Dit sal jou alles kos
deur dr. Steven J. Lawson
[met dank aan Marianne Elsenaar (Brandfort) vir die vertaling. Die oorspronklike preek kan hier geluister word: It will cost you everything]
Wel, wat ‘n spesiale plek is hierdie nie, om vandag saam met so baie eensgesinde broers en susters te wees, om te hoor wat ons hierdie oggend gehoor het in die ontvouing van Jesaja, hoofstuk 53.
Wat ek nou wil doen, is om te staan op die skouers van daardie boodskap wat ons gehoor het in Jesaja 53, wat die dood van Jesus Christus aan die kruis so kragtig en passievol bekend maak. Ek wil u vra waar u in verhouding tot die kruis staan. Dit is een ding vir u om in hierdie gebou te wees en dit is iets anders vir u om in Christus te wees. Dit is een ding vir u om buite in die ry te gaan staan het om in te kom en dit is iets anders vir u om in die ry agter Jesus Christus te wees en Hom te volg.
So, vandag wil ek by die poort staan. Ek wil by die smal poort staan en baie van julle aanspoor en roep om deur die smal poort te kom. Ek wil hê ons moet vandag kyk na ‘n teks, ‘n geskrif, wat vir ons sal skets en baie direk sal sê, wat dit is om ‘n ware dissipel van Jesus Christus te wees. Om nie bloot ‘n kerkganger en konferensiebywoner te wees nie, maar wat dit beteken om ‘n dissipel van Jesus Christus te wees. Elke ware christen, elke wedergebore gelowige is ‘n dissipel van Jesus Christus.
Ek wil vandag verduidelik wat dit is om ‘n dissipel en ‘n navolger van Jesus Christus te wees en ek wil u aanspoor en u roep, as u nog nooit ‘n dissipel van Christus geword het nie, om na die kruis te kom en om in die Here Jesus Christus te glo. Waarskynlik het die meeste van ons wat vandag hier is alreeds ons lewe aan Christus oorgegee. Ek wil ons wat alreeds deur die smal poort gekom het en wat die smal weg loop, aanspoor en aanmoedig om meer elasties in ons geloof en meer radikaal verbonde te wees aan die Mag van Christus. Daar is nie een van ons in hierdie vertrek vandag wat te verbonde aan Christus is nie. Elkeen van ons wat alreeds ons lewens aan Christus oorgegee het, moet nog meer vasbeslote wees om Jesus Christus te volg.
So my teks van die geskrif wat ek wil lees om mee te begin, is in die evangelie van Lukas. As julle God se Woord sal optel en saam met my sal blaai na Lukas hoofstuk 14. Vandag wil ek met u praat oor die koste van dissipelskap, of: Dit sal u alles kos. Lukas hoofstuk 14, ek wil begin lees by vers 25 en ek wil dit voor u oë en voor u hart plaas en ek wil hê u moet besig wees met wat ons Here Jesus sê in hierdie verse. Lukas 14:25. Nou, groot menigtes sal wees soos wat ons in onsself kyk vandag. Groot menigtes – meervoud. Dit praat van honderde en honderde mense, indien nie duisende nie. Ons gaan saam met Hom:
“En Hy het Hom omgedraai en vir hulle gesê: As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie.”
Die een wat die beroep uitstuur, stel die voorwaardes vas en ons word nie toegelaat om met die voorwaardes te onderhandel nie. Hy sê in vers 27:
“En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie. Want wie van julle wat ‘n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie? – sodat as hy die fondament gelê het en nie in staat is om dit te voltooi nie, almal wat dit sien, nie miskien met hom sal begin spot en sê: Hierdie man het begin bou en kon nie klaarkry nie.”
In ‘n voormalige lewe, baie jare terug, het ek kollege voetbal gespeel. Ek het kollege voetbal vir vier jaar by Texas Tech Universiteit gespeel. Dit is lekker om te weet wie die uitverkorene is. Bobby Night is darem ons kollege afrigter en korfbal, so ons het baie hoë spirituele standaarde. Ek onthou, gedurende die lengte van my senior jaar in hoërskool, het ek ‘n volle voetbal studiebeurs ontvang wat alles betaal het. Die enigste persoon wat gelukkiger as ek was, was my pa. Vir die volgende vier jaar was alles ten volle betaal. My onderrig was gratis. My boeke was gratis. Soveel private onderwysers as wat ek vir vier jaar wou hê, was gratis. My kamer was gratis, my maaltye was gratis, my wasgoed was gratis. Elke vlug na ‘n uit-die-dorp-wedstryd was gratis. Elke busrit na ‘n stadion was gratis. My Corvette, nee, hulle het my nie ‘n Corvette gegee nie. Ek voel nou asof ek CJ is, weet u.
Vir die volgende vier jaar was alles in my lewe, wat met kollege te doen gehad het, ten volle betaal, dit het my nie ‘n sent gekos nie. Al my wasgoed was gratis. Al die steaks wat ek kon eet, was gratis. Alles was gratis en vir die volgende vier jaar het dit my alles gekos. Dit het begin met twee-dae oefeninge in Augustus en dit kon 105 grade word in Wes Texas. Ons het toe pas ‘n kunsmatige grasveld aangelê en u kon op die een eindsone staan en in ‘n 105 rooster het daardie yster soos ‘n kookpotjie geword. U kon op die een doellyn staan en na die doelpos aan die ander kant van ons stadion kyk, en u kon skaars die doelpos sien, as gevolg van al die hitte wat gestyg het. Al die seisoenonderrig het ons verstand te bowe gegaan.
Die afrigters het ons letterlik doodgemaak. U het nooit klas gemis nie, u was daar om 6uur die oggend. U hardloop die stadiontrappe uit. Elke soort gewigoptel, elke soort gimnastiek, om die waarheid te sê, ons het selfs met mekaar gestoei, skuins paaie, en twee dae in lente opleiding, en dan vroeg uitkom, en die maklikste deel van hierdie vier jaar was gedurende die seisoen. U sou uself net heeltemal oorgegee het.
Ek het selfs dokter toe gegaan laas week, ek het my stem verloor. Hy het my neus verdoof, iets soos ‘n teleskoop in my neus afgedruk en na my stembande gekyk. Soos hy dit doen, sê hy toe: “Wel, u neus is gebreek”. Ek het gesê: “My neus was nog nooit gebreek nie”. Hy het gesê: “Vertrou my”. Hy het gesê: “U neus is gebreek” en ek het terug gedink aan al daardie baie oefeninge en hoeveel keer ek so hard geslaan is, dat ek gevoel het dat ek nie nog ‘n hou sou voel nie, en wie weet, ek het ‘n semester op krukke spandeer. Daar was ‘n semester wat ek nie eers elke dag kon klas toe gaan nie, omdat ek so seer en op was. My opleiding, alles vir vier jaar, was ten volle betaal, dit was gratis. Die feit van die saak is dat dit my bloed, swoeg, sweet en trane gekos het. Dit het my alles wat in my was gekos, want ek sou vir hierdie saak myself offer en oorgee – ‘n voetbal.
Ek wil hê u moet weet dat dit presies dieselfde is om ‘n Christen te wees. Dit is presies wat Jesus hier sê, dat wanneer Hy na die kruis gegaan het, het God ons sondes geneem, God het dit oorgedra aan die onskuldige Lam van God en Hy het ons sondes gedra, die Vader het hom aan die kruis vasgeslaan. Jesus het Sy bloed vir ons laat vloei, geboet vir ons sondes en aan die einde het Hy gesê: “Dit is volbring”. Hy het ten volle vir al ons sondeskuld betaal. Daar is nie een sonde wat u nie na die kruis kan bring en niks wat u kan bydra tot u ewige saligheid nie. Maar u moet die voorwaardes verstaan, om die gratis geskenk te ontvang, want as u die gratis geskenk wil ontvang, gaan dit u die volgende kos. Dit gaan vereis dat u alles wat u is aan die Here Jesus Christus toevertrou.
Daar is vandag sommige van u hier wat dink dat u gered is. Dit feit is dat u eintlik nié is nie. Al wat u gedoen het was om te loop in alleenheid, u hande op te hef, ‘n kaart te wys, gesig te wys by ‘n Bybelstudie, op te daag by ‘n konferensie, maar die feit van die saak is, u het nooit besigheid met God gedoen nie, u het nooit na die innerlike van die lewe gekom nie, en u het nooit na die plek gekom waar u gereed is om alles wat u is aan Jesus Christus oor te gee nie. Dit is net dán wat u die gratis geskenk kan ontvang.
Vir die van u wat vandag hier is, wat nog nie ‘n ware bona fide dissipel van Jesus Christus geword het nie, ek wil hê u moet sien wat Jesus sê, oor hoe om in die Koninkryk van die Hemel in te gaan. Vir die res van ons wat deur die smal poort gegaan het en ons lewens aan Christus toevertrou het, ons moet verstaan dat dit nodig is om ons verbondenheid met Christus te verdiep, sodat ons wandel op ‘n manier wat ons roeping werd is. Dit is presies wat Jesus hier sê. Dit wat Christus in vers 26 en vers 27 sê, hierdie voorwaardes is nie onderhandelbaar nie. Hierdie voorwaardes is absoluut. Hierdie voorwaardes is reg en vas. Hierdie voorwaardes is onveranderlik en hulle is dieselfde vir elkeen van ons.
Jesus het nooit probeer om die skare te oorreed om Hom te volg nie. Jesus het nooit probeer om besluite te manipuleer nie. Jesus het nooit die boodskap versoet nie. Jesus het nooit die moeilike deel in fynskrif gehou waar ons dit nooit kan kry nie. Jesus het nooit die vereistes versag nie. Jesus het nooit die prys om te Hom te volg afgemerk nie. Elkeen van ons hier vandag moet ernstige sielsondersoek doen, is vers 26 en is vers 27 waar van my lewe?
So vanoggend wil ek hê ons moet oordink wat dit is om ‘n dissipel van Jesus Christus te wees. In vers 25 sê Hy dat groot menigtes saam met Hom sou gaan. Hierdie was ‘n massiewe menigte. En een ding wat ons moet verstaan, dit is maklik om deel te wees van ‘n menigte. Dit is maklik om in lyn te kom. Om die waarheid te sê, hoe groter die menigte, hoe makliker is dit om onopvallend te wees en om net in te pas, hoe makliker is dit om eenvoudig net deur die gold en die vaart meegesleur te word sonder om ooit ‘n individuele persoonlike toevertrouing aan Jesus Christus met u eie lewe te moet maak – en ons Here het dit verstaan. Daar is ‘n menigte-mentaliteit. Daar is ‘n beweging-mentaliteit. Mense wil wees waar mense is en hoe groter die menigte, hoe meer ander mense wil in daardie menigte wees en hoe makliker is dit vir mense om te kom en deel van ‘n menigte te wees.
Die menigtes hier saam met ons Here in vers 25, hulle groei, hulle swel, hulle ontplof, hulle vermeerder, maar ons Here is nie bedrieg nie. Want Hy meet die sukses in die bediening nie aan die grootte van die menigte nie. Ons Here stop en doen iets, wat sonder twyfel skokkend was vir die dissipels. In vers 25 staan daar: “En groot menigtes het saam met Hom gegaan en Hy het Hom omgedraai”. Die idee is dat Hy gestop het en Hy het omgedraai en met hulle gepraat, en Hy het geweet dat die menigte ‘n gemengde spul geword het. Selfs tussen Sy eie twaalf dissipels was dit ‘n gemengde spul. Daar was een wat nie bekeer was nie, Judas. Met so ‘n groot menigte, het ons Here geweet dat daar nie net bekeerdes was nie, maar dat daar ander was wat meer nuuskierig was. Daar was ander wat maar net saam gekom het, so ons Here het gedraai om hulle van aangesig tot aangesig te sien en wat ons Here doen, is om in wese te sê: Stop!
Hy sif deur die menigte en van tyd tot tyd sou ons Here dit doen, asof die menigte te groot word, dit word te maklik om op die lawaaiwa te klim. Dit word te maklik om meegesleur te word in hierdie beweging van “volg my”, en soos ons Here dit sê, hy bring dit af na ‘n individuele basis en hy sit dit voor hulle neer en roep vir die totale toevertrouing van hul siel.
Die sleutelwoord in hierdie teks sal u vind, is die laaste woord van vers 26, dit is die laaste woord van vers 27, dit is ook in die middelste woord in vers 33, en dit is die woord dissipel, nie ‘n aanwesige nie, maar ‘n dissipel. Wat ons Here verlang en waarvoor ons Here gesterf het, Hy het net vir dissipels van Jesus Christus gesterf. Nie een druppel bloed was gedeel, buiten met die dissipels nie. Hy het net vir sy eie mense gesterf. So wat is ‘n dissipel? Dit is baie belangrik vir ons hier om te weet wat ‘n dissipel is, want dit is net ‘n dissipel wat in lyn is en wat Jesus Christus volg. ‘n Dissipel, ‘n ware dissipel, is ‘n ware gelowige in Jesus Christus. Dit is ‘n Griekse woord wat beteken “leerder”. Dit is een wat gekom het om by die voete van die Here Jesus Christus te sit, om deur Hom geleer te word, en om ‘n volger van Jesus Christus te word. In Matthéüs 28:19:
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies.”
Ons Here kan nie minder omgee oor aanwesiges nie, ons Here soek dissipels. ‘n Dissipel is in hierdie vroeëre hoofstukke ‘n ware gelowige. Om die waarheid te sê, die woord Christen was nie eers uitgedink en in heilige geskrif gebruik nie, tot later in die boek Handelinge, in Handelinge hoofstuk 11, en daar was dit ‘n term van veragting en beteken dit ‘n klein Christus. So ons Here sê nou wat die voorwaardes is om ‘n dissipel van Christus te wees en wat die voorwaardes is wat iemand sal toelaat om in lyn te wees en om Hom te volg.
So wat ons Here nou sê is skokkend. Wat ons Here sê is onthutsend vir die menigte en wat ons Here sê, het so ‘n impak op hulle lewens. Vandag wil ek almal van ons op ‘n manier geskok hê, soos ons weer herinner word aan wat die voorwaardes is wat ons Here gegee het, vir almal in hierdie gebou om een stap te neem om Hom te volg. Dit is ‘n gratis geskenk wat Hy alleen gekoop het op Kalvarie se kruis en Hy gee dit vir ons sonder prys. Maar Hy vereis van ons dat ons tot ‘n plek kom van totale, komplete en radikale nederigheid en oorgawe van ons lewe vir Hom of, volgens ons Here se woorde, “Hy kan my dissipel nie wees nie.”
Ons Here sit dit in die negatiewe om ‘n groter impak op ons harte te hê. Asof Hy Sy hande ophou en sê: “U kan nie een van my volgers wees tensy u na hierdie plek kom nie”. So ek wil hê dat ons deur hierdie teks gaan. Vir sommige van ons hier vandag sal dít wees wat God sal gebruik in u lewe, om te kom na die plek waar u meer as ‘n aanwesige is. Waar u meer is as net in ‘n menigte. Waar u meer is as net een wat saam gegaan het, tot die periferie waar u werklik ‘n ware, deur bloed gekoopte volger van Jesus Christus word.
Ek wil nou begin met vers 26. Ek wil hê dat u weet in vers 26 is ‘n uiterste toewyding. ‘n Uiterste toewyding, om ten einde ‘n ware volger van Jesus Christus te word, moet ‘n mens Hom meer liefhê as enigiemand en enigiets anders in die lewe. Daar kan geen ander mededingende eienskappe wees nie.Daar kan geen ander mededingende getrouhede wees nie. Jesus Christus moet nommer een in u lewe wees of u kan nie in lyn kom en Jesus volg nie.
So neem kennis wat Jesus sê in vers 26: “As iemand” – en as Hy sê as iemand, sê Hy dat daar geen uitsonderings hier is nie. “As iemand na My toe kom”. Om na Christus te kom, is ‘n sinonieme frase vir reddende geloof en dit lei onvermydelik na wat ons lees in vers 27, agter My aan kom, almal wat na My toe kom op Sy voorwaardes, sal onvermydelik agter Hom aan kom. Dit is die onvermydelike verbinding tussen regverdigmaking, heiligmaking en ware reddende geloof, dit sal ‘n lewelange toevertrouing word om Christus te volg.
So in vers 26 sê Hy: “As iemand na My toe kom”. As iemand hulle lewe aan My toevertrou. As iemand ‘n ware gelowige in My word in vers 26. Dit sal in vers 27 onvermydelik lei na ‘n leeftyd van agter My aan kom. Daar sal geen mislukte dissipels wees wat, as hulle eers saam gekom het, sal ophou om te volg nie. In vers 26 stel Hy die voorwaardes. Ons moet herinner word wat hierdie voorwaardes is. Dit in vers 26 is ons Here se verduideliking van ware reddende geloof. Dit is nie al wat Hy te sê het oor ware reddende geloof nie, daar is so baie ander tekste, maar hierdie is ‘n onafskeidelike deel van ware reddende geloof, by die begin sowel as die volhouding van iemand se Christelike lewe.
“As iemand na My toe kom en hy haat nie” – en daardie woord spring net van die bladsy af, doen dit nie? Dit klink so grof. Dit klink so aanvallend, dit klink so fanatiek en tog, dit is so waar, want dit kom uit die lippe van die Een wat gesterf het aan die kruis, om ons ewigdurende redding te koop en te beskerm. “As iemand na My toe kom en hy haat nie” – en Hy begin nou om te praat van hierdie verhoudings wat die naaste is aan u, hierdie verhoudings waar u naaste getrouhede en u naaste lojaliteite sal lê.
Hy begin met die binneste konsentriese sirkels in u lewe. Hierdie mense wat u die meeste liefgehad het en wie u die meeste liefhet. “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters nie, kan hy my dissipel nie wees nie”. Luister: Jesus, as Hy ooit gesê het wat Hy bedoel het om te sê, dan was dit hierdie.
Wat beteken hierdie, haat. Ander gedeeltes van die geskrifte sê dat u u vader en moeder moet eer. Exodus 20 vers 12. Die Bybel sê, ons moet selfs ons vyande liefhê. Hoeveel te meer hierdie lede van ons eie familie. Waarvan praat Hy? Hierdie is ‘n Hebreeuse stylfiguur wat ons selfs in ons Afrikaanse kultuur gebruik, dit word ‘n hiperbool genoem. ‘n Oordrewe verklaring om ‘n punt te maak, dit is gebruik om liefde en haat langs mekaar te sit om hierdie punt oor te dra: Dat u My soveel meer moet liefhê as wat u die mense liefhet wat u die meeste in die wereld liefhet, en u moet My soveel meer liefhê as die dinge in hierdie wêreld wat u die meeste liefhet. As u in die regte verhouding met My is, sal die liefde wat u vir My het veroorsaak dat die liefde wat u vir hulle het, lyk soos haat, in vergelyking met die hoogste, allesoortreffende toewyding, trou en liefde wat u vir My het. Ons het ons Here se eie geïnspireerde interpretasie hiervan in Matthéüs hoofstuk 10, en in vers 37 stel Jesus dit so:
“Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.”
U sien, die punt is wie u die meeste liefhet, en om die Here Jesus Christus lief te hê, is nie slegs gevoelens nie. Dit vereis die totaliteit van wie u is, verstand, emosies en wilskrag. Om Jesus Christus die meeste lief te hê, dit begin met die verstand. U kan nie iemand liefhê wie u nie ken nie. U kan nie iemand liefhê wat nie naby aan u is nie, as u nie meer van die persoon begin weet nie. Dit begin met die verstand, en dit begin met deeglike geloofsleer, teologie en die voorstelling van Christus in die woord van God. En om Jesus Christus lief te hê, moet u verstand vergroot en gevul word met die kennis van Jesus Christus. Liefde vir Christus gebeur nooit in ‘n leemte nie. Liefde vir Christus gebeur nooit in ‘n siellose mistieke ervaring nie.
Alle liefde begin met die verstand. U kan nie in ‘n leemte liefhê nie. Dan behels dit die hart, die emosie as u die persoon sien in werk van die Here Jeusus Christus, u aanskou Sy oneindigende heiligheid en Sy liefde sonder gelyke wat Hy vir ons gedemonstreer het by die kruis, dat Hy Homself vir ons gegee het, u hart kom onder die invloed van dit, u hart is aangetrokke, en u het Hom lief met die dieptes van die gevoelens van u hart. U kan nie ‘n stoïsyn wees nie, u kan nie klinies wees nie, u kan nie koud teenoor Christus wees nie, en u is in die dieptes van u siel wat aangetrokke is tot die passie vir Christus, die liefde vir Christus.
Dan behels dit die wilskrag. Jesus het gesê: “As u My liefhet, dan sal u My gebooie onderhou”. As u sê dat u Christus liefhet, en u leef nie in gehoorsaamheid tot Hom nie – dan is dit net godsdienstige praatjies in u lewe. As u Jesus Christus waarlik liefhet, u verstand is vurig, u hart is vergroot en u wilskrag is besig om u lewe toe te vertrou, om u lewe oor te lewer, om u lewe oor te laat aan Jesus Christus, en dit is ‘n beslissende besluit van u wilskrag wanneer u afdaal tot die bodem.
Toe ek my vrou ontmoet het en ons mekaar beter leer ken het, was daar ‘n geestelike begrip vir wie sy is, wat sy is, wat haar agtergrond is en wat haar sterktes is. Dan was daar die antwoord in my hart aan haar, omdat ek aangetrokke was tot haar en al hierdie skoonhede van haar waardeer het. Maar ek kon nie werklik sê dat ek haar liefgehad het nie, voordat ek voor in die kerk gestaan het, sy die kerkgang afgeloop het, en as ‘n keuse van my wilskrag, het ek my lewe aan haar oorgegee en sy aan my.
Dit is wat dit is om ‘n dissipel van Jesus Christus te wees, en hoe maklik dit is. Jesus het verstaan, om net in die naamloosheid van die menigte te wees, om net vasgevang te wees in die sensasie en emosie van die oomblik, en ons Here bring dit af na die individu, na die spesifieke, en Hy vra vir hulle absolute, totale getrouheid aan Hom. Dit is wat ons Here hier doen vandag. God praat deur Sy Seun, en God praat met jou, God roep jou individueel, Hy roep jou om Hom meer lief te hê as jou vader, meer as jou moeder, meer as jou broer, meer as jou suster. Dan gaan Hy vir die eintlike oëverblindende ding in vers 26, ja, selfs ook sy eie lewe! Ons fokus so baie keer op onsself, word so baie keer selfgemotiveerd, selfstandig, en Jesus het gesê: “U gaan My meer moet liefhê as wat u selfs uself liefhet”. Hy lig Sy hande op en Hy se: “Of u kan my dissipel nie wees nie”. U kan nog steeds deel wees van die menigte, loop op die omtrek, maar u kan nie een van Myne wees nie.
Dit is die hoogste toewyding wat ons Here voor vra, en so grafies as wat dit klink, die grootste geluk en die grootste plesier in enige persoon se lewe, is om die Here Jesus Christus met hul hele hart, met hul hele siel, met al hul verstand en met al hul krag lief te hê. En om in ‘n persoonlike verhouding met Christus in te stap, waar u met Hom praat, waar u met Hom wandel, waar u met Hom omgang het, waar u met Hom gemeenskap het. Dit is die wonderlikste ondervinding in die lewe.
Nou gaan ons Here tog verder en Hy volg op met sy mededeling in vers 27. Vers 26 is ‘n hoogste toewyding. Vers 27 is ‘n selfontkenning. Jesus verstaan hoe maklik dit is om selfmisleidend te wees wanneer u in die middel van ‘n menigte staan, hoe maklik dit is om meegesleur te word in die oomblik van die groter menigte, en om te voel dat u dink dat u regtig verbind is met Christus, wanneer dit in realiteit nie so is nie. So Hy volg in vers 27 met nog ‘n ander skokkende mededeling. Ons het dit al so baie keer gehoor en so baie keer gesien, dat dit regtig al van sy trefkrag verloor het.
Maar kyk na vers 27 en sien wat dit sê: “Elkeen” – en wanneer Hy sê elkeen, dit is soos iemand in vers 26. Daar is geen ander manier nie, daar is geen ander voorwaardes om ‘n volger van Jesus Christus te wees nie. “Elkeen wat sy kruis nie dra nie” – en die klem hier op sy. Dit is so individueel, dit is so persoonlik, u kan nie enigiemand anders se kruis dra nie, en niemand anders kan u kruis vir u dra nie. Dit is iets wat net u kan doen. Dit is ‘n besluit wat net u kan maak.
“En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie”. Dit is ‘n aktiewe geloof, dit is ‘n dinamiese geloof, dit is om uit te trek, om saam met die Here Jesus Christus te gaan. Dit is om in stap te kom met die Verlosser, om uit te trek in die lewe. En as Hy dit sê, praat Hy nie van fisies ‘n stap neem en uit te trek nie, Hy praat hier van spiritueel in iemand se eie hart en siel, die rigting en beweging van u innerlike lewe.
“En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie”. Dan herhaal Jeusus weer aan die einde van vers 27 wat Hy gesê het aan die einde van vers 26, dit is ‘n dubbele stopteken. Dit is ‘n dubbele skynende rooi lig. Hy roep ons terug by die landingsplek – “kan My dissipel nie wees nie”. Wie is enige van ons hier vandag om te stry met die Verlosser rondom die voorwaardes wat Hy stel om Hom te volg. Wie is enige van ons hier vandag om te probeer om dit wat die Verlosser sê, te versag of minder te maak. Wat beteken dit om iemand se eie kruis te dra. Hy praat hier beslis nie van om ‘n halssnoer om u nek te dra nie, dit is gaaf.
Niemand in die Romeinse Ryk, in die Nuwe Testament tye, en beslis nêrens in Palestina, het gemis wat ons Here hier gese het nie, want die kruis simboliseer die uiterste verskriklike pyn en ‘n hartelose wreedheid wat altyd geëindig het in die dood. Om iemand se eie kruis te dra was die gevreesde dodemars waar iemand voor die regter se regterstoel sou staan en as krimineel skuldig verklaar sou word voor die regter, en as ‘n publieke vertoning van iemand se eie skuld, sou iemand gedwing word om sy eie dwarshout te dra, vanaf die oordeelstoel, al die pad tot by die plek van die voltrekking. Hy was openlik vernederend, en as iemand sy eie dwarshout op hul eie skouers sou dra, was dit ‘n publieke getuienis van om onder die submissie te wees van die hoër gesag van die regter.
U sê: Ek stem saam met die regters se kwytskelding van my, en nou bring ek my lewe en bely my skuld, vir verbreking van die wet van die hoër gesag, openlik saam met al die skaamte wat betrokke is in die toelating van my skuld en sonde, ek dra nou die dwarshout al die pad tot by die plek van die voltrekking. Die strate van Jerusalem sal gevul wees en mense sal in rye staan langs die Via Delarosa, soos die tereggestelde krimineel, die veroordeelde krimineel sy dwarshout sou dra. Almal sou sien dat Rome in beheer is en dat Rome Judea tot onderwerping en onderdanigheid gebring het, en dit is net nog een voorbeeld van wie onder onderwerping is en wie dood is in homself.
Dit is presies wat Jesus sê in vers 27, en wat Hy sê, is dat ons voor God se heiligheid moet staan in ons eie hart, en moet saamstem met God se eie oordeel oor ons, dat ons almal gesondig het en tekort gekom het in God se heerlikheid. Ons sal dit maar net moet afsluk, en as ons gered word, moet ons daarmee saamstem en tot ‘n plek kom van onderwerping onder die heerskappy van Christus, en onder die hoër gesag kom van Christus.
Om een se eie kruis te dra is om ‘n openbare en publieke stelling te maak na die wêreld, dat ek skuldig is soos aangekla voor die heilige God, en my lewe is nou onder God se gesag. My lewe is nou onder die heerskappy van Jesus Christus en ek het na die einde van myself gekom. Ek het nie meer ‘n lewe nie. Ek is nou dood vir self en dood vir sonde en ek gee my lewe oor aan Jesus Christus, ek is nou ‘n volger van Jesus Christus en ek dra my kruis elke stap van die reis soos ek Christus volg. Ek is onderworpe aan Sy Heerskappy, ek bieg my sonde en ek is bereid om te gaan waarokal, om te doen watokal Hy my vra. Dit beteken om te wandel soos Hy wandel. Om te lewe soos Hy lewe. Om te sê wat Hy sê. Om my te verheug waarin Hy Hom verheug. Om te huil waaroor Hy huil, want ek is nou een met Jesus Christus. Ek word nou geïdentifiseer met Christus en ek is nou ‘n volger van Christus. In Lukas 9:23 stel Hy dit so: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg”. Dit is wat Jesus se hier in Lukas 14:27. Dit is ‘n ander manier om te sê: “Volg My”.
Daar word geen kwalifiseerders genoem in hierdie stelling nie. Hy sal nie vir ons sê waarheen Hy ons lei nie, Hy gaan nie vir ons ‘n vyf jaarplan, ‘n tien jaarplan, gee nie. Al wat u moet weet, is Jesus Christus, en om Hom te volg. Hy vra ons om Hom onvoorwaardelik te volg. Hy vra ons om Hom te volg in goeie tye en in slegte tye. Hy vra ons om Hom met wilskrag, opsetlik, alleenlik en uitsluitend te volg. Daar is niemand anders om te volg nie, daar is geen ander agenda vir ons lewe nie. Daar is geen ander doel vir ons lewe nie. Geen ander passie nie. Ons gehele lewe is om Jesus Christus gesentreer. Hy is die son en die kern van my lewe. Soos ek Hom volg, moet ek Hom stap vir stap en tree vir tree volg. Ek moet byhou by Christus se pas, ek kan nie agter raak nie en ek kan nie vorentoe stamp nie, maar ek moet altyd in die intiemste verhouding en diepste verbintenis met Christus bly. Dit is die vraag by elke punt in die wending van die lewe – volg ek Jesus Christus?
Dit is hoe ons in die Koninkryk kom – deur om ‘n volger van Christus te word. Dit is hoe ek in die genade en kennis van Christus groei. Ek groei nader aan Hom en ek volg Hom waarokal Hy my sal lei. Ons kan Christus nie in enigiets anders volg nie. Dit is ‘n alles of niks aanbod. Ons kan nie Christus saam met iets anders volg nie. Ek kan nie Christus volg en my werk meer liefhê as vir Hom nie. Ek kan nie Christus volg en skool meer liefhê as vir Hom nie. Ek kan nie Christus volg en plesiere meer liefhê as vir Hom nie. Ek kan nie Christus volg en hierdie wêreld meer liefhê as vir Hom nie. Wat Hy hier vra, is absolute, radikale getrouheid aan Christus en dit sluit my eie selfverloëning in.
Luister, u kan nie lewe voordat u sterf nie. U kan nie vir Christus lewe voordat u in uself gesterf het nie. Daar kan nie ‘n opstanding wees voordat daar eers ‘n kruisiging is nie. Daar kan nie ‘n opstanding tot die lewe wees, voordat daar eers ‘n kruisiging was van u vorige lewe nie. Ek wil u baie persoonlik vra, ek wil u in die middel van hierdie menigte uitsonder, of u op die boonste balkon staan, op die middelste balkon, of hier onder op die vloer. Ek wil u in u eie hart uitsonder. Het u al u kruis opgeneem om Christus te volg? Het u u eie sondigheid erken voor ‘n heilige God in die hemel? Het u erken dat God se oordeel van u waar is? Het u Christus se reg om oor u lewe te regeer, erken? Het u u lewe aan die Heerskappy van Jesus Christus oorgegee en onderwerp? Het u regtig aan die einde van uself gekom? Want Jesus begin nie voordat u eindig nie.
Dit is die selfverloëning waarvoor Hy vra. Hoe maklik sal dit nie wees om deel van ‘n gelowige menigte te wees nie, net soos daardie menigte wat Christus gevolg het, om meegesleur te word in ’n oomblik, en om te misluk om individueel in uself te sterf. Dit is so belangrik, om die waarheid te sê, in vers 28 sê Jesus dat dit vra vir ‘n verstandige berekening. Niemand kom net hier in met ‘n gril nie. Die insette is te hoog. Dit vereis te veel van u en niemand sal dit net oppervlakkig opneem nie. Jesus vra vir ‘n verstandige berekening, wat almal van ons sou onderneem in ons eie harte en lewens. So, in die begin van vers 28 gee Jesus 2 gelykenisse. U weet wat ‘n gelykenis is, dit is ‘n aardse storie met ‘n hemelse bedoeling. Hy teken 2 prente op die doek van ons verstand, sodat ons kan sien wat dit is waarvoor Hy vra. Eerder as dat ons Here hiervan terugstaan en die voorwaardes versag, is ons Here egter in opstand en Hy sê: Luister, moenie hiervan deel word nie, nie voordat u dit regtig deurgedink het nie, want dit sal die grootste besluit van u lewe wees, dit sal die geheel van u lewe vir die res van u lewe affekteer, en dit sal affekteer waar u die ewigheid sal spandeer. Al die dele is op die tafel in hierdie hand. U moet regtig die koste tel.
So, die eerste gelykenis begin in vers 28 en Hy sê: “wie van julle” – en wanneer Hy sê: “wie van julle”, kyk Hy in die oë van die menigte en Hy sif deur die wat ‘n ware toevertrouing tot Christus gemaak het, en die wat regtig vals dissipels is, die wat regtig net nuuskierig is, wat ingesluip het in hierdie beweging. So Hy sê: “Want wie van julle wat ‘n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie?” Enige wyse bouer, niemand sal net ‘n bouprojek begin sonder om eers ‘n idee te hê van wat dit sal kos nie. Hoe dwaas sal dit wees om met ‘n konstruksieprojek te begin, en dan, wanneer u daarmee besig is, kopkrap en ‘n tweede keer dink en sê, sjoe, dit is regtig baie meer as wat ek aanvaklik gedink het , of regtig van plan was om op te neem. Dan begin u twak praat, begin u aarsel, begin u om terug te trek en dan pak u op en sê: “Weet u, my hart is nie regtig hierin nie”, besluit u om nie klaar te maak nie, want u wil nie meer hierin opeindig nie. Hoe maklik is dit om iets te begin, en hoe moeilik is dit om iets klaar te maak. Hoe maklik is dit om ‘n projek aan die gang te sit, hoe duur om dit te voltooi.
So Jesus sê in vers 29: “sodat” – bedoelende as u nie die koste tel nie. So u het hierin betrokke geraak en dit is weer iemand wat net ‘n maklike besluit vir Christus gemaak het, wat nie bekwaam is om klaar te maak nie, nie bekwaam is om al die pad te gaan nie. Almal wat dit sien, sal begin om u te spot. En weet u wat, met reg. Elke keer as u in die straat afloop en u sien daardie stuk eiendom in die hoek, u sien dat alles skoongemaak is, die bome is afgekap en die wynstokke is weg, u sien dat die fondasie gelê is, u sien die voordeur wat op die fondasie staangemaak is, maar niks anders omring die deur nie. Dag na dag wat u hierby verbyloop, kyk u na hierdie projek en u grinnik in u binneste, u besef, en u sê vir uself, hierdie dwaas het nooit regtig die koste nagesien nie.
Hoe baie mense is daar nie wie se lewens net so lyk nie. Dan kom hulle selfs na die konferensie soos hierdie, word meegesleur met die musiek, word meegesleur met die prediking, word meegesleur met die ware liefde wat gewys word en dit is ‘n voel goed plek. Dan begin u bou, u gaan terug huis toe en u dink: Ja, ek moet dit meer doen. Ek moet volgende week kerk toe gaan. U gaan voort met dit alles sonder om ooit Jesus Christus nommer een in u lewe te maak. So u val in met ‘n Bybelstudie. Wanneer u teruggaan en u begin om deur ‘n paar spirituele bewegings te gaan, dan, sommer vinnig, kom daardie ou vriende aan en sommer vinnig kom daardie ou verleidings terug. En u val langs die kant van die pad – u is net soos hierdie man wat begin bou het, maar nooit die koste getel het nie, dat dit u alles sou kos om ’n ware volger van Jesus Christus te wees, met die keuse in u hart, dat u die lyn sou moes oortree en die brûe agter u verbrand, dat daar geen terugkeer is nie, en in u hart van harte is wat dit okal vat langs die pad, ek sal my lewe meedoënloos vir Christus gee.
Laat ek u vertel, u weet nie wat spesifiek sal gebeur in volgende week, volgende maand en selfs volgende jaar nie. Maar u moet nou dadelik ‘n verstandige berekening maak, dat dit u alles gaan kos. Dit gaan bepaal met wie u trou. Dit gaan bepaal watter soort familie u gaan grootmaak. Dit gaan bepaal watter werketiek u gaan hê. Dit gaan bepaal waar u aanbid. Dit gaan regtig alles van die res van u lewe bepaal. Niks is buite hierdie toevertrouing nie, u hele lewe word geleef onder die Heerskappy van Christus. U moet daaraan dink dat u dit alles in u gedagtes moet weeg, sodat u nie ‘n vinnige besluit maak, teruggaan huis toe en weg val nie.
Dan gee Jesus ‘n tweede gelykenis. Hy is die hoof onderwyser. Hy is die hoof verklaarder. In vers 26 en in vers 27 het Hy harde bal met ons gespeel, en Hy het elke reg daarop, want Hy het vir ons gesterf en Hy is Here. Nou in vers 28 en wat daarop volg, verf Hy hierdie prente, en in vers 31 gee Hy die tweede gelykenis.
Die eerste is dat u die kostefaktor moet weeg, en moet bereken wat dit kos om ‘n dissipel van Jesus Christus te wees. Dit sal u gewildheid kos. Dit sal miskien soms u bevordering kos. Dit sal u selfs ‘n maklike lewe kos. U sal uself moet dissiplineer. U sal u liggaam moet afskuur. U sal nee moet sê vir verleiding. U sal nee moet sê vir hierdie wêreld. U sal weg moet breek van die menigte. U sal bereid moet wees om alleen te staan vir Jesus Christus. U sal bereid moet wees om teen ‘n ander dromritme te loop, en om uit die menigte te stap, selfs as niemand anders Jesus Christus volg nie. U sal bereid moet wees om te staan, selfs as u die enigste persoon vir Jesus Christus is, in die wêreld. Dit is die kostefaktor. U sal bereid moet wees om vir Christus te ly onder vervolging, en laat ek u vertel, dit sal kom. Dit kan u selfs u lewe kos.
Maar nou die tweede gelykenis in vers 31. Die Here druk ons so te sê in ‘n hoek, waar daar nie ‘n manier is om uit te kom nie, u kan net u lewe aan Hom oorgee. Met die tweede gelykenis is die aaname: Wel, wat as u nie bereid is nie? Wat as u nie bereid is om die prys te betaal nie? Gaan dit vir u ‘n maklike uitweg wees, is daar enige vertakkings? Is daar enige implikasies, is daar enige ewige implikasies vir u? As u nie opstaan en sê: Ja, deur die genade van God is ek bereid om die prys te betaal om ‘n dissipel van Christus te wees, nie.
So in vers 31 het Jesus gesê: “Of watter koning wat optrek om teen ‘n ander koning slag te lewer”. Sien u die prent hier? Hier is 2 mededingende koninkryke, hier is 2 mededingende konings, hier is 2 mededingende leërs. Net een sal wen, die ander een sal verloor, en die een wat verloor sal verslaan word. Die een wat verloor, sal vir die res van hulle dae onderworpe wees aan slawerny tot die groter koning. So daar is baie op die tafel hier, as tot watter koning: “Of watter koning wat optrek om teen ‘n ander koning slag te lewer, gaan nie eers sit en beraadslaag” – en hier is dit weer die berekening van die koste. Daar moet oorweging en berekening wees. Of hy nou met 10 000 man sterk genoeg is om te veg teen die een teen hom met 20 000 man. En as Hy dit sê, dan sê Hy dit vir elkeen in die menigte: U is hierdie koning met 10 000 soldate, en u vind uself in ‘n stryd. Daar is teenstand teen u gebring, daar is ‘n ander koning wat teen u koninkryk is, hierdie koning het 20 000 soldate, wanneer u direk in hierdie stryd kom met hierdie ander koning,sal hy u heeltemal vernietig.
Hy sê in vers 32, hierdie is die enigste verstandige besluit wat u kan maak, of anders, wanneer die ander nog ver weg is, terwyl hierdie koning met 20 000 ten volle gewapende soldate teen u koningkryk, met minder verdediging, mars. Terwyl die ander koning nog ver weg is, sou enige verstandige menslike wese só reageer. Hy stuur ‘n opdrag en vra vir vredesvoorwaardes. Hy wil nie hierdie koning, wat oppad is met 20 000 soldate, ontmoet nie, hy kom nie om speletjies te speel nie, hy kom nie om gewillig te wees nie, hy kom om te domineer en om te slag. Hierdie ander, groter koning is niemand anders nie, as die Een wat die gelykenis vertel, want Hy is die Koning van alle konings, Hy is die Here van alle here. En aan die einde van hierdie tyd, sal Hy uit die hemel neerpyl, op ‘n wit strydros, Sy gewaad druppend in bloed, die bloed van Sy eie vyande, en Hy kom terug om in te stem en om te veroordeel.
U moet vredesvoorwaardes maak met hierdie komende Koning, of u sal onderworpe wees aan verdoemenis, vir ewig. Jesus Christus het vredesvoorwaardes gemaak. U moet buite die hof met Hom skik. U wil nie ingaan in daardie finale dag van stryd met Christus nie, want Hy sal genadeloos wees in die voltrekking van Sy geregtigheid. Maar Hy offer u vandag genade.Hy sal instem tot oorgawevoorwaardes. Hy sal instem tot vredesvoorwaardes, maar dit is Sy vredesvoorwaardes. U moet u vader, moeder, broer, suster en selfs u eie lewe meer as vir My haat, of u kan nie My dissipel wees nie. U moet u kruis optel en My volg, of u kan nie My dissipel wees nie. As u dit nie doen nie, sal u My ontmoet in die finale oordeel. En Ek sal God verheerlik in u vernietiging.
Dit is die 2 gelykenisse wat ons Here vertel het. In vers 33 bring Hy dit tot die punt. Hy is die hoof evangelis. Hy vra vir die uitspraak. Hy vra vir u hart se besluit. Hy druk u vir ‘n besluit. Hy sal nie afgesit word nie. U kan nie u hart se stilknoppie langer druk nie, u moet Hom antwoord. Vers 33: “So (slot) kan dan ook niemand van julle my dissipel wees nie”. Hy sê: Niemand van u kan ‘n ware Christen wees nie. Niemand van u kan in My Koninkryk kom nie. Niemand van u kan in die regte verhouding met My of die Vader wees nie. Niemand van u, wat nie afsien van al sy besittings, kan My dissipel wees nie.
Wat sê ons Here? Hy staan nie terug nie. Hy vergroot die toevertrouing waarvoor Hy vra met elke lyn van hierdie gedeelte. Hy sê nie dat u u weg tot in die koninkryk van die hemel moet koop nie, want niemand van ons het genoeg goud nie, niemand van ons het genoeg silwer om selfs ‘n vlek van die sonde te verwyder wat ons innerlike siel besmet het nie. Wat sê Hy? Wie gee nie al sy besittings op nie? Wel, dit moet in die konteks van ‘n ander teks in die skrifte opgeneem word, so laat ek net tot die punt van die punt kom. U moet die eienaarskap van alles wat u is en alles wat u het, oordra aan alles wat Hy is. Dit is wat Hy sê. U lewe is nie meer u lewe nie, dit is nou Sy lewe. U tyd is nie meer u tyd nie, dit is nou Sy tyd. U besittings is nie meer u besittings nie, dit is nou Sy besittings. U toekoms is nie meer u toekoms nie, dit is nou Sy toekoms. U rykdom is nie meer u rykdom nie, dit is nou Sy rykdom. U moet alles wat u is en alles wat u het oorgedra aan alles wat Hy is. Dit is wat dit is om aan Sy vredesvoorwaardes te voldoen.
Iemand het dit op hierdie manier voorgestel, ‘n gesprek, iemand wil ‘n pêrel koop by ‘n pêrelhandelaar.
“Ek wil hierdie pêrel hê, hoeveel kos dit?”
“Wel, dit is baie duur.”
“Hoeveel?”
“Wel, ‘n baie groot bedrag.”
“Dink u ek kan dit koop?”
“Natuurlik, enigiemand kan dit koop.”
“Maar het u nie gesê dat dit baie duur was nie?”
“Ja.”
“Hoeveel?”
“Alles wat u het.”
“Goed, ek sal dit koop.”
“Wel, wat het u? Laat ons dit neerskryf.”
“Wel, ek het $10 000 in die bank.”
“Goed, $10 000, wat nog?”
“Wel, dit is al, dit is al wat ek het.”
“Niks anders nie? Niks meer nie?”
“Wel, ‘n paar dollars hier in my sak?”
“Hoeveel?”
“Wel, laat ons sien, 30, 40, 50, 60, $100, $200.”
“Dit is goed, wat het u nog?”
“Wel, niks nie, dit is alles.”
“Waar bly u?”
“Wel, in my huis?”
“’n Huis, u het ‘n huis, gee my u huis.” (En hy skryf neer ‘huis’)
“Bedoel u dat ek in my karavaan moet gaan bly?”
“O, u het ‘n karavaan, ek wil u karavaan ook hê.”
“Wel, as u dit doen, sal ek in my motor moet slaap.”
“O, u het ‘n motor, gee my u motor.”
“Wel, ek het twee van hulle. U het al klaar my geld, my huis, my karavaan, my motors, wat meer wil u hê?”
“Is u alleen in hierdie wêreld?”
“O nee, ek het ‘n vrou en ek het twee kinders.”
“Ja, so ek wil u vrou en u kinders hê.”
“Ek het niks oor nie, ek is heeltemal alleen.”
“Goed, nou mag u die pêrel kry.”
Dit is soort van wat Jesus Christus vir u sê. Ja, die uitruiling is nie geleen of gekoop met egte geld nie, maar dit is verkry met die totale, komplete oorgawe van u lewe aan Christus. Dit is wat reddende geloof is. Dit kom tot die einde van uself, in komplete, algehele vertroue van alles wat u is en alles wat u het aan alles wat Hy is.
Eindelik, ‘n ondersoekeksamen, vers 34. U mag dink dat Jesus op ‘n tyd die voordele sou bring, Jesus sou week word, Jesus sou verhelder, Jesus… Maar weet u wat? Dit is te belangrik. Dit is u ewige siel. Dit is die enigste lewe wat u ooit sal lewe. Dit gaan oor die enigste ewigheid wat u ooit sal hê. So ons Here sê in vers 34, gevolglik trek Hy alles vorentoe van vers 26: “Die sout is goed” en ja, sout is goed. Dit bewaar goeie vleis. Dit verhoed bederwing. Dit verleen smaak. “Die sout is goed, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit smaaklik gemaak word?”
U sien, ons moet verstaan dat nie alle sout sout is nie, en sommige sout het ‘n mengsel daarin. Sommige sout in hierdie deel van die wêreld het gips daarin, en dit sal uiteindelik wys. Dit lyk soos sout, maar dit proe nie soos sout nie, en dit werk nie soos sout nie. Dit is ‘n vals, nagemaakte sout.
Wat ons Here met hierdie metafoor bedoel, is om die vergelyking te maak tussen ‘n ware volger van Christus en ‘n vals volger van Christus. ‘n Ware gelowige in die Here en iemand wat maar net deel is van die menigte. So Hy sê sout is goed, maar as selfs sout smakeloos word, beteken dit dat dit ‘n bewys is dat dit nooit ware sout was nie, om mee te begin. Waarmee sal dit smaaklik gemaak word? Die antwoord is: Niks. Vers 35: “Dit is nie bruikbaar vir die grond of vir die ashoop nie.”
Dit is nie goed vir enigiemand nie, nie vir God nie, nie vir Christus nie, nie vir die Koninkryk nie, nie vir die beweging nie. U neem ‘n plek op vir iemand anders. Daar was ander mense wat probeer het om hier in te kom. Dit is nie bruikbaar vir die grond nie, u is nie eers die toilet werd nie, spiritueel bedoel, want u het nie tot die oomblik van totale oorgawe van u lewe, en die hoogste legioene, en die hoogste lojaliteit tot Christus, gekom nie. U het nog nie onder die Heerskappy van Christus gekom en u kruis opgetel om Hom te volg nie.
Dan sê Hy: “Wie ore het om te hoor, laat hom hoor”. U moet die strengste aandag gee aan wat God gesê het deur Sy Seun, want God het deur Sy Seun met ons gepraat in hierdie konferensie. God het almal van ons na hierdie plek gebring, nie een van ons is per ongeluk of per toeval hier nie, dit is die goedheid en die genade van God wat u na hierdie plek gebring het, waar u gehoor het van Jesaja 53. U het gehoor van die lydende Verlosser, die Here Jesus Christus, wat teen daardie kruis sonde vir ons geword het. Teen daardie kruis het Hy gesterf in Homself, dat Hy vir ons mag lewe, dat Hy ons sondes mag dra, daardie onregverdigheid teen daardie boom, en verkry Hy vir ons redding. Daar is redding in geen ander naam nie, want daar is geen ander naam onder die hemel gegee onder mans, waardeur ons gered moet word nie. Jesus het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie”. Hy roep uit na u vandag: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hat, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig”. Dit is, dit is! U het die gewig van die sonde, gooi dit van u af, en u sal die juk van Christus op u hê, Hy kom saam met u onder daardie juk, Hy dra dit saam met u, maar dit sal totale toewyding van u lewe, op Hom, vereis.
O, ons moet ons harte deursoek vandag: Het ek na hierdie plek van totale toewyding in my lewe gekom? Het ek my lewe aan die soewereine Heerskapy van Hom, wat vir my aan die kruis gesterf het, oorgegee? Ek wil hê dat u weet dat die paradyshekke vir u oopgemaak is, die smal hek is oop, as u ‘n stap in geloof neem, deur hierdie smal hek kom en u lewe aan Hom toewy, ten spyte van die krag van Sy woorde. Hy sê ook: “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.”
Hy vra u vandag om te kom, om na Hom toe te kom, om ‘n stap in geloof te neem en na Hom toe te kom, maar as u na Hom toe kom, moenie speletjies speel nie. U moet oorgee aan Christus. Iemand het die volgende geskryf, en ek sluit hiermee af, dit is getiteld: Ek is ‘n dissipel.
“Die dood is gewerp. Ek het oor die lyn getrap. Die besluit is geneem, ek is ‘n dissipel van Jesus Christus. Ek sal nie opkyk, toegee, vertraag, terugdeins of stil wees nie. Ek het nie meer voorrang, voorspoed, posisie, promosies, toejuigings of gewildheid nodig nie. Ek hoef nie reg of eerste te wees, te praat, herken, geprys, respekteer of beloon te word nie.
Ek leef nou deur geloof, het lief deur geduld, leef deur gebed en werk deur krag. My pas is bepaal. My doel is die Hemel. My pad is smal. My weg is grof. My metgeselle min. My gids betroubaar. My missie duidelik. Ek kan nie gekoop, geskik, afgeskrik, weggelok, teruggedraai, mislei of vertraag word nie. Ek sal nie in die gesig van opoffering terugdeins nie. Ek sal nie in die teenwoordigheid van teenspoed aarsel nie. Ek sal nie by die tafel van die vyande onderhandel nie. Ek sal nie by die poel van gewildheid oorweeg nie, ook nie by die doolhof van middelmatigheid ronddwaal nie. Ek sal nie opgee, agteruit staan, vertraag of stilbly nie, nie voordat ek gebid, gepreek, opgegaar en gebly het by die saak van Christus nie.
Ek is ‘n dissipel van Jesus Christus. Ek moet aangaan totdat Hy terugkeer. Gee totdat ek neerslaan. Preek totdat almal weet, werk totdat Hy kom. En wanneer Hy kom om Sy eie te haal, sal Hy geen moeilikheid hê om my te herken nie, my kleure vlieg hoog en hulle is vir almal duidelik te sien.”
Is u ‘n dissipel van Jesus Christus?
Dit sal u alles kos!
Amen.
Leave a Reply