TOTIUS DIE VROUE VERGRUISER ?

Hier is wat Totius oor die gesin geskryf het, in sy artikel “Roeping en Toekoms”, kontra sy feministiese suster se anti-gesin standpunt:
Daar is die Statebybel met kanttekeninge en die Gereformeerde skrywers ernstig bestudeer, die huisgodsdiens getrou waargeneem en het vurige gebede uit die binnekamer en van die huisaltaar tot God opgeklim. Hierin het daar egter ‘n verandering ten kwade gekom. Die nougesette huisbesoek oortuig ons meer en meer dat die huisgodsdiens dikwels ydele vorm is, soms baie gebrekkig en ongereeld waargeneem word en partykeer heeltemal nagelaat word.
Daarmee gaan dan gepaard die wegkwyning van die persoonlike godsvrug. Onder sulke toestande kan die kerk nie bloei nie. Te minder omdat dit nie alleen in die volwassenes ly nie maar ook in die kinders, wat die saad van die kerk is.
Vroeër, toe die teenswoordige skoolwese onbekend was, is al die nadruk op die huislike opvoeding gelê, wat deur die vader en die moeder self ten hand geneem is, en wat die huisonderwyser, wat vir ses maande of ‘n jaar gehuur is, gedoen het, was meer van tegniese aard.
Daardie werk het God merkbaar geseën. Ons kan gerus sê dat ons beste kerkmanne nou nog diegene is wat nooit ‘n staatskool gesien het nie maar net geleef het uit dit wat van vader of moeder geleer is, aangevul deur die onderrig in lees en skryf, wat van die huisonderwyser ontvang is.
En daardie werk seën God nou nog. Ons beste katkisante kry ons uit die huise waar vader en moeder in staat is om hulle kinders ‘n Gereformeerde opvoeding te gee. Ja, selfs die aanwesigheid van ‘n nie so slegte staatskool kan in hierdie opsig die gebrek van die ouers nie aanvul nie. Die getroues word egter min.
Baie ouers gee die aan hulle deur God toevertroude taak heeltemal aan die onderwysers oor, so selfs dat hulle nie eens meer die moeite doen om te vra wat daar in die skool geleer word nie. Asof die onderwyser (soms ‘n ongelowige of halfgelowige man) die belofte vir die kinders afgelê het en vir die belofte verantwoordelik is!
Geen wonder dat ons, sedert die staatskool die septer oor ons kinders swaai, die kerk vol lidmate kry wat dikwels maar ‘n flou besef het van wat Gereformeerd is. Hierdie wantoestand moet opgehef word. Selfs al bestaan daar goeie skole, dan is die ouer nog verplig om sy kind by die huisgodsdiens te leer en te ondervra en in alle opsigte te sorg dat hy in die huis ‘n Gereformeerde opvoeding kry.
Die geskiedenis bewys dat as die huisgesin gesond is, beide kerk en staat bloei. Die huisgesin is die bron van die menslike samelewing. Gee ons dus Gereformeerde huisgesinne, en die Gereformeerde Kerk sal bloei. Anders gaan ons gewis ‘n donker toekoms tegemoet.”
Lees hier die volledige artikel.
_____________________________
Gebruik gerus die boekie van ds. MJ Booyens vir u huisgodsdiens, lees meer daaroor hier:
Ek plaas die ‘woord vooraf’ van ds MJ Booyens (ook ‘n sogenaamde calvinistiese ‘vroue vergruiser’?), asook twee hoofstukke wat hy skryf oor die man se roeping om ‘in die Here’ sy vrou lief te hê, en die vrou se roeping om ‘in die Here’ aan haar man onderdanig te wees :
Woord vooraf
In hierdie boek probeer ek met die leser gesels oor die huwelik en gesin soos ons dit in die Bybel teëkom – van die begin af. Die Bybel bly die bron en grondslag van ons hele lewe. Daarom is dit nodig om in alles – ook die huwelik en gesin – eers te luister na wat die Bybel te sê het, voordat ons na allerlei ander stemme luister. Dit gaan vir my ook om vermeerdering van Bybelkennis in die algemeen, daarom kan die boek ook diens doen vir persoonlike of groepbybelstudie oor hierdie onderwerp. My diepste begeerte is dat ons vandag die stem van die Skrif duidelik mag hoor en begryp, en vanselfsprekend ook daarna lewe.
M. J. Booyens
Heilbron 1981
45. “Mans julle moet julle vrouens liefhê”
“Mans julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het” (Ef. 5:25).
Soos Christus
Op Golgota is Jesus van Nasaret gekruisig.
Daar het Hy sy lewe gegee vir sy bruid, sy kerk op aarde.
Dit was selfs meer as wat ons “lewe” sou noem, want Hy het sy bruid losgekoop uit die hel …
Daartoe moes Hy die helse smarte en pyne dra, wat sy sou moes dra.
“Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.” Daarby kom geen man ooit nie.
Maar dit verwag die Here ook nie van ons nie.
Ons kan immers nie doen wat Hy gedoen het nie, maar ons moet doen soos Hy gedoen het.
Al sou ons duisend maal vir ons geliefde vrou sterwe, dan sou ons haar nimmer uit die hel kan loskoop nie.
Dit kon Christus alleen doen.
Maar elke man, wat sy vrou liefhet, kan homself oorgee vir sy vrou.
Hoeveel mans het al inderdaad in die loop van die geskiedenis hulle lewe afgelê vir die behoud van vrou en kind?
En tog is dit dikwels nie so maklik om elke dag jou lewe af te lê vir jou vrou nie.
Dit beteken dat jy jou “ek” ter wille van haar kruisig.
Jy vergeet jouself en dink aan haar eer as vrou, haar belange as mens, haar swakheid teenoor jou, die sterke, wat kan maak en breek as jy dit sou wil doen.
Jy ontsien haar en beskerm haar en dra haar desnoods in jou sterk arms.
Hoof maar geen tiran nie
Jy is deur God bo haar geplaas, nie as tirannieke heerser nie, maar as liefhebbende eggenoot.
Sy besit jou hart as man – háár man.
En jy gee as man die liefde van jou hart alleen aan haar.
Jy sien jou vrou met ‘n geheiligde hart en verligte oë, asof deur die oë van Jesus.
Jy ken haar swakhede en help haar daaroor heen.
Wanneer sy struikel is jy byderhand om haar op te help met teerheid en begrip, want jy het haar lief.
Jy oorlaai haar smal skouers nie met oormatige eise en onbillike laste nie.
Jy weet waartoe sy in staat is en wat bo haar kragte na liggaam en gees uitgaan, en jy verwag nie meer as wat sy kan gee nie.
Sy sal gewis dikwels in jou oë faal en teen jou sondig.
En tog bly sy jou enigste geliefde, en jy vergewe met ‘n blymoedige hart …
Wanneer leed en verdriet haar deel is, huil sy op jou skouer en stort aan jou hart haar nood uit.
Jy is vir haar ‘n toevlug by wie sy met vrymoedigheid alles kan uitkerm wat haar druk of haar seermaak.
Jy leef en werk vir haar
‘n Man wat so liefhet dat hy homself vir sy vrou kan oorgee, kan nie moeilik en bitter en hard wees nie.
Praat van aanpassingsprobleme, waaroor in ons tyd gedurig gepraat en geskryf word . . .!
Dit is vir jou gering, want jy ken geduld en jy neem haar in ag.
Jy benader haar met teerheid en liefde en jy ontlok die rykste gawes aan haar, wat ‘n vrou maar kan gee.
Jy werk vir haar en ter wille van haar.
Jy voed en koester haar, want sy is vir jou soos jou eie liggaam.
“Die mans behoort hulle vrouens so lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet, het homself lief, want niemand het ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit, soos Christus dit met sy kerk doen omdat dit sy liggaam is . . .” (28, 29).
Waarlik hier was Paulus se pen gedoop in die ink van die Heilige Gees.
Hier is die Here Jesus self aan die woord; Hy wat Homself vir sy bruid oorgegee het.
Hy kan dit van elke man eis en Hy gee dit ook aan elkeen wat uit Hom lewe.
Die Heilige Gees leef en werk in jou
Met die ink van die Heilige Gees skryf Hy sy wet op ons harte:
“Ek sal hulle my wette in die verstand gee, op hulle harte sal Ek dit skrywe” (Hebr. 8:10).
Ook die wet:
“Jy moet jou vrou liefhê soos jouself.”
Jy het immers met God en met jouself tot klaarheid gekom:
“Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees” (Hebr. 8:10).
Jy het jouself lief, omdat God jou liefhet.
Jy ken jouself en het selfrespek ontvang, omdat God jou liefhet.
Jy lei nie aan ‘n minderwaardigheidskompleks en moet daarom jou vrou byt en opeet, om jouself teen haar te kan handhaaf nie.
Het jy jouself gevind in God – opgevang in sy liefde – dan het jy ook die vermoë om vrou en kinders te respekteer en lief te hê soos jouself.
Dan eers vloei die besef, wat jy in haar en jou kinders ontvang het, jou hart binne.
Die geheimenis vir jou
Ook dit maak die huwelik ‘n geheimenis wat die wêreldmens nie ken nie.
Jy kan veel van die sielkunde leer, maar by die diepte kom jy alleen deur die genade van Christus.
So alleen vind die geheimenis in jouself plaas, want jy sien jouself, jou vrou en jou kinders met ‘n geheiligde hart en verligte oë.
My geluk en vreugde as man in die huwelik is om my vrou altyd opnuut te verras met die varsheid van my liefde en blydskap om haar te kan hê as die hulp wat by my pas.
46. “Vrouens, wees aan julle mans onderdanig”
“Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is” (Ef. 5:22).
Emansipasie
Nee! Hoor ek uit duisend vroue-kele.
Ons is gelyke vennote met ons mans in die huwelik!
Ons is nie meer slavinne wat binne-in die huis opgesluit sit nie.
Ons is nie net daar om aan die mans kinders te gee en groot te sukkel nie.
Ons is vrygemaak van die bande en staan oog-in-oog teenoor ons mans.
Ons is selfs “beroepsvrouens” en kan alles doen wat die man doen.
Ons hoef vir geen man agteruit te staan nie.
Geheimenis raak soek
Ja, die vrou is gelyk aan die man en kan alles doen wat die man doen.
Maar kan sy egter nog doen wat ‘n vrou moet kan doen?
Kan sy nog dit doen waarvoor sy geestelik en liggaamlik gemaak is?
Het die vrou met haar emansipasie nie ook baie van haar vroulikheid verloor nie?
Die “geheimenis”, waarvan Paulus hier praat, ken sy ook veelal nie meer nie.
“Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die Hoof van die Kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk. Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees” (Ef. 5:23, 24).
Afvallig
Wat gebeur wanneer die kerk “emansipeer”? Wat word van die kerk, indien “sy” sou sê:
Ek wil nie meer aan Christus, my Verlosser, onderdanig wees nie! Ek gaan teenoor Hom staan en eis van Hom dat ek sy gelyke is. Ek wil nie meer aan Hom gehoorsaam wees nie!
Dan word die kerk die “afvallige”. Dan word sy “Babilon, die groot hoer” (Openb. 17-19).
Die oog op Christus en sy gemeente
Die man moet soos Christus homself vir sy vrou oorgee.
Dit is die kern van die uiting van die manlike liefde teenoor sy vrou.
En die vrou moet aan die man onderdanig wees, soos die gemeente aan Christus onderdanig is. Dit is die kern van haar liefde vir die man.
In die onderdanigheid kry die vrou se liefde haar gestalte.
Daarin sien ons die “geheimenis” van die vroulike liefde.
Dit is mos nie vir ons as Christene te veel gevra om onderdanig en gehoorsaam aan ons Bruidegom, Jesus Christus, te wees nie!
Hy het ons immers so liefgehad dat Hy Homself vir ons oorgegee het.
En wanneer my man my so liefhet dat hy homself vir my oorgee, is dit tog ook nie te veel gevra van my as vrou om aan hom gehoorsaam en onderdanig te wees nie.
Ek het êrens gelees van ‘n vrou wat gesê het:
My man het my so lief dat ek bly en dankbaar is om die kans te kry om aan hom gehoorsaam te wees.
Die gelukkige Christenvrou
So moet jy jouself sien as Christenvrou:
My man is nie my baas nie, maar hy is as hoof oor my gestel deur die Here.
Ek is die koningin binne my koninkrykie in ons gesamentlike huis en gesin.
Vir my man is ek die hawe waarheen hy kan terugkom na ‘n dag van arbeid en moeite en stryd om aan my hart uit te rus.
Ek eer hom en gee aan hom die mooiste skatte wat ek besit, en waarvoor hy alles oorhet.
En hy het my so lief dat dit alles vir my louter vreugde is om hom te gehoorsaam en te dien met die gawes na liggaam en gees, waarmee die Here my toegerus het.
Die geheimenis ken die geëmansipeerde vrou nie.
Die “unisex”-aanhangers begryp hiervan niks nie.
Die “beroepsvrou”, wat alles kan doen wat die man doen, verloor dikwels haar eie roeping as vrou.
Nimmer kan ons die wette van die Here uitdaag, sonder om wesenlik skade te ly aan die diepste geheimenis wat die Here in ons harte as vrouens geweef het nie.
Bewaar jou selfrespek as vrou
Ons vrouens se grootste lewensvreugde lê juis in die geheimenis opgesluit.
Ons is so geskape – om ‘n hulp vir ons mans te wees – ‘n hulp wat by hulle pas.
Dit hou geen vernedering vir enige vrou in om aan haar man onderdanig te wees nie.
Dit bewaar haar juis in haai’ selfrespek as vrou.
Die beginsel geld ook vir die vrou dat sy haar eie waarde voor God moet begryp.
Hy is ook haar God wat haar liefhet, sodat sy ook haarself mag liefhê.
Dit maak van haar ‘n gebalanseerde mens wat nie aan ‘n minderwaardigheidskompleks ly nie.
Sy is nie minderwaardig, omdat sy haar man as hoof erken en aanvaar nie, maar juis dan is sy ‘n volwaardige Christin.
Ontdek skatte in jou huwelik
Dan het sy haar man so lief soos sy haarself het, en die Here eis niks meer as dit van enige mens nie.
So leef jy nie alleen jou roeping uit nie, maar ontvang jy die grootste vreugde denkbaar in jou huwelik.
Dan leer jy die geheimenis van die huwelik in Christus begryp en belewe.
En jy verwonder jou steeds weer opnuut oor die rykdomme aan geestelike en liggaamlike vreugdes, wat in jou huwelik ontsluit word.
Ek lees van ‘n man en vrou wat mekaar so liefgehad en gerespekteer het. Die vrou is pas veertig en het bloedkanker:
Hulle is, sedert sy siek geword het, meer as ooit op mekaar ingestel. Die kontak wat altyd reeds in ruime mate tussen hulle aanwesig was, het in hierdie maande uitgegroei tot ‘n byna volmaakte aanvoeling van elkeen se stille wens en elke stemmingsnuanse van die ander een.
Dit is die geheimenis van die huwelik op sy mooiste.
In alles wat reg en billik is
Die Here verwag nie van jou as vrou om soos ‘n “jellievis” te wees nie.
Hy verwag nie dat jy moet toegee en buig voor al jou man se grille, al is hy ook al hoe onredelik nie.
Daarom sê ons huweliksformulier juis:
“U moet u man liefhê en eer en aan hom gehoorsaam wees in alle sake wat reg en billik is . . .”
As Christen staan die vrou tog ook selfstandig teenoor haar man as sondaar.
Ook in die opsig is sy ‘n hulp wat by hom pas.
Juis sy kan met liefde en vroulike takt hom oor baie swakhede en sondes heenhelp, indien sy as “mens van God” haar roeping uitleef.
Die vrou het juis in die opsig die besondere toerusting en gawes om haar eie man op die beste manier te help en hom teen homself, sy “eie ek” te beskerm.
Sien saam op na die Here en buig voor Hom:
“As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt” (Jak. 1:5).
Die man met ‘n wyse vrou het ‘n baie kosbare gawe van die Here ontvang.
Leave a Reply