CHARLOTTESVILLE, DIE OBAMA/MANDELA HUMANISTIESE MENSBESKOUING, EN DIE BYBELSE MENSBESKOUING AS ANTWOORD DAAROP
Ek lees in die media dat die volgende twitter van die oud-president van die VSA, Barack Obama (oor die Charlottesville onluste gebeure), waarin hy oorlede oud-president Nelson Mandela aanhaal, die twitter is wat die meeste ‘gelike’ is ooit in die geskiedenis:
“No one is born hating another person because of the color of his skin or his background or his religion…” Obama tweeted on Saturday, quoting former South African President Nelson Mandela.
“People must learn to hate, and if they can learn to hate, they can be taught to love … For love comes more naturally to the human heart than its opposite,” he added in two subsequent tweets.
Hierdie aanhaling van Mandela en woorde van Obama kan positief en negatief verstaan en beoordeel word:
Positief, aangesien geen mens mag redeneer – soos baie wil doen, veral die gay agenda – dat die Here hul geskape het om sondig te wees en nie anders kan as om te sondig en verkeerd te doen nie. In hierdie spesifieke geval van rassehaat en bitterheid teenoor die naaste by Charlottesville en regoor die wereld, is dit nie my omstandighede of agtergrond of die politiek of ekonomie of mense wat ‘n ander velkleur as ek het, of wie ookal se skuld nie.
Ek is en bly verantwoordelik voor God en mense, vir my woorde en dade, ongeag my maklike of moeilike tye en omstandighede. Ek moet reg doen ten alle tye teenoor my naaste, ophou verskonings orals soek.
Negatief, aangesien die Mandela/Obama aanhalings beteken die mens is eintlik van nature goed, is van nature lief vir hul naaste, en is dus nie in sonde ontvang en gebore en tot alle kwaad geneig nie, maar het net ongelukkig weens ‘slegte omstandighede’ aangeleer om te haat en nie lief te he nie. En dit lyk my is die Obama/Mandela (en ons huidige wêreld) se siening van die mens, ons tye se ‘die mens is van nature goed’ mensbeskouing.
En jou mensbeskouing – dus wie en wat die mens is, en wat reg of verkeerd van die mens is – sal jou verlossingsbeskouing bepaal, en ten einde jou Godsbeskouing (of wat jy afgodies in God se plek plaas of skep – sien HG Stoker se werke).
En daarom is die Mandela/Obama oplossing vir die mensdom se probleme: die ‘goeie’ mens moet nou net weer (deur politiek, ekonomie, opvoeding, positiewe denke, ens.?) geleer word om weer lief te hê, volgens sy oorspronklike ‘goeie hart’.
Hierdie wesentlike nie-Christelike humanistiese mensbeskouing beteken: die mens se krisis/probleem/sonde is buite homself, maar die antwoord oftewel redding van die mensdom lê binne homself, by die mens self wat homself sal red deur politiek, ekonomie, onderwys, filosofieë, die staat, groot leiers, ens.
Ten minste word hiermee erken die mens is weer leerbaar en veranderbaar (in aansluiting by die positiewe beoordeling hierbo), maar die wese van die probleem van die mens word nie erken of raakgesien nie (dit word eintlik onderdruk in die dwase eiewillige gemoed van die mensdom, wat hul net al meer verhard hoe erger die tye raak, sien Rom.1:18-32).
Daarteenoor leer die Skrif ons dat alle mense, alle volke, wat van Adam afkomstig is – wat almal uit een bloed is, ongeag of hul nou ‘n ligter of donkerder pigment velkleur het (Hand.17:26) – word weens die sondeval deur een mens, deur een bloed (Rom.5:12), in sonde ontvang en gebore, en is almal afsonderlik en gesamentlik skuldig aan die sondeval (en die gevolglike erfsmet) asook elkeen se eie persoonlike sonde wat daaruit vloei, en het daarom redding en hulp van buite die mens nodig.
Dooie mense, dooie volke kan hulself en mekaar nie red nie, inteendeel, hul vernietig mekaar en hulself (Ps.2; Ef.2:1-3).
Dit word – volgens die Skrif – duidelik en helder saamgevat in Sondag 2-4 van die Heidelbergse Kategismus (en so ook die res van die belydenis, lees ook elke Skrifbewys hier onder deeglik, moet dit nie ‘skip’ nie):
1 Van nature het ons almal, alle volke en groepe, nie God en/of ons naaste lief nie, kontra wat die Obama-Mandela mensbeskouing leer.
HK Sondag 5. Vr. Kan jy dit alles (die wet van God wat eis ons moet God en ons naaste liefhê) ten volle onderhou?
Antw. Nee (a), want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat (b).
(a)
Rom. 3:10 soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.
Rom. 3:20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.
Rom. 3:23 want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,
1 Joh. 1:8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.
1 Joh. 1:10 As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.
(b)
Rom. 8:7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.
Ef. 2:3 onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.
Tit. 3:3 Want ons was ook vroeër onverstandig, ongehoorsaam, op ‘n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat.
Gen. 6:5 Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was.
Gen. 8:21 En die HERE het die lieflike geur geruik, en die HERE het in sy hart gesê: Ek sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie, want die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af. En Ek sal verder nie meer al die lewende wesens tref soos Ek gedoen het nie.
Jer. 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?
Rom. 7:23 maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is.
2 Die mens, alle mense, is goed geskape na die beeld van God, om geregtigheid te moet en kan doen, om God en ons naaste lief te he en te dien, kontra al die dwalinge wat leer mense is geskape om te sondig en verkeerd te doen van nature.
Sondag 3
- Vr. Het God die mens dan so boos en verkeerd geskape?
Antw. Nee; maar God het die mens goed (a) en na sy ewebeeld (b) geskape, dit is, in ware regverdigheid en heiligheid, sodat hy God sy Skepper reg kan ken, Hom van harte kan liefhê en met Hom in die ewige saligheid kan lewe om Hom te loof en te prys (c).
(a)
Gen. 1:31 Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en – dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.
(b)
Gen. 1:26-27 En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.
(c)
Ef. 4:24 en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.
Kol. 3:10 en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper,
2 Kor. 3:18 En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.
3 Dit is deur die sondeval dat ons – alle mense, kop-vir-kop – van nature verdorwe geraak het en alle mense van alle volke, stamme, tale, kleure, ens. in sonde ontvang en gebore word.
- Vr. Waar kom dié verdorwe aard van die mens dan vandaan?
Antw. Uit die val en die ongehoorsaamheid van ons eerste voorouers, Adam en Eva, in die paradys (a) waar ons natuur so verderwe is, dat ons almal in sondes ontvang en gebore word (b).
(a)
Gen. 3
Rom. 5:12 Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het
Rom. 5:18-19 Daarom dan, net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe. Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word.
(b)
Ps. 51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.
Gen. 5:3 Toe Adam honderd en dertig jaar oud was, het hy ‘n seun verwek na sy gelykenis, na sy ewebeeld, en hom Set genoem.
4 Die enigste manier waarop enige mens weer waarlik goed kan doen, om God en ons naaste waarlik lief te hê, en haat te verwerp en te bestry, is dat die mens se natuur radikaal verander moet word deur die wonder van die wedergeboorte
- Vr. Maar is ons so verdorwe dat ons heeltemal onbekwaam is tot enige goed en geneig tot alle kwaad?
Antw. Ja (a), tensy ons deur die Gees van God wedergebore word (b).
(a)
Gen. 8:21 En die HERE het die lieflike geur geruik, en die HERE het in sy hart gesê: Ek sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie, want die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af. En Ek sal verder nie meer al die lewende wesens tref soos Ek gedoen het nie
Gen. 6:5 Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was,
Job 14:4 Ag, kon maar ‘n reine voortkom uit ‘n onreine – nie een nie!
Job 15:14 Wat is die mens, dat hy rein sou wees? En hy wat uit ‘n vrou gebore is, dat hy regverdig sou wees?
Job 15:16 hoeveel minder die afskuwelike en ontaarde, die mens wat onreg drink soos water!
Job 15:35 Hulle is swanger van moeite en baar onheil; en hulle skoot bring bedrog voort.
Joh. 3:6 Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.
Jes. 53:6 Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.
(b)
Joh. 3:3 Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.
Joh. 3:5 Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.
1 Kor. 12:3 Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus ‘n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.
2 Kor. 3:5 Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God.
Die Bybelse mensbeskouing hou die mense ten volle verantwoordelik om God en sy naaste lief te hê en te dien, ongeag of jy wedergebore is of nie. God eis dit op van alle mense kragtens die skeppingsverbond (Gen.1,2).
Hierdie Christelike mensbeskouing leer dat die mensdom se krisis/probleem/sonde is van binne, in die sondige hart, in die mens self, en dat sy verlossing en hoop van buite homself moet kom: God Drie-enig: Vader, Seun en Heilige Gees.
Politiek, ekonomie, onderwys, omstandighede, die uiterlike dinge van die lewe kan uiterlike dinge tydelik help en verbeter, maar kan ons nie red en wesentlike verander nie. Dit kan ons wesentlike krisis en oorsaak van haat en boosheid in ons harte – die sondeskuld en smet – tussen mense nie verander nie, dit kan nie ‘aangeleer’ word in ‘n humanistiese sin van die Obama/Mandela mensbeskouing nie.
Nee, alleen God in Christus deur die krag van die Gees kan my as bittere hater van Hom en van my naaste wesentlik verander om Hom en my naaste nie meer te haat nie, maar lief te hê volgens sy wet, om begrip te toon vir mekaar, mekaar se verskil te verstaan, om mekaar nie te vernietig nie maar mekaar in liefde te verdra, ja, ook hulle wat anders as ek lyk en ‘n ander velkleur het en van ‘n ander groep en kultuur is.
Ons redding in Christus raak ons totale lewe, ja die enigste troos in Christus van die ewige lewe, sondeverginis en die Heilige Gees, maar ook al my verhoudinge hier en nou, teenoor God, teenoor my naaste, almal (sien v/a 4 van die HK, God eis liefdte tot Hom en ons naaste). Dit leer die Skrif ons, as God my liefhet, en ek deur die wedergeboorte en geloof Hom weer liefhe, dan volg die liefde vir my naaste, in die besonder my broer, ongeag watter taal, volk, kultuur en groep hy behoort:
19 Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.
20 As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?
21 En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê. – 1 Joh.4
Daarom, solank die humanistiese mensbeskouings van die Obamas en Mandelas van ons wêreld gewild is, die meeste ‘gelike’ word deur ons lande en volke, en ook so orals geleer en verkondig word, is daar geen hoop vir mense en volke nie. Al die humanistiese politieke, ekonomiese, opvoedkundige planne is verdoem sonder die Here en sy Gesalfde (Psalm 2). Dan gaan die Charlottesville en baie ander gebeure van haat, bitterheid, boosheid en oorlog van alle kante – van regses en linkes – net nog meer en meer word.
Ja, as die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou …. (Ps.127:1)
Die antwoord op alle vorme geestelike en fisiese humanistiese rewolusies deur ‘linkses en regses’ is en bly nog altyd: die Evangelie van Jesus Christus, wat ‘n krag is, die krag is, “tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood, en ook vir die Griek, dus vir alle mense en alle volke, elkeen wat hul bekeer en in Hom glo as die enigste weg, waarheid en die lewe (Rom.1:16; Joh.14:6).
14 Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het
15 deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep,
16 en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.
17En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was;
18want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader.
19So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God,
20gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is,
21in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here,
22in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees. – Efesiërs 2
Beste Slabbert. Dit is skitterend. Dankie. Seënwense vir jou en jou huis.
Groete. Christie
Dankie Christie, ook groete en seën toegebid daar.
Dankie Slabbert dat die humanistiese “evangelie” so aan die kaak gestel is.