WIE IS DIE MIDDELAAR ? O, VRIEND, KEN U HOM ?
My kategismuspreek komende Sondag is volgens HK Sondag 5, DV. In my voorbereiding lees ek hierdie kort en kragtige oordenking van dr. SJ van der Walt oor hierdie Sondag, spesifiek v/a 18.
Ag, mag ons ‘moderne doppers’ maar opnuut die spiritualiteit en godsvrees van ons gereformeerde voorvaders herontdek, en ophou skuldig voel oor ‘alles’ van die verlede, eerder bou op wat goed is, en verder reformeer waar nodig vanuit die voorbeeld van ons voorgangers (Hebr.13:7).
Mag ons weer die wese verkondig, waarop die GKSA gebaseer is, die Rots, en Hy is Christus ! (Matt.16:18), en voortgaan om verklarende én toepassende prediking, beide regverdiging én heiligmaking, die troos én die oproep in Christus te verkondig, tydig én ontydig (2 Tim.4:1-5).
Teen al die sosiale agendas van ons tye, bv. die SARK/WRK/WCRC ideologieë, teen al die sosiale ‘issues’, soos bv ‘vrou in die besondere ampte‘ agenda, teen al die ongelowige aanslae in ons tye, ens., laat ons weer Christus alleen verkondig, veral in die Reformasie500 jaar, vir die herstel van ons eie lewens, ons gesinne, ons gemeente, ons volk en ons land.
En die mees wesentlike vraag waar alles begin in ons bekering en verdere reformasie, word hier onder deur dr. vd Walt gevra vanuit die Skrif soos ons dit bely in v/a 18 van HK Sondag 5:
Ken u Hom ?
Want om die Here en sy Seun waarlik te ken is die ewige lewe (Joh.17:3) !
Lees hierdie kort oordenking saam met u gesin, gemeente, familie, almal, biddend en verootmoedigend, met die gebed vir ons tye:
“O God, verlos Israel (die Kerk vandag orals onder alle volke) uit al sy benoudhede!” – Psalm.25: 22
11 Februarie (herstigtingsdag van die GKSA, 1859)
“WIE IS HIERDIE MIDDELAAR?” — Vr. 18.
“Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, Wat Homself gegee hel as ‘n losprys vir almal….” — 1 Tim. 2:5 en 6. Sondag:6 – VRAAG EN ANTWOORD: 18 Vraag: Wie is hierdie Middelaar wat terselfdertyd ware God1 en ware2 regverdige mens is3? Skriffundering:
Antwoord: Ons Here Jesus Christus4, wat God vir ons tot wysheid, geregtigheid, heiligmaking en volkome verlossing gegee het5. Skriffundering:
|
Hier wys die Kategismus nou eintlik vir die eerste maal pertinent op Jesus Christus as die Redder van die wêreld. Wel was dit steeds die veronderstelling van waaruit geredeneer is, maar hier word dit nou getuig, verklaar, bely. Daar word nou nie meer gepraat oor die Middelaar nie, maar die soekende sondaar word nou aan die lewende Heiland self voorgestel. Dis nou nie meer net: “So is die Verlosser nie”, maar: “Daar staan die Verlosser”.
Dis dieselfde as wat die engel vir die herders van Betlehem gesê het: “Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Verlosser, wat Christus, die Here, is” (Luk. 2:10 en 11). Wat ‘n blye boodskap! Hoe heerlik tog dat die bogenoemde vraag nie onbeantwoord hoef te bly nie! Wat sou die toestand van die wêreld tog nie angswekkend gewees het as op die vraag geantwoord moes word: Dit weet ons nie! of, nog erger: Daar is geen sodanige Verlosser of Middelaar nie. Net so goed of ons vir die kranke die vreeslike boodskap moet bring: Vir jou is daar g’n raad of hulp nie; die dokter wat jóú kan help, bestaan nie!
Ja, so leef daardie vraag in die harte van miljoene. Ai, wie sal my red van die strikke van die dood, van die angste van die hel? En hoe tragies om te sien dat miljoene mense agter ‘n Boeddha, ‘n Confucius, ‘n Mohammed en soveel meer skyn-redders aanloop. Wat is dit nie dubbel-tragies dat, terwyl daar wel ‘n Verlosser van sonde en dood is en God Hom aan ons bekend gemaak het, daar tog nog sovele is wat Hom nie raaksien nie, wat Hom verbyloop agter misleiers en valse Christusse aan.
Ja, selfs onder ons sg. Westerse beskawing is daar miljoene heidene wat net van die naam Jesus Christus weet maar vir wie dit geen betekenis het nie. Die naam roer hulle nie. Dit trek hulle nie. Hulle is soos die spottende menigte daar rondom die kruis, wat vlak by die lig staan en tog verkeer in ‘n nag van dikke duisternis; wat as ‘t ware onder die bloed-drup van Jesus staan, terwyl hulle nie ‘n enkele druppel van daardie Heilfontein geniet nie. Hulle eie siele sterwe van dors in hulle, en dan spot hulle met die dors van Jesus.
Wie is die Middelaar?
O, vriend, ken u Hom?
Het u Hom al ooit ontmoet, of is Hy vir u ook ‘n vreemdeling?
En, as u Hom ken, het u dan ook al gepoog om Hom aan andere heilsoekers bekend te maak?
Gebruik u elke geleentheid en al wat u het, om die blye boodskap aan die wêreld bekend te maak, om ook die blinde heidendom te lei tot die enigste Redder op die ganse wêreld?
Laat ons God dank as ons Hom ken, en laat ons nie rus voordat almal Hom ken nie, as dit moontlik is.
Ons Middelaar tel wel nie onder die ry van oorlogshelde, geleerdes, filantrope en ander sogenaamde groot figure van die wêreld nie. Tog weet die geloof dat Hy die Middelaar is, wat ver bokant al die ander uitgaan.
Dis Godslastering om Hom op een lyn te stel met manne soos Sokrates, Mohammed, Boeddha ens.
___________________
Bron: Die Vaste Fondament: Dagboek uit die Heidelbergse Kategismus
Sien ook: Maar JULLE, wie sê julle is Ek ?
Hier is die inleidende woorde deur die skrywer:
“Wat dink u van die Christus?
Dit is ‘n baie belangrike vraag. Beter gestel: dit is die mees beslissende vraag in die lewe van enige mens, en dus ook in u lewe.
Dit is die vraag waardeur u gestel word op die punt waar u lewenspad vurk, waar twee weë uitmekaar gaan.
Een van die twee paaie moet u kies.
Watter een van die twee paaie u gaan kies, hang af van u antwoord op die vraag: Wat dink u van die Christus?
Voordat u antwoord gee op die allesbeslissende vraag, wil ek eers kortliks aan u vertel wie hierdie Christus is.”
Leave a Reply