REFORMASIE 500
Wat moet ons alles glo in die Bybel,
net sekere dele of alles ?*
Sien die volgende oordenking (24 Februarie) van dr. SJ van der Walt in sy boek Die Vaste Fondament: Dagboek uit die Heidelbergse Kategismus:
“ONS MOET ALLES GLO WAT IN DIE EVANGELIE BELOOF WORD” — HK Sondag 7, Vr. 22.
Wat moet ons glo om salig te word?
Dié vraag sal nog breedvoerig behandel word as ons ingaan op die artikels van ons Christelike geloof, Hier kan ons alleen instem met die Kategismus as hy verklaar dat ons alles moet glo wat in die Evangelie beloof word. Dit beteken prakties alles wat in Heilige Skrif of die Bybel staan. Immers die Evangelie bevat nie net ‘n vae belofte van redding nie maar fundeer die belofte in die werklike lewe en bestaan van die mens en van die skepping, wat in sonde en ellende geval het.
Alles wat in die Bybel beskrywe word, staan in verband met die groot belofte van die Saligmaker van die wêreld en toon ons die agtergrond, die inhoud en die vervulling van daardie belofte van God.
Dit alles kom dus hierop neer dat ons nie net aan die Bybel moet glo nie maar dat ons die Bybel self, in sy geheel, moet glo. En dit kan ons dan ook doen, omdat die Bybel deur God ingegee is, d.w.s. geïnspireer is, sodat dit die onfeilbare waarheid van God bevat en met absolute gesag spreek. God het die Bybelskrywers so met sy Gees vervul en beheers dat hulle alleen gespreek en geskryf het wat God wou laat neerskrywe.
Dit beteken nie dat hulle meganies geskryf het sonder om te weet wat hulle doen nie. Maar God het hulle by hul denke en handele so gelei en gebruik dat hulle sy Woord neergeskryf het. Die gevolg is dat, alhoewel die Bybel deur talle skrywers in die loop van baie eeue geskryf is, dit die stempel dra van eenheid en net één boodskap bring van begin tot end. Eintlik is nie die Bybelskrywers nie maar Gods Gees die Outeur van die Bybel.
Die Bybel moet dus in alles geglo word, ook in sy beskrywing van wondere. Ja, selfs waar die Bybel skynbaar bots met moderne wetenskaplike teorieë, moet die Bybel vir ons meer gesag hê as die gedurig wisselende subjektiewe beskouinge van mense. Die wetenskap kon nog nooit op een enkele punt bewys dat die Bybel nie waar is nie. Wel het die wetenskap al dikwels bewys die onbetroubaarheid van alle menslike wysheid.
Die Bybel was daarom Die Boek van ons volk, en dit was hulle troos en krag en besieling. Sonder die Bybel sal ons nooit in hulle voetspore kan volg nie. Laat ons onvoorwaardelik buig voor die Heilige Skrif! Dan staan ons op ‘n vaste en onwankelbare fondament. Alleen wanneer ons sê: “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad” (Ps. 119:105), sal ons bewaar bly vir struikeling of afdwaling.
As ons die gesag van die Bybel verwerp, sny ons die hartaar van ons geloof af. Dan weet ons ten slotte niks van God en sy Raad af nie. Dan dryf ons soos ‘n skip sonder roer op die waters van menslike spekulasie en agitasie. Dis omdat die Bybel nie meer in baie kerke, huise en in ons skool die fondament van die opvoeding is nie dat ons beskawing so aan die verval is, dat ons nou al moet begin met opvoeding vir volwassenes. Maar sonder die Bybel sal ook dit nie slaag nie.
______________________
* die opskrif is bygevoeg
Leave a Reply