Hier onder plaas ek ‘n opsomming in Afrikaans van prof. Herman Hoeksema (PRCA) se artikel, The Biblical Ground for the Baptism of Infants (let wel: vir sy spesifieke eksegese en verklaring, sien die volledige artikel in die skakel. Hier is die Afrikaanse vertaling beskikbaar: Die Bybelse Gronde vir die Kinderdoop).
Daarna volg ‘n preek van ds. Cobus Rossouw na aanleiding van HK v/a 74 oor die kinderdoop, met spesifieke verwysing ook na die verhouding tussen besnydenis en doop.
Die Bybelse gronde vir die kinderdoop
deur Herman Hoeksema
Hoeksema gee drie Bybelse gronde vir die kinderdoop:
Drie bybelse gronde
Grond 1: Daar is alleen een volk van God deur alle eeue, dus beide in die ou en die nuwe bedeling (testamente): dit is die ware Israel, die saad van Abraham.
Grond 2: Die besnydenis en doop is wesentlik dieselfde in betekenis, alhoewel verskillend in vorm.
Grond 3: Dit is die duidelike geopenbaarde wil van God dat die geslagte (nageslagte) van Sy volk, of hul nou onder die Jode of nie-Jode (heidene) is, die teken van die verbond moet ontvang: die besnydenis toe Sy volk onder die Jode was (OT), die doop wanneer hierdie geslagte onder al die volke is, beide Jood en nie-Jood (heidene).
Skrifbegronding vir GROND 1: (“Daar is alleen een volk van God deur alle eeue, dus beide in die ou en die nuwe bedeling (testamente): dit is die ware Israel, die saad van Abraham.”)
a. Romeine 9:6-8, 6 Maar ek sê dit nie asof die woord van God verval het nie; want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie. 7 Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle almal kinders nie; maar: in Isak sal jou nageslag genoem word. 8 Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag.
b. Romeine 4:11-16 En hy het die teken van die besnydenis ontvang as ‘n seël van die geregtigheid van die geloof toe hy nog nie besny was nie; dat hy die vader sou wees van almal wat glo terwyl hulle onbesnede is, sodat ook aan hulle die geregtigheid toegereken sou word; 12 en ook ‘n vader van die besnydenis vir die wat nie alleen uit die besnydenis is nie, maar ook wandel in die voetstappe van die geloof van ons vader Abraham toe hy onbesnede was. 13 Want die belofte dat hy erfgenaam van die wêreld sou wees, het Abraham of sy nageslag nie deur die wet verkry nie, maar deur die geregtigheid van die geloof. 14 Want as hulle wat uit die wet is, erfgename is, dan het die geloof waardeloos geword en die belofte tot niet geraak. 15 Want die wet werk toorn; maar waar geen wet is nie, daar is ook geen oortreding nie. 16 Daarom is dit uit die geloof, sodat dit volgens genade kan wees en die belofte kan vasstaan vir die hele nageslag; nie alleen vir die wat uit die wet is nie, maar ook vir die wat uit die geloof van Abraham is, die vader van ons almal
Romeine 2:28, 29, 28 Want nie hy is ‘n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; 29 maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God.
Galasiërs 3:7-9, 16-19; 4:1-7, 7 Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham.
8 En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word. 9 Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham. …16 Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus. 17 Maar ek sê dít: die wet wat vier honderd en dertig jaar later gekom het, maak die verbond wat deur God in Christus vantevore bekragtig is, nie kragteloos om die belofte tot niet te maak nie. 18 Want as die erfenis uit die wet is, dan is dit nie meer uit die belofte nie. Maar God het dit aan Abraham deur ‘n belofte genadiglik geskenk.
19 Wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom; en dit is deur engele beskik deur tussenkoms van ‘n middelaar. 1 Maar ek sê: So lank as die erfgenaam ‘n kind is, verskil hy niks van ‘n dienskneg nie, al is hy heer van alles; 2 maar hy staan onder voogde en bestuurders tot op die tyd tevore deur die vader bepaal. 3 So was ons ook, toe ons kinders was, in diensbaarheid onder die eerste beginsels van die wêreld. 4 Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, 5 om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang. 6 En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader! 7 Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus.
Vergelyk ook die volgende:
– Hos.1:10,11 met Rom.9:24-26
– Jer.31:31-34 met Hebr.8:6-13
– Amos 9:11-15 met Hand.15:13-17
– Jes.22:22 met Op.3:7
Sien ook die volgende verse: Jes.28:16; Rom.9:33; 1 Pe.2:6; Hebr.12:22; Gal.4:25,26; Op.3:12; 21:2; 21:10; Hebr.9:1-12; 21-24; 10:19-21; 1 Cor.3:16; 2 Kor.6:16; Ef.2:18-22; Op.3:12
Konklusie oor grond 1 en die Skrifbegronding:
In kort – die hele Woord van God leer die eenheid van die volk van God en almal wat daaraan behoort. Al die beloftes is in Christus, en deur Hom is hulle die ware saad (nageslag) van Abraham, van alle eeue (tye), nl. die gelowiges.
Skrifbegronding vir GROND 2: (“Die besnydenis en doop is wesentlik dieselfde in betekenis, alhoewel verskillend in vorm”).
Oor die besnydenis:
Lev.26:40,41, 40 Dan sal hulle hul ongeregtigheid bely en die ongeregtigheid van hulle vaders deurdat hulle ontrou teen my gehandel het; en ook dat hulle hul teen My versit het, 41 sodat Ék My ook teen hulle versit het en hulle in die land van hulle vyande moes bring; of, as hulle onbesnede hart hom dan verneder en hulle dan boet vir hul ongeregtigheid.
Deut.10:16, 16 Besny dan die voorhuid van julle hart en verhard julle nek nie verder nie.
Deut.30:6, 6 En die HERE jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die HERE jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe.
Jer.4:4, 4 Besny julle vir die HERE en verwyder die onbesnedenheid van julle hart, manne van Juda en inwoners van Jerusalem, dat my grimmigheid nie soos ‘n vuur uitgaan en brand sonder dat iemand kan blus nie, weens die boosheid van julle handelinge.
Rom.4:11, 11 En hy het die teken van die besnydenis ontvang as ‘n seël van die geregtigheid van die geloof toe hy nog nie besny was nie; dat hy die vader sou wees van almal wat glo terwyl hulle onbesnede is, sodat ook aan hulle die geregtigheid toegereken sou word.
Oor die doop:
Hand.2:38, 38 En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.
Hand.22:16, 16 En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.
Rom.6:4, 4 Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.
Gal.3:26,27, 26 Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; 27 want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.
Besnydenis en doop saam (direk en/of indirek uit die konteks):
Kol.2:11,12, 11 in wie julle ook besny is met ‘n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus, 12 omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.
Kol.3:3, 3 Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie
Konklusie oor grond 2 vanuit die Skrifbegronding:
Die besnydenis was deel van die skaduwees wat verbygegaan het en moes plek maak vir die doop wat in wese dieselfde betekenis het: “So waar is dit, dat die apostel skryf dat ons besny word (passief!) wanneer ons gedoop word (Kol.2:11,12); en dat ons (die kerk deur alle eeue–slc) die ware besnydenis is (Kol.3:3).”
Skrifbegronding vir GROND 3: (“Dit is die duidelike geopenbaarde wil van God dat die geslagte (nageslagte) van Sy volk, of hul nou onder die Jode of nie-Jode (heidene) is, die teken van die verbond moet ontvang: die besnydenis toe Sy volk onder die Jode was (OT), die doop wanneer hierdie geslagte onder al die volke is, beide Jood en nie-Jood [heidene]).
Gen.3:15, 15 En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.
Gen.9:9, 9 Maar Ek, kyk, Ek rig my verbond met julle op en met julle nageslag ná julle.
Gen.17:7, 7 En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou.
Gen.17:9-12, 9 Verder het God aan Abraham gesê: Maar jy moet my verbond hou, jy en jou nageslag ná jou, van geslag tot geslag. 10 Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word— 11 julle moet aan die vlees van julle voorhuid besny word, en dit sal ‘n teken wees van die verbond tussen My en julle. 12 ‘n Seuntjie van agt dae dan moet onder julle besny word, al wat manlik is in julle geslagte. Die wat in jou huis gebore is, en die wat van enige vreemdeling met geld gekoop is, wat nie van jou geslag is nie.
Hand.2:39, 39 Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.
Konklusie oor grond 3 vanuit die Skrifbegronding:
Die hele Skrif wys dat die Here besig is met ons en ons nageslag, met geslagte (van geslag tot geslag), en dit is nêrens opgehef/of word verbied in die NT nie. Die NT teken moet ook van geslag tot geslag bedien word.
Die rede waarom die NT nie ‘n spesifieke uitdruklike bevel het nie, was dat die kerk vanselfsprekend voortgegaan het om in die lyn van die geslagte die teken van die verbond in die NT te bedien, die doop aan gelowiges en hul kinders.
Finale konklusie vanuit al drie gronde
Die bewyslas lê by die verwerpers van die kinderdoop, om aan te toon waar God Sy belofte aan Abraham en sy saad (nageslag) teruggetrek het, nl, dat Hy Sy verbond oprig in die lyn van opvolgende geslagte (van geslag tot geslag).
Hulle moet aanwys waar en wanneer God ooit beveel het dat die Kerk moet ophou om die teken en seël van die geregtigheid wat deur die geloof is, te bedien aan die nageslag van Abraham se saad, aan die kinders van gelowiges.
2. Preek: Moet ons kinders ook gedoop word? (HK V/A74)