God se Gees teen die grein
Lees: 1 Kor. 1:10 – 3:8
Teks: 1 Kor. 2:12a … Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is.
Tema: God se Gees teen die grein.
Psalms:33:1,2; 33:3,5; 33:7,11; 82:1,2; 119:2,15
Prediker: ds. Gustav Opperman (GK Matlabas)
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
‘n Mens word partykeer moeg,
moeg om die Woord uit te dra;
moeg om te preek vir mense …
mense wat nie wil hoor nie;
moeg om te praat met mense,
wat nou eenmaal nie kan hoor nie.
Paulus het hierdie moedeloosheid geken.
Ek is seker daar is baie van u wat dit ook ken.
Ek ken dit beslis.
As die ouderlinge hulle werk doen,
soos hulle dit behoort te doen,
dan sal hulle ook hierdie moedeloosheid ken.
As u in die amp van die gelowige staan,
soos u behoort te staan
en u vervul u profetiese roeping,
en u praat met mense oor die Here soos u met hulle moet praat,
moes u al gewonder het:
Hoekom luister die mense nie?
Hoekom wil my kind nie hoor nie?
Wat ek sê, is tog so voor-hand-Bybels!
Ek praat tog niks anders as die waarheid nie.
En dit wat jou teenstanders sê:
(dikwels mede-kerkgangers … ja, meer dikwels mede-kerkgangers)
Dit strook eenvoudig nie met God se Woord nie?
Dit strook eerder met die wêreld se wysheid.
Die apostel Paulus gee vir ons die antwoord op hierdie probleem:
Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is.
(So skryf hy aan die Korintiërs.)
Dis in baie opsigte asof die apostel hier eerstens vir homself preek,
want hierdie gemeente het hom darem al baie in die steek gelaat.
Hierdie Korintiërs het hom by geleentheid tot trane gedryf.
Hulle was so hooghartig, so wêrelds,
so vol van die tipiese wêreldse wysheid,
dit waarvoor die Grieke so bekend was.
Hulle was so vol van ‘n sieklike spiritualiteit,
‘n geestelikheid wat niks … niks met die boodskap van Christus te doen gehad het nie.
Hiervolgens het hulle ‘n dieper wysheid en kennis as ander gelowiges beetgehad.
Hiervolgens is die geestelike bo die liggaamlike gestel.
En omdat dit hulle uitgangspunt was,
omdat hulle in baie opsigte nog soos heidene gedink het,
daarom was hulle lewenswyses, hulle gedrag,
was dit vir Paulus verkeerd, so verkeerd.
Daar was hoerery en homoseksualiteit onder hulle.
Ons kan maar hoereer, so het hulle geredeneer,
die liggaam is mos niks.
Wat ons met ons liggame doen,
is mos nie belangrik nie.
Ons kan selfs dronk raak by die gemeente se liefdesmaaltye.
Dan was daar gedurige onderlinge verdeeldheid.
Hulle Nagmaalviering was tugteloos.
Hulle huwelike het uitmekaar geval.
Hulle wou eerder in tale spreek,
as om na die prediking te luister.
Hulle het immers, volgens hulleself, alreeds die tale van engele gespreek!
En hulle het die indrukwekkende predikers gesoek …
nie Paulus nie, eerder Apollos.
Hulle het op Paulus neergesien.
Hy was volgens hulle nie werklik diep geestelik ingewy nie.
Volgens hulle was sy woorde nie voortreflik genoeg nie,
in elk geval nie so oorredend soos die woorde van die gladde Grieke nie,
hulle wat die kuns van publiek redevoering bemeester het.
Die Korinthiërs het opgegaan in mensverheerliking, in selfverheerliking.
Hulle het opgegaan in die die wysheid van hierdie wêreld,
die vrug van die gees van hierdie wêreld.
Maar wat nou gedoen?
Wat nou gemaak?
Moet Paulus ook by hierdie mense die stof van sy voete afskud,
soos hy dit afgeskud het daar in Handelinge 18 …
daar aan die begin van sy bediening in Korinte,
toe hy sy rug op die hardnekkige Jode gedraai het?
By daardie geleentheid het hy ‘n nuwe gemeente begin.
Moes Paulus nou weer ‘n nuwe gemeente in Korinte begin?
Nee.
Nee, ons sien sy benadering reg aan die begin van hierdie Brief.
Hy spreek die hierdie gemeente aan as:
Die geheiligdes in Christus Jesus,
die geroepe heiliges.
Daar is min in die Korintiërs se optrede wat van heiligmaking getuig.
Daar is min in hulle gedrag wat op ‘n goddelike geroepenheid dui,
maar dis wat hulle in Christus Jesus is: Geroepe heiliges!
En omdat hulle geroepe heiliges is,
sal die apostel voortgaan
om die Evangelie aan hulle te verkondig;
sal die Here se gesant aanhou
om Jesus Christus aan hulle voor te hou:
Jesus Christus as die vernederde, gekruisigde Slaaf …
Die grootste dwaasheid wat nog ooit aan die wêreld gebied is!
Omdat hulle geroepe heiliges is,
sal Paulus, op sy beurt self ‘n slaaf van Jesus Christus,
sal Paulus voortgaan om vir hulle te leer …
met die grootste geduld,
met die grootste lankmoedigheid.
Hy sal hulle leer –
dat God se manier van doen geen ooreenkoms met die wêreld se manier van doen het nie;
dat God se taal nie deur die wêreld verstaan kan word nie;
dat God se Gees geen aansluiting by die wêreld se gees vind nie!
God se Gees werk teen die grein in
en dis vir almal pynlik!
God se Gees praat die taal van dwaasheid.
Volgens menslike logika maak dit nie sin nie.
Daar is geen manier
dat ek kan begin om dit te verstaan nie.
Dit val moeilik op die oor.
Vir die sondegevalle mens is dit so skril soos ‘n stuk kryt op ‘n swartbord.
U ken almal daardie geluid wat kryt partykeer op ‘n swart bord kan maak.
‘n Mens gril daarvoor.
So gril ons almal dikwels vir die waarheid van God se Woord.
Ons gril daarvoor,
want die sondegevalle mens is hard van aangesig,
die sondegevalle mens is verstok van hart.
(dis die beskrywing van sy gehoor
wat die HERE aan sy profeet Esegiël gegee het [Eseg. 2:4]).
En, as jy die Here se getuie is,
is dit pynlik om die Here se Woord uit te dra,
want jy sal verwerp word.
Die apostel Paulus het dit aan sy lyf gevoel … dikwels.
In sy tweede brief aan die Korintiërs skryf hy:
Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na.
Drie maal is ek met stokke geslaan,
een maal is ek gestenig.
Ek was dikwels in gevare van my volk,
in gevare van die heidene, in gevare in die stad,
in gevare onder valse broeders (2 Kor. 11:24 ev.).
Die dwaasheid van die prediking het in Paulus se geval nie net met die inhoud van sy preke te doen gehad nie,
dit het ook te doen gehad met hoe hy gepreek het.
Die wysheid van die Heilige Gees het eerstens te doen met die verpakking
waarin die boodskap kom,
die wyse waarop Christus verkondig word.
Die Grieke was bekend vir hulle openbare redenaars.
Hulle kon as’t ware in vandag se terme toor met woorde.
Hulle was die prototipes van die sogenaamde spindoctors,
meesters in die geslypte woord.
Die spindoctors is hulle
wat die toesprake van die Amerikaanse politici deesdae skryf.
Die Griekse redenaars was die voorlopers van die gladde mannetjies van TV-kanale.
Die Griekse redenaars was helaas ook die voorlopers van vandag se Charismatiese predikers van die megastadions,
predikers wat so uitstaan in tegniek en aanbieding
dat hulle wêreldwyd al byna goddelike status bereik het.
Teenoor die redetwisters van hierdie eeu het Paulus die getuienis van God kom verkondig
in swakheid en in vrees
en in veel bewing …
God het juis … juis iemand soos hy uitgekies,
iemand wat dwaas voorkom,
God het juis ‘n swakkeling geroep
sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.
God se Gees werk juis op ‘n teenoorgestelde wyse as hierdie wêreld se heersers.
Die gladde monde is nie noodwendig altyd die draers van die Gees se boodskap nie.
Die wysheid van woorde verydel juis die kruis van Christus.
Dit bring ons by die tweede aspek van God se wysheid.
Die dwaasheid van die prediking het ook te doen met die inhoud van die prediking:
Daardie inhoud is Jesus Christus, die gekruisigde.
Hoekom was dit vir die Grieke dwaas?
Wel, sou die Griek op straat op ‘n dag hoor
dat die wêreld se Verlosser aan ‘n kruis gesterf het,
sou die vraag onmiddellik by hom opgekom het:
Kan dit wees?
Die Seun van God in die gedaante van ‘n gekruisigde slaaf?
‘n Gekruisigde slaaf is mos nie ‘n verkoopbare produk nie!
Wie stel belang in ‘n God wat aan ‘n kruis hang?
Dis nie wat die wêreld soek nie.
Die wêreld soek wenners,
die atlete met die lourierkrans op die voorkop,
die helde van die stadions.
Die wêreld se gode woon in marmerpaleise op die berg Olympus.
Die wêreld soek die Hollywood-megasterre.
Die wêreld soek die Curriebeker-kampioene.
Die wêreld soek ‘n Madiba-messias.
Die wêreld soek Rambo en Chuck Norris.
Wie stel belang in die woord van die kruis?
Daar is geen groter simbool van vervloeking in die Grieks-Romeinse-Romeinse wêreld as ‘n kruis nie.
Wie stel belang in die woord van die kruis …
‘n woord van pyn en veragting en vernedering en bange Godverlatenheid?
Veral … veral as daardie woord daarop dui
dat dit eintlik ek en jy was,
dat dit eintlik u en ek was,
wat daar moes gehang het?
Wie sal nou daarin belangstel?
Menslik gesproke is dit die swakste boodskap
wat die mens al gehoor het.
Dis pure dwaasheid.
Geestelik gesproke egter is dit juis hierdie dwaasheid wat red.
Dis hierdie dwaasheid wat lei tot geregtigheid, heiligmaking en verlossing …
Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie,
maar die Gees wat uit God is!
En as dit die geval is,
kan ons eenvoudig nie meer verder soos die wêreld redeneer nie,
kan ons eenvoudig nie meer die wêreldse manier van doen na-aap nie.
Ons verwysingsraamwerk het verander.
Ons beweeg nou in die dimensie van God se Gees.
In die taal van vandag se geleerdes moet ons sê:
Ons het dan ‘n paradigmaskuif gemaak.
Ons praat nou die taal van Kanaän (Jes. 19:18),
soos ons Jesaja se professie lees.
Ons praat nou die Bybelse taal,
nie die onverstaanbare hoogmoedige spreek-in-tale van die Korintiërs nie,
maar die taal van Kanaän,
met die woordeskat van geregtigheid, verlossing en heiligmaking,
barmhartigheid, goedertierenheid en genade.
Ons het hierdie openbaring ontvang.
God se Gees het die bedekking van hierdie verborgenheid weggeneem.
Dit was van ewigheid af voorbeskik tot ons heerlikheid.
Dis ‘n dimensie, ‘n kennis, ‘n wysheid
wat geen mens kon uitgedink het nie,
wat in geen mens se hart opgekom het nie.
Net God se Gees kan hierdie wysheid openbaar,
want net God se Gees ken God;
net God se Gees ken die dinge van God.
So skryf die Here se geroepe apostel
aan die geroepe heiliges in Korinte.
Hy herinner hierdie afvallige gemeente aan die eenvoudige waarheid:
“Wees wat julle in Christus is: geroepe heiliges.
Tree so op!
Begin so te leef
soos mense aan wie die verborgenheid van God geopenbaar is.”
Julle het die Gees van God ontvang.
Ek het die Gees van God ontvang.
En Geliefdes,
ek glo die apostel as hy sê:
Die woord van die Gees is ‘n krag van God.
Die woord en die Gees getuig van Christus
en Paulus noem Hom ook
‘n krag van God.
Ons geloof bestaan nie in die wysheid van mense nie, maar in die krag van God.
Die mens kan God se Gees bedroef.
Dit is so.
Die mens kan miskien probeer
om God se Gees te weerstaan,
maar hy of sy sal nie daarin slaag nie.
Laat ons dus voortgaan
om in die krag van daardie Gees te getuig.
As dit God se Gees is wat in ons werk,
dan het ons in elk geval geen keuse nie.
Vir Paulus om die Evangelie te verkondig
dis vir hom geen roem nie
(so skryf die apostel elders in dieselfde brief [9:16]).
Dis vir hom geen roem nie,
want die dwang was hom opgelê …
Die dwang is my opgelê
en wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!
Menslike wysheid sal miskien sê:
Dis nie die moeite werd nie,
maar dan weet ons mos nou:
Ons het nie die gees van die wêreld ontvang nie,
maar die Gees wat uit God is.
En daar sal diegene wees
wat niks daarvan sal verstaan nie.
Daar sal diegene wees,
selfs binne in die kerk wees,
wat hierdie boodskap probeer verdraai;
wat Christus se wysheid in ‘n menslike wysheid probeer verander;
wat Christus se wysheid in ‘n politieke wysheid probeer verander;
wat selfs Christus se wysheid in ‘n okkultiese wysheid probeer verander …
Maar hulle het nie die Gees van God nie, Geliefdes,
hulle het nie die Gees van die gekruisigde Christus nie.
Maar ons, ons mag dit ook nie uit die oog verloor nie.
Ons wat preek, ons wat praat,
soos ons dit ook moet doen.
Ons wat getuig, tydig en ontydig,
soos die Skrif ook elders sê …
en dan moedeloos wil raak.
Ons moet self net in ag neem:
Ons het hier met ‘n ander dimensie te doen.
Ons het met God se Gees te doen
en Hy werk op ‘n ander manier
en Hy dra ‘n ander soort wysheid,
heeltemal anders.
Ons kan probeer verduidelik en beredeneer.
Ons kan al die gereedskap van die menslike logika gebruik,
maar hierdie wysheid … dit sal slegs grondvat,
dit sal slegs begryp word,
daar waar die Gees van God reeds ontvang is.
Amen.
Leave a Reply