Die Afrikaner se demografiese probleem

Die Afrikaner se demografiese probleem

deur

Bouwe van der Eems

Op Solidariteit se Facebook blad plaas Flip Buys op 28 Augustus ‘n artikel waarin hy verduidelik dat die Afrikaner, soos meeste Westerse volke, demografies in die moeilikheid is. Die geboortesyfer onder Afrikaners is te laag om die langtermyn voortbestaan van die gemeenskap te verseker.

Hierdie nuus is al ou nuus. In 1945 het ‘n deputaatskap van die Gereformeerde Kerke ‘n verslag gepubliseer met die titel “Selfmoord van ‘n Nasie“, waarin gewaarsku is teen die gevolge van die dalende geboortesyfer onder Afrikaners. In 2001 publiseer Pat Buchanan die boek met die titel “Death of the West” waarin uiteengesit word hoe die Westerse volke besig is om uit te sterf. Die Kanadese skrywer Mark Steyn vertel op sy Youtube kanaal  dat die demografiese uitwissing van Europa die grootste storie van ons tyd is, maar totaal deur die hoofstroom media geïgnoreer word.

Ons kan dankbaar wees dat Flip Buys, 77 jaar na die verslag van die Gereformeerde Kerk, nie meer hierdie storie ignoreer nie. Verder onderneem die Flip Buys die volgende in sy artikel :

Daarom gaan Solidariteit en AfriForum voor die jaareinde meer inligting bekendmaak oor die demografiese werklikhede van die land, en moeilike maar praktiese oplossings voorstel.

Die oorsaak van die demografiese probleem is ten diepste ‘n Godsdienstige probleem. Die waardes van die Westerse volke is deur die Christelike Godsdiens gevorm. In die eerste hoofstukke van die Bybel word die huwelik ingestel en aan die eerste egpaar word die opdrag gegee om te vermeerder en die aarde te vul. Verder word in Deuteronomium 6 aan ouers die opdrag gegee:

Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.”

Omdat kinders en opvoeding ten diepste ‘n Godsdienstige saak is, het die Westerse volke gegroei en daardeur het die Christelike Godsdiens oor die hele wêreld versprei.

Soos die Westerse volke sekulêr geword het, het die redes om uit te brei of te bly voortbestaan verdwyn. Die enigste doel wat oorgebly het, is om gerieflik te leef en af te tree. Omdat opvoeding nie meer ‘n Godsdienstige doel gehad het nie, het ouers daardie taak oorgedra aan die sekulêre staat. Die sekulêre staat het daardie taak met vreugde oorgeneem om daardeur te verseker dat die volgende generasie sal stem vir die huidige regering.

As die demografiese probleem ten diepste ‘n Godsdienstige oorsaak het, sou mens verwag dat hierdie sake hoog op die agenda van kerke sal wees. As mense egter na die webwerwe en Facebook blaaie van die Afrikaanse susterskerke kyk, is daar egter geen teken daarvan nie. Soos in die hoofstroom media, word die probleem ook in die kerke geïgnoreer. Dis ‘n tragiese situasie dat die organisasie wat besluit het om nie die probleem te ignoreer nie, ‘n vakbond is.

_____________________________

Sien ook hierdie artikels wat sake aanspreek in hierdie verband: Kinderseën

Pro Regno nr. 13 – Kinderseën

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: