WARE GODSDIENS IS OM ‘N HOORDER, ONTVANGER
EN DADER VAN DIE WOORD TE WEES
Skriflesing: Matteus 7:24-29; Joh.8:32-36; Jakobus 1:13-27
Preekteks: Jakobus 1:19-27
Die preek (asook die res van die Jakobus-reeks) kan hier geluister word:
Jakobus 1:19-27 (gaan na: 2015-04-05)
(Nota: Ek het in die verlede al my preke vanaf, Jak.2:14 tot 5:20, reeds hier op my blog geplaas. Ek is besig om Jak.1:1-2:13 se preke ook hier te plaas.)
Preeknotas (die preeknotas stem nie presies ooreen met die audio preke nie, aangesien die preek gelewer is by beide GK Carletonville en GK Bet-el, waar dit in toepassing kan verskil):
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
Die Vader van ligte,
by wie daar geen verandering of skadu van omkering is nie,
skenk en werk die wedergeboorte in ons deur sy genade in Christus alleen.
DIT alleen is ons hoop en redding teen die sondige begeertes en versoekinge
wat alles lei na die dood en ewige dood.
Ons het dit geleer in v.13-18, en Jakobus beklemtoon in v.16 dat
ons nie oor hierdie waarheid moet dwaal nie.
Ja, ons kan nie onsself red van versoekinge en sondige begeertes nie,
dit is die Vader van ligte, wat ons wel beproef,
maar nooit versoek om te sondig nie,
wat alleen red en kan red van sonde en die dood.
En hoe doen Hy dit ?
Vers 18 het daarop gewys, ‘deur die woord van die waarheid’
Deur die Evangelie van Christus alleen.
En nou gaan Jakobus deur die Gees verder, om te wys,
dat nie net ons redding nie, maar ook ons heiligmaking,
vind plaas deur hierdie selfde ‘woord van die waarheid’,
wat hy in ons teksgedeelte noem,
– v.21, ‘die ingeplante woord’
– v. 25, ‘die volmaakte wet van die vryheid’
Daarom is ons tema vandag, vanuit Jak.1:19-27,
Ware godsdiens is om ‘n hoorder, ontvanger en dader
van die Woord te wees
Ons let op 4 sake:
- Ware godsdiens is om ’n hoorder van die Woord te wees, v.19,20
- Ware godsdiens is om ’n ontvanger van die Woord te wees. v.21
- Ware godsdiens is om ’n dader van die Woord te wees, v.22-25
- Ware godsdiens in die lewenspraktyk, v.26,27
1 Ware godsdiens is om ’n hoorder van die Woord te wees, v.19,20
Die eerste kenmerk van ware godsdiens, waarlik gelowig wees,
is om gou te wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te wees.
Waarna verwys dit, is dit ’n algemene oproep, of het Jakobus iets spesifiek in gedagte ?
Die eerste woorde van vers 19 gee die antwoord: “So dan … “
Dus, op grond van wat julle nou vooraf gehoor en geleer het,
wees gou om te hoor, stadig om toornig te word ….
In vers 13 het ons gelees dat sommiges gesê het … dit is die Here wat
ons versoek, dus die Here laat ons eintlik sondig …
Jakobus kom en sê hier: wees baie stadig oor wat jy van God sê.
Wees gou om eers te hoor wat God sê,
dus wat die ‘woord van die waarheid’ leer,
wat die Skrif self leer.
Moenie te vinnig uitsprake maak oor God se rol in jou swaarkry nie,
moenie te vinnig verkeerde afleidings maak oor jou beproewinge nie,
moenie te gou dink die Here oordeel jou of is nie meer lief vir jou nie,
moenie te gou jou eie skuld van die sonde,
eie begeertes op ander wil afskryf nie.
In wese, word vers 16 op ‘n ander manier herhaal in v.19:
Moenie dwaal nie, wees stadig met jou afleidings !
Natuurlik geld hierdie vers ook vir wysheid oor die algemeen in die lewe,
dat ons gou sal hoor, stadig sal wees om te praat, stadig om toornig te word.
Die hele Spreukeboek is natuurlik vol daarvan, om jou tong in toom te hou:
By veelheid van woorde ontbreek die oortreding nie; maar hy wat sy lippe inhou, handel verstandig. – Spr.10:19
En as mens nie versigtig luister, stadig wees om te praat en oordeel nie,
dan volg toornigheid, ’n woede en bitterheid omdat dinge nie uitwerk
soos ek graag wil nie, midde beproewinge en versoekinge !
As ek nie reg luister na die Woord, spesifiek dat beproewinge vir my ten
goede is, en versoekinge deur my skuld kom as ek sondig nie,
gaan ek baie verbitterd en kwaad raak teen die Here, en die gevolg ?
= Vers 20, my toorn/woede/bitterheid, bewerk nié God se geregtigheid nié,
d.w.s dit is nie in lyn met God se wil vir my lewe nie,
wat reg en goed is vir hoe ek moet optree as sy kind nie.
Ek bereik deur my toorn nie v.4 se doel: ‘n volwasse geloof nie.
Nou, natuurlik, kan hierdie vers ook misbruik word, deur te beteken,
nou sal ek niks praat nie …. niks beoordeel nie …. net stil wees.
Nee, geliefdes, kyk mooi wat daar staan:
stadig … om te praat en stadig om toornig te word = dus met oordeel en kennis.
Ons lees bv. in Ef.4:26 dat ons wel toornig kan word, maar moet dan
nie sondig nie.
Die toorn waarvan Jakobus hier praat, is die sonde van v.14,21.
Daar is ook ’n heilige toorn, wanneer God se eer vertrap word, en soos ons
later in die brief sien, wanneer ons naaste se eer op die spel is.
Dink aan Elia op Karmel, Paulus in Areopagus as hy al die afgode sien.
So geliefdes, die eerste kenmerk van ware godsdiens, kind van God wees,
is dat ek kalm en rustig luister na God se Woord, die woord van die waarheid,
stadig sal wees as ek praat en oordeel,
en nie met my sondige toorn God se wil probeer bewerk nie.
Dit bring ons by die tweede punt.
2 Ware godsdiens is om ’n ontvanger van die Woord te wees, v.21
Die tweede kenmerk van ware godsdiens is om die ingeplante woord te ontvang.
Dit behels om die Woord te verwelkom/aan te gryp/ te soek / honger daarna ! Hierdie ingeplante woord is in staat om ons siele te red.
Met ingeplante woord word gefokus daarop dat dit gewortel moet wees in jou lewe, dit vorm nou deel van die wese van jou lewe deur die wedergeboorte en heiligmaking.
In v.15 hoor ons van die sonde wat in die mens se hart wortel,
deur die wedergoorte word die woord nou in ons harte geplant,
‘n Hartsoorplanting het plaas gevind !
Maar dan gaan dit hier veral, met die woorde ‘om julle siele te red’,
= om jou hele lewe nou te verander, hoe langer hoe meer
Die redding hier wys op die uitwerking van die eenmalige redding, v.17/18.
Julle het die woord van die waarheid ontvang,
nou moet julle hoe langer hoe meer die Woord in julle ontvang.
Nou wat is dan die verskil met die vorige punt ?
Hierdie ontvang wys nou spesifiek op die gesindheid en manier waarop ek
die Woord ontvang.
Punt 1 dat ek die Woord moet hoor, punt 2 hoe.
Daar word twee vereistes gegee om waarlik die ingeplante woord te ontvang,
wat wys dat ek ware godsdiens beoefen:
i Daarom, doen afstand ….
Die vuiligheid en oorvloed van boosheid wys op alles wat in stryd is met
God se geregtigheid, sy wil vir ons lewens.
Afstand = ontklee,uittrek … maak skoon
Ons moet daarmee breek, dit is lewenslange deel van die heiligmaking.
Die woorde ‘oorvloed van boosheid’ sny enige idees van perfeksionisme af in hierdie lewe.
Die gelowige pelgrim gaan in hierdie lewe heeltyd teen die oorblyfsels
van die sonde in hom en om hom moet stry (die werkwoord wys op voortdurende proses)
Onthou deur die redding is ons verlos van die straf en slawerny aan die sonde,
maar nie die teenwoordigheid en oorblyfsels van die sonde nie.
ii Ontvang die Woord met sagmoedigheid ….
Dit wat reeds genoem is daar in v.19, gou om te hoor, gou om te leer,
om onderrig te word, om vermaan te word,
nie toornig te word as ek met die WOORD vermaan word deur my
ouers, ouderlinge, vriende, medegelowiges nie.
Ja, kenmerk van die ware godsdiens, kind van God wees is dat ek bereid is om vermaan te word.
Jes.66:2, Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.
Dit bring ons by die 3de kenmerk,
3 Ware godsdiens is om ’n dader van die Woord te wees, v.22-25
Hier kom Jakobus by die wese van sy brief,
wat ons sal sien die fondament lê vir die res van sy brief.
As ons dan die woord van die waarheid waarlik hoor, ontvang, dan moet dit
na dade, na gehoorsaamheid aan God se Woord oorgaan.
As ons bloot net die Woord hoor, dit net ontvang, maar dit gaan
nie oor in gehoorsaamheid in ons lewens nie, dan bedrieg ons onsself,
en dit verduidelik hy in verse 23-25, deur ’n paar beelde te gebruik.
i Iemand wat nie woord doen nie, kyk in ‘n spieel,
sien sy gesig deeglik, bestudeer dit, sien hoe hy lyk …
maar as hy weggaan, vergeet hy hoe hy gelyk het.
So is iemand wat die woord van die waarheid, die Skrif lees en hoor,
en daaruit leer:
v.14, dit is my eie sondige begeerlikheid wat my laat sondig en lei tot die dood
God red my en verander my lewe deur die wedergeboorte,
my ore verander, en my woorde verander,
ek moet afstand doen van ongeregtigheid …
maar dan gebeur daar niks nie.
Ja, iemand sien hoe vuil sy gesig is, moet gewas word, maar doen niks nie.
So iemand bedrieg homself, want die feit dat hy nie anders begin doen nie,
beteken hy is nog nie wedergebore nie,
het nog nie die woord waarlik ontvang nie.
Daarteenoor, die ware ontvanger en hoorder van die woord is v.25
Hy verdiep hom in God se Woord, bepeins daaroor, Ps.1:2 …maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag.
Die ware hoorder vergeet nie God se Woord nie, dit bepaal sy hele lewe,
en is daarom gelukkig/geseënd in alles wat Hy doen.
Hier beweeg Jakobus nou nader, aan wat hy in hfst.2 in detail gaan aanspreek,
die verhouding tussen geloof en werke.
As ons waarlik hoor dan kan ons nie anders as ook om te doen nie.
Kyk mooi, Jakobus leer nie ons moet net doen nie, of net hoor nie.
Dit is hoor en doen, of nog beter gestel,
omdat ons gehoor het, doen ons [sien HK v/a 64]
Dit is wat ons Here Jesus ook aan die einde van die bergrede geleer het,
Matt.7:24: Na My luister en doen …. teenoor Matt.7:26: My luister en nie doen nie …
So geliefdes, ware godsdiens is ook ’n praktiese godsdiens, praktiese Christendom.
Ware kennis wat oorgaan in dankbaarheidsdade
En dit is wat ons in die laaste punt sien,
4 Ware godsdiens in die lewenspraktyk, v.26,27
In v 26,27 praat Jakobus van waarin die ware godsdiens gesien word,
reine onbesmette godsdiens, dus diens afgesonder aan God,
behels 3 kenmerke, samevattend gevolgtrekkend uit wat hy reeds
geleer het, as fondament van wat gaan volg in hoofstukke 2 tot 4.
Vers 26 dat ware godsdiens is om jou tong te beheer, hoe jy praat maak saak, en daarvan gaan ons leer in hfst 3.
Vers 27a: ware godsdiens raak ons diens aan ons medegelowiges en naaste. spesifiek wees en weduwee [mense wat in nood is, hulp nodig het, beskerming nodig het], daarvan gaan ons leer in hfst.2
Vers 27b: Ware godsdiens behels dat ek vlekkeloos sal lewe in die wêreld, daarvan gaan ons dan leer in hfst 4.
Nou geliefdes, wie is Hy wat die ware godsdiens volkome kan doen,
wie is die gelukkige man van v.25 wat in alles gelukkig is ?
Ek wens ek kan sê dat ek dit is, volkome lewe volgens die volmaakte wet,
maar selfs as ‘n gelowige is my beste werke nog met sonde besmet,
en sien ek baiemaal juis dat ek nie v.1-21 doen nie !
En u ?
Erken u dit ook ?
Of kyk ons dalk nie te vinnig weg van die spieel,
die Here se Woord wat ons uitwys wat ons is en nodig het nie ?
Want dit is juis as ons ons sondigheid, geneigdheid tot boosheid ken … in die lig van die wet, dat ons kan soek na ware verlossing en vryheid !
En juis daarom het ons redding nodig, het ons Hom nodig wat waarlik en volkome v.19-27 nagekom het,
Jesus Christus!
Christus alleen is die volkome welgeluksalige man van Ps.1 en ook hier van vers 25.
Hy het was die volmaakte hoorder, ontvanger en dader van die volmaakte wet van vryheid, van God se Woord, juis sodat ons bevry kan word,
om hoe langer hoe meer die geregtigheid van God te kan lewe in woorde en dade, sien Joh.8:32-36.
Laat ons daarom vir wysheid en krag na Hom vlug,
Laat ons tyd maak, om gou te hoor,
om die woord te ontvang in sagmoedigheid,
diep my lewe te ondersoek,
sodat ons dan ware godsdiens kan beoefen,
as hoorders, ontvangers en daders van die Woord.
Amen.
Leave a Reply