IS MANLIKE OUDERLINGSKAP ‘N KERNSAAK ?
deur S. Le Cornu
(Nota: Sien die inleidende skrywe oor die lesings van die seminaar hier. Ek het ook oudl. Francois van Deventer se kort oorsig van die dag se verrigtinge hier geplaas.)
MP3 Audio van al die lesings: Sola Scriptura lesings
Die volledige lesing: Is manlike ouderlingskap ‘n kernsaak ?
Hier is die voorwoord, inleiding en ‘n paar slotwoorde van my lesing:
Voorwoord
My onderwerp is die vraag: is manlike ouderlingskap ‘n kernsaak ?
Ek let op die volgende sake in my lesing:
- Twee inleidende opmerkings oor die fokus van my lesing
- Wat is op die spel in die VIDA saak (vida = afkorting vir ‘vrou in die amp’)?
- Kortliks die geskiedkundige verloop en standpunte oor VIDA in die GKSA
- ‘n Paar opmerkings vanuit tersaaklike Skrifgedeeltes oor die kerkregering
- Die pad vorentoe
1. Twee inleidende opmerkings
Dit is belangrik om in die begin van hierdie onderwerp dit duidelik te maak waaroor die lesing gaan, sodat daar nie misverstand is nie. Daarom twee inleidende opmerkings:
1.1 Al die vereistes ?
Die fokus van my lesing is nie wat is al die vereistes waaraan ‘n ouderling moet voldoen nie, spesifiek soos ge-openbaar in 1Tim.3. nie, hoe belangrike tema dit opsigself is. Soos een predikant dit gestel het: die krisis in die GKSA (en ander kerke?) is die krisis van die ouderlinge amp wat nie altyd na behore funksioneer nie, hetsy deur die:
– afwesigheid van baie Adams wat liefdevolle leiding behoort te neem in gesin en kerk,
– of dat ons onbekwaam is deur eie toedoen om hierdie taak te verrig, en weier om toegerus te word vir dienswerk.
En ja, dit gesê, ook ons almal wat tans in enige van die besondere ampte staan,
kan maar net soos Paulus in 2 Kor.3:5, uitroep: ons bekwaamheid is nie uit onsself nie maar ons bekwaamheid is uit God.
Maar die feit dat ons iets van ‘n ouderlinge krisistyd beleef, dat ons wat reeds in die ampte staan en nie altyd alles so getrou dien soos ons behoort te dien nie, beteken nou nié ons kan maar nog verder deformeer nie: “ag wat, daar is nie meer mans wat leiding wil neem nie, of hul is so onvolmaak, en daarom … kom ons bevestig maar vroue in die besondere ampte …”
Nee, ons moet dan die een ding vashou, sonder om die ander na te laat en dan eerder bekeer en verder reformeer deur sy genade.
So, die fokus van my lesing val op een van die vereistes, naamlik ‘n ouderling moet manlik wees (behalwe die ander vereistes wat gegee word deur die Skrif, en wat ook en dalk nog meer ons aandag verg in ‘n moontlike opvolgende seminaar?).
‘n Tweede opmerking:
2.2 Wat is ‘n kernsaak ?
Soos die titel aandui word die vraag dan spesifiek gevra, is manlikheid as vereiste vir ouderlingskap dan ‘n kernsaak ?
Nou staan die woord kernsaak teenoor bysaak of rantsaak, of anders gestel:
– wesentlike sake teenoor middelmatige sake
– belangrike teenoor minder-belangrik sake, ens.
Hierdie twee pole word dan soos volg dikwels verklaar:
– Alles wat die Skrif direk uitsprake oor gee (kernsake) teenoor indirekte uitsprake (rant of bysake),
– eksplisiete vs implisiete bevele
– Sentrale openbaringslyne deur die hele Skrif vs enkele verse
– Dit wat in die belydenisskriffte saamgevat word vs nie ‘n belydenisuitspraak gegee word nie.
Hoe dit ookal sy, ek is oortuig dat volgens al hierdie uiteensettings manlike ouderlingskap as ‘n kernsaak kwalifiseer.
Ek wil egter spesifiek die volgende definisie byvoeg, noem dit maar ‘n praktiese kerkregtelik werksdefinisie oor wat ‘n kernsaak is in die lig van ons onderwerp vandag:
Dit is enige kerklike saak waaroor ‘n plaaslike gemeente en/of gemeentes wat saam vergader in meerdere vergaderings (kerkverband) eenstemmig moet wees, want daarsonder kan die eenheid en waarheid van kerkwees nie gehandhaaf word in die kerklike praktyk nie.
Iets van wat ons lees in Amos 3:3, Sal twee met mekaar wandel tensy hul eers afgespreek het ?
So, ongeag hoe daar verskil word oor verklaring van relevante Skrifgedeeltes, die belydenis, kerkorde, ens … die ampskwessie, en veral in ons gereformeerde kerkregering beskouing, moet daar eenstemmigheid wees oor wie in die besondere ampte mag dien of nie.
Die tese van my lesing is eenvoudig:
Op grond van die Skrif, belydenis en kerkregering (kerkorde) is manlike ouderlingskap ‘n kernsaak waaroor ‘n gemeente of gemeentes saam eenstemmig moet wees om as kerke van Christus te dien in sy Koninkryk.
Nog sterker gestel: dit is myns insiens nie ‘n keuse van wat sou die beste/voordeligste wees vir my plaaslike kerk of kerkverband nie, maar VIDA is ‘n saak van reg en verkeerd, gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid aan die Here soos Hy tot ons spreek deur die Skrif, ook in die besonder oor die ouderlinge amp.
Nou kan ek, en wil ek nie my lesing aanbied in ‘n historiese vakuum nie, maar spreek vanuit die spesifieke kerklike stryd oor die ampte, soos dit afgespeel het die afgelope min of meer 3 dekades in die GKSA, met die poging om vroue in die besondere ampte te bevestig.
Tans, volgens die laaste besluit oor die saak (sinode 2009) word dit aan die vryheid van die plaaslike gemeentes toegelaat om diakonesse te verkies of nie, maar vroue mag nie in die ampte van predikant en ouderling verkies word nie.
Dit is die amptelike besluit, en tog het ‘n paar gemeentes reeds voortgegaan om vroue as ouderlinge te bevestig die laaste klompie jare. …
Slotwoorde
… Ja, belangrike Koninkrykswerk in die GKSA en nuwe SA ly skade (veral in die gesin) a.g.v. hierdie uitgerekte debat oor ‘n saak waaroor die Skrif eintlik baie duidelik is. Mag die Here die broeders en susters wat nie wil buig, vir watter redes ookal, voor die gesag van God se duidelike woord oor hierdie saak nie, geopende oë skenk om sy bevel raak te sien en te gehoorsaam (Ps.119:18), sodat hulle nie die oorsaak sal wees van ‘n amptelike kerkskeuring in die die GKSA nie. Mag die Here profete gee wat tydig en ontydig getuig teen hierdie gevaar wat die reeds wankelende eenheid van ons kerke bedreig.
Ons moet ernstig bid dat die Here se wil nie deur ongehoorsaamheid aan sy duidelike bevele – oor die man en vrou se onderskeie roepinge en take in gesin, gemeente en gemeenskap – ‘geweld’ aangedoen word nie.
In 1935 skryf Totius nog in ‘n artikel waarin juis tekste soos o.a. 1 Kor.11 en 14 asook 1 Tim.2 vermeld word dat:
“Ons glo nie dat enige Gereformeerde vrou teen die duidelike uitsprake van die Woord van God in verset wil kom nie. Selfs deur die feministiese praktyke van ons dae sal sy haar nie uit haar koers laat dryf nie.” (Versamelde Werke, deel 3, 1977: 197; kursief bygevoeg).
Ek weet van heelwat vrouens wat vandag nog vasstaan teen die feministiese praktyke van ons dag, hoe moeilik ookal.
Die vraag is: waar is die mans, waar is Adam, waar is ons in hierdie stryd ?
Of is Douglas Wilson reg as hy dit stel: Die wesentlike probleem is nie die vrou op die kansel nie, maar die mans wat reeds op die kansels is … maar met (teologiese) rokke aan …
Die volledige lesing is hier beskikbaar: Is manlike ouderlingskap ‘n kernsaak ?
____________________________
Sien ook die volgende lesings van die seminaar wat reeds hier geplaas is:
Hoe weet ons die Bybel is die Woord van God? dr. Attie Bogaards
Hoe lees mens die Bybel reg? prof. Koos Adendorff