Boekbespreking: “Logic : A God-Centered Approach to the Foundation of Western Thought”

CHRISTENE EN LOGIKA

Logic

deur Bouwe van der Eems

Onder Christene is daar ‘n toenemende ongemak oor argumentasie, en in besonder logiese argumentasie. Daar word gevoel dat die kerk ‘n plek van vrede behoort te wees, en omdat argumentasie kan lei tot onvrede, behoort argumentasie vermy te word. As daar verskillende opinies is oor ‘n saak moet daar nie geargumenteer word nie. Almal moet maar stilbly totdat die tyd “ryp” is en almal eenstemmig is oor die saak. Selfs  vooraanstaande gereformeerde teoloë is skepties oor die gebruik van logiese argumentasie.

Logika word gereeld gebruik in die wêreld. Veral in die hof, in besonder tydens kruisverhoor, speel die soek van logiese teenstrydighede ‘n baie prominente rol om die betroubaarheid van getuienis te beoordeel. Moderne teoloë maak ook grotendeels gebruik van die uitwys van oënskynlike logiese teenstrydighede om die betroubaarheid van die Skrif te bevraagteken.

Is logika menslik en heidens?

Aangesien logika dikwels gebruik word om die betroubaarheid van die Skrif te bevraagteken, is teoloë wat die betroubaarheid van die Skrif probeer verdedig geneig om die logika aan te val. So ‘n standpunt skep egter baie probleme. As dit verkeerd is vir Christene om logies te argumenteer, hoe moet hulle anders argumenteer? Mag Christene slegs getuig met teenstrydighede, paradokse en emosies?

Logika word sterk geassosieer met die klassieke Griekse filosowe, aangesien hierdie filosowe boeke oor logika geskryf het waarin die reëls van logika uiteengesit is. As gevolg van hierdie assosiasie meen sommige dat die reëls van logika uitgewerk is deur hierdie Griekse filosowe. Hierdie assosiasie is waarskynlik onderliggend  aan die terme van “menslike logika” en “heidense logika”. Die aanname dat logika ‘n uitvindsel is van die Griekse filosowe het verskeie problematiese implikasies. As Griekse filosowe logika uitgedink het, hoe kon mense wat voor hulle geleef het, of enigiemand wat nog nie daardie boeke gelees het nie, dan logies argumenteer?

Christene wat logika verwerp sit dus met ‘n dilemma. Aan die een kant behoort hulle nie logika in hulle argumentasie te gebruik nie, aangesien dit iets verkeerd en heidens is. Aan die ander kant is dit egter onmoontlik om te argumenteer sonder die gebruik van logika. Sonder logika moet Christene onder mekaar slegs vriendelik wees, gevoelens met mekaar deel, maar nooit enige wesenlike sake bespreek nie.

Christelike logika

Christene wat ‘n uitkoms soek uit hierdie dilemma word aanbeveel om die boek “Logic : A God-Centered Approach to the Foundation of Western Thought” deur Vern Sheridan Poythress te lees. Die boek gee ‘n kort oorsig van deduktiewe logika en induktiewe logika (wat in die wetenskap gebruik word). Dan hanteer dit die vraag oor die verhouding tussen God en logika. Daar word aangetoon dat logiese konsekwentheid ‘n eienskap van God is en deel is van die beeld van God waarvolgens die mens geskep is. Ons sien logika in die woorde wat deur God en mense gebruik word. Die gebruik van logika is iets wat ons slegs by mense vind en nie by ander skepsels soos diere nie. Dieselfde logika word gebruik deur alle mense van alle tale. Chinese gebruik nie ander logika as Grieke nie. Logika bly dieselfde deur alle tye. Alhoewel ons verskillende woorde gebruik, gebruik ons dieselfde logika as duisende jare gelede.

Logika is ook konsekwent met die leer van die skepping. Aangesien logika altyd daar was en altyd dieselfde was, is dit nie iets wat oor lang periodes ontwikkel het nie. Aangesien slegs die mense geskep is volgens die beeld van God, maak dit sin dat slegs die mens gebruik maak van logika. Ons vind nêrens in die skepping primitiewe wesens wat gedeeltelik van logika gebruik maak nie. Nêrens is daar tekens van ‘n evolusie van logika nie.

Behalwe om die verband tussen God en logika uitvoerig uiteen te sit, gee die boek ook ‘n oorsig van die verskillende afdelings in logika. Eerstens die tradisionele sillogismes wat deur Aristoteles beskryf word. Verder word ‘n oorsig gegee van versamelingsleer en Venn diagramme, en dan word aangetoon dat reëls vir sillogismes en Venn diagramme op dieselfde neerkom. Daar word uitvoerig ingegaan op die simboliese logika wat in die 20ste eeu ontwikkel is. Daar is verdere afdelings oor die algebra van Boole (wat in rekenaars gebruik word) en ‘n verskeidenheid notasies wat deur moderne logici ontwikkel is, en deurgaans word ook hierdie moderne logika in verband gebring met God. Daar is ook hoofstukke oor die verband tussen logika en wiskunde en rekenaarwetenskap.

Hierdie boek kan aanbeveel word vir diegene wat meer wil weet van logika, die verband tussen God en logika en wat graag meer wil weet oor ‘n groot hoeveelheid aspekte van logika. Die boek kan in elektroniese formaat gekoop word Amazon. Kliek hier vir meer besonderhede.

_______________________

Bouwe van der Eems kan gekontak word by: bouwe.vandereems@gmail.com

Nota: sien ook hierdie artikel oor Logika, Logic and Scripture

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: