DIE HUIS OP DIE ROTS (Matt. 16:18): GKSA HERDENKING 1859-2022

DIE HUIS OP DIE ROTS (Matt. 16:18)

– GKSA HERDENKING 1859-2022 –

Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is. En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Matt. 16:15–18)

“Dit kom dus ten diepste aan op die vraag waarop die fondament van ons lewe rus. As ons afpeil na die diepte van ons bestaan, vind ons daar die rots?” – dr. SCW Duvenhage

Die logo van die GKSA is die gemeente of kerk op die Rots, met die Teksvers Matt. 16:18.

Die datums 10-12 Februarie word beskou as die jaarlikse herdenking van die herstiging van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.  Sien die volgende artikels wat ek oor die jare daaroor geskryf het:

1859 Kerkgeskiedenis

‘n Gereformeerde perspektief op die geskiedenis en huidige ontwikkelinge in die GKSA (tot en met 2004)

Sien ook hoofstukke 16 tot 20 in prof. Bouke Spoelstra se boek oor die kerkgeskiedenis:

Beknopte Kerkgeskiedenis

Ek plaas vir hierdie jaar se herdenking ‘n artikel van prof. dr. SCW Duvenhage, waarin hy nie skryf oor die die GKSA se ontstaan en voortbestaan nie, maar wat die Wese en Fondament (Rots) is en behoort te wees vir die lidmate van die kerke wat saam in die GKSA kerkverband is, dus ook vir ons tye en vir die toekoms met al sy geestelike en fisiese aanslae (1 Petrus 5:6-9).

Daardie Wese en Fondament (Rots) behoort nie net die wese en fondament van al ons kerklike aktiwiteite te wees plaaslik én saam in kerkverband nie, maar van elke ware gelowige persoonlik, elkeen wat hulself Dopper noem op grond van ons konfessionele en historiese wortels, van ons huwelike en gesinne, wat nie net teruggaan na die kerkstryd gebeure van 1859 nie, maar terug na die geloofswortels wat in 1652 hier aangekom het (sien Jan van Riebeeck gelofte en gebed), wat teruggaan na die 16de en 17de eeuse Kerkreformasie, terug na die vroeë kerk, en bo-alles terug gaan na die onfeilbare Heilige Skrif soos ons dit samevattend bely in NGB artikels 1-7.

Mag die Here gee dat ons afsonderlik en saam sal semper reformanda = aanhou reformeer deur sy Gees en Woord, en dat die Rots alleen ons troos en hoop sal wees in ons ganse roeping en bestaan.

Vaders en moeders verkondig die Rots in jul huise (Deut. 6:4-9; Ps. 127, 128; Ef. 6:1-4).

Predikers verkondig die Rots in jul kerke (2 Tim. 3:14-4:5).

Gelowiges verkondig orals, tydig en ontydig, die Rots as die enigste Verlosser én Koning van die hele skepping en alle volke (Matt. 28:16-20; Hand. 17:16-31; 20:20)

Stuur hierdie oordenking van dr. Duvenhage aan vir elke lidmaat om bemoedig te word in die goeie geloofstryd tot die einde toe (2 Tim. 4:6-8), maar ook as liefdevolle waarskuwing vir hulle wat besig is om afvallig te word in leer en/of lewe, dalk gesins- of familielede, mede-lidmate, vriende, ens., wat begin vergeet uit watter Rots ons gekap is, wat vergeet op watter Rots ons alleen moet staan, wat op die ‘sand’ van ons tydsgees wil bou, en nie op Christus, die Rots, alleen nie.

DIE HUIS OP DIE ROTS

deur dr. SCW Duvenhage

[Bron: ‘n Wêreldorde Omgekeer – grepe uit die Bergpredikasies (Potchefstroom: Pro Rege, 1967: p. 7-14)]

“Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots. En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot” — (Matt. 7 : 24—27).

Christus self, sentrum van Bergrede

Wat ‘n genade, dat ons na Christus Jesus mag luister!

Die ewige God het Homself aan ons geopenbaar in die Seun van sy liefde. Christus het onder ons kom woon. Die Woord het vlees geword en ons kan sy heerlikheid aanskou.

In die bergpredikasie staan Jesus Christus voor ons. Hy kyk ons in die oë en Hy peil ten volle ons nood en behoeftes. Hy ken ons verlede en ons toekoms en Hy spreek tot ons sy gesaghebbende Woord.

Wat ‘n genade dat ons na Hom mag luister!

Ons luister na die woorde van ons Verlosser, ons Borg en ons Middelaar wat van ons nooit meer vra as wat Hy ons gegee het nie. Hyself is die volmaakte vergestalting van dit, wat Hy hier geleer het en wie aan Hom behoort, wie deur sy genade ‘n plek gevind het in sy koninkryk, wil nie alleen met gespanne aandag na sy woorde Iuister nie, maar staan ook in sy diens en maak erns met die evangelie van die koninkryk.

Voorop moet gestel word dat Christus self in die sentrum van die Bergpredikasie staan en nooit mag sy woord oordenk word, sonder dat Hyself raakgesien word nie.

Oor die ganse prediking van Christus staan geskrywe die woorde: hierdie woorde van My: “Wie na hierdie woorde van My luister en dit doen…”

Maar nou weet ons ook dadelik: soos wat Christus self vir sommige tot ‘n opstanding en vir ander tot ‘n val is, ‘n rots van behoudenis en ‘n rots van struikeling, so is ook sy woord ‘n tweesnydende swaard, wat deurdring tot die skeiding van siel en gees, gewrigte en murg, ‘n reuke van die lewe tot die lewe of ‘n reuke van die dood tot die dood.

Daar sou miskien gevra kan word waarom die behandeling van die bergpredikasie begin word deur die aandag te bepaal by die slotwoord daarin. Met die gelykenis van die huis op die rots en die huis op die sand het Jesus immers sy prediking voor die dissipels en die skare afgesluit.

Ons doen dit omdat in die woord op onvergelyklike wyse die diepe betekenis en groot erns van die bergpredikasie belig word. Dit gaan naamlik ten diepste om die vraag of ons lewenshuis uiteindelik staande sal bly en of dit sal val, dit gaan om die vraag van ons ewige wel of ewige wee. Maar dit gaan ook om ons lewe van elke dag of nl. Christus die rots is waarop ons elke oomblik van ons lewe bou en of ons op sand bou.

Ook in hierdie gelykenis, soos trouens deur die hele bergpredikasie, wys Jesus duidelik daarop dat daar maar net twee weë oop is, ‘n derde moontlikheid is daar nie.

Ons is verstandig of ons is dwaas.

Verstandig of dwaas bou

Die mens se lewe is naamlik soos ‘n huis wat gebou word.

En nou weet elkeen wat al te doen gehad het met die bou van ‘n huis dat daar baie op die spel is. Daar kan naamlik verstandig te werk gegaan of daar kan dwaas te werk gegaan word.

Dit is nie altyd aan die uiterlike van die huis sigbaar nie. Die huis van die dwase man kan net so indrukwekkend en mooi vertoon as die huis van die verstandige man. Beide huise kan dieselfde doel dien, nl. dit kan dien as ‘n goeie beskutting en ‘n gerieflike woonplek vir sy eienaar. Dit mag selfs wees dat die huis van die dwase man uitwendig mooier vertoon; dit mag wees dat dit allerlei versieringe besit, en uitstekend gemeubileer is. Geoordeel na wat voor oë is, is dit moeilik om ‘n keuse te maak tussen die twee huise.

Maar tog is daar ‘n geweldige verskil.

Die verskil lê dieper as wat die blote oog kan sien. Die lê in die fondamente. Hoedanig is die fondament van die huis? Wat is die krag en duursaamheid van die fondament? — Dit bepaal die krag en duursaamheid van die huis. Dit kom natuurlik nie in mooiweerdae tot openbaring nie. Maar wanneer die storms opsteek, wanneer die stortreën neerplas en die waterstrome teen die huis aanstorm en wanneer dan die rukwinde die storm tot ‘n hoogtepunt voer, dan kom alles aan die lig. Wat in die mooiweerdae alles so keurig en sterk daar uitgesien het, word dan tot die uiterste toe beproef.

Bouery in die heilige land

Hierdie beeld het daardie eerste hoorders van Christus by uitnemendheid verstaan. Ons weet dat Palestina deur ‘n breë woestyngordel byna omsluit is. Tot diep in die land kom daar op baie plekke dik lae sand voor. Origens is die vrugbare grond maar nie te volop nie. Meestal is dit maar net die toplaag van die bodem. Grawe mens enigsins dieper dan kom jy af op die rotslaag.

En omdat die beboubare grond so skaars was, is daar meestal op rotsagtige plekke of in die onvrugbare sandstreke gebou. Maar in laasgenoemde geval moes dan diep gegrawe word om die fondamente op die rotsbodem te laat rus. Dit het wel soms gebeur dat iemand nagelaat het om dit te doen. Die gevolge blyk as die winterreëns in Palestina soms op wolkbreukagtige wyse neerplas.

Oorstrominge en rukwinde is dan kenmerkend van so ‘n storm. Die wind en die water druis dan van alle kante teen die huise aan. En wat gebeur dan? Die huis wat op rots gebou is, trotseer die storm. Dit staan stewig en vas en as die lug ooptrek, staan dit nog ongeskonde daar. Maar die huis wat op die sand gebou is, kan die toets nie deurstaan nie. Die geweld van die strome het die sand rondom die huis blootgelê, die fondamente ontbloot en toe ondergrawe en uiteindelik moes die bouwerk, hoe sierlik dit ook voorheen daaruit gesien het, plek-plek meegee. Die bouwerk begin kraak, die dak se gewig blyk te swaar vir die vallende mure en die hele huis stort met ‘n dreunende slag inmekaar. Sy val is groot.

Ons lewenshuis

So gebeur dit ook ten aansien van die lewenshuis van elke mens. Wanneer alles voorspoedig gaan, wanneer daar ‘n goeie inkomste is, wanneer vriende en bure en familie jou op die hande dra, wanneer jou werksomstandighede gunstig is, wanneer gesondheid en welstand jou deel is, dan vertoon die lewenshuis so gunstig en mooi. Die mens kan hom dan so verlustig in die rus en die beskerming, wat sy lewenshuis bied. Wanneer daar egter storms kom, wanneer plotselinge siekte die gesondheid bedreig, wanneer sorge van watter aard ook al die senuwees tot breekpunt toe span, wanneer die inkomste- en uitgawerekening ‘n groeiende nadelige saldo vertoon, wanneer die toekoms deur oorlogsrampe totaal verdonker word, dan word die vraag plotseling aktueel: hoe is dit gesteld met die fondament van so ‘n lewenshuis?

Mens sien dan die lewenshuis onder ‘n totaal ander gesigspunt.

Wanneer die geweldige stortreëns en waterstrome en rukwinde oor ons huis woed, dan word die vraag van ons aansien en van ons vol en bedrywige bestaan, dan word die vraag na ons uiterlike sukses en voorspoed van minder belang. Dit kom dan alles aan op die vraag na die fondamente van ons lewe. Is daar vastigheid genoeg om die storms te trotseer?

Dit mag dan wees dat die mees aansienlike mense van die voorspoedtyd hulle lewenshuis sien verkrummel terwyl die eenvoudige man, wie se vriendskap nooit so gesog en wie se lewe nooit so opvallend was nie, die geweld van die storms deurstaan en selfs vir ander tot ‘n steun is.

Die dwaasheid kom dan te voorskyn van elkeen wie sy lewenshuis op sand gebou het.

Om dwaas te lewe

Ja, daar is so iets soos dwaas lewe. Christus verkondig aan die wêreld dat daar ontsaglik veel op dwase wyse gebou word in hierdie lewe. Die Bybel skryf oor ‘n magtige hoeveelheid bouwerk wat op hierdie aarde moeisaam verrig word: dwaas, of in die taal van Salomo: tevergeefs.

Wil u ‘n tipiese voorbeeld hê van so ‘n lewe? Dan kan ek u verwys na die ryk dwaas waarvan Christus op ‘n ander plek spreek.

Die man was ‘n harde werker, ‘n knap boer, ‘n fyn sakeman. Hy het oënskynlik geweet hoe om vir homself beveiliging te verkry, ‘n behaaglike lewenshuis — waarborg vir ‘n geruste lewe van gemak en rus. Hy het die dinge fyn beplan en toe het hy groot voorraadskure gaan bou en hulle gevul tot die dak toe. Selfvoldaan het hy uitgeroep: “Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare, neem rus, eet, drink, wees vrolik”. Maar toe kom die onverwagte — toe toon God dat Hy ook nog iets te sê het tot die vergenoegde siel. God kondig die storm aan:

“Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou opeis”.

En al wil hy nou al sy geld aanbied, sy saailande, sy vol skure, al skreeu hy ook: “o God, nie dit nie, nie nou nie — noudat alles so mooi gereël is — gee my maar nog ‘n kans”. Dit is alles tevergeefs. God trek ‘n streep deur die so fyn georganiseerde lewe. Omdat daar geen rotsgrond onder die fondament was nie, spreek God: jou dwaas! en die doodsengel tas deur.

Die ware fondament

Dit kom dus ten diepste aan op die vraag waarop die fondament van ons lewe rus. As ons afpeil na die diepte van ons bestaan, vind ons daar die rots?

Jesus sê: “Wie na hierdie woorde van My luister en dit doen…” Dit is die rotsgrond waarop ons lewenshuis moet verrys. Die woord van die Here is nie soos sand wat met die eerste storm weggespoel word nie. Nee, dit hou stand in ewigheid. Hemel en aarde sal verbygaan maar sy Woord sal nooit verbygaan nie.

Daarna moet geluister word.

Dit reeds is ‘n geweldige taak, of liewer, dit reeds is groot genade. Ja, om te luister, waaragtig die oor te lê op die Woord van die Here, is genade. Maar dan moet die Woord ook opgesoek word. Dan moet nie lewelose, leë banke hoorders wees van die Woord nie, maar elke lid van die liggaam van Christus. Die plek moet Sondae gevul wees! Leë plekke kan ‘n getuienis teen ons wees. Aandagtig en met ‘n oop hart moet ons luister.

Dis opvallend dat Christus in die gelykenis sowel die verstandige as die dwase man sien as mense wat luister. Ja, daar is talle dwase wat ook die Woord van God ken, wat ook enkele male daarna geluister het.

Maar die dwaas hou hom op veilige afstand van die trefslag van die swaard van die Woord. Hy is onder die hoor van die Woord tog gereserveerd. Hy laat hom nie gevange neem tot die gehoorsaamheid aan die Woord nie.

Hy sorg dat die Woord nie diep inbrand in sy koue hart nie. Het u al gesien hoedat, as ‘n eend uit die water uitstap, die druppels soos kwikballetjies van sy vere afrol? Sy vel het, hoewel hy in die water rondgeswem het, nooit nat geword nie.

So verkeer sommige selfs onder die bediening van die Woord — sonder om geraak te word. Hulle kom so maklik los uit die greep van die Evangelie.

Daarom voeg Christus ook daaraan toe, as hy spreek oor die verstandige man: “en dit doen”. “Elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit doen”. Dit beteken dat die Woord, die Woord van Christus, so tot my spreek, dat ek daardeur getref is en beweeg word, ja, dat my ganse lewe daardeur gedra en bepaal word. Die Woord neem my in beslag en ek is daaraan gebonde in al my doen en late. Daardie Woord het dan diep in die hart geval en ontkiem en dit bring onmiddellik vrugte voort.

Ons moet onthou dat die woord van Christus waarna ons luister ‘n reddende woord is. Dit inspireer tot die daad.

Voorwaarde of vrug?

Daarom moet ons ook nie, soos so baie gedoen het by die Bergpredikasie met al sy radikale gebooie, die doen van die woord van Christus beskou as die voorwaarde vir die ingang in die koninkryk nie.

As ons die bergpredikasie verkeerd benader dan skyn dit wel of die leer van die goeie werke die leer van die genade daarin verdring. Waarom gebied Christus dan so herhaaldelik die vervulling van die gebooie tot in die fynste besonderhede toe? Waarom roep hy op tot volmaaktheid: “Wees julle dan volmaak soos my Vader in die hemel volmaak is”? Waarom staan in ons teksvers ook so pertinent: “Elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit doen”?

Die hou van die gebooie is egter nie voorwaarde nie maar veeleer die gevolg van die ingang in die koninkryk.

Ons het reeds daarop gewys dat in die sentrum van die bergpredikasie staan ons Verlosser, ons Middelaar. En die bergpredikasie is geen nuwe wet wat Hy afkondig nie, maar dit is klinkklare Ëvangelie. Dit begin met saligsprekinge, dit wil sê die proklamasie van genade oor armes van gees en treurendes en sagmoediges en die wat honger en dors na die geregtigheid. Daarmee verseker Christus hulle dat hulle ingang in die koninkryk vasstaan. Hulle is die lig van die wêreld, hulle is kinders van die hemelse Vader, hulle kan ook hul vyande liefhê, hulle kan onbesorgd deur die lewe gaan, en hulle kan soos goeie bome goeie vrugte voortbring.

Dit is duidelik dat nie die eis nie, maar dat die gawe vooropstaan. Hulle wat deur Christus geken is (Matt. 7 : 23), staan in ‘n besondere verhouding tot Hom. En by hulle nou, wat wesenlik aan Hom behoort en nie net Here Here roep nie, sal iets geopenbaar word van die nuwe gehoorsaamheid, m.a.w. van die doen van die wil van die hemelse Vader. Die gehoorsaamheid is hier nie voorwaarde vir die navolging van Christus nie maar bewys en vrug daarvan. Dit is bewys dat genade betoon is, dat versoening ontvang is, ja dat die lewenshuis op die rots gebou is.

Stormagtige wêreld

Ons leef in ‘n onstuimige wêreld. Van alle kante steek weer die onweer op. Hier en daar flits reeds die blitse. Die donders kan van ver af gehoor word. Niemand kan ontken dat daar ‘n geweldige storm oplaai in die wêreld nie. Maar wie se lewe in die ewigheid geanker is, hoef nie meer te vrees vir wat die tyd meebring nie. Wie in die hart die vrede ervaar wat alle verstand te bowe gaan, hoef nie meer angsvol die toekoms tegemoet te sien nie. Wie die Vors van die lewe ken, waaragtig ken, hoef selfs nie te skrik vir die bedreiging van die dood nie.

Daar is vastigheid in so ‘n lewe, die vastigheid wat in Christus is, die Rots van die eeue.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: