Ek voel niks meer nie … Huisgenoot liefde hou nie !

HUISGENOOT LIEFDE HOU NIE!

 – want ware liefde gaan oor harde werk en nie gevoelens nie –

(Ek plaas met erkenining ds. Johannes de Koning se artikel volledig hier op my blog, omdat dit so ‘n geweldige belangrike onderwerp aanspreek van ons tyd. Mag elke getroude paartjie dit biddend lees, elke jongmens wat nog gaan trou, asook baie mense, ongelukkig ook baie gelowiges, wat hul ‘huweliksberading’ of ‘huweliksverbrokkeling’ van al die sosiale media en TV ‘romanse’ kry.  Mag die dag weer aanbreek dat ons biddend en verootmoedigend vra: hoe word die Here ge-eer in my huwelik en gesinlewe, wat leer Sy Woord my oor ware liefde, en nie die sosiale media, glans tydskrifte, hollywood films en soapies najaag wat my mislei om te glo alles gaan oor MY behoeftes, en MY welluste en MY eer.  Mag ons hemelse Vader ons genadig wees en hartgrondige bekering skenk oor al ons ontrou – Klaagl.5:19-21 … sodat vers 22 nie waar sal word … vir ewig nie!)

Johannes skrywe vir ons:

Die soveelste glanspaartjie gaan weer skei, lig die media ons in. Dis eintlik lagwekkend as dit nie so tragies was nie. Dit volg nou ‘n al te bekende patroon. Hierdie “celebrity” aandagvrate adverteer hulle liefde graag op die voorblad van die HUISGENOOT of dergelike skindermedia en geniet elke greintjie publisiteit (met die gewone paar druppels Christelike sousie daarby), maar as dinge nie lank daarna nie skeefloop, vra hulle ewe formeel en ernstig dat hulle privaatheid gerespekteer word.

Nou hoe dan nou?

Hierdie hartseer dilemma van huwelike wat sommer net links en regs gesluit en ontbind word is te wyte aan die skokkende onkunde oor wat LIEFDE beteken. Die media fokus op die “glamour” en gevoelsaspekte van die liefde. En dis ongelukkig waar mense (en veral ons glansganse) hul idees van liefde kry. En ja, natuurlik soos die gevoelens kom en gaan, waai die kastige “liefde” by die deur uit en kry die huweliksmaats die trekpas.

Die Woord van God skets vir ons ‘n heel ander prentjie oor die LIEFDE :

Liefde is nie bloot ‘n gevoel nie, liefde is om dinge anders te doen!

Die mens wil net leef soos hy voel en nie meer soos wat God beveel nie! Dis die kern van die probleem.

Gaan lees maar weer die tydlose en weergalose beskrywng van liefde in (kliek op) 1 Korintiërs 13. Werk dit gerus deeglik deur…

As jy haastig is, onthou maar net hierdie twee dinge:

~ Die liefde blom juis in slegte omstandighede. As daar moeilikheid is. Let mooi op, al hierdie praktiese fasette van liefde soos beskryf in 1 Korintiërs 13 veronderstel ’n negatiewe situasie. Wanneer moet die liefde ’n besluit neem om geduldig te wees? Juis wanneer ’n situasie ontstaan wat my normaalweg ongeduldig sou maak. Wanneer is dit juis nodig om te kies vir vriendelikheid? Juis in ‘n opset waar die ander persoon nie vriendelik met my is nie. Wanneer moet ek ‘n besluit neem om nie boek te hou van die kwaad nie? Juis wanneer die ander een wel aan my kwaad gedoen het, neem ek in gehoorsaamheid aan God ‘n besluit om dit nie weer op te haal en my maat daarmee te gooi nie… So kan mens aangaan…

~ Is dit realisties moontlik om liefde te “doen” en bo my gevoelens uit te styg? Ja, net as die Heilige Gees in jou woon. Menslike krag en selfdissipline is nie genoeg om waarlik te kan liefhê in alle omstandighede nie. Hierdie liefde is ’n vrug van die Heilige Gees. Dit behels selfbeheersing en selfbeheersing is ook ‘n vrug van die Gees. ’n Mens ontvang eers die Heilige Gees as jy wedergebore is, as jy ’n kind van God geword het. Die opdrag tot liefde is ‘n eksklusiewe opdrag aan God se kinders.

Dis net die kind van God wat liefde verstaan en liefde kan uitleef. Die Heilige Gees in jou maak dit moontlik! En ja, as ons gefaal het en aan die Heilige Gees ongehoorsaam geword het, kan ons ons sonde van liefdeloosheid bely en weer opstaan en aangaan om liefde te bewys… Ons hoef nie te skei nie!

Is gevoelens en emosies dan nou heeltemal onbelangrik of oorbodig? Nee, natuurlik is dit belangrik. Maar as daar nie gevoelens is nie, beteken dit nie die liefde is nou onmoontlik of finaal weg nie.Begin met daadliefde, begin dinge anders doen in gehoorsaamheid aan die Woord en die Gees en positiewe gevoelens sal ook metttertyd terugkeer.Kom ons stel dit baie positief – jy hoef nie eers te wag vir gevoelens om te kan liefhê nie. Jy kan nou begin met die praktiese liefde en die gevoelens sal na hulleself omsien…

STERKTE MET DIE LIEFDE, DIS HARDE WERK!

Nota bygevoeg: begin gerus hier te lees oor die huwelik en gesin volgens die Heilige Skrif, asook hier oor die Christus van die huwelik en die gesin, en onthou die woorde van die apostel Johannes (1 Joh.2:15-17):

Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: