nie, want daar word byvoorbeeld in die Bybel van “kinders van die koninkryk” verwys in Matt. 8:12 en in Matt. 13:38 waar die betekenisse duidelik verskil, en die konsep van “koninkryk van God” vind ek baie wyd. “Kind van God” word konsekwent in die NT gebruik om te verwys na dié wat gered is. Ek dink die konsep “heiliges” verwys gewoonlik na dié wat gered is, maar ek het dit nie in elke konteks gaan bestudeer nie. Iemand kan egter “geheilig” of “heilig” (“afgesonder”) wees sonder om gered te wees, bv. 1 Kor. 7:14. “Gelowiges” = “hulle wat glo”. Die woord “Christen” behoort na gelowiges in Christus te verwys, maar kom slegs in 1 Pet 4:16 en Hand. 11:26, 26:28 voor waarvan ek weet. Die term word vandag egter in ’n breër sin gebruik. Die Kerk in sy verwysing na die Liggaam van Christus is dié wat gered is. In terme van die samestelling van die kerk in plek en tyd (“sigbare kerk”) verskil die siening van Baptiste en Gereformeerdes. Die “oorblyfsel” verwys spesifiek na die Jode wat gered is, sover ek dit het.

        Ek hoop dit help om gesprek makliker te maak.

      2. Dankie Pieter, ek dink ook so oor hierdie terme/frases, dit word oor die algemeen gebruik vir hulle wat werklik uitverkore/gered is/ waarlik glo, ens, maar van daardie terme word ook verskillend gebruik om dalk na ‘n groep of geheel te verwys, sonder dat daarmee bedoel word noodwendig elkeen kop-vir-kop, of, soos jy noem daar is ‘n ‘ware en valse geloof’ (bv. Jak. 2). Die gebruik van bepaalde terme moet elkeen in sy onmiddelike en verdere konteks en gebruik verstaan word.

        Die woord ‘heiliges’ is ‘n goeie voorbeeld. Paulus spreek die gemeentes in sy geheel aan as ‘heiliges’, maar bedoel nie daarmee dat elke individu of lidmaat noodwendig ‘n heilige Christus se bloed is nie, daar is ook nie-heiliges onder hulle, ketters, valse gelowiges, ens. Dit is waar bv. die gereformeerdes praat van die sigbare en onsigbare aspek van die kerk, sien NGB art. 29 se eerste twee sinne (sien ook die aanhaling van Snyman in die artikel wat ek geskryf het oor MacAarthur, waar hy die twee sake aanspreek, wat ons volgens die Skrif, in ag moet neem.)

        So ek glo, volgens die Skrif, oor die algemeen dat om te praat van ‘hulle wat glo’ en ‘uitverkorenes’ en ‘kinders van die koninkryk’, ‘wedergeborenes’, ens., mekaar nie weerspreek nie, dit verwys na die Here se kinders, wat gered word deur sy genade, en nooit verlore sal gaan nie.

        Nou is my opmerking (na aanleiding van jou premises), ‘n vraag na die baptiste kant, is of kan kinders, dus ook klein kindertjies (babas/infants), ‘as’ klein kindertjies, ook al deel wees van al daardie terme wat ons genoem het (natuurlik soos Ursinus noem, volgens hul aard en ouderdom), dus nie ‘net’ hulle wat ‘ons’ van kan hoor en sien hul bely die geloof nie, ‘volwassenes’ nie, maar ook klein kindertjies ? Let wel, nie of almal kop-vir-kop nie, maar of ook ‘onder’ klein kindertjies, soos onder ouer mense (ouer kinders/volwassenes) wat kan bely, die Here sy ware uitverkore kinders het?

        Ons as gereformeerdes, in navolging van die Skrif roep met dankbaarheid uit, JA, kragtens die Here se vrye welbehae van genade, – nie omdat ‘ons’ dit kan sien en ervaar nie -, maar omdat die Here weet wie Syne is. Hul redding is deur die bloed van Christus, soewerein gewerk, selfs van vroeg af (nie almal nie, ander dalk eers later in hul lewe, ander dalk glad nie). En, daarom ontvang hul ook ‘as kinders’ van gelowiges (soos die Here beveel en belowe, Gen. 17:7; Hand. 2:39), die teken van redding ontvang, soos ons dit bely in HK Sondag 27, v/a 74:

        “Vraag: Moet die jong kinders ook gedoop word?

        Antwoord: Ja, aangesien hulle “net soos” die volwassenes in die verbond van God en sy gemeente ingesluit is (Gen. 17:7). Ook aan hulle word “nie minder” as aan die volwassenes deur die bloed van Christus die verlossing van die sondes (Matt. 19:14) en die Heilige Gees wat die geloof werk, beloof nie (Ps. 22:11; Jes. 44:1-3; Luk. 1:15; Hand. 2:39). Daarom moet hulle ook deur die doop as teken van die verbond in die Christelike kerk ingelyf en van die kinders van die ongelowiges onderskei word (Hand. 10:47). So is dit in die Ou Verbond deur die besnydenis gedoen (Gen. 17:14) in die plek waarvan die nuwe Verbond die doop ingestel is (Kol. 2:11-13).”

        Nou, as die baptiste dan verder kom met die stelling “babas kan nie glo nie, daarom nie gedoop word nie”, dan kom ons as gereformeerdes, en gaan ook verder daarop in, om dit te antwoord en te wys dat hierdie stelling nie bybels is nie.

        Hoor mooi, ons soek nie die begronding van die doop in babas se ‘geloof of uitverkiesing’ nie (ons sien dit mos nie), nee, die begronding is God se bevel daartoe en belofte van redding (Gen. 17:7ens.; Hand. 2:39), maar om die baptiste se aanslag te benader, antwoord ons verder deur juis te wys op God se almag, sy vrye mag om reeds klein kindertjies van vroeg af te wederbaar, en aspekte van geloof te gee wat nog nie vir ‘ons’ waarneembaar en toetsbaar is nie, maar wat voor God al ‘n werklikheid is.

        En daarom het ek ook my artikel geskryf om te wys, die vraag na wie gedoop moet word, word nie geantwoord deur die vraag na “waar beveel God die kinderdoop in die NT?” nie, wat baptiste vra, en, wat gereformeerdes dan antwoord “maar waar in die NT verbied Hy dit, of het dit verander dat kinders nie meer deel is van die verbondsgemeenskap, kerk, koninkryk nie?”, en, daarom is die – myns insiens – groter twee vrae, om eksegeties te beantwoord:

        1) Wat leer die Skrif, die hele Skrif, beide OT en NT, oor kinders van gelowiges, veral klein kindertjies, se plek in die verbond, kerk, koninkryk van God, en dit gaan bepalend wees vir die antwoord op of hul gedoop word of nie, en

        2) Saam met dit, moet na tekste en gedeeltes gekyk word, wat spesifiek handel oor tekste wat gaan oor kinders en die teken van die verbond, en dan kom ons uit by Gen. 17, en die OT, wat ons help om die sogenaamde ‘afwesigheid’ van sulke tekste in die NT reg te verstaan, dat die Here klaar daaroor gespreek het. Dit is natuurlik hier, wat baptiste se probleem van OT verhouding tot NT na vore kom, met al sy gevolge vir die doopkwessie.

        Soos Hodge se aanhaling wys, die Here het kinders van gelowiges deel van sy kerk, verbond gemaak, en niemand mag hul daaruit haal behalwe die Here self deur verdere Openbaring nie, en Hy het dit nêrens in die NT, eksplisiet of implisiet gedoen nie, inteendeel, die Here se reddingsplan in die lyn van die genadeverbond – met gelowiges en hul kinders – gaan voort tot die laaste dag.

        So, wat vraag 1 betref, kyk gerus na die Skrifgedeeltes wat ek behandel het in my artikel, om te sien hoe die Here self, Jesus, die Skrif, kindertjies beskou en behandel, hoeveel te meer ons in die verbondsgemeenskap, sigbare kerk, ens.

        Hoop die verduideliking maak dit vir jou duideliker.

        Groete.

      3. Slabbert, ek waardeer die moeite wat jy gedoen het om te antwoord op wat ek gesê het. Soos jy tereg afgelei het, is ek nie oortuig van die Gereformeerde siening van die doop nie. Maar soos ek genoem het, is ek nie van plan om in ’n formele debat met jou te tree nie. Ek dink egter ook nie dat dit sinvol sal wees om op jou Blog die gesprek van hier af verder te neem nie, want dan mag dit dalk juis in ’n debat ontaard. Nou wil ek wel noem dat ek baie onlangs met my eie Blog begin het, en dit lyk asof jy daarby kan uitkom as jy op my naam kliek hier op jou Blog. Daarin het ek begin uiteensit wat my hinder aangaande die Gereformeerde siening van die doop. Dit is nie dat ek alreeds alle aspekte van die doop dek nie, en ek is bewus van die kernpunte van verskil, maar ek hoop om oor tyd heen (sonder druk van ’n onmiddellike antwoord soos in ’n debat) uit te brei op wat ek reeds geskryf het. Ek is byvoorbeeld besig om ’n stuk werk wat ek in 2012 mee begin het (en later gestaak het) oor geloof en doop te hersien om stuk-stuk te kan plaas, en hopelik ook te voltooi. Ek het ook begin om die Gereformeerde en Baptistiese sienings van die verbonde te bestudeer, maar ek voorsien dat ek nog lank daarmee besig gaan wees. (Dan wil ek ook werk aan temas wat nie oor die doop handel nie, bv. (tuis)onderwys, musiek, e.d.m. Maar dit is ’n langtermynprojek waartoe ek myself begewe het.)

        Wat dit betref, wil ek ook in my studies en uiteensettings van die onderwerp ag slaan op wat jy skryf (en selfs daarna verwys, as jy nie omgee nie). En as jy formeel in artikels op jou Blog wil antwoord op wat ek skryf – soos wat jy tyd het en dit van waarde ag – is jy welkom om dit te doen, want selfs al mag ek daarna steeds verskil in opinie, sal dit minstens help om te verstaan waarom ander (soos jyself) van my verskil. Dan sal dit ook gepas wees as die gesindheid en benadering is soos Bacon (aangehaal deur Jewett, 1978:6) gesê het: “not simply to ‘contradict and confute, nor to believe and take for granted, nor to find talk and discourse, but to weigh and consider’”. Want ek is nie onbereid om van opinie te verander oor teologiese sake nie, want so het ek ook al van opinie verander in die verlede aangaande teologiese sake. Maar ek is nie bereid om van opinie te verander net omdat ander dit van my verwag nie; ek verander slegs as ek daadwerklik tot ander insigte en oortuigings kom, en dit kan ek nie vooraf waarborg aangaande enige saak nie.

      4. Dankie Pieter vir jou belangstelling en gesindheid.

        Inderdaad moet ons almal altyd bereid wees om te luister, en nog weer te luister, saam en afsonderlik. Daartoe roep Hand. 17:11 almal op wat die Naam van ons Here Jesus aanroep.

        Sal graag na jou blog gaan kyk, en indien nodig, met jou verder in gesprek tree.

        ns. stuur asb vir my so bietjie kort agtergrond oor jouself, veral kerklik. Jy kan dit ook na my e-pos adres stuur, as jy dit nie hier direk wil plaas nie: proregno@gmail.com

        Groete

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: