Inhoudsopgawe
1. Inleidend
2. Belangrikste besluite
3. My indrukke
4. Slotwoorde
1. Inleidend
Die algemene sinode van die GKSA in 2015 het plaasgevind in Potchefstroom, vanaf 6 tot 14 Januarie 2015.
Die Agenda wat behandel is, is hier beskikbaar:
Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika – Sinode 2015
Die amptelike Handelinge van Sinode 2015 sal in die loop van die res van die jaar verskyn.
Ek het vanaf Woensdag 7 Januarie, verslag gelewer oor die sinode. U kan dit hier gaan lees:
GKSA algemene sinode 2015 – verslaggewing
My indrukke oor die verskillende besluite wat geneem is, het ek reeds in my verslaggewing deurgegee, u kan dit daar gaan lees. Wat hier volg is ‘n samevatting van ‘n paar van die belangrikste besluite en my indrukke oor die eerste twee besluite.
Soos tydens my verslaggewing gestel, moet ek dit weer hier herhaal:
As u van plan is om enige besluite op te volg op watter wyse ookal, amptelik of nie-amptelik, langs die kerklike weg of persoonlike gesprek, is dit u verantwoordelikheid en taak om die presiese besluit oor die saak by die betrokke afgevaardiges of gemeentes/lidmate betrokke te kry. As nie-afgevaardige het ek nie altyd toegang tot alle dokumentasie en finale bewoording gehad nie, en daarom is u welkom om my weergawes te toets aan ander afgevaardiges se weergawes.
2. Belangrikste besluite
Belangrikste besluite (as u op die skakel druk neem dit u na die dag waarop die besluit geneem is, sodat u daar kan gaan lees die dokumente wat op die tafel was, die bespreking en die finale besluit daaroor):
2.1 Ekumeniese verhoudinge/bande is gesluit met die NG Kerk
Omdat dit so belangrike saak is, plaas ek ds. Cassie Aucamp se skrywe daaroor hier (ongelukkig kon ek nie hierdie oggend by die sinode wees nie, en kon dus nie verslag gee oor die bespreking van hierdie saak nie):
GEREFORMEERDE KERKE AANVAAR MEMORANDUM
VAN EKUMENIESE VERHOUDING MET NG KERK
“Nadat ‘n voorgestelde Memorandum van Ooreenkoms met die NG Kerk deur die GKSA se Sinode van 2012 afgekeur is, is die saak weer na Deputate verwys om die bilaterale gesprekke met die afgeaardigdes van die NG Kerk te voer en by hierdie Sinode daaroor te rapporteer.
Die voorgestelde Memorandum van Ekumeniese Verhoudinge het vanoggend op die Sinode gedien en is met ‘n oorweldigende meerderheid goedgekeur.
Die Memorandum erken die eenheid tussen die Kerke op grond van die gemeenskaplike Belydenis van die twee Kerke.
Terreine van samewerking wat reeds tussen die twee kerkverbande plaasvind word in die memorandum aangestip, onder andere:
- Gesamentlike getuienis teenoor owerheid en gemeenskap;
- Samewerking met Buitelandse Bediening;
- Gesamentlike deelname aan Bybelvertaling, hervertaling van Belydenisskrifte;
- Gesamentlike betrokkenheid by Onderwyskwessies;
- Gesamentlike studie oor etiese kwessies;
- Samewerking in die Tussen Kerklike Raad en die Gereformeerde Konvent;
- Samewerking op die gebied van Barmhartigheisdwerk.
Die Memorandum stel dit ook duidelik dat die konkretisering van eenheid nie tot bogenoemde samewerking beperk word nie,. Indien plaaslike kerke die geleentheid sien om met mekaar saam te leef kan, onderhewig aan die besluit van die plaaslike kerk, die volgende sake plaasvind, welke sake reeds deur vorige sinodes besluit is:
- Aanvaarding van mekaar se lidmate op grond van goeie getuienis van Kerkrade;
- Belydende lidmate kan hul kinders onderling ten doop bring volgens die gebruik van en onderhewig aan die goedkeuring van die plaaslike kerk;
- Volle tafelgemeenskap vir belydende lidmate op grond van goeie getuienis oor leer en lewe;
- Toegang tot mekaar se kansels deur leraars met bedieningsbevoegdheid onder toesig van die Kerkraad;
- Gesamentlike eredienste vind plaas soos en wanneer Kerkrade dit nodig ag.
Die goedkeuring van die Memorandum is met groot dankbaarheid deur Dr Kobus Gerber van die NG Kerk ontvang.”
2.2 Die sinode besluit dat VIDA (vrou in die besondere ampte/dienste) ‘n wesentlike saak is wat ‘n spesiale sinode regverdig om al die beswaarskrifte daaroor te hanteer (dag 3 was oor die noodsaak van ‘n spesiale sinode, en dag 4 oor die besinning en besluitneming dat VIDA wel ‘n wesentlike saak is)
Hier is my bewoording toe die besluit geneem is:
17h05: met oorweldigende meerderheid word besluit VIDA is ‘n wesentlike saak wat verdere aandag nodig het.
17h10: met oorweldigende meerderheid word daar gestem dat ‘n spesiale sinode gehou gaan word om al die VIDA beswaarskrifte te hanteer. ‘n Kommissie gaan aangewys word om die sinode oor die hoe en wanneer van die SS te adviseer.
(slc: dit het ek verwag die besluit gaan wees die oomblik toe ek die Agenda gelees en gehoor het van die idee van ‘n spesiale sinode)
Ds. Hennie van Wyk se verslaggewing oor die saak:
“Ons het vandag ‘n baie lang debat gevoer oor die Wesenlike sake.
2.5 Ramings goedgekeur vir 2015: R609-00 per jaar per belydende lidmaat (in 2014 was dit: R558-00)
Die Skrifberyming en 32 van die voorgestelde Skrifgetroue liedere is goedgekeur en word nou aan die vryheid van die plaaslike kerke oorgelaat vir gebruik in die erediens.
Daar is ook besluit dat voorleggings van liedere vir beoordeling deur die Deputate moet geskied met motivering aan die hand van die ooreengekome beginselriglyne.
Daar is groot dank uitgespreek vir die werk van die Deputate.”
Lied(boek) 353 is egter verwerp deur ‘n beswaarskrif wat gedien het, lees daaroor by,
a. Lied 353 en,
b. Lied 353
2.7 Appélsake wat slaag en nie slaag nie
Ds. FM Dreyer en Hennie Momberg se appélle het nie geslaag nie, maar wel br. JH Kruger en sr. M Kruger se appél oor die GK Linden (dat hul bedieningspraktyke/model nie ooreenstem met die gereformeerde bedieningspraktyke soos ooreengekom volgens die KO nie, en beide klassis Groter JHB en streeksinode Randvaal nie die Krugers gelyk wou gee nie).
Vir meer inligting oor hierdie appélle, kan u die appéllante self te kontak, en/of die rapporteurs van die appélsake: ds. Peet Coetzee (GK Potchefstroom) en dr. Rudolph van der Merwe (GK Parys). Ekself is ook nog nie seker wat die implikasies is van die appél wat wel geslaag het nie.
3. My indrukke -VIDA en NGK
Daar was vir my goeie besluite en besluite om oor besorgd te wees tydens die sinode. Ek is dankbaar vir o.a. die volgende besluite:
– VIDA is ‘n wesentlike saak (alhoewel ek verskil met die spesiale sinode oplossing).
– Die appél wat geslaag het oor GK Linden (dit bevestig GK Carletonville se saak wat ons vir ‘n paar jaar gevoer het by klassis Wesrand en streeksinode Randvaal via ‘n beskrywingspunt – dat GK Linden nie saam met ons die Openlike Verklaring kan aflê en dus saam kan vergader op meerdere vergaderings, totdat hulle teruggekeer het na wat ons glo en bely volgens die Skrif, belydenis en kerkorde nie).
– Lied 353 wat afgekeur is weens die arminiaanse dwalinge daarin (dit openbaar dat daar nog erns is vir die ware gereformeerde leer, ongeag dat ekself dit betreur dat in 2012 reeds afstand gedoen is van ons ryke bybelse tradisie om alleen ‘n Skrifsingende [en vir sommige van ons, Psalmsingende] kerkverband te wil wees. Hier is my besinning oor die kerklied, na aanleiding van ‘n studie oor Totius se standpunt daaroor: Die kerklied. Sien ook die artikel van prof. V.E. d’Assonville, onder die opskrif wat ek bygevoeg het: Die Stryd om die suiwer Psalmboek – Stellenbosch 1812 – Rustenburg 1859 – Potch 2003).
My grootste besorgdheid gaan egter veral oor die besluit oor eenheidsbande met die NGK, en hoe dit eintlik die besluit oor VIDA as ‘n wesentlike saak ongelukkig weerspreek of selfs bevraagteken (soos vele afgevaardiges reeds genoem het, asook ander lidmate wat verward is oor hierdie saak).
Op 24 September 2014 het ek by die GK Bet-el se Sola Scriptura konferensie, die volgende lesing aangebied waarin ek my besorgdheid uitgespreek het, spesifiek oor wat vir my toe gelyk het na ‘n paradigma verskuiwing in die GKSA oor VIDA, nl. dat al meer regsinniges ook begin dink het VIDA is ‘n nie-wesentlike saak, dus nie ‘n kernsaak nie:
Is manlike ouderlingskap ‘n kernsaak ?
Ek het toe die saak soos volg gestel:
“So wat het plaasgevind die afgelope dekade ?
Daar is beweeg van twee groepe wat sterk teen mekaar gestaan het oor hierdie saak, na waarskynlik, dieselfde twee groepe wat nou in 2 nuwe verskillende groepe
ontwikkel:
Die een groep sê, en hul is dalk ‘n groterwordende … minderheid:
– geen VIDA en dit is en bly ‘n kernsaak wat beteken ons kerke moet saamstem daaroor, daar kan geen vryheidsbesluit daaroor wees nie, teenoor
– voorstaanders van beide vir en teen VIDA wat sê – ons respekteer mekaar se verskille, maar ons stem saam dat dit ‘n middelmatige saak is, en op een of ander manier moet ons nou hierdie verskil maak werk in een kerkverband, ons moet met ‘groot verantwoordelikheid (dit) bestuur’ … ander sou dalk meer eerlik wees en sê: “ … ons kan dit nie bekostig dat hierdie 2 standpunte mekaar weerspreek nie …. daarom moet ons mekaar akkomodeer …”
En die vrug daarvan het ons gesien met die hele Ordevoorstel en Omkeerstrategie plan wat op sinode 2012 se tafel beland het, op D-dag sinode 2012.”
Met sinode 2015 se oorweldigende besluit dat VIDA wel ‘n wesentlike saak is, is ek dus verkeerd bewys, en daarvoor dank ek die Here. Met daardie besluit het GK Bet-el, GK Carletonville en GK Meintjeskop se beswaarskrif wat as ‘onontvanklik’ verklaar is, dus eintlik ‘geslaag’ wat sy doel betref. Al die lof aan die Here, dat sy Woord nog spreek en sy diensknegte luister.
In die oploop tot die sinode, was my preek aan die einde van die jaar uit Romeine 9:1-8, en daardie woord, spesifiek v.1-5, het my opnuut aangespreek vir ons tye, ook in ons kerkverband worstelinge om die sinodesake. Ongeag al die vervolging en swaarkry wat Paulus beleef het van sy ‘eie mense’, het hy nog ‘n groot liefde en passie vir hulle gehad, sodat hulle Christus mag ken en Hom as gekruisigde ! (1 Kor.2:1,2), sonder om enigsins enige van hul dwalinge goed te praat.
Hoeveel te meer moet ons liefde wees teenoor mede-lidmate, ook in ons kerkverband, selfs al verskil ons baie sterk oor sekere sake, wat selfs kan lei tot skeiding van paaie, as die Here dit nie keer nie.
Hier is my preek (die tema en inhoud van my preek was nie oor hierdie saak spesifiek of oor die sinode nie, maar ek raak wel die liefde vir die broederskap aan, omdat dit my so aangespreek het):
Dit alles gesê, is daar natuurlik groot besorgdheid, en heelwat vrae, oor die besluit oor die memorandum van ooreenkoms met die NGK.
Hoe kan die sinode met een hand (heeltemal reg) besluit VIDA is ‘n wesentlike saak, maar met die ander hand besluit om basies eenheidsbande te sluit met die NGK wat gebuk gaan onder verskeie dwalinge wat geakkomodeer word, asook dat hulle VIDA sien as ‘n nie-wesentlike saak ? … en altwee besluite is nog met ‘oorweldigende meerderheid’ geneem … wat het gebeur ?
Plaas die sinode nie met daardie besluit ‘n groot vraagteken (saam met 2012 se oorgaan na ‘n Gesangsingende kerkverband) oor die herstigting en huidige voortbestaan van die Gereformeerde Kerke in ons land nie ?
Sien hierdie artikel van my oor die liedsaak: Die Psalms en 1859,
asook hierdie besinning oor die algemeen wat gereformeerdheid behels:
Quo vadis, Gereformeerde Afrikaner?
Let wel, dit gaan nou nie oor individuele gelowiges en gemeentes in die NGK met wie ons ‘n kosbare band reeds in Christus het nie, nee, dit gaan oor die leer, diens en tug in die NGK oor die algemeen, en veral hul leierskap se teologie en lewensbeskouing. Wat word geleer en in watter rigting beweeg daardie kerkverband in terme van die Skrif ?
En belangrik – vir beide die GKSA en NGK – funksioneer die derde kenmerk van ware kerkwees nog in ons kerkverbande, word daar nog waarlik gewaak oor leer, diens en tug/kerkorde ?
(Die GKSA het nou bande met die volgende kerkverbande wat pro-VIDA is: CRCNA, NedGK, RCJ en die NG Kerk.)
In die NGK is die debat om homoseksualisme te regverdig ook reeds aan die gang, ‘n noodwendige gevolgwvan VIDA wat selfs regsinnige NGers nog ongelukkig probeer ontken, maar die band is duidelik. Hier is ook my artikel oor die sondige band:
“Onderliggend aan die homoseksuele agenda en die VIDA agenda (VIDA = vrou-in-die-amp) is die doelbewuste/ondoelbewuste (kundige en/of onkundige) verwerping van God se skeppingsordening soos geopenbaar in Gen.1 en 2 (waarvan die implikasie is dat God as Skepper verwerp word, en sy waarheid/woord verruil word vir die skepsel en die leuen, Rom.1:18 ev).”
“As VIDA apologete die ampte kwessie losmaak van Gen 1 en 2 (die skeppingsordening), d.w.s. dit bepaal nie meer ons kerkregering nie; dan is daar geen rede waarom die homo-apologete ook die huwelik, gesin en die res van die lewe kan losmaak van Gen 1-2, die skeppingsordening nie. Dit is wat Paulus ons op wys wat gebeur as die Skepper en sy skeppingsorde losgelaat word, Rom.1:18-32.
As die GKSA God se duidelike bevel dat die vrou nie oor die man mag regeer of leer nie, verwerp, wat verhoed die GKSA om later nie ook die duidelike bevel – dat ‘n man nie by ‘n man mag lê soos by ‘n vrou nie (Lev.18:22; Rom.1:27; 1 Kor.6:10; 1 Tim.1:10) – ook gaan verwerp ?”
Sien ook die volgende dokumentasie oor die ernstige leerstellige dwalinge wat dreig en toeneem in die NGK, wat die wese van ons geloof raak, soos verwoord in die Apostoliese Geloofsbelydenis, en ons gereformeerde Skrifbeskouing soos verwoord in NGB art.2-7:
(Sien meer artikels hier.)
Kan die GKSA werklik in alle eerlikheid dit daarom soos volg stel:
“Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) en die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) erken mekaar as Gereformeerde Kerke. Ons doen dit op grond van die feit dat die leer in ons kerke volgens die Woord van God soos opgeteken in die Heilige Skrif is en tot uitdrukking kom in ons gemeenskaplike belydenisgrondslag. Daar bestaan dus ’n diep geloofseenheid tussen ons twee kerkverbande.”
In ‘n opvolgende preek uit 1 Kronieke 21, spesifiek vers 13, die eerste Sondag van hierdie jaar, het ek wel opnuut geleer dat alles wat gebeur, goeie én slegte besluite, is in die hand van ons Here, en Hy werk alles ten goede vir sy kerk, sy kinders. Dit regverdig glad nie die slegte besluite nie, want ons moet leef en reformeer vanuit wat geopenbaar is (deur sy Woord en Gees), en nie die verborge raadswil van die Here nie (Deut.29:29). Dit bemoedig wel die gelowige dat Christus sy kerk sal bou, bewaar en onderhou, ongeag slim menseplanne.
U kan dit hier luister:
Ons as gemeente het gebid dat ons as gemeente, maar ook ons hele kerkverband nie in hande van mense sal val nie (nie ons eie hande of ander mense se hande deur verkeerde besluite nie), maar eerder in die hand van die Here.
En nou het ons hierdie besluite, die een wat hopelik nog tot verdere deurgaande reformasie sal lei, dat VIDA (en die onderliggende gereformeerde Skrifbeskouing en hermeneutiek wat daarmee saamgaan) gehandhaaf sal word as wesentlik ook by die opkomende spesiale sinode in Julie 2015, DV. Met hierdie besluit – VIDA is wesentlik vir ons kerkwees – kan mens nie sien dat enige beswaarskrif ten gunste van VIDA ooit kan slaag nie, want sou dit die geval wees, dan was die huidige besluit oëverblindery, of hoe ?
Mens wonder ook wat sou gebeur het as die NGK memorandum ooreenkoms saak eers besluit is na besluit is dat VIDA ‘n wesentlike saak is ? Hoekom is die NGK saak so vinnig deurgedruk ? Ek het met ‘n paar afgevaardiges gesels, en dit klink ongelukkig asof hul nie mooi besef het waarvoor hul presies stem en wat alles op die spel is nie. Maar die Here weet.
4. Slotwoorde
Mag die Here vir ons elkeen nou wysheid en krag gee vir die pad vorentoe, as gesinne in ons gemeentes, ook in ons voorbidding vir ons kerkverband en dat die VIDA besluit sal lei tot verdere diepgaande reformasie, ook met wie ons eenheidsbande soek as kerkverband. Laat ons elkeen afsonderlik, maar ook almal saam vashou en gewaarsku wees deur die Woord van God wat tot ons spreek uit Jak.4,
1 Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie?
2 Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie.
3 Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.
4 Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.
5 Of meen julle dat die Skrif tevergeefs sê: Met jaloersheid begeer die Gees wat in ons woon?
6 Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.
7 Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.
8 Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!
9 Weeklaag, treur en ween. Laat julle gelag in treurigheid verander word en julle blydskap in bedruktheid.
10 Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.
Hier is ook my preek oor Ps.126, spesifiek vers 3, tydens die sinodesitting.
Mag die Woord ons bemoedig dat ons sal besef hoeveel goeie dinge die Here vir ons doen, dat ons dankbaar moet wees midde die goeie stryd, ook daar waar dinge nie altyd gaan soos ons dit graag wil hê volgens sy Woord nie.
Laat ons aanhou die goeie stryd stry op elke vlak, via die kerklike weg en al die ander weë, wat baiemaal gepaardgaan met om “met trane te saai” sodat ons op die regte tyd weer met “gejubel kan maai”, en laastens, laat ons nooit vergeet dat ons blydskap, reformasie en kerkwees eers volkome gaan wees met die wederkoms van ons Here Jesus Christus nie, wat ‘n wonderlike voortuitsig is:
“13 Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon. 14 Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede.” – 2 Petrus 3
“Die HERE het groot dinge aan ons gedoen: ons was bly!” – Psalm 126:3.
More Slabbert, dankie vir jou geseënde werk wat jy met ons deel.
Die lees van die inhoud laat mens op sommige besluite voel daar is ‘n beklemming om jou hart.
Ek wil by jou uitvind of jy nie dink of dit van waarde sal wees as jou verslag melding sal maak van die “Reformed Churches of NZ ( RCNZ) nie? Indien wel, om dit daarby intesluit asb.
Mooi dag vir julle
CB
Sent from my iPhone
>
Hallo CB, dankie vir jou opmerkings.
Ek probeer in my verslag net die besluite vermeld, nie elke saak wat gebeur het nie. Daar was nie enige besluit oor RCNZ nie. Ek het wel in die daaglikse verslae na RCNZ se getuienis verwys.
Goed gaan daar
Slabbert
Ek kan ook nie sien hoe VIDA (vrou as ouderling) in die oordeel van die ouderlinge (gemeentes) gelaat kan word as dit wesenlik is nie. Maar ‘n besluit wat my baie ontstel is die verhoogde ramings. Dit is na my oordeel ‘n finansiele selfmoordpad. Die ramings moes m.i. met 90 % verminder word, en die admin buro moes feitlik ontbind geword het. Nou is die ramings opgestoot. Ek kan dit skaars glo! En R13 miljoen agterstallig! (R26 miljoen oor drie jaar?)
Slabbert, kan jy dalk vir my se^ watter Gereformeerde kerkgemeenskappe nie die vrou in die besondere diens toelaat nie?
Neels, daar is baie reg oor die wêreld wat ek nie almal hier kan lys nie. Hier is wel die kerke waarmee ons saam in die ICRC is, wat sterk teen VIDA is:
http://www.icrconline.com/about-members.html
Wat die kerke betref met wie ons volle ekumeniese eenheid het, kan jy na die volgende lys kyk:
http://gksa1.businesscatalyst.com/Oor%20die%20GKSA/gksa-bande
Almal laat nie VIDA toe nie (ek is nie so seker van al die kleiner kerkverbande nie), behalwe die volgende,
CRCNA
Nedl GK
RCJ
Dus, 3 uit ‘n moontlike 18 kerkverbande wat ons ekumeniese eenheid het, laat VIDA toe.