HOE WEET ONS DIE BYBEL IS DIE WOORD VAN GOD ?
deur dr. AH Bogaards (GK Pretoria-Rooiwal)
(Nota: Sien die vorige inleidende skrywe oor die lesings van die seminaar hier. Ek het ook oudl. Francois van Deventer se kort oorsig van die dag se verrigtinge hier onder geplaas.)
MP3 Audio van al die lesings: Sola Scriptura lesings
Hier is dr. Bogaards se volledige lesing:
Hoé weet ons die Bybel is die Woord van God?
As oorsig, plaasek die lesing se inleiding, hooftemas en slot hier:
Inleiding
Ek praat oor die onderwerp: Hoe weet ons die Bybel is die Woord van God ?
Ek laat die klem val op die hoé: hoé weet ek dit? Die antwoord is baie eenvoudig: ons weet dit nét deur die getuienis van die Heilige Gees. Hý bring ons tot erkenning van en tot geloof in die gesag van die Skrif. Erkenning van die gesag van die Woord is van begin tot einde ‘n saak van geloof. Jy glo dit of jy glo dit nie. Só ernstig is die saak van Skrifgesag.
1. Gesag en Skrifgesag
2. Ons Heidelbergse Kategismus
3. Die Skrif
4. Slot
Ons staan vandag by daardie dele van die Woord stil, wat handel oor die amp van ouderling en wie in daardie amp mag staan.
- Hoé weet ons dat dít die gesagvolle en altyd geldende Woord van God is? Nét deur die Woord-getuienis van die Heilige Gees.
- Hoé buig ons onder daardie gesagvolle Woord? Nét deur die wedergeboorte deur Gees en Woord.
- Dit is ‘n saak van geloof: jy glo dit of jy glo dit nie.
______________________________________
VERSLAG VAN DIE VERRIGTINGE OP 24 SEPTEMBER 2014
SOLA SCRIPTURA SEMINAAR
deur oudl. Francois van Deventer (GK Bet-el)
Braaidag het vir die GK Bet-el vanjaar vroeg begin.
Die aand van die 23ste September het ons bymekaargekom om 250 boerewors porsies te braai en nog veel meer broodjies te smeer. Die volgende dag is die eindresultaat van amper ‘n jaar se beplanning en harde werk mooi beloon toe ongeveer 100 gelowiges by GK Rietvallei vergader het om die eerste Sola Scriptura Konferensie te kom beluister.
Ds Christiaan Jooste het die opening waargeneem en toe het Dr Attie Bogaards mooi verduidelik dat daar ‘n verband is tussen die reg verstaan van die Skrif en of mens deur die Heilige Gees verlig is. Prof Adendorff, Rektor van die Afrikaanse Protestantes Akademie het ‘n lesing van uit die boonste rakke gelewer toe hy verduidelik het hoe mens die Bybel reg moet lees. Hy het verduidelik dat ‘n brug gebou moet word tussen die kulturele omstandighede en die Bybelse beginsels wat in ‘n teksgedeelte vir ons voorgehou word. Ons het toe vir ‘n lekker koppie-koffie-blaaskansie verdaag.
Die kongresgangers het lekker gekuier en het swaar afskeid geneem van die koffiepotte. Hul moeite is egter beloon deur die uiters insiggewende en goed nagevorste stuk wat Ds Faan Smit voorgehou het.
Tydens middagete het talle mense hul waardeering uitgespreek en gevra dat die materiaal gepubliseer moet word en dat dit vir die res van die gelowiges en gereformeerdes beskikbaar gestel moet word.
Gewoonlik is die skof na middagete ‘n moeilike een wanneer mense slaperig word. Ds Slabbert Le Cornu en Ds Cobus Rossouw het egter hulle goed gekwyt van hul take en nou en dan het jy selfs die gehoor hoor skater. Ds Le Cornu het gesels oor of Manlike ouderlingskap ‘n kernsaak is terwyl Ds Cobus Romeine 14 uitgelê het om die vraag te antwoord: Wanneer moet ons mekaar se standpunte verdra?
Hierdie eerste Sola Scriptura Konferensie was ‘n sukses en die span sal binnekort begin om te beplan aan volgende jaar se konferensie.
Jan de Smit (Walvisbaai), Di Hannes Noëth, Jack Lekalakala (Makolokwe), LSD du Plessis (Groblersdal), Prof Paul Krüger (Potchefstroom), Dr Gerhard Kok (en sy moeder), Dr Grobler, ens., het hul groete oorgedra en verskoning gemaak dat hulle nie die dag kon meemaak nie. Ons is daarom van plan om die materiaal te verwerk en so oor ‘n maand of wat elektronies beskikbaar te stel.
Mag hierdie Konferensie ‘n bydra lewer om Christene in Suid-Afrika op te roep om terug te reformer na God se Woord: Sola Scriptura.