Maar JULLE, wie se JULLE is Ek ? – Jesus Christus

“Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.” (Jes.66:2)

Dit is niks nuuts nie, deur al die eeue word Jesus Christus bevraagteken, hetsy dat Hy bestaan het, of dat Hy bloot net ‘n goeie mens was, dat Hy nooit werklik in die vlees gekom het nie, ens.

Die nuutste aanvalle in ons land is natuurlik die Nuwe Hervorming (bv. Spangenberg), en, wat ek die ‘Halwe Hervorming’ noem (bv. Julian Muller), wat Jesus Christus op een of ander wyse bevraagteken.  Eersgenoemde bevraagteken veral sy Godheid, en laasgenoemde sy liggaamlike opstanding.

Dan is daar natuurlik die ateïstiese humaniste en evolusioniste wat almeer toeneem in ons land, wat God se bestaan op sig self bevraagteken.  En, soos iemand al gesê het: as dit reën in die wêreld, dan drup dit in die kerk.

Soos genoem, is hierdie dinge niks nuuts nie, sien bv. 2 Tim.3:1-9, van baie ‘geleerdes’ wat die “gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het”, en “wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie.” (v.5-7)

So ook 2 Tim.4:3,4:

“… want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”

Wat moet die regverdige doen ?

Nou, wat moet die regverdige doen, wanneer beide (liberale) teoloog en predikant, wanneer teologiese skole en universiteite deur ongeloofswetenskap in beide teologie (Het God werklik gesê?) en natuurwetenskap (evolusie leuen) besig is om die fondamente om te gooi (Ps.11:3), en te roem in twyfel, fabels en ‘wetenskapsfiksie’ ?

Die Here deur Paulus wys ons daarop in 2 Tim.3:10-4:2,

Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,  sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.  Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk:  verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering.”

Petrus skryf ook deur die Heilige Gees (2 Petrus 1:15-21):

“En ek sal my beywer, dat julle ook gedurig ná my heengaan hierdie dinge in gedagtenis kan hou.  Want ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit;  want Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe hierdie stem uit die luisterryke heerlikheid tot Hom gekom het: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.  En hierdie stem het ons uit die hemel hoor kom toe ons saam met Hom op die heilige berg was.  En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte;  terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie;  want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.”

Die antwoord: Christus alleen, sy Woord alleen !

Ja, neem kennis van die dwalinge, leer van mede-gelowiges en betroubare teoloë van al die nuutste dwalinge (sien bv. The Ehrman Project), maar bo-alles, wees besig met Jesus Christus, met sy Woord deur gebed en leiding van die Heilige Gees.

– Hou persoonlike stiltetyd.

– Hou weer saam as gesin huisgodsdiens en sing Psalms saam.

(kyk elders op my blog onder ‘bybelstudie’ vir meer hulp in die verband)

– As u nie reeds by ‘n gemeente is waar Christus en Hom as Gekruisgde (1 Kor.2:2) verkondig word nie, soek so ‘n gemeente op, en woon die erediens getrou by (Luk.4:16; Hebr.10:25 – lees weer NGB artikel 27-32 om u daarin te help).

– Kom as gesinne saam om Bybelstudie te hou en te kuier en om die tye waarin ons lewe te beoordeel volgens sy Woord.  Bid saam as gesinne en families.

– Naas die Bybel, bestudeer weer die gereformeerde belydenisskrifte, dit is die beste studiemateriaal.

– Ondersoek opnuut of u as ouers getrou is aan die doopsbelofte, en of die skool waarheen u u kinders stuur u help om u kinders te onderrig volgens die gereformeerde leer.

– Lees ook goeie Christelike boeke (Augustine Bookroom), begin met Calvyn se Institusies, die een volume uitgawe wat weer by Admin Buro (018 297 3986) beskikbaar is.

Om te help met hierdie reformasie, terug na Christus alleen, stel ek verdere twee hulpmiddels hier beskikbaar (ook beskikbaar by www.enigstetroos.org):

Wat dink u van die Christus ?

Geskryf deur prof. Paul de Bruyn.  Druk die pamflet uit, bestudeer dit weer saam om opnuut te weet wie die Christus is, met ‘n oop Bybel langs u (Hand.17:11).

Ongeag al die dwalinge, al die aanslae teen Christus en sy gemeentes (Ps.2), sal die vraag nie weggaan nie:

Maar JULLE, wie sê JULLE is Ek ?” (Matt.16:15)

Prof. Paul se inleiding op sy pamflet:

“Wat dink u van die Christus?

Dit is ‘n baie belangrike vraag. Beter gestel: dit is die mees beslissende vraag in die lewe van enige mens, en dus ook in u lewe.

Dit is die vraag waardeur u gestel word op die punt waar u lewenspad vurk, waar twee weë uitmekaar gaan. Een van die twee paaie moet u kies. Watter een van die twee paaie u gaan kies, hang af van u antwoord op die vraag: Wat dink u van die Christus?

Voordat u antwoord gee op die allesbeslissende vraag, wil ek eers kortliks aan u vertel wie hierdie Christus is.”

Hier is die inhoudsopgawe:

WIE IS JESUS CHRISTUS?.

a. Hy is ‘n historiese Persoon.

b. Christus is die Saligmaker.

c. Christus is waaragtige God en waaragtige mens.

(i) Christus is waaragtige, regverdige mens.

(ii) Christus is waaragtige God.

d. Christus se lewe en werk.

(i) Sy geboorte.

(ii) Sy jeug.

(iii) Die begin van sy openbare optrede.

(iv) Sy prediking.

(v) Sy wonderwerke.

(vi) Groeiende haat van die Jode teen Christus.

(vii) Sy lyde.

(viii) Sy dood en opstanding.

(ix) Sy hemelvaart.

Ons Voorspraak en Advokaat.

Hy berei ons plek, en ons vir die plek.

Hy regeer kerk en wêreld.

(x) Sy wederkoms.

WAT DINK U VAN DIE CHRISTUS?

Met ons volk en land wat al meer terugval in pure heidendom en ongeloof, moet ons nie dink dat mense meer die basiese kennis van die Skrif of van Jesus Christus het nie. Gebruik die boekie vir evangelisasie werk onder u familie, vriende en werkskring.

Ons moet ook weer as gesinne en gelowiges die Bybel net sit en deurlees, van hoek tot kant. Sien die volgende leesmetode wat u kan help, alhoewel daar ook baie ander is:

Horner Bible Reading System

Laat ons gebed en versugtinge wees, op watter terrein van die lewe en denke wat die Here ons geroep het om te arbei:

HERE open my oë dat ek kan sien die wonder van U Seun vir ons as sondaars (Ps.110:4), die wonders uit u Woord (Ps.119:18), en die wonders in u skepping (Ps.19), soli Deo gloria (Rom.11:33-36) !

Ten einde is die belangrikste vraag nie of ons al die nuutste dwalinge, klippe en slangkos ken wat die nuutste liberal teoloog of evolusionistiese wetenskaplike ons wil voorhou as ‘ware kennis’ nie, maar of ons Jesus Christus ken, en Hom as Gekruisigde, Hy is die sleutel tot alle wysheid (Kol.3:2,3,8).

“En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe.” (1 Joh.5:20; sien ook Joh.17:3)

En ja, as ons Hom leer ken soos Hy is, die Skepper van hemele en aarde, die enigste Verlosser en Koning, dan kan ons opnuut uitgaan om elke gedagte vir Hom gevange te neem (2 Kor.10:5,6), kan ons waarlik lig en sout in hierdie wêreld wees, sonder kompromie, by die huis, in die gemeente, maar ook in die hofsaal, ook in die laboratorium, ook in die universiteitsklas, weer:

In U lig, sien ons die lig ! (Ps.36:10)

Ja, die regverdige sal (nog steeds) uit die geloof lewe … of hy bid, kerk toe gaan, en ook as hy wetenskap beoefen.

Genade, alles genade – Totius

3 thoughts on “Maar JULLE, wie se JULLE is Ek ? – Jesus Christus

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: