Berea e-pos Bybelskool: Bybelse geskiedenis en Geloofsleer

cropped-bible_open_glasses_347105246_rtyb.jpg

BEREA E-POS BYBELSKOOL

Ek begin vandag ‘n heel nuwe e-pos reeks wat uit 3 bene bestaan:

  1. Die geskiedenis van die OT
  2. Die geskiedenis van die NT
  3. Geloofsleer

Dit is ‘n soort van ‘n ‘Bybelskool’ kursus wat ons gaan doen per e-pos, wat ek noem “Bybelse Geskiedenis en Geloofsleer”.

Ons gaan deur die geskiedenis van die Bybel gaan om te leer wat daar staan (OT en NT), en dan saam met dit gaan ons kyk wat glo ons daardie geskiedenis vir ons leer aangaande wat ons moet glo en doen (sien bv. 2 Tim.3:15-17, dat die Heilige Skrif leer ons wat ons moet glo en doen).

Ons noem dit ook “Openbaringsgeskiedenis”, dus wat openbaar die Here vir ons, wat moet ons glo en doen volgens die OT en NT geskiedenis = die heilige Goddelike Skrif wat ons leer en lewe bepaal.  Maar ons moet die Bybel self, die geskiedenis ken, om die openbaring van God en sy wil daardeur te ken.

Die bronne wat ons gaan gebruik is:

  1. Handboek Bybelse Geskiedenis: Die Ou Testament, dr. JH Kroeze [afkorting: HBGOT]
  2. Handboek Bybelse Geskiedenis: Die Nuwe Testament, dr. EP Groenewald [afkorting HBGNT]
  3. Geloofsleer, dr. B. Duvenhage [afkorting: GL]

Lees asb die daaglikse ‘oordenkings/verklarings’ met ‘n oop Bybel (sien Hand.17:11) en biddend (Ps.119:18). U is welkom om enige vrae of verskille wat u het aan my te rig vir verdere besinning en bespreking.  Daarom die belangrikheid van Hand.17:11 vir enigiets wat ons lees en bestudeer, sien ook wat ons bely in NGB artikel 7.

In prof. Kroeze se ‘Woord vooraf’ stel hy dit self as volg:

“Die Bybel is as die Woord van God die enigste boek wat die betroubare bron is vir ons lewens- en wêreldbeskouing en rigsnoer vir ons lewensgedrag. Daarom wil ek hierby ook sê dat hierdie boek die Bybel nie moet vervang nie. Dit moet die leser juis daartoe bring om die Bybel self ter hand te neem. Die behandelde Skrifgedeeltes word met “vers en kapittel” aangedui en dikwels word na ander Skrifuitsprake verwys. Origens is die boek ook so geskryf dat dit die leser sal prikkel om die Skrif op te slaan en te kyk: Wat staan daar? Lees die Bybel self!”

Werksmetode: die drie bronne gaan elke dag afgewissel word, bv. dag 1: OT; dag 2: NT: dag 3: Geloofsleer.

Ek hoop u sal hierdie oordenkings/bybelstudie elke dag opbouend vind vir u geloof en u roeping in hierdie lewe tot eer van God (1 Kor.10:31; 2 Tim.3:15-17).

Indien u ook wil deel wees van hierdie reeks, stuur ‘n leë e-pos na:

berea-oordenkings-subscribe@yahoogroups.com

of gaan teken in by Berea-oordenkings se webadres:

https://groups.yahoo.com/neo/groups/berea-oordenkings/info

Stuur gerus ook hierdie inligting aan as u dink daar is ander mense wat ook graag hierdie e-pos bybelskool wil doen (die reeks sal later uitgebrei word na ander vakke, bv. Kerkgeskiedenis, Calvyn se Instituties, Totius se Versamelde Werke, ens.).

Donasies: besonderhede vir enige vrywillige donasies vir hierdie Skrifoordenking/Bybelskool projek kan hier gevind word: Pro Regno

Hier onder is dan die  ‘ten geleide’, ‘Woord vooraf’ en ‘Inleiding’ van HBGOT.

Ten Geleide

DIE SELFGETUIENIS van die Skrif vestig ons aandag telkens weer op die hoë belang van die Woord van God. “Dit sal nie leeg na My terugkeer nie,” spreek die Here, “maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur” (Jes. 55:11). “Is My woord nie só, soos ‘n vuur, spreek die Here, en soos ‘n hamer wat ‘n rots vermorsel nie?” (Jer. 23:29). “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart” (Hebr. 4:12). “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:16, 17).

Hierdie waarheid het in bepaalde periodes van ons volksgeskiedenis vlees en bloed aangeneem, vir sover ons voorgeslagte tereg die volk met die Boek genoem is. Hoe het ‘n man soos president Kruger nie daaruit geput nie, en wat van hom gegeld het, is ook van toepassing op talle van ons voorgeslagte.

Waar ons rede het om te vrees dat die Bybel nie meer die sentrale plek onder ons inneem wat dit vroeër ingeneem het nie, is daar aan die ander kant tog ook weer ‘n oorsaak tot vreugde, vir sover daar in ons tyd ontsaglik veel gedoen word om die Skrif vir ons verstaanbaar te maak. Meer as dertig jaar gelede het ons die heuglike gebeurtenis van die ingebruikneming van die Bybel in Afrikaans beleef. Sedertdien is gearbei aan ‘n reeks populêre verklaringe veral van Nieu-Testamentiese boeke. In 1958-1959 het die belangrike Bybel met Verklarende Aantekeninge die lig gesien. Terselfdertyd het dit ons nie ontbreek nie aan allerlei boeke vir die Sondagskool en Katkisasie, waarin voortreflike oorsigte van die Bybelse geskiedenis gebied word. Verskillende uitgewers het ook gesorg vir die bewerking of vertaling van sogenoemde Kinderbybels. Ons het ook met belangstelling en dankbaarheid kennis geneem van die poging om geskikte handboeke vir Bybelse onderrig op die skole beskikbaar te stel. Ons kan dus nie kla oor die tekort aan materiaal om die Bybel nader aan elkeen van ons te bring nie.

Wat ons predikante en teologiese studente betref, beleef ons in sekere sin ‘n bloeitydperk op die gebied van die bestudering van die Skrif. Allerlei faktore is hiervoor verantwoordelik, maar miskien die meeste nog die verrassende resultate van die opgrawings-wetenskap. Deur die omvangryke en betekenisvolle argeologiese vondste het die kontoere van die lewe in die ou kultuurlande vir ons duideliker geword, en is dit vir ons moontlik om die gebeurtenisse, wat in die Bybel self beskryf word, beter in die omlysting van dié tye te verstaan. Die navorsing op die gebied van die Bybelse argeologie het dus vanself tot ‘n vernieude en verhewigde belangstelling in die bestudering van die Skrif gelei.

Hierdie omstandighede het vir ons meer wetenskaplike Skrifstudie implikasies na twee kante toe. Aan die een kant beteken dit dat kostelike handboeke van ‘n dertig, veertig jaar gelede op belangrike punte as verouderd beskou moet word. Aan die ander kant is nie alle moderne handboeke oor die Bybelse geskiedenis vir ons as Bybelgelowige Christene aanvaarbaar nie, omdat die gang van die Bybelse geskiedenis in dié handboeke in sommige opsigte aan ‘n vir ons ontoelaatbare rekonstruksie onderwerp word.

Op Suid-Afrikaanse bodem bly daar dus die behoefte aan ‘n handboek oor die Bybelse geskiedenis wat ten minste aan drie vereistes sal voldoen: dit moet “modern” wees in die goeie sin van die woord; dit moet nie onnodig ingryp op die beskrywing van die geskiedenis soos ons dit in die Bybel vind nie, en dit moet bevatlik en helder geskryf wees, sodat selfs diegene onder ons wat die Bybelse idioom nie meer ken nie, dit tog met vrug sal kan gebruik.

Ondergetekendes kan die onderhawige handboek van professor Kroeze met groot vrymoedigheid aanbeveel, juis omdat dit op voortreflike wyse aan die genoemde drie vereistes beantwoord. Professor Kroeze is ‘n deskundige op die gebied van die OuTestamentiese wetenskap, en daarom ook iemand wat homself op die hoogte gehou het met die nuwere ontwikkelinge op hierdie gebied. Daarby kom ons deurgaans onder die indruk dat hier ‘n man aan die woord is wat eerbied vir die Bybel en sy boodskap het. En ten slotte is professor Kroeze ‘n boeiende verteller, wat die kuns verstaan om die aandag van sy leser van die begin tot die einde te behou.

Die skrywer sê in sy “Woord Vooraf” dat hierdie boek bedoel is vir mense wat ‘n studie wil maak van die Heilige Skrif, soos studente wat Bybelkunde neem, onderwysers wat Bybelonderrig op die skole moet gee, teologiese studente, predikante by hulle voorbereidingswerk vir preek en kategese. Verder hoop hy dat ook ander gemeentelede hierdie boek gaan gebruik om die Bybel beter te leer ken.

Ondergetekendes is daarvan oortuig dat die uitvoerige en grondige behandeling van die Bybelse geskiedenis in hierdie handboek, al die genoemde groepe in hul bestudering van die Skrif ten goede sal kom en hulle sal help om die Bybel en sy boodskap beter te verstaan.

Ons wens professor Kroeze van harte geluk met hierdie waardevolle publikasie, en wil die hoop uitspreek dat dit ook mag bydra om ons volk weer die volk van die Boek te maak!

PROF. P. A. VERHOEF, PROF. F. C. FENSHAM Stellenbosch, 21 Junie 1965.

DIT IS ‘N verheugende gebeure dat ons nou in Afrikaans ‘n oorsigtelike Bybelse geskiedenis van die hand van ‘n vakgeleerde kan begroet. Prof. Kroeze van Potchefstroom het die leeftyd bereik dat hy sy emeritaat aanvaar het, maar daarmee het sy werksaamhede nie opgehou nie; veeleer sou ons kan sê dat hy in hierdie werk die resultaat van sy lewenstudie saamgevat het en dit diensbaar gemaak het vir almal wat die Bybel lief het. Dat ‘n mens nog in die gryse ouderdom (al is prof. Kroeze nog nie so oud en grys nie) vrugte kan dra (Psalm 92:15) stem tot dankbaarheid.

Ons besit van die skrywer verskillende werke; as gevolg van sy vakbekwaamheid is prof. Kroeze besonder geskik om ‘n handboek te skryf oor die Bybelse geskiedenis en wel so te skryf dat ‘n wye leserskring daarvan voordeel kan trek. Juis omdat die Bybelse geskiedenis nie geskiedenis is in die gewone sin van die woord nie, maar wel heilsgeskiedenis, die geskiedenis van God se doen aan en spreek tot die mens, is dit geen gemaklike taak en opset nie. Tog slaag hy baie goed in die taak wat hy hom gestel het. As gevolg van ‘n lewenslange omgang met die Heilige Skrif en daarby die jare van rypheid, weet hy waar die Bybelleser worstel met uitsprake in die Skrif en steek hy juis daar die lig op waar dit vir ander dikwels donker is. Naas die beklemtoning dat die Skrif heils- of openbaringsgeskiedenis is, word eweseer die band gelê met die geskiedenis van die volke rondom Israel. Hy laat sien dat Israel kind van sy tyd was, maar dat Israel ook volk van God was, geroep deur God en met ‘n opdrag van God. Israel was een van die volke van die Midde-Ooste, dog tegelyk ‘n geheel enige volk.

Mag die verskyning van hierdie eerste deel van die Bybelse geskiedenis menigeen aanspoor om die Bybel self ook te gaan lees.

Pretoria, Junie 1965.

PROF. E. S. MULDER

Woord Vooraf

HIERDIE BOEK is bedoel vir mense wat ‘n studie wil maak van die Heilige Skrif, soos studente wat Bybelkunde neem, onderwysers wat Bybelonderrig op die skole moet gee, teologiese studente, predikante by hulle voorbereidingswerk vir preek en kategese. Verder hoop ek dat ook ander gemeentelede hierdie boek gaan gebruik om die Bybel beter te leer ken.

In verband met hierdie bestemming gaan hierdie boek uit van die Afrikaanse Bybelvertaling sonder om rekening te hou met moontlike ander vertalings, al of nie gegrond op ander lesings van die oorspronklike teks.

Die Bybel is as die Woord van God die enigste boek wat die betroubare bron is vir ons lewens- en wêreldbeskouing en rigsnoer vir ons lewensgedrag. Daarom wil ek hierby ook sê dat hierdie boek die Bybel nie moet vervang nie. Dit moet die leser juis daartoe bring om die Bybel self ter hand te neem. Die behandelde Skrifgedeeltes word met “vers en kapittel” aangedui en dikwels word na ander Skrifuitsprake verwys. Origens is die boek ook so geskryf dat dit die leser sal prikkel om die Skrif op te slaan en te kyk: Wat staan daar?

Lees die Bybel self!

DIE SKRYWER

Inleiding

IN DIE TITEL van hierdie boek is sprake van Bybelse geskiedenis. Die Bybelse geskiedenis is dié geskiedenisse, dié gebeurtenisse wat in die Bybel vermeld word. Daar het meer gebeur as wat in die Bybel staan (algemene geskiedenis), en in die Bybel staan meer as net geskiedenis (psalms, wysheidsboeke, ens.). Die geskiedenis wat in die Bybel staan, beskryf wat God gedoen het om Sy verlossingswerk in Christus Jesus voor te berei (Ou Testament) en te volbring (Nuwe Testament). In Sy voorsienigheid het God daarvoor gesorg dat dit opgeteken is en dat dit aan ons as openbaring, as getuienis, van Sy heil verkondig word.

Die openbaring van Sy heil is ryker as net dit wat in die Bybelse geskiedenis aan die lig tree, en word ook verkondig in profesieë en briewe. Die Bybelse geskiedenis is by wyse van vergelyking die bedding waardeur die stroom van die openbaring die eeue deur gevloei het. Die sistematiese bestudering hiervan is die taak van die openbaringsgeskiedenis. By die behandeling van die Bybelse geskiedenis kom ons egter ook in aanraking met die beskrywing van God se verlossingswerk, dus ook met openbaringsgeskiedenis.

Die voorbereiding van die heil sien ons in die geskiedenis van Israel, die volk waaruit Christus gebore is. Uiteraard maak die Bybelse geskiedenis in die Ou Testament melding van wat God met Israel self en met Israel in sy aanraking met die wêreld gedoen het. Tog vermeld die Bybel ook wat gebeur het, en wat God daarin met die oog op die heil gedoen het voordat Hy Sy volk Israel geformeer het.

So kom ons tot die volgende indeling:

I. Die voor-Israelitiese geskiedenis.

II. Die ontstaan en vorming van die volk Israel.

III. Die staat Israel, die ryke Juda en Israel.

IV. Die volk in ballingskap en sy terugkeer.

Bron: Handboek Bybelse Geskiedenis: Die Ou Testament, dr. JH Kroeze [afkorting: HBGOT]

One thought on “Berea e-pos Bybelskool: Bybelse geskiedenis en Geloofsleer

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: